Lidmaatskap van die Liggaam van Christus [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. INLEIDING:
Verlede Woensdagaand is gevra dat ek een Sondag moet preek oor die redes waarom ’n gelowige, ’n lidmaat van ’n gemeente moet wees.
Die mensdom kan ’n “duisend redes” aanvoer waarom hulle nie kerk toe wil gaan, of selfs waarom hulle nie lidmate van ’n gemeente wil of kan wees nie. Sulke mense wat beweer dat hulle gered is, maar nie lidmaat van ’n plaaslike gemeente is nie, is doodeenvoudig ongehoorsaam aan die Woord van God.
2. SKRIFLESING:
Hand.2:42-47 ~ Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. 43 Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44 Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45 Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47 en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.
Ek het baie respek vir ’n Mark Dever van Capitol Hill Baptist Church in Washington D.C., maar ek kan in ’n gekwalifiseerde sin glad nie met hom saamstem wanneer hy sê: In one sense, what we know today as church membership is not Biblical. We have no record of first-century Christians who lived, for example, in central Jerusalem deciding to become involved in one particualr assembly of Christians rather than another. Ons vind egter hier in Handelinge 2 die geskiedenis van die vroeë Nuwe Testamentiese kerk – weliswaar nog nie saamgevoeg in ’n formele gemeente met sy eie kerkgebou nie, maar tog gemeente van die Here Jesus Christus.
Ons moet ook ’n paar dinge hier in gedagte hou, nl. dat die eerste gelowiges in Jerusalem geen ander gemeente gehad het om by in te skakel nie en die hele gedagte aan ’n gemeente was iets geheel en al nuut vir hulle. Ook het die bekeerde Jode uit ’n godsdienstige opset gekom waar daar net een Tempel was en waar die hele gemeenskap en volk se totale aanbidding gesentreer was om hierdie Tempel (of Tabernakel). Ons moet in gedagte hou dat die vroeë Christelike kerk tot en met 70 n.C. nog ’n sterk Joodse atmosfeer besit het en derhalwe was daar nie meer as een gemeente in Jerusalem nie. Daar was waarskynlik ook nie ’n behoefte aan meer as een gemeente nie, omdat die getal gelowiges in een gemeente hanteer kon word, want dit was eers na Pinksterdag dat die situasie dramaties verander het.
Nog ’n belangrike rede waarom daar nie meer as een gemeente in ’n dorp of stad was nie, is omdat hulle nog nie in ’n “kerkgebou” (soos ons deesdae) byeen gekom het nie, maar in die Tempel (van alle plekke), asook in huise, maar hierdie vroeë gelowiges was egter nie losstaande of versplinterde groepe nie, maar een saamgevoegde, lojale eenheid – een gemeente dus.
Ook was daar nog nie verskillende gemeentes in een dorp nie, waarskynlik as gevolg van die feit dat daar op daardie stadium nog geen (waarvan ons bewus is) leerstellige verskille tussen gelowiges bestaan het nie – hulle was nog geleer deur die Apostels wat ooggetuies van Jesus was.
3. DIE BELANGRIKHEID VAN KERKLIDMAATSKAP:
Kom ons kyk egter na wat die Woord van God sê t.o.v. Kerklidmaatskap.
Net ter inleiding ’n enkele opmerking t.o.v. Ou Testamentiese Getuienis:
Ons lees in Gen.17:9-14 ~ die volgende ~ Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte. 10 Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. 11 Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: 12 elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word. Dit geld vir elke lid van die manlike geslag onder julle: al julle nageslagte en ook elke slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en die slawe wat van ’n vreemde met geld gekoop word, wat nie jou afstammeling is nie. 13 ’n Slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en een wat vir geld gekoop word, moet beslis besny word. So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as ’n blywende verbond. 14 Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.” Uit hierdie gedeelte blyk dit dus baie duidelik dat elke Ou Testamentiese gelowige hom uiterlik moes vereenselwig met God se verbondsvolk.
Sonder hierdie uiterlike teken was geen man beskou as deel van God se volk nie – Gen.34:14-17 ~ Hulle het toe gesê: “Ons kan nie ons suster sommer so laat trou met ’n man wat nie besny is nie. Dit is vir ons ’n ongehoorde ding. 15 Ons kan net instem as julle soos ons word: besny al julle mans. 16 Dan kan ons ons dogters met julle laat trou en kan ons met julle dogters trou. Dan sal ons by julle bly en ons sal een volk word. 17 Maar as julle nie na ons luister nie en julle nie laat besny nie, sal ons ons suster vat en wegtrek.
Voor ons na enkele Nuwe Testamentiese getuienisse t.o.v. kerklidmaatskap kyk, dink ek dat dit belangrik is dat ons net kortliks vir mekaar iets oor Kerkwees sal sê:
· Die Kerk is NIE ’n los affiliasie van mense wat naastenby dieselfde godsdienstige oortuigings huldig nie – die kerk is dus nie ’n sosiale klub nie.
· Die Kerk is NIE ’n gebou nie. ’n Kerkgebou is bloot net ’n plek of gebou waar gelowiges byeen kom om te aanbid.
· Die Kerk is NIE ’n organisasie of besigheid wat ingestel
is op winsbejag nie.
· Die Kerk IS WEL, ’n gereelde byeenkoms van mense wat bely dat hulle gered is deur God se genade alleen, t.w.v. Sy eer en geloof alleen, in Christus alleen.
· Die Kerk IS ’n plaaslike, lewende en liefdevolle versameling van mense wat toegewyd is aan Christus en mekaar.
· Die Kerk IS ’n weerspieëling van God se liefde, heerlikheid en wysheid (Joh.3:16; Ef.3:10).
Kerklidmaatskap is dus bedoel vir gelowiges alleen. Dit is NIE vir diegene wat net met hul verstand, goedkeuring verleen aan die Evangelie nie. Dit is vir mense wie se lewens getuig van ’n toenemende en voortgaande toepassing en uitleef van die beginsels van die Evangelie in hul daaglikse lewe en wie se karakter die heiligheid van God meer en meer reflekteer – dit is maar een rede waarom mense nie maar sommer net lidmaat van ’n plaaslike gemeente kan word nie – daar moet o.a. eers ’n tyd verloop waartydens ’n nuwe lidmaat se getuienis deur die gemeente getoets kan word, maar ook sodat die aansoeker, bevestiging kan kry, dat hy hom kan vereenselwig met die gemeente se oortuigings en belydenis, alvorens hy lidmaat kan word.
Kom ons kyk dan kortliks na verskeie Nuwe Testamentiese Getuienis t.o.v. Kerklidmaatskap.
· Ons lees in Ef.1:20-22 en Hebr.12:23 dat Christus die Hoof van die Kerk is. Hier word verwys na die universele en onsigbare kerk, maar as ons na Skrifgedeeltes soos bv. Matt.18:15-20; Hand.2:37-42; 1Kor.5:1-9 en Rom.1:7, dat hierdie gelowiges – die onsigbare Kerk van die Here, as sigbare kerk moet optree en sien dat die Apostels hierdie feit erken wanneer hulle aan gemeentes skryf – nie aan die universele kerk nie, maar briewe wat direk gerig was aan plaaslike gemeentes – bv.: Rom.1:7 ~ Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort; 1Kor.1:1 ~ Van Paulus, wat deur die wil van God geroep is om ’n apostel van Christus Jesus te wees, en van die broer Sostenes. 2 Aan die gemeente van God in Korinte........ Fil.1:1 ~ Van Paulus en Timoteus, dienaars van Christus Jesus. Aan almal in Filippi wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens. Openb.2:1 ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese....).
· Ons sien hoe dat Paulus in 1Kor.5 aan die gemeente in Korinthe opdrag gee om ’n broeder wat in growwe sonde verval het, uit hulle geledere moet verwyder – “hulle geledere”? Hierdie man moes dus sy lidmaatskap ontsê word en formele uitsluiting impliseer tog amptelike insluiting, m.a.w. om lidmaat te word. Paulus skryf in dieselfde gedeelte, dat die gemeente (l.w. gemeente) hulle moet distansieer van immorele mense (mense van hierdie wêreld) en dit is tog ook ’n duidelike aanduiding dat hulle ’n groep was – saamgesnoer in ’n gemeente – nie losdrywende gelowiges wat mekaar ken nie.
Die Here Jesus het self lering gegee oor hoe daar opgetree moes word teen iemand in die gemeente wat sondig – die bekende Matt.18. Hoe kan iemand wat nie formeel deel is (lidmaat is) van ’n gemeente, getugtig word? U kan nou maklik die vraag vra waarom dit dan nodig is om deel van ’n gemeente te wees, net om jouself bloot stel aan die tug, want as jy nie lidmaat is nie, kan jy nie onder die tug geplaas word nie? Maar as jy dit vir my sê, wil ek vir jou sê dat jy dan nie ’n vaste voorneme het om ’n heilige lewe te leef nie en dan kan jou wedergeboorte in twyfel getrek word.
Dit is dan juis die gedagte dat ons “sigbare kerk” sal wees en daarom saamgesnoer sal wees in een gemeente, sodat ons toerekenbaar (“accountable”) teenoor mekaar kan wees. Ons lees in Gal.6:1 ~ Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp.....en dan hierdie woorde, ...En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Ons het dus as gelowiges ’n broer of suster nodig teenoor wie ons toerekenbaar kan wees en dit is net soveel veiliger as dit iemand is wat ook binne die gemeente is waar die ander lidmate ook onder dieselfde toesig verkeer en dieselfde lering ontvang, want dan kan hulle soos ons in hierdie vers uit Galasiërs sien, in gees van sagmoedigheid reggehelp word. Deur broers en susters wat geestelik optree en wie my gereeld sien, ten einde my te kan help om my sonde neer te lê en ’n heiliger lewe te leef.
Prediker 4:11 sê ~ As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word? En vers 12 sê ~ Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.
Die beste wyse van beskerming, geestelike opbou en vertroosting vind dus binne die plaaslike gemeente plaas (Hebr.3:13; 1Joh.4:12).
Lidmaatskap van ’n ware en lewende, plaaslike gemeente dui dus op ’n individuele lidmaat se toewyding aan ander gelowiges deur hul onderlinge liefde en dissipelskap en ook hul inspraak in sy of haar lewe te aanvaar en wel t.w.v. sy of haar eie heil.
· Wanneer ons na Ef.4:3-4 kyk sien ons dat God beveel dat daar eenheid onder gelowiges moet wees ~ Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. 4 Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het.
· Paulus verwys in 2Kor.2:6-7 na ’n groep mense ~ Vir so iemand is die bestraffing deur die meerderheid swaar genoeg. 7 Nou moet julle so iemand liewer vergewe en bemoedig, anders kan hy so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor. Hierdie groep is ’n onmiskenbare verwysing na ’n gemeente.
· Dit is baie interessant om te weet dat die vroeë kerk ’n register of lys van die weduwees in die gemeente gehou het (1Tim.5:9). Indien daar ’n lys van weduwees bygehou is, kan ons sekerlik ook die aanname maak dat daar ’n gemeentelys bestaan het. Selfs God hou ’n register van gelowiges by – Fil.4:3 ~ Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan, asook Openb.21:27 ~ Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.
God het nog altyd ’n baie duidelike onderskeid getref tussen Sý mense en dié van die wêreld. Die seremoniële wette en die burgerlike wette tydens die Ou Verbond, was ’n direkte uitvloeisel van hierdie onderskeid wat God getref het, want hierdie wette het die volk Israel onderskei van die naburige heidense volke, as ’n volk wat opsygesit is vir die Here God. Hierdie onderskeid maak ’n sterk saak uit vir ’n duidelike onderskeid tussen God se kinders in ons dag wat saamgesnoer word in ’n gemeente en die wêreld rondom ons, want wanneer ons steeds lid bly van die onsigbare universele kerk, kan die wêreld geen onderskeid tref nie. Kerklidmaatskap is dus ’n teken van die gemeente se bevestiging van ’n bepaalde gelowige wat lidmaat word, se redding – die blote feit dat ons vanoggend in hierdie gebou ingestap het, was sou ’n getuienis teenoor die wêreld.
Kom ons kyk ten slotte net na nog ’n paar redes waarom lidmaatskap van ’n plaaslike gemeente ononderhandelbaar is:
· Wanneer ons na die “Mekaartekste” kyk, sien ons dat bykans elke een van hierdie tekste, direk aan plaaslike gemeentes gegee is. Dit is dus nie genoeg om te sê dat ons as wedergeborenes deel is van die universele kerk nie, want hierdie opdragte is aan plaaslike gemeentes gegee.
· Die Here Jesus het ouderlinge en diakens vir die kerk gegee. Waarom sou Hy dit doen as Hy nie ’n baie hoë premie op die plaaslike gemeente gestel het nie? Hy het ouderlinge aangestel, o.a. om na die geestelike welsyn van die gemeente om te sien. Dit impliseer vir my twee dinge:
- Daar moet lidmate wees om na om te sien, en
- Jy moet lidmaat wees sodat daar na jou omgesien kan word en as jy nie ’n lidmaat is nie, is jy ’n oop teiken vir die satan en sy listige aanslae op jou siel. Hand.20:28 ~ Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun (sien ook Titus 1:9 en Hebr.13:17).
· Die plaaslike gemeente bied die noodsaaklike en onontbeerlike geleentheid tot onderlinge gemeenskap en samewerking vir lidmate – Fil.1:4-5 ~ In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, 5 omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie (Hand.15:1-4; 2Kor.8:18-24; Gal.2:10).
· In geval van moeilikheid of meningsverskil, maak die plaaslike gemeente voorsiening vir die uit- en opklaring daarvan (weliswaar, baie keer nie soos ons dit opgelos wil sien nie! Sien: Hand.15:1-35 en Gal.2:2).
· Die sakramente (doop en Nagmaal) is vir die Kerk gegee om te beoefen (Luk.22:15-20) - Hoe kan ons die sakramente beoefen buite die Liggaam? (Matt.28:19-20; 1Kor.11:18; 23-25).
· In Hand.2:42 word ons opgeroep tot openbare aanbidding en let op hier word verwys na die gemeente ~ Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. En in 1Tim.2:8 lees ons ~ Ek wil dus hê dat die mans by elke plek van samekoms met ’n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis. Daar moet dus saamgebid word en wanneer dit saam gedoen moet word, kan dit tog net binne ’n gemeente geskied. Hiermee saam word ons opgeroep tot die sing van Psalms en geestelike liedere – Kol.3:16 ~ Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. Ons kan dit tog nie alleen en sonder ’n gemeente sing nie. Kan u, uself indink wat se chaos sal dit afgee as kerklos Hipercalvinisme en kerklos Charismate byeen kom om in opdrag van die Skrif, psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God – ek is absoluut oortuig daarvan, dat die uiteinde van so ’n byeenkoms beslis nie tot eer van God sal wees nie, want om mee te begin.... aan die eenkant (vanuit die Hiper-Calviniste se oogpunt): Die dromme; die ritme; die flitsende- en draaiende ligte; die vrolikheid en hande in die lug; ....!. En aan die anderkant (vanuit die Charismate se oogpunt): Die doodsheid; die Psalmboekies; die orrel; ....!
· Jesus gee o.a. in Joh.13 vir ons die opdrag om mekaar lief te hê en die gemeente bied die ideale geleentheid om hierdie liefde uit te leef - Joh.13:34-35 ~ Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35 As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.
· Ons sien in 1Tim.4:13 dat daar gepreek moet word – Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee. Daar kan tog net vir ’n groep mense gepreek word en ja, hierdie groep kan losstaande van ’n gemeente wees, maar luister na verse 14 en 15 ~ ...Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie. Dit is aan jou gegee deur die profesieë toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het. Wie is die ouderlinge wie die hande op Timoteus gelê het en vanuit en met watter gesag tree hulle op? Die plaaslike gemeente.
· 1Kor.12;12-27 leer ons dat gelowiges saamgevoeg word in ’n eenheid op grond van hul eenwording met Jesus Christus.
· En waarskynlik die beste en sterkste en belangrikste wyse om die Evangelie uit te dra is vanuit die plaaslike gemeente – Joh.17:21 ~ Ek bid dat hulle almal een mag wees,net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.
· Die Sendbriewe word almal na gemeentes gestuur.
4. AFSLUITING:
Ons kan vir medegelowiges wat nie lidmaat van ’n plaaslike gemeente is nie, vra: Met wie assosieer jy? Die wêreld? Indien nie, waarom “hys jy nie jou vlag” en word deel van ’n gemeente, sodat mense kan sien by Wie jy kies om te staan?
Om deel te hê aan die Liggaam van Christus is een van die grootste voorregte waaroor ’n gelowige kan beskik – Hoor net wat sê die Psalmdigter in Ps.84 en ek haal net gedeeltes van hierdie pragtige Psalm aan ~ Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! 3 Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; ....5 Dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie. Sela 6 Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan.... 11 Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God. En omdat dit so ’n geweldige voorreg, maar ook ’n veilige hawe is vir gelowiges, kom die Hebreërskrywer en gee hy aan elke gelowige die volgende opdrag in 10:24-25 ~ Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25 Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.
Deur jouself te vereenselwig met ’n gemeente d.m.v. lidmaatskap, laat jy deur so ’n optrede blyk dat jy van voorneme is om jou toe te wy aan Jesus Christus en die gemeente, deur gereelde bywoning van die onderlinge byeenkomste; deur jou gereelde bydraes; deur jou diensbaarheid; deur gebed. Ons maak dus deur ons lidmaatskap bekend dat andere op ons kan staatmaak; dat andere van ons lojaliteit en ondersteuning en gebed en diensbaarheid kan verwag. Ons sê deur ons lidmaatskap dat ons uitverkoop is aan Jesus Christus, ons Persoonlike Saligmaker en Verlosser – in kort, ons tree toe tot ’n verbondsverhouding met ons medegelowiges. Ons word dus nie lidmaat om te ontvang nie, maar om volkome en onvoorwaardelik te kom gee.
Jesus Christus en die Apostels het nooit die plaaslike gemeente geminag nie. Al was daar in Jesus se tyd nog nie plaaslike gemeentes nie, het Hy altyd, wanneer Hy in ’n dorp gekom het, eerste na die Tempel gegaan om daar te “preek”. Wanneer die Apostel Paulus in ’n dorp aangekom het, het hy altyd reguit na die plaaslike gemeente gegaan en as daar nie ’n gemeente was nie, het hy altyd met ’n groepie gelowiges vergader. En ons? Ons moet na die “Tempel” kom om na die Hoof van die Kerk, Jesus Christus te luister!
Jesus en die Apostels het die voorbeeld gestel en soos ons reeds vanuit die Woord gesien het, is daar meer as genoeg bestaansreg vir, maar ook vir lidmaatskap van die plaaslike gemeente.
[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) – Sondagoggend 24 Januarie 2010