Die Gebed van alle Gebede – 1 ("Ons Vader") [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. SKRIFLESING:
Matt.6:9-13 ~ So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; 10 laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. 11 Gee ons vandag ons daaglikse brood; 12 en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; 13 en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. En die O.A.V. sluit hierdie gebed in v.13b af met die woorde ~ Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
2. INLEIDING:
Hierdie gebed wat die Here Jesus vir Sy dissipels geleer het, is so ’n swaar gelaaide gebed en nogtans hoor ’n mens hierdie gebed al minder en minder en word dit derhalwe afgeskeep. Miskien is dit omdat gelowiges voel dat dit deel is van die “tradisie” en daarom moet dit liefs nie meer gebid word nie, óf dit is dalk omdat baie mense voel dat dit amper soos ’n “resitasie” geword het en dat ons as kinders dit in ons “ongeredde toestand” bloot meganies opgesê het, omdat dit van ons verwag was en omdat ons dit in die skool geleer het en almal dit saam opgesê het voor die klas begin het en dit is goed dat ons ’n weerstand teen so ’n tipe van gebed het, veral as ons dit meet aan die hand van Matt.6:7 ~ Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Ons moet egter ook nie die “baba met die badwater uitgooi” nie, want hierdie is steeds die woorde van ons Here Jesus Christus en daarom mag ons dit nie minag nie.
Wat die redes ook al mag wees, ons het hier met die Woord van God te doen; ons het hier te doen met ’n gebed wat die Here Jesus vir ons gegee het om te dien as raamwerk vir al ons gebede – hierdie is dus ’n modelgebed en daarom behoort ons weer en meer aandag hieraan te skenk.
Ek hoef nie in detail in te gaan op die noodsaaklikheid en belangrikheid van gebed nie, want ons as gelowiges weet teen hierdie tyd dat gebed ’n absolute noodsaaklikheid is t.w.v. ons verhouding met God. Iemand het op ’n keer gesê dat ’n Christen net so sterk is as wat sy gebedslewe is. Daar steek baie waarheid in hierdie opmerking, want gebed is jou direkte kommunikasie met God. Ons weet dat God met ons deur Sy Woord praat, maar ons praat met Hom wanneer ons tot Hom bid en ons weet ook dat daar geen sprake van ’n verhouding tussen enige persone kan wees as daar nie wedersydse gesprek, of tweegesprek plaasvind nie.
Die blote feit dat Jesus praat oor gebed en vir ons sê dat ons moet bid, is reeds genoegsame bewys daarvan dat gebed noodsaaklik is. So sê Paulus bv. in 1Tes.5:17 ~ Bid gedurig.
3. GEBED VAN ALLE GEBEDE:
In die vier verse wat ons Skriflesing voorafgaan, het Jesus eers vir Sy dissipels gesê hoe daar nié gebid moet word nie ~ Nee (het Hy gesê), as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. 7 “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. 8 Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.
Jesus waarsku Sy dissipels teen aanstellerige, spoggerige en ydele gebede – gebede wat gebid word, sodat ander mense daardeur beïndruk kan word (v.5-6). In verse 7-9 waarsku Hy ons teen gebede wat niksseggend en ’n blote herhaling van woorde is. En nou kom Jesus in die volgende verse en Hy leer Sy dissipels (vir ons) hoe om te bid. In Engels word die “Onse Vader”, “The Lord’s Prayer” genoem, maar ’n beter benaming sou waarskynlik gewees het: “Die Dissipels se Gebed”, omdat Jesus se gebed (“The Lord’s Prayer”) net voor sy kruisiging soos vervat in Joh.17:1-5, waarskynlik eerder “Jesus se Gebed” genoem moet word.
Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie gebed, ’n modelgebed is (in Engels sou ons dit ’n “Template Prayer” kon noem). Dit is dus ’n gebed waar rondom ons, ons gebede kan en behoort te bid. Jesus sê dus vir ons wat die Vader wil hê ons moet bid en hoe ons moet vra, wanneer ons bid. Hierdie gebed kan verder ook die “Gebed van alle Gebede” genoem word en wel om drie redes:
· Hierdie gebed word gekenmerk deur sy omvangrykheid, m.a.w. dit is kragtig en kort. Hier word dus geweldig baie met min woorde gesê.
· Tweedens, is hierdie gebed kristalhelder en duidelik. Dit is eenvoudig en verstaanbaar vir alle mense (groot en klein – gelowiges wat nuut op “die pad” is en andere wat lankal reeds gered is).
· In die derde plek word dit gekenmerk deur sy volledigheid. Dit bevat alles wat ons maar van die Vader kan vra.
· Laastens is dit foutloos. Wanneer ons hierdie gebed as raamwerk gebruik, is die “kanse skraal dat ons verkeerd” kan bid. Wanneer ons n.a.v. hierdie gebed bid, bid ons volgens Sy wil en Johannes sê in 1Joh.5:14 ~ En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.
Ons moet ook daarop let dat dit nie verkeerd is om hierdie gebed nét so te bid nie, want Jesus het tog immers gesê ~ SO moet julle bid. Máár, wanneer ons dit net so bid, moet dit nie ’n ydele herhaling van woorde wees nie – ons moet konsentreer op wat ons bid en ons moet dit van harte bedoel
4. DIE GEBED SE STRUKTUUR:
Die gebed, of die struktuur van die gebed, bestaan uit drie dele:
· Die inleiding – vers 9a;
· Ses Smeekbedes – verse 9b – 13. Die eerste drie smeekbedes handel oor God se eer; God se Koninkryk en God se wil. Die laaste drie smeekbedes handel oor die mens se behoeftes. God word dus in hierdie gebed eerste geplaas, net soos in die Tien Gebooie – eers God, dan die mens.
· Laastens vind ons die afsluiting in vers 13b (let op hierdie gedeelte is weggelaat uit die N.A.V.).
5. INLEIDING TOT DIE GEBED:
Hierdie modelgebed van die Here Jesus begin met die woorde: Ons Vader. Hierdie gebed word dus gerig tot “die Vader”, wat impliseer dat slegs gelowiges hierdie gebed kan bid. Dit dui egter ook daarop dat die gelowiges wat tot die Vader nader in gebed, dit doen in geloof en met agting en liefde teenoor Hom as ons Vader – in liefde, omdat Hý die Een is wat naby is uit genade en liefde, maar tog ook hoog verhewe bo ons is in Sy heiligheid ~ Ons Vader... en dan ~ ... wat in die hemel is. Wanneer ons bid, moet ons God dus beide in liefde en vertroue nader, maar ook in eerbied, met die wete dat Hy heilig is.
Hierdie aanspreekvorm help ons dus om in die regte stemming en gesindheid te kom vir ons gebedstyd.
Om dus tot God as ons Vader te nader in gebed, het die volgende implikasies:
· Eerstens impliseer dit dat ons God nie meer hoef te vrees nie, want Jesus het vir ons versoening by die heilige God bewerkstellig, sodat ons nie meer Sy toorn op ons sonde hoef te vrees nie.
Van al die wonderlike voordele wat voortgespruit het uit die dood van Christus, is daar niks groter en wonderliker as die feit dat ons God nou “Vader” kan noem. Voor ons wedergeboorte, was ons afgesny en vervreemd van Hom, omdat ons aan die satan behoort het. Met ons wedergeboorte, is ons nie net uit God gebore nie (Joh.1:13), maar is ons ook aangeneem as Sy kinders (Ef.1:4-5).
Dit is nog wonderliker om aangeneem te wees as kinders van God – meer as wat dit is om geregverdig te wees, of regverdig verklaar te wees op grond van Christus se soendood, want om geregverdig te wees, impliseer dat ons nou nie meer deur God veroordeel sal word nie, maar om aangeneem te wees as kind beteken dat God ons nou lief het en sal beskerm en versorg, soos wat ’n aardse Vader sy kind sal liefhê en beskerm en versorg.
· Tweedens, impliseer die feit dat ons God ken as Vader, dat daar geen onsekerheid by ons bestaan oor Sy Goddelikheid aan die een kant, maar aan die ander kant, impliseer dit ook dat ons na Hom kan en mag gaan in gebed, omdat ons Hóm mag ken deur Jesus Christus.
· Om God as Vader te ken, dui voorts op intimiteit – ons hoef nie eensaam en alleen te voel nie – selfs al word ons verwerp deur andere – ons hemelse Vader sal ons nooit verwerp of in die steek laat nie – Joh.14:21 ~ Wie my opdragte het en dit uitvoer-dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.
· Om tot God te nader in gebed is bewys daarvan dat ons met vertroue enige iets (volgens Sy wil natuurlik) van Hom kan vra, want die wild op duisende berge behoort aan Hom (Ps.50:10b). Alles in die hemel en op aarde behoort aan Hom.
· Die feit dat ons God aanspreek as Vader, impliseer dat ons Hom sal gehoorsaam net soos wat Jesus Christus, gehoorsaam was aan Hom – Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis (Fil.2:8). As Jesus wat God die Vader se eie Seun is, so gehoorsaam was, hoeveel te meer moet ons as aangenome kinders nie!
Gehoorsaamheid aan God is een van die primêre tekens van ons kindskap ~ Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder (Matt.12:50).
· Laastens kan ons steeds met vrymoedigheid na die Vader gaan in gebed, al is ons ongehoorsame en sondige kinders, want op grond van die feit dat Christus vir ons versoening bewerkstellig het aan die kruis op Golgota, is en bly die Vader steeds lief vir ons.
Hierdie gebed wat Jesus aan ons geleer het, begin egter nie met die woord Vader nie – dit begin met die woord “ons” ~ ONS Vader. Jesus wil ons hierdeur leer dat ons, in al ons gebede, geloof moet beoefen ~ En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak (Jak.5:15). Indien ons, ons gebed met Vader sou begin, betoon ons eerbied en ontsag teenoor God, maar wanneer ons die woordjie “ons” vooraan plaas, spreek dit van geloof, want daardeur sê ons dat ons glo dat die Vader wat almagtig en liefdevol is, aan ons sál gee, omdat Hy óns Vader is (Matt.21:22).
6. OM IN GELOOF TE BID:
Wat beteken dit om in geloof te bid? Ons moet besef dat gebed sonder geloof, ’n vrugtelose oefening is. Wat is van Israel gesê? ~ Ons sien dus dat hulle as gevolg van hulle ongeloof nie in sy rus kon ingaan nie (Hebr.3:9).
· Eerstens impliseer gebed, dat ons sal vra om dit wat God belowe. Indien niks belowe is nie, kan ons nie in geloof daarvoor vra nie.
· Om in geloof te bid, beteken dat ons in Jesus se Naam sal bid. Dit is waarom Joh.14:13 sê ~ Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. Wanneer ons tot ons Vader in Jesus se Naam nader, beteken dit dat ons, by wyse van spreke, met die gekruisigde Lam in ons arms na die Vader gaan en vir Hom sê, Here ons is sondaars en ons verdien niks nie, maar hier in ons arms lê ons sekuriteit en daarom Here, t.w.v. Christus, vra ons dat U ons genadig sal wees. Wanneer ons dus tot ons Vader in Jesus se Naam nader, impliseer dit dat ons in geloof tot Hom nader.
· Laastens bid ons in geloof wanneer ons, ons geloof in God se getrouheid plaas.
7. WAT IN DIE HEMEL IS:
Kom ons kyk nou na die frase, wat in die hemel is. Jesus het baie na Sy Vader op hierdie wyse verwys, om die waarheid te sê, Hy verwys nie minder nie as veertien keer so na die Vader in die Evangelies (bv. Matt.5:16, 45; 6;1,9; 7:11, ens.). Die feit dat Jesus dikwels so na Sy Vader verwys het, sê vir ons dat hierdie woorde veel dieper betekenis het, as wat dit sommer net so op die oog af moontlik mag klink. Ons moet derhalwe nie te vinnig oor hierdie woorde lees, of dit sommer maar net so in die verbygaan, vinnig sê wanneer ons bid nie.
Wanneer ons na ons Vader verwys as ons Vader in die hemel, gee ons erkenning daaraan dat Hý alleen God is, ’n God van Oneindige Majesteit en Heerlikheid en Grootsheid en daarom moet ons Hom in eerbied nader. Maar om Hom aan te spreek as Vader in die hemel, impliseer ook dat ons glo dat, soos Ef.1:3 dan ook sê, ...ons in Christus geseën (word) met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.
In die Ou Testamentiese tye, het ’n persoon se naam gewoonlik beskryf wie en wat hy is – dit het sy karakter beskryf. So het God Homself dan o.a. ook geopenbaar met die Name, “Ek is” (Eks.3:14) en die Allerhoogste (Mark.5:7) en die Almagtige (Gen.17:1; Openb.1:8). En wanneer ons dink aan die betekenis van God se karakter wat verskuil lê agter hierdie name, kan ons nie anders as om te bid, Ons Vader, wat in die hemel is. Ons kan ons Vader nie gelykstel aan ’n aardse vader in die opsig dat ons oneerbiedig omgaan met Hom nie – deur Hom af te trek na ons hier op aarde en Hom amper gelyk te stel aan ons deur, bv. na Hom te verwys as “jy” en “jou” (bv.: In piëteit gesê: Here JY het gesê....). God is nié ’n goedige “ou Oupa” wat maar te gewillig is om suikerklontjies aan Sy kleinkinders uit te deel nie.
Wanneer ons dus bid, Ons Vader, wil die opvolgwoorde, nl. wat in die hemel is, ons vir ’n oomblik tot stilstand bring en ons geleentheid gee, om God se Naam, nl. Vader te oordink én te besing – Wie Hy werklik is, maar ook wat Hy kan doen en nog verder, dat Hy my diepste binneste ken – daardie deel van my hart wat ekself nie eers ken nie. Dit alles en dit alleen – nog voor ons aangaan met ons gebed, behoort ons al in verwondering te laat staan en ons te lei tot lofprysing en aanbidding, maar terselfdertyd tot sondebelydenis.
8. DIE PRAKTYK:
Ek het aan die begin gesê dat hierdie gebed ’n modelgebed vir ons is en dat dit ’n raamwerk vorm wat ons kan navolg wanneer ons bid. Om baie prakties te raak: Wanneer ons dan bid en ons gebruik die “Onse Vader” as raamwerk vir ons gebed, kan ons by die gedagte aan die woorde, Ons Vader, God besing as Vader en vir Hom sê wat dit vir ons beteken dat Hy ons Vader is. Wanneer ons daaraan dink dat Hy ons Vader is, dan dink ons daaraan dat Hy ons versorg – daarvoor kan ons Hom dan dank en loof en dalk selfs dinge by die naam noem wat Hy aan ons skenk. Bv. die feit dat ons lewe; vir gesondheid; vir kos; vir beskerming; vir kinders; vir broers en susters; vir klere; vir geleenthede, ens. en dat Hy die beste weet wat goed is vir ons en daarom aan ons sal skenk wat ons volgens Sy wil vra, ens.
Wanneer ek daaraan dink dat ek Hom Vader noem, kan ek Hom dank vir die feit dat ek dit mag doen en wat se voorreg dit vir my is om ’n hemelse Vader te hê – ’n Vader wat omgee; ’n Vader wat verstaan; ’n Vader omdat Hy my uitverkies het en gered het en my sonde vergewe het, ens.
Wanneer ek dus bid en dink aan die woorde, Ons Vader, is daar onmiddellik soveel ander dinge waaraan ek kan dink om te sê – en dan moet ek dit net vir Hom sê.
Dieselfde geld vir die uitdrukking, ...wat in die hemel is. Bedink dit en sê dit dan vir die Here – U is hoogverhewe Here en U sien al die mense. 14 Van die plek waar (U) as koning sit, sien (U) almal wat onder op die aarde woon (Ps.33:13-14) en ja, dit beteken ook dat U my raaksien. By die gedagte daaraan dat ons Vader in die Hemel is, kan ons vir Hom die woorde van Ps.102:20-21 “terug bid” ~ (U) het uit (u) heilige woning na onder gekyk en uit die hemel gesien wat op die aarde gebeur, 21 die gekerm van die gevangenes gehoor en dié wat naby die dood was, bevry. En so het U ook my gekerm gehoor en my bevry en daarvoor loof en prys ek U Naam, Here.
Kan u sien my broer en suster? Die “Onse Vader” is vir ons ’n modelgebed wat ’n pragtige en volmaakte raamwerk daarstel vir ons om in gebed tot God te kom – maak gebruik daarvan, want dít is waarom Jesus dit vir ons gegee het – nie om dit klakkeloos na te bid nie, maar om dit te gebruik ten einde ons leiding te gee oor hóé om te bid.
9. SLOT:
Hierdie openingswoorde van die Here Jesus se modelgebed en waarin God as genadige Vader, maar ook as hoogverhewe en heilige Vader beskryf word, is ’n gepaste inleiding vir die eerste smeekbedes wat hierna volg en geen wonder ook dat hierdie eerste smeekbedes juis handel oor God, want die toon is reeds in die openingswoorde van die gebed vir ons gee, nl.: Ons Vader wat in die hemel is. Ons sal dan D.V. volgende week kyk na die smeekbedes soos beskryf in Matt.6.
[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 14 Maart 2010