Die Brief aan die Efesiërs – 25 (Ons Geestelike Geveg - 05) [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit
1. SKRIFLESING:
Ef.6:10-18 ~ Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. 14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.
2. INLEIDING:
Paulus beskryf vir ons in die tweede deel van vers 14, die tweede stuk van die gevegsmondering wat die soldaat van Christus moet aanhê in sy geveg teen die bose – hy sê ~ ons moet die vryspraak deur God as borsharnas aanhê. In die O.A.V. staan daar ~ ... met die borswapen van die geregtigheid aan (O.A.V.).
Gedurende die destydse Romeinse tydperk, het soldate ’n metaalstuk oor hul bolyf gedra. Hierdie metaalstuk het van die bokant van hul bobene, tot aan die onderkant van hul nekke gestrek. Hierdie borsharnas of borswapen het dus die maag en die bors of toraks beskerm en dit is presies ook wat daar in die Grieks staan, nl. "thorax".
Hierdie borsharnas het dus die organe beskerm teen die vyand se aanvalle met ’n kort handswaard.
Wanneer ons daaraan dink dat hierdie borsharnas die lewegewende organe van die liggaam en veral die hart, beskerm, is dit ook presies wat die borsharnas van geregtigheid doen.
3. GEREGTIGHEID:
Wanneer Paulus egter hier in v.14b verwys na God se vryspraak of geregtigheid (O.A.V.), moet ons sekerlik eers kyk na wat hierdie woord of uitdrukking beteken.
Eerstens moet ons besef dat geregtigheid, een van God se karaktereienskappe is. Ons kan God se geregtigheid as volg definieer: God se geregtigheid beteken dat God te alle tye optree in ooreenstemming met dit wat volkome reg is en God is in Sy totale wese self, die standaard waaraan geregtigheid gemeet word. God se geregtigheid is dus volmaak en volkome heilig, omdat God self, volmaak en volkome heilig is.
Toe Moses van God gepraat het, het hy in Deut.32:4 gesê ~ Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubaar. In Gen.18:25 sê Abraham ~ Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie? En God sê van Homself in Jes.45:19 ~ ...Ek is die HERE wat geregtigheid spreek, wat regte dinge verkondig. Die E.S.V. stel dit nog mooier en duideliker ~ I the Lord speak the truth; I declare what is right. Geparafraseer kan ons dus sê dat God nét die waarheid praat en Hý en Hý alleen bepaal wat reg en wat verkeerd is. God is dus die standaard – Hy bepaal wat geregtigheid dus is.
Omdat God heilig is, móét Hy dus sonde straf, anders tree Hy teenstrydig met Sy karaktereienskap van geregtigheid op. En omdat geen mens sondeloos kan optree nie, sou geen mens dus ongestraf kon bly nie en dit is juis daarom – omdat God sonde met die dood moet straf soos Hy in Genesis aan Adam beloof het (Gen.3:17-24) en omdat géén mens sondeloos kan leef nie, dat Hy uit Sy groot genade en liefde, Jesus Christus, Sy Seun as offer gestuur het om ons sonde vir ons te kom dra ~ Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo (Rom.3:25 -26).
’n Logiese vraag wat ons ook moet vra, n.a.v. hierdie definisie van God se geregtigheid, is: Wat is reg? M.a.w. wat is veronderstel om te gebeur en wat nie? Hierop kan ons ’n kort en bondige antwoord gee: Enige iets wat konformeer (of in ooreenstemming is) met God se karakter – dít is reg. God is dus die finale – nee, die enigste maatstaf van wat reg en verkeerd is! En as dit waar is (en dit is!), mag en kan géén mens ooit vir God voorskryf nie en kan en mag géén mens ooit vir God sê dat Hy onregverdig is nie en ook kan en mag géén mens, God dus ooit verwyt nie. Daarom dat Paulus in Rom.9:20-21 sê ~ Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” 21 Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?
Dit is nou wel goed en reg dat ons vir mekaar sê wat geregtigheid en dan spesifiek God se geregtigheid beteken, maar as ons dan weer na v.14b kyk en ons sê in die lig van ons verduideliking dat ons God se standaard van wat reg en verkeerd is as borsharnas moet aantrek, maak dit tog nie heeltemal sin nie, want as ek ’n borsharnas aantrek wat vir die vyand sê: Kyk ek weet dat God geregtigheid is, en omdat Hy bepaal wat reg en verkeerd is, kan jy my maar skiet, dan gaan ek bedroë daarvan afkom, want die blote wete dat God geregtigheid is, gaan nie die vyand se “swaardhoue na my organe afweer nie”. Ons moet dus verder kyk na wat God se geregtigheid vir ons beteken en hoe dit die vyand kan stuit.
Ons het reeds gesê dat die mens onvolmaak is en daarom sondig en derhalwe gestraf moet word deur God, omdat Hý heilig is en ons nie.
4. GOD SE TOEGESPITSTE GEREGTIGHEID:
Daar is egter ’n verdere en baie belangrike faset t.o.v. God se geregtigheid en dit is wat ons in die teologie noem, God se toegespitste geregtigheid (“imputed righteousness”). Daar word die eerste keer in Gen.15:6 na God se toegespitste geregtigheid verwys – ongelukkig sê die N.A.V. nie werklik wat hier met Abraham gebeur het nie. Die O.A.V. is egter baie meer korrek in sy vertaling wanneer dit sê ~ En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. Wat dus hier staan, is dat Abraham in God geglo het en omdat hy in God geglo het, het God aan Abraham ook geregtigheid geskenk.
Wat beteken dit egter om geregtigheid te ontvang? Ons moet eerstens onthou dat Christus, die Tweede Persoon van die Goddelike Drie-Eenheid, ook God is en daarom ook geregtigheid is en derhalwe ook sonder sonde is.
Wanneer ons glo in Christus Jesus as Verlosser en ons word wederbaar, vind twee dinge plaas:
· Eerstens verklaar God dat ons geensins meer hoef te betaal vir ons sondeskuld nie – dit sluit alle sonde in – sonde van die verlede, die hede en die toekoms. Al ons sondeskuld is dus betaal. Nadat Paulus ’n lang argument gevoer het in sy Romeinebrief oor sonde in die gelowige se lewe, keer hy in hoofstuk 8 terug na die hooftema van die boek, deur in 8:1 te verklaar ~ Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Geen persoon, of mag, gesag, of gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, of enige bose gees in die lug, kan dus enige klag van veroordeling teen ons inbring nie. Daarom sê Paulus in Rom.8:33-34 ~ Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.
· Wanneer God verklaar dat ons geen sondeskuld meer het nie, los dit nog steeds nie ons probleem op nie, want om vergifnis vir ons sonde te ontvang impliseer egter net dat ons op neutrale gronde met God staan – ons verkeer dus in dieselfde posisie as wat Adam was vóór die sondeval, toe hy op daardie stadium niks verkeerd, maar ook niks reg in God se oë gedoen het nie – hy was dus nie skuldig voor God nie, maar daar het ook nog niks gebeur om hom regverdig in God se oë te verklaar nie.
Hierdie eerste stap van ons regverdigverklaring as gelowiges kan dus as volg geïllustreer word:
Hier verteenwoordig die minus teken ons sonde wat namens ons volkome vergewe word, maar soos reeds gesê is dit nog steeds nie genoeg om God se guns te wen nie, want nou staan ons net in neutraliteit voor God.
Ons moet egter van ’n moreel neutrale punt, wegbeweeg na ’n posisie waar ons geregverdig staan voor God – ’n lewe van volmaakte gehoorsaamheid aan Hom dus. Ons nood kan dus as volg voorgestel word, waar ons morele neutraliteit verander moet word na ’n geregverdigde posisie voor God:
Hierdie tweede aspek of stap in ons reddingsproses, is dus noodsaaklik, sodat God ons meer as net neutraal in Sy gemoed kan verklaar, maar in werklikheid volkome geregverdig. Wat met Jesaja in Jes.61:10 gebeur het, is ’n pragtige beskrywing hiervan ~ ...want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel (O.A.V.).
Die vraag is nou: Hoe verkry ons hierdie regverdigverklaring van God as ons dan so volkome verdorwe is? Ons vind die antwoord o.a. in Rom.3:21-22 ~ MAAR nou is die geregtigheid (of die vryspraak soos wat die N.A.V. daarna verwys) van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 22 die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo (O.A.V.). Ons ontvang hierdie regverdigverklaring, of regverdigmaking of vryspraak, slegs deur geloof in Jesus Christus. En wanneer hierdie regverdigmaking ons dan toegereken word, impliseer dit dus dat God die Vader, Christus se geregtigheid in ons sien en word ons dus volkome heilig verklaar.
Ons moet net in gedagte hou, dat Christus se geregtigheid wat ons toegereken word, altyd uit genade aan God se uitverkorenes geskenk word en dat ons dit nooit op eie meriete kan ontvang nie. Ons ontvang dit dus uit genade, op grond van ons geloof in Jesus Christus, wat gewerk word deur die Heilige Gees.
5. DIE BORSHARNAS:
Terug dan nou by die borsharnas. Indien ons nie beskik oor God se geregtigheid wat Hy ons toegereken het nie, kan niks ons red nie en beskik ons dus ook oor geen beskerming teen die bose nie. Maar, wanneer ons beskik oor God se geregtigheid beteken dit dat ons ’n regverdige en heilige lewe lei, waarteen die vyand geen beskuldigings kan inbring nie.
Wat word deur die borsharnas beskerm? Ek het vroeër gesê, dat dit die belangrikste lewegewende organe beskerm. En waaruit bestaan ons organe? Dit bestaan o.a. uit die hart en die longe wat noodsaaklik is vir lewe. Daarna volg al die ander organe wat in die buikholte geleë is. In die antieke tye het die mense geglo dat die organe die setel van emosie en van gevoelens en liefde was – dit is waarom ons nou praat van bv. “hartseer”, of ek “wens van harte”. Die Psalmdigter praat van die prikkeling in sy niere wanneer hy verontreg voel (Ps.73:21) en Jeremia weer verwys na sy ingewande as hy benoud voel (Jer.4:19).
In die lig hiervan en natuurlik ook vele ander teksverwysings, maar ook die feit dat Paulus weet dat gevoelens en emosies en ons denke en begeertes en ons gewete, ens. ’n baie prominente rol in ons lewens speel, dring hy daarop aan dat ons die borsharnas moet aantrek ten einde die bron van hierdie emosies en denke, ens. te beskerm. Paulus sê dit, want hy weet dat ook die satan weet dat ons denke en emosies, ens. ’n geweldig belangrike rol in ons lewe speel – daarom is dit nodig dat ons hierdie deel van ons menswees moet beskerm.
Die vyand maak misbruik van ons emosies en so dikwels ruk ons emosies hand uit en verloor ons perspektief. Die satan maak egter ook misbruik van ons gewete en saai hy verwarring in ons gemoed en kan ons nie altyd onderskei tussen wat reg en wat verkeerd is nie.
Ook misbruik die satan ons begeertes en ons wil. Daar is in beginsel niks verkeerd met gevoelens nie, maar dit word verkeerd wanneer die satan ons begeertes verander in onheilige, onaanvaarbare, mensgerigte, vleeslike, ens. begeertes. Baie, indien nie die meeste van die emosionele- en verhoudingsprobleme wat ons as gelowiges ervaar, spruit voort uit ’n gebrekkige heilige lewe. Baie van ons teleurstellings en ongelukkige omstandighede spruit voort uit ander mense se optrede, of gebrek aan optrede teenoor ons en wat ons dan op ’n onheilige wyse in ons gemoed en/of optrede hanteer. Dit spruit egter meestal voort uit onheilige lewens en onbeleide sondes in onsself. Die probleem is dus dat ons nie beskerm word deur die borsharnas van ’n heilige lewe nie.
Dit is dus noodsaaklik dat ons die sentrum van ons gevoelens en emosies en ons denke en begeertes en ons gewete, ens., moet beskerm, deur die borsharnas van geregtigheid aan te trek. Ek moet dus die sekuriteit van God se vergifnis hê, maar ook Sy toegespitste geregtigheid en wanneer dit die geval is, kan ek vir die satan sê dat ek vergewe is deur God en dat Hy, wanneer Hy na my kyk, Hy net die geregtigheid van Sy Seun wat my in totaliteit omspan, raaksien en dat ek daarom nie skuldig kan staan voor enige mens en allermins die satan nie – niemand en ook nie die satan kan my dus aankla van enige ongeregtigheid nie. Dit is waarom Rom.8:1 sê ~ Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.
6. AFSLUITING:
Die borsharnas van geregtigheid het ons dan gesien is simbool van my vergifnis en my toegespitste geregtigheid en wanneer dit in plek is, kan die satan en al sy bose magte niks teen my vermag nie. Daar is egter ’n voorwaarde wat hiermee gepaard gaan, want as ek nie hierdie borsharnas, stewig op sy plek het nie, gaan ek gewond word en die enigste manier om hierdie borsharnas aan te hou, is dat ek as geheiligde van God, ’n heilige lewe moet lei – daagliks – ek moet dus daagliks, God se regverdige karakter in en deur my denke en my lewe reflekteer. Ons gebed moet daagliks dié van Luk.22:42b wees ~ Laat nogtans nie my wil nie maar U wil geskied! En daarom ...(moet ons) nie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar (ons moet toe-) laat (dat) God (ons) verander deur (ons) denke te vernuwe (Rom.12:2).
Dit is nie altyd maklik om ’n heilige lewe te lei nie, maar ons moet in gedagte hou, dat dit ook nie vir ’n soldaat maklik is om daardie swaar metaal borsharnas die hele tyd te dra nie. Wanneer die gewig van die borsharnas te swaar raak, is dit beter om voort te swoeg met die harnas steeds op sy plek, eerder as om dit af te haal en op die ou einde met ’n gapende wond in die borskas of die buik te sit.
Wanneer ons in Christus skuil en ons beklee is met Sy geregtigheid, kan geen vyandige swaard ons liggaam binnedring nie. Hou altyd vas aan jou redding; jou vergifnis; jou toegespitste geregtigheid – oordink dit; bid daaroor; dank God voortdurend daarvoor; lééf dit en herinner die vyand telkens daaraan wanneer jy sy aanslae beleef – staan vas in jou verlossing in Jesus Christus en die vyand sál dan van jou af wegvlug!
[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 20 Junie 2010