Keerpunte in Christus se Aardse Lewe - 03 (Sy Versoeking in die Wildernis - 02) [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. INLEIDING:
Ons het verlede week begin kyk na Jesus se versoeking en ons het o.a. gesien dat Jesus die wildernis ingelei is deur die Heilige Gees – ’n wildernis waar Hy geweldige eensaamheid ervaar het en van God verlate gevoel het – erger as wat Adam, of die Israeliete of ons ooit sou kon ervaar – daarom, het ons gesien dat Jesus met elkeen van ons kan identifiseer in ons “wildernis-ervarings”. Blaai nou saam met my na Matt.4:1-11.
2. SKRIFLESING:
Matt.4:1-11 ~ Toe is Jesus deur die Gees die woestyn [die Grieks hier is erhmoV (eremos), wat eerder vertaal moet word met woesteny of wildernis] in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2 Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword. 3 Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.” 4 Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” 5 Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6 en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie.” 7 Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” 8 Toe neem die duiwel Hom na ’n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9 en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.” 10 Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” 11 Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.
3. DIE VERSOEKER:
Jesus was die wildernis ingelei deur die Gees om deur Satan versoek te word. Eerstens moet ons vir mekaar vra hoe Matteus geweet het wat daar in die wildernis gebeur het? Hy was tog nie daar nie. Niemand was daar nie, behalwe Jesus self en die duiwel. Daar kan dus net een moontlike Bron vir hierdie gebeure wees – ek glo nie Matteus het dit by die duiwel gehoor nie. Jesus moes Sy dissipels dus hiervan vertel het. En hierdie is ’n belangrike punt, want hierdie is nie ’n waarnemer se weergawe nie, maar Jesus wat self vertel wat Hy daar in die wildernis ervaar het. Hy wou dat Sy dissipels eerstehands hoor en ervaar wat Hy daar deurgemaak het en dat Satan, die Versoeker, met Hom daar was en dat Sy lyding en Sy versoekings, direk van Satan gekom het.
Nie een van ons hoor die Satan ooit direk met ons praat wanneer hy ons versoek nie, want as dit die geval was, sou dit veel makliker gewees het om hom te weerstaan. Nee, dit is nie hoe Satan dit doen nie. Wanneer ek versoek word, is dit elke keer iets wat vanuit my eie binneste kom – dit is my eie gedagtes. Die kere wat ek versoek is, het ek nie eers daaraan gedink dat die Satan aan die werk was nie. Daar is tye dat ons vol pyn is; of hartseer is; of eensaam is, maar elke keer was dit my eie gedagtes; my eie vlees, wat ingegee het en toegee het aan die versoekings. En die ironie is dat baie van die dinge waaraan ons toegee, nie altyd eers boos lyk nie - trouens dit lyk so natuurlik en dit lyk reg, want my gevoelens en emosies sê vir my dat ek net eenvoudig sus of so moet optree. Die Satan sê nooit vir ons dat ons boos moet reageer of optree nie. Hy sê ook nie vir ons wanneer hy bose gedagtes in ons plant nie – dit is hoe hy werk, want hy is ’n leuenaar – trouens, hy ís die vader van die leuen (Joh.8:44); hy ís ’n misleier (2Joh.7).
Ons lees hier in Matteus, dat die Satan met Jesus gepraat het, maar ons moet nie maar sommer net aanvaar dat Jesus op daardie stadium besef het dat dit Satan is nie, want ons moet onthou dat Jesus volkome mens was – natuurlik sonder sonde, maar ons kan ’n sterk saak daarvoor uitmaak dat Hy ook nié Satan se stem gehoor het nie en dat Hy ook nié besef het dat dit Satan is wat Hom versoek het nie – later ja, toe Hy met Sy dissipels daaroor gepraat het, het Hy geweet dat dit Satan was en kon Hy vir hulle sê dat dit die satan was wat Sy gedagtes gevul het my bose versoekings – en ja, reg aan die einde van die veertig dae tydperk het Jesus geweet dat dit Satan was, daarom dat Hy in v.10 gesê het ~ Gaan weg, Satan.... En nadat Jesus dit gesê het, het Satan geweet dat hy die geveg verloor het, maar tot en met daardie punt het Satan gehoop dat hy Jesus kon versoek.
Adam en Eva het ook nie besef dat dit die Satan was wat hulle versoek het nie – totdat dit te laat was. Paulus waarsku ons ook dat die satan homself voordoen as ’n engel van die lig (2Kor.11:14) – hy doen hom nie self voor as ’n engel uit die hel nie – hy mislei ons, deur ons wys te maak dat wat hy voorstel, God se wil is. Dit is waarom dit so ontsettend belangrik is dat ons sal leer om Satan se versoekings te onderskei – om te weet wanneer dit hý is en wanneer nie, want hy is só subtiel; hy is só agterbaks en skelm en hy weet presies wanneer dit die “verkeerde tyd” is om ons aan te val. Hy weet wanneer ons in die “wildernis” is. Hy weet wanneer ons op ons swakste is. Hy weet wanneer ons die mees kwesbaarste is. Hy weet wanneer ons op ons moegste is. Hy weet wanneer ons emosioneel “omge-ellie” is. Dit is dán dat hy sy aanslae op ons loods, want dít is die tyd dat ons die mees vatbaarste is – wanneer ons nie nugter kan dink nie; wanneer ons nie die wil en krag en energie het om terug te veg nie.
4. DIE VERSOEKINGS:
Kom ons kyk dan nou na hierdie versoekings waardeur Jesus gegaan het. Ons het gepraat oor die plek waar Jesus versoek is – die wildernis. Ons het gekyk na die versoeker, nl. die Satan. Derdens dan, die versoekings.
Jesus het drie versoekings daar in die wildernis beleef (vandag net die eerste twee):
· Eerstens het die Satan, Jesus deur fisiese begeerte versoek. Die Gees van God dryf Jesus in ’n plek in waar daar geen kos was nie – en Jesus het honger geword. En die dae het verby gegaan en steeds was daar nie kos nie. En Jesus het nog meer honger geword. Wanneer ’n mens honger is, is dit baie moeilik om aan enige iets anders te dink as kos en nogmaals kos. Jesus het al swakker geword en na veertig dae is daar steeds geen kos nie en as daar nie spoedig kos kom nie, sal Jesus sterf. En dan skielik skiet ’n gedagte Hom te binne – die klippe!
Hy kan nog die stem hoor wat Hy by die Jordaan gehoor het, toe Hy gedoop is ~ ...Jy is my geliefde Seun (Matt.3:17). En skielik is die vraag daar in Sy gemoed: Indien Ek die Seun van God is, waarom kry Ek so swaar? As ek die Seun van God is, kan ek tog sekerlik vir daardie klippe sê om brood te word en dan kan ek eet en My hongerpyne stil en weer My kragte herwin! En die oomblik toe daardie gedagtes Hom te binne skiet, kon Hy aan niks anders dink nie, want dit klink tog na so ’n redelike en logiese ding om te doen. En hierdie gedagte moes in Sy kop gemaal het, want as Hy die Seun van die Almagtige God is, moes Sy Vader tog vir Hom die krag gegee het om dit te kan doen en as God Sy Vader is, sal God tog nie wil hê dat Hy moet sterf nie! Tewens, Jesus kon ewe maklik gedink het: Dit is tog my verantwoordelikheid om hier in die woestyn aan die lewe te bly, want Ek het nog ’n groter roeping wat op My wag en as Ek hier sterf, sal ek nie My Groot Opdrag kan uitvoer nie! En natuurlik wou Jesus Sy roeping vervul – maar Hy is honger!
Dit is baie belangrik om daarop te let dat Jesus se begeerte hier inherent goed was – daar is tog niks verkeerd met brood nie! Daar is niks fout te vind met iemand wat sy hongerpyne wil stil nie. Omdat Jesus volmaakte mens sonder sonde was, kon Hy dus nie versoek word deur iets wat op sigself boos was nie. Indien die duiwel sou kom met iets wat op sigself boos was, sou daar geen versoeking gewees het nie. Jesus kon egter versoek word deur iets wat goed was, maar op ’n tyd, of plek wat nie deur God in Sy soewereiniteit, goedgekeur was nie. Ons sal dit met elkeen van die versoekings sien – Satan wat Jesus se oënskynlike sober begeertes na dinge wat op sigself goed is, uitbuit.
Jesus is honger en Hy kry die idee om Sy hongerpyne te stil, maar dit was nie God se manier nie. Onthou, Jesus het gekies om gedoop te word. Hy het gekies om saam met sondaars daar in die doopwater te staan en te deel en te identifiseer met die vloek wat op ons rus. En wat was die vloek? Gen.3:17-19 ~ ...die aarde (is) deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19 net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word. Dit is waarom die Gees, Jesus na die wildernis gelei het – na die plek van dorings en distels. Jesus moes ook ervaar wat ander mense wat onder die vloek leef, ervaar in en deur hulle lewe. Hy moes ook behoeftes en honger beleef het, want Hy het Homself met ons vereenselwig – ons wat met sweet in ons aangesig, ons brood moet verdien. Wat sou dit beteken het, as Jesus die klippe in brood verander het? Dit sou impliseer dat Hy nie meer verder gewillig sou wees om te deel in ons vloek nie – in ons swaarkry nie. Die mens moet werk vir sy brood, maar Jesus kry Sy brood deur Sy Goddelike krag – Hy sou dus die vloek m.b.v. ’n wonderwerk gesystap het. Was dit die rede waarom die Vader, Jesus gesalf het met die Gees? Nee, Hy het die Gees ontvang sodat Hy die Goeie Nuus aan die armes (armes van gees) kon preek – nie om die pyn van die vloek te kon vryspring nie.
Die Vader se plan was dat Jesus die gevolge van die vloek, ten volle moes ervaar en Hy sou die vloek nie deur wonderwerkende krag vryspring nie, maar deur volkome swak te word en natuurlik, deur uiteindelik te ly en te sterf op Golgota en drie dae later op te staan en sodoende die vloek te oorwin – nie om dit te ontvlug nie. Dit was dus nie die Vader se wil dat Hy klippe in brode moes verander nie.
Wie het dan die suggestie in Jesus se gedagtes geplaas? Wie het hierdie vrae en begeertes in Jesus se gemoed opgeklits? Matteus sê vir ons dat dit die duiwel was. Satan het Jesus se desperate hongerpyne misbruik om Hom te versoek en weg te lei van God se wil vir Sy lewe.
Pastoraal is hier iets enorm belangrik. Ons het gesien dat Satan nie gewoonlik sy teenwoordigheid aankondig wanneer hy die krag van versoekings teen gelowiges van stapel stuur nie. Dit is ook waar dat hy nie gewoonlik gelowiges versoek met dinge wat boos op sigself is nie. Die normale strategie wat Satan gebruik, is die strategie wat hy hier in die woestyn toegepas het – hy buit gelowiges se begeerte na dinge wat op sigself nie verkeerd is nie, uit. Maar Satan dring by gelowiges daarop aan om daardie goeie dinge, op tye en op plekke en op maniere te begeer, wanneer dit nie binne God se wil is nie.
Gelowiges kan deur allerlei natuurlike, emosionele, intellektuele en fisiese begeertes versoek word – ’n begeerte na rus bv.; ’n begeerte na vriendskap; ’n begeerte na meer kennis van Woord; ’n begeerte na vreedsame familie verhoudinge; ’n begeerte na seksuele vervulling binne die huwelik; die begeerte na ’n arm om jou skouer as dit swaar met jou gaan – al hierdie begeertes is goeie begeertes, maar daar is tye dat God ons in situasies plaas, waar ons begeerte na hierdie dinge geblokkeer word en dan voel ons honger en dors en eensaam. Dit is egter op hierdie punt wanneer Satan gewoonlik kom en hy ons versoek om daardie “goeie dinge” wat nie nou vir ons beskore is nie, na te jaag en wel op wyses wat nie binne God se wil val nie.
Miskien is hier van julle wat worstel met “goeie begeertes”. Jou huwelik is dalk ver van hoe jy dit graag wil hê, of ver van wat die Woord van ’n huwelik verwag. Jou intieme verhouding is dalk nie soos wat jy dit dalk graag wil hê nie. Jou kinders is dalk rebels en jy begeer dat hulle die Here sal dien.
Toe Jesus in die wildernis was, moes Hy geduldig gewees het – Jesus moes vir God gewag het, want Sy tyd was nie God se tyd nie. En net so moet ons leer om te wag – al voel ons ook hóé desperaat “honger”. Ons moet vir God wag om ons gebede te verhoor. Ons moet vir God wag om ons behoeftes te bevredig op die wyse en tyd waarop Hý dit wil doen. En soms voel Sy manier baie hard en ongenaakbaar. Soms voel ons dat Hy liefdeloos is. Soms voel dit vir ons dat indien ons nog ’n dag langer moet wag, ons sal sterf. Maar geliefdes, dit is die beste weg om te volg – om geduldig op God te wag en steeds Sy wil na te jaag. Jesus het op God gewag en God se wil gevolg.
· Jesus is egter ook op ’n tweede wyse versoek. Dit het gekom deur Jesus se verlange na ’n een of ander teken van God die Vader. Ons as mense hou daarvan om bewyse te hê dat God met ons is – dat God ons lief het; dat God ons help. En weereens is dit ’n aanvaarbare en goeie begeerte om te koester. En Jesus het hierdie begeertes gekoester. Maar daar in die wildernis het Jesus geen tekens gehad nie. God het Jesus deur die Heilige Gees in hierdie verskriklike en verlate plek ingedryf en die Vader het Hom net daar gelos – so het dit ten minste gelyk. Sekerlik het Jesus gebid: Gee My vandag My daaglikse brood (Matt.6:11). Maar daar was geen brood.
Dit is pynlik en baie dikwels onverstaanbaar vir enige persoon wat lief is vir God en wat bid, maar wat geen antwoord ontvang nie. Dit is pynlik om te bid en jy ontvang ’n duidelike “nee” op jou gebed – maar om te bid en géén antwoord te ontvang nie, is nóg pynliker. Dit is pynlik vir ons en dit was pynlik vir die Here Jesus.
Weer word Jesus geteister deur gedagtes – duistere gedagtes. Gedagtes wat vra: Waar is jou Vader nou? As jy Sy Seun is, waarom luister Hy nie nou na jou nie? Het Hy jou vergeet? Hoe kan Hy van jou verwag om Hom te vertrou, as Hy geen teken aan jou gee dat Hy na jou luister nie? En skielik in Jesus se gedagtes is dit asof Hy nie meer daar in die wildernis is nie. Hy is skielik in Jerusalem en Hy is hoog bokant die stad. Dit is asof Hy vasklou aan die hoogste punt van die Tempel. Ons weet dat Hy nie fisies daar was nie. Markus sê ondubbelsinnig dat Jesus vir die volle veertig dae in die wildernis gebly het. Satan beskik nie oor die mag om mense oral oor die wêreld heen te “vervoer” nie. Nee, die satan val mense se gedagtes aan (soos die kinders dit sal stel – hy “smokkel met ’n mens se kop”). Hy val mense se gevoelens en emosies aan. Waarskynlik het Jesus (en ek sê dit met uiterste versigtigheid en piëteit) aan hallusinasies gelei a.g.v. Sy honger, want vir veertig dae het Hy geen kos gehad nie en is Hy blootgestel aan die Midde-Oosterse son. Die hele tyd was Hy geïsoleer van ander mense – Hy’s eensaam. Satan het Jesus verwoed aangeval. Satan het Jesus se toestand misbruik om Sy gedagtes te vul met vals gedagtes en verskriklike vrees en daarom het dit vir Jesus gevoel dat Hy daar op die hoogste punt van Jerusalem was en Hy ervaar hierdie begeerte om te spring.
Nou waarom was Jesus versoek om dit te doen? As Jesus dit gedoen het, sou Hy God gedwing het om iets te doen – om ’n wonderwerk te verrig t.w.v. Jesus. As God leef en as God werklik omgee, sal Hy ’n Engel móét stuur om Jesus te vang voor Hy die grond tref. Die gedagte wat in Jesus se gemoed opkom is die woorde in Ps.91:11-12 ~ Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. 12 Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie....
Waar kom hierdie gedagtes vandaan? Gedagtes om iets te doen ten einde God te dwing om iets te doen? Wel, dit kom van Satan. Hy is daartoe in staat om sulke duistere gedagtes in ons gedagtes te plant – selfs in die gedagtes van die vleesgeworde, maar sondelose Christus. Hy het selfs Bybelversies misbruik om Jesus te probeer oortuig dat dit die regte ding is om te doen.
Jesus was dus versoek deur die satan om God te toets – om te sien of God werklik sal doen wat Hy in Sy Woord belowe – meer nog, om te eis dat God Homself moet bewys!
Die Israeliete was op dieselfde wyse in die woestyn versoek en hulle het “geval” vir Satan se versoeking. Dit het gebeur toe hulle by ’n plek genaamd Refidim gekom het waar daar geen water was nie (Eks.17). Die volk het begin kla en murmureer, want hulle en hul vee het dors geraak. Hulle het kwaad begin raak en hulle het dreigemente begin rondslinger. Hulle het vir Moses gesê: Ons het jou vertou en jy het ons in hierdie wildernis laat intrek – en nou? Wat gaan nou van ons word? Jy, Moses, jy moet nou iets doen om ons te red, want God het ons nou in die steek gelaat – hoe kan jy van ons verwag om in Hom te glo as Hy nie vir ons wys hoeveel Hy omgee en vir ons water gee nie? Die volk was so opstandig, dat Moses bang was dat hulle hom sou stenig.
Indirek was hierdie ultimatum wat aan Moses gestel was, eintlik aan God gestel, want Moses sê vir hulle in v.2 ~ Waarom stel julle die geduld van die Here op die proef? (N.A.V.); ...waarom versoek julle die HERE? (O.A.V.). Julle mag dit nie doen nie! In hierdie geval het God egter gedoen wat die Israeliete wou gehad het – Hulle wou hê dat Hy Homself moes bewys – en Hy het, want Hy het water uit die rots laat vloei. Maar hulle het terselfdertyd God se toorn oor hulle ontketen, want hulle het God gedreig en vir Hom gesê dat hulle God nie kan vertrou, as Hy nie vir hulle ’n teken gee om daardeur te bewys dat Hy ís wie Hy sê Hy is nie. Moses hernoem die plek Massa (beteken: “op die proef stel”) en Meriba (beteken: “rusie”) (v.7). By hierdie plek het die volk dus getwis en God versoek, deur te vra of Hy met hulle is of nie.
Doen ons nie ook maar dikwels presies dieselfde nie? Sê ons nie ook maar soms, as God nie dít of dát doen nie, dit nie meer die moeite werd is om Hom te volg nie. Of: Ek kan God nie meer vertrou nie, want Hy luister net eenvoudig nooit na my nie. Of: Ek is seker maar nie gered nie, dit is waarom Hy nie my gebede verhoor nie. En wanneer Hy dit nié doen nie, voel ek in my diepste binneste dat ek Hom nie meer kan vertrou nie – of ek sê dit dalk selfs openlik.
Hierdie selfde krag van versoeking wat die Israeliete verlei het, het ook oor Jesus gekom daar in die wildernis. Dit was egter veel, veel intenser, omdat Hy Sy Vader so volmaak en intens lief gehad het en die feit dat Hy volmaakte gemeenskap met die Vader geniet het. Wanneer iemand, iemand anders baie lief het, is die seerkry soveel erger wanneer jy in die steek gelaat word deur daardie persoon.
Dit is nie verkeerd, of selfs sondig, om bepaalde dinge van die Here te vra nie – of selfs een of ander teken dat Hy my lief het nie, maar dit is sonde om in God te twyfel. En dit is sonde om dinge of antwoorde van God op te eis. Dit is sonde om God uit te daag om Homself te bewys.
Dink net weer vir ’n oomblik terug aan die Ps.91 wat Satan gebruik het om Jesus te versoek. In die Psalm staan daar baie duidelik dat hierdie belofte vir dié een is wat in die skadu’s van die Allerhoogste skuil – hierdie belofte is dus slegs van toepassing, indien Jesus Sy skuiling by die Allerhoogste vind. Daar ís geen skuilplek vir Jesus by die Allerhoogste as Hy aan die Allerhoogste wil voorskryf nie.
Indien jy Ps.91 deeglik deurlees, sal jy besef dat hierdie Psalm presies die teenoorgestelde beteken as die verdraaide weergawe of vertolking van die satan. In hierdie Psalm word gesê dat hy (en in hierdie geval Jesus) wat by die Allerhoogste skuil, beskerm sal word teen o.a. dodelike siektes (v.3); teen aanvalle bedags of snags, maar wat hierdie Psalm nié sê nie, is dat God iemand sal beskerm as hy homself doelbewus in gevaar stel en God daardeur as’t ware uitdaag nie. Dit wat die Psalm belowe, is presies wat die Vader gedoen het met Jesus terwyl Hy in die wildernis was – Wie het Hom bewaar van die wildediere in die woestyn en die warm son bedags? Deurgaans deur die veertig dae wat Jesus in die wildernis was, het God se Engele Hom bewaar.
Ps.91 is dus nié ’n uitnodiging aan Jesus, óf aan ons, om onsself in gevaar te dompel nie. Nee, dit is ’n uitnodiging om God te alle tye te vertrou, ongeag ons omstandighede; ongeag van wat ook al in die toekoms mag gebeur! Hierdie Psalm sê dus nié vir ons dat ons allerlei tekens moet vra ten einde te glo en te weet dat die Vader met ons is nie. Hierdie Psalm is ’n getuienis wat ons uitspreek, nl. dat die Vader altyd met ons is – ek voel dalk nie Sy teenwoordigheid nie; ek sien dalk nie wonderwerke nie; alles verloop dalk nie soos wat ek dit graag sou wou hê nie, maar Hy het my veilig bewaar, anders sou ek nie tot hier gekom het waar ek vandag staan nie.
Die ware betekenis van hierdie Psalm is dus die radikaal teenoorgestelde van wat Satan vir Jesus belowe. Satan sê: God het belowe om jou te bewaar – dus, dwing Hom om dit te bewys. Nee, die Vader doen dit in elk geval – al sien ons nie noodwendig die bewyse daarvan nie.
Dit dan was die tweede versoeking. As die Here wil sal ons volgende week na die laaste versoeking kyk, asook Jesus se oorwinning in die wildernis.
[1] Met erkenning aan Stephen Rees (Manchester, Engeland) – Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 25April 2010