Tuesday, June 8, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 06 Junie 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 23 (Ons Geestelike Geveg - 03) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.6:10-18 ~ Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. 11 Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan. 14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, 15 en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete. 16 Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer. 17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God. 18 Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.

2. INLEIDING:
Voor ons by die wapenrusting kan kom wat Paulus vir ons geestelike oorlog voorskryf, moet ons nog na enkele ander sake kyk, alvorens ons in groter detail kan kyk na die wapens self.

3. DIE DAG VAN ONHEIL:
Ons vind ’n baie interessante uitdrukking in v.13, waar Paulus sê dat ons die volle wapenrusting met aantrek sodat ons weerstand kan bied in die dag van onheil. Waarna verwys Paulus wanneer hy praat van die dag van onheil?

Sommige mense sal sê dat hierdie uitdrukking die ganse lewe van ’n gelowige omvat – jy moet jouself dus beklee met die volle wapenrusting van God, ten einde jou te bewaar tot aan die einde van jou lewe – ’n lewe wat dus net uit moeilikheid en aanvalle en beproewing bestaan en wat dag na dag plaasvind.

Jakob het getuig dat dit met hom die geval was – hy sê in Gen.47:9, dat sy lewensjare vol swaarkry was. Vir sommige gelowiges wil dit dus voorkom asof daar nie ’n enkele dag is dat die son skyn nie – elke dag is net vol boosheid! Daar is nie tyd vir glimlag nie en nog minder rede vir glimlag. Dit laat my dink aan die uitdrukking wat ’n goeie vriend van my altyd gebruik wanneer hy sulke mense sien – hy sê dan : “Heilig, veilig, suur, maar darem hier”. Die troos vir hierdie gelowiges is dat hierdie lewe kort is – dit is net ’n paar tree, dan stap hulle die ewigheid binne.

Andere weer, verklaar hierdie uitdrukking, die dag van onheil, deur te sê dat hierdie lewe nié die gelowige se ganse lewe omvat nie, maar eerder ’n lewe wat bestaan uit tye waar ons aanslae ervaar, maar ook tye waar ons nie bewus is van die aanslae van die bose nie, omdat daar nie permanent sulke tye in ons lewe bestaan nie – ons ervaar tog baie tye waar ons “gebaai” word in God se liefde en genade. Hierdie lewe en hierdie aarde, is tog “tussen die hemel en die hel” en daarom sal ons beide aanslae én genade-tye gedurende ons lewe ervaar. Uiteindelik sal elkeen van ons (indien die Here Jesus se wederkoms nie in ons tyd plaasvind nie) waarskynlik die toppunt van die satan se aanslag ervaar, wanneer ons die dood binnegaan. Ek is dan ook van mening dat dit hierdie oomblik is – ons sterwensoomblik – wat die toppunt van die dag van onheil gaan wees.

Paulus sê egter ook dat ons nie maar net agteroor kan sit en niks doen en net gereed moet wees vir ons sterwensdag nie. Hy sê hier in v.13, dat ons die volle wapenrusting moet aantrek – ons moet dit dus doen, lank voor ons die dood binnegaan. Maar hy gaan verder en volg dit op deur in v.14 te sê, dat ons op ons pos moet bly – voortdurend dus. Dit kom dus daarop neer dat ons permanent die volle wapenrusting moet aanhê, sodat wanneer die dag van onheil, ons tref en wanneer ons sterf, ons steeds die wapenrusting, stewig aangegespe sal hê en ons waaksaam op ons pos sal wees. Ons moet dus permanent aan diens wees en as’t ware aan diens sterf!

4. STAAN VAS:
V.14 in die N.A.V. begin met die woorde ~ Bly dan op julle pos. In die Grieks staan daar "histemi", wat “staan” beteken – maar nie alleen “staan” nie, maar "om voortdurend te staan” – die heeltyd – aanhoudend. Dit is waarom die O.A.V. sê ~ Staan dan vas. Die N.A.V. is egter nie verkeerd as dit sê ~ Bly dan op julle pos.

Wat impliseer dit dan om te staan of om heeltyd op ons pos te wees? Dit beteken dat ons moet staan en nie padgee of vlug, of oorgee nie. Alle soldate gee onmiddellik gehoor aan ’n opdrag wat die offisier gee en net so moet ons as gelowiges onmiddellik reageer op God se opdrag wanneer Hy sê dat ons moet staan – of, anders gestel, dat ons volhardend weerstand sal bied teen die vyand en nooit sal vlug of gaan lê nie. Daar is vier redes waarom dit vir ons belangrik is om te bly staan:
· Die Woord van God beveel ons om te bly staan. 1Pet.5:9 ~ Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. Hierdie vers is in ooreenstemming met v.14 ~ Bly dan op julle pos. Soldate moet te alle tye streng by die opdragte van hul offisiere hou – selfs al kos dit uiteindelik hul lewens. Toe Dawid vir Urija na die gevegsfront gestuur het, moes hy besef het dat sy lewe in gevaar was, omdat hy in die voorste linies moes veg, maar hy was gehoorsaam aan sy koning en het nie die opdrag van sy generaal teengestaan nie, want gehoorsaam moes hy gehoorsaam wees aan sy bevelvoerder. En uiteindelik het Urija dan ook die hoogste prys betaal toe hy op die slagveld gesterf het (2Sam.11:14-17). Presies dieselfde geld vir ons, indien ons, onsself “soldate vir Christus” wil noem – gehoorsaam tot die dood toe! Dit is hierdie selfde lojaliteit wat Christus van ons verwag. Hy sal ons ook selfs van tyd tot tyd voor toetse stel ten einde ons lojaliteit aan Hom te bepaal en deur ons getrouheid en dapperheid in hierdie geveg teen die bose en in ons oorwinning, verheerlik ons Sy Naam – óf stel ons Hom teleur.

Mag ons soos Job vasstaan in hierdie geveg, ten spyte van die feit dat die satan alles wat aan Job behoort het, geneem het – sy eiendom, sy vee en sy kinders. Hoor net wat sê die Here van Job ~ Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer (Job 2:3).

· Wanneer soldate ’n goed verskanste fort met al die nodige wapens, in die hande van die vyand laat val, net omdat die verdedigende soldate nie al die wapens tot hul beskikking gebruik het om die fort te verdedig nie, is dit hartseer en eintlik onverstaanbaar. In die lig hiervan, is dit tweedens dus belangrik om vas te staan omdat ons al die wapens tot ons beskikking het, want God hét al die nodige wapens aan ons verskaf vir ons geveg teen die satan. As ons dus (geestelik gesproke) “ons fort laat val”, net omdat ons nie al die wapens gebruik het nie, is so ’n nederlaag nog meer onwaardig, omdat God in Christus aan ons as Sy soldate, al die mag aan ons beskikbaar stel ten einde die vyand suksesvol te weerstaan.

Dit is nie verbasend as ’n ongeredde siel val voor die versoekings van hierdie wêreld nie, want sonder Christus beskik hy nie oor die wapenrusting wat nodig is om die vyand se aanvalle af te weer nie. Daar is ’n ou spreukwoord wat sê dat ’n bok eet daar waar hy vasgemaak is en dit is presies wat die ongeredde siel ook doen – hy eet die “voedsel” van hierdie wêreld. Vir ons as gelowiges is daar egter hoop op hoër en beter dinge as wat hierdie wêreld kan bied. Ons huidige geloof is ’n skuldbewys (of ’n koopbewys/”gift voucher” as u wil) wat ons ontvang het wat ons verseker van ’n uiteindelike oorwinning en ’n ewige erfenis.

God het goeie rede om teleurgestel te wees in ons, as ons die geveg verloor, terwyl ons die nodige wapens om die vyand af te weer, beskikbaar het. Dit is presies wat gebeur het, toe God vir Adam gevra het ~ Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie? (Gen.3:11). Dit was nie ’n vraag wat God gevra het om vas te stel of Adam geëet het nie – Hy het presies geweet wat gebeur het. Nee, God het hierdie vraag gevra om daardeur Sy diepe teleurstelling aan Adam bekend te maak – so asof die Vader vir Adam gesê het: Hoe is dit moontlik dat jy van die skrapse en slegte vrugte van die satan kan eet, terwyl jy die sleutel tot God se oorvloedige spens tot jou beskikking het?

· In die derde plek is dit nodig dat ons stewig vas sal bly staan, omdat ons veiligheid gevestig is in die weerstand wat ons bied. Ons het gevegsmondering ontvang om mee te veg – om weerstand mee te bied, nie om mee te sit en rus, of om mee terug te val nie, of selfs oor te gee aan die vyand nie. Hoor net wat sê die Hebreërskrywer t.o.v. hierdie waarheid ~ En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie (Hebr.10:38).

Indien die soldate wat die fort verdedig, weet dat die vyand wat hulle aanval, swakplekke het en derhalwe oorwin kan word, sal hulle mos juis die vyand aanval en hulle ammunisie rig op hulle swakplekke en dit is presies wat Jak.4:7b vir ons wil sê ~ Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug. Die satan ís dus oorwinlik en hét swak plekke en al wat nodig is om hom te oorwin, is om hom aan te val.

Die vraag is net óf ek die duiwel wíl teëstaan! En as ek dit nie wil doen nie, of halfhartig in die geveg betrokke raak, is daar groot fout met my geestelik en behoort dit my intens bekommerd te stem en dit herinner wéér sterk aan die woorde van Hebr.10:38 wat ek so pas gelees het, nl. ~ En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe;... en dan hierdie woorde... maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie. Deins ek en jy terug my broer en suster? Indien wel sê die Here ~ ...aan hom het ek niks meer nie! Dit is verskriklike woorde en ons kan en mag dit nie ligtelik opneem nie!

Laastens is dit nodig dat ons die vyand moet weerstaan en stewig sal staan in hierdie geveg, omdat die vyand alleenlik oorwin kan word deur mag en geweld en aggressie. En daar is drie redes waarom dit so is. Kom ons kyk vlugtig daarna:
- Die eerste is omdat satan ’n lafaard is. In Hand.19:15 sê die satan ~ Jesus ken ek, en van Paulus weet ek. En dan sê hy vir die sewe seuns van Skeva ~ ...maar julle, wie is julle? Hy sê dus dat hy Jesus en Paulus ken, omdat hy niks aan hulle kon doen nie, omdat hulle weerstand gebied het wat hom wat Satan is, bedroë daarvan af laat kom het, maar die sewe seuns van Skeva is nie vir hom ’n probleem nie, want hulle het nie weerstand gebied nie en wat was die gevolg? V.16 ~ Die man met die bose gees spring toe onder hulle in en oorweldig hulle. Hy was te sterk vir hulle, sodat hulle kaal en stukkend geslaan uit daardie huis gevlug het. Satan is ’n lafaard, daarom dat hy Jesus en Paulus en almal wat weerstand teen hom bied, uitlos, maar indien jy dit nie doen nie, sal jy “tweede kom”. Hou dus in gedagte, dat hy ’n lafaard is en daarom sal hy van jou af wegvlug, as jy hom met mag en geweld teëstaan.
- Tweedens word Satan oorwin, omdat hy ’n indringer en ’n onwettige plakker is – ons moet egter bedag daarop wees dat dit die geval is. Wat bedoel ek hiermee? Indien ons ’n pinkie gee, sal die satan altyd die hele hand gryp en in ’n stewige greep beet kry – daarom dat Ef.4:27 vir ons sê ~ Moenie die duiwel vatkans gee nie. As ons toegee aan een versoeking, word dit altyd opgevolg met nog ’n sonde en nog ’n sonde en elke keer raak dit erger en al hoe moeiliker om daaruit te ontsnap. Neem pornografie as voorbeeld: Dit begin gewoonlik met baie sagte pornografie wat bykans nie eers pornografie genoem kan word nie, maar dit raak al erger, totdat dit uiteindelik by blou films verbygaan, tot die “ware Jakob”. Die vyand maak dus gebruik van die geringste geleentheid, of die kleinste openingkie in ons mondering, om ons binne te val; ons te teister en uiteindelik te oorrompel. Die veiligste strategie is dus om die duiwel nie die geringste vatkans te gee nie!
- Openb.12:10 noem die satan, die aanklaer van ons medegelowiges (of van ons broeders – O.A.V.). Hy is dus ’n vyand wat ons voortdurend by die Vader probeer aankla. Omdat hy dus ’n aanklaer is, moet en mag ons hom nie die geringste geleentheid gee om iets teen ons te kry waarmee hy ons kan aankla nie. Die satan kan dus geen leed aan ons doen, as ons hom nie toelaat om dit te doen nie. Ons moet dus deurentyd Job se woorde, ons eie maak, toe hy gesê het ~ Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie (Job 27:6 – O.A.V.). Indien jou eie gewete of hart jou nie aankla nie, moet jy nie toelaat dat die vyand dit doen nie. Hoe dikwels sê die vyand nie vir ons dat ons nie wedergebore is nie wel, hou vas aan jou geregtigheid en laat dit nie los nie.

5. WYSES OM VAS TE STAAN:
Ons het nou gesien waarom dit nodig is dat ons vas moet staan. Ons moet egter ook net kortliks kyk na hóé ons vas moet staan:
· Ons lees in Eks.27:20 en Eks.30:8 dat die lampe voortdurend gedurende die nag in die Tabernakel moes brand. Ons lewens in hierdie wêreld met al sy bose aanslae en versoekinge, is niks anders as nag nie. Daarom is dit van lewensbelang dat ons, ons “brandfakkels van waaksaamheid” voortdurend sal laat brand.

In ons woongebied waar ons woon, patrolleer ons buurtwag die hele woongebied 24 uur uit die 24 en 7 dae uit die 7 en ons kan die resultate daarvan sien in die dalende misdaadsyfers. Die oomblik as hierdie patrolliewerk egter verslap word ’n toename in misdaad beleef. Dit is presies dieselfde met ons geestelike lewe. Die oomblik dat ons verslap, gee ons ’n opening aan die vyand om ons te terroriseer.

Die probleem met die mens, is dat ons so gou slap raak in die knieë. Daar word vertel dat Noag se seuns vir ’n tyd lank, ná die sondvloed, nie huise in die laagtes gebou het nie, maar net op die hoë berge – hulle was waaksaam, maar nie vir lank nie, toe bou hulle maar weer huise in die laagtes. Dieselfde geld vir iemand wat beroof word – vir ’n tyd lank is hy baie versigtig en toets hy sy sekuriteitsmaatreëls gereeld, maar soos wat die tyd aanstap toets hy sy sisteem minder gereeld en verslap sy waaksaamheid dus.

Ons raak so dikwels intens bewus van ons sonde, dat ons dit fel teëstaan, net om na ’n ruk maar weer te verslap en heul ons maar weer met die sonde. As ons egter ware soldate vir Christus wil wees, moet ons voortdurend waaksaam wees en nooit ons “brandfakkels” uitdoof nie. God het nooit gerus voor Sy totale skeppingswerk afgehandel was nie. Jesus het nie halfpad tou opgegooi in Sy roeping hier op aarde nie – Hy het tot aan die einde die pad geloop, totdat Hy Sy sending afgesluit het aan die kruis op Golgota!

· ’n Eerlike en toegewyde wag, patrolleer dus sy hele omgewing – hy bewaak en patrolleer dus die hele gebied waarvoor hy verantwoordelik is. Op dieselfde wyse moet ons voortdurend, elke deeltjie van ons menswees patrolleer en ondersoek, want die geringste openinkie in ons menswees, is ’n “waenhuisdeur-opening” vir die vyand om ons binne te val en chaos te veroorsaak. Wanneer ek verwys na ons ganse menswees, verwys ek na ons liggaam ja, maar ook na ons denke, na ons spreke, ons emosies, ons optrede, ons geestelike lewe – ons ganse ons (as ek dit so kan uitdruk).

Dit is goed en wonderlik as ek ’n wag voor my lippe plaas, maar plaas ek ook ’n wag voor my hart om toe te sien dat ek nie dalk wellus daar toelaat nie? Jy hou dalk jou vingers uit jou werkgewer se kasregister, maar gun jy hom die seën van sukses en voorspoed waarmee die Here hom seën? Ons as gelowiges mag dalk in een of selfs meer areas van ons menswees onbesproke wees, maar in daardie een area waar niemand kan sien nie, dra ons dalk donker geheime rond.

Wanneer Paulus in 1Tes.5:18 sê dat ons dankbaar moet wees in alle omstandighede, omdat God dit van ons verwag, dan impliseer dit ook dat ons waaksaam moet wees in alles, sodat ons nie in die proses, God van Sy eer beroof nie.

Enige speurder sal vir jou sê dat geen stukkie inligting, hoe gering ook al, onbelangrik is in ’n ondersoek nie. Dieselfde beginsel geld wanneer ’n wag sy diens doen op patrollie en daarom moet ons ook besef dat die geringste verslapping in ons geestelike waaksaamheid, fataal kan wees. Jesus sê in Matt.12:36-37 ~ Dit sê Ek vir julle: Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. 37 Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.

· Jesus het ook aan die Fariseërs gesê ~ Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Juis hierdie dinge moet ’n mens doen en die ander nie nalaat nie (Matt.23:23). Om die vyand suksesvol teë te staan en seker te maak dat ons vasstaan, moet ons wys optree en ons geestelike prioriteite regkry. As ek ’n keuse het om, óf my kind, óf my materiële besittings te offer, is dit tog duidelik waar my prioriteit moet en sal lê – by my kind! Presies dieselfde beginsel geld vir my geestelike lewe: Wat moes die belangrikste beginsel vir die Fariseërs gewees het – om hul tiendes van kruisement, anys en koljander te gegee het, of om God se geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te jaag? Natuurlik was dit laasgenoemde. Op dieselfde wys moet ons éérs toesien dat ons verhouding met Christus op die regte plek is, vóór ons aandag gee aan allerlei ander geestelike sake soos bv. ons bediening onder die jeug, of watter bediening ook al – éérs Christus en dan die res. Ons moet eers omsien na die swak plekke in ons mondering, waar ons weet ons swak is, eerder as om dit maar net te ignoreer en verder aan te gaan met ons geestelike lewe.

6. AFSLUITING:
Ons sal onsself baie deeglik moet ondersoek ten einde vas te stel waarom ons, onsself gelowiges noem. Wanneer ons dit gedoen het, moet ons onsself afvra, of ons hierdie roeping waartoe ons deur Christus Jesus se soendood, geroep is, waardig volvoer, deur vas te staan en op ons pos te bly en nie toe te laat dat die vyand ons oorrompel en derhalwe in die proses ons aanhits om God se eer te steel nie.

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 06 Junie 2010