Monday, March 8, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 07 Maart 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 17 (Wees Vervuld met die Heiloge Gees) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.5:15-21 ~ Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. 16 Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd. 17 Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. 18 Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, 19 en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. 20 Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus. 21Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.

2. INLEIDING:
In hierdie gedeelte wat ons so pas gelees het, roep Paulus ons op om in wysheid op te tree en die meeste van elke oomblik en elke geleentheid te maak. Die O.A.V. praat van “om die tyd uit te koop”. In die Grieks dui die betekenis van hierdie uitdrukking op iemand wat na die mark gaan en álles koop. Die N.A.V. is egter weer ’n beter vertaling, wanneer dit sê dat ons die beste gebruik moet maak van elke geleentheid, want dit is presies wat die Grieks ook sê. Ons moet dus in wysheid omgaan met die tyd wat ons tot ons beskikking het.

3. KOOP DIE TYD UIT:
Vers 15 is gebaseer op twee aannames, nl. dat gelowiges wys is en tweedens is hul wysheid, praktiese wysheid, want hierdie wysheid leer hulle hoe om op te tree in die lewe. Paulus leer ons dus dat ons lewenswandel nie geskoei moet word op ’n wêreldse lees nie, maar waardig aan God se roeping (4:1) en in liefde (5:1) soos kinders wat in die lig wandel (5:8) en op grond hiervan sê Paulus vir ons in v.15, dat ons baie versigtig moet wees oor hoe ons lewe. In die Griekse teks begin vers 15 met die woord “daarom” – waarom “daarom”? Vers 15 verwys terug na vers 14b ~ ...Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig. Dit verwys selfs nog verder terug en wel na v.1 ~ Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Wat Paulus dus hier sê, is dat ons eens dood was in ons sonde en toe het ons “wakker” geword in Christus en van toe af is ons Sy kinders en omdat ons Sy kinders is, moet ons Sy voorbeeld navolg en dit het tot gevolg dat ons in wysheid moet wandel, want as ons nie in wysheid wandel nie, kan ons soos die wêreld begin optree en volg ons nie meer Christus se voorbeeld na nie.

Wanneer ons sondig en in Satan se web verstrengel raak, is dit omdat ons onwys optree en leef – dan tree ons weer op soos voor ons wedergeboorte. Paulus sê in Titus 3:3 ~ Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. Hierdie tipe lewe waarvan Paulus hier praat is die lewe wat sonder God se wysheid geleef word. Ons moet dus alles in ons vermoë doen om elke sekonde van die dag te benut ten einde tot eer van God te leef.

In vers 17 sê Paulus egter ook dat wyse mense die wil van God onderskei – hy sê ~ Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. As gelowiges wat wys is en wys optree, moet en kan ons God se wil ook vasstel. Eerstens is daar God se algemene wil en tweedens kry ons God se toegespitste wil, of spesifieke wil. God se algemene wil vind ons opgeteken in Sy Woord en dit bied aan ons direkte riglyne vir ons geestelike lewe – hierdie riglyne is dieselfde vir elke gelowige en het o.a. te doen met ons heiligmaking. God se spesifieke wil het egter te doen met elke individuele gelowige se lewe (bv. watter werk ek moet ek neem ens.) en dit verskil van gelowige tot gelowige. Ons sal egter nie God se spesifieke wil in Sy Woord vind nie – sulke besluite moet geneem word, nadat daar deeglik daaroor gedink en gebid is en dit gemeet is aan die algemene wil van God soos geopenbaar in Sy Woord.

4. TWEE OPDRAGTE:
Verse 18 tot 21 lei nou ’n baie interessante gedeelte in, want ons het hier te doen met twee opdragte en vier teenwoordige deelwoorde wat vir ons sê, hóé hierdie opdragte uitgevoer moet word.

Wat die opdragte aan betref: Ons vind die eerste in v.18a, waar daar o.a. staan ~  Moet julle nie aan drank te buite gaan nie. Die tweede opdrag vind ons in v.18b, nl. dat ons met die Gees vervul moet word. Paulus het reeds in 1:13 vir ons gesê, dat ons deur ...die Heilige Gees wat deur God belowe is, as die eiendom van God beseël is. En in 4:30 sê hy, dat ons nie die Heilige Gees moet bedroef nie.

Die vervulling met die Heilige Gees is ’n baie belangrike onderwerp en is iets waaroor die Gereformeerdes aan die eenkant en die Pinkster- en Charismatiese groepe aan die anderkant nie saamstem nie.

Paulus tref ’n baie eienaardige vergelyking hier, wanneer hy sê dat ons nie dronk moet word van wyn nie, maar vervul moet word met die Heilige Gees. Hierdie is egter ’n baie goeie vergelyking. Ons moet egter net besef dat dit nie hier in die eerste plek gaan oor die gebruik of selfs misbruik van alkohol nie, maar dit gaan daaroor dat Paulus vir ons iets wil sê t.o.v. die Heilige Gees en wat hy sê, is dat wanneer iemand dronk is, hy onder die invloed van alkohol is en dit is presies wat Paulus bedoel wanneer hy sê dat ons eerder vervul moet wees met die Heilige Gees, want dan is ons onder die invloed van die Heilige Gees se krag. Dit is egter net hier waar die ooreenkoms of vergelyking met wyn eindig.

5. VERVULLING MET DIE GEES:
Wat beteken dit dan om onder die invloed van die Heilige Gees op te tree, of om vervul te wees met die Gees?
· ’n Geesvervulde mens lewe ’n beheersde lewe – ’n geordende lewe – nie soos gekke nie, maar soos wyse mense. ’n Oormaat alkohol word gekarakteriseer deur ’n gebrek en selfs verlies aan begrip en insig; dit lei tot onverfyndheid en ’n verlies aan oordeel en ’n verlies aan balans. Presies die teenoorgestelde is egter waar van ’n Geesvervulde persoon – hy is vol van die Here se wysheid en goeie oordeel; hy tree beskaafd en beheers op en daar is balans in sy lewe teenwoordig.
· ’n Geesvervulde lewe is ’n produktiewe lewe. ’n Geesvervulde persoon is presies die teenoorgestelde van die Verlore Seun wat sy dae onproduktief deur gebring het, deur saam met die varke te leef. Dit is presies wat ’n oormaat alkohol ook doen – dit lei tot onproduktiwiteit. Hy lê leeg en hy mors sy tyd. Daarteenoor lei ’n Geesvervulde persoon ’n lewe wat gekenmerk word deur tyd wat uitgekoop en ten volle benut word. Dit is ’n lewe wat bewaar en opbou. Dit is ’n lewe wat waarde toevoeg. Dit haal alles wat goed is uit homself tot eer van God en tot diensbaarheid van andere.
· ’n Geesvervulde lewe is ’n stimulerende lewe – dit gee aan die gelowige ’n nuwe lewe en ’n positiewe uitkyk op die lewe self. ’n Geesvervulde lewe lei altyd tot iets nuuts – iets groters – iets beters.
· ’n Geesvervulde lewe is ’n vreugdevolle lewe. Paulus sê, moenie jou vergryp aan drank ten einde vreugde te probeer vind nie. Nee, wees eerder vervuld met die Heilige Gees en jou vreugde sal alle perke oorskry. En wanneer ons swaarkry en vervolging ervaar, sal ’n Geesvervulde persoon dit in vreugde dra en daardeur werk.

Ons glo dat alle gelowiges die Heilige Gees as gawe ontvang tydens wedergeboorte en daarom mag sommige van u moontlik vra: Maar hoe is dit dan moontlik dat ’n gelowige voortdurend gevul moet word met die Heilige Gees, want dit is tog wat ons Skrifgedeelte vanoggend vir ons sê?

Eerstens moet ons besef dat daar ’n verskil is tussen die doping met die Heilige Gees en die vervulling met die Heilige Gees. Waarom sê ek dit? Omdat Paulus in sy brief aan die Efesiërs praat met gelowiges wat rééds deur die Heilige Gees as eiendom van God beseël is (Ef.1:13). Die Efesiërs is reeds beseël deur die Heilige Gees en as hy nou vir hulle sê dat hulle gevul moet word met die Heilige Gees, kan dit tog nie dieselfde ding wees nie.

Die doping met die Heilige Gees, of die beseëling deur die Heilige Gees, is ’n definitiewe en konkrete ervaring en gebeurtenis en het te doen met die vraag of iemand wederbaar is of nie. M.a.w. die doel met die doping met die Gees, is primêr om ons wedergeboorte vas te maak – om dit te beseël, maar ook om onbeskaamd en met vrymoedigheid en met krag, die Evangelie met andere te kan deel – dít was die onmiddellike gevolg van die doping met die Heilige Gees van die gelowiges in Hand.2.

Ons moet daarop let dat die gebruik van die sinsnede, “vul met die Heilige Gees” in beide Hand.2:4 en Ef.5:18b gebruik word en dit is jammer, want die twee woorde het in hierdie twee teksverse nié dieselfde betekenis nie – beide Afrikaanse vertalings is dus nie goeie vertalings nie. Hand.2:4 lees as volg ~ Almal is met die Heilige Gees vervul.... In Ef.5:18 staan daar ~ ... laat die Gees julle vervul. Wanneer ons na die Grieks gaan kyk sien ons dat die werkwoord “vervul” in Hand.2:4, "pletho" is, wat dui op ’n eenmalige gebeurtenis by wedergeboorte – Doping met die Heilige Gees dus. Terwyl die werkwoord “vervul” in Ef.5:18b, "pleroo" is, wat nié dieselfde is as “Doop met die Heilige Gees” nie, maar dui op ’n situasie wat meermalig kan plaasvind en dit sal ek nou verduidelik. Om gedoop te wees met Gees impliseer dat ek ook gevul is met die Gees, maar om gevul te wees met die Gees, beteken nie noodwendig om gedoop te wees met die Gees nie. Om gedoop te wees met die Gees is dus ’n eenmalige gebeurtenis en wat voortduur totdat die Here Jesus “ons kom haal” – dit is die beseëling van ons wedergeboorte.

Om gevul te wees met die Heilige Gees kan ook permanent van aard wees, maar dit kan ook by herhaling geskenk word en verskillende soorte vervulling met die Gees kan ook voorkom – kom ek verduidelik:
· Eerstens kan iemand gevul word met die Heilige Gees ten einde hom toe te rus om ’n bepaalde taak te verrig. Ons vind so ’n voorbeeld in Eks.31:1-5 ~ Die Here het vir Moses gesê: 2 “Kyk, Ek het vir Besaleël uitgekies. Hy is ’n seun van Uri, seun van Gur uit die stam Juda. 3 Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen: 4 ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk, 5 edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen. Besaleël is dus toegerus om ’n taak in opdrag van God uit te voer en daarom is hy gevul met die Heilige Gees en ontvang hy die nodige aanleg, bedrewenheid, kunstigheid, ens. om die opdrag uit te voer. Nog so ’n voorbeeld is Johannes die Doper, waar ons lees dat hy reeds van voor sy geboorte af, gevul was met die Heilige Gees (Luk.1:15) en Sagaria – pa van Johannes die Doper, was ook vervul met die Heilige Gees, sodat hy kon profeteer (Luk.1:4). Daar is uiteraard nog talle ander voorbeelde uit beide die Ou-, sowel as die Nuwe Testament.
· Die tweede voorbeeld vind plaas ten einde iemand toe te rus en bekwaam te maak, sodat sy daaglikse wandel, in die krag en o.l.v. die Heilige Gees se krag kan geskied. In Hand.13:10-11 lees ons van Paulus wat gevul is met die Heilige Gees ten einde hom toe te rus met krag om ’n towenaar teen te staan en die uiteinde hiervan was dat Paulus vir hom gesê het ~ Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan! 11 Die Here gaan jou nou straf. Jy sal blind word en die son ’n tyd lank nie sien nie.” Onmiddellik het alles vir hom vaag en donker geword, en hy het rondgetas na iemand om hom aan die hand te lei.
· Derdens sien ons dat gelowiges gevul word om heilige lewens te lei – ons toestand / aard is dus een van heiligheid – of nie. Ons is nie altyd ewe heilig nie. Toe die Apostels, diakens gekies het, het hulle sewe manne gekies, waaronder Stefanus, ’n man wat vol van die Heilige Gees was, tesame met ander gelowige manne, wat impliseer dat hy meer gevul was met die Heilige Gees as die ander – Hand.6:5 ~ ...en hulle het Stefanus gekies, ’n man met ’n vaste geloof en vol van die Heilige Gees, en verder Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas, en Nikolaus wat van Antiogië afkomstig was en vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het. Hier was duidelik ’n man wat baie meer Geesvervuld was – dit was deel van sy karakter – deel van sy aard.

Dit is dan van hierdie lg. voorbeeld waarvan Paulus hier in Ef.5:18 praat, wanneer hy vir ons sê dat ons eerder vervul moet word met die Heilige Gees – ons moet werk daaraan en ons moet bid daarvoor. Ons as gelowiges wat gedoop is moet die Heilige Gees, se karakter en ons totale menswees moet getuig van die vervulling met die Heilige Gees. Ons lewe moet dus deurspek wees met die Vrug van die Gees, nl. liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23 nederigheid en selfbeheersing (Gal.5:22-23).

6. VIER HEILSAME EFFEKTE:
In verse 19 tot en met 21 noem Paulus vir ons vier heilsame effekte om gevul te wees met die Heilige Gees.
· Gemeenskap van die Heiliges - Vers 19a ~ ...sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere.

Wanneer gelowiges gevul is met die Heilige Gees, soek hulle mekaar se geselskap op en doen hulle dit op so ’n wyse waar God geloof, geprys en geëer word deur geestelike liedere. Wanneer ons dus byeen is, moet ons veel, veel meer maak van ons sang. Ons moet met oorgawe en in opregtheid sing; ons moet tot eer van God sing, maar ons moet ook vir mekaar sing. Wat lg. betref, is Ps.95 ’n baie goeie voorbeeld van ’n lied waar die gelowiges na mekaar gekyk het en die lied vir mekaar gesing het. In hierdie Psalm het die gelowiges vir mekaar opgeroep om tot eer van God te sing. Hulle het deur die sing van hierdie lied ook vir mekaar gesê hoe God geloof en geprys moet word, maar dit is ook ’n waarskuwing aan mekaar, oor die gevolge indien ons God nié loof en prys en aanbid nie.
· ’n Tweede heilsame effek daarvan om met die Gees vervul te wees, is Aanbidding – Vers 19b ~ ...sing met julle hele hart tot eer van die Here. Hier in vers 19 is die opdrag nou nie meer om vir mekaar te sing nie, maar tot God. Die uitdrukking, met julle hele hart, kan ook vertaal word met, “in julle harte”, soos in Kol.3:16 ~ Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. Die klem val dus hier, eerder op die opregtheid van jou lofprysing en aanbidding. Dit gaan dus nie in die eerste plek oor hoe jy sing nie (en of jy enigsins kán sing nie), maar wat in jou hart aangaan as jy God eer – jou gesindheid moet dus een van aanbidding wees. Aanbidding, moet ek egter onmiddellik byvoeg, is nie altyd net stoere, ernstige aanbidding en in hierdie geval sang nie, maar dit kan ook ’n vreugdevolle en selfs uitbundige gesing wees – Geesvervulde gelowiges se harte loop tog immers oor van vreugde en dankbaarheid vir wat God vir hulle gedoen het.
· Derdens sien ons in vers 20 dat Dankbaarheid nog ’n effek daarvan is om gevul te wees met die Heilige Gees ~ Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus. Dit is nie vreemd aan Paulus om gelowiges op te roep tot dankbaarheid nie, want Paulus het gereeld daaroor geskryf, juis omdat die Israeliete ’n volk was wat altyd ontevrede was en gekla het oor alles en ’n ontevrede gesindheid kan nie geassosieer word met ’n Geesvervulde gelowige nie. Gaan kyk maar net wat elke keer met die volk Israel gebeur het as hulle so gemurmureer het – As voorbeeld kan ons maar net kyk na Num.14:27-29 ~ Hoe lank sal hierdie bose vergadering aanhou dat hulle teen My murmureer? Ek het die murmureringe van die kinders van Israel gehoor waarmee hulle teen My bly murmureer. 28 Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die HERE, waarlik, soos julle voor my ore gespreek het, so sal Ek aan julle doen. 29 Julle lyke sal in hierdie woestyn lê, naamlik al julle geteldes, volgens julle volle getal, van twintig jaar oud en daarbo, julle wat teen My gemurmureer het.

Ons moet ook daarop let dat die woorde in vers 20, nl. altyd en alles, nie letterlik geneem kan word nie – ons kan tog nie altyd dankbaar wees oor álles nie. Hierdie is iets wat ’n mens gereeld onder sommige gelowiges hoor. ’n Gelowige vrou kan tog nie die Here heeltyd loof en prys oor haar ongelowige man se buite-egtelike verhouding nie. Of, ons kan die Here tog nie voortdurend dank vir, bv. die boosheid in hierdie wêreld nie. Hoe moet ons dit dan sien? Ons dankbaarheid moet gefokus wees op God en nie “alles” wat die slegte insluit nie – ja, ook vir die goeie alledaagse, maar primêr moet ons dankbaarheid gaan oor “alles” wat God uit genade aan ons skenk en vir ons doen. Wat die slegte aan betref, moet ons gesindheid dié van Rom.8:28 wees ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dáárvoor moet ons bid – dat God die slegte sal verander na die goeie, of dat die slegte ten goede sal uitwerk – soos wat Hy besluit! Wanneer ons so bid, dank ons God vir wie HY is – dit is nie om Hom te dank vir die slegte nie.

Wanneer ons as Geesvervuldes dan God voortdurend dank vir alles, moet ons dit binne die onmiddellike konteks sien, nl.: ...in die Naam van ons Here Jesus Christus. Ons dankbaarheid moet dus voortdurend in ooreenstemming wees met God se liefdevolle Vaderhart en moet ons dank aan Hom bring in die Naam van Jesus Christus.
· Laastens sê Paulus vir ons dat gelowiges wat Geesvervuld is, hulle moet Onderwerp – Vers 21 ~ Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Ons moet besef dat die Heilige Gees ’n nederige Gees is en elkeen wat met Hom gevul is, sal dieselfde nederige, sagsinnige en vriendelike geaardheid openbaar.

Ons het nie hier te doen met ’n bepaalde tegniek wat aangeleer moet word, of ’n aangeplakte en vals-vrome onderdanigheid nie. Nee, gelowiges wat waarlik gevul is met die Heilige Gees vind dit nie moeilik om aan mekaar te onderwerp nie.

7. TEN SLOTTE:
Ten slotte wil ek net weer terugkeer na v.18b wat sê dat ons moet toelaat dat die Gees ons sal vul:
· Eerstens is hierdie opdrag in die bevelsvorm. Ons moet dus toesien en werk maak daarvan dat ons vervul sal wees met die Gees. Om vervul te wees met die Gees is dus nie ’n opsie nie, maar ’n verpligting.
· Tweedens is hierdie opdrag in die meervoudsvorm geskryf. Dit is dus gerig tot al die gelowiges – hierdie seën, nl. om vervul te wees met die Gees is dus nie net vir sekere gelowiges bestem nie (bv. sendelinge). Nee, dit is vir alle gelowiges!
· Derdens het ons, soos reeds gesê, hier te doen met ’n bevel wat in passiewe vorm geskryf is – dit beteken dus dat ons ’n omkeer in ons lewe moet maak en doen wat Kol.3:16 vir ons sê ~ Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Ons kan nie die Woord van God en die Gees van mekaar skei nie – Om die Woord te gehoorsaam en ons aan die Gees te onderwerp en met Hom vervul te word, is dus identies dieselfde “ding”.
· Laastens is hierdie opdrag in die teenwoordige tyd geskryf. Ons kry in die Grieks twee soorte imperatiewe of opdragte, nl. die aoristusvorm wat op ’n eenmalige aksie dui – as voorbeeld kan ons Jesus se opdrag in Kana noem, toe Hy by die huwelik, die water in wyn verander het. Toe Hy gesê het dat hulle die kruike vol water moes maak, was dit ’n eenmalige opdrag – doen dit en dan is dit klaar. Imperatiewe word egter ook in die teenwoordige tyd geskryf, wat beteken dat die opdrag aanhoudend is – voortdurend – sonder ophou.

Wanneer Paulus dan sê dat ons gevul moet wees met die Heilige Gees, sê hy vir ons dat ons dit voortdurend moet doen – aanhoudend – sonder ophou. Ons is eens en vir altyd geseël deur die Heilige Gees (aoristusvorm), maar ons moet voortdurend gevul word met die Heilige Gees (teenwoordige tyd).

Paulus sê vir ons in 2Kor.6:2b ~ Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding. As ons die tyd dus wil uitkoop, moet ons dit nóú doen, want môre kan dalk te laat wees. As ons gevul wil word met die Heilige Gees, dan moet ons dit nóú doen.

Die Goeie Nuus is: Jesus Christus het vir ons die voorbeeld gestel en Hy is daar om ons te help om voortdurend gevul te wees met die Heilige Gees – Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee (O.A.V. - Fil.4:13).

Laat ons in wysheid optree en dieselfde sê as wat Jonathan Edwards gesê het, toe hy 20 jaar oud was: Resolved, never to loseoone moment of time, but to improve it in the most profitable way I possibly can.

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 07 Maart 2010