Sunday, February 13, 2011

PAULUS SE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE ~ 09 (“Gedragskodes vir Hemelse Burgers”)

1.     SKRIFLESING:
Fil.4:1-9 ~ Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon. 2 Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here. 3 Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan. 4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. 8 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is-watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees-daarop moet julle julle gedagtes rig. 9 En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.  

2.     INLEIDING:
Ons kom nou by die laaste hoofstuk van Paulus se brief aan die gemeente in Filippi en hy begin hierdie hoofstuk met die woorde, “daarom”.  En teen hierdie tyd weet julle al almal, dat wanneer ons die woordjie “daarom” sien, ons dadelik moet vra “waarom?”.  M.a.w., waarom skryf Paulus, “daarom” en die antwoord sal ons altyd in die voorafgaande gedeelte vind.  In die voorafgaande gedeelte het Paulus geskryf oor die gelowige se hemelse burgerskap en op welke wyse burgers van die hemel moet wag op Christus se wederkoms.  Ons het ook gesien dat hierdie “wag” nie ’n passiewe “wag” is nie, maar ’n aktiewe “wag” waartydens gelowiges toesien dat hul lewens bo verdenking sal wees en dat hulle alles in hulle vermoë doen om onberispelik in hul lewenswandel te wees terwyl hulle wag op Christus.  Ook het ons gesien, dat elke gelowige ’n bepaalde verwagting het t.o.v. sy komende hemelse burgerskap, nl. dat hy oor ’n verheerlikte liggaam gaan beskik.  Hierdie verheerlikte liggaam, gaan die voltooiing van Christus se reddingsproses wees.

Nou kom Paulus en hy borduur voort op hierdie aktiewe “wag-proses” van die gelowiges – daarom dat hy “daarom” sê.  Hy sê dus eintlik:  Julle moet aktief wag gemeente en daarom, terwyl julle aktief wag, moet julle..... (en wat nou gaan volg). 

3.     STANDVASTIGHEID:
Paulus noem dan ses dinge aan die gemeente in Filippi, wat hulle moet doen terwyl hulle aktief wag op die koms van die Here Jesus Christus:
·           Eerstens:  Standvastigheid (v.1).
·           Tweedens:  Harmonie (v.2-3).
·           In die derde plek:  Blydskap (v.4).
·           Vierdens:  Inskiklikheid (v.5).
·           Vyfdens:  Sorgloosheid  (v.6).
·           En laastens:  Fokus (v.8). 

Paulus sê dan vir die gemeente dat hulle, terwyl hulle wag op die koms van Christus, hulle eerstens moet vasstaan.  Paulus borduur egter nie hierop voort nie en kan ons baie maklik maar bloot net bo-oor dit lees en geen waarde daaraan heg nie, terwyl hy tog sekerlik iets bepaalds in gedagte daarmee gehad het.  In 1Kor.16:13 het Paulus aan die Korintiërs gesê ~ Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk! 

Toe Paulus hierdie woorde aan die Korintiërs gerig het, was daar onmin en tweespalt in die gemeente.  Wanneer ons na ons teks vir vandag kyk, asook na die verdere konteks van hoofstuk 4, sien ons dat hier ook sprake is van onmin en tweespalt en daarom rig Paulus dieselfde waarskuwing, opdrag en raad tot die Filippense, deur vir hulle te sê:  Staan vas!  Heel moontlik het hulle presies geweet wat hy daarmee bedoel het, omdat hulle hoogs waarskynlik ook insae in die brief aan die Korintiërs gehad het (wat reeds voor 55 n.C. die lig gesien het – Filippense, 60-61 n.C.). 

Paulus sê vir hulle, dat hulle vas moet staan, omdat die aanslae van die vyand (die satan) intens is en daarom moet hulle nie soos jong gelowiges (of soos hy dit noem, kinders) wees, wat op en af en heen weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars hulle met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie (Ef.4:14).  Hy sê dus vir hulle, dat hulle nie moet toegee aan allerlei wêreldse denkpatrone nie.  Nee, hulle moet hul lewens inrig volgens die wil van God en derhalwe in liefde omgaan met hul medegelowiges (1Kor.16:14). 

Ons moet altyd onthou dat ons nie meer soos die wêreld is nie en dat ons nie meer soos die wêreld mag optree nie – ons is deur God geroep en daarom word ’n bepaalde leefwyse van ons verwag – ’n leefwyse waar Christus ons lewe oorheers en daarom sê Paulus ook aan ons, dat ons vas moet staan en wanneer ons gly en val, moet ons opstaan en in Hom voortveg, tot die einde toe.

4.     HARMONIE:
Direk nadat hy dan vir die gemeente sê dat hulle vas moet staan en nie moet toegee aan wêreldse denkpatrone en liefdelose optrede nie, spreek hy die tweespalt aan wat binne die gemeente tussen  Euodia en Sintige bestaan het.  Waaroor hierdie twee vroue haaks was met mekaar weet ons nie, maar dit het tweespalt in die gemeente tot gevolg gehad.

Die Griekse woordorde van hierdie oproep van Paulus, lui letterlik as volg:  Euodia asseblief, ek smeek jou, en Sintige asseblief, ek smeek jou!  Terwyl Paulus onder huisarres in Rome verkeer, rig hy deur sy brief, individuele boodskappe aan hierdie twee vroue en hy doen dit in groot liefde.  Hy smeek hulle om die strydbyle neer te lê en versoen te raak en hy smeek hulle om een van hart en een van oortuiging te word, sodat hulle in harmonie saam kan leef.  Die A.S.V. sê, ...to be of the same mind in the Lord, terwyl die E.S.V. sê ...to agree in the Lord.  Die Griekse woord wat hier gebruik word  [φρονέω (phroneō)], is ’n werkwoord  wat dui op voortgaande aksie asook eenders denkendheid.

Paulus het hierdie twee vroue, wat ongetwyfeld gelowiges was, want hulle het saam met hom ywerig meegewerk om die Evangelieboodskap uit te dra, eintlik al vroeër in sy brief voorberei op sy oproep wat hy tot hulle rig, nl. toe hy vir die gemeente gesê het dat die een, die ander hoër moet ag as hom- of haarself (Fil.2:1-4).  Ook toe hy in Fil.2:5-8 gepraat het oor Jesus se nederigheid en van Timoteus en Epafroditos se onbaatsugtigheid (Fil.2:19-30).  Hy sê dus aan hierdie twee vroue, dat ook hulle eensgesind moet wees (2:5-8).  Hulle moet ophou om elkeen in hul eie rigting te wil “trek” en eerder Christus se gesindheid van nederigheid en Timoteus en Epafroditos se gesindheid van onbaatsugtigheid aan die dag lê en een van hart en gedagte word.

Hierdie tweespalt het beslis ook ’n effek gehad op die res van die gemeente, daarom dat Paulus aan die leierskap sê dat hulle ook die res van die gemeente moet help om hierdie tweespalt met die regte gesindheid en optrede te hanteer en dat hulle dus moet let op hul eie optrede teenoor mekaar, ter wille van die eer van God.  Paulus bepleit dus harmonie en eensgesindheid onder elkeen van die broers en susters in die gemeente.

Ons moet verstaan dat hierdie eenheid waarvan Paulus hier praat, nie daarop wys dat ons in eenheid met alle mense moet staan nie, maar spesifiek met medegelowiges in die gemeente en daarom moet ons haperende verhoudings onverwyld uitstryk – dit is tog immers waarvoor Jesus ook Matt.18 aan ons gegee het – juis vir hierdie doel (Matt.18:15-20).

5.     BLYDSKAP:
In v.4 noem Paulus ’n derde gedragskode wat die gelowiges in Filippi aan die dag moet lê, nl. om bly te wees.  Ook hierdie is nie ’n nuwe oproep wat hy tot die gemeente rig nie – hy het dit reeds in 3:1 gedoen, toe hy gesê het ~ Verder, my broers, wees bly in die Here!  Ons het dan ook gesien dat Paulus vir hulle gesê het dat hulle bly moet wees oor hul redding en hy het spesifiek verwys na Jesus se woorde aan Sy dissipels wat baie opgewonde was oor hulle suksesse op die sendingveld, waar demone hulle aan die dissipels onderwerp het en Jesus toe aan hulle gesê het ~ ...julle (moet) nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is (Luk.10:20).  Dit is so asof Paulus weet dat sy broers en susters se aandag baie maklik afdwaal en dat hulle gou vergeet waaroor dit eintlik gaan in hierdie lewe en dat hulle heeltemal te gou vergeet dat hulle ’n ewige bestemming het en daarom herinner hy hulle net gou weer hier, om oor die feit dat hul name in die hemel opgeskryf is, te dink, sodat hulle blydskap weer “opgepoets” kon raak.

Baie dikwels is die lewe en sy aanslae van so ’n aard, dat dit baie moeilik is om in blydskap te leef.  Paulus sê egter nie hier dat ons altyd gelukkig moet wees nie.  Nee, hy moedig ons aan om ons te verheug in die Here, want sê hy, die Here is naby (v.5). 

Om te weet wat Paulus regtig met hierdie uitdrukking, die Here is naby bedoel en waarom hy dit hier gebruik het, is nie maklik om te bepaal nie, máár dit is hoe ek dit sou verklaar: Pre-millennialiste sou onmiddellik vir jou sê dat dit daarop dui dat die “wegraping” binnekort gaan plaasvind en daarom moet ons bly wees.  Ons weet egter al teen die tyd dat hierdie ’n totaal onbybelse en verkeerde interpretasie van die ganse Woord is en dan spesifiek ’n ignorering van Openb.1:1 wat sê dat die dinge wat aan Johannes geopenbaar word, “binnekort moet gebeur” en het ons nou al in ons studie oor Openbaring gesien dat dit gaan oor God se oordele oor ’n ongehoorsame verbondsvolk en die ou verbond wat teen 70 n.C. volkome vervang sou word met die nuwe verbond – dit gaan dus glad nie oor die sg. duisendjarige vrederyk en die groot verdrukking en die “wegraping” nie.  Dit sou in elk geval ondeurdag van Paulus gewees het om die lidmate van Filippi te bemoedig, deur vir hulle te sê dat hulle vol blydskap moet wees, omdat Christus se wederkoms naby is en hulle binnekort “weggeraap” sou word – binnekort: 2000 jaar later?  Dan was Paulus mos ’n misleier!  Nee, ek sou eerder sê dat hierdie uitdrukking, nl. dat die Here naby is, juis nié op die wederkoms van Christus dui nie, maar eerder dat die Here, in die woorde van Ps.145:18-21, ...naby almal (is) wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep. 19 Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra, Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle. 20 Die Here beskerm almal wat Hom liefhet, maar al die goddeloses verdelg Hy. 21 Ek sal die lof van die Here verkondig. Laat al wat leef, sy heilige Naam vir altyd prys.  Ook Deut.4:7 stel dit vir ons pragtig ~ Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid?.

Soms is die beproewing en druk wat ons in hierdie lewe ervaar, net te erg om nog gelukkig ook te wees, maar ons moet bly wees, omdat ons weet dat ons Vader altyd naby ons is en gereed is om ons te help wanneer ons val, of wanneer ons uitroep na Hom – hierdie wete en versekering behoort ons voortdurend te vervul met blydskap.

Bekommernis en beproewing word meestal veroorsaak, deur verkeerde denkprosesse oor dinge, mense en/of omstandighede.  Waarom sê Paulus dat die Here altyd naby is?  Omdat hy wil hê dat ons moet onthou dat wanneer ons in bepaalde omstandighede verkeer, ons nie vanuit ’n wêreldse perspektief daarna moet kyk nie – so asof God glad nie bestaan nie.  Nee, ons moet te alle tye vanuit God se perspektief na ons omstandighede kyk – Hy is naby!  As ons aan die geveg tussen Dawid en Goliat dink:  Wat was Goliat met sy reuse spies in vergelyking met Dawid se God – Hy wat die ganse heelal geskep het en steeds beheer?  Die Filistyne het op hulle reus, Goliat vertrou.  Die Israeliete het glad nie vanuit God se perspektief gedink nie en daarom het hulle voor Goliat uit gevlug en gebewe van vrees (1Sam.17:24), maar Dawid – Dawid het vertrou op God.  Hy het geweet dat indien hy op God vertrou in sy omstandighede, hy aan die wenkant is. 

Wees altyd bly, want ons hoef nie onder ons omstandighede te bly lê nie, want God is aan ons kant.  Ons moet vashou aan die woorde in Spr.3:5-6 ~ Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. 6 Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.  Dawid sê in Ps.33:17-22 ~ Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie. 18 Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou 19 om hulle van die dood te red en hulle in die lewe te hou in hongersnood. 20 Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer. 21 Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons. 22 Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U.  En Salomo sê in Spr.21:31 ~ Perde kan afgerig word vir oorlog, maar dit is die Here wat die oorwinning gee. 

Ons het rede om bly te wees, want ons het die Here God aan ons kant.

6.     INSKIKLIKHEID:
In v.5 sê Paulus dat die gemeentelede, inskiklik moet wees teenoor alle mense.  ’n Ander woord vir inskiklik is “vriendelikheid”, of om redelik teenoor mekaar te wees.  Die gedagte is dus dat ons nie onnodig rigied moet wees oor dinge wat nie belangrik is nie.  Dit is m.a.w. nie die moeite werd om ’n gemeente te laat skeur oor die kleur van die matte of hoeveel pype daar in die orrel moet wees nie – die goue reël – wees inskiklik; wees die minste; ag die ander een hoër as jouself.  Natuurlik geld hierdie nie vir beginselsake of leerstellighede nie, maar dit gaan oor onbenullighede.

7.     SORGLOOSHEID:
In vv.6-7 sê Paulus dat die Filippense nie besorgd oor enige iets moet wees nie.  Hoe kry ’n mens dit reg om oor niks besorg te wees nie?  Wel Paulus sê dat ’n sorgelose lewe moontlik is, as daar reg gebid word en dan gebruik hy drie uitdrukkings om dit vir die gemeentelede te verduidelik, nl.:
·         Gebed
·         Smeking
·         Danksegging

Die oomblik dat ons agterkom dat ons, ons bekommer oor iets en ons sorgloosheid “gesteel” word, moet ons in gebed tot die Here kom en hierdie gebed behels drie dinge, nl. verering, toewyding en aanbidding.  Ons moet God se grootheid raaksien; Sy soewereiniteit; Sy almag; Sy alomteenwoordigheid; Sy majesteit.  In kort, ons moet Sy attribute (karaktereienskappe) raaksien, besing en eer.  Ons storm net té maklik God se “Troonkamer” binne en rammel net ons versoeke en probleme af, in plaas daarvan dat ons Hom eer en verheerlik en bewus raak van Wie Hy werklik is en erkenning aan Hom verleen dat Hy die enigste Een is wat ons kan help (onthou vir Dawid en Goliat!).

Nadat ons God verheerlik het sê Paulus, kan ons al die behoeftes van ons hart en ons probleme  aan Hom bekend maak.  Ons moet egter baie mooi daarop let dat Paulus nie hier sê dat God noodwendig gehoor sal gee aan al ons versoeke nie en die uitkoms van ons versoeke mag dalk ook nie altyd presies dít wees wat ons graag wil hê of gevra het nie, want ons moet steeds in gedagte hou, dat God se wil in alles moet geskied.

Laastens moet ons God dank, sê Paulus.  Hierdie is ’n faset van gebed wat ons so maklik miskyk en van vergeet.  En Paulus sluit hierdie hele saak van gebed af deur te sê dat wanneer ons só bid,  ...die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, oor (ons) harte en gedagtes die wag in Christus Jesus (sal hou).  Dan sal ons voorwaar sorgeloos wees.  Daniël is vir ons hier ’n pragtige voorbeeld.  Toe die koning opdrag gegee het dat niemand mag bid, behalwe as hulle tot hom bid nie, het Daniël na sy kamer gegaan en voor ’n oop venster gaan staan en soos gewoonlik gebid (Dan.6:-10).  Hoe het hy gebid?  In Dan.6:11 sien ons dat Hy God geprys, aanbid en gedank het.  En die gevolg van sy gebed?  Daniël is in die leeukuil gegooi, maar geen leeu het ’n poging aangewend om hom te verskeur nie – Daniël was sorgeloos en het vrede ervaar.

8.     FOKUS:
Paulus sluit hierdie gedeelte van sy brief af deur sy lesers se fokus te vestig op agt dinge waarop hulle hul gedagtes moet vestig (v.8).

Hy sê dat hulle hul gedagtes moet rig op alles wat waar is.  Dit is daardie dinge wat waar en eerlik en betroubaar en edel en reg is – dit wat respek afdwing.  Ons ganse lewe moet van die waarheid en die eerbare spreek – daardie standaarde wat voldoen aan God se standaarde.

Hy sê voorts dat hulle, hul gedagtes moet rig op dit wat rein en mooi en prysenswaardig is – dit wat bewondering en eerbied en respek afdwing.  Daardie dinge wat op “moreel hoë grond” staan – dit wat kuis en rein is.  Dit omsluit ons gedagtes, optrede en spreke in – ...dit wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is-watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees-daarop moet julle julle gedagtes rig.

9.     GEVOLGTREKKING:
Indien daar enige iets in jou lewe mag wees waaroor jy nie vrymoedigheid het om te bid nie, sal jy nooit vrede ervaar nie.  Om reg voor God te lewe sal vrede tot gevolg hê.  Jes.32:17 sê ~ Wie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet.  En dan sê Jesaja in 48:22 ~ Maar vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê die Here.  Dit is nié genoeg om die Bybel as basis vir gebed te gebruik en al die beloftes wat daarin staan vir jouself op te eis nie.  Indien jy nie die Woord eerstens gebruik as basis waarvolgens jy, jou lewe inrig nie, m.a.w. om die opdragte in die Woord toe te pas in en deur jou lewe, sal jy nie ontvang waarvoor jy bid nie.  Jak.4:3 is baie duidelik daaroor dat jy nie sal ontvang as jy verkeerd bid, of anders gestel, wanneer jy net jou eie selfsugtige begeertes wil bevredig.  Waaroor gaan gebed?  Gaan dit oor jou en jou probleme en begeertes, of gaan dit in die eerste en laaste plek (hoofsaaklik m.a.w.) oor God se eer?  Jakobus sê in dieselfde gedeelte (v.4), dat indien ons vriende van die wêreld is, ons vyande van God is en in 4:8 sê hy dat ons, ons moet bekeer en slegs dan, sal God na ons luister – dan sal gebeur wat Paulus in Rom.15:33 sê sal gebeur, nl. ~ God wat vrede gee, sal by julle almal wees! Amen.


Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 13 Februarie 2011

Sunday, February 6, 2011

Openbaring Ontsluit - 29 (Die Eerste Dier - 01)

1.     INLEIDING:
Dit kan sonder twyfel gesê word dat hoofstuk 13 waarskynlik die gewildste hoofstuk van die hele boek Openbaring is.  Hierdie hoofstuk fokus op die “Dier”, of die “Bees” (Engels = “beast”) en meer korrek moet daar gepraat word van die “Diere”.  Daar word van die eerste Dier in 13:1-10 gepraat en van die tweede in 13:11-18.  Daar word 37 keer van die Dier in Openbaring gepraat en 16 van daardie kere vind ons in hoofstuk 13.  Hierdie hoofstuk het waarskynlik ook die meeste aanleiding gegee tot sg. “koerant-eksegese”, of  onbybelse topverkoper romans (dink maar o.a aan Frank Peretti en Rebecca Brown se boeke), rolprente (dink aan 2012) en allerlei “vreesaanjaende riemtelegramme” soos o.a. dat die einde naby is, want kyk net na al die vloede in Australië en hier ter plaatse en dan word daar nog bygevoeg, dat alles in Australië gaan begin – en wanneer?  Sept. 2012 (die afgelope week het ek die nuutste datum gehoor:  Mei 2011).  Hierdie gewaagde en onbybelse uitsprake kom al jare voor en voorspelde datums kom en gaan en steeds sluk liggelowige mense nuwe valsprofete se “profesieë”!

Baie van hierdie “profete” gebruik die woord “Dier” en die “Antichris” uitruilbaar – dit terwyl die woord “Antichris” nêrens in Openbaring gebruik word nie (slegs 1Joh.2:18, 22; 4:3 en 2Joh.7).  Toe die persoonlike rekenaar bekend geraak is, was dit selfs die Antichris of die Dier genoem – dink maar aan kredietkaarte, asook die “micro chip”.  Politieke en geskiedkundige gebeure regoor die wêreld het soortgelyke reaksies ontlok – dink aan Hitler en “Moedertjie Rusland”.  Dink aan die Europese Unie (aanvanklik was tien Europese lande deel van die E.U. en het mense gesê dat dit die tien horings van die Openb.13:1-Dier verteenwoordig en daarom gaan die leier van die E.U. die Antichris wees) en selfs die V.V.O.  Op 13 Mei 1981 het die Pous ’n sluipmoord aanval oorleef en is daar gesê dat dit ’n bewys is dat hy die Dier is, want hy kon onmoontlik nie so ’n  dodelike wond oorleef het nie en daarom moet hy die Dier wees.  Selfs Nelson Mandela se gevangenisnommer (46664) ken die titel van die Antichris aan hom toe.

Die hartseer gevolg van dit alles, is dat die Evangeliese kerk vandag met die spreekwoordelike eier in die gesig sit, as gevolg van al hierdie vals voorspellings en uitlatings.    Al hierdie nonsens en vals bewerings kan maklik in die kiem gesmoor word, as almal net opnuut wil kyk na die eerste sewe verse van Openbaring, waar daar in geen onduidelike taal gesê word dat al die profesieë in Openbaring “binnekort” ná die skryf van die brief aan die sewe gemeentes, sou plaasvind (m.a.w. binne die leeftyd van die baie van die oorspronklike ontvangers van die brief).  Ons kan al hierdie bewerings dus niks anders noem as eskatologiese nonsens nie!

Openbaring gaan nié oor Christus se wederkoms nie, maar oor God se oordeel oor Jerusalem gedurende die eerste eeu, wat sy hoogtepunt in 70 n.C. sou bereik.  Daarom hoef ons nie die koms van ’n verskriklike en afskuwelike Dier te vrees nie, trouens ons moet in geloof leef, nl. dat ons dieselfde oorwinning sal behaal as wat die vroeë kerk behaal het, toe hulle politieke en godsdienstige vervolging ervaar het.

Openbaring 13 stel ons voor aan twee Diere met wie die kerk van die eerste eeu gekonfronteer is:  ’n Politieke Dier (13:1-10) en ’n godsdienstige Dier (13:11-18).  Ten spyte van die teenstand wat die kerk van die eerste eeu ervaar het, het hulle m.b.v. God se genade oorwin en ons kan dieselfde oorwinning en in die lig van die vorige studie, op dieselfde arendsvlerke weggevoer word na veiligheid van ons huidige swaarkry en vervolging, deur God se genade – ons moet net glo!

Wanneer ’n mens Skrif interpreteer, is daar drie beginsels wat altyd in gedagte gehou moet word: 
1.     Daar moet eerstens na die kontemporêre konteks gekyk word en dit moet deurentyd in gedagte gehou word.   Hier moet ons dus deurgaans Openb.1:1 in gedagte gehou ~ God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak.  En Johannes verseker sy lesers (sou hy dan lieg hieroor!) dat vervulling hiervan, binnekort sou plaasvind ~ ...want die eindtyd is naby (1:3). Soos aan die begin gesê is:  2 000 jaar is nie “binnekort” nie en ook nie “naby” nie.  Ons moet ons dus self in die sandale van die oorspronklike ontvangers van Johannes se brief plaas en gebeure in Openbaring deur hulle bril interpreteer.  Die Dier moes dus iemand of iets gewees het met wie die eerste eeuse lesers bekend was.  Dit was aan hierdie eerste eeuse gelowiges dat Johannes geskryf het ~ Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig (Openb.13:18).  Dit sou tog onmoontlik vir die eerste eeuse gelowiges gewees het om die identiteit van die Dier “wat in 2012 sou verskyn”, te kon bepaal – om die minste te sê, dit sou absurd van Johannes gewees het om dit van hulle te verwag, want dit sou geen relevansie gehad het en geen troos vir hulle ingehou het in hulle vervolgde omstandighede nie.

2.     Tweedens moet ons die verbondskonteks in gedagte hou wanneer ons ’n vers of paragraaf, of hoofstuk wil interpreteer en – spesifiek dan nou in hierdie geval, Openb.13.  Om dit eenvoudig te stel, handel Openbaring oor God wat Sy verbondoordele oor ’n ongehoorsame Judaïsme in vervulling bring.  Dit impliseer dus dat Openbaring vóór 70 n.C. geskryf moes gewees het, want (soos ons nou al verskeie kere gesien het) Judaïsme het in 70 n.C. tot ’n baie vinnige einde gekom met die val van die Tempel en Jerusalem.  Om dit eenvoudig te stel, die Dier moes dus iets of iemand gewees het wat deur God gebruik was om Sy oordeel ten uitvoer te bring.  Indien die profesie neergeskryf was voor 70 n.C., moes die Dier gelewe het voor 70 n.C.  M.a.w., die Dier moes iets of iemand gewees het wat God reeds voor 70 n.C. begin gebruik het om Sy oordele oor ’n ongehoorsame Israel ten uitvoer te bring.

3.     Laastens, moet ons die konteks waarbinne hierdie gedeelte geskryf is, in ag neem.  Openb.13 word onteenseglik verbind aan Openb.12.  Indien die eerste 12 hoofstukke daaroor gegaan het dat Openbaring handel oor gebeure wat gedurende die eerste eeu na Christus tot vervulling sou kom, dan is dit tog sekerlik eksegeties korrek om ook te sê dat dit die geval met hoofstuk 13 moet wees – dit sou eksegeties inkonsekwent gewees het om hoofstuk 13 anders te interpreteer, nl. dat dit in ons tyd, of selfs in die toekoms nog tot vervulling moet kom.  Konsekwente en korrekte eksegese vereis dus dat Openb.13 ’n profesie is oor iets wat tot vervulling moes kom in die lewe van die eerste eeuse gelowiges.

In hoofstuk 12 het Johannes ’n “hemelse visie” gehad van wat aan die gang in die hemel is, tewens wat reeds vir eeue aan die gang was, nl. die geveg tussen Migael die Aartsengel (Jesus Christus) en die groot rooi draak.  Die uiteinde weet ons nou al, was glansryk:  Satan was oorwin en uit die hemel en wel op die aarde, neergewerp (12:12-13). Johannes is egter nou “terug op die aarde” en letterlik staan daar in 13:1 dat Johannes op die sand by die see gestaan het (Griekse teks) en toe sien hy iets (’n verdere visioen)!

2.     VERS-VIR-VERS ONTLEDING:
Openb.13:1-3 ~ En toe het ek ’n dier uit die see uit sien kom met tien horings en sewe koppe. Op sy horings was daar tien heerserskrone en op sy koppe godslasterlike name. 2 Die dier wat ek gesien het, het soos ’n luiperd gelyk. Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu. Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee. 3 Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan geloop.  Die Dier kom uit die see uit.  Ons het regdeur ons studie van Openbaring gesien dat die see, die heidennasies verteenwoordig (Openb.17:5 ~ Verder het hy vir my gesê: Die waters wat jy gesien het waar die sedelose vrou bly, is volke en stamme, nasies en tale).  Hierdie Dier of Diere kom dus vanuit die heidendom en in hierdie geval verteenwoordig dit ’n heidennasie.  Die vraag is, watter nasie?  Openb.17 (wat ook gesien kan word as iets van ’n kommentaar oor Openb.13) kan ons baie help ten einde ’n antwoord te vind op hierdie vraag.  Terwyl ’n Engel later in Openb.17, hierdie Dier aan Johannes beskryf, sien ons dat hy in v.9 sê ~ ...Die sewe koppe is sewe berge....  Die Dier kan derhalwe “die Dier met die sewe koppe”, genoem word.  Wanneer die Dier so genoem word, gee dit onmiddellik sy identiteit weg.  Onthou, ons het gesê dat die Dier verwys in hierdie geval na ’n heidennasie en hierdie beskrywing in 17:9 sê vir ons wie hierdie heidennasie is, nl. Rome, want Rome staan ook bekend as die “stad op sewe heuwels” (die Palatyn, Kapitolyn, Quirinaal, Esquilyn, Viminaal, Caelianus en Aventyn heuwels - wat later die hoof-stedelike gebied van dié stad gevorm het, maar wat vroeër klein dorpies en plasies was. Hierdie afsonderlike gemeenskappe het geleidelik tot een gemeenskap saamgegroei, wat die laerliggende gebied langs die Tiber-rivier ingesluit het. Dit is seker dat daar teen 600 v.C. 'n aansienlike dorp bestaan het wat in die Antieke Tyd as Roma bekend was [1]).


Daar word egter ook na Rome verwys as Die Dier en is dus verteenwoordigend van die Romeinse owerheid.  Rome was die grootste en sterkste wêreldmag in die tyd wat Johannes hierdie brief geskryf het.  Die koppe verwys na die kollektiewe Rome en individuele konings as verteenwoordigers van politieke Rome.  Ter verduideliking (in kort):  Elke heuwel was op ’n tyd sy eie koninkrykie en het sy eie koning gehad en saam het hulle die groter Rome regeer (uiteraard is dit baie meer ingewikkeld as wat ek hier baie kortliks probeer aandui, maar ons is nie nou besig met ’n politieke- of geskiedenis kursus nie – nie waar nie?).  Ons sal so bietjie later weer kyk na hierdie “koppe”.

Ons sien dat die eerste Bees, nie net “sewe koppe” gehad het nie, maar ook “tien horings”.  Indien die “sewe koppe”, die sewe konings verteenwoordig het, dan moet die “tien horings” verwys na ander heersers wat ondergeskik was aan die konings (Openb.17:12-13 ~ Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap gekry nie, maar hulle kry saam met die dier een uur lank gesag as konings. 13 Hulle het een en dieselfde doel voor oë, en hulle stel hulle mag en gesag tot die dier se beskikking).  Hoogs waarskynlik verwys hierdie “ondergeskiktes” na die goewerneurs van die tien Romeinse provinsies wat tydens Johannes se skrywe, regeer het (die tien provinsies het heel moontlik uit die volgende lande bestaan: Italië, Egeïese, Asië, Sirië, Egipte, Afrika, Spanje, Brittanje en Duitsland).

Ons lees verder dat daar op hierdie koppe van die Dier, godslasterlike name geskryf was.  Die “name” was op die koppe en nie die horings geskryf nie, omdat dit die konings was wat as goddelik verklaar was en nie die goewerneurs nie.  En hierdie “name” was waarskynlik die “goddelike” titels wat hierdie konings aan hulleself toegedig het.

Die Bees wat Johannes dus gesien het, was ’n bose en veragtelike wese, wat ’n bose en veragtelike nasie verteenwoordig het en wat daarop uit was om God se plek op onregmatige wyse in te neem.  En soos wat ons binnekort sal sien, was dit waar van antieke Rome.

Johannes gaan voort deur te sê dat hierdie Dier, ...soos ’n luiperd gelyk (het). Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu (v.2).  Hierdie beskrywing herinner ’n mens aan ’n vorige politieke profesie en wel in Dan.7:1-8 ~ In die eerste regeringsjaar van koning Belsasar van Babel het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien in sy slaap. Hy het die droom opgeskryf en die inhoud daarvan soos volg weergegee. 2 Hy het gesê: “In my nagtelike visioen het die wind uit al vier windstreke die groot see onstuimig laat word. 3 Vier groot diere het uit die see uit opgekom, en elkeen was anders as die ander. 4 Die eerste het soos ’n leeu gelyk en hy het arendsvlerke gehad. Terwyl ek kyk, is sy vlerke afgeruk en is hy opgelig, sodat hy op twee voete gestaan het soos ’n mens, en ’n mens se verstand is aan hom gegee. 5 Die tweede dier het soos ’n beer gelyk. Hy het op sy agterpote gestaan en het drie ribbebene in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: ‘Vreet maar! Vreet soveel vleis as jy wil!’ 6 En toe ek weer sien, was daar nog ’n dier, een soos ’n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos dié van ’n voël. Hy het vier koppe gehad en aan hom is heerskappy gegee. 7 My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek weer sien, was daar ’n vierde dier, skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk. Hy het groot ystertande gehad en alles wat voorkom, verslind en vermorsel en wat oorgebly het met sy pote vertrap. Hy was anders as die vorige diere en het tien horings gehad. 8 Terwyl ek stip na die horings kyk, het daar ’n klein horinkie tussen hulle uitgekom, en drie van die ander is uitgeruk om vir hom plek te maak. Hierdie horing het mensoë gehad en ’n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.

Dit is opmerklik dat “Johannes se Dier”, ’n samestelling is van “Daniël se eerste drie Diere”.  Die eerste Dier wat Daniël gesien het, was soos ’n leeu.  Die tweede soos ’n beer en die derde soos ’n luiperd, terwyl die vierde beskryf was as skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk met ystertande (v.7).  Daniël se visioen kan maklik geïnterpreteer word, wanneer dit vergelyk word met Nebukadneser se droom in Dan.2, asook met wêreldgeskiedenis.  U sal onthou dat Nebukadneser gedroom het van ’n groot beeld met ’n kop van goud; ’n bors en arms van silwer; ’n maag en heupe van brons; bene van yster en voete van yster en klei (Dan.2:25-35).  Die interpretasie van die goue kop, was dat dit Babilon verteenwoordig het (Dan.2:36-38) en die res van die beeld word geïnterpreteer as die Mede-en-Perse (silwer), die Grieke (brons) en die Romeine (yster en klei).  Die vier Diere van Dan.7 is net ’n verskillende weergawe van dieselfde koninkryke:  die leeu het die Babiloniërs verteenwoordig; die beer die Mede-en-Perse; die luiperd was die Grieke en die skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk Bees was die Romeine.

Johannes borduur voort op hierdie visioene wanneer hy hierdie skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk Bees (wat in sy dag bestaan het) beskryf en hy gaan voort, deur te sê dat hierdie Bees, ’n samestalling en kulminasie (hoogtepunt) van die vorige drie politiek Beeste was wat hierdie huidige een voorafgegaan het.

Johannes sien dus in hierdie visioen van hom, ’n vervulling van die Daniël se visioen, nl. die finale heidense wêreldmag wat deur die Groot Rooi Draak geïnspireer was, daarom dat hy in Opneb.13:2c sê ~ Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee.  Hierdie is dan ook die eenparige slotsom waartoe al wat kommentator is kom (synde pre-millennialis, of post-millennialis).  Die verskil is dat die Pre-millennialiste (Futuriste) glo dat Johannes hier praat van ’n herrese Romeinse Ryk wat iewers in die verre toekoms gaan herleef (baie glo dat dit in ons tyd sal wees - 2012?), terwyl die Post-millennialiste (en dit is waar ek my skaar) glo dat Johannes hier praat van die Romeinse Ryk wat in sy tyd bestaan het.  Dit is moeilik om te verstaan hoe die Futuriste kan glo dat daar nog ’n herrese Romeinse Ryk in die toekoms gaan ontstaan, terwyl daar nêrens in die Woord sprake van so ’n toekomstige gebeurtenis gaan wees nie.  Jay E. Adams skryf op p.76-77 van sy boekie “The Time is at Hand” [2], Why, then, speculate that “revived” Rome and Jerusalem will be revived and retsored to exactly what they once were, only to fall again precisely as they once did?  Is it not apparent that this is an artificial interpretation invented to circumvent the clear intent of the passage?  That Jerusalem and Rome should fall again exactly as they did in the past is not only improbable, but virtually impossible.  That such a wooden interpretation must be forced upon the book in order to explain away the obvious meaning of the revelation, is by itself a very strong argument for the contemporary view.  Dit is duidelik dat Johannes, die Romeinse Ryk in gedagte gehad het toe hy Openbaring geskryf het.

In Daniël se visioen is daar ook sterk getuienis dat die vierde Dier die Romeinse Ryk verteenwoordig het.  Daniël se visioen het oor vier opeenvolgende politieke koninkryke gehandel en die vierde (Rome) het direk gevolg op die derde, nl. Die Griekse Ryk.  N.a.v. van Nebukadneser se droom in Dan.2, sou die vierde koninkryk (die yster-en-klei koninkryk) in die tyd van Christus geregeer het.  Jesus Christus (die “klip” wat later ’n “rots” sou word – Dan.2:34) sou daardie koninkryk verwoes en Sy eie vestig (die “klip” wat ’n “groot rots sou word wat die hele aarde sou bedek - Dan.2:35).  Daar is geen (en dit is belangrik) aanduiding in die ganse Daniël óf Openbaring wat daarop dui dat die vierde Dier sou sterf en weer op ’n stadium lewend sou word en ’n millennium later sou terugkeer nie!

In kort, die vierde Dier verteenwoordig dus die Romeinse Ryk wat aan bewind was in Johannes se tyd.  Hierdie feit word ondersteun deur ’n boek van Publius Cornelius Tacitus (55n.C. – 120 n.C.) wat oor die geskiedenis van die Romeinse Ryk verslag gelewer het.  Hy noem o.a. in hierdie geskrif dat die Romeinse Ryk vanaf die derde eeu voor Christus, sy invloed laat geld het in Europa, Asië en Afrika.  Wat egter veral van belang is, is dat die verdere datums wat hy noem en spesifiek die beëindiging van die Romeinse Ryk, die tydperk insluit waartydens Johannes, Openbaring geskryf het, asook die feit dat dit die laaste keer was, dat een land, heerskappy sou voer oor die ganse Middellandse See gebied.


[2]ADAMS, Jay E. 2000.  The Time is at Hand.  Woodruff, SC : Timeless Texts.  132p. (ISBN: 1-889032-24-7) 

Paulus se Brief aan die Filippense - 08 (Ons Hemelse Burgerskap)

1.     SKRIFLESING:
Fil.3:17-21 ~ Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. 18 Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. 19 Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind. 20 Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21 Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.  

2.     INLEIDING:
Ons het verlede week gesien dat Paulus vir ons sê dat ons navolgers van hom moet wees.  Ons het ook gesien dat hy eintlik daarmee bedoel, dat ons soos hy, Christus met ons hele hart moet soek en navolg en nie navolgers van die aardsgebondenes moet wees nie, want dan kan ons uiteinde ook dieselfde wees as hulle wat vyande van die kruis van Jesus Christus is, nl. die ewige verdoemenis.

In teenstelling met die uiteindelike bestemming van die aardsgebondenes, kom Paulus nou en hy stel aan ons die anderkant – die ander bestemming as die ewige verdoemenis, daarom dat hy in v.20 sê ~ Maar ons is burgers van die hemel.

Vir wie is hierdie besondere burgerskap beskore?  Met ander woorde, wanneer Paulus sê, maar ons is burgers van die hemel, is die vraag:  Wie is hierdie “ons” van wie hy praat?  Nadat ons hierdie vraag beantwoord het, sal ons kyk na ’n tweede vraag, nl. wat die verwagting moet wees van diegene wie Paulus hier “ons” noem? 

3.    ONS BURGERSKAP – WIE IS “ONS”?:
Wie is hierdie burgers dan van die hemel?  Hier is veral Kol.3:1 vir ons belangrik ~ Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit

Burgers van die hemel, is dus volgens Kolossense diegene wie eerstens saam met Christus uit die dood opgewek is, maar wie tweedens voortdurend streef na die dinge daarbo waar Christus is.  Ons moet, ten einde hierdie vers reg te verstaan kyk na wat dit beteken om saam met Christus uit die dood opgewek te wees.

In die Grieks [sunegeirw (sunegeiro)] beteken hierdie woord opwek, letterlik om saam, vanuit ’n vleeslike dood op te staan, of opgewek te word in ’n nuwe geestelike en geseënde lewe wat toegewy is aan God. 

As die verklaring van hierdie woord opwek, dan sê dat so ’n persoon, saam opgewek word, moet ons onmiddellik vir onsself afvra:  Saam met wie?  Wel, die teks sê ondubbelsinnig, dat hierdie burgers van die hemel, saam met Christus opgewek is.  Hierdie feit bring die hele aspek van Christus se opstanding vir ons onder die soeklig en ons sal eers kortliks daarna moet kyk. 

Daar is weliswaar verskeie aspekte wat belangrik is t.o.v. die opstanding, maar vir ons doel wil ek hê dat ons na twee van hierdie aspekte sal kyk, nl. dat Christus se opstanding, die onbetwiste waarborg is, dat Sy Middelaarswerk t.w.v. sondaars volkome en geheel en al deur God die Vader aanvaar is.  M.a.w. Sy opstanding verseker dat God tevrede is met Christus se offer wat Hy gebring het aan die kruis en burgers van die hemel kan die fisiese dood met vertroue tegemoet gaan. 

God die Vader sê aan die uitverkorenes, dat Sy Seun se soendood nie tevergeefs was nie, trouens Hy sê dat Jesus se reddingsmissie na hierdie wêreld suksesvol voltooi is – Rom.1:4 ~ ...op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.  En dan veral die woorde in Hand.17:31 ~ ...want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.  Sonder die opstanding het burgers van die hemel geen versekering dat Christus se werk enige gewig by God dra nie.

Ons moet besef dat Christus se opstanding van kardinale belang is, omdat Hy daardeur die volgende fase van Sy verlossingswerk kon voortsit en dit is elke gelowige se  heiligmakingsproses wat onder leiding van die Heilige Gees geskied.  Sonder die opstanding sou daar geen moontlikheid van heiligmaking vir gelowiges bestaan het nie [1].

Burgers van die hemel was dus voor Christus se soendood, geestelik dood as gevolg van die erfsonde, maar deur Christus se opstanding, is elke uitverkorene se sonde vergewe en is sy versoening met God die Vader verseker en afgehandel.  Dit impliseer dus dat elkeen wat eens dood was, saam met Christus opgestaan het in ’n nuwe lewe.  Die opgestane Christus heers dus in elkeen wat aan Hom behoort (Ef.1:19-2:7), met duidelik herkenbare tekens, nl. die Vrug van die Gees.  Paulus se opdrag in Fil.1:17 is dus belangrik vir elkeen wat hom-/haarself ’n burger van die hemel noem ~ Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.

Om ons aanvanklike vraag dus te beantwoord – Burgers van die hemel, is diegene wat saam met Christus Jesus opgestaan het in ’n nuwe geestelike en geseënde lewe wat toegewy is aan God.

Wanneer dit die geval met iemand is, nl. dat hy saam met Christus uit die dood opgewek is, sê Paulus hier in Kol.3:1b dat daar nou ’n opdrag is wat uitgevoer moet word, nl. dat diesulkes nou moet strewe na die dinge daarbo.  Hierdie dinge wat daarbo is, verwys na die geestelike waardes wat deur Christus voorgeleef is; dinge soos, liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal.5:22-23a) en waarop gelowiges hier op aarde hul lewe moet skoei.  Gelowiges se lewens moet dus so oorheers word deur beginsels van die hemel, dat hierdie hemelse beginsels hulle lewe hier op aarde sal rig.  John MacArthur stel dit pragtig wanneer hy sê:  When Christians begin to live in the heavenlies, when they commit themselves to the riches of the “Jerusalem above” (Gal.4:26), they will live out their heavenly values in this world to the glory of God [2].  Dit is so pragtig in ooreenstemming met wat Jesus self in Matt.6:33 gesê het ~ Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Burgers van die hemel het dus saam met Christus opgestaan en beywer hulle deurentyd vir die koninkryk van God, deurdat (soos Paulus dit in Fil.1:17 stel) hulle ...lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus (is)..

4.     ONS VERWAGTING:
Paulus gaan egter voort in Fil.3:20, deur te sê ~ Maar ons is burgers van die hemel (en dan hierdie woorde), van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.  Burgers van die hemel het dus nie alleen saam met Christus opgestaan nie en hulle beywer hulle nie alleen deurentyd vir die koninkryk van God in ooreenstemming met die evangelie van Christus nie – nee, hulle het ook ’n voortdurende verwagting – hulle verwag Jesus Christus as Verlosser!  Hulle kan nie wag om die ewige heerlikheid saam met Christus binne te gaan nie.  Hierdie woord “wag” [apek-decomai (apekdechomai)] is nie maar net ’n passiewe agteroor sit en wag nie – wag op so ’n wyse dat jy maar net so nou en dan daaraan dink nie – nee, dit is ’n aktiewe, angstige en opgewonde gewag – so asof jy die dae aftel en jy dit net nie meer kan uithou nie.  Dit is soos wat ek en Jeanne elke keer die kalender “op-kyk” om te sien hoeveel maande en later dae dit is voor ons kind wat permanent in Londen bly, kom kuier.  En hoe nader die tyd kom, hoe meer opgewonde raak ons – ons is aktief, deurdat ons sy kamer gereed kry en ons werk ’n program uit van wat ons alles gaan doen saam met hom.  Ons reël tye waar sy broers en skoonsussies saam met hom kan kuier – ons wag aktief en sorg dat alles haarfyn beplan is; alles netjies is en alles net die beste en aangenaamste vir hom sal wees wanneer hy hier is.

Paulus het baie te sê oor hierdie “wag” van gelowiges in 1Kor.15 (julle kan dit gerus gaan lees).  Soos wat ons alles “spikkenêrs” wil kry voor ons kind se koms, net so moet gelowiges alles in die stryd werp om hulle lewens bo verdenking te kry in hulle afwagting op Christus se koms.  Hoor wat sê Johannes in 1Joh.2:28 en 3:2-3 ~ En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly, sodat ons almal niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie en by sy wederkoms nie beskaamd voor Hom sal staan nie.....2 Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3 Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is.

Burgers van die hemel het saam met Christus opgestaan.  Burgers van die hemel strewe na die dinge daarbo en burgers van die hemel kan nie meer wag dat Jesus se wederkoms moet plaasvind nie!

Hierdie aktiewe verwagting wat gelowiges koester t.o.v. Christus se wederkoms, het een groot gevolg.  Paulus sê in v.21b ~ Hy (sal) ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.  Ten einde te verstaan wat Paulus met hierdie uitdrukking bedoel, moet ons na 1Kor.15:43-53 gaan kyk ~ ...wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. 44 ’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar ’n natuurlike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam. 45 So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword. 46 Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike. 47 Die eerste mens is uit die aarde en is stoflik; die tweede mens is uit die hemel. 48 Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. 49 Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees. 50 Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie. 51 Kyk, ek maak ’n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. 52 By die laaste trompet sal dit in ’n oomblik, in ’n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. 53 Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike.

Paulus sê hier, dat gelowiges in hierdie lewe, natuurlike liggame het wat impliseer dat dit geskik is vir ’n aardse omgewing en lewe.  Hierdie natuurlike liggaam het ons van ons eerste ouer, Adam ontvang toe hy deur God, uit stof geformeer is en die lewensasem in sy neus ingeplaas is (Gen.2:7).  Die mens wat nou hier in hierdie lewe leef, moet en gaan egter op ’n stadium sterf, maar daar is en gaan ’n opstanding wees en wanneer dit gebeur, gaan die gelowiges se liggame, verheerlikte liggame wees wat geskik sal wees vir ’n geestelike omgewing en -lewe. 

Die opgestane liggaam sal dan ook die voltooiing van die reddingsproses wees en die uiteinde is dan dat gelowiges na die beeld van Christus gevorm sal wees en sal elkeen van hierdie verrese gelowiges, deel in Christus se heerlikheid en in ewigheid in die teenwoordigheid van God Almagtig deurbring!

Burgers van die hemel beskik dus oor ’n wonderlike en geseënde toekoms!  Paulus beskryf hierdie gebeurtenis as volg in 1Tes.4:16-18  ~ Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 18 Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde

Net ter wille van die wêreld en onkundiges wat dalk mag vra, hoe dit moontlik is dat die eens natuurlike liggaam, na sy dood verander kan word in ’n geestelike- en verheerlikte liggaam, verskaf Paulus die antwoord in v.21a ~ Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp

Dit is so asof Paulus wil sê dat ons mos alreeds die antwoord op hierdie vraag het, want die krag wat nodig is om ’n liggaam te laat opstaan en so ’n liggaam te omskep in ’n verheerlikte liggaam, was mos alreeds gedemonstreer op verskeie wyses.  Dit is dieselfde krag wat God gebruik het, deur net ’n woord te spreek en die ganse kosmos het tot stand gekom (Gen.1:3-26);  dit is dieselfde krag wat vanaf God uitgegaan het toe Hy Jesus uit die dood opgewek het (Ef.1:19-20); dit is dieselfde krag wat gebruik is om elke burger van die hemel te wederbaar.  In kort, God is ’n almagtige God en volgens 1Kor.15:28 sien ons dat God alles aan Hom onderwerp.  Hierdie almagtige God wat tot al hierdie dinge in staat is, is dieselfde God wat die burgers van die hemel gaan laat opstaan uit die dood en aan elkeen van hulle ’n verheerlikte liggaam skenk. 

5.     AFSLUITING:
Die vraag waarmee elkeen van ons vandag gekonfronteer word, is of ons waarlik burgers van die hemel is?  Is ons waarlik saam met Christus uit die dood opgewek? 

Is die offer wat Christus aan die kruis gebring het, ook vir jou gebring?  Het jy opgestaan in ’n nuwe lewe?  Gaan jy die dood met opgewondenheid en ’n onuitblusbare verlange tegemoet, omdat jy ’n verwagting het van ’n ewige lewe?   Lei jy ’n toegewyde lewe aan Christus?  Werk jy saam met die Heilige Gees aan jou heiligmakingsproses?

Om John MacArthur se aanhaling te herhaal en effe te verander, wil ek vir jou vra:  Are you living in the heavenlies?  Have you committed yourselve to the riches of the “Jerusalem above”?  Are you living your heavenly values out in this world to the glory of God?

Die eerste geboorte skenk aan gelowiges, dít wat natuurlik of aards is, terwyl die tweede geboorte aan die gelowige skenk, dít wat geestelik (of hemels) is.  God verwerp die eerste (natuurlike) geboorte en daarom sê Hy, dat die mens weergebore moet word.  Hy het Kain verwerp en Abel gekies.  Hy het Abraham se eersgeborene Ismael verwerp en Abraham se tweede seun Isak gekies.  Hy het Esau verwerp en Jakob gekies,  Indien jy op jou eerste, vleeslike geboorte staatmaak vir redding, sal jy verdoem wees vir ewig; maar indien jy waarlik die tweede geboorte (wedergeboorte) ervaar het, sal jy God se ewige seën ervaar.  Dan sal die dood geen angel vir jou hê nie, want Christus het die angel van die dood getrek. 

Die antieke Grieke het geen hoop gehad op ’n lewe na die dood nie en daarom is daar op baie van hulle grafstene geskryf, dat die dood hul grootste vyand is.  Die graf is egter nie die eindbestemming vir die mens nie, want in Christus Jesus kan elke mens hoop hê om ’n burger van die hemel te wees, maar dan moet jy bereid wees om die knie te buig voor Jesus Christus en jou ganse lewe aan Hom toewy in gehoorsaamheid en diensbaarheid.


Van der Walt, Nico.  Herout No.7 – Die Opstanding van Jesus Christus, p.3&4.
MacArthur, John.  1992.  The MacArthur New Testament Commentry – Colossians & Philemon. Chicago. : The Moody Bible Institue.  249p.