Sunday, June 8, 2014

Die Heilige Gees (Sy Funksie)

1.    SKRIFLESING:
       Hand.2:1-4 ~ Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Skielik was daar ’n geluid uit die hemel soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. 3Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. 4Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.

2.    INLEIDING:
       Vandag staan op die Christelike kalender bekend as Pinksterdag – die dag waarop ons die uitstorting van die Heilige Gees gedenk en ek het dit goed gedink om kortliks te kyk na wat die funksie van die Heilige Gees is, want wanneer ʼn mens ook al na die gawes van die Gees wil kyk of daaroor wil praat, móét ʼn mens eers kyk na die funksie van die Heilige Gees. Ek wil julle ook waarsku dat ons vanoggend hoofsaaklik die Skrif gaan toelaat om die “praatwerk” te doen.

       Baie mense dink dat die Heilige Gees die eerste keer na die wêreld gekom het, tydens Pinksterdag, maar dit is nie heeltemal die geval nie.

       Ons vind talle bedieninge of funksies van die Heilige Gees in die Woord, waarvan verskeie reeds in die Ou Testament voorkom.

3.    DIE HEILIGE GEES SE FUNKSIE:
Kom ons noem net enkele van hierdie bedieninge kortliks.

·         Die Heelal:
Ons sien in Ps. 19:2 dat die Vader die heelal en alles daarin, geskape het: Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Daarenteen sien ons dat Johannes sê dat Christus die heelal geskape het ~ Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense (Joh. 1:3-4).

       In ander verse sien ons weer dat die Heilige Gees die Skepper is, bv. Ps. 104:30 ~ U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut (OAV).

       Wat moet ons nou glo t.o.v. die skepping? Die antwoord is natuurlik baie eenvoudig, nl. dat al drie persone van de Drie-Eenheid betrokke was by die Skepping, en daarom was die Heilige Gees ook betrokke by die Skepping. Hier kan ons ook kyk na Job 33:4 ~ Die Gees van God het my gemaak,  die asem van die Almagtige het my die lewe gegee (“asem” hier, weet ons, is ʼn ander benaming vir die Heilige Gees – tog jammer dat die vertalers nie tog maar by “Gees” gehou het nie).

·        Sy bediening t.o.v. lewe
Terwyl die “voor-sondegevalle” Adam geleef het, het hy oor die Heilige beskik ~ Toe sê die Here: “My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduur sal nou honderd en twintig jaar wees” (Gen.6:3).

·         Die Woord:
Die tweede funksie van die Heilige Gees is t.o.v. die Woord. Die Heilige Gees is die Outeur van die Woord van God en Hy het drie basiese wyses gekies in die voorbereiding en ontvangs van die Woord en dit is as volg:
-      Openbaring: Die Woord is deur nagenoeg 40 mense geskryf en hulle het dit gedoen onder leiding van die Gees en wel d.m.v. openbaring.
-      Inspirasie: Inspirasie was die wyse waarop die Gees by wyse van spreke, die skrywers van die Bybel se penne gelei het om te skryf en wel tot so ʼn mate, dat daar net geskryf was wat God wou hê daar geskryf moes word – niks meer en niks minder nie.
-      Verligting: Verligting geskied wanneer die Heilige Gees, die gelese, of gepredikte Woord neem en dit “oop maak” vir die leser/luisteraar, sodat hy dit verstaan en deel maak van hom.

       Kom ons kyk na enkele teksverse ter ondersteuning hiervan:
       Ons het gesê dat die Heilige Gees die Outeur van die Woord is – 2 Sam. 23:2 ~ Die Gees van die Here het deur my gepraat, ja, sy woord was op my lippe.

Jes. 59:21 ~ Wat My betref, sê die Here, dit is my verbond met die volk: my Gees wat op jou is en my woorde wat ek in jou mond lê, sal nie uit jou mond en uit die mond van jou kinders en jou kindskinders verdwyn nie, sê die Here, nie nou nie en nooit nie.

Jer. 1:9 ~ Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê.

2 Pet.1:21 ~ ...want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

2 Tim. 3:15-17 ~ en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. 16Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

·         Die Gees se funksie t.o.v Israel:
       Nie minder nie as 16 van Israel se leiers het die salwing van die Heilige Gees ervaar. Die Gees het dus Ou Testamentiese leiers van Israel, bekragtig. So sien ons dat Josef bekragtig is ~ Toe sê die farao vir sy amptenare: “Waar kry ons so iemand, ’n man met die verstand van ’n god?” Die farao het daarop vir Josef gesê: “God het jou dit alles bekend gemaak. Daaruit is dit duidelik dat niemand soveel verstand en wysheid as jy het nie. Ek stel jou aan oor my paleis (Gen. 41:38-40).

       Kom ons kyk na Moses ~ Ek sal dan afkom en daar met jou praat, en Ek sal van die Gees wat op jou is, op hulle laat kom. Hulle sal dan saam met jou die verantwoordelikheid vir die volk dra, sodat jy dit nie alleen hoef te doen nie (Num. 11:17).

       So was daar dan ook – en ek noem hulle net vlugtig vir u:
Josua (Num. 27:18); Otniël (Rigters 3:10); Gideon (Rigters 6:34); Jefta (Rigters 11:29); Simson (Rigters 14:6, 19; 15:14-15); Saul (1 Sam. 10:10).

       In teenstelling met Saul, het die Heilige Gees Hom nooit van Dawid onttrek nie ~ Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan (1 Sam. 16:13).

       Dan kry ons nog verder vir Elia (1 Kon. 18:12, 2 Kon. 2:16); Elisa (2 Kon. 2:15); Esegiël (Eseg. 2:2); Daniël (Dan. 5:11); Miga (Miga 3:8); Asarja (2 Kron. 15:1); Sagaria (2 Kron. 24:20).

       Ook het die Heilige Gees op Israel se ouderlinge gerus ~ Die Here het toe in die wolk afgekom, met Moses gepraat en ’n deel van die Gees wat op Moses was, op die sewentig laat kom. Toe die Gees op hulle kom, het hulle as profete begin optree, maar daarna nie meer nie (Num. 11:25). Die Heilige Gees het die Tabernakel oordek (Eks. 40:34), Hy het Israel se Tempel gevul (1 Kon. 8:10). Hy het die volk Israel deur die woestyn gelei (Neh. 9:20; Jes. 63:10).

·         Die duiwel:
       Die Heilige Gees tree op as stuwal om die satan se volle impak teë te hou, asook die sonde wat ons daagliks teister ~ Van oos tot wes sal die Naam en die mag van die Here geëer word. Wanneer die teëstander aanstorm soos ’n rivier, jaag die Gees van die Here hom op loop (Jes. 59:19 – sien ook: 2 Tes. 2:7-14).

·         Die Gees se funksie t.o.v. die Verlosser:
       Die Here Jesus Christus is van die oomblik van “konsepsie” tot en met Sy hemelvaart, deur die Heilige Gees gelei.

-      Die Redder is verwek deur die Heilige Gees ~ Die engel antwoord haar: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God (Luk. 1:35).

-      Christus is deur die Heilige Gees gesalf ~ Julle weet van Jesus van Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het (Hand. 10:38).

-      Die Heilige Gees bemagtig Jesus ~ Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen (Joh. 6:27).

-      Jesus word gelei deur die Heilige Gees ~ Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word (Matt 4:1).

-   Die Gees bekragtig Christus ~ Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom (Matt 12:28).

-      Ons Verlosser was vervul met die Gees ~ Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei (Luk. 4:1).

-      Jesus het in die Gees, emosies ervaar – Hy het hartseer geword ~ Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan (Joh. 11:3). Jesus het Hom in die Gees verbly ~ By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel (Luk. 10:21).

-      Christus offer Homself deur die Gees ~ Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer (Heb. 9:14b).

-      Die Gees wek Christus op uit die dood ~ Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is (1 Petrus 3:18).

-      Christus gee opdragte aan Sy dissipels deur die Gees ~ Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het (Hand. 1:2).

-      Christus gaan weer kom en die dooies opwek uit die dood ~ Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon (Rom. 8:11).

       Uit dit wat ons tot nou gesien het t.o.v. die Heilige Gees se bediening aan die Verlosser, behoort dit baie duidelik te wees dat indien Christus so afhanklik van die Gees was, hoeveel te meer, moet ons nie van Hom afhanklik wees nie!

·         Gawes en vaardighede aan mense:
       Die Heilige Gees verskaf besondere gawes aan die mens ~ Ek het hom toegerus met my Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen (Eks.31:3).

·         Die sondaar:
       Die Heilige Gees oortuig die sondaar van ʼn paar dinge:
-      Van sonde: Die vraag is van watter sonde oortuig die Heilige Gees ons?  ~ Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie (Joh. 3:18). Ons sien derhalwe hier, dat Hy ons nie in die eerste plek oortuig van sonde soos steel, lelik praat ens. nie – nee, Hy oortuig ons primêr daarvan, dat ons Christus se offer op Golgota verwerp – dit is natuurlik dié uitnemende sonde wat skeiding tussen mens en God bring.

       Daar is verskeie Skrifgedeeltes wat vir ons baie duidelik wys op die Heilige Gees se oortuigingswerk – ons sien dit bv. met die mense op Pinksterdag na Petrus se preek en dan lees ons hierdie woorde in Hand.2:41 ~ Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg (Hand. 2:18); die Etiopiese Koopman (Hand. 8:29-38); Saulus van Tarsus (Hand. 9:1-6); die tronkbewaarder in Filippi (Hand. 16:25-34); Felix die Goewerneur (Hand. 24:24-25) en koning Agrippa (Hand. 26:23-28).

-      Hy oortuig ons van Christus se geregtigheid. Die Heilige Gees het die Apostel Paulus gelei om ʼn hele Sendbrief te wy aan die woord “geregtigheid”. In hierdie Sendbrief (Romeine) beklemtoon Paulus, drie dinge:
o   God ís geregtigheid;
o   God vereis geregtigheid;
o   God voorsien geregtigheid.

-      Die Heilige Gees oortuig van die toekomstige oordeel. Hier kan ons o.a. kyk na Joh. 8:44; Rom. 16:20 en Matt. 25:41.

·         Die Kerk:
-      Hy rig die Kerk op ~ Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar mede-burgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon (Ef. 2:19-22).

-      Hy is betrokke by die plaaslike Kerk. Kom ons kyk kortliks na areas in die Plaaslike Kerk waar Hy betrokke is:
o    Hy begeer om die aanbiddingsdiens te inspireer ~ Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie (Fil. 3:3). As beide leraar en lidmaat, die Heilige Gees toelaat, sal hulle die teenwoordigheid en krag van God tydens elke erediens ervaar.

o     Hy wil meewerk in elke gemeente se sendingaksie ~ Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa (Hand. 8:29 – sien ook Hand. 16:6-10).

o     Hy wil betrokke wees in die gemeente se sang ~ ...laat die Gees julle vervul, 19en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here (Ef. 5:18-19).

o     Hy roep en wys die herders van gemeentes aan ~ Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun (Hand. 20:28).

o     Hy salf die leraars ~ Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees (1 Kor. 2:4).

o     Hy waarsku gelowiges ~ Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang (1 Tim. 4:1).

o     Hy veroordeel of seën die gemeente se werk ~ Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.... (Openb. 2:7, 11, 17, 29).

·        Pinksterdag:
       Van al die belangrike geestelike gebeurtenisse deur die geskiedenis van die kerk, was Pinksterdag sekerlik dié mees opspraakwekkende en belangrikste dag. Op hierdie dag het die Heilige Gees Sy grootste en mees verrykende werk verrig, nl. die uitstorting van die Gees en die “lansering” van die Nuwe Testamentiese Kerk (Hand. 2).

·         Die gelowige:
       Ek wil ook hier hê dat ons net kortliks sal kyk na die Gees se betrokkenheid by die gelowige – ek noem enkeles:

-      Met ons wedergeboorte ontvang ons die Heilige Gees as gawe ~ Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees (Joh.3:6 – sien Joh. 3:3-7).

-      Hy woon in die gelowige sondaar ~ As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees (Joh. 14:15-17 – sien ook 1 Kor. 2:12).

-      Hy is in ons harte gegee as waarborg van ons redding ~ God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, 22ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang (2 Kor. 1:21-22).

-      Hy vul die gelowige sondaar ~ Almal is met die Heilige Gees vervul (Hand. 2:4a).

-      Hy gee vreugde aan ons ~ Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee (Rom.14:17). Hieruit volg ʼn sesde funksie...

-      Die Gees bring lewe en vrede – ewige lewe en vrede met God ~ God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Rom.5:1).

       Hierdie eerste ses funksies van die Heilige Gees t.o.v. die gelowige, vind onmiddellik met wedergeboorte plaas. Al ses vind ook plaas na aanleiding van die gelowige se geloof en is hoegenaamd nie afhanklik van jou emosies nie en ons kan nie daarom vra nie.

       Die gelowige kan hierdie funksies van die Gees, nooit “verloor” nie, maar die sewende funksie kan wel verloor word en daarom moet ons telkens daarom vra.

-      Daar is egter ʼn sewende funksie – Ek het gesê dat ons met en deur wedergeboorte, vrede met God ervaar, maar ons ervaar ook die vrede van God wat deur die Heilige Gees in stand gehou word ~ En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Fil.4:7).

Ons kan hierdie funksie, nl. die vrede van God wel verloor en as volg uitbeeld:

Ons weet ook nou al teen hierdie tyd, dat ons die sewende funksie, nl. die “vrede van God” dadelik terug kan kry, deur opregte sondebelydenis én bekering ~ Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 9Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh. 1:7,9).

Nog verdere funksies van die Heilige Gees, is ook dat Hy:
-      ...voortdurend vir ons intree by die Vader ~ Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie (Rom. 8:26).

-      ...ons lei as gelowiges ~ Almal wat hulle deur die Gees van
 God laat lei, is kinders van God (Rom. 8:14).

-      ...ons leer ~ Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie (1 Joh. 2:27).

-      ...gelowiges bekragtig ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom... (Hand. 1:8).

-      ...skenk die liefde van Jesus Christus aan gelowiges ~ ...en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het (Rom. 5:5).

-      ...verander gelowiges na die beeld van Christus ~ ... Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Kor. 3:18).

-      ...versterk ons geloof ~ Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees (Judas 20).

-      ...openbaar Bybelse waarhede aan gelowiges ~ Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God (1 Kor. 2:10).

-      ...verskaf sekerheid van geloof en wedergeboorte ~ Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is (Rom. 8:16).

-      ...verskaf vryheid aan gelowiges ~ ...waar die Gees van die Here is, is daar vryheid (2 Kor. 3:17).

-      ...maak getuies van ons as gelowiges ~ En ons is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat deur God gegee is aan dié wat aan Hom gehoorsaam is (Hand. 5:32).

4.    AFSLUITING:
Ons kan sien watter geweldig belangrike rol speel die Heilige Gees in die lewe van die gelowige, asook die lewe van die Liggaam van Christus en daarom moet ons onsself afvra, of ons regtig die regmatige plek vir die Heilige Gees in ons lewens en in die lewe van ons gemeente gee?


Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 08 Junie2014

Sunday, June 1, 2014

Jesus se Hemelvaart

1.     SKRIFLESING:
       Hand 1:1-11 ~ My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2 tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3 Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4 Terwyl Hy ’n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5 Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” 6 Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” 7 Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” 9 Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10 Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11 Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

2.     INLEIDING:
       Die boek Handelinge is ’n historiese boek wat ’n weerspieëling is van die apostoliese bediening van die vroeë kerk en hierdie geskiedenis strek oor ’n tydperk van dertig tot vyf-en-dertig jaar.

       Die sentrale tema van die boek is die hemelvaart en die Koningskap van Jesus Christus, maar dit gaan ook oor God se voortdurende beskerming van en voorsiening aan die Kerk van Christus. Die boek is geskryf deur Lukas en Handelinge begin waar die Evangelie van Lukas eindig – met die hemelvaart van Jesus.

3.     AGTERGROND:
       Wat ’n gebeurtenis moes hierdie hemelvaart van Jesus nie gewees het nie. Dink julleself in vir ’n oomblik – ’n klompie dissipels wat ’n dekade of twee bykans elke dag saam met Jesus beweeg het; saam met hom geëet en geslaap het; wat Sy wonderwerke aanskou het; wat dag in en dag uit onder Sy lering gesit het; wat Hom aan die kruis as onskuldige sien sterf het; wat die opgestane Christus weer gesien en selfs gevoel het (dink aan die ongelowige Thomas wat sy vinger in Jesus se wonde moes druk voor hy geglo het). Die dissipels wat weer na Jesus se opstanding, saam met Hom geëet het en weer onder Sy lering vir ’n verdere veertig dae gesit het... en skielik verlaat Hy hulle nou. Nee, nog erger, Hy styg in die lug in op – binne in ’n wolk in en toe die wolk verby skuif is Jesus ook weg! Wat ’n ervaring! Wat ’n gesig!

       ’n Mens kan maar net wonder wat in hierdie dissipels se gedagtes aangegaan het, terwyl hulle so na die hemele staar? En tog gee v.10 vir ons ʼn aanduiding van wat in hul gedagtes gemaal het – daar staan... ~ Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk. Hierdie uitdrukking “stip” is in die Grieks, τενίζω [atenizo /at·en·id·zo/], wat daarop dui dat hulle nie in die hemele opgekyk het omdat hulle verwonderd gestaan het oor hierdie wonderwerk nie, maar dit dui eerder daarop dat hulle vir oulaas nog kyk of hulle nie hul Meester dalk nog kan sien nie – nog een laaste kykie, want dalk kan hulle Hom nog net vir ʼn oomblik gadeslaan – hulle kyk stip en met aandag, omdat hulle iemand kosbaars verloor het.

       Terwyl hulle egter nog staan en staar, verskyn daar skielik twee manne met blink klere en hierdie twee manne spreek die dissipels aan deur vir hulle te vra waarna hulle so staar. Dit is asof hierdie twee manne vir die dissipels sê: “You are so heavenly minded that you are no earthly good”.

       Baie duidelik ken hierdie twee manne die antwoord op hulle vraag, want hulle gaan onmiddellik voort deur vir die dissipels in v.11b te sê ~ Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.

       Hier in vv.9-11 is daar drie dinge waaraan ons kortliks aandag moet gee:
·           Die hemel en die wolk:  In v.9 in die NAV staan daar dat Jesus weggeneem is, maar daar staan letterlik in die oorspronklike teks dat Hy opgeneem is en dan sien ons dat die dissipels opgekyk het na die hemel. Dit is dus duidelik dat Jesus in die lug in opgeneem is.

       Dit is verder opmerklik dat die woord “hemel” vier keer in vv.10-11 gebruik word. Lukas wil hierdeur beklemtoon dat die hemel ’n letterlike plek is – ’n letterlike plek waarna Jesus se letterlike, verheerlikte liggaam teruggekeer het – daardie selfde verheerlikte liggaam waarin Thomas sy vingers gedruk het; dieselfde liggaam wat saam met die dissipels ná Sy opstanding geëet het – dit is daardie selfde tasbare liggaam wat na die tasbare hemel opgevaar het.

       Nog iets wat belangrik is om op te let, is die feit dat die woord, “opgeneem is” – in die passiewe werkwoordsvorm geskryf is, wat daarop dui dat God die Vader, die Een is wat Jesus opgeneem het in die hemel en dat dit nie Jesus self was wat in eie krag en op eie inisiatief opgevaar het nie. Dit is waarskynlik dan ook waarom Jesus in ’n wolk verdwyn het, want ons lees op verskeie plekke in die Woord dat wolke gewoonlik God se hemelse heerlikheid verberg het.  Dink bv. aan die keer toe Petrus, Jakobus en Johannes saam met Jesus in die Tuin van Getsemane was en Moses en Elia aan hulle verskyn het en Petrus vir hulle hutte wou bou om in te bly en dan lees ons in v.5 van Matt.17 ~ Terwyl hy nog praat, het ’n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ’n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom” (sien ook 2 Pet.1:17 en Eks.40:34-35).

·           Wie was hierdie manne in wit klere?  ’n Tweede vraag waarna ons ook moet kyk, is wie hierdie manne was wat in wit geklee was en wat aan die dissipels verskyn het, terwyl hulle stip na die hemel gestaar het? Dit is baie duidelik dat hierdie manne engele was wat deur God gestuur was. Hier is sterk ooreenkomste met bv. die twee engele wat op Paassondag by die leë graf van Jesus aan Maria Magdalena en die ander vroue verskyn het ~ Hulle het nie geweet wat om daarvan te dink nie. Meteens staan daar by hulle twee manne met blink klere aan (Luk.24:4). Ons weet ook al teen hierdie tyd dat wit, reinheid en vreugde simboliseer.

       Hierdie engele was nie gestuur om die dissipels tereg te wys nie, maar om te openbaar. Die engele vra die elf dissipels (onthou: Judas was reeds dood en nie meer deel van die binnesirkel van Jesus se dissipels nie en daar was ook nog nie ’n nuwe dissipel in Judas se plek aangewys nie) – hierdie engele vra hulle, waarom hulle die hemel so instaar, want hulle wou nie die dissipels hieroor tereg wys nie, maar hulle juis bemoedig en moontlike droefheid verander in vreugde, deur die Elf te verseker dat, al het Jesus opgevaar na die hemel, Hy hulle steeds sal lei om hul opdrag – hul roeping te vervul, deur o.a. van Jesus se wederkoms te getuig.

       Hierdie gerusstelling was nodig, omdat Jesus in Matt.28:20 belowe het dat Hy by hulle sal bly tot die voleinding van die wêreld en daarom beklemtoon die engele die feit dat Jesus, net soos wat Hy nou weggegaan het, weer op dieselfde wyse sal terugkeer. Die engele het met hierdie aankondiging nie nuwe openbaring met hulle gedeel nie, want in Joh.16:16 het Jesus alreeds gesê ~ Nog ’n klein rukkie, dan sien julle My nie meer nie; en weer ’n klein rukkie, dan sal julle My weer sien. In Joh.1:4-5 sien ons ook hoedat Jesus, hulle hierop voorberei het en vir hulle gesê dat hulle nie alleen sou wees na Sy hemelvaart nie ~ Terwyl Hy ’n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5 Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word en in Joh.16:7 het Jesus, hulle ’n verdere versekering gegee dat hulle nie alleen sou wees nie en dat dit beter vir hulle sou wees as Hy teruggaan na Sy Vader ~ Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.

4.     IMPLIKASIES:
       Ons het die afgelope Donderdag Jesus se hemelvaart gedenk, en ons het gesien dat Sy hemelvaart ’n geweldige impak op Jesus se agtergeblewe dissipels gehad het, maar ook ’n geweldige impak op die vroeë kerk. Die vraag is derhalwe, watter impak en toepassing het Jesus se hemelvaart op ons vandag? Ek wil dit graag onder die volgende ses punte hanteer:
·         Skeiding;
·         Vervulling;
·         Verheerliking;
·         Bevestiging;
·         Verandering;
·         Verwagting.

·           Skeiding:
       Alhoewel die hemelvaart van Jesus ’n fisiese skeiding tussen Hom en Sy dissipels (onthou: dissipels impliseer nie net die Elf nie, maar al Sy volgelinge op daardie stadium) gebring het, moes dit menslik gesproke ’n geweldige slag vir hulle gewees het en soveel te meer vir die binnekring van Jesus se dissipels, nl. die Elf wat nou die Apostels sou word. Hulle het daagliks na Jesus se lering geluister; hulle het wonderwerke ervaar – siekes het gesond word, dooies het opgestaan uit die dood; vissies, brood en wyn is vermeerder; hulle geestesoë is verlig; hul lewens het radikaal verander; hulle het ervaar hoe verskeie profesieë vanuit die Ou Testament vervul is, maar bowe al het hulle die opgestane Jesus na Sy kruisiging gesien en gehoor – wat ’n lewensveranderende ervaring moes dit nie vir hierdie mense gewees het nie – en nou? Nou skielik is Jesus weg – Hy is van hulle geskei. En tog – tog lees ons nêrens dat enige een van hierdie mense gehuil of gerou het oor Sy “weggaan” nie. Waarom was dit moontlik? Omdat Hy in o.a. Matt.28:20 vir hulle gesê het ~ En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. Die dissipels het Jesus geglo en daarom het hulle ook hierdie spesifieke uitspraak geglo en treur hulle nie, maar wag hulle in opgewondeheid vir die vervulling van hierdie belofte en net so wag ons saam met hulle daarop.

·           Vervulling:
       Tweedens sien ons in die Hemelvaart, die vervulling van dít waarvoor die Here Jesus na die aarde gekom het. Die Hebreërskrywer vat dit mooi saam in Hebr.1:3 wanneer hy sê ~ Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.       

       In Matt.20:28 het Jesus self gesê, dat Hy ...nie gekom (het) om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.

       Gedurende die veertig dae tydperk tussen Jesus se kruisiging en Sy hemelvaart het Hy juis verskeie kere getuig dat Sy kruisdood en opstanding, die vervulling van verskeie Ou Testamentiese profesieë was. Hy het selfs Sy dissipels in Matt.24:25-27 berispe oor hul gebrek aan insig ~ Toe sê Hy vir hulle: “O, hoe sonder begrip en traag van hart is julle, dat julle nie alles wat die profete gesê het, glo nie! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in Sy heerlikheid in gaan nie?” Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê (ADV 2014 = Afrikaanse Direkte Vertaling).

       Na die hemelvaart het Petrus verskeie preke gepreek waarin hy die ooreenkoms tussen die koms van en gebeurtenisse rondom Jesus en veral die kruisiging en opstanding, en die vervulling van Ou Testamentiese profesieë aangetoon het.  Hier kan ons bv. verwys na Hand.2 waar hy getuig oor Dawid se profesie t.o.v. Jesus se koms en Middelaarswerk en dan sê Petrus veral die volgende van Dawid in Hand.2:30-33 ~ Maar hy (dit is Dawid) was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge (dit is Jesus) op sy troon sou sit. 31 Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê: Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie. 32 God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. 33 Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor.

       Baie jare later het Paulus die Sinagoge toegespreek en die volgende gesê ~ Die inwoners van Jerusalem en hulle leiers het vir Jesus nie erken nie. Deur Hom te veroordeel het hulle die uitsprake van die profete, wat elke Sabbatdag voorgelees word, in vervulling laat gaan (Hand.13:27). Ook Paulus het dus getuig t.o.v. die vervulling van die Ou Testamentiese profesieë.

       Hierdie vervulling van die Ou Testamentiese profesieë skenk aan ons soveel sekuriteit, omdat ons, bo en behalwe dat die Heilige Gees in ons harte daaroor getuig, ons verdere bevestiging ontvang dat die Woord met al sy beloftes, inderdaad waar is!

·           Verheerliking:
       In radikale teenstelling met die koms, of te wel die vleeswording van Jesus, waar Sy heerlikheid nog grootliks verborge was, het ons Here Jesus Christus met Sy hemelvaart, opgevaar in prag en glans en in majesteit en heerlikheid, daarom dat Paulus in Fil.2:9-10 gesê het ~Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11 en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. Christus Jesus het in ’n verheerlikte liggaam opgestaan uit die dood en Hy is verheerlik deur die Vader met Sy hemelvaart.          

       Ons Verlosser is verheerlik – Hy is Koning van alle konings en Heerser oor alle heersers!

·           Bevestiging:
       Die hemelvaart van Jesus was ’n bevestiging van wie Hy is, asook van Sy werk wat Hy hier op aarde kom doen het – van Sy roeping en sending dus. Christus het terug gekeer na Sy Vader en daarmee het Hy Sy aanspraak bevestig dat Hy van die Vader gekom het ~ ...want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. 28 Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe (Joh.16:27-28).

       Alhoewel daar nie veel mense was wat Jesus se vleeswording – Sy geboorte vanuit die maagd Maria, kon bevestig nie, was Sy hemelvaart tasbaar sigbaar vir Sy volgelinge – en net so gaan ons Hom ook eendag weer sien kom – tasbaar, reël en fisies!

       Die hemelvaart van Christus is verder ook ’n bevestiging van ons geloof en verlossing, asook die hoop wat ons het in en deur Christus Jesus – dit was dus ’n bekragtiging van die afhandeling van ons verlossing en wedergeboorte ~ Dit is waar Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan het en Hoëpriester vir ewig geword het volgens die orde van Melgisedek (Hebr.6:19-20 - ADV).

·           Verandering:
       Die hemelvaart van Christus, dien as skakel tussen die werk van Christus in ons redding en in ons verandering deur heiligmaking – daardie fase tussen die Evangelies en die Sendbriewe; tussen wat deur Jesus bewerkstellig is en wat Hy steeds in ons lewens doen deur Sy Gees.

       Die hemelvaart dui ook vir ons ’n verandering aan in Christus se bediening. Op aarde het Jesus Sy roeping aan die kruis voltooi, maar nou na Sy hemelvaart is Hy ons simpatieke Hoë Priester wat empatie met ons het, omdat Hy tydens Sy aardse bestaan alles en nog veel meer ervaar het as ons – pyn, lyding, versoeking, vervolging, verwerping, ja selfs die dood ~ Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15 Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16 Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Hebr.5:14-16).

·           Verwagting:
       Laastens skep die hemelvaart by elke gelowige, ’n verwagting, omdat ons weet dat Christus verseker gaan terugkeer, want in Hand.1:11 het die engele van God vir ons die versekering gegee dat Hy gaan terugkeer, net soos wat Hy in die hemel opgeneem is. Johannes skryf daarvan in Openb.1:7 ~ Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker!  Jesus het self ook van Sy terugkeer gepraat, toe Hy in Matt.17:5 gesê het ~ Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit.

       Wanneer Christus weer kom, gaan Hy vir ewig regeer en ons gaan Hom dien.  Daniël getuig hiervan in Dan.7:13-14 ~ My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 14 Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie.

5.     AFSLUITING:
       Ons moet nooit Christus se hemelvaart sien as die afsluiting van Sy lewe en bediening nie, maar wel die inleiding en ontsluiting van ’n nuwe era waar Hy deur die werking van die Gees, in en deur Sy Kerk (Sy Bruid – ons) bedien.

       Niemand weet wanneer Christus weer gaan terugkeer nie – Jesus het self in Mark 13:32 gesê ~ Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. Elkeen van ons moet egter met ’n verwagting leef – ’n verwagting dat Christus dalk selfs nog in ons leeftyd kan kom. Hoor wat sê Paulus t.o.v. hierdie verwagting ~ Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13 Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14 Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie (Rom.13:12-14).


       Die belofte dat Christus gaan terugkeer – en dalk nog in ons leeftyd, moet aan ons die motivering verskaf om Hom te dien. In Openb.22:12 het Jesus gesê ~ Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. In die lig van Christus se naderende terugkeer, moet ons Hom met oorgawe dien en elke oomblik gereed wees vir Sy terugkoms, want Hy kom, soos Hy waarsku in Openb.16:15, dat Hy gaan kom soos ’n dief in die nag en dan sal 2 Kor.5:10 waar word ~ Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 01 Junie2014