Sunday, October 16, 2011

Die Evangelie van Johannes - 08 (Jesus en die Tempelreiniging)

1.     SKRIFLESING: 
Joh.2:13-25 ~ Die paasfees van die Jode was naby, en Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 14Op die tempelplein het Hy die verkopers van beeste, skape en duiwe gekry en die geldwisselaars wat daar sit. 15Toe het Hy met toutjies ’n sweep gemaak en almal uit die tempel uitgejaag, ook die skape en die beeste. Die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond gegooi en hulle tafels omgekeer. 16Vir die mense wat die duiwe verkoop het, het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier weg! Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie.” 17Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.” 18Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?” 19Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.” 20Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?” 21Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. 22Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo. 23Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen. 24Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. 25Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ’n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is.

2.    INLEIDING:
In hierdie laaste gedeelte van Johannes se Evangelie, kry ons te doen met Jesus en sy eerste besoek aan Jerusalem vir die Paasfees, nadat Sy aardse bediening amptelik van stapel gestuur is.  Hy reinig nie alleen die tempel in hierdie gedeelte nie, maar Hy verwys terselfdertyd na Sy eie vleeslike tempel.  En laastens in hierdie gedeelte kry ons te doen met ’n baie interessante en bykans vreemde gebeurtenis, nl. dat mense in Jesus geglo het, maar Hy het Homself nie aan hulle toevertrou nie, omdat Hy hulle harte geken het (O.A.V.).

Net voor ons egter in meer detail na hierdie gedeelte kyk, net ’n bietjie meer agtergrond inligting:
Een van die grootste verskille t.o.v. die reiniging van die tempel tussen Johannes en die ander Evangelies lê op die vlak van chronologie, m.a.w. die tyd gedurende Jesus se bediening waarop hierdie gebeure homself af gespeel het.  In Johannes blyk hierdie optrede van Jesus, Sy eerste groot openbare optrede te gewees het, terwyl in die ander Evangelies is hierdie die heel laaste openbare optrede van Jesus wat dan ook waarskynlik die "laaste strooi" vir die hoë priesters was en wat gelei het tot Jesus se arrestasie en uiteindelike kruisiging.

Daar is teoloë wat beweer dat daar meer as een voorval was waartydens Jesus die tempel gereinig het, maar so ’n verklaring berus uit en uit op bespiegeling, omdat daar geen getuienis is vir so ’n verklaring nie.  Die mees aanvaarbare verklaring vir hierdie oënskynlike weerspreking van die Evangelieskrywers en dan spesifiek Johannes wat die enigste een is wat "afdwaal" van die korrekte chronologiese opeenvolging van gebeure, is dat Johannes meer geïnteresseerd is in die teologiese aspek van hierdie gebeurtenis, eerder as die chronologiese.  Omdat hierdie gebeurtenis so ’n belangrike teologiese betekenis inhou, plaas Johannes dit dan aan die begin van Jesus se openbare optredes.

3.    JESUS SE REINIGING VAN DIE TEMPEL:
In vv.13-20 kry ons te doen met Jesus se reiniging van die tempel.  Ons sien dan in v.13 dat dit die Paasfees was (die tiende van die maand Abib – naastenby die einde van ons Maart) en dat dit verwag was van elke manlike Jood, bo die ouderdom van 12 om hierdie besondere fees in Jerusalem by te woon.  Die doel met hierdie fees was natuurlik om die volk Israel se verlossing uit Egipte te gedenk.  Gedurende die Paasfees, tussen drie uur en ses uur die middag, is daar ’n eenjarige lam sonder gebrek geslag en geoffer.

Ons sien dan ook dat Jesus na die Paasfees gaan – die Lam van God gaan om die Paasfees te vier – ’n voorafbeeld van Sy eie dood wat ’n tyd later sou plaasvind!

Omdat die feesgangers net ’n goedgekeurde lam vir die offer moes gebruik en bepaalde voorgeskrewe Tempelfooie betaal moes word, het ’n klomp entrepreneurs die geleentheid uitgebuit om "aanvaarbare" offerdiere, asook die regte munte te voorsien.  Hierdie tyd van die jaar, het hulle vooruitstrewende besighede by die tempel, bedryf.  Hierdie bedrywighede het in die Tempelplein plaasgevind wat om die Tempel geleë was - dit het ook bekend gestaan as die Plein van die heidene. 

Mettertyd het hierdie praktyk korrup geraak en het die besoekende pelgrims ’n primêre bron van inkomste vir die entrepreneurs, maar ook vir die stad se geldkoffers geraak.  Hoe meer geld daar gemaak is, hoe verder is opregte aanbidding op die agtergrond geskuif.

Met hierdie praktyke, of misbruike van die tempel, asook die miskenning en afwatering van die paasfees, het Jesus ’n groot probleem gehad, want Hy het juis na hierdie wêreld gekom, ten einde hierdie wêreld te hervorm en Hy het terselfdertyd van elkeen wat na Hom sou kom, verwag om in ooreenstemming met Gen.35:2, hul harte en lewens te hervorm ~ Toe sê Jakob vir sy hele huis en vir almal by hom: “Haal uit al die afgodsbeelde wat by julle is. Reinig julle en trek ander klere aan...".

Jesus maak vir Homself ’n sweep en hy jaag al wat entrepreneur is uit die tempelplein, asook die skape en beeste en die geld van die geldwisselaars het Hy op die grond uitgegooi.  Vir die duiwehandelaars (offerdiere vir die armes) gee Hy opdrag om hul kratte met duiwe te verwyder.  Deur hierdie optrede het Hy ondubbelsinnig Sy misnoeë bekend gemaak met die feit dat mense wêreldse voordeel en winste gemaak het uit godsdiens, daarom dat Hy vir hulle sê ~ Moenie die huis van my Vader ’n besigheidsplek maak nie. 

Waarom het Jesus so oor die huis van God gevoel?  Die aandag is van die primêre doel met die byeenkoms in God se huis getrek – die sekulêre is dus verhef bo die heiligheid van God.  Voorts was die fokus nie meer primêr op God gerig nie.  Laastens was dit Sy Vader se huis en daarom het dit Hom direk geraak wat daar aangaan, maar omdat dit Sy Vader se huis was, het Hy ook oor die nodige gesag beskik om die tempel te reinig, want Hy was getrou as Seun oor Sy eie huis – Hebr.3:5-6 ~ Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. 6Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God....

In die oë van die wêreld moes hierdie optrede van Jesus, uiters arrogant voorgekom het – een man wat nie eens ’n gesagsposisie beklee nie, eien homself die reg toe om ’n aanvaarbare praktyk (in die oë van die wêreld en die owerhede) omver te werp – en tog tree Hy met soveel gesag op, dat die hele spul op die vlug slaan!  Waarom?  Omdat Hy self God is en omdat Hy met God se gesag opgetree het.  In die oë van die hoë-priesters moes dit ook die laaste strooi van Jesus gewees het – hulle moes Hom net eenvoudig uit die pad kry! 

Hierdie optrede van Jesus het egter ook ’n effek op Sy dissipels gehad.  Waarskynlik was hulle aanvanklik geskok en verbaas oor Sy optrede, maar toe onthou hulle skielik die woorde van die psalmdigter Dawid toe hy in Ps.69:9 gesê het ~ Omdat ek u huis liefhet, moet ek ly; die beledigings teen U het ook vir my getref, of soos die O.A.V. dit pragtig stel ~ Want die ywer vir u huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval.  Met hierdie Psalm in gedagte, het die dissipels besef dat Jesus nie anders kan as om Sy Vader se huis te reinig nie.  Met hierdie optrede en die aanhaling van hierdie Psalm wil Johannes dit ook vir óns baie duidelik maak dat God nie altyd net hierdie liefdevolle God is wat soos baie mense wil glo nie – hier in hierdie optrede van Hom, wys Jesus ’n faset van God wat min mense graag oor wil praat, nl. God se haat vir sonde en Sy afkeur aan mense wat hulle rug op Hom draai. 

4.    JESUS SE VERWYSING NA SY VLEESLIKE TEMPEL:
In vers 18 sien ons egter nou ’n wending in die gebeure op die tempelplein, toe die Jode Jesus konfronteer en vir Hom vra ~ Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?.  Ons moet verstaan dat wanneer Johannes van "Jode" praat, hy gewoonlik verwys na die Jode wat Hom geopponeer het.  Hierdie vyandige Jode vra Jesus met watter gesag Hy opgetree het – Wie het aan Hom die reg gegee m.a.w. om so op te tree?  Hierdie was ’n amper logiese vraag om te vra na Jesus se optrede by die tempel. 

Jesus reageer onmiddellik op hul vraag deur ’n ietwat raaiselagtige antwoord aan hulle te verskaf – Hy sê ~ Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.  Uiteraard het hierdie mense nie verstaan wat Jesus bedoel het nie, want hulle het geweet dat dit nagenoeg 46 jaar geneem het om die tempel te herbou (en dit was nog steeds nie klaar gebou nie).

Soos wat Leon Morris die bekende teoloog dit stel:  Hierdie Jode het nie soseer Jesus se reinigingswerk betwyfel nie, maar wel Sy geïmpliseerde status.  M.a.w., Jesus, wie is jy nou na alles – wie gee jou die reg om te doen wat jy so pas  gedoen het?
  Ons moet onthou dat die Jode die Messias verwag het, want die hele Ou Testament (wat hulle baie goed geken het) is vol profesieë van die Messias wat sou kom, maar hulle (die Jode) het terselfdertyd kragtige wonderwerke verwag met die aanbreek van die Messiaanse tydperk.  En daarom toets hulle Jesus se gesag, deur van Hom ’n wonderwerk te vra ten einde Sy gesag en posisie as Messias te bevestig.  Later tydens Jesus se verhoor, sou hierdie uitspraak van Hom, juis teen Hom gehou word, nl. dat Hy die tempel sou afbreek en weer opbou (Matt.26:60-61).  Ook het die spotters by die kruis spottend na hierdie uitspraak van Jesus verwys (Matt.27:40; Mark.15:29).

In Mark.8:11-12 sien ons dat Jesus gewoonlik weier om ’n wonderteken te doen wanneer Hy daarom gevra word en in pleks daarvan om ’n wonderwerk te doen, het Hy dan gewoonlik na Sy opstanding verwys.  Dit is presies wat Hy vir die Jode wou sê:  Maak my dood – vernietig My vleeslike tempel en Ek wys julle dat ek die Messias is, deurdat Ek uit die dood sal opstaan!   Ongelukkig vir hierdie Jode, het hulle nes Nikodemus in die volgende hoofstuk van Johannes se Evangelie, asook die vrou by die put, Jesus se woorde letterlik opgeneem.  Bitter min van wat Jesus gesê het, was letterlik bedoel, behalwe wanneer Hy Sy opponente geantwoord het – Hy het bykans altyd in gelykenisse gepraat, want Hy wou Sy toehoorders iets gee om te oordink. 

As die reiniging van die tempel nie voldoende wonderteken vir hulle was nie, sou hulle moes wag tot die wonderteken van alle wondertekens, nl. Jesus se opstanding uit die dood.  Baie mense (van Jesus se dissipels inkluis) hét eers na Jesus se opstanding verstaan wat Hy alles bedoel het en dan spesifiek met hierdie uitspraak t.o.v. die afbreek van die tempel – want wat het gebeur?  Jesus is gedood – Sy liggaamlike tempel is afgebreek, máár Hy het weer opgestaan na die derde dag in die dood en so is Sy tempel weer herstel en opgebou!

Waarom kan die letterlike afbreek van die tempel in Jerusalem en die dood van ’n liggaam as sinonieme gebruik word?  Omdat die Griekse woord wat in ons gelese gedeelte gebruik word, na beide die afbreek van ’n struktuur soos die tempel, of die dood van ’n liggaam, of die afbreek van ’n liggaam verwys.

Jesus het dus vir die Jode gesê:  Julle is op pad om My liggaam af te breek deurdat julle My aan die kruis gaan hang, maar julle is terselfdertyd besig om julle eie fisiese tempel van klip te vernietig en daardeur julle hele godsdienstige sisteem en al die godsdienstige rituele wat daarmee verbind word, maar Ek gaan uiteindelik opstaan uit die dood – beklee met ’n verheerlikte Liggaam, maar terselfdertyd gaan Ek ’n "nuwe tempel", nl. die Kerk van die Here Jesus Christus, oprig – hulle wat die Vader in gees en in waarheid sal aanbid. 

5.    JESUS KEN DIE HART VAN DIE MENS:
Ek het aan die begin gesê dat mense in Jesus geglo het, maar dat Hy Homself nie aan hulle toevertrou het nie, omdat Hy hulle harte geken het en Hy kon hul harte ken, omdat Hy God is – ons het nie lank terug nie, gesien hoe dat Natanael verbaas was dat Jesus presies geweet het wie en wat hy is – daarom dat hy Joh.1:48 vir Jesus gevra het ~ Waarvandaan ken U my? 

In hoofstuk 3 vind ons die verhaal van Nikodemus waarna ons D.V. volgende Sondag sal kyk.  Hierdie laaste drie verse in hoofstuk 2 vorm ’n pragtige agtergrond tot hierdie verhaal van Nikodemus en ook dié van die vrou by die put.

Ons sien dan twee dinge wat uitstaan in hierdie laaste gedeelte, nadat Jesus die tempel gereinig het in Jerusalem:
·           Baie mense het in Jesus geglo:
Volgens v.13 was Jesus vir die volle duur van die Paastyd in Jerusalem en baie mense sien ons hier in v.23, het in Jesus glo.  Die probleem met hierdie mense was dat hulle geglo het, omdat hulle gesien het – omdat hulle Jesus se wondertekens gesien het (sien Joh.20:30).  Hulle het Hom aanvaar as ’n besondere profeet en hulle het in Hom geglo op grond van dít wat hulle Jesus sien doen het nie, maar daar het nog nie ’n vaste geloof in Hom as Seun van God bestaan nie – hulle het Hom nog nie gesien as die Messias nie.
·           Omdat Jesus die mense se harte geken het en Hy geweet het dat hulle geloof, óf oppervlakkig was, óf omdat dit vals was en hulle Hom net aangehang het omdat Hy ’n "Wonderwerker" was.  Hierdie mense het dus eerder net hul vertroue in Hom geplaas, in plaas daarvan dat hulle in Hom geglo het en op grond hiervan, het Jesus Homself nie aan die mense toevertrou nie.  Die probleem met die mense wat slegs hul vertroue in Hom geplaas het, was dat hulle die mense was wat Hom wou kroon as menslike koning wat hulle kon verlos van die Romeinse onderdrukking en nié om hulle te verlos van hulle sonde nie – dit is daardie mense waarna Johannes ook in Joh.6:14-15 verwys het ~ Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”  15Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.  Omdat Jesus gesien het wat hul motiewe was met Hom, het Hy Homself nie aan hulle toevertrou nie, want wat Jesus in ons soek, is opregte en ware bekering en toewyding en nie entoesiasme oor wat Hy kan doen en wat Hy vir ons kan beteken nie.  Ons moet die woorde van 1Sam.16:7 in hierdie verband, ernstig opneem ~ ... Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.

6.    TOEPASSING:
Geliefdes, net soos wat Jesus gesag oor die tempel in Jerusalem gehad het, het Hy gesag oor ons, omdat ons Tempel van God is – Hebr.3:5-6 ~ Moses was as dienaar getrou in die hele huis van God en moes getuig van die dinge wat God nog sou sê. 6Christus daarenteen is as Seun getrou oor die huis van God. En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.

Ons moet enersyds besef dat Jesus in ons harte sien en dat Hy ons diepste motiewe ken en ons daarvolgens oordeel.  Jer.17:9 stel dit baie duidelik ~ Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?  10Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand, Ek laat die mens kry wat hy verdien, wat hom toekom vir wat hy doen.  Dit is hoe God my en jou sien.  Andersyds – en dit is só wonderlik dat ons dit nie kan bedink nie – God het ons wat Sy kinders is, innig lief ten spyte van ons sonde en Hy het hierdie liefde aan ons bewys deur toe te gelaat het dat Sy Seun, Jesus Christus gekruisig is vir ons.  Paulus bevestig hierdie feit in Rom.5:8 ~ Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was


[1]  Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Baptiste Gemeente (Vereeniging) - Sondagoggend 18 September 2011