Die Brief aan die Efesiërs – 19 (Ouers en Kinders) [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. SKRIFLESING:
Ef.6:1-4 ~ Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis. 2 “Eer jou vader en jou moeder” is ’n baie belangrike gebod. En daar is nog ’n belofte by: 3 “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.” 4 En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.
2. INLEIDING:
Toe God die Israeliete gekies het om Sy uitverkore volk te wees, het Hy hulle bestem om ’n volk te wees deur wie ...al die volke van die aarde geseën sou word (Gen.12:3b). By die berg Sinaï het God die volk gekies om Hom ...as priesters (te) dien, en ’n gewyde nasie te wees (Eks.19:6). Israel moes ’n volk wees wat ’n getuienis uitgeleef het; ’n volk wat vir God getuig het. Die volk Israel was nie net geroep om die ontvangers van God se waarheid en seën te wees nie, maar hulle moes ’n kanaal wees vir Sy waarheid en seën en dit moes gedeel word met die ganse wêreld.
Die hart van God se waarheid, is die waarheid t.o.v. Homself. Die sentrale waarheid van die Ou Testamentiese openbaring word saamgevat in die woorde van Deut.6:4 ~ ...die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Hierdie waarheid impliseer optrede van die mens se kant en dit word weer pragtig vervat in Deut.6:5-6 ~ Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag. 6“Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Hierdie was die boodskap wat Israel vir haarself moes toe-eien, maar ook uitdra na die res van die wêreld.
Die eerste stap vir die Israeliete om hierdie boodskap uit te dra, was om dit oor te dra aan hulle kinders. – Deut.6:7 ~ Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Ouers moes dus onophoudelik oor die Here se genade en liefde met hul kinders gesels, sodat die kennis van en liefde vir God, tweede natuur moes word. Deut 6:8 gaan egter voort en sê ~ Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet ’n merk op jou voorkop wees. Ouers se lewens moes dus ook voortdurend van God se liefde en genade gespreek het – al het hulle dus nie ’n woord gesê nie, moes die ouers se getuienis steeds voortgeleef het en as voorbeeld dien.
Daar eindig dit egter nie – selfs wanneer ouers uithuisig was, moes hul getuienis voortgeleef het – v.9 ~ Skryf dit op jou deurkosyne en op jou stadspoorte. Daar moes m.a.w., voortdurend, ’n verbale, ’n sigbare én onsigbare toewyding aan die Woord van God in die ouerhuis gewees het.
Ongelukkig word hierdie opdrag en hierdie gesindheid in ouerhuise, reeds sedert die sondeval ernstig bedreig in gesinne. Die eerste rede hiervoor is uiteraard die sondegevallenheid van die mens en dit is slegs in huise waar die Here Jesus Christus as Verlosser, in beheer is, dat gesinne die hoë standaarde van die Woord t.o.v. gesinne, kan uitleef.
’n Tweede rede waarom gesinne nie hierdie vereistes van die Woord kan uitleef nie, is die Bose wêreldsisteem waarin ons leef en a.g.v. ’n tipe van “osmose”, word ons denke en daardeur ons lewe in gevaar gestel om al minder en minder soos gelowiges – soos die Israeliete van ouds, op te tree en te leef en voor ons, ons oë kan uitvee, leef en dink en tree ons net soos die wêreld op.
Ons as gelowiges moet dus radikale stappe neem om uit hierdie wêreldse gietvorm te ontsnap, waarin die wêreld ons wil giet en ons moet terugkeer na die Woord en weer in gehoorsaamheid leef aan die Woord. Paulus gee vir ons in min woorde hier in Ef.6, ’n uitstekende padkaart om terug te keer na die ordes van die Here en hy begin met die kinders.
3. OPDRAGTE AAN KINDERS:
V.1 begin met die woorde, “kinders”. In die Grieks is hierdie woord, "teknon" en dit verwys nie nét na jong of klein kindertjies nie, maar na alle kinders. Seuns en dogters wat nog steeds onder dieselfde dak as hul ouers woon, moet hul ouers te alle tye en in alles, gehoorsaam en eer. Verder dui die woord “gehoorsaam” op, optrede en beteken letterlik om “onder te luister”. Kinders moet dus met aandag en in gehoorsaamheid, positief na hul ouers luister. Kinders moet hulself dus in gehoorsaamheid onder die gesag en woorde van hul ouers plaas.
Die woord “eer”, dui weer op ’n gesindheid en dit hang nou saam met “gehoorsaamheid”. Kinders se gesindheid wanneer hul ouers praat, moet dus een wees van gehoorsaamheid en eerbied en hul optrede moet wees om te alle tye gehoorsaam te wees aan hul ouers.
Die N.A.V. se vertaling van v.1 is ongelukkig ’n jammerlike en baie swak vertaling en kan die indruk geskep word dat kinders van nature (of grond van die verbond/doop ens.) gelowiges is – kom ons lees dit net weer saam ~ Kinders, wees as gelowiges.... Die O.A.V. is weereens hier, ’n beter vertaling ~ KINDERS, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Wat ons nou moet vasstel, is wat beteken dit as die Woord sê dat kinders, “in die Here”, aan hul ouers gehoorsaam moet wees? Hierdie uitdrukking “in die Here” verwys na die sfeer of omgewing waarin kinders hulself plaas en wat aanvaarbaar is vir die Here. Kinders moet dus in die huise waar hulle woon, ’n atmosfeer skep en so leef dat dit aanvaarbaar is vir die Here.
Waar kinders te jonk is om hierdie sfeer of atmosfeer te skep, moet ouers hul jong kinders so opvoed dat hul natuurliker wys die regte atmosfeer sal skep wanneer hul groter is. Groter kinders kan egter nie die verskoning aanvoer, dat toe hulle klein was, hulle nie deur hul ouers begelei is om sus of so op te tree nie – ouer kinders het nou die verstand om te weet wat reg en verkeerd is. En waarom moet kinders so optree? Kol.3:20 bed die antwoord – ek lees weer uit die O.A.V. ~ Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik.
Waarom moet kinders hul ouers gehoorsaam en eer?
· Eerstes, omdat dit ’n natuurlike opdrag of reël is. Paulus sê: Doen dit, want dit is reg. Bykans alle gemeenskappe en kulture erken die eer van ouers en die gehoorsaamheid deur kinders, as aanvaarde norm. Wanneer dit afwesig is, is dit onaanvaarbaar.
· Ook het ons reeds gesien dat dit reg is in die oë van die Here. Ons het dus hier te doen met ’n Goddelike opdrag. Wanneer Paulus dus sê dat hierdie opdrag ’n Goddelike opdrag is, het hy die vyfde gebod van die Tien Gebooie in gedagte, nl.: Eer jou vader en moeder... (Eks.20:12). Wat baie interessant is, is dat hierdie gebod, die eerste gebod met ’n belofte is, nl. ...dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee (O.A.V.). Wat Paulus dus sê, is dat kinders hul ouers moet eer en gehoorsaam aan hulle wees – PUNT! Indien dit nié die geval is nie, sal dit besliste effekte hê op hoe goed én hoe lank kinders sal lewe! Die algemene reël is dus dat kinders wat hul ouers eer en gehoorsaam is aan hulle, beter lewens voer én langer leef.
Daar bestaan verskeie redes waarom dit die geval is:
- Een rede is dat wanneer kinders hul ouers gehoorsaam, hulle gereeld gewaarsku word teen die gevare van die lewe. Hulle sal minder ongelukke en ander fisiese trauma beleef, bloot omdat hulle, hul steur aan hul ouers se opvoeding en waarskuwings.
- Gehoorsame kinders sal die negatiewe en soms rampspoedige gevolge van slegte optrede, gewoontes en vriende gespaar word, wat baie dikwels tot gevolg het dat jong mense se lewens verkort word.
- Gehoorsame kinders en kinders wat hul ouers eer, ontwikkel gesonde karaktereienskappe wat hul onmiddellike, maar veral latere lewens, baie gesonder, suksesvoller en aangenamer maak, terwyl ongehoorsame kinders negatiewe en skadelik lewenspatrone aanleer. Die Woord stel hierdie beginsel ondubbelsinnig en keer op keer – Spr.4:10 bv. ~ Luister, my seun, en aanvaar wat ek jou sê; dit sal jou lewensjare baie maak. Spr.10:27 ~ Wie die Here dien, lewe lank; wie sonder Hom lewe, se lewensjare is min. Spr.30:17 ~ Die oë van ’n man wat met sy vader spot en vir wie dit benede hom is om sy moeder te gehoorsaam, sal uitgepik word deur die kraaie, opgevreet word deur die roofvoëls. Spr.15:20 ~ ’n Wyse seun maak sy ouers bly, ’n dwase mens minag hulle. Spr.17:25 ~ ’n Onverstandige seun is vir sy ouers ’n ergernis, hy is vir hulle’n bitter verdriet. Spr.28:24 ~ Wie sy ouers besteel en sê: “Ek doen niks verkeerds nie,” is niks anders as ’n rower nie.
Kinders en jongmense wat hierdie opdrag van God ignoreer, doen dit tot hul eie uiteindelike nadeel en ondergang.
4. OPDRAGTE AAN OUERS:
Paulus draai in vers 4 weg van die kinders en rig sy skrywe aan ouers en hy verdeel dit in twee dele – eerstens, negatief en tweedens positief.
· Die negatiewe opdrag wat Paulus aan ouers gee is klink klaar en duidelik ~ En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie (v.4). Sulke provokasie deur ouers kan op ’n paar maniere geskied:
- Onredelikheid: Onredelike optrede deur ouers kom baie algemeen voor – veral in die era waarin ons leef.
Ouers stel baie dikwels eise aan kinders wat onredelik en selfs bo hul vermoëns is, of kinders word so swaar gelaai met allerlei verwagtinge dat frustrasie en onderprestasie en wan-opvoeding baie dikwels die gevolg is – in kort, daar word soveel eise aan kinders gestel dat hulle nie meer kind kan wees en normaal kan ontwikkel nie.
- ’n Tweede vorm van provokasie is dié van foutvindery – ouers wie voortdurend foutvind met hul kinders se optrede – kinders kan net nie goed genoeg in hul ouers se oë wees nie. In die dae wat ek as onderwyser, rugby afgerig het, het ek dikwels Pa’s van die kantlyn af hoor skreeu op hul kinders as hy ’n fout begaan (asof die Pa dit beter sou kon doen) – niks is goed genoeg nie en baie dikwels tree ouers so op, omdat húlle eer uit hul “volmaakte” kindertjies se optrede wil ontvang.
- Nalating is ’n derde aspek van provokasie. Die “afwesige-pa”, of “afwesige-ma” of beide. Dit was een van Dawid se groot sondes en dit het gelei tot Absolom se rebellie waarvan ons in 2Sam.14-15 lees. Maar let op kinders – let op na wat die uiteinde van Absolom was, al was die oënskynlike oorsaak van Absolom se rebellie, sy afwesige Pa – 2Sam.18:9 ~ Dawid se manskappe het op Absalom afgekom waar hy op ’n muil gery het. Die muil het onder die digte takke van ’n groot akkerboom deurgegaan, en Absalom se kop het in die boom vasgehaak. Die muil waarop hy gery het, het aangehou hardloop en Absalom het tussen hemel en aarde bly hang en dan v.15 ~ Toe het tien wapendraers van Joab nader gestorm en Absalom heeltemal dood geslaan.
- Nog ’n vorm van provokasie, is inkonsekwentheid. Ouers belowe baie dikwels een ding, maar doen ’n ander. ’n Klassieke voorbeeld is dat ouers vir kinders bv. sê om iets nié te doen nie en indien hulle dit sou doen, gaan hulle sus of so gestraf word. Wanneer die kind dan oortree, word die aanvanklike dreigement net nie uitgevoer nie. Of, die ouers tree nou só op en môre anders. Sulke optrede verwar kinders, óf kinders steur hulle naderhand net nie meer aan hul ouers nie, omdat hulle nie hul ouers ernstig kan opneem nie – in kort, sulke kinders het geen respek vir hul ouers nie.
In die lig hiervan sê R. Kent Hughes die volgende: What a fragile flower a child is. He (or she) can be so easily crushed by his parents, or he can be to blossom beyond expectation, bringing untold joy to his parents and himself. Paulus verskaf aan ouers die regte raad t.o.v. kinderopvoeding – v.4b ~ ...maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.
· Paulus sluit sy skrywe aan die ouers af met positiewe raad – v.4b ~ ...maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.
Die gedagte met die Griekse woorde hier wat vertaal word met “groot maak”, is om ’n kind se karakter te ontwikkel en te vorm en dit gaan gepaard met sagtheid en vriendelikheid en versorging. Dit word gesê (en ek stem volmondig daarmee saam) dat ’n man waarlik man is wanneer hy ook sag kan wees met kinders – of dit nou is om ’n baba in sy arms te vertroetel, of lief te wees vir sy laerskoolkind, of om sy tiener seun of getroude kind ’n druk te gee en vir hom te sê dat hy lief is vir hom.
· Om ’n kind se karakter te vorm gaan egter nie net gepaard met sagtheid nie, maar ook met tug en vermaning.
Die woord tug is ’n sterk woord in die Bybel en mag nie agterweë bly wanneer dit nodig is nie. Spr.19:18 sê ~ Behandel jou seun streng, dan is daar hoop, maar moet jou nie te buite gaan en hom doodmaak nie. En Spr.15:32 het ’n boodskap vir beide ouers en kinders ~ Hy wat die tug verwerp, ag sy eie lewe gering; maar hy wat na die teregwysing luister, verkry verstand. Hebr.12:11 som dit baie mooi op ~ Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.
Tugtiging sluit o.a. ’n goeie pakslae op sy tyd in – hoor wat sê 2Sam.7:14 ~ Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ’n menslike roede en met slae van mensekinders. Spr.13:24 (O.A.V.) ~ Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging. En Spr.23:14 sê ~ Jy moet hom juis slaan om hom van die dood te red. Van wat se “dood” praat die Spreukeskrywer hier? Ja, die ewige dood van ’n sondaar, maar ek dink daar kan ook ’n sterk saak daarvoor uitgemaak word dat ’n pakslae op die regte tyd, selfs jou kind langer kan laat lewe – dink aan Paulus se opmerking in v.3b ~ ... en jy lank mag lewe op die aarde.
Laastens sê Paulus in v.4, dat ouers hul kinders moet vermaan. Die letterlike Griekse betekenis vir "nouthesia", of te wel, “vermaning”, is “om iets in iemand se gedagtes te plaas”. Dit impliseer opleiding en lering wat nie soseer kennis tot gevolg het nie, maar eerder die regte gesindheid, die vaslegging van goeie beginsels en goeie en aanvaarbare gedrag. Hierdie is uiteraard nie iets wat oornag bereik kan word nie, maar neem jare en moet van die eerste dag af toegepas en doelgerig in kinders se lewens ingebou word.
5. ’N LAASTE GEDAGTE:
Ek het netnou na Spr.15:32 verwys en uit daardie teksvers is dit baie duidelik, dat beide ouer én kind ’n aandeel in ’n kind se opvoeding het. Aanvanklik is die kind se aandeel nie so groot nie, maar later wel. Geen ouer kan dus enige verskoning aanvoer en sy gebrekkige opvoeding op die stout en rebelse kind projekteer nie – ouers kan dus nie sê dat hulle alles probeer het, maar die kinders wil nie na hul luister nie, ens. Net so kan kinders ook nie hul swak optrede wat lei tot mislukking of selfs dalk tronkstraf a.g.v. swak en verkeerde en sondige optrede, op die ouers se skouers alleen pak nie. Nee, kinders het ook die verantwoordelikheid om positief en met respek en in gehoorsaamheid te reageer op hul ouers se opvoeding – al is dit ook hoe onvolmaak.
Die heel belangrikste is egter dat beide kind en ouer moet onthou dat hulle individueel voor die lewende God staan en verantwoording sal moet doen – Die ouers vir die wyse waarop hul, hul kinders opgevoed het (of nie opgevoed het nie) en die kinders sal voor God staan om verantwoording te doen vir hoe hulle gereageer het op die opvoeding (hoe gebrekkig ook al) wat hulle van hul ouers ontvang het.
Rom.5:20 sê ~ Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword en 2 Kor.9:8 sê ~ En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk. Wanneer ons na hierdie en talle ander teksverse kyk, sien ons dat ons hoop in die Evangelie van Christus Jesus het. Indien jy in die verlede of dalk tans misluk het in die opvoeding van jou kind, kan Hy wat ons Verlosser is, ons ook hierin bystaan en vergewe. Ons moet dit net heel eerste teenoor Hom erken en dit bely, maar selfs teenoor my kind ook. Uiteraard geld dieslefde vir kinders - Dit is nooit te laat om vergofnis te vra vir jou rebelsheid nie (teenoor God en jou ouers).
As gelowige kan jy verander en kan jou situasie verander, want die Heilige Gees is in jou. Ons moet egter net besef dat die probleem nie vanself sal verdwyn nie – dit sal harde werk, baie gebed, tyd en geduld vra, om dit wat verkeerd was, reg te stel (1Tim.4:7).
Mag Christus ons genadig wees in hierdie verband.
[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 09 Mei 2010