Monday, October 24, 2011

Die Evangelie van Johannes - 09 (Die Vader het GEGEE!)

1.     SKRIFLESING: 
Joh.3:1-21 ~ Daar was ’n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ’n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”  3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”  4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?”  5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”  9Nikodemus vra Hom toe: “Maar hoe is dit moontlik?”  10En Jesus antwoord hom: “Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? 11Dit verseker Ek jou: Ons praat oor wat ons weet, en ons getuig oor wat ons gesien het, en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie. 12Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? 13Niemand op die aarde was al in die hemel nie behalwe Hy wat uit die hemel gekom het, naamlik die Seun van die mens. 14Moses het die slang in die woestyn hoog op ’n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, 15sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.  16“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 19En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 20Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 21Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.”   

2.     INLEIDING:
In ons gelese gedeelte vind ons die hele kwessie van wedergeboorte.  Johannes benader hierdie lewensbelangrike onderwerp aan die hand van ’n gesprek wat tussen Jesus en Nikodemus gevoer is.  Eerstens fokus Johannes ons aandag op die wanbegrip t.o.v. redding waaronder Nikodemus verkeer.  Daarna verduidelik Jesus aan Nikodemus wat die wedergeboorte behels en laastens kry ons ’n kykie in Nikodemus se nuutgevonde begrip van God en wat die wedergeboorte behels.

3.    WEDERGEBOORTE – VERWARRING (vv.1-13):
Ons het verlede week gesien dat Jesus in Jerusalem was vir die Paasfees.  Een van die mense wat na Jesus gekom het gedurende daardie tyd, was ’n man met die naam van Nikodemus.  Hy was ’n belangrike Jood, omdat hy ’n Fariseër en lid van die Joodse Raad (of te wel die Sanhedrin) was.  Hy het oor deeglike kennis van God se Wet beskik en hy was uiteraard ’n toegewyde godsdienstige man.  Ons sal hom nog twee maal ontmoet en elke keer is dit wanneer Jesus Hom nodig het (7:50-52 en 19:39-40).  Hy kom in die nag na Jesus toe, waarskynlik omdat hy bang is dat sy mede-Jode hom sal sien, of omdat hy graag baie tyd op hande wou hê om ’n behoorlike in-diepte-gesprek met Jesus te kon hê.  Daar is mense wat sê dat die taal wat Johannes hier gebruik, simbolies van aard is, omdat dit gaan oor iemand wat in die duisternis was en uiteindelik na die Lig gekom het.  Ons kan egter nie so met die Woord omgaan, deur alles te wil allegoriseer nie.

Nikodemus moes baie beïndruk gewees het met Jesus, want hy noem Hom enersyds "Rabbi" en "Leermeester" en andersyds verwys hy na Jesus se indrukwekkende wonderwerke.

U sal egter onthou dat ek verlede week gesê het, dat baie mense in Jesus geglo het (eintlik moet ons sê:  aan Jesus geglo het), nie op grond van wie Hy was nie, maar op grond van dit wat Hy gedoen het en dat Jesus Homself op grond hiervan, nie aan hulle toevertrou het nie, want hulle wou net ’n aardse koning gehad het – ’n leier wat hulle van Romeinse onderdrukking kon bevry.  Nikodemus was een van hierdie "ongelowige-gelowiges", maar tog!  Hy wonder tog!  Hy wonder tog of Jesus nie tog dalk die Messias, die Seun van God is nie, want hy sê dat iemand wat hierdie wondertekens kan doen, van God móét wees.  Punt is – Nikodemus wil meer van Jesus weet.  

Nog iets interessants wat vir ons in v.2 na vore kom, is die feit dat Nikodemus sê ~ Rabbi, ons weet...  Ons – hy moes dus namens ander Fariseërs ook gespreek het – Fariseërs wat soos hy voel – Is dit nie dalk tog die Messias hierdie nie? 

Jesus speel egter nie speletjies met Nikodemus nie en Hy sê koelkop reguit vir hierdie Fariseër, dat hy indien hy vir Jesus Leermeester noem, moet hy nou baie mooi luister, want hy verstaan nie mooi nie.  Jesus sê reguit vir hom, dat hy wedergeboorte kortkom – wedergeboorte wat net die Heilige Gees kan bewerkstellig (sien Titus 3:5-7). 

Jesus sê dus vir Nikodemus dat hy wat Nikodemus is, nie op grond van sy "Joodskap", of sy Fariseërskap, gered kan word nie, maar soos wat Paulus dit in Gal.6:15 stel ~ Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is.

Kom ons kyk net weer presies wat Jesus vir Nikodemus gesê het in v.3 ~ Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.  Die woord "opnuut" is in die Grieks, ἄνωθεν (anothen) en in die Grieks het dit ’n dubbelsinnige betekenis.  Die woord kan aan die een kant, "opnuut" of "weer" beteken, óf aan die ander kant kan dit "van bo" beteken.  Nikodemus verstaan Jesus se gebruik van hierdie woord op die eersgenoemde manier ~ Nikodemus, jy moet weer ’n keer gebore word.  Terwyl Jesus die tweede betekenis bedoel het, nl. ~ Nikodemus jy moet van bo gebore word.  Juis hier lê Nikodemus se probleem – hy verstaan Jesus verkeerd, want hy dink dat wat Jesus sê, onsinnig is – hoe kan ’n volwasse man dan tog weer terug keer na sy "moederskoot"!  Jesus laat Hom egter nie van stryk bring nie en Hy herhaal weer wat Hy pas vir Nikodemus gesê het, met ’n effense wysiging in woordgebruik, deurdat Hy die woord "van bo" of te wel "opnuut", vervang met "water" en "Gees" ~ Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.

Daar word baie bespiegel oor wat Jesus werklik hier bedoel het.  Met die uitdrukking "Gees" kan daar min twyfel bestaan – Jesus verwys hier na die Heilige Gees, want direk nadat Jesus Nikodemus weer geantwoord het, praat Hyself van die Heilige Gees wanneer Hy in vv.6-8 sê ~ Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”  Jesus sê dus vir Nikodemus, dat die mens slegs deur die werking van die Heilige Gees weergebore kan word.

Wat die uitdrukking "water" betref wat Jesus hier gebruik, is die mees aanvaarbare verklaring dat "water" hier verwys na presies dieselfde as "Gees".  Kom ek verduidelik dit:  In die Rabbynse geskrifte word daar verwys na water of reën, of dou, of ’n druppel, wanneer daar verwys word na manlike semen.  Dit gaan dus hier om die verwekking van lewe en omdat die woord "water" hier saam met die "Gees" gebruik word, dui dit op nuwe lewe wat geskep word deur die Gees – dit dui dus op geestelike wedergeboorte.  Om dus te sê dat iemand uit water en Gees gebore (moet) word, is dus presies dieselfde as om te sê dat iemand deur die Gees wederbaar moet word.   Ons moet onthou dat Nikodemus gewoond was daaraan om op hierdie wyse te praat en daarom het hy Jesus onmiddellik verstaan, alhoewel nog nie geweet het hoe dit "werk", of hoe dit gebeur nie.

Jesus verduidelik verder aan hom hoe dit gebeur, deur die proses met die wind te vergelyk – ’n mens hoef nie te weet waar die wind vandaan kom, of waarheen dit waai nie en die feit dat jy die wind teen jou liggaam voel is ook nie afhanklik daarvan of jy kan verklaar hoe dit "werk" nie.  Nee, die wind waai waar hy wil; wanneer hy wil en hoe hy wil.  Dit is presies hoe die Heilige Gees ook werk.  Jy hoef nie alles t.o.v. die Heilige Gees te kan verklaar, voor Hy met jou begin werk nie.  Jy moet jouself net in afhanklikheid en geloof tot beskikking stel van die Gees.

Nikodemus sê egter steeds dat hy nie verstaan nie.  Jesus is amper sarkasties in sy reaksie wanneer Hy sê ~ Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie?  Nikodemus, jy wat andere leer van die geestelike en jy weet nie – jy verstaan nie?  Dit is baie duidelik dat die leermeester van die volk nie die mees elementêre kennis t.o.v. die weg na saligheid ken nie.

Nikodemus beskik oor al die kennis van die Ou Testament en hy weet wat Johannes die Doper alles oor Jesus gesê het.  Hy het gehoor wat Jesus alles gepreek het tot nou en hy het selfs van Jesus se wonderwerke gesien, of ten minste daarvan gehoor – en tog verstaan hy nie; tog glo hy nie.

Wanneer Jesus Hom die keer antwoord, gebruik Hy vir ’n derde keer in hierdie gesprek die uitdrukking ~ Dit verseker Ek jou  (vv.3 en 5.  In die O.A.V. staan daar ~ Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou).  Jesus sê dus vir Hom, dat hy wat Nikodemus is, al hierdie dinge ken, gehoor en gesien het en steeds verstaan hy nie.  Daarom dat Jesus sê ~ ....en tog aanvaar julle nie ons getuienis nie.  Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek vir julle van die hemelse vertel? (vv.11-12).

Jesus maak dit in v.13 baie duidelik dat Hy met gesag praat en dat Hy met gesag mág praat, want Hy was in die hemel en Hy het uit die hemel gekom, omdat Hy die Seun van die mens is.  Hy weet dus waarvan Hy praat omdat Hy teenwoordig was in die hemel, toe God die besluit geneem het om Hom wat Jesus is, na die wêreld te stuur ten einde die sonde van die mensdom op Hom te neem.

4.    WEDERGEBOORTE – VERDUIDELIKING (vv.5-8; 14-15):
Jesus gee egter nie moed op met Nikodemus nie en Hy gaan voort deur vir hom die wonderlike weg tot saligheid te verduidelik. 

Onthou, Jesus het begin deur vir Nikodemus ’n fisiese voorbeeld te gee van hoe iemand wederbaar kan word, toe Hy gesê het dat dit net deur die Heilige Gees se ingrepe moontlik is – uit water en die gees. (vv.5-7).

Daarna het Hy vir hom m.b.v. ’n voorbeeld uit die natuur verduidelik dat die Heilige Gees soos die wind te werk gaan wanneer Hy iemand wederbaar – net soos wat ons nie weet waar die wind vandaan kom nie, net so kan ons nie die werking van die Heilige Gees in wedergeboorte verstaan nie.

Jesus gaan egter nou verder in vv.14-15 deur aan Nikodemus ’n Bybelse voorbeeld te gee en Hy doen dit deur ’n bekende verhaal uit die geskiedenis van Israel aan Nikodemus voor te hou.  Hy vertel vir hom van die koperslang soos verwoord in Num.21:4-9.  Destyds was die Israeliete geteister deur giftige slange wat God gestuur het, omdat die volk ongeduldig met God en Moses geraak het en hulle God en Moses verwyt het.  Moses het opdrag van God ontvang om ’n koperslang op ’n paal te sit en diegene wat na die slang kyk sou in werklikheid ’n nuwe kans gekry het op lewe.

Jesus sê nou hier in v.14b, ...net so moet die Seun van die mens verhoog word.

Wat bedoel Jesus met hierdie verhaal van die koperslang en die feit dat Hy sê dat ook Hy, net so "verhoog" moet word?  Hy wil daardeur vir Nikodemus sê dat Hy wat Jesus is, op dieselfde wyse "aan ’n paal" opgelig moet word (die kruis) en dat almal wat na Hom sal kyk, gered sal word, m.a.w. om Jesus se woorde in v.15 te gebruik ~ ...sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.  Sonder die kruis van Jesus, is verlossing; is wedergeboorte; is ’n ewige lewe dus nie moontlik nie.

Ons sien dus dat in beide die verhaal van die koperslang en dit wat Jesus by implikasie sê van Sy eie kruisiging, dood die gevolg van sonde is.  Die Israeliete sondig deur te kla en te verwyt – hulle sterf deurdat giftige slange hulle pik.  Die mensdom sondig en daarom moet hulle ook sterf – ’n ewige dood weg van God in die hel.

Daar kom egter redding vir die volk Israel in die vorm van die koperslang en elkeen wat na die koperslang kyk ontvang lewe. 

Omdat Jesus die mense wat uiteindelik in Hom sal glo se sonde geheel en al op Hom neem, moet Hy sterf aan die kruis en elkeen wat "na Hom kyk" (m.a.w. in Hom glo) ontvang ook die lewe – die ewige lewe, soos wat Jesus in v.15 dan ook sê.

5.    WEDERGEBOORTE – VERVOLMAKING (16-21):
In v.16 sien ons dat die enigste rede waarom God daarin belangstel om ’n sondige wêreld nog ’n kans te gee, is omdat Hy die wêreld liefhet.  God die Vader kom dus vorendag met ’n laaste kans vir die mensdom om die ewige lewe te kan ontvang, deur ’n volmaakte plan vir wedergeboorte van stapel te stuur.

Hoe gebeur dit?  Daar is twee Persone betrokke by die mens se wedergeboorte.  God die Vader gaan eerstens oor tot aksie, deur Sy enigste Seun te gee.  Hier, soos in vv.14 en 18 sien ons dat Jesus uniek is en dat daar niemand anders soos Hy is nie – Hy is van God – Hy is self God.  Omdat Hy dan self God is, is Hy heilig en sonder sonde – vlekloos en derhalwe die enigste wat ’n volmaak aanvaarbare offer aan God kan bring.  Hierdie behoort vir ons ’n baie duidelike bewys te wees van hoe ernstig God die Vader werklik oor Sy kinders voel.

God is dus die skepper of outeur van ’n verloregaande wêreld se redding, deurdat Hy, gedring deur Sy liefde, ’n middel daarstel om versoening te bewerkstellig tussen Hom en die mensdom wat hul rug op Hom gedraai het en vasgevang is in hul sonde en derhalwe verlore is.  Die inisiatief kom dus van Hom, want in geen mens bestaan die wil of die begeerte om hom na God te draai nie – dit is waarskynlik die toppunt van genade – God reik uit na die mens en nie andersom nie, trouens, nooit andersom nie!

Jesus is egter ook bereid om Sy lewe af te lê vir ’n verloregaande wêreld en so word Hy die middel of die Middelaar deur wie die mensdom (uitverkorenes) gered kan word.  Jesus het self in Joh.10:11 gesê ~ Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 

Soos wat die koperslang in die woestyn lewe aan die Israeliete wat daarna gekyk het, geskenk het, so skenk die Vader die ewige lewe/wedergeboorte/redding aan elkeen wat hul oë in geloof op die gekruisigde EN verrese Jesus Christus vestig.

Dit is belangrik om op hierdie stadium dit te benadruk, dat die kruis nié die simbool van Jesus se liefde vir ons is, soos so baie mense glo nie. Nee, die kruis is simbool van God die Vader se liefde vir ons. Die bekende woorde van Paulus in Gal.2:20 bevestig hierdie feit vir ons ~ ...en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.  Redding en wedergeboorte spruit dus voort vanuit God die Vader se liefde vir ons.  Hierdie liefde van die Vader was duur vir Hom, want Hy moes Sy Seun aan die dood afstaan, sodat ons gered kon word.  Jesus se kruisdood vestig ons aandag dus op die Vader se liefde vir ons.

Wat is die kruks – die hart van die Evangelie?  Dit is nié "God is liefde nie", maar "God het só lief gehad, dat Hy gegee het...".

In v.17 kom Johannes nou en hy verskaf aan ons die doel met Jesus, die Seun van God, se sending na hierdie wêreld en ons sien dat daar ’n tweeledige doel is, nl. dat nié is om sondaars te veroordeel nie.  In v.17a sê Johannes ~ God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie.  As ons egter Skrif met Skrif vergelyk, vind ons in Joh.9:39, bykans die teenoorgestelde van wat hier in v.17 staan ~ En Jesus sê: Tot ’n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom (O.A.V.).  Hoe moet ons hierdie oënskynlike teenstrydigheid verstaan?  Ons moet verstaan dat redding, tog oordeel impliseer.  Met ander woorde, indien iemand nie gered word nie, gaan hy geoordeel word.  Jesus het gekom om redding te bring, maar die feit dat redding beskikbaar is vir almal wat glo, impliseer dus veroordeling vir die wat nie glo nie.  Hierdie is ’n harde realiteit en Johannes wil nie hê dat hierdie feit by ons verby moet gaan nie. Hierdie is m.a.w. twee kante van een en dieselfde muntstuk. 

Wat Johannes dus vir ons hier in v.17a wil sê, beklemtoon hy in v.17b, wanneer hy sê ~ maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word...  Die primêre doel met Christus se koms na hierdie wêreld was dus om te red – dít is waarop die fokus moet val, alhoewel die teenoorgestelde, nl. oordeel vir ongelowiges, nie hiermee "van die tafel gevee" word nie.

In v.18 beklemtoon Johannes die belangrikheid van geloof in die reddingsproses – hy sê ~ Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie...  Jesus het dus vir sondaars gesterf, maar dit bring nie outomaties redding nie, want as dít die enigste voorwaarde vir wedergeboorte van mense was, sou alle mense gered wees.  Johannes stel dit egter baie duidelik dat niemand gered sal word, as hy nie glo nie.  Dit is presies hier waar die "skape van die bokke geskei" word.  Jesus sterf, maar almal glo nie en daarom word almal nie gered nie, maar slegs diegene wat glo. Wat gebeur met iemand wat nie glo nie?  Vers 18b ~ So iemand is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.  ’n Ongelowige veroordeel homself dus!

Gepraat van "skape en bokke" – Johannes verduidelik in die laaste verse van hierdie gedeelte, wat die gevolge is vir diegene wat glo in Christus en diegene wat Hom verwerp.  Hy sê dat, ten spyte van die feit dat Jesus (in hierdie geval die Lig) na die wêreld gekom het, kies die mens steeds om eerder die duisternis lief te hê en derhalwe nié in Christus te glo nie.  Sulke mense wil nie in die Lig wandel nie, want dan word hulle duistere en sondige dade onder die soeklik geplaas vir almal rondom hulle om te sien en sal hulle die gevolge van hul verkeerde dade moet dra.

Gelowiges daarenteen, wandel volgens die waarheid  en soek die Lig op, omdat dit enersyds nie ’n bedreiging vir hulle is nie, want wanneer hulle in die Lig is, sien almal hulle dade van gehoorsaamheid aan God.  Dit beteken dat almal sal kan sien wat hulle doen.  Hulle sal nie konkel of kul nie.  Hulle sal in gehoorsaamheid aan God doen wat Hy vra. 

Daarom geliefdes, is jou lewe; jou spreke en jou denke, eintlik ’n barometer van jou verhouding met God?
 
6.    AFSLUITING:
Is Nikodemus ooit aan die einde gered?  Ons kan waarskynlik so ’n afleiding maak! Joh.19:39 ~ Nikodemus, wat ’n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ’n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.  41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was. Nikodemus bring olies en salf die liggaam van Jesus en help verder vir Josef van Arimatea, om Jesus te ruste te lê.

Hierdie wonderlike gesprek tussen Nikodemus en Jesus moet altyd vooropstaan in ons gedagtes, want dit herinner my daaraan om voortdurend eer aan God te bring vir Sy genade – vir die genade dat Hy oorgegaan het tot aksie om Sy Seun te stuur ten einde versoening te kom bewerkstellig tussen my en Hom.  Ons moet Hom voortdurend dank vir die genade van geloof wat Hy aan onsgeskenk het.  Ons moet Hom voortdurend eer déúr ons lewe, omdat Hý die inisiatief geneem het om ons te red.  Mag dit ook die boodskap wees wat in ons harte leef en wat ons met ’n verloregaande wêreld wil deel, nl. dat God nie sy Seun na die wêreld gestuur (het) om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.  Verder ook, dat ...wie in Hom glo, nie veroordeel (sal word) nie.  Daarmee saam móét ons egter ook ’n verloregaande wêreld waarsku, deur vir hulle te sê dat diegene ...wie nie glo nie, reeds veroordeel (is) omdat (hulle) nie in die enigste Seun van God glo nie (vv.17-18).


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 23 Oktober September 2011

Sunday, October 16, 2011

Die Evangelie van Johannes - 08 (Jesus en die Tempelreiniging)

1.     SKRIFLESING: 
Joh.2:13-25 ~ Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 14Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. 15Toe het Hy met toutjies ’n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. 16Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie.” 17Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.” 18Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?” 19Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.” 20Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?” 21Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. 22Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo. 23Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. 24Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. 25Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ’n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.

2.    INLEIDING:
In hierdie laaste gedeelte van Johannes se Evangelie, kry ons te doen met Jesus en sy eerste besoek aan Jerusalem vir die Paasfees, nadat Sy aardse bediening amptelik van stapel gestuur is.  Hy reinig nie alleen die tempel in hierdie gedeelte nie, maar Hy verwys terselfdertyd na Sy eie vleeslike tempel.  En laastens in hierdie gedeelte kry ons te doen met ’n baie interessante en bykans vreemde gebeurtenis, nl. dat mense in Jesus geglo het, maar Hy het Homself nie aan hulle toevertrou nie, omdat Hy hulle harte geken het (O.A.V.).

Net voor ons egter in meer detail na hierdie gedeelte kyk, net ’n bietjie meer agtergrond inligting:
Een van die grootste verskille t.o.v. die reiniging van die tempel tussen Johannes en die ander Evangelies lê op die vlak van chronologie, m.a.w. die tyd gedurende Jesus se bediening waarop hierdie gebeure homself af gespeel het.  In Johannes blyk hierdie optrede van Jesus, Sy eerste groot openbare optrede te gewees het, terwyl in die ander Evangelies is hierdie die heel laaste openbare optrede van Jesus wat dan ook waarskynlik die "laaste strooi" vir die hoë priesters was en wat gelei het tot Jesus se arrestasie en uiteindelike kruisiging.

Daar is teoloë wat beweer dat daar meer as een voorval was waartydens Jesus die tempel gereinig het, maar so ’n verklaring berus uit en uit op bespiegeling, omdat daar geen getuienis is vir so ’n verklaring nie.  Die mees aanvaarbare verklaring vir hierdie oënskynlike weerspreking van die Evangelieskrywers en dan spesifiek Johannes wat die enigste een is wat "afdwaal" van die korrekte chronologiese opeenvolging van gebeure, is dat Johannes meer geïnteresseerd is in die teologiese aspek van hierdie gebeurtenis, eerder as die chronologiese.  Omdat hierdie gebeurtenis so ’n belangrike teologiese betekenis inhou, plaas Johannes dit dan aan die begin van Jesus se openbare optredes.

3.    JESUS SE REINIGING VAN DIE TEMPEL:
In vv.13-20 kry ons te doen met Jesus se reiniging van die tempel.  Ons sien dan in v.13 dat dit die Paasfees was (die tiende van die maand Abib – naastenby die einde van ons Maart) en dat dit verwag was van elke manlike Jood, bo die ouderdom van 12 om hierdie besondere fees in Jerusalem by te woon.  Die doel met hierdie fees was natuurlik om die volk Israel se verlossing uit Egipte te gedenk.  Gedurende die Paasfees, tussen drie uur en ses uur die middag, is daar ’n eenjarige lam sonder gebrek geslag en geoffer.

Ons sien dan ook dat Jesus na die Paasfees gaan – die Lam van God gaan om die Paasfees te vier – ’n voorafbeeld van Sy eie dood wat ’n tyd later sou plaasvind!

Omdat die feesgangers net ’n goedgekeurde lam vir die offer moes gebruik en bepaalde voorgeskrewe Tempelfooie betaal moes word, het ’n klomp entrepreneurs die geleentheid uitgebuit om "aanvaarbare" offerdiere, asook die regte munte te voorsien.  Hierdie tyd van die jaar, het hulle vooruitstrewende besighede by die tempel, bedryf.  Hierdie bedrywighede het in die Tempelplein plaasgevind wat om die Tempel geleë was - dit het ook bekend gestaan as die Plein van die heidene. 

Mettertyd het hierdie praktyk korrup geraak en het die besoekende pelgrims ’n primêre bron van inkomste vir die entrepreneurs, maar ook vir die stad se geldkoffers geraak.  Hoe meer geld daar gemaak is, hoe verder is opregte aanbidding op die agtergrond geskuif.

Met hierdie praktyke, of misbruike van die tempel, asook die miskenning en afwatering van die paasfees, het Jesus ’n groot probleem gehad, want Hy het juis na hierdie wêreld gekom, ten einde hierdie wêreld te hervorm en Hy het terselfdertyd van elkeen wat na Hom sou kom, verwag om in ooreenstemming met Gen.35:2, hul harte en lewens te hervorm ~ Toe sê Jakob vir sy hele huis en vir almal by hom: “Haal uit al die afgodsbeelde wat by julle is. Reinig julle en trek ander klere aan...".

Jesus maak vir Homself ’n sweep en hy jaag al wat entrepreneur is uit die tempelplein, asook die skape en beeste en die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond uitgegooi.  Vir die duiwehandelaars (offerdiere vir die armes) gee Hy opdrag om hul kratte met duiwe te verwyder.  Deur hierdie optrede het Hy ondubbelsinnig Sy misnoeë bekend gemaak met die feit dat mense wêreldse voordeel en winste gemaak het uit godsdiens, daarom dat Hy vir hulle sê ~ Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie. 

Waarom het Jesus so oor die huis van God gevoel?  Die aandag is van die primêre doel met die byeenkoms in God se huis getrek – die sekulêre is dus verhef bo die heiligheid van God.  Voorts was die fokus nie meer primêr op God gerig nie.  Laastens was dit Sy Vader se huis en daarom het dit Hom direk geraak wat daar aangaan, maar omdat dit Sy Vader se huis was, het Hy ook oor die nodige gesag beskik om die tempel te reinig, want Hy was getrou as Seun oor Sy eie huis – Hebr.3:5-6 ~ Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. 6Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God....

In die oë van die wêreld moes hierdie optrede van Jesus, uiters arrogant voorgekom het – een man wat nie eens ’n gesagsposisie beklee nie, eien homself die reg toe om ’n aanvaarbare praktyk (in die oë van die wêreld en die owerhede) omver te werp – en tog tree Hy met soveel gesag op, dat die hele spul op die vlug slaan!  Waarom?  Omdat Hy self God is en omdat Hy met God se gesag opgetree het.  In die oë van die hoë-priesters moes dit ook die laaste strooi van Jesus gewees het – hulle moes Hom net eenvoudig uit die pad kry! 

Hierdie optrede van Jesus het egter ook ’n effek op Sy dissipels gehad.  Waarskynlik was hulle aanvanklik geskok en verbaas oor Sy optrede, maar toe onthou hulle skielik die woorde van die psalmdigter Dawid toe hy in Ps.69:9 gesê het ~ Omdat ek u huis liefhet, moet ek ly; die beledigings teen U het ook vir my getref, of soos die O.A.V. dit pragtig stel ~ Want die ywer vir u huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval.  Met hierdie Psalm in gedagte, het die dissipels besef dat Jesus nie anders kan as om Sy Vader se huis te reinig nie.  Met hierdie optrede en die aanhaling van hierdie Psalm wil Johannes dit ook vir óns baie duidelik maak dat God nie altyd net hierdie liefdevolle God is wat soos baie mense wil glo nie – hier in hierdie optrede van Hom, wys Jesus ’n faset van God wat min mense graag oor wil praat, nl. God se haat vir sonde en Sy afkeur aan mense wat hulle rug op Hom draai. 

4.    JESUS SE VERWYSING NA SY VLEESLIKE TEMPEL:
In vers 18 sien ons egter nou ’n wending in die gebeure op die tempelplein, toe die Jode Jesus konfronteer en vir Hom vra ~ Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?.  Ons moet verstaan dat wanneer Johannes van "Jode" praat, hy gewoonlik verwys na die Jode wat Hom geopponeer het.  Hierdie vyandige Jode vra Jesus met watter gesag Hy opgetree het – Wie het aan Hom die reg gegee m.a.w. om so op te tree?  Hierdie was ’n amper logiese vraag om te vra na Jesus se optrede by die tempel. 

Jesus reageer onmiddellik op hul vraag deur ’n ietwat raaiselagtige antwoord aan hulle te verskaf – Hy sê ~ Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.  Uiteraard het hierdie mense nie verstaan wat Jesus bedoel het nie, want hulle het geweet dat dit nagenoeg 46 jaar geneem het om die tempel te herbou (en dit was nog steeds nie klaar gebou nie).

Soos wat Leon Morris die bekende teoloog dit stel:  Hierdie Jode het nie soseer Jesus se reinigingswerk betwyfel nie, maar wel Sy geïmpliseerde status.  M.a.w., Jesus, wie is jy nou na alles – wie gee jou die reg om te doen wat jy so pas  gedoen het?
  Ons moet onthou dat die Jode die Messias verwag het, want die hele Ou Testament (wat hulle baie goed geken het) is vol profesieë van die Messias wat sou kom, maar hulle (die Jode) het terselfdertyd kragtige wonderwerke verwag met die aanbreek van die Messiaanse tydperk.  En daarom toets hulle Jesus se gesag, deur van Hom ’n wonderwerk te vra ten einde Sy gesag en posisie as Messias te bevestig.  Later tydens Jesus se verhoor, sou hierdie uitspraak van Hom, juis teen Hom gehou word, nl. dat Hy die tempel sou afbreek en weer opbou (Matt.26:60-61).  Ook het die spotters by die kruis spottend na hierdie uitspraak van Jesus verwys (Matt.27:40; Mark.15:29).

In Mark.8:11-12 sien ons dat Jesus gewoonlik weier om ’n wonderteken te doen wanneer Hy daarom gevra word en in pleks daarvan om ’n wonderwerk te doen, het Hy dan gewoonlik na Sy opstanding verwys.  Dit is presies wat Hy vir die Jode wou sê:  Maak my dood – vernietig My vleeslike tempel en Ek wys julle dat ek die Messias is, deurdat Ek uit die dood sal opstaan!   Ongelukkig vir hierdie Jode, het hulle nes Nikodemus in die volgende hoofstuk van Johannes se Evangelie, asook die vrou by die put, Jesus se woorde letterlik opgeneem.  Bitter min van wat Jesus gesê het, was letterlik bedoel, behalwe wanneer Hy Sy opponente geantwoord het – Hy het bykans altyd in gelykenisse gepraat, want Hy wou Sy toehoorders iets gee om te oordink. 

As die reiniging van die tempel nie voldoende wonderteken vir hulle was nie, sou hulle moes wag tot die wonderteken van alle wondertekens, nl. Jesus se opstanding uit die dood.  Baie mense (van Jesus se dissipels inkluis) hét eers na Jesus se opstanding verstaan wat Hy alles bedoel het en dan spesifiek met hierdie uitspraak t.o.v. die afbreek van die tempel – want wat het gebeur?  Jesus is gedood – Sy liggaamlike tempel is afgebreek, máár Hy het weer opgestaan na die derde dag in die dood en so is Sy tempel weer herstel en opgebou!

Waarom kan die letterlike afbreek van die tempel in Jerusalem en die dood van ’n liggaam as sinonieme gebruik word?  Omdat die Griekse woord wat in ons gelese gedeelte gebruik word, na beide die afbreek van ’n struktuur soos die tempel, of die dood van ’n liggaam, of die afbreek van ’n liggaam verwys.

Jesus het dus vir die Jode gesê:  Julle is op pad om My liggaam af te breek deurdat julle My aan die kruis gaan hang, maar julle is terselfdertyd besig om julle eie fisiese tempel van klip te vernietig en daardeur julle hele godsdienstige sisteem en al die godsdienstige rituele wat daarmee verbind word, maar Ek gaan uiteindelik opstaan uit die dood – beklee met ’n verheerlikte Liggaam, maar terselfdertyd gaan Ek ’n "nuwe tempel", nl. die Kerk van die Here Jesus Christus, oprig – hulle wat die Vader in gees en in waarheid sal aanbid. 

5.    JESUS KEN DIE HART VAN DIE MENS:
Ek het aan die begin gesê dat mense in Jesus geglo het, maar dat Hy Homself nie aan hulle toevertrou het nie, omdat Hy hulle harte geken het en Hy kon hul harte ken, omdat Hy God is – ons het nie lank terug nie, gesien hoe dat Natanael verbaas was dat Jesus presies geweet het wie en wat hy is – daarom dat hy Joh.1:48 vir Jesus gevra het ~ Waarvandaan ken U my? 

In hoofstuk 3 vind ons die verhaal van Nikodemus waarna ons D.V. volgende Sondag sal kyk.  Hierdie laaste drie verse in hoofstuk 2 vorm ’n pragtige agtergrond tot hierdie verhaal van Nikodemus en ook dié van die vrou by die put.

Ons sien dan twee dinge wat uitstaan in hierdie laaste gedeelte, nadat Jesus die tempel gereinig het in Jerusalem:
·           Baie mense het in Jesus geglo:
Volgens v.13 was Jesus vir die volle duur van die Paastyd in Jerusalem en baie mense sien ons hier in v.23, het in Jesus glo.  Die probleem met hierdie mense was dat hulle geglo het, omdat hulle gesien het – omdat hulle Jesus se wondertekens gesien het (sien Joh.20:30).  Hulle het Hom aanvaar as ’n besondere profeet en hulle het in Hom geglo op grond van dít wat hulle Jesus sien doen het nie, maar daar het nog nie ’n vaste geloof in Hom as Seun van God bestaan nie – hulle het Hom nog nie gesien as die Messias nie.
·           Omdat Jesus die mense se harte geken het en Hy geweet het dat hulle geloof, óf oppervlakkig was, óf omdat dit vals was en hulle Hom net aangehang het omdat Hy ’n "Wonderwerker" was.  Hierdie mense het dus eerder net hul vertroue in Hom geplaas, in plaas daarvan dat hulle in Hom geglo het en op grond hiervan, het Jesus Homself nie aan die mense toevertrou nie.  Die probleem met die mense wat slegs hul vertroue in Hom geplaas het, was dat hulle die mense was wat Hom wou kroon as menslike koning wat hulle kon verlos van die Romeinse onderdrukking en nié om hulle te verlos van hulle sonde nie – dit is daardie mense waarna Johannes ook in Joh.6:14-15 verwys het ~ Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”  15Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.  Omdat Jesus gesien het wat hul motiewe was met Hom, het Hy Homself nie aan hulle toevertrou nie, want wat Jesus in ons soek, is opregte en ware bekering en toewyding en nie entoesiasme oor wat Hy kan doen en wat Hy vir ons kan beteken nie.  Ons moet die woorde van 1Sam.16:7 in hierdie verband, ernstig opneem ~ ... Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.

6.    TOEPASSING:
Geliefdes, net soos wat Jesus gesag oor die tempel in Jerusalem gehad het, het Hy gesag oor ons, omdat ons Tempel van God is – Hebr.3:5-6 ~ Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. 6Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.

Ons moet enersyds besef dat Jesus in ons harte sien en dat Hy ons diepste motiewe ken en ons daarvolgens oordeel.  Jer.17:9 stel dit baie duidelik ~ Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?  10Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, Ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen.  Dit is hoe God my en jou sien.  Andersyds – en dit is só wonderlik dat ons dit nie kan bedink nie – God het ons wat Sy kinders is, innig lief ten spyte van ons sonde en Hy het hierdie liefde aan ons bewys deur toe te gelaat het dat Sy Seun, Jesus Christus gekruisig is vir ons.  Paulus bevestig hierdie feit in Rom.5:8 ~ Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was


[1]  Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 18 September 2011

Monday, October 10, 2011

Die Evangelie van Johannes - 07 (Jesus se Eerste Wonderwerk)

1.     SKRIFLESING: 
Joh.2:1-12 ~ Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. 2Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi. 3Toe die wyn opraak, sê Jesus se moeder vir Hom: “Hulle het nie meer wyn nie.” 4Maar Hy sê vir haar: “Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.” 5Sy moeder sê toe vir die kelners: “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.” 6Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.” Hulle het dit tot bo toe volgemaak. 8Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.”  Hulle het dit gedoen. 9Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.” 11Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom. 12Hierna het Hy, sy moeder, sy broers en sy dissipels na Kapernaum toe gegaan, maar hulle het nie baie lank daar gebly nie.

2.    INLEIDING:
Die vorige keer wat ons na die Evangelie van Johannes gekyk het, het ons gesien hoe dat Jesus Sy dissipels geroep het om Hom te volg.  In hierdie gedeelte sien ons hoe dat Jesus se openbare optrede by ’n bruilof in Kana begin het.

Hierdie wonderwerk by die huwelik het nie net Jesus se goddelikheid gedemonstreer nie, maar dit het ook ’n diepgaande effek op Jesus se eerste volgelinge gehad, want dit het aan Sy volgelinge bevestig dat daar veranderende- en herskeppende mag in Jesus gesetel was – Hy kon en het die spreekwoordelike water van Judaïsme verander in die wyn van Christenskap.  Hy verander die water van Godloosheid in die wyn van die volheid van ’n ewige lewe in Jesus Christus. Of as u wil, Jesus verander die water van wettisisme in die wyn van die Evangelie en God se onverdiende genade.

Op bloot menslike vlak was Jesus se wonderwerk ook van belang vir die bruidegom en sy familie, want destydse huwelike het dikwels vir dae geduur en wyn het ’n belangrike rol gespeel in die feesvieringe en daarom sou dit vir die bruidegom en sy familie ’n groot verleentheid gewees het, indien die wyn sou opraak.  Hierdie wonderwerk van Jesus was dus om meer as een rede, baie belangrik.

Ek wil dat ons na hierdie gedeelte kyk onder die volgende ses opskrifte:                                               
·         Jesus en die Geleentheid (2:1-3);
·         Jesus se Vraag (2:4);
·         Jesus en Maria se Opdragte (2:5-8);
·         Die Seremoniemeester se Verbasing (2:9-10);
·         Die Kruks (2:11-12);
·         Toepassing.

3.    JESUS EN DIE GELEENTHEID (2:1-3):
Ons sien in v.1 dat Johannes vir ons sê dat Jesus op die derde dag by die huweliksfees aangekom het.  Hierdie "derde dag" waarna hy verwys, is die derde dag nadat Jesus vir Filippus en Nataniël geroep het.  Hy en Sy ses dissipels stap na ’n dorpie genaamd Kana.  Dit was ’n dorpie in die heuwels van Galilea.  Die presiese ligging is nie aan ons bekend nie, maar alle aanduidings is dat hierdie dorpie ongeveer 14 kilometer noord van Nasaret was.

’n Huwelik was destyds ’n baie belangrike en luisteryke fees en in ’n dorpie soos Kana sou dit die hele gemeenskap betrek het. 

Die huwelik is altyd voorafgegaan deur ’n verlowing wat ’n baie ernstige seremonie was, waartydens die paartjie plegtig trou aan mekaar beloof het.  ’n Verlowing was so ’n bindende ooreenkoms, dat die verbreking van ’n verlowing in dieselfde ernstige lig as ’n egskeiding beskou is. 

Die huwelik het op ’n Woensdag plaasgevind in die geval van ’n maagd en op ’n Donderdag in die geval van ’n weduwee.  Die bruidegom en sy vriende het gewoonlik die voorafgaande nag in ’n skouspelagtige optog met fakkels en lanterns, na die bruid se huis beweeg.  Daar het dan toesprake plaasgevind en geluk- en seënwense is uitgespreek, waarna die bruid en bruidegom en al die ander teenwoordiges, na die bruidegom se huis gegaan het vir die huweliksonthaal en soos reeds gesê, het hierdie fees, baie dikwels vir dae aangehou en moes die bruidegom en sy familie die verversings en veral die wyn, wat ’n belangrike deel uitgemaak het van die onthaal, moes voorsien en indien die wyn sou opraak, was dit ’n baie groot verleentheid vir die bruidegom en sy familie, trouens hulle was volgens wet verplig om aan sekere standaarde te voldoen wat betref die feesvieringe.

In v.2 sien ons dat Jesus en Sy dissipels ook na die bruilof genooi was.  Ons weet nie of Jesus na die huwelik genooi was omdat hy familie was en of hy net saam met sy jongste dissipel, Natanael wat van Kana was, genooi is nie.  Die punt is egter dat Jesus en Sy dissipels ook genooi is en dat Jesus die uitnodiging aanvaar het.

Jesus se moeder (Maria) was ook by die huwelik en sy het agtergekom dat die wyn opgebruik was.  Ons weet nie regtig hoe sy daarvan kennis geneem het nie.  Miskien was sy ’n "baie naby familielid" en het sy van haar familielede se verleentheid geweet.  Dit is ook moontlik dat sy gemoeid was met die reëlings van die onthaal en daarom geweet het van die probleem.

Ons moet onthou dat Jesus tot nou, nog geen wonderwerk gedoen het nie en Maria het nie geweet dat Hy by magte was om dit te kon doen nie – of was sy?  Maria het tog geweet dat sy ’n maagd was toe sy Jesus verwag het.  Ook het engele met haar gepraat oor Jesus voor haar swangerskap.  Sy moes dus geweet het dat Jesus nie maar net ’n gewone mens was nie en wat meer is, sy het Jesus se lewe geken en geweet dat Hy anders was as ander mense.  In kort, sy moes geweet het dat Hy die Messias was.  In die lig hiervan, kom Maria na Jesus en sê vir Hom dat die wynkanne leeg is.  Hierdie was dus ’n indirekte versoek tot Jesus om iets aan die saak te doen.

Wat hierop sou gebeur, is dat Jesus se dissipels en diegene wat binnekort aan Jesus se wonderwerk blootgestel sou word, hulle eerste openbaring van God se mag en heerlikheid sou ervaar en hulle nuut gevonde geloof se fondasie sou terselfdertyd gelê word.

4.    JESUS SE VRAAG (2:4):
Jesus se reaksie op Maria se opmerking teenoor Hom dat die wyn opgeraak het, is baie interessant.  In die O.A.V. sien ons dat Hy haar aanspreek as "Vrou".  Dit mag vir ons uiters oneerbiedig en hard voorkom as Hy haar so antwoord, maar in die Grieks was dit nie so intens of onbeleefd soos dit vir ons in die Afrikaanse kultuur mag klink nie, trouens die Griekse woord vir vrou in hierdie verband is γυνή (gynē), wat ’n baie beleefde aanspreekvorm was.  Jesus het dit bv. weer gebruik in Sy laaste oomblikke aan die kruis, toe Hy Sy geliefde dissipel gevra het om om te sien na Maria (19:26); ook toe Hy die Samaritaanse vrou by die put aangespreek het (4:21); die owerspelige vrou (8:10), asook vir Maria Magdalena by Lasarus se graf (20:15).

Jesus vra egter ook vir Maria waarom sy Hom by die saak betrek.  Jesus se openbare optrede as die gestuurde Messias (Seun van God) het amptelik begin en Jesus wil hierdeur vir haar sê, dat sy nie langer na Hom moet kyk as haar kind nie, maar as die Verlosser, Jesus die Christus.  Deur hierdie reaksie van Jesus, word daar dus ’n nuwe verhouding tussen Hom en Maria gevestig, nl. dié van Verlosser en volgeling, of dissipel.

Tweedens sê Jesus aan Sy moeder, dat Sy tyd of Sy uur (O.A.V.) nog nie gekom het nie.  Daar word kort-kort deur hierdie Evangelie verwys na Jesus se tyd of uur (bv.7:6, 8, 30;8:20).  Wat Jesus egter hier gesê het, is dat Hy na die aarde gekom het met Joh.12:23 as doelwit, nl. dat Hy verheerlik moes word; dat Hy gekruisig moes word; dat Hy uit die dood moes opstaan.  Die huweliksonthaal was dus nie die plek vir Hom om Homself te openbaar, of Homself as Messias bekend te maak nie.

5.  JESUS EN MARIA SE OPDRAGTE (2:5-8):
Maria het dus oënskynlik iets groters in gedagte gehad as wat Jesus uiteindelik gedoen het, maar Sy berus haar egter by Jesus se antwoord en sy gee opdrag aan die dienaars om presies te doen wat Jesus hulle sê om te doen – so asof sy vir hulle wil sê:  Doen alles wat Hy vir julle sê om te doen, al klink of lyk dit ook hoe absurd of onmoontlik – doen dit net! 

Hierdie kinderlike geloof en vertroue van Maria in Jesus as Messias, moet ons ook aanspoor om ons onvoorwaardelike geloof en vertroue in Jesus te plaas, ongeag van wat en hoe Hy ook al ons bepaalde versoek of situasie gaan hanteer – ons moet Hom ten alle tye vertrou dat Hy net die beste volgens Sy wil vir ons sal laat geskied.  Hierdie selfde beginsel geld dus ook ons gehoorsaamheid aan die Woord van God – dit maak nie saak hoe onmoontlik, of absurd, of onregverdig dit ook al mag klink of lyk nie, ons moet Sy Woord ten alle tye en met oorgawe gehoorsaam.

Jesus gee opdrag aan die diensknegte om die kanne vol water te maak, waarop hulle dit tot oorlopens toe vol gemaak het.  Daar was 6 kanne en saam het dit nagenoeg 450 tot 700 liter water bevat wat Jesus in wyn verander het.  Ons kan vra, waarom so baie wyn?  Deur hierdie, amper oordadigheid van Jesus, wou Hy die grootsheid van Sy gawe en die oorvloed van Sy liefde betoon.

Dit is ook opmerklik dat Jesus opdrag gee dat die waterkanne wat gebruik was vir die Jode se reinigingseremonies gevul moes word.  Ook hier sien ons ’n subtiele optrede van Jesus om die ou Judaïstiese reinigingsgebruike en Judaïsme in totaliteit met God se krag in Christus te suiwer en te verander.

Nadat die diensknegte die klipkruike gevul het, gee Jesus opdrag aan hulle om van die inhoud uit te skep en na die seremoniemeester te neem.
  
6.    DIE SEREMONIEMEESTER SE VERBASING (2:9-10):
Toe die seremoniemeester die wyn proe was hy stomgeslaan – nie oor die wonderwerk wat plaasgevind het nie, want hy het nie geweet dat Jesus die water in wyn verander het nie (net die diensknegte het geweet), maar oor die gehalte wyn wat vir hom aangebied is en die feit dat ’n mens gewoonlik die beste wyn eerste voorgesit het, omdat die gaste later gedurende die fees te veel wyn gedrink het en dan nie meer die gehalte kon onderskei nie, maar nou gebeur die teenoorgestelde – die beste wyn word laaste voorgesit!  Hy het onmiddellik die bruidegom geroep en vir hom gesê ~  ’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou (v.10).  Waarskynlik was sy opmerking bedoel as ’n kompliment teenoor die bruidegom.

Ons moet besef dat Jesus nooit tweede beste vir ons as Sy kinders gee nie – dit wat Hy ook al vir ons gee en doen, is die heel beste vir ons op daardie stadium – niks wat Hy doen of gee is minderwaardig of onvoldoende nie.  In vergelyking met die wêreld en selfs ander gelowiges, mag dit wat Hy vir ons gee of aan ons toevertrou, op daardie oomblik dalk minderwaardig of gebrekkig voorkom, maar wanneer ons dit in die lig van die ewigheid beskou, sal ons altyd sien en besef dat dit Sy beste vir óns spesifiek is.  

7.    DIE KRUKS (2:11-12):
Ons vind in vers 11, die kruks van hierdie gebeure in Kana ~ Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.  Wat sê Johannes vir ons hier?  Hy wil vir ons sê dat alles wat hy in hierdie Evangelie van hom skryf ten doel het dat mense Jesus die Christus sal ontmoet; beter sal leer ken en uiteindelik tot reddingsgeloof in Christus sal kom.  Die metode wat Johannes in sy skrywe gebruik, is om die soeklig op Jesus se tekens en gesprekke te laat val en derhalwe sy lesers se aandag te vestig op Jesus Christus, die Seun van God, wat gekom het om vir skuldige sondaars aan die kruis te kom sterf en weer uit die dood uit op te staan.  Dit is presies wat hier tydens Jesus se eerste wonderwerk plaasgevind het ~ ...Sy dissipels het tot geloof gekom. 

Daar het egter nog iets veel meer betekenisvol gebeur.  Ons lees ook daarvan in v.11, nl. ~ Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, of soos die O.A.V. dit stel ~ Hy het sy heerlikheid geopenbaar, m.a.w. Hy het deur hierdie eerste wonderwerk van Hom, onteenseglik aangetoon dat Hy waarlik die Seun van God is.  Johannes bevestig hierdie feit in Joh.20:31 wanneer hy sê ~ Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.  Die primêre rede waarom Jesus se dissipels geglo het, was nié omdat Hy ’n wonderwerk gedoen het nie, maar omdat hulle Hom as Messias herken en erken het.  Die wonderwerk het dus weggewys van die daad self en die fokus op die "Wonderwerker", Jesus Christus gevestig.  Dit is waarom ons nie veel detail het oor die huwelik self nie – ons weet nie watter rol Maria daar vervul het nie; ons weet nie wie die bruidegom was nie (familie of kennis); ons weet nie hoe lank die fees geduur het nie, ens.  Nee, die fokus word vierkantig op Jesus geplaas.

Natanael het ons in Joh.1:49 gesien, het reeds in Jesus as Messias geglo, toe hy uitgeroep het ~ Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!   Die ander dissipels het voor hierdie wonderwerk reeds genoeg van Jesus geweet om Hom te volg, maar nou, na hierdie wonderwerk het hulle Sy heerlikheid gesien en Hom waarlik as Messias erken.

8.    TOEPASSING:
Wanneer ons na ’n toepassing van hierdie gedeelte in die Johannes Evangelie kyk, moet ons eerstens besef dat ons gedurig daarop bedag moet wees dat ons nie ook, allerlei rituele en wettiese gebruike in ons godsdiensbeoefening inbring soos die Jode met die klipkanne en hul reinigingsrituele, wat uiteindelik niks met God te doen het nie.  Jesus het die klipkanne gereinig en net so wil Hy hê dat ons begeerte na Jesus sal wees en nie na allerlei gewoontes en strukture; na die skouspelagtige en dit wat die sinne bevredig  nie.  Ons moet voortdurend na die kerk (na ons gemeente) en na ons self kyk en probeer vasstel of daar nie allerlei formaliteite en tradisies en gebruike is wat niks met die Woord en met Jesus te doen het nie.  Jesus het vernuwing en reiniging na Kana en vir Judaïsme gebring wat dit vir altyd sou verander en dit is presies dieselfde wat Hy vir jou en my begeer.

Ons moet ons oë vestig op Jesus self en nie Sy wonderwerke, of dit wat Hy vir ons doen of kan doen nie.  As dit die geval is, is ons in presies dieselfde bootjie as die vyfduisend, nadat Jesus, hulle gevoed het en Hy in Joh.6:26 aan hulle gesê het ~ Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.  Ons moet doen wat Hy in v.27 vir die menigte gesê het ~ Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.

Laastens wil ek net graag onder u aandag bring dat hierdie eerste wonderwerk van Jesus in Kana, vir ons prakties en baie eenvoudig aantoon hoe dat sondaars gered word en in elkeen van die simbole waarmee ons te doen kry in hierdie verhaal, sien ons wat met sondaars gebeur wanneer hulle tot redding in Jesus Christus kom:
·        Eerstens het ons ’n klomp bruilofsgaste wat dors is.  Hierdie is ’n baie mooi uitbeelding van die verloregaande wêreld rondom ons.  Die wêreld smaak die plesiere van hierdie wêreld, maar ervaar geen vervulling en tevredenheid nie.  Die Woord van God nooi sondaars wat dors na die waarheid, om na Christus te kom vir redding en vervulling.  Joh.4:13-14 sê ~ Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.  Jesus nooi die verloregaande wêreld in Joh.7:37 deur te sê ~ As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! 38Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.  Openb.22:17 stel dit ook pragtig ~ Die Gees en die bruid sê: “Kom!”  En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!”  En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!  
·        In die tweedeplek vind ons die leë waterkruike.  Ons kan hierdie leë kruike vergelyk met die mens se hart wat verhard en leeg is.  Die Woord van God vergelyk die mens op verskeie plekke met ’n kruik of kleipot – bv. 2Kor.4:7 ~ Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.  ’n Sondaar se lewe mag pragtig lyk van buite, maar wat God in so ’n mens se binneste sien, is leegheid en nutteloosheid, behalwe as God self ’n genadige en wonderwerkende reddingswerk in so ’n leë kleipot verrig.  Dit laat ’n mens onmiddellik dink aan die woorde in 2Tim.2:20-21 ~ In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en klei. Sommige is vir besondere gebruik en ander vir die alledaagse. 21As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.
·           Derdens was die kleipotte met water gevul.  Water wat gebruik word vir wasdoeleindes word in die Bybel vergelyk met die Woord van God (Ef.5:26; Joh.15:3 O.A.V.).  Al wat die diensknegte by die huweliksfees moes doen, was om al die kruike te vul met water.  Presies dieselfde moet gebeur met iemand wat tot wedergeboorte kom – hy moet homself vul (of was) met die Woord van God.  En wanneer ons die Evangelie met mense deel, moet die Woord van God met sulke mense gedeel word, want dit is deur die Woord van God dat die Heilige Gees oortuig van sonde en ongeregtigheid.

In die Ou Testament het Moses die water in Egipte verander in bloed wat oordeel geïmpliseer het (Eks.7:19).  Jesus het egter water in wyn verander wat genade en vreugde simboliseer en ons sien in Ef.5:18 dat wyn die Heilige Gees simboliseer.
·           Dan was daar die water wat in wyn verander het.  Eers wanneer ’n sondaar se hart gevul word met die Woord van God, kan Christus die wonderwerk van vreugde en volheid en redding teweeg bring.  Wanneer ons na Hand.8:26-40 kyk,  sien ons hoe dat Filippus die Woord van God met die Etiopiese hofdienaar gedeel het, vóór die wonderwerk van redding plaasgevind het.
·           Laastens sien ons dat die gebeure in Kana, die begin van Jesus se wonderwerke tydens Sy aardse bediening was en dit dui vir ons ook op die wonderwerke wat dag vir dag ná ’n sondaar se wedergeboorte in so ’n persoon se lewe plaasvind.

Geliefdes, ons moet Maria se woorde aan die diensknegte, ter harte neem toe sy gesê het ~  Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen.  Dit moes onsinnig vir die diensknegte geklink het toe Jesus vir hulle gesê het om die kanne vol water te  maak, terwyl daar ’n tekort aan wyn was, maar God gebruik baie dikwels die onmoontlike en selfs die oënskynlik onsinnige,  om kinders van Hom te maak.  Dit is waarom Paulus in 1Kor.1:27 vir ons sê ~ En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam.

As ons wil sien dat mense na Christus kom, moet ons gehoorsaam wees aan God; moet ons nie vermaak en ontspanning en die skouspelagtige aan ’n verloregaande wêreld gee nie, maar die Woord, want dit is die Woord en die prediking van die Woord wat die Heilige Gees gebruik om siele te red.


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 11 September 2011