Die Brief aan die Efesiërs – 27 (Ons Geestelike Geveg - 07) [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit
1. SKRIFLESING:
Ef.6:10-18 ~ Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. 14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.
2. INLEIDING:
Die afgelope week of drie het ons na die wapenrusting van die gelowige gekyk en tot nou toe het ons gekyk na die waarheid as gordel om ons heupe; die vryspraak deur God as harnas en die bereidheid om die evangelie te verkondig as skoene aan die voete. Vandag gaan ons na die gevegsmondering kyk wat Paulus vir ons in v.16 beskryf, nl. geloof as skild in die hand.
Paulus begin v.16 met die woord “daarby”. In teenstelling met die vorige drie stukke van die gevegsmondering van die soldaat vir Christus, nl. die gordel, borsharnas en die skoene, wat vir langtermyn voorbereiding gebruik moet word, lei Paulus met hierdie woordjie “daarby”, ons in tot
die laaste drie stukke mondering, wat vir onmiddellike gebruik in gereedheid gebring moet word, nl. die skild, die helm en die swaard.
Die Romeinse soldate van destyds, het twee verskillende soorte skilde gebruik – die een was ’n kleintjie wat in hand-tot-hand gevegte gebruik was, terwyl die ander ’n lang skild was wat bykans die hele liggaam beskerm het. Hierdie skild was ongeveer 1,3 tot 1,5m lank en ongeveer ’n half meter tot 700 cm breed. Hierdie skilde is gewoonlik gebruik wanneer soldate in lang rye langs mekaar gestaan het en, asof ingehak bymekaar, in gelid vorentoe beweeg het en die voorste ry soldate is opgevolg met nog ry op ry soldate wat kort op mekaar se hakke gevolg het. Die soldate in die tweede ry, het hul skilde bokant hul eie, asook die soldate voor hulle, se koppe gehou, sodat pyle wat op hulle afgeskiet is, geen skade kon verrig nie. En so het elkeen van die opeenvolgende rye gedoen – hierdie aanvalsmetode van die Romeine was ’n gevreesde en uiters gedugte aanvalsmetode. Hierdie skild is in die Grieks, die “thureos” genoem en ons kry dit vandag nog steeds – ons sien dit veral wanneer polisie dit gebruik wanneer hulle te staan kom teen oproerige skares – deesdae is dit net van deursigtige materiaal gemaak (ons sien dit gereeld in aksie op TV tydens die G8-berade).
3. SATAN SE BRANDPYLE:
Voor enige soldaat in ’n geveg betrokke raak, moet hy weet teen wat se wapens hy gaan veg – m.a.w. watter tipe wapens gebruik sy vyand, want hy kan tog nie met ’n kettie optrek teen ’n tenk nie, of met ’n bomwerper teen ’n Mig-straler nie. Ons moet dus vir onsself uitmaak watter tipe wapen die brandpyle van die Bose is.
Die punte van die pyle wat destyds in gevegte gebruik was, was gedoop in teer wat aan die brand gesteek is, net voor die pyl afgevuur is. Hierdie brandende teer was dus soos ’n vlieënde missiel en daar waar die pyl getref het, het die teer uit mekaar gespat en stukkies brandende teer het dus in alle rigtings gespat en orals vuur veroorsaak. Bo en behalwe die feit dat die pyl ’n opponent kon binnedring, het hierdie brandende stukke teer die veld rondom die vyand aan die brand gesteek en ook die soldaat se klere. Die mees betroubare beskutting teen hierdie vlammende teer was dan die “thureos” skild.
Die brandpyle wat teen ons as gelowiges gebruik word en waarteen ons beskerming benodig, kom in die vorm van versoekings. Satan bombardeer God se kinders voordurend met allerlei vorme van versoekings – versoekings van immoraliteit, haat, jaloesie, begeerte, trots, vertwyfeling, vrees, wanhoop, wantroue en ongeloof.
Die eerste brandpyl wat Satan op Adam en Eva afgevuur het, was een van vertwyfeling (Gen.3). Dit was die eerste brandpyl wat die satan afgevuur het en elke daaropvolgende pyl, deur die eeue, is by hierdie eerste pyl se vlam aangesteek, want elke versoeking, direk of indirek, spruit voort uit ’n vertwyfeling en wantroue in God. Die doel met elkeen van Satan se brandpyle is dus om ons vertroue in God te ondermyn – om ’n wig dus tussen Christus die Verlosser en ons as Verlostes in te dryf. Hy het selfs God se eie Seun probeer verlei om Sy Vader te wantrou (Matt.4:3-9).
Die enigste manier om hierdie brandpyle wat die satan op ons afskiet en wat wantroue in ons gemoed saai, is om dit te blus met geloof – deur die skild van geloof dus op te neem. Dit is waarom die Spreukeskrywer in Spr.30:5-6 sê ~ Elke belofte (of Woord – O.A.V.) van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. 6 Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as ’n leuenaar. En Dawid sê in Ps.18:30 (O.A.V.) ~ Die weg van God is volmaak; die woord van die HERE is gelouter; Hy is ’n skild vir almal wat by Hom skuil. En Johannes sê in 1Joh.5:4 ~ ... want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.
Hierdie brandpyle van die satan is net soos werklike pyle:
· Dit is dodelik vinnig. Satan se brandpyle beweeg so vinnig soos weerlig. Dawid het na Batseba gekyk en nog voor hy sy oë kon knip het die satan se brandpyl van begeerte reeds sy teiken in Dawid se hart getref. Wat is vinniger as ’n gedagte? Dit vra net een sondige en begeerlike gedagte en ons harte word so vinnig soos ’n oogknip, op sleeptou geneem. Indien die een begeerte of versoeking nie ons hart tref nie, stuur die vyand onmiddellik ’n ander een en hy het ’n vol pylkoker met pyle wat gereed is om gespan te word en op ons afgeskiet te word.
· Pyle uit ’n boog is bykans onsigbaar. Omdat pyle so vinnig deur die lug klief, sien ’n mens dit bykans nie en daarom is dit in ’n oorlogsituasie ook nie altyd moontlik om te sien wie die pyl lanseer het nie. Dieselfde geld vir versoekings. So dikwels word die pyle van versoekings so onsigbaar op ons gemik, dat ons nie eens weet waar dit vandaan kom nie. Die N.K.J.V. sê in Ps.64:4 ~ they shoot in secret at the blameless. Die vyand kom onsigbaar in die gedaante van ’n vrou wat skinder, of ’n man wat sy vriend “in die rug steek”. Iemand het eenkeer gesê dat die duiwel so skelm is, dat hy soms God se boog leen om pyle af te vuur op gelowiges, sodat hulle kan dink dat dit van God self kom – dink hier aan Job 6:4 ~ Die pyle van die Almagtige deurboor my, ek word geleidelik deur hulle vergiftig. Verskrikkinge van God bedreig my. Intussen was dit egter die satan wat Job aangeval het – met God se toestemming natuurlik.
· Pyle vlieg geruisloos deur die lug. Versoeking kom stil-stil na ons toe en as ons, ons oë uitvee, tref die pyl ons. Ons moet dus bedag wees daarop dat versoekings hulself nie aan ons gaan aankondig nie.
· Pyle is dodelik wanneer dit die teiken tref. Hierdie is veral waar as dit kom by iemand wat sterk genoeg is om ’n kragtige boog te span. En dit is waar van Satan, want hy is kragtig en hy korrel dodelik akkuraat en daarom het hy daarin geslaag om nog elke denkbare menslike siel wat op aarde was en is, te verlei. Indien God nie goeie en kragtige wapens tot ons beskikking gestel het nie, sou ons hoegenaamd nie teen die duiwel staande kon bly nie.
Die Here Jesus wil hê dat ons bewus moet wees daarvan dat die satan se brandpyle dodelik is, daarom dat Hy, kort nadat Hy die satan se versoekings ervaar het en suksesvol teengestaan het, vir ons leer om as volg te bid ~ ... en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose (Matt.6:13).
4. GELOOF:
Paulus sê dat ons geloof soos die “thureos” skilde en aanvalsmetode moet wees, want dit het drie dinge tot gevolg:
· Dit beskerm en bedek ons tot so ’n mate dat geen deel van ons menswees, ontbloot is nie;
· Dit skakel aaneen met die geloof van medegelowiges, sodat die kerk ’n eenheidsfront kan vorm. (hierdie is dan ook o.a. een rede, waarom lidmaatskap en nou verhoudinge in gemeenteverband, nie net Bybels is nie, maar ook noodsaaklik is);
· Omdat dit die hele liggaam beskerm en aaneenskakel met “medesoldate”, sal dit enige brandende pyl afweer, wat deur die vyand afgevuur word.
Dit is ook belangrik om daarop te let dat Paulus nie hier praat van DIE geloof as skild nie, maar van GELOOF as skild. Dit gaan dus nie hier oor bepaalde leerstellighede van die Christelike geloof nie, want dit het hy reeds aangespreek toe hy gepraat het oor die waarheid as gordel om ons heupe. Nee, hy praat hier van ons vaste geloof in God – ons vertroue in God met ander woorde.
Ons skild teen die satan se brandpyle, is dus ons algehele vertroue in God, dat Hy ons sal beskerm. Ons hoef dus geen vrees te koester nie, want God is met ons en Hy sal aan ons die oorwinning skenk.
Wanneer ons egter twyfel of God ons kan help om die oorwinning te behaal, is dit so goed as om te sê dat ons nie in God glo nie en dat Hy ’n leuenaar is (1Joh.5:10). Om egter te glo in God en God te vertrou – dít is geloof en dít is die skild wat God aan ons skenk om die vyand se brandpyle af te weer.
Ons moet begin om die Woord te glo. Ons moet glo dat wanneer die Spreukeskrywer in Spr.8:34 sê ~ Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister, die mens wat elke dag na my huis toe kom en op my drumpel staan en wag, dat dit só sál wees. Ons moet begin glo dat die Here Jesus in ons behoeftes sál voorsien, wanneer hy in Matt.7:9-10 sê ~ Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, 10 of ’n slang as hy vis vra? Ons moet begin glo dat die woorde van Mal.3:10 nie maar net leë woorde is nie ~ Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.
Ons moet glo dat die Here ons sál beskerm teen die brandpyle van die bose, want dit is presies wat in Spr.30:5 belowe word ~ Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. Ps.18:30 sê ~ Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. Glo ons dit werklik? Dít is die geloof wat nodig is as skild om die satan se brandpyle af te keer – 1Joh.5:4 ~ ...want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof.
Ons moet elkeen vir ons self uitmaak of ons geloof sterk of swak is, want as ons dit nie doen nie, sal ons nie weet of ons in hierdie stryd staande kan bly al dan nie. Hoe kan ek dan weet of my geloof sterk of swak is?
· Soos wat ek netnou gesê het, moet ons as gelowiges besef dat hoe meer ons volkome op God se beloftes vertrou, des te sterker is ons geloof.
Die vraag is of ons God onvoorwaardelik vertrou, of het ons “krukke” nodig – “krukke” soos ons sintuie en ons emosies – m.a.w., kan ek God vertrou sonder dat ek Hom kan sien; sonder dat ek Sy stem hoorbaar soos ’n mens se stem kan hoor; sonder dat allerlei emosies in my gemoed “opgeklits” hoef te word? Kan ek God vertrou en in Hom glo, bloot op grond van dit wat Hy in Sy Woord (die Bybel) aan my openbaar?
Kan ek ook steeds in God glo en op Hom vertrou wanneer alle redelikheid en oënskynlike menslike logika kortkom? Kan ons in sulke gevalle, soos Josafat in 2Kron.20:12 sê ~ ...ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U (O.A.V.).
Swak geloof wat rondtas vir iets konkreets – iets wat beredeneer kan word; iets wat ervaar kan word, is nie geloof nie.
Swak geloof vra ook baie vrae. Toe Christus vir Sy dissipels gesê het om vir die skare mense iets te gee om te eet, het hulle in ongeloof vir Jesus gevra ~ Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee? (Mark.6:37). Hul rede het vir hulle gesê dat dit onmoontlik is, want genoeg geld om genoeg kos te koop vir al die mense, het hulle nie gehad nie – hulle het Christus nie onvoorwaardelik vertrou en geglo nie.
Net so ontvang Sagaria ’n boodskap van ’n hemelse wese – gestuur deur God en hoor net wat was sy reaksie ~ Waaraan sal ek dit weet? Ek is ’n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd (Luk.1:18).
· Hoe meer tevrede en sterker ons as gelowiges staan ten spyte van die oënskynlike negatiewe gevolge van God se soewereine plan met ons lewe, des te sterker is ons geloof.
Wanneer God siekte of swaarky oor ons pad bring, hoe praat ons met God daaroor? Praat ons enigsins met Hom daaroor? Hoe reageer ek teenoor ander mense daaroor? Is ons verbitterd? Is ons kwaad? Is ons opstandig? Skreeu ons dit uit teenoor God? Of is ons tevrede en aanvaar ons God se soewereine plan met ons lewe? “Werk ons saam met God” ten einde die doel met ons beproewing vas te stel en ons te bekeer indien dit dalk nodig is?
Mag ons ten spyte van watter omstandighede ook al, saam met Paulus sê ~ Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is (Fil.4:11 – O.A.V.), want wanneer ons gewilliglik en met dankbaarheid buig onder God se gesag en ons in Sy soewereiniteit vertrou, en tevrede is met ons “lot”, is dit teken daarvan, dat ons geloof sterk is. Dawid sê in Ps.39:9 ~ Ek kla nie, ek maak my mond nie oop nie, want U het dit oor my gebring. Dawid gaan egter verder en hy bid die volgende tot God ~ Neem tog weg die smart waarmee U my getref het. Die las wat U my opgelê het, laat my krag ingee. 12 As U ’n mens die straf oplê wat sy sonde verdien, verteer U hom soos ’n mot ’n kleed. Ag, alle mense is verganklik. Sela 13 Hoor tog my gebed, Here, luister na my hulpgeroep; moet tog nie koud staan teenoor my trane nie, want ek is net op u beskerming aangewese; U alleen sorg vir my, soos vir al my voorvaders. 14 Neem tog u straf van my weg, dat ek weer bly kan wees voordat ek heengaan en nie meer daar is nie (Ps.39:10-11). Deur hierdie gebed is dit dus duidelik dat hy God se soewereine plan met sy lewe aanvaar en daarom kan hy in vertroue en in geloof na God gaan en vra dat die Here hom genade sal betoon. So ’n gesindheid van vertoue en geloof, vertrou God se genade en goedheid dus, ten spyte van die omstandighede.
· In die lig van hierdie voorbeeld wat Dawid vir ons gestel het, kan ons dus ook sê dat geduld nog ’n teken van ’n sterk geloof is. Hoe langer ons, geduldig kan wag op die Here om antwoorde aan ons te verskaf, des te sterker is ons geloof. Jesaja sê in Jes.28:16 (O.A.V.) ~ ...hy wat glo, sal nie haastig wees nie.
· Die wyse waarop ons as gelowiges swig voor, of weerstand bied teen versoekings, bepaal hoe swak of hoe sterk ons geloof is. Word ons steeds maklik op sleeptou geneem deur sonde en allerlei versoekings, of weerstaan ons die brandpyle van die vyand? Hoe vergelyk dit met ’n paar maande terug – gaan dit ál makliker, of swig ons nog steeds voor die versoekings?
· My liefde vir en gehoorsaamheid aan Christus bepaal die sterkte van my geloof. Met ander woorde, indien my liefde vir Christus tot gevolg het dat ek gehoorsaam is aan Hom en Sy Woord, is my geloof sterk. Ons moet besef dat ons liefde in gelyke maat toeneem as wat ons geloof toeneem en natuurlik andersom ook.
· Een ding wat die mensdom vrees, is die dood. Indien ’n gelowige se geloof egter stewig gevestig is in Christus Jesus en God se Woord, het ons geen vrees vir die dood nie, want as gelowiges behoort ons te weet dat die dood nie die einde is nie, maar in der waarheid die begin – die begin van ’n heerlike ewigheid saam met Christus. Dit is dan juis een van die redes waarom Christus uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het. Dit is waarom Paulus met oortuiging kon sê ~ ...want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins (Fil.1:21). ’n Swak geloof sal egter die dood vrees.
5. AFSLUITING:
Ons as gelowiges moet besef dat daar ’n fel stryd gevoer word in die geesteswêreld en daardie stryd gaan gepaard met ’n ontelbaar hoeveelheid pyle wat op ons afgevuur word, maar ons as gelowiges kan en moet ons skild van die geloof optel, want dan sal die brandpyle van Satan niks aan ons kan doen nie.
Toe Dawid teen Goliat te staan gekom het, het hy die oorwinning behaal, omdat hy menslike wysheid en die konvensionele metodes en wapens opsy gestoot en die mees gepaste wapens denkbaar gekies het om die oorwinning te behaal. Die wêreld se wysheid sê dat ons geweld met geweld moet beveg (’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand – Eks.21:24 & Matt.5:38), maar wysheid van Bo, sê dat ons geweld met vrede en geloof moet beveg.
Ons moet die brandpyle van die bose afweer met die skild van geloof en vir die vyand dieselfde sê as wat Dawid vir sy vyand (Goliat) gesê het ~ Jy kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. 46 Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel ’n God het. 47 Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee (1Sam.17:45-47). En net na hierdie woorde het Dawid in die Naam van die Here die Almagtige, die vyand oorwin! Op dieselfde wyse moet ons besef, dat ons stryd nie teen vlees en bloed (is) nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 (en daarom moet ons) die volle wapenrusting wat God (aan ons) gee, (aantrek) en ons moet dit doen met die skild van die geloof.
[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 04 Julie 2010