Die Brief aan die Efesiërs – 20 (Werkgewers en Werknemers) [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. SKRIFLESING:
Ef.6:5-9 ~ Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met ’n opregte hart, asof dit vir Christus is. 6 Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. 7 Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie. 8 Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is of vry. 9 En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.
2. INLEIDING:
Ons Skrifgedeelte is die laaste van drie gedeeltes wat handel oor onderwerping van een groep mense teenoor ’n ander (ook genoem die “Huistafels”). Paulus het hierdie hele saak t.o.v. onderwerping in Ef.5:21 afgeskop met die woorde ~ Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.
Eerstens het Paulus aandag geskenk aan die verhouding tussen man en vrou in Ef.5:22-33. Daarna het hy in Ef.6:1-4 die verhouding tussen kinders en hul ouers aangespreek en nou hanteer Paulus die derde groep, nl. werknemers en werkgewers.
Wat dadelik opval in ons gelese gedeelte is die feit dat Paulus hier praat van slawe en hul eienaars. Die vraag wat dan onmiddellik gevra moet word, is of hierdie gedeelte nog op ons van toepassing is al dan nie, want daar is tog nie meer iets soos slawe in ons dag nie. Omdat hierdie perikoop handel oor die hantering van die eienaars en hul slawe en dit bykans die enigste vorm van werkgewer/werknemer verhouding was, is hierdie voorskrifte vandag nog net so van toepassing en indien die ander twee “Huistafels” van toepassing is op ons huidige situasie – dan ook hierdie een. En of slawerny vandag steeds bestaan al dan nie, is irrelevant, omdat daar van ons as gelowiges verwag word om soos slawe van Christus op te tree (v.6) – of ons nou werkgewers of werknemers of slawe is al dan nie.
Ons moet verstaan dat daar in Paulus se tyd omtrent net slawe was wat as werknemers gewerk het (die baie arm mense uitgesluit). Daar word beweer dat daar soveel as 60 miljoen slawe in die Romeinse Ryk werksaam was gedurende Paulus se tyd en dat nagenoeg ’n derde van stede soos Rome en Korinte se inwoners bestaan het uit slawe [2]. Sommige van die werkgewers was gelowiges, soos bv. Filemon van Kolosse. Baie van die lidmate van die vroeë Christelike kerk was slawe of oud-slawe. Die hele kwessie van slawe en hoe gelowiges moes optree teenoor slawe, maar ook hoe gelowige slawe moes optree teenoor hulle werkgewers was dus ’n baie relevante saak.
Slawe was gesien as niks meer as ’n werktuig in die hand van sy eienaar en daarom was ’n slaaf gesien as ’n “ding” en nie ’n mens nie en daarom is baie slawe erg mishandel en misbruik. Dit is egter ook so dat sommige slawe in opstand gekom het omdat hulle so misbruik was. Een so ’n opstand (weliswaar tussen 140 en 70 v.C.) was gelei deur die bekende Spartikus.
3. WERKNEMERS SE VERANTWOORDELIKHEID:
· Kom ons kyk dan nou eerstens na die verantwoordelikhede van werknemers. Paulus sê dat werknemers gehoorsaam aan hul werkgewers moet wees. Omdat werknemers in presies dieselfde posisie verkeer as kinders, gebruik Paulus weer die woord “gehoorsaam”, omdat hy presies dieselfde gedagte hier wil herhaal, want die werkgewer se werk is ook om te bepaal wat gedoen moet word en hoe dit gedoen moet word en daarom is dit nodig dat die werknemer, gehoorsaam aan sy werkgewer moet wees.
Die woord “gehoorsaam” word hier in die teenwoordige tyd gebruik, wat daarop dui dat die werknemer se gehoorsaamheid aaneenlopend moet wees, m.a.w. hy kan nie net gehoorsaam wees wanneer hy wil nie – hy moet altyd gehoorsaam wees. Maar presies dieselfde reël geld egter ook hier as wat dit die geval met vrouens en kinders die geval was, nl. dat die werkgewer nie kan doen net wat hy wil nie. So kan en mag ’n werknemer bv. nie gehoorsaam wees aan sy werkgewer as dié van hom verwag om bv. te sondig – sonde soos laster, afgodery, immoraliteit, leuens, moord, naywer, ens. Behalwe vir sonde, moet die werknemer egter te alle tye gehoorsaam wees – al is “die baas” se opdragte ook hoe onredelik.
Dit is ook belangrik om daarop te let dat wanneer ’n gelowige vir ’n ander gelowige werk, hierdie opdrag steeds van krag is ~ Gelowiges wat as slawe onder ’n juk staan, moet hulle eienaars met alle eerbied bejeën, sodat niemand sal kwaad praat van die Naam van God en van die Christelike leer nie. 2 Slawe wat gelowige eienaars het, moet aan hulle nie minder eerbied betoon omdat hulle saam broers is nie. Hulle moet hulle eerder beter dien omdat dié wat uit hulle werk voordeel trek, met hulle een is in geloof en liefde. Hierdie dinge moet jy aan die mense leer en dit by hulle inskerp (1Tim.6:1-2).
Paulus gaan egter voort en hy sê vir ons, wat hierdie gehoorsaamheid behels:
· Eerstens dan v.5 ~ Slawe wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag. Die woord eerbied hier, is in Grieks "meta" en wat in die O.A.V. en verskeie Engelse vertalings vertaal word met die woord “vrees”. “Vrees” in hierdie geval is nie dieselfde as “bang” nie, maar dui eerder op “respek” en daarom is die N.A.V. baie beskrywend met sy gebruik van die woord “eerbied”. Dit is dan ook dieselfde woord wat in die tweede “Huistafel” gebruik is, toe Paulus aan die kinders gesê het dat hulle hul ouers moet eer (v.2). Werknemers moet dus respek vir hul meerderes in die werksituasie betoon, maar let op – hierdie respek moet in die eerste plek teenoor die persoon se posisie en gesag betoon word. Indien ’n werknemer se meerdere dus nie respek in sy persoon afdwing nie, mag so ’n werknemer steeds nie die gesindheid hê van: ...Ek dink niks van jou nie, maar intussen sal ek sluk wat jy vir my sê, maar pasop vir die dag as ek jou meerdere is. Nee, dit mag nie ons gesindheid wees nie en dit is dan juis om hierdie saak aan te spreek dat Paulus in 1Tim.6:1 sê ~ Gelowiges wat as slawe onder ’n juk staan, moet hulle eienaars met alle eerbied bejeën, sodat niemand sal kwaad praat van die Naam van God en van die Christelike leer nie. ’n Gelowige werknemer met ’n “baas” wat nie respek afdwing nie, moet nog steeds sy Christelike getuienis uitleef in dade, spreke en gesindheid en daardeur eer aan God bring.
Aan die anderkant kan ’n situasie waar beide werkgewer en werknemer, gelowiges is, familiariteit tot gevolg hê – want ons is tog immers “broers” – nee, nog steeds moet daar respek en ontsag betoon word teenoor die werkgewer se posisie en gesag.
’n Werknemer moet dus altyd teenoor sy meerdere (gelowig of ongelowig) optree soos wat hy moet optree teenoor Christus – ...asof dit vir Christus is (v.5).
· In die tweede plek sê Paulus dat werknemers hul werk ...met ’n opregte hart (v.5) moet doen. Die woord “opreg” het ’n baie interessante oorsprong. In die antieke tye was pottebakkery ’n baie belangrike bedryf. Oneerlike pottebakkers het egter soms hul minder goeie produkte se krake weggesteek deur dit toe te smeer met byewas. Vir die leek was hierdie krake dan onsigbaar. Die krake kon egter gesien word as die pot teen die lig gehou is, want die byewas, was effens ligter van kleur. Goeie en foutlose potte is egter ook somtyds gestempel ten einde die egtheid en foutloosheid van die pot te waarborg. Hierdie stempel het die Latynse woorde, “sine cera” gehad, wat “sonder byewas” beteken (die Engelse woord “sincere” is hiervan afgelei – Afrikaans = opreg”).
Ons werk moet dus foutloos en sonder krake wees – ons moet dus nie halwe werk doen en foute wegsteek nie. Ons moet aan die einde van elke dag se eerlike en foutlose werk, die stempel “sine cera” daarop kan plaas en vir die Here ook kan sê: Ek het vandag my beste en foutlose poging vir U gedoen!
· Vers 6 sê ~ Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. Wanneer ons werk, moet ons nie ons werk doen om raak gesien te word nie. Wat Paulus hier in gedagte het, is dat ons nie net hard sal werk wanneer die “baas” in ons rigting kyk nie, maar dat ons te alle tye hard en toegewyd sal werk, ongeag of dit ’n belangrike of “minder belangrike” werk is en of dit ’n tydelike (vakansiewerk) of permanente werk is – ons harte moet dus op die regte plek wees – ons moet ons werk doen asof vir Christus.
· Laastens sê Paulus in v.7 dat, al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie. Die woord lus is in die oorspronklike teks, "eunoia", wat letterlik beteken om iets te doen sonder dat ek gedwing word om dit te doen of sonder om te wag dat iemand vir my sê om iets te doen. Ons werk moet dus vir ons ’n plesier wees en ons moet ons met ons hele hart daaraan toewy. Ons moet inisiatief aan die dag lê en nie wag om aangemoedig te word nie.
4. BELONING:
Paulus sê vir ons in v.8 ~ Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is of vry. Op grond waarvan sal ek dan ’n beloning kry? Omdat ek in die eerste plek weet dat God daardeur verheerlik sal word. Tweedens omdat dit my roeping is – ek doen dit asof vir die Here. Derdens doen ek dit om my Christelike getuienis uit te leef. Vierdens doen ek dit om gehoorsaam aan die Woord te wees. En laastens doen ek dit so omdat ek weet dat ek ’n beloning gaan ontvang.
Natuurlik het Paulus hier ’n hemelse beloning in gedagte gehad, want slawe is as ’n reël nie beloon vir hul werk nie. ’n Werkgewer mag dalk nie altyd ’n werknemer na waarde skat en hom dienooreenkomstig vergoed nie, maar God sal wel eendag in die ewigheid vir getroue en harde werkers vergoed – die Woord belowe dit. Wat staan ons te doen? Ons moet ons werk te alle tye doen asof vir die Here en nie vir aardse werkgewers nie – geen goeie werk, of goeie gesindheid wat in Sy Naam gedoen word, gaan ongesiens by die Here verby nie en daarom sal Hy dit seën en uiteindelik beloon (die teenoorgestelde is natuurlik ook waar).
5. WERKGEWERS SE VERANTWOORDELIKHEID:
Paulus vergeet nie van die werkgewers nie en hy spreek hulle in v.9 aan ~ En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie. Ons moet eerstens daarop let dat Paulus nie hier in detail kyk na die werkgewer se verantwoordelikheid nie, want die oorkoepelende gedagte waarmee hy hier in die “Huistafels” besig is, is onderwerping.
Dit is ook interessant om te sien dat Paulus aan werknemers sê dat alles wat vir werknemers geld, ook vir werkgewers geld – let op, Paulus sê in v.9, ...met dieselfde gesindheid.... Hierdie “selfde gesindheid” beteken egter nie dat werknemers ook gehoorsaam moet wees aan hulle werknemers nie, want dit sal tog die hele gedagte t.o.v. gehoorsaamheid en ondergeskiktheid, ens. in chaos dompel. Wat dit egter beteken, is dat werkgewers, hulle werknemers moet behandel soos wat hulle as werknemers behandel sou wou word. Beide gelowige werkgewer en gelowige werknemer is God se kinders en daarom moet beide en spesifiek dan in hierdie geval, die werkgewers, God dien, waarop hulle ook hul beloning van God sal ontvang. Werkgewers se motiewe en optrede met hul werknemers moet dus ook wees om God te verheerlik en hul getuienis teenoor hul werknemers uit te leef.
’n Werkgewer se eerste roeping is om God te gehoorsaam en volgens Sy wil (soos geopenbaar in die Woord) op te tree teenoor sy werknemers. Hy stel dus sy werknemers se welsyn voorop en tree billik en regverdig en met respek teenoor hulle op en daarom sal hy ook hou by die land se wette t.o.v. sy werknemers (belasting; werkloosheidversekering; al die soorte verlof; werksure; ens.).
Werkgewers moet ook hul gesag uitoefen, asof vir die Here, want daardeur leef hy ook sy roeping uit as bestuurder/werkgewer en daarom sê Paulus, ...hou op om hulle te dreig. Hierdeur wil hy sê dat werkgewers nie hul posisie mag misbruik nie. Ook moet hy besef dat sy posisie voor die Here, presies dieselfde is as sy werknemers s’n en daarom is hy nie méér belangrik voor die Here as sy werknemers nie.
6. AFSLUITING:
Geesvervulde gelowiges – of hulle nou mans of vrouens is, of ouers of kinders, of werkgewers of werknemers, hulle is almal gelyk voor God en in onderwerping aan ons Redder, die Here Jesus Christus en daarom moet ons onsself onderwerp aan mekaar in liefde en onderlinge versorging.
Jesus Christus het vir ons die voorbeeld gestel toe Hy “laer as ’n slaaf” vir ons geword het. Hy het “voete kom was”. Hy is gekruisig en in ons plek het Hý sonde geword – dít is onderwerping – dít is die voorbeeld wat ons moet navolg as werknemers, maar ook as werkgewers!
[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 16 Mei 2010
[2] Geoffrey W. Bromiley, Red., The International Standard Bibe Encyclopedia. Grand Rapids, MI: Eerdmans, 1988, p.544