Monday, February 8, 2010

Bybelstudie deur Kobus van der Walt gehou op 07 Februarie 2010

Openbaring Ontsluit - 22 (Die Identiteit vn die Dier) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:
Voor ons kan aangaan met ’n vers-vir-vers verklaring van Openbaring, is daar nog enkele ander sake wat ons moet aanroer ter wille daarvan dat ons die res van Openbaring beter kan verstaan. Ons het dan reeds na die datering van Openbaring gekyk, waar ons gesien het dat dit wel voor 70 n.C. geskryf is. Daarna het ons na die Millennium gaan kyk en ons het gesien dat die Millennium reeds met die geboorte van Christus Jesus ’n aanvang geneem het en sal voortduur totdat Satan vir ’n kort tydjie vrygelaat sal word en daar sal Jesus terugkom. Ons het ook gesien dat Jesus se wederkoms gepaard sal gaan met die opstanding van die dooies en die oordeel van die goddeloses, die satan en die dood.

Vanaand en D.V. volgende keer, gaan ons kyk na die identiteit van die Dier en daarna belangrikheid van die Dier; sy nommer; aanbidding van die Dier; sy aard; die oorlog van die Dier, asook die herlewing van die Dier.

2. DIE BEES SE IDENTITEIT:
Dit is nodig dat ons die identiteit van die Bees of die Dier sal bekendmaak, sodat ons dit in gedagte kan hou terwyl ons na getuienis rondom dit kyk. Duisende mense verwag dat die Dier ook enige oomblik losgelaat gaan word op die aarde en daarom is daar allerlei praatjies oor die “merk van die Dier” (666) wat subtiel deur kredietkaarte en allerlei ander opspraakwekkende stories op ons afgedwing word, maar ons sal ook nog sien, dat die Dier lankal reeds losgelaat was op aarde. Wie of wat dan is hierdie Bees of Dier? Is dit die satan? Is dit die Antichris? Is dit ’n mens?

Ons lees in Openb.13:4b ~ Wie kan met die dier vergelyk word? En wie kan teen hom oorlog voer? Hierdie mens of wese, of wat hy ook al genoem word, moes iets verskrikliks gewees het.

Hy is op 15 Des. 37.n.C. in Antium in die Kanselaryhof van sy oom met die titel Keiser Caligula gebore. Sy name was Lucius Domitius Ahenobarbus. Klein Lucius is net nege maande na die dood van keiser Tiberius, onder wie Jesus gekruisig is, gebore. Klein Lucius se pa was Enaeus Domitius Ahenobarbus en hy het bekend gestaan as ’n gemene, wrede, gehate en veragtelike man. Hy sterf terwyl Lucius nog baie jonk was. Lucius het onderrig ontvang by van die mees vooraanstaande Griekse leermeesters en onder hulle leiding het hy ’n liefde vir musiek, poësie en sport ontwikkel.

Sy moeder was ’n ambisieuse vrou wat vol planne was en haar naam was Agrippina, of Agrippa in kort. Sy was die suster van die Romeinse keiser, Gaius, of beter bekend as Caligula. Na Caligula se dood, bestyg Agrippa se neef, genaamd Claudius die troon en word hy die hoof van die Romeinse Ryk. Na Claudius se vrou se dood, reël Agrippa dat Lucius met Claudius se dogter trou en kort daarna trou Agrippa met Claudius (direkte bloedfamilie dus!) en verseker sodoende dat Lucius deur aanneming, die keiser se seun word (25 Februarie, 50 n.C.). Vyf jaar later gee Agrippa vir haar man en keiser, Claudius, ’n bak giftige sampioene in en sterf hy en word Lucius op die jeugdige ouderdom van sewentien, keiser van die magtigste koninkryk op aarde (13 Oktober, 54n.C.). Hy staan voortaan bekend as Nero Caesar.

Die bynaam “Dier” het hierdie man in alle opsigte gepas. Hy was ’n perverse homoseksueel en ’n sodomiet en sy swak karakter was regdeur die Ryk bekend. Hy het op ’n stadium met ’n jong seun genaamd Sporus getrou, nadat hy die seun ontman en ’n vrou van hom probeer maak het.

Vir vermaak het Nero die kop met horings en vel van ’n bees aangetrek en gelowige mans en vrouens, wat naak voor hom gestaan het, met die horings deurboor. Hy laat sy eerste vrou, Octavia, vermoor – haar kop is na sy minnares, Poppaea gestuur, waarna hy met haar getroud is. Terwyl sy swanger was het hy in ’n oomblik van blinde woede, haar doodgeskop. Op 22 het hy geïrriteerd geraak met sy moeder se inmengery en hy laat haar vermoor. Sy het haar eie seun so verag, dat sy haar eie maag ontbloot het en die moordenaars gevra het om haar in die maag te steek – dieselfde maag waaruit Nero, 22 jaar vantevore gebore is.

Nero het die keiserlike skatte wat Claudius nagelaat het, uitgeput deur sy spandabelrige lewenstyl en selfverheffende bouprojekte. In die proses om geld in die hande te kry, het hy ryk adellikes valslik beskuldig van allerlei misdade ten einde hul eiendom te kon konfiskeer.

Soos reeds vermeld, was Nero ’n musiekliefhebber en hy het geglo dat hy een van die wêreld se grootste musikante, akteurs, strydwa-renjaers en sangers was. Wanneer hy gesing het, was niemand toegelaat om die teater of vertrek te verlaat nie, selfs nie vir die dringendste rede denkbaar nie. Dit word vertel dat hierdie reël so streng toegepas is, dat daar vrouens was wat selfs terwyl hy gesing het, in die teater gekraam het. Nero het selfs in 67-68 n.C. sy heerskappy opsy gestoot en vir twee jaar in Griekeland gaan sing.

Dit is alombekend en so aangeteken ook, dat Nero die eerste Keiser was wat oorlog teen die kerk verklaar het. En dit het alles gebeur, nadat hy ontevrede was met die paleise en geboue in Rome. Hy was van plan om die stad te herbou en dit na homself te vernoem, Neropolis. Hy het ’n sondebok nodig gehad om hierdie plan van hom deur te voer en sodoende het hy ’n bose plan gesmee. Nero het op ’n stadium die keiserlike aanbidding ingestel (later meer daaroor), maar die gelowiges in Rome het geweier om hom te aanbid en hulle was dus die logiese sondebok.

Op 18 Julie 64 n.C. het ’n brand in die Circus Maximus in Rome uitgebreek en dit is alom bekend dat Nero hierdie brand gestig het. Hierdie brand het vir nege dae voortgewoed en bykans tweederdes van die stad verwoes. Die Christene is valslik hiervan beskuldig en in hul massas gevange geneem en vel vervolg. Sommige gelowiges is in diervelle gedraai en vir honde gegooi om opgevreet te word. Andere weer is in pik gedoop en aan kruise vasgemaak en in die aande as menslike fakkels by Nero se tuinpartytjies gebruik. Nero het partytjie gehou terwyl Rome gebrand het en gelowiges met hul lewens geboet het. Nero het sodoende instrument in die hand van die satan geword om ’n wydverspreide vervolging van die kerk van stapel te stuur – (Die dier wat ek gesien het, het soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee – Openb.13:2).

As gevolg van Nero se lewenswyse – sy spandabelrigheid en wreedheid het daar gedurende die tyd wat hy in Griekeland gaan sing het, wydverspreide opstande in die Romeinse Ryk ontstaan. Hy het in ’n desperate poging van die opstande probeer onderdruk – sommige suksesvol, maar andere nie. Uiteindelik het die Senaat besluit om hom op ’n wrede en skaamtelose wyse, tereg te stel, waarop hy met die hulp van sy sekretaris (Epafroditos) op die ouderdom van 31 op 9 Junie 68 n.C. sy keel met ’n swaard afgesny het.

3. DIE WOORD EN NERO:
Daar is baie bewyse en Skrifplase wat direk dui op die identiteit van die Dier en dat dit wel Nero was. Kom ons kyk na enkele bewyse:
· Openb.1:1 ~ Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien. Johannes stel dit dus ondubbelsinnig dat die profesieë wat in Openbaring gegee word, binnekort tot vervulling sou kom. Daarom dat hy ook in Openb.1:3 (O.A.V.) sê ~ ...want die tyd is naby.

· Die Dier se Nommer: Volgens Johannes dui die naam van die Dier, nl. die getal 666, daarop dat dit ’n mens moes gewees het. Openb.13:18b ~ Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.

Ten einde vas te stel aan watter mens, hierdie getal behoort is dit belangrik dat ons net enkele feite onder die loep neem. In die antieke tale het die letters van die alfabet, dubbele betekenis gehad. Eerstens kon dit woorde en name spel, maar tweedens kon letters ook getalle verteenwoordig het. Lg. is amper soos wanneer ’n mens in geheime taal sou skryf en dan ook gebruik sou maak van syfers om bepaalde woorde in geheime kode te spel. As Johannes dan sê ~ Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer.... (Openb.13:8b), dan moet ons mos in staat wees om die Dier se naam uit te werk.

Omdat ons reeds na Nero gekyk het as kandidaat vir die titel, “Die Dier”, is dit baie interessant om te sien dat die naam Nero Caesar as volg gespel word: NRWN QSR. Die Hebreeuse waarde van hierdie letters is as volg:
N = 50
R = 200
W = 6
N = 50
Q = 100
S = 60
R = 200
Totaal 666

Wanneer ’n mens egter Nero (of enige iemand anders) wil koppel aan die getal “666”, is daar ’n paar dinge wat in gedagte gehou moet word:
- N.a.v. Openb.13:8b. Moet die “naamnommer 666”, dié van ’n man wees.
- Die naam sal moet pas by ’n boosaardige, goddelose, ens. man – Openb.13:5,7 ~ Die dier is toegelaat om verskriklike dinge te sê en te laster en om twee en veertig maande lank gesag uit te oefen.... 7 Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.
- N.a.v. Openb.13:2,7 moet hierdie man ook ’n politieke figuur wees wat oor geweldige gesag beskik – Openb.13:2,7 ~ Die dier wat ek gesien het, het soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee....7 Aan hom is daar ook mag gegee om teen die gelowiges oorlog te maak en hulle te oorwin; en daar is gesag aan hom gegee oor elke stam, volk, taal en nasie.
- Die naam moet van ’n man wees wat in Johannes se tyd geleef het (sien: “Openbaring Ontsluit # 20 - Postmillennialisme en die Datering van Openbaring”, deur dieselfde skrywer – Dit kan gevind word by: http://diewaarheidmaakvry.blogspot.com/).
- Die naam moet van iemand wees wat relevant was vir die eerste eeuse gelowiges en dan spesifiek diegene aan wie Johannes geskryf het.

Sonder om veel dieper in te gaan op allerlei ander ongegronde moontlikhede, sien ons dat Nero perfek aan bg. voorwaardes voldoen – en geen ander mens nie, want bo en behalwe al die voorwaardes hierbo genoem, pas Nero se naam perfek in die “naamnommer”, 666.

- Indien jy dalk ’n Bybel met kantlyn-aantekeninge gebruik, mag daar dalk in jou Bybel “616” staan en nie “666”. Weereens is daar baie lang redenasies t.o.v. hierdie verskil, maar uiteindelik blyk dit ’n doelbewuste en moedswillige verandering te wees en bly “666” steeds die korrekte interpretasie (vir volledige argument: Sien Kenneth Gentry (Jr.) se boek: "THE BEAST OF REVELATION", uitgegee deur American Vision, Powder Springs, Georgia, 2002. 246p. – sien spesifiek p.42-43. Sien gerus ook Gentry se hantering van besware teen Nero as die “666-man” in dieselfde boek, p.44-47). Nero is dus onteenseglik die Dier met die nommer “666”.

· Die Merk van die Dier: Ons lees in Openb.13:16 die volgende ~ Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra. Ons het al almal gehoor van die bedreiging van die “Merk van die Dier” en dat ons as gelowiges gedood gaan word, omdat ons gaan weier om die merk te dra. Ek kan nog onthou hoe daar in die begin jare van die Kredietkaart en later met die bekendstelling van die “Strepieskodes” allerlei berigte en boekies verskyn het om te verduidelik hoe dat hierdie “bose goeters” bewys is daarvan dat ons die laaste dae betree, want hierdie kredietkaarte en later die strepieskodes, is net die begin om ons sag te maak voor ons die merk ontvang.

Is hierdie “tekens” egter geregverdig? Het ons rede om te vrees? Het ons rede om te glo dat Jesus se koms op hande is?

Ek wil graag aan die hand van ’n kosbare boekie deur die skrywer Bob Emery (“An Evening in Ephesus”, uitgegee deur Bench Press Publishing, Charlottesville, VA. 1998. 125p.), u laat hoor hoe hy op verteltrant hierdie saak hanteer. Die volgende aanhaling kom uit Emery se boekie op p.84-85 en die verhaal speel af in ’n vertrek waar Johannes, die seun van Sebedeus aan ’n klompie mense die volgende vertel (verskoon die Engels): To explain the mark of the Beast, I’d like to go back to the letters in the revelation addressed to the seven churches. Let’s look at the Word of the Lord to the church in Philadelphia: The one who conquers, I will make him a pillar in the temple of my God. Never shall he go out of it, and I will write on him the name of my God, and the name of the city of my God, the new Jerusalem, which comes down from my God out of heaven, and my own new name (Openb.3:12). We have some brothers and sisters here tonight from the church in Philadelphia. I’d like to ask all of you a question: Have you ever met anyone or heard of anyone from the church in Philadelphia who had some kind of visible tattoo mysteriously written on their foreheads with the name of God and with the name of the city of God, New Jerusalem?

You haven’t? Well, I’m not surprised.

Do you also remember the 144 000, who were the firstfruits to God and the Lamb from among our Judean bretheren? I also described them as having His Name and the Name of His Father written on their foreheads.

I can tell you for certain that in all my days in the church at Jerusalem, and from everyone I’ve talked to, no-one has ever seen any believers in Christ walking around with the name of the Father and the Son stamped on their foreheads either.

Our God is One who writes with invisible ink!

I was reading one of our brother Paul’s letters to the church in Corinth. In it, he said that they were a letter, known and read by all men. He called them a letter of Christ...written not with ink, but with the Spirit of the living God, not on tablets of stone, but on tablets of human hearts.

Since no one has come forward as a witness that God literally wrote on the foreheads of those who were His own, why should anyone expect those who followed the beast to have his mark litterally branded on their foreheads?

The interpretation of the mark of the beast is simple. It’s symbolic and it speaks of ownership. Those who received the mark on their right hand, or on their forehead were those whose deeds and thoughts were influenced by the beast. In the same way, those who had the Lord’s name written on their foreheads were those who were single-minded in their devotion to Him.

And he provides that no one should be able to buy or sell, except the one who has the mark.... (Openb.13:17).

Those who had aligned themselves with the beast wanted nothing to do with the Christians. During Nero’s fierce persecution, many non-believers avoided the Christians because they didn’t want to be mistaken for one of them and suffer their same fate. This made it difficult for followers of Christ even to buy and sell in the marketplace.

Ons het dan nou die Dier geïdentifiseer en ons het ook na die “Merk van die Dier” gekyk, maar nou word ons verras met Openb.13:11 ~ Toe het ek ’n ander dier gesien wat uit die aarde uit kom. Hy het twee horings gehad soos ’n lam s’n, maar hy het soos ’n draak gepraat. Wie en wat is hierdie “ander dier”. Ons sal D.V. volgende keer kyk na hierdie “ander dier”, asook na die Oorlog of geveg waarin die Dier betrokke is en hoe dit ons as kerk van die Here Jesus Christus in ons dag raak.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 07 Februarie 2010

Sunday, February 7, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 07 Februarie 2010

Die Brief aan die Efesiërs – 14 (Doodskleed of Bruidskleed) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.4:25-32 ~ Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam. 26 As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. 27 Moenie die duiwel vatkans gee nie. 28 As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee. 29 Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. 30 En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. 31 Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32 Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

2. INLEIDING:
Die perikoop waarna ons vanoggend kyk, begin met die woord “noudat” en dit dui dus vir ons aan, dat die gedetailleerde opdragte wat nou hierop gaan volg, gegrond word en voortspruit uit die beginsels in verse 17-24, waarna ons ’n vorige keer gekyk het. Ons het gesien dat gelowiges ’n nuwe lewe moet leef, omdat hulle nuwe skepsele in Jesus Christus is en hierdie nuwe lewe wat hulle moet leef, moet hulle leef deur die ou mens neer te lê en die nuwe mens op te neem.

Ons het ook reeds gesien dat die gelowige se nuwe aard reeds by wedergeboorte aan hom geskenk word, in en deur Jesus Christus, maar hierdie lewe wat ontvang is, moet voortdurend aangehelp word om te groei, terwyl die ou mens afgesterf moet word – ons het dus hier te doen met, waarna ons die vorige keer in detail gekyk het, die “putting off” (“Lê af”) en en “putting on” (“Beklee met”) beginsel.

In verse 25 tot 32 vind ons 5 groepe sondes en dit word beskou as die doodskleed waarmee die “ou mens” beklee is en in kontras daarmee sien ons die bruidskleed van die nuwe mens – daardie deugde waarmee die nuwe mens beklee moet word.

3. LÊ VALSHEID AF NEEM DIE WAARHEID OP:
· In vers 25 kry ons ’n pragtige voorbeeld van die “putting off” en “putting on” beginsel – dit is dan ook die eerste sonde waarna Paulus verwys in hierdie perikoop, nl. “valsheid”. Die Griekse woord vir valsheid dui eintlik op “lieg” Paulus sê dus eintlik dat ons nie moet lieg, of leuens vertel nie. Johannes gebruik hierdie selfde woord in 1Joh.2:20-23 wanneer hy verwys na die gees van die Antichris. Die Efesiërs word hier aangespreek en Paulus sê vir hulle, noudat julle die vals godsdiens wat vol leuens is, neergelê het, moet julle in die waarheid leef soos wat die Evangelie waarin julle nou glo, die waarheid is. Dit is dan ook in ooreenstemming met Joh.14:6 waar Jesus sê ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe.

Met hierdie opdrag van Paulus het hy sekerlik ook die negende gebod (Eks.20:16) in gedagte gehad ~ Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie. Wat presies is vals getuienis of ’n leuen dan? Die leuen gee ’n valse voorstelling van ’n saak of persoon – iets of iemand word dus anders voorgestel of weergegee as wat dit werklik is.

Ons as gelowiges moet kies aan wie se kant ons staan: Aan Christus se kant Wie Waarheid is en soos Hy van Homself getuig in Joh14:6 ~ Ek is die waarheid. En daarmee saam die Woord van God, waarvan Johannes in Joh.17:17 sê ~ U woord is die waarheid. Of skaar ons, onsself by die vader van die leuen, nl. die satan (Joh.8:44)?

Reeds in die Paradys het die satan homself geopenbaar as ’n leuenaar toe hy die mens op listige wyse met leuens tot sonde verlei het (Gen.3:4-5) en daardie leuens het daartoe gelei dat die mens, soos Paulus dit stel, die waarheid van God vir die leuen verruil het, sodat elke skepsel geëer word in plek van die Skepper (Rom.1:25) – en die gevolg daarvan was ’n onoorbrugbare skeiding tussen God en die mens. Leuens of vals getuienis lei dus tot die dood.

Ons moet altyd onthou, dat Jesus Christus ’n duur prys betaal het om versoening tussen ons en God te bewerkstellig – in die proses het Hy ook versoening en vergifnis vir ons “leuen-sondes” gedoen – Christus het dus die leuen oorwin en die fondament van die herstelde ryk van waarheid gelê. Op Pinksterdag het Christus sy Heilige Gees, “die Gees van die Waarheid”, op Sy kerk uitgestort, sodat Hy ons kan lei op die weg van die waarheid – d.w.s. die weg van die Woord.

Ons moet die waarheid liefhê, want gruwelike misleiding en leuens sal gepaard gaan met die verskyning van die Antichris en as ons nie die waarheid lief het nie, sal ons swig voor die satan en sy magte en sal ons, in die woorde van 2Tes.2:9-12, geoordeel word ~ Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders 10 en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. 11 Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. 12 En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.

Kom ons kyk net kortliks na enkele voorbeelde van leuens:
- Opsetlike leuens (“skadeleuens”). Dit is leuens wat vertel word om iemand anders te benadeel of om self te probeer ontsnap van die gevolge van jou eie verkeerde dade (projeksie).
- ’n Tweede tipe leuen word “skertsleuens” genoem. Dit is wanneer iemand ’n onwaarheid byvoeg by die waarheid, ten einde dit meer kleur te gee. Hoor wat sê Spr.26:18-19 ~ Soos ’n mal mens wat dodelike pyle rondskiet, 19 so is iemand wat ’n ander bedrieg en sê: “Ek speel sommer.”
- “Hoflikheidsleuens” is nog ’n tipe leuen en dit is wanneer jy bv. ’n brief sou begin met “Geagte So-en so” en die brief afsluit met die woorde “Hoogagtend die uwe”, terwyl jy geen agting en respek vir die persoon het nie. Of selfs wanneer ’n gasvrou ’n tweede of derde porsie aanbied en jy dit ordentlikheidshalwe van die hand wys, net om nie ’n slegte indruk te skep nie – al is jy regtig lus vir nog ’n porsie. Hierdie hoflikheid kan nie sondermeer as gekamoefleerde leuens bestempel word nie, want God eis immers ook selfbeheersing van ons (Spr.16:32; 25:28; Gal.5:22) en dit beteken dat ’n mens nie sonder meer aan jou innerlike begeertes, drange en emosies uiting mag gee nie – sê dan liewer vir die gasvrou dat die kos heerlik was en dat jy graag nog ’n porsie sou wou neem, maar ...... en gee ’n eerlike rede waarom jy nie nog ’n porsie neem nie – of – neem nog ’n porsie – hou egter net altyd, bv. Gal.5:22 in gedagte ~ Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23 nederigheid en (dan spesifiek) selfbeheersing. En wanneer jy dan ’n tweede porsie van die hand wys, laat Gal.5:22 dan eerder jou motivering wees en kommunikeer dit dan ook aan die gasvrou as rede waarom jy nie nog eet nie.
- Die “noodleuen” is nog ’n tipe leuen wat baie algemeen voorkom en wat baie mense nie sien as ’n leuen nie – dit is ’n leuen wat in ’n noodsituasie vertel word, ten einde ’n euwel of misdaad, ens. te voorkom. Ons het verskeie voorbeelde van noodleuens in die Woord, bv. Isak wat ontken het dat Rebekka sy vrou is (Gen.26:7) en ons weet wat die gevolg daarvan was.
- Die “verdraaiing van woorde”. Dit gebeur wanneer die woorde van iemand, anders oorvertel word as wat hy dit werklik gesê het. Dit gebeur wanneer iets bygevoeg word, of weggelaat word. Daarom is dit so gevaarlik om deel te neem aan skinderpraatjies, want bo en behalwe die feit dat skinder sonde is, word daar gewoonlik stertjies bygelas by skinderstories – so iemand lieg dus ook nog daarby.
- “Kwaadspreek” (laster). Dit gebeur wanneer daar lelike en slegte dinge van iemand (veral in sy afwesigheid) gesê word. Dit word ook “skinder” genoem. Hierdie is ’n baie ernstige sonde en word baie sterk veroordeel deur die Skrif (Jak.3:5-10). Kwaadsprekery kan baie dikwels die volle waarheid wees, maar waarhede behoort nie oorvertel te word wanneer die persoon onder bespreking, daardeur benadeel of in ’n swak lig gestel word nie. Waarhede wat met verkeerde gesindhede vertel word, kan verwoestende gevolge inhou. ’n Goeie voorbeeld uit die Skrif van die waarheid wat vertel is met ’n verkeerde gesindheid tref ons in 1Sam.22:9-10 aan. Doëg het aan Saul vertel dat Agimelek aan Dawid, padkos en die swaard van Goliat gegee het. Dit was inderdaad die waarheid, maar die gevolg was dat 85 priesters op bevel van Saul vermoor is. As Doëg geswyg het, sou hulle menslik gesproke nie gesterf het nie. Al het hy die waarheid vertel, het hy dermate in die oë van die Here oortree, dat hy op gelyke vlak as leuenaars geplaas word, want Dawid sê van hom ~ Jy wil ander se ondergang bewerk, met jou vlymskerp tong pleeg jy bedrog. 5 Jy het die kwaad liewer as die goeie, en die leuen liewer as die waarheid. Sela 6 Jy saai graag verwarring met jou leuens! (Ps.52:4-6).
- Wanneer ons ’n oordeel uitspreek oor ’n persoon se woorde en dade, sonder dat vasgestel word of hy gesê of gedoen het waarvan hy verdink word, of wat die rede was waarom hy so gesê of gedoen het, is om iemand onverhoord te oordeel, wat dus ’n valse oordeel tot gevolg kan hê en is dit dus niks anders as vals getuienis nie – leuens dus. So het Eli byvoorbeeld vir Hanna van dronkenskap beskuldig, sonder om seker te maak of sy werklik dronk was (1Sam.1:13-16). Dawid weer, spreek ’n oordeel oor Mefiboset uit, op grond van Siba se kwaadsprekery en laster sonder om eers te probeer vasstel wat werklik gebeur het (1Sam.16:3-4; 19:24-30 – sien ook Job 11:13-20; 12:1-6).
- Nog ’n vorm van leuens, is onopregtheid, of valsheid. Dit is wanneer jy jouself anders voordoen teenoor mense as wat jy werklik is. Dit het tot gevolg dat mense ’n ander opinie van jou vorm as wat hulle behoort te doen. Die Skrifgeleerdes en Fariseërs was sulke bedrieërs (Matt.23). In hierdie geval lieg jy nie met woorde nie, maar deur dade. Jy leef dus ’n leuen.

U sou dalk vra waarom ek so baie aandag aan hierdie saak skenk, maar ek dink regtig dat hierdie ’n faset van so baie gelowiges is waar hulle sondig – miskien nie met opsetlike leuens nie, maar hierdie ander leuens waarna ons gekyk het, is aan die orde van die dag.

Wat staan ons as gelowiges te doen? Die negende gebod verbied leuens, maar ons moet eerder die positiewe in hierdie gebod raaksien en dit is presies wat Jesus ons kom leer het, nl. dat ons, ons naaste moet lief hê. Luister maar net weer na die woorde van Paulus in ons openingsvers van ons Skriflesing ~ Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat. Ons moet dus die Waarheid en ons naaste lief hê en dan sal hierdie liefde ons dwing om die waarheid te praat – indien nie, kan daar ’n ernstige vraagteken geplaas word oor jou liefde vir Christus, Sy Woord en jou liefde vir jou naaste.

Ons moet die waarheid liefhê; ons moet te alle tye die waarheid praat; ons moet ons naaste se eer en goeie naam beskerm en ons moet hou by ons beloftes – ons moet die waarheid dus lééf!

· Ons lees in verse 26-27 ~ As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. 27 Moenie die duiwel vatkans gee nie. Paulus se tweede voorbeeld van sonde het nie ’n eksplisiete positiewe kant nie, maar ons kan dit waarskynlik sien as beheersde of heilige woede, teenoor onbeheersde, selfsugtige of sondige woede. Die rede hiervoor is dat woede insigself, nie sonde is nie. Daar is talle Skrifverwysings in veral die Ou Testament wat verwys na God se woede jeens die bose en selfs teen Sy eie mense wanneer hulle volhard in ongehoorsaamheid. Jesus was by verskeie geleenthede kwaad (Bv.: Die geldwisselaars by die Tempel – Matt.21:12-13; Jesus was kwaad oor die Fariseërs se ongeloof – Mark.3:5). Selfs ons kan “heilige woede” ervaar en dit is die rede waarom Paulus hierdie verse begin met ’n aanhaling uit Ps.4:5, nl., ...As jy ontsteld raak, moenie sondig nie. Hier is dus ’n verskil tussen, aan die een kant, “heilige woede” en aan die anderkant, sondige woede.

Die implikasie hiervan is natuurlik dat ons kwaad sal word, wanneer die omstandighede dit vereis, soos bv. in situasies waar ernstige ongeregtigheid gepleeg word. Daarteenoor, is dit egter sondig om op die verkeerde tyd oor die verkeerde dinge, kwaad te word en dit is presies hier waar sommige gelowiges oortree en sondig.

Nog iets wat Paulus sê, is dat wanneer ons kwaad is, ons dit vinnig moet hanteer – nog voor die son sak, want, soos Paulus sê, ons moet nie die satan ’n vatkans gee nie.

Hiermee saam wil ek sê dat ons as gelowiges baie dikwels, “sondig verdraagsaam” is teenoor sonde en ongeregtigheid, maar Paulus sê dat die voorwaarde wanneer ons “heilige woede” ervaar, dit steeds beheersde woede sal wees en dat ons nie in die proses sal sondig nie. Jakobus sê presies dieselfde in Jak.1:19.

· Die derde sonde wat Paulus noem, is diefstal (v.28). Hy sê dat ons diefstal moet neerlê en in plaas daarvan, werk vir ’n lewe. Hierdie is natuurlik in direkte ooreenstemming met die agste gebod wat presies dieselfde sê.

Net kortliks: Daar is baie maniere waarop ons kan steel. Ons steel bv. van God se heerlikheid en eer wanneer ons Hom nie aanbid soos wat ons moet nie. Ons steel wanneer óns belange voorkeur geniet voor God se belange. Ons steel van ’n werkgewer wanneer ons nie ons beste werk lewer nie, of wanneer ons, ons werk nie met die regte gesindheid doen nie – Ef.6:5-6 ~ Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met ’n opregte hart, asof dit vir Christus is. Ons moet dus ons werk doen asof ons dit vir die Here doen.

As ons ’n besigheid bedryf en ons vra veel meer as wat aanvaarbar is en wat ons voor die Here uitgemaak het as aanvaarbaar, is ons besig om te steel. Of wanneer ons ’n minderwaardige produk verkoop, is ons besig om te steel. Ons steel wanneer ons iemand anders se reputasie skend. Ons steel van onsself as ons nie van geleenthede gebruik maak wat oor ons pad kom nie. Ons steel wanneer ons nie ons talente of hulpbronne wat God aan ons toevertrou het, optimaal aanwend nie.

· In die vierde plek sê Paulus dat ons vuil taal moet neerlê (v.29). Ongelukkig is die uitdrukking “vuil taal” dalk nie so ’n goeie vertaling nie. In Engels word dit “corrupting talk” genoem, wat nader aan die oorspronklike Grieks is. Die Griekse woord is "sapros" en dui op iets wat vrot, of waardeloos, of walglik is. Ons het dus hier te doen met taalgebruik wat ander mens besoedel (en uiteraard jouself ook). Natuurlik sluit hierdie wyse van praat ook “vuil taal” in en ook bv. vulgêre taal (om onder die “belt” te wees). Paulus sê dat ons sulke taalgebruik of gesprekke moet neerlê en net sal praat wat opbouend van aard is – wat andere sal stig en seën. Wanneer ’n mens hierdie feite in gedagte hou, is dit nie moeilik om die ooreenkoms tussen Paulus se woorde hier en dié van Jakobus in Jak.3:5-6 te sien nie. Jakobus sê ~ So is die tong ook maar ’n klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. 6 Die tong is ook ’n vuur, ’n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. As ons kyk na watter impak Hitler se toesprake op die wêreldgeskiedenis gehad het, kan ons nie hierdie opdrag van Paulus en die vergelyking van Jakobus gering ag nie. Daarteenoor moet ons kyk na watter geweldige seën Jesus se woorde op die mensdom het en dan besef ons gou, dat ons “vuil taal” moet neerlê en net praat wat opbouend is.

Ons moet leer om te onderskei tussen wat opbouend en afbrekende taalgebruik is en ons moet God se hulp vra om ons bose tonge in toom te hou. En hoe moet dit gebeur? Deur te vra en toe te laat dat die Heilige Gees ons verstand gevange sal neem tot gehoorsaamheid aan Christus (2Kor.10:5b).

Paulus sê in v.30 ~ En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. Hierdie vers is ’n direkte verwysing na Ef.1:13b waar daar staan ~ In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Wat Paulus dus hier vir ons wil sê, is dat die Heilige Gees wat in ons woon, die bewys of die seël is dat ons aan Christus behoort, maar wanneer ons “taalgebruik” nie in ooreenstemming is met dit wat God van ons verwag nie, bedroef ons die Heilige Gees. Waarskynlik het Paulus hier die profeet Jesaja se woorde in Jes.63:10 in gedagte gehad ~ Maar hulle het in opstand gekom en het sy Heilige Gees bedroef, daarom het die Here vir hulle ’n vyand geword en het Hy self teen hulle geveg. Paulus sê dus dat ons uiters versigtig moet wees en nié toelaat dat ons tong, ons ’n vyand van God maak nie.
· Laastens sê Paulus in v.31 ~ Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Die woordorde wat Paulus hier gebruik is baie interessant, want hy begin deur te verwys na sonde van die hart, nl. bitterheid, woede en toornigheid (O.A.V.). Wat hy dus sê is dat ons baie versigtig moet wees dat ons nie hierdie “innerlike sonde” moet koester nie, want uiteindelik manifesteer dit in “uiterlike sonde”, soos vloek en skel en allerlei dinge wat sleg is, of soos die O.A.V. dit stel, ’n geskreeu en laster en boosheid. Hierdie sonde is die tipiese sonde wat mense uitmekaar dryf en verhoudings verbreek.

In plaas hiervan sê Paulus, moet ons goedgesind en hartlik teenoor mekaar (wees), en mekaar (vergewe) soos God (ons) ook in Christus vergewe het (v.32). Ons moet dus in ons optrede en spreke – ja ons ganse lewe, soos Christus optree – Ons moet in Sy voetspore volg! Kol.3:1-17 som dit vir ons pragtig op ~ Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2 Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3 want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4 Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel. 5 Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6 Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7 Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8 Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, 9 en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10 en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11 Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. 12 Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13 Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14 Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15 En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16 Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17 En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Christus het vir ons die volmaakte voorbeeld gestel om na te volg en ons vind hierdie voorbeeld in die Woord van God opgeteken. Hoe kry ek dit alles reg? Jos.1:8 verskaf aan ons die antwoord ~ Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees. Laat ons Sy Woord daarom gereeld bestudeer en waarlik lééf wat daarin staan – Lê daarom die valsheid af en beklee jouself met die waarheid.

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 07 Februarie 2010

Tuesday, February 2, 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 31 Januarie 2010

Van Paasfees tot Nagmaal [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Matt.26:17-30 ~ Op die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood kom die dissipels na Jesus toe en vra: “Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?” 18 Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’” 19 Die dissipels het gemaak soos Jesus aan hulle opgedra het, en die paasmaaltyd voorberei. 20 Toe dit aand geword het, het Jesus sy plek aan die tafel ingeneem saam met die twaalf. 21 Terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit verseker Ek julle: Een van julle sal My verraai.” 22 Hulle was baie onthuts en een na die ander het Hom begin vra: “Dit is tog nie ek nie, Here?” 23 Hy antwoord toe: “Die een wat saam met My sy brood in die skottel insteek, dit is hy wat My sal verraai. 24 Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan; maar wee die man deur wie die Seun van die mens verraai word. Dit sou vir daardie man beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” 25 Toe sê Judas, sy verraaier: “Is dit miskien ek, Rabbi?” Jesus antwoord: “Dit is soos jy sê!” 26 En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” 27 Toe neem Hy ’n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28 want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. 29 Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.” 30 Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

2. INLEIDING EN AGTERGROND:
Hierdie gebeure wat ons so pas saam gelees het, het gedurende die Paastyd in Israel afgespeel. Tot en met die Woensdag voor die Paasfees, was daar nog geen planne gemaak oor hoe en waar en presies wanneer Jesus en Sy dissipels die Pasga of Paasmaal, gaan vier nie. Dan sien ons in vers 17, dat die dissipels op die eerste dag van die Paasfees (dit is die Donderdag), vir Jesus kom vra ~ Waar wil U hê moet ons gaan regmaak vir U om die paasmaaltyd te eet?

As ons na Luk.22:8 kyk, sal ons sien dat net Petrus en Johannes in opdrag van Jesus, Jerusalem binnegegaan het om die nodige voorbereidings te tref. Mark 14:13 beskryf aan ons op watter wyse hierdie twee dissipels die man sal vind in wie se huis die Pasga gevier sal word en Matt.26:18 gee aan ons die aanduiding dat hierdie man ook ’n volgeling van Jesus was ~ Jesus het geantwoord: “Gaan in die stad na so en so toe en sê vir hom: ‘Ons Leermeester sê: My tyd is naby. In jou huis wil Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd hou.’” Dit is waarskynlik net ’n volgeling van Jesus wat sou weet wat die uitdrukking “My tyd is naby” beteken. Die rede waarom Jesus nie hierdie man se naam genoem het nie, was waarskynlik om Judas te verhoed om die lede van die Sanhedrin in te lig waar Jesus en Sy dissipels was, sodat hulle Hom daar gevange kon neem.

Jesus maak in v.21 die aankondiging dat een van Sy dissipels Hom sou verraai. Die dissipels was ontsteld hieroor en vra een na die ander aan Jesus, ...dit is tog nie ek nie, Here? In vers 13 sê Jesus wie die een is wat Hom sou verraai, maar wat baie interessant is, is dat wanneer ons na Joh.13:23-26 kyk, wil dit voorkom asof hierdie mededeling van wie die verraaier was, in ’n een-tot-een gesprek met Johannes en nét vir Johannes gesê is ~ Die dissipel vir wie Jesus baie lief was (dit was Johannes), het net langs Hom aan tafel gesit. 24 Simon Petrus beduie toe vir hom dat hy moet vra wie dit is wat Jesus bedoel. 25 Hy leun toe oor na Jesus se kant en vra vir Hom: “Here, wie is dit?” 26 Jesus het geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek ’n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.” Hy vat toe ’n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot. Toe Judas die brood by Jesus vat, het hy dieselfde vraag as al die ander dissipels gevra, waarop Jesus vir hom gesê het ~ ...Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” (v.27). ’n Verdere aanduiding dat Jesus dit net vir Johannes gesê het, vind ons in vers 27 ~ Niemand van die ander wat aan tafel was, het geweet waarom Hy dit vir hom (Judas) gesê het nie. Judas het volgens Joh.13:27-30, homself hierna, vinnig uit die voete gemaak en in die donker nag verdwyn. En dan staan die volgende woorde daar ~ Omdat Judas die beursie gehad het, het party van hulle gedink dat Jesus vir hom sê: “Gaan koop wat ons vir die Paasfees nodig het,” of dat hy iets vir die armes moes gaan gee.

3. DIE PAASMAAL:
Gedurende die Paasmaaltyd wat Jesus en Sy dissipels geniet het, het Jesus, terwyl almal gesit het, brood geneem en die seën gevra, ...dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam” (v.26).

Ten einde te verstaan wat hier gebeur het, moet ons in gedagte hou dat Jesus en Sy dissipels besig was om die Pasga te vier en daarom moet ons net eers gaan kyk na wat die Pasga behels het en dan kan ons die lyne deurtrek na die Nagmaal wat Jesus hier ingestel het.

God het agt feeste vir Sy volk Israel ingestel wat hulle moes onderhou. Daar was sewe feeste wat jaarliks gehou moes word en het o.a. ingesluit, die Fees van die Ongesuurde Brode; Die Fees van die Eerste Vrugte; Die Fees van die Weke; Die Fees van die Trompette; Die Groot Versoendag en die Fees van die Tabernakels en dan die heel belangrikste, die “pasah”, of te wel die Pasga of die Paasfees, wat letterlik beteken “om verby te gaan”, of om te “bewaar”, of om te “spaar”. Dan was daar een fees wat weekliks nagekom moes word, nl. die Sabbat.

Die Pasga of die Paasfees is op die veertiende dag van die eerste maand – die maand Abib gehou (Deut.16:1). Dit was ’n groot en baie belangrike fees, want dit het die Israeliete se verlossing en bevryding uit Egipte na vierhonderd jaar se onderdrukking en slawerny gedenk.

Ons vind ’n duidelike uiteensetting van hoe die Pasga gevier moes word, in o.a. Eks.12. Gedurende die eerste eeu (in Jesus se tyd dus) is die Paasfees met die uitsondering van ’n paar bykomende gebruike en instellings, bykans net soos in die Ou Testamentiese tyd gevier.

· Die “Kiddush”: Tyd laat ons ongelukkig nie vandag toe om in detail op al die gebruike en volgorde ens. in te gaan nie, maar ek noem enkeles. Die seremonie het begin met die gasheer wat die “kiddush” (’n gebed) opgesê het, terwyl hy die eerste beker wyn vashou.

· Die Eerste Handwassing: Hierna het ’n seremoniële “handewas-plegtigheid” plaasgevind, deur die gasheer. Direk hierna het die slawe die kos ingebring, waaronder die lamsvleis, asook bitter kruie wat in ’n oplossing van soutwater of asyn gedoop was. Hierna is al die kos weer uit die vertrek verwyder (insluitende die onaangeraakte vleis) en is ’n tweede beker wyn geskink. Niemand het egter aanvanklik hiervan gedrink nie.

Die jongste seun van die gasheer vra nou vir die Pa wat so anders is aan hierdie aandete as al die ander, waarop die gasheer, of die pa dan vir almal aan tafel vertel het van die opdrag wat God gegee het om die Paasfees te vier en die betekenis daarvan, asook ’n opsomming van die Israelitiese volk se geskiedenis. Hierdie gebruik was gegrond op o.a. Eks.10:2 ~ Dan kan jy aan jou kinders en kleinkinders vertel wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het en watter wonders Ek onder hulle verrig het om julle te laat besef dat Ek die Here is. Eks.12:26-27 ~ As julle kinders sou vra: ‘Wat beteken hierdie verpligting?’ 27 moet julle sê: Dit is ’n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.” Toe het die volk in aanbidding gebuig (sien ook Eks.13:8).

Na hierdie vertelling is die kos weer ingedra, waarop die Pa die betekenis van die lamsvleis, die ongesuurde brood en die bitterkruie verduidelik het. Almal sing dan die woorde van Psalm 113 en 114 saam. En nou is die tweede beker wyn gedrink. Vir ’n tweede keer word daar hande gewas uit respek vir die ongesuurde brood wat hulle aanstons sou eet. Die gasheer het die een ongesuurde brood (plat en gewoonlik rond) gebreek en die seën daaroor uitgespreek. Daar was twee seënbedes – die een was ’n gebed van danksegging teenoor die Here dat Hy die brood vanuit die aarde voortgebring het. En tweedens was dit ’n dankgebed vir die opdrag om die ongesuurde brood te eet. Tradisioneel is hierdie brood gebreek ten einde die armes daardeur te gedenk wat net gebreekte stukkies brood het om te eet.

· Die Gebreekte Brood: Die Pa het nou hierdie gebreekte ongesuurde brood in die bitter mengsel gedoop, asook in ’n mengsel (die “charoseth”) wat bestaan het uit soet appels en neute. Hierop het hy dit aangegee om geëet te word. Hierna is die Paaslam geëet. Na hierdie ete is die hande vir ’n derde keer gewas waarna hulle ’n derde beker wyn geskink het wat hulle later sou drink.

· Seënbede na die ete: Na die ete is seënbedes deur almal opgesê.

· Seënbede oor die derde beker wyn: Die derde beker wyn is nou gedrink en die tweede gedeelte van die Hallel is opgesê (’n Seënbede – Ps.115-118), terwyl ’n vierde beker wyn geskink en gedrink word. Hierdie was rooiwyn wat gemeng was met louwarm water wat gedui het op die Paaslam se vars warm bloed wat gevloei het.

· Afsluiting: Die Paasmaal het nou tot ’n einde gekom met die sing van ’n lied waarin God verheerlik is.

4. REDDING DEUR BLOED:
Ons sien dus dat die Paasmaal ’n groot gebeurtenis op die Joodse kalender is en dat dit ’n jaarlikse feesmaal is wat gehou word om die Israeliete se bevryding en verlossing uit Egipte te gedenk.

Wanneer ons net vlugtig weer kyk na God se opdrag in Deut.16:6, nl. ~ Jy mag dit net bring in die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te laat woon. Daar moet jy die paasoffer bring in die aand, teen sononder, want julle het in die aand uit Egipte uit weggetrek, en ons vergelyk dit met 1Kor.5:7-8, nl. ~ Verwyder dan die ou suurdeeg, sodat julle nuwe, ongesuurde deeg kan wees, en dit is julle ook werklik. Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus. 8 Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid, bestaan daar geen twyfel by ons wat die Gees van God se geïnspireerde motief was met die skryf van hierdie Nuwe Testamentiese verse nie. Christus ís voorwaar ons Paaslam!

Die Ou Testamentiese Paaslam was dus ’n tipe Christus, want elke keer dat die Israeliete die Paasfees gevier het, het die Paaslam vooruit gewys na Hom wat sou kom – die Lam van God, deur Wie se soendood, sonde afgeskryf sou word vir almal wat in Hom glo.

Terwyl Israel as slawe in Egipte was en Hy beloof het om hulle te bevry, het God op ’n stadium in Sy soewereine plan besluit om die hardnekkige Farao finaal van besluit te laat verander, deur aan te kondig dat al die eersgeborenes in Egipte sou sterf – die doodsengel sou ook die Israeliete besoek, indien hulle nie ’n bepaalde teken aan die sykante en die bokant van hul deurkosyne gehad het nie, nl. die bloed van ’n jaaroud skaap- of bokrammetjie wat, sonder liggaamsgebrek was (Eks.12:5). Hierdie lam moes dus sterf, sodat die Israeliete kon leef.

Die lot en straf wat Israel moes tref, het ’n onskuldige lam dus getref. Die bloed wat met ’n hissoptak teen die deurkosyne aangebring is het die redding van die Israeliete verseker. Die bloed van die lam was dus die basis vir ’n nuwe verhouding tussen God en Sy volk en het die begin van Israel as volk van God, se geskiedenis ingelui. ’n Nuwe begin; ’n Nuwe Volk, afgesonder vir God – dit is waarom die Here vir Moses in Eks.12:2 gesê het ~ Hierdie maand is vir julle die belangrikste maand; dit moet die eerste maand van die jaar word.

Israel het hul vertroue in die bloed van ’n jaaroud lam geplaas vir redding en verlossing – net so moet ons, ons vertroue in die Bloed van die Lam, Jesus Christus plaas vir redding en verlossing. Vóór die bloed van die jaaroud lam sonder gebrek, was die Israeliete slawe in Egipte en ná die bloed van die jaaroud lam, was hulle vry en volk van God. Presies dieselfde met ons onder die nuwe verbond: Vóór die bloed van die volmaakte Lam van God, aan die kruis op Golgota gestort is, was ons slawe van hierdie wêreld, maar ná Jesus se bloed aan die kruis gestort is, is ons vry en verlos en kinders van God.

Uit die geskiedenis weet ons dat God woord gehou het en die Israeliete, ’n ieder en ’n elk, uit Egipte gered het – net so hou Hy woord en sal Hy elkeen wat in Christus glo, verlos en red.

5. DIE ANDER ELEMENTE:
Ons kan dus duidelik die betekenis van die Paaslam sien en hoe dit na Jesus Christus wys, maar die ander elemente wat betrokke was by die Paasfees van die Joodse volk, is net so ryk aan betekenis en wys ook vir ons heen na die Nagmaal wat Jesus ons beveel om so gereeld moontlik te vier.

Petrus en Johannes het die plek gaan voorberei waar Jesus vir ou laas saam met die dissipels sou eet, voor Hy die volgende dag gekruisig sou word en tydens hierdie ete wys Jesus aan Sy dissipels, die volle betekenis en simboliek van die Paasmaaltyd en volg Hy die presiese volgorde van die antieke Paasmaal – kom ons volg dit aan die hand van die Nuwe Testament:
· Eerstens was daar die “kiddush” (die gebed wat opgesê was) en die eerste beker wyn – Luk.22:17-18 ~ Daarna neem Hy ’n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. 18 Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.”

· Die Eerste “Handwassing” – Joh.13:4-5 ~ Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ’n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. 5 Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het. Met die was van die gasheer se hande het hy homself afgesonder van die res van die geselskap en dit dui daarop dat hy die belangrikste persoon aan die etenstafel is. Deur die dissipels se voete te was, het Jesus opgetree as ’n slaaf en hierdie deel van die Paasfees-ritueel gebruik om aan Sy dissipels, die belangrike les van self-neerlegging en liefde te leer. Hy het aan hulle geleer dat dit nie die seremoniële ritueel is wat belangrik is nie, maar die wedergeboorte, wat op grond van liefde en geloof geskied.

· Die Gebreekte Brood – Joh.13:26, 27b en 30a ~ Jesus het geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek ’n stukkie brood wat Ek in die sous ingesteek het, sal gee.” Hy vat toe ’n stukkie brood, steek dit in die sous en gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot. Vers 27b ~ Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” En vers 30a ~ Nadat Judas dan die stukkie brood gevat het, het hy dadelik uitgegaan. Dit was tydens hierdie fase van die Pasga dat Jesus vir Judas uitgewys het as die bedrieër en Judas homself afgesny en uitgesluit het van die gemeenskap van die dissipels. Die brood wat Jesus hier geneem het was nie die brood waarna Hy verwys het in Matt.26:26b toe Hy gesê het ~ dit is My liggaam nie. Dit het eers later gekom.

· Die Seënbede ná die Ete – 1Kor.11:23-24 ~ Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem 24en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis. Dit wat Jesus hier gedoen het, was ’n afwyking van die gewone, want na die ete is daar nie weer iets geëet nie en hier neem Jesus weer ’n stukkie brood. Ook was dít wat Hy gesê het, om die minste te sê, skokkend. Maar Jesus het met hierdie optrede, die nuwe herdenkingsmaal ingestel. Hy het aan Sy dissipels, op ’n verborge wyse, geleer dat die gewone paaslam, na Sy kruisdood nie meer dieselfde betekenis sou hê as vantevore nie, want die paaslam was slegs ’n herdenking van ’n fisiese en historiese verlossing, maar dit was slegs ’n skaduwee van wat die uiteindelike verlossing sal beteken, wanneer Hý, die hemelse Paaslam aan die kruis gesterf het. Hy het dus op die punt gestaan om ’n beter en volmaakte offer te bring – ’n offer wat nooit weer nodig sou wees om herhaal te word nie – geestelike verlossing! Dit word vir ons bevestig in Hebr.9:14-15 ~ Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. 15 Daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. Jesus het dus hiermee vir Sy dissipels gesê, dat Hý voortaan die Paaslam sou wees, maar wat net eenmaal geoffer sou word en dit sou die volgende dag gewees het. Jerusalem en die Tempel sou nie lank hierna verwoes word (minder as 40 jaar later in 70 n.C.), sodat die Ou Verbond en daarmee saam die Ou Testamentiese gebruik van ’n Hoë Priester wat versoening vir die volk se sonde doen, verwoes kon word – net Jesus Christus, die Nuwe Verbond se Paaslam het eens en vir altyd “klaar gespeel met die sonde”.

· Die Seënbede oor die Derde Beker – 1Kor.11:25 ~ Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” Jesus het met hierdie derde beker in die woorde van Joh.14:6, vir Sy dissipels gesê ~ Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. Hiermee het Hy in effek vir hulle gesê, Ek is die ware Paaslam wat in julle plek geoffer gaan word en hierdie warm rooiwyn wat julle vanaand drink, is ’n simbool van vreugde en moet julle herinner aan My Bloed wat vir julle gestort word ten einde versoening vir julle te bewerk.

Net t.w.v. duidelikheid – Ons lees in hierdie weergawe van die instelling van die Nagmaal, slegs van twee bekers wyn – die eerste en die derde, maar volgens die Joodse tradisie was hierdie twee bekers die belangrikste en die derde beker was die heel belangrikste van die vier en die naam vir hierdie derde beker was “die Beker van Seën” of “die Beker van Verlossing”, omdat dit die bloed van die Paaslam verteenwoordig het. En daarom was dit juis gepas dat Jesus met hierdie derde beker die Nuwe Verbond ingelui het (Matt.26:28 – sien ook 1Kor.10:16).

· Afsluiting – Matt.26:30 ~ Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.

6. TEN SLOTTE:
Die dood en die opstanding van Jesus Christus die Messias, sal altyd nou verweef wees met die Pasga se simboliek. Die Paaslam het verwys na die Lam van God wat sou kom. Die verlossing uit Egipte het heengewys na die groter verlossing wat die Lam van God sou bring. Om hierdie waarhede van die Skrif te ignoreer is om jouself van God af te sny. Diegene wat egter hierdie waarhede raaksien en erken, sal die instelling van die Nagmaal gereeld nakom en dit met dankbaarheid en oorvloedige vreugde gedenk, want Jesus Christus, die Lam van God het die volmaakte offer vir elkeen wat in Hom glo, gebring, sodat nie een van ons verlore sal gaan nie – rede om dus onophoudelik, fees te vier!

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 31 Januarie 2010

Tuesday, January 26, 2010

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 24 Januarie 2010

Openbaring Ontsluit (Die Millennium) - 21 [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:
Voor ons kan aangaan met ’n vers-vir-vers verklaring van Openbaring, is daar nog enkele ander sake wat ons moet aanroer ter wille daarvan dat ons die res van Openbaring beter kan verstaan. Een van hierdie onderwerpe is die hele kwessie van die Millennium, of ook genoem, die “Duisendjarige Vrederyk”. Wanneer gaan dit plaasvind? Gaan dit plaasvind? Wat behels dit indien dit gaan plaasvind, ens.? Ten einde antwoorde op hierdie vrae te kry, moet ons na Openb.20 gaan kyk en dan net weer vlugtig na die verskillende uitgangspunte van die drie strominge, nl. A-, Pre- en Postmillennialisme.

2. JESUS SE WEDERKOMS:
Die hele kwessie van die “Millennium” hang baie nou saam met die wederkoms van Christus. En wanneer ons kyk na die “Millennium-kwessie” kan ons weet wanneer Jesus gaan terugkom! Hoe kan ek dit sê as Jesus self in Matt.24:36 sê ~ Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Ek verwys dus nie na ’n dag en datum soos sommige mense kort-kort beweer nie (die nuutste bv. Des. 2012). Daar is egter ’n aanduiding van wanneer ons die wederkoms van Jesus Christus kan verwag, maar daarvoor moet ons verstaan wat die Millennium is en wanneer dit gaan gebeur.

Net so terloops – die feit dat Jesus gesê het dat Hyself nie die dag en datum van sy wederkoms ken nie, kan ’n mens baie maklik verwar as ons nie weet hoe om daardie uitspraak te vertolk nie, want Jesus is tog God en God is alwetend – hoe klop hierdie uitspraak dus met God se alwetendheid? Ons moet onthou dat Jesus, mens was toe Hy hierdie uitspraak gemaak het en dat Hy op daardie stadium as mens dus nie geweet het wanneer Hy sal terugkom nie.

Wanneer ons wil weet wanneer Jesus gaan terugkeer, moet ons na die Skrif gaan en ons moet nie na ’n dag en datum gaan soek nie, maar ons moet die Skrif gebruik wat vir ons gegee is en dít interpreteer. En die Skrif praat net van ’n “tydperk” – Jesus gaan dus na ’n “tydperk” terugkeer. Ten einde dan te weet wanneer Jesus gaan terugkeer moet ons gaan kyk na wat hierdie “tydperk” is en ook wat oor hierdie “tydperk” gesê word. Openbaring verskaf aan ons die antwoord op hierdie vrae.

3. DIE MILLENNIUM:
Ons lees in Openb.20:1-15 van so ’n tydperk ~ Toe het ek ’n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met ’n groot ketting in sy hand. 2 Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind. 3 Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word. 4 Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer. 5 Dit is die eerste opstanding. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. 6 Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer. 7 Wanneer die duisend jaar om is, sal die Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. 8 Dan sal hy gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see. 9 Hulle het oor die hele oppervlakte van die aarde aangekom en die laer van die gelowiges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer. 10 Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die dier en die vals profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. 11 Toe het ek ’n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie. 12 Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. 13 Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14 Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15 As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

Hier word dus gepraat van ’n millennium, of te wel ’n duisendjarige tydperk. Ek wil net onmiddellik sê, dat ons nie, soos die Pre-millennialiste, hierdie enkele gedeelte wat in hoogs simboliese taal geskryf is, kan neem as hoeksteen waarop ons, ons eskatologie (die leer oor die eindtye) baseer nie – dit sal uiteraard onverantwoordelik wees. ’n Postmillennialistiese eskatologie moet, soos met die res van die Skrif, bepaal word deur “Skrif-met-Skrif” te vergelyk en daarom sal ons sien dat ’n Postmillennialistiese eskatologie sterk steun op die beloftes en profesieë wat regdeur die Ou Testament aangetref word, asook Nuwe Testamentiese getuienisse. Ons sal dan ook sien dat Openb.20 se eskatologie 100% inpas by die basiese eskatologiese struktuur van die ganse Bybel.

Openb.20:1-10 gee vir ons ’n visie weer van die Millennium en die Groot Wit Troon van Oordeel (v.11-15). Johannes vertel vir ons van drie dinge wat karakteristiek is van die Millennium:
· Vanaf die begin tot die einde van die Millennium, is die satan gebind.
· Christus regeer saam met alle gelowiges.
· Aan die einde van die Millennium word Satan vir ’n kort tydjie vrygelaat om ’n rebellie of opstand te lei, waarna hy in die Poel van Vuur gewerp word.

Voor ons egter kan voortgaan met Openb.20, moet ons net eers na die onmiddellike konteks kyk en daarvoor moet ons na Openb.19 kyk. In hierdie voorafgaande hoofstuk het Johannes ’n visioen ontvang oor Jesus Christus as seëvierende Ruiter op ’n Wit Perd wat deur die geskiedenis ry met ’n swaard in Sy mond waarmee Hy al Sy teenstanders oorwin. Om hierdie oorwinning te vier, vind ’n groot ete plaas – hierdie oorwinnings-ete is ’n verwysing na die Nagmaal wat ons as gelowiges gereeld geniet – o.a. dus om Christus se oorwinning oor die Bose te gedenk.

Ons weet dat Jesus gesterf het ten einde regverdigmaking vir elkeen van ons te bewerkstellig, maar ons onthou Hom nie as ’n dooie Saligmaker aan die kruis nie – ons weet en bely tog dat Hy ook opgestaan en die dood oorwin het. Ons gedenk Hom dus as ’n seëvierende Verlosser. Ons lees in 1Joh.3:8b ~ En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak. En in Hebr.2:14-15 lees ons ~ Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15 en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. En Kol.2:15 sê ~ Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (sien ook Matt.12:29; Luk.10:18; Joh.12:31; 1Joh.3:8).

Ons sien in vers 2 van Openb.20, dat Jesus...die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp (het) en hom vir duisend jaar vasgebind (het). Waarom is die satan vasgebind met ’n ketting? Vers 3b ~ ...sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word. Johannes sien dan hoe dat diegene wat getrou is aan Christus, saam met Hom regeer gedurende hierdie duisendjaar tydperk (v.4).

Ons moet daarop let dat die “binding van Satan” nie die einde van sy aktiwiteite impliseer nie, daarvoor is 1Pet.5:8 te duidelik ~ Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Die “binding van Satan” beteken egter dat hy nie meer daartoe in staat is om die verspreiding van die Evangelie na alle nasies, te verhoed nie (Openb.20:3).

Wanneer ons wil vasstel wanneer die Millennium ’n aanvang neem (en dit is van die uiterste belang om dit te bepaal, want dit is hier waar die Pre-millennialisme van ons verskil) moet ons kennis neem van die volgende teksverse en wanneer ons dit doen, sal ons baie duidelik sien dat Christus se Koninkryk (die Duisend Jaar dus), reeds ’n aanvang geneem het met Sy eerste koms (of die Eerste Advent):
· Matt.2:1b-2a ~ Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2 en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?
· Hand.2:30-31 ~ Maar hy was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31 Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie.
· Kol.1:13 ~ Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.
· Openb.1:5a ~ ...Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. (Sien ook Daniël, hoofstukke 2 en 7; Hand.17:7 en dan natuurlik ook Openb.20).

Hieruit blyk dit dus baie duidelik, dat Christus se Koninkryk en derhalwe die Millennium, reeds met Sy eerste koms, of te wel, Sy geboorte ’n aanvang geneem het.

Die Eerste Opstanding: Openb.20:4 verwys na die Eerste Opstanding. Wat is hierdie Eerste Opstanding? Ons vind die antwoord o.a. in Ef.2:4-6 ~ Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5 Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6 Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee (sien ook Rom.6:3-4; Kol.2:12-13). Let op: Hier staan: ...ons wat dood was....; ...lewend gemaak; ...gered.... Alles verlede tyd – iets wat dus in die verlede gebeur het – afgehandel – wedergeboorte – geestelike opstanding dus.

Hierdie nuwe lewe wat ons in Christus uit genade en deur geloof alleen ontvang het, is die Eerste Opstanding – ons wat gered is, het dus deel aan die Eerste Opstanding. Dit word selfs nog duideliker gestel in Joh.5:24-25 ~ Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. 25 Ek verseker julle: Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. En die baie bekende Joh.11:25-26 stel dit selfs nog duideliker ~ Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26 en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?” Die Eerste Opstanding verwys dus na die wedergeboorte en die wedergeborenes.

Maar luister verder...... Hierdie verlostes wat opgestaan het tydens die Eerste Opstanding is ook diegene wie saam met Christus regeer in Sy Koninkryk – Rom.5:17 ~ Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer. Ef.2:6 ~ Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee (sien ook Hebr.12:28; Openb.2:10). In lewe en in sterwe sal ons dus saam met Christus regeer.

Hierdie feit, nl. dat die verlostes wat opgestaan het tydens die Eerste Opstanding saam met Christus regeer, word verder bevestig in verse 4-6 van Openb.20. Hier sien Johannes “trone” waarop gesit is. Die Afrikaanse vertaling is nie baie duidelik hier nie en daarom verwys ek u na die E.S.V. ~ Then I saw thrones, and seated on them were those to whom the authority to judge was committed. Vers 4 gee dus vir ons ’n presiese aanduiding van wie almal saam met Christus regeer – diegene aan wie die gesag gegee is om te oordeel. Hy sê egter steeds nie vir ons wie hierdie “Regters” is nie. Ons moet in gedagte hou dat die beeld van trone, in die Openbaring-simboliek, deurgaans na die vier-en-twintig ouderlinge verwys en ons weet vanuit Openb.4, dat die 24-ouderlinge ’n simboliese verwysing na die Kerk van die Here Jesus Christus is (die verlostes dus wat opgestaan het tydens die Eerste opstanding). Eerstens, volgens Openb.20:4-6 regeer alle gelowiges dus saam met Christus en dit is in ooreenstemming met die voorafgaande verse soos wat ons reeds gesien het (Rom.5:17; Ef.2:6; Hebr,12:28, ens.). In verse 5 en 6 sien ons ook dat die afgestorwe gelowiges, saam met die lewendes regeer.

Johannes sê egter verder in vers 4 (weer die E.S.V.) ~ Also I saw the souls of those who had been beheaded for the testimony of Jesus. Almal wat dus as Christen Martelare gesterf het, regeer saam met die ander gelowiges. Die gemeentes aan wie Johannes dus geskryf het, word ook bemoedig deurdat diegene wat uit hul geledere vir hulle geloof gesterf het, ook saam met hulle tot op die laaste dag sal regeer.

Die Tweede Opstanding: Die Woord praat egter nie net van ons Eerste Opstanding wat ’n geestelike opstanding, nl. die wedergeboorte is nie, maar ook van ’n Tweede Opstanding, nl. ’n liggaamlike opstanding. Rom.6:5 ~ Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. 1Kor.15:22-23 ~ Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. Maar daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. 1Tes.4:16 ~ Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan. Openb.20:6 en 14 stel dit ook pragtig wanneer dit sê dat diegene wat deel gehad het aan die Eerste Opstanding, nie ná die Tweede Opstanding deur die Vuurpoel verswelg sal word nie. Daar sal dus nog ’n Tweede Opstanding plaasvind en wanneer gaan dit wees? Openb.20:5b verskaf aan ons die antwoord ~ Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. Die Tweede opstanding sal dus plaasvind aan die einde van die duisend jaar tydperk.

Hier moet onderskei word tussen die opstanding van die gelowiges en die ongelowiges. Beide groepe afgestorwenes sal opstaan, maar die gelowiges sal in Lewe opstaan en diegene wie in ongeloof gesterf het, sal opstaan om geoordeel te word (Joh.5:28-29 ~ Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ’n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29 en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word).

Satan losgelaat: Ons lees egter in Openb.20:7-11 dat die satan aan die einde van die Millennium, net eers vir ’n kort tydjie losgelaat gaan word, waartydens hy vir ’n laaste keer, die volke van die aarde sal mislei. Aan die einde van hierdie kort tydperk sal die satan finaal deur God veroordeel word, deur hom in die Vuurpoel te werp. Direk nadat die satan veroordeel is, sal die algemene opstanding plaasvind waar alle mense, voor die Groot Wit Troon van God te staan sal kom. Dié wie nie in Christus is nie, sal saam met die satan in die Vuurpoel (die tweede Dood) gewerp word. Diegene wie in Christus Jesus is en deel het aan Sy opstanding, sal gered word en die ewige lewe ontvang. En derdens, die “Dood” wat die laaste vyand is, sal dan vernietig word (v.14; 1Kor.15:26 ~ Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood).

Dit is dus duidelik dat Christus se Koninkryk met die eerste Advent begin het én dat Sy kinders vir ’n duisend jaar saam met Hom regeer in hierdie Koninkryk (Charismate vertolk die 1000 jaar letterlik – onthou: ons het hier te doen met baie simboliek en daarom is hierdie 1 000 jaar simboliek en derhalwe dui dit op ’n tydperk).

Die Huidige Regering: Wat word bedoel met die uitdrukking, “hierdie huidige regering” (v.4)? Gedurende die 1000 jaar gaan die gelowiges oor die vlees, die wêreld en die satan heers – hulle gaan dus saam met Christus leef. Hulle leef in teenstelling met die res van die wêreld wat dood is al dink hulle, hulle leef. Hulle heers egter ook saam met Christus in hierdie lewe. Let op: Christus lewe nie saam met die gelowiges nie. Nee, dit is andersom – die gelowiges leef saam met Christus.

Die vraag wat waarskynlik dadelik na vore tree, is hoe dit moontlik is dat die gelowiges saam met Christus kan regeer, terwyl die gelowiges hier op hierdie sondige aarde is? Die antwoord is – Op dieselfde wyse as wat Henog saam met God gewandel het. Die feit dat Henog saam met God gewandel het, beteken nie dat Henog in die hemel was nie. Ook beteken dit nie dat God in liggaamlike vorm op aarde was nie. Henog het in ’n geestelike sin met God gewandel. Die gelowiges regeer op dieselfde wyse saam met Christus hier op aarde, as wat Henog met God hier op aarde gewandel het. Openb.5:10 sê ~ U het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer. Hier word nie na die herskepte aarde verwys nie, want hierdie regering waarna vers 10 verwys, vind plaas vóór die finale oordeel (v.11) wat voor die Groot Wit Troon gaan plaasvind – in hierdie lewe dus; op hierdie sondige aarde dus! In die lig van die konteks van Openb.5, is dit dus eksegeties onmoontlik om die Trone en die regering van die gelowiges as behorende tot die hemel, te sien. 2Tim.2:11-12 gee in elk geval vir ons dieselfde waarheid deur as v.4 ~ Dit is ’n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; 12 as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën – en dit geskied in hierdie lewe – ná ons Eerste Dood en vóór die Algemene Opstanding.

Die regering van die gelowiges is dus ’n huidige realiteit, maar dit kom eerstens, soos reeds gesê, tot uitdrukking in ons oorwinning oor die vlees, die wêreld en die satan – 1Joh. 5:4-5, 18 ~ ....want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?... Ons weet dat iemand wat uit God gebore is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom, en die duiwel kry geen houvas op hom nie (sien ook: 1Joh.1:7; 2:13-14, 17; 3:9; 4:4).

Die Toekoms van hierdie Regering op Aarde: Omdat die gelowiges wat God se genade in hul lewens ervaar en vir wie hierdie oorwinningslewe ’n realiteit is, sal hulle die wêreld wíl vertel van die heerlikheid van God. Tesame hiermee vind ons Christus se opdrag in Matt.28:19-20 ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. In die lig hiervan, asook die feit dat die Postmillennialisme glo dat die gelowiges reeds in hierdie wêreld saam met Christus regeer, het ons dus hier te doen met ’n drievoudige krag wat tot gevolg sál hê, dat God se Koninkryk hier op aarde sal uitbrei. Hierdie feit word ook bevestig deur die Skrif self – Dan.7:13-14 ~ My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 14 Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie (Jes.9:7; Matt.28:18; Ps.72:8-11; Matt.13:31-33; 1Kor.15:25). God sal hier op aarde heers (en ons saam met Hom), tot en met die Groot Oordeel aan die einde van die Millennium.

God se Koninkryk het dus gekom; en Sy Koninkryk hou aan om te kom. En eendag, wanneer Jesus terugkeer, sal die Koninkryk steeds kom, maar dan in al Sy ewige heerlikheid en volheid (1Kor.15:23-28).

Al klink dit dalk hoe absurd op hierdie oomblik, maar die Postmillennialistiese siening is ’n positiewe en optimistiese standpunt en tyd laat ons ongelukkig nie vanaand toe om verder hierop in te gaan nie, maar wel D.V. ’n volgende keer.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 24 Januarie 2010

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt op 24 Januarie 2010

Lidmaatskap van die Liggaam van Christus [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Verlede Woensdagaand is gevra dat ek een Sondag moet preek oor die redes waarom ’n gelowige, ’n lidmaat van ’n gemeente moet wees.

Die mensdom kan ’n “duisend redes” aanvoer waarom hulle nie kerk toe wil gaan, of selfs waarom hulle nie lidmate van ’n gemeente wil of kan wees nie. Sulke mense wat beweer dat hulle gered is, maar nie lidmaat van ’n plaaslike gemeente is nie, is doodeenvoudig ongehoorsaam aan die Woord van God.

2. SKRIFLESING:
Hand.2:42-47 ~ Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. 43 Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44 Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45 Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47 en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Ek het baie respek vir ’n Mark Dever van Capitol Hill Baptist Church in Washington D.C., maar ek kan in ’n gekwalifiseerde sin glad nie met hom saamstem wanneer hy sê: In one sense, what we know today as church membership is not Biblical. We have no record of first-century Christians who lived, for example, in central Jerusalem deciding to become involved in one particualr assembly of Christians rather than another. Ons vind egter hier in Handelinge 2 die geskiedenis van die vroeë Nuwe Testamentiese kerk – weliswaar nog nie saamgevoeg in ’n formele gemeente met sy eie kerkgebou nie, maar tog gemeente van die Here Jesus Christus.

Ons moet ook ’n paar dinge hier in gedagte hou, nl. dat die eerste gelowiges in Jerusalem geen ander gemeente gehad het om by in te skakel nie en die hele gedagte aan ’n gemeente was iets geheel en al nuut vir hulle. Ook het die bekeerde Jode uit ’n godsdienstige opset gekom waar daar net een Tempel was en waar die hele gemeenskap en volk se totale aanbidding gesentreer was om hierdie Tempel (of Tabernakel). Ons moet in gedagte hou dat die vroeë Christelike kerk tot en met 70 n.C. nog ’n sterk Joodse atmosfeer besit het en derhalwe was daar nie meer as een gemeente in Jerusalem nie. Daar was waarskynlik ook nie ’n behoefte aan meer as een gemeente nie, omdat die getal gelowiges in een gemeente hanteer kon word, want dit was eers na Pinksterdag dat die situasie dramaties verander het.

Nog ’n belangrike rede waarom daar nie meer as een gemeente in ’n dorp of stad was nie, is omdat hulle nog nie in ’n “kerkgebou” (soos ons deesdae) byeen gekom het nie, maar in die Tempel (van alle plekke), asook in huise, maar hierdie vroeë gelowiges was egter nie losstaande of versplinterde groepe nie, maar een saamgevoegde, lojale eenheid – een gemeente dus.

Ook was daar nog nie verskillende gemeentes in een dorp nie, waarskynlik as gevolg van die feit dat daar op daardie stadium nog geen (waarvan ons bewus is) leerstellige verskille tussen gelowiges bestaan het nie – hulle was nog geleer deur die Apostels wat ooggetuies van Jesus was.

3. DIE BELANGRIKHEID VAN KERKLIDMAATSKAP:
Kom ons kyk egter na wat die Woord van God sê t.o.v. Kerklidmaatskap.

Net ter inleiding ’n enkele opmerking t.o.v. Ou Testamentiese Getuienis:
Ons lees in Gen.17:9-14 ~ die volgende ~ Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte. 10 Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. 11 Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: 12 elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word. Dit geld vir elke lid van die manlike geslag onder julle: al julle nageslagte en ook elke slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en die slawe wat van ’n vreemde met geld gekoop word, wat nie jou afstammeling is nie. 13 ’n Slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en een wat vir geld gekoop word, moet beslis besny word. So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as ’n blywende verbond. 14 Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.” Uit hierdie gedeelte blyk dit dus baie duidelik dat elke Ou Testamentiese gelowige hom uiterlik moes vereenselwig met God se verbondsvolk.

Sonder hierdie uiterlike teken was geen man beskou as deel van God se volk nie – Gen.34:14-17 ~ Hulle het toe gesê: “Ons kan nie ons suster sommer so laat trou met ’n man wat nie besny is nie. Dit is vir ons ’n ongehoorde ding. 15 Ons kan net instem as julle soos ons word: besny al julle mans. 16 Dan kan ons ons dogters met julle laat trou en kan ons met julle dogters trou. Dan sal ons by julle bly en ons sal een volk word. 17 Maar as julle nie na ons luister nie en julle nie laat besny nie, sal ons ons suster vat en wegtrek.

Voor ons na enkele Nuwe Testamentiese getuienisse t.o.v. kerklidmaatskap kyk, dink ek dat dit belangrik is dat ons net kortliks vir mekaar iets oor Kerkwees sal sê:
· Die Kerk is NIE ’n los affiliasie van mense wat naastenby dieselfde godsdienstige oortuigings huldig nie – die kerk is dus nie ’n sosiale klub nie.
· Die Kerk is NIE ’n gebou nie. ’n Kerkgebou is bloot net ’n plek of gebou waar gelowiges byeen kom om te aanbid.
· Die Kerk is NIE ’n organisasie of besigheid wat ingestel
is op winsbejag nie.
· Die Kerk IS WEL, ’n gereelde byeenkoms van mense wat bely dat hulle gered is deur God se genade alleen, t.w.v. Sy eer en geloof alleen, in Christus alleen.
· Die Kerk IS ’n plaaslike, lewende en liefdevolle versameling van mense wat toegewyd is aan Christus en mekaar.
· Die Kerk IS ’n weerspieëling van God se liefde, heerlikheid en wysheid (Joh.3:16; Ef.3:10).

Kerklidmaatskap is dus bedoel vir gelowiges alleen. Dit is NIE vir diegene wat net met hul verstand, goedkeuring verleen aan die Evangelie nie. Dit is vir mense wie se lewens getuig van ’n toenemende en voortgaande toepassing en uitleef van die beginsels van die Evangelie in hul daaglikse lewe en wie se karakter die heiligheid van God meer en meer reflekteer – dit is maar een rede waarom mense nie maar sommer net lidmaat van ’n plaaslike gemeente kan word nie – daar moet o.a. eers ’n tyd verloop waartydens ’n nuwe lidmaat se getuienis deur die gemeente getoets kan word, maar ook sodat die aansoeker, bevestiging kan kry, dat hy hom kan vereenselwig met die gemeente se oortuigings en belydenis, alvorens hy lidmaat kan word.

Kom ons kyk dan kortliks na verskeie Nuwe Testamentiese Getuienis t.o.v. Kerklidmaatskap.
· Ons lees in Ef.1:20-22 en Hebr.12:23 dat Christus die Hoof van die Kerk is. Hier word verwys na die universele en onsigbare kerk, maar as ons na Skrifgedeeltes soos bv. Matt.18:15-20; Hand.2:37-42; 1Kor.5:1-9 en Rom.1:7, dat hierdie gelowiges – die onsigbare Kerk van die Here, as sigbare kerk moet optree en sien dat die Apostels hierdie feit erken wanneer hulle aan gemeentes skryf – nie aan die universele kerk nie, maar briewe wat direk gerig was aan plaaslike gemeentes – bv.: Rom.1:7 ~ Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort; 1Kor.1:1 ~ Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ’n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes. 2 Aan die gemeente van God in Korinte........ Fil.1:1 ~ Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. Openb.2:1 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese....).
· Ons sien hoe dat Paulus in 1Kor.5 aan die gemeente in Korinthe opdrag gee om ’n broeder wat in growwe sonde verval het, uit hulle geledere moet verwyder – “hulle geledere”? Hierdie man moes dus sy lidmaatskap ontsê word en formele uitsluiting impliseer tog amptelike insluiting, m.a.w. om lidmaat te word. Paulus skryf in dieselfde gedeelte, dat die gemeente (l.w. gemeente) hulle moet distansieer van immorele mense (mense van hierdie wêreld) en dit is tog ook ’n duidelike aanduiding dat hulle ’n groep was – saamgesnoer in ’n gemeente – nie losdrywende gelowiges wat mekaar ken nie.

Die Here Jesus het self lering gegee oor hoe daar opgetree moes word teen iemand in die gemeente wat sondig – die bekende Matt.18. Hoe kan iemand wat nie formeel deel is (lidmaat is) van ’n gemeente, getugtig word? U kan nou maklik die vraag vra waarom dit dan nodig is om deel van ’n gemeente te wees, net om jouself bloot stel aan die tug, want as jy nie lidmaat is nie, kan jy nie onder die tug geplaas word nie? Maar as jy dit vir my sê, wil ek vir jou sê dat jy dan nie ’n vaste voorneme het om ’n heilige lewe te leef nie en dan kan jou wedergeboorte in twyfel getrek word.

Dit is dan juis die gedagte dat ons “sigbare kerk” sal wees en daarom saamgesnoer sal wees in een gemeente, sodat ons toerekenbaar (“accountable”) teenoor mekaar kan wees. Ons lees in Gal.6:1 ~ Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp.....en dan hierdie woorde, ...En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Ons het dus as gelowiges ’n broer of suster nodig teenoor wie ons toerekenbaar kan wees en dit is net soveel veiliger as dit iemand is wat ook binne die gemeente is waar die ander lidmate ook onder dieselfde toesig verkeer en dieselfde lering ontvang, want dan kan hulle soos ons in hierdie vers uit Galasiërs sien, in gees van sagmoedigheid reggehelp word. Deur broers en susters wat geestelik optree en wie my gereeld sien, ten einde my te kan help om my sonde neer te lê en ’n heiliger lewe te leef.

Prediker 4:11 sê ~ As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? En vers 12 sê ~ Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.

Die beste wyse van beskerming, geestelike opbou en vertroosting vind dus binne die plaaslike gemeente plaas (Hebr.3:13; 1Joh.4:12).

Lidmaatskap van ’n ware en lewende, plaaslike gemeente dui dus op ’n individuele lidmaat se toewyding aan ander gelowiges deur hul onderlinge liefde en dissipelskap en ook hul inspraak in sy of haar lewe te aanvaar en wel t.w.v. sy of haar eie heil.

· Wanneer ons na Ef.4:3-4 kyk sien ons dat God beveel dat daar eenheid onder gelowiges moet wees ~ Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. 4 Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het.

· Paulus verwys in 2Kor.2:6-7 na ’n groep mense ~ Vir so iemand is die bestraffing deur die meerderheid swaar genoeg. 7 Nou moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig, anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. Hierdie groep is ’n onmiskenbare verwysing na ’n gemeente.

· Dit is baie interessant om te weet dat die vroeë kerk ’n register of lys van die weduwees in die gemeente gehou het (1Tim.5:9). Indien daar ’n lys van weduwees bygehou is, kan ons sekerlik ook die aanname maak dat daar ’n gemeentelys bestaan het. Selfs God hou ’n register van gelowiges by – Fil.4:3 ~ Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan, asook Openb.21:27 ~ Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.

God het nog altyd ’n baie duidelike onderskeid getref tussen Sý mense en dié van die wêreld. Die seremoniële wette en die burgerlike wette tydens die Ou Verbond, was ’n direkte uitvloeisel van hierdie onderskeid wat God getref het, want hierdie wette het die volk Israel onderskei van die naburige heidense volke, as ’n volk wat opsygesit is vir die Here God. Hierdie onderskeid maak ’n sterk saak uit vir ’n duidelike onderskeid tussen God se kinders in ons dag wat saamgesnoer word in ’n gemeente en die wêreld rondom ons, want wanneer ons steeds lid bly van die onsigbare universele kerk, kan die wêreld geen onderskeid tref nie. Kerklidmaatskap is dus ’n teken van die gemeente se bevestiging van ’n bepaalde gelowige wat lidmaat word, se redding – die blote feit dat ons vanoggend in hierdie gebou ingestap het, was sou ’n getuienis teenoor die wêreld.

Kom ons kyk ten slotte net na nog ’n paar redes waarom lidmaatskap van ’n plaaslike gemeente ononderhandelbaar is:

· Wanneer ons na die “Mekaartekste” kyk, sien ons dat bykans elke een van hierdie tekste, direk aan plaaslike gemeentes gegee is. Dit is dus nie genoeg om te sê dat ons as wedergeborenes deel is van die universele kerk nie, want hierdie opdragte is aan plaaslike gemeentes gegee.

· Die Here Jesus het ouderlinge en diakens vir die kerk gegee. Waarom sou Hy dit doen as Hy nie ’n baie hoë premie op die plaaslike gemeente gestel het nie? Hy het ouderlinge aangestel, o.a. om na die geestelike welsyn van die gemeente om te sien. Dit impliseer vir my twee dinge:
- Daar moet lidmate wees om na om te sien, en
- Jy moet lidmaat wees sodat daar na jou omgesien kan word en as jy nie ’n lidmaat is nie, is jy ’n oop teiken vir die satan en sy listige aanslae op jou siel. Hand.20:28 ~ Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun (sien ook Titus 1:9 en Hebr.13:17).

· Die plaaslike gemeente bied die noodsaaklike en onontbeerlike geleentheid tot onderlinge gemeenskap en samewerking vir lidmate – Fil.1:4-5 ~ In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5 omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie (Hand.15:1-4; 2Kor.8:18-24; Gal.2:10).

· In geval van moeilikheid of meningsverskil, maak die plaaslike gemeente voorsiening vir die uit- en opklaring daarvan (weliswaar, baie keer nie soos ons dit opgelos wil sien nie! Sien: Hand.15:1-35 en Gal.2:2).

· Die sakramente (doop en Nagmaal) is vir die Kerk gegee om te beoefen (Luk.22:15-20) - Hoe kan ons die sakramente beoefen buite die Liggaam? (Matt.28:19-20; 1Kor.11:18; 23-25).

· In Hand.2:42 word ons opgeroep tot openbare aanbidding en let op hier word verwys na die gemeente ~ Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. En in 1Tim.2:8 lees ons ~ Ek wil dus hê dat die mans by elke plek van samekoms met ’n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis. Daar moet dus saamgebid word en wanneer dit saam gedoen moet word, kan dit tog net binne ’n gemeente geskied. Hiermee saam word ons opgeroep tot die sing van Psalms en geestelike liedere – Kol.3:16 ~ Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. Ons kan dit tog nie alleen en sonder ’n gemeente sing nie. Kan u, uself indink wat se chaos sal dit afgee as kerklos Hipercalvinisme en kerklos Charismate byeen kom om in opdrag van die Skrif, psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God – ek is absoluut oortuig daarvan, dat die uiteinde van so ’n byeenkoms beslis nie tot eer van God sal wees nie, want om mee te begin.... aan die eenkant (vanuit die Hiper-Calviniste se oogpunt): Die dromme; die ritme; die flitsende- en draaiende ligte; die vrolikheid en hande in die lug; ....!. En aan die anderkant (vanuit die Charismate se oogpunt): Die doodsheid; die Psalmboekies; die orrel; ....!

· Jesus gee o.a. in Joh.13 vir ons die opdrag om mekaar lief te hê en die gemeente bied die ideale geleentheid om hierdie liefde uit te leef - Joh.13:34-35 ~ Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35 As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.

· Ons sien in 1Tim.4:13 dat daar gepreek moet word – Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee. Daar kan tog net vir ’n groep mense gepreek word en ja, hierdie groep kan losstaande van ’n gemeente wees, maar luister na verse 14 en 15 ~ ...Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie. Dit is aan jou gegee deur die profesieë toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het. Wie is die ouderlinge wie die hande op Timoteus gelê het en vanuit en met watter gesag tree hulle op? Die plaaslike gemeente.

· 1Kor.12;12-27 leer ons dat gelowiges saamgevoeg word in ’n eenheid op grond van hul eenwording met Jesus Christus.

· En waarskynlik die beste en sterkste en belangrikste wyse om die Evangelie uit te dra is vanuit die plaaslike gemeente – Joh.17:21 ~ Ek bid dat hulle almal een mag wees,net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

· Die Sendbriewe word almal na gemeentes gestuur.

4. AFSLUITING:
Ons kan vir medegelowiges wat nie lidmaat van ’n plaaslike gemeente is nie, vra: Met wie assosieer jy? Die wêreld? Indien nie, waarom “hys jy nie jou vlag” en word deel van ’n gemeente, sodat mense kan sien by Wie jy kies om te staan?

Om deel te hê aan die Liggaam van Christus is een van die grootste voorregte waaroor ’n gelowige kan beskik – Hoor net wat sê die Psalmdigter in Ps.84 en ek haal net gedeeltes van hierdie pragtige Psalm aan ~ Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! 3 Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; ....5 Dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie. Sela 6 Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan.... 11 Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God. En omdat dit so ’n geweldige voorreg, maar ook ’n veilige hawe is vir gelowiges, kom die Hebreërskrywer en gee hy aan elke gelowige die volgende opdrag in 10:24-25 ~ Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25 Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Deur jouself te vereenselwig met ’n gemeente d.m.v. lidmaatskap, laat jy deur so ’n optrede blyk dat jy van voorneme is om jou toe te wy aan Jesus Christus en die gemeente, deur gereelde bywoning van die onderlinge byeenkomste; deur jou gereelde bydraes; deur jou diensbaarheid; deur gebed. Ons maak dus deur ons lidmaatskap bekend dat andere op ons kan staatmaak; dat andere van ons lojaliteit en ondersteuning en gebed en diensbaarheid kan verwag. Ons sê deur ons lidmaatskap dat ons uitverkoop is aan Jesus Christus, ons Persoonlike Saligmaker en Verlosser – in kort, ons tree toe tot ’n verbondsverhouding met ons medegelowiges. Ons word dus nie lidmaat om te ontvang nie, maar om volkome en onvoorwaardelik te kom gee.

Jesus Christus en die Apostels het nooit die plaaslike gemeente geminag nie. Al was daar in Jesus se tyd nog nie plaaslike gemeentes nie, het Hy altyd, wanneer Hy in ’n dorp gekom het, eerste na die Tempel gegaan om daar te “preek”. Wanneer die Apostel Paulus in ’n dorp aangekom het, het hy altyd reguit na die plaaslike gemeente gegaan en as daar nie ’n gemeente was nie, het hy altyd met ’n groepie gelowiges vergader. En ons? Ons moet na die “Tempel” kom om na die Hoof van die Kerk, Jesus Christus te luister!

Jesus en die Apostels het die voorbeeld gestel en soos ons reeds vanuit die Woord gesien het, is daar meer as genoeg bestaansreg vir, maar ook vir lidmaatskap van die plaaslike gemeente.

[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 24 Januarie 2010