Sunday, October 17, 2010

DIE EERSTE BRIEF VAN PETRUS ~ 15 (“Die Uitverkorenes en hul Vuurproef”)

Indien u hierdie boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkinsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING:

1Pet.4:12-16 ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13 Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. 14 Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ’n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly. 15 As een van julle ly, moet dit nie wees omdat hy ’n moordenaar is of ’n dief of ’n misdadiger of ’n kwaadstoker nie. 16 Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik. 

2. TEKSVERS:

V.12 ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Die uitverkorenes en hul vuurproef.

3. INLEIDING:

Petrus is steeds besig om sy lesers te bemoedig te midde van vervolging en verwerping en ons weet dat Petrus spesifiek praat oor vervolging en verwerping op grond van sy lesers se geloof, want die voorafgaande konteks gaan daaroor en v.16 bevestig hierdie feit ~ Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is.

Ons het reeds verlede week gesien dat hierdie bemoedigende brief van Petrus net so van toepassing is op óns lewe en situasie, want daar is nie een van ons wat nie ook vervolging, of ’n mate van vervolging, of verwerping of isolasie van vriende en familie en werkgewers en bure en die algemene publiek ervaar nie en daarom moet ons luister na Petrus en sy woorde in hierdie brief.

In hierdie gedeelte waarna ons dan gaan kyk vanoggend, sal ons sien dat Petrus eerstens aan ons sê dat ons ’n vuurproef, of te wel beproewing, moet verwag en dan verskaf hy aan ons drie redes waarom dit die geval is. En tweedens sê hy dat ons, ons moet verheug daarin, wanneer ons beproewing ervaar en hy verskaf weer drie redes aan ons, waarom dít die geval is. Kom ons kyk dan eerstens na die feit dat ons beproewing moet verwag en waarom.

4. VERWAG VERVOLGING & BEPROEWING:

Petrus begin hierdie gedeelte van sy brief deur te sê dat ons nie verras moet wees as ons vervolging ervaar nie. Wanneer ons as gelowiges hoor van vervolging, dink ons gewoonlik aan mense wat in donker nat en rotbesmette kelders aangehou en uitgehonger en gepynig word. Gelowiges wat in soutmyne in Siberië met pik en graaf werk in die uiterste koue toestande denkbaar en dan sien ons hulle in ons geestesoog, een na die ander net dood neerval, terwyl die ander gelowiges hulle op lendelam waentjies na ’n groot massagraf toe wegstoot. Of in Nero sy tyd, het ons al gelees hoe gelowiges vir die wildediere gevoer is, of vol teer gesmeer en aan die brand gesteek is, om lig te verskaf tydens Nero se aandpartytjies in die tuin van die paleis. Of die Anabaptiste wat met gewigte aan hul voete vasgemaak, in die meer van Genève gegooi is om te verdrink. Hierdie is maar enkele maniere waarop gelowiges wel deur die eeue heen gely en gesterf het vir hulle geloof.

As ons na Jak.1:2 kyk, sien ons dat hierdie vervolging waarvan hy praat, nie net uit een tipe vervolging bestaan nie, maar dat gelowiges verskeie soorte vervolging kan ervaar. Hy sê ~ My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom. Ook Petrus verwys in 1Pet.1:6 na allerlei beproewings. Hierdie vuurproef waarna hy dan in v.12 verwys, is niks anders as “allerlei beproewings” nie.

Die Griekse woord wat hier gebruik word, is “peirasmos” en beteken letterlik om onderwerp te word aan ’n verhoor of ondersoek, asook om in versoeking te kom, of verlei te word. Hierdie beproewinge waarvan Petrus praat is dus nie net om onderstebo in ’n sel te hang vir jou geloof nie. Nee, dit behels ook diskriminerende optrede teen jou op grond van die feit dat jy jou geloof uitleef.

Dit beteken egter óók dat jy beproewing ervaar wanneer jy deur sonde versoek of verlei word en jy weerstand teen, bv. jou vlees bied, ten einde staande te bly. Ek dink bv. aan my swaer wat na jare se rook, ongeveer twee jaar gelede tot redding gekom het en hy sowat ’n maand gelede besluit het om op te rook, omdat hy oortuig daarvan is dat hy nie net sy gesondheid deur rook ondermyn nie, maar dat hy ook sy getuienis as gelowige met sy rokery daarmee “blaas”, maar ook omdat hy oortuig daarvan is dat die Here dit van hom verwag, op grond van 1Kor.6:19-20 ~ Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: 20 julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. En tans is hy in ’n bykans, uurlikse stryd teen die gewoonte en verslawing van rook en op hierdie manier ervaar hy geweldige beproewing – beproewing vir en oor sy geloof.

Van ons het al deur tye van werkloosheid gegaan, of allerlei ander soorte beproewing of swaarkry ervaar en wanneer ons deur sulke tye gaan, is ons baie dikwels in die versoeking om te kla oor ons situasie, of ons raak opstandig daaroor, of ons geloof dreig selfs om in mekaar te tuimel – dít is beproewing, want ons moet, as gelowiges veg daarteen dat ons nie toegee aan ons emosies en in die proses dus sondig nie. Daarom sê Petrus ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie (v.12).

Maar waarom bevind ons onsself van tyd tot tyd in sulke situasies? Petrus verskaf aan ons drie redes waarom ons deur hierdie beproewinge moet gaan en waarom ons dit moet verwag:

· Ons vind die eerste rede in die tweede gedeelte van v.12, maar een van die eienaardigste Afrikaanse vertalings vind ons juis hier in v.12. Die N.A.V. en O.A.V. is baie dieselfde (kom ons lees die O.A.V., omdat dit die naaste aan die oorspronklike teks is) ~ Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie. Die N.A.S.B. en die N.K.J.V. en K.J.V vertaal hierdie vers egter korrek ~ Beloved, do not be surprised at the fiery ordeal among you, which comes upon you for your testing, as though some strange thing were happening to you (N.A.S.B.). As ek dus v.12 in Afrikaans kan parafraseer, sal ek dit as volg doen ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie, want dit gebeur juis om julle te toets. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. Hierdie woord “toets” is weer dieselfde as wat ons netnou vir beproewing gehad het, nl. “peirasmos” en wat dan letterlik beteken, om onderwerp te word aan ’n verhoor of ondersoek. Hierdie toets of verhoor, of ondersoek waaraan ons onderwerp word, is om ons getrouheid en eerlikheid; ons integriteit; ons eerbaarheid en kuisheid; ons volharding en standvastigheid te toets en ook tot watter mate ons sal toegee aan sonde al dan nie. Hierdie toetse wat oor ons pad gestuur word, kom dus van God ten einde ons karakter en ons geloof en ons heiligmaking te toets en vas te stel of ons die toets gaan slaag al dan nie.

Ons ervaar dus in die eerste plek beproewing om vas te stel of ons die toets slaag.

· ’n Tweede rede waarom beproewing en toetse oor ons pad kom, is om aan ons die geleentheid te bied om, soos v.13 dit stel, ...in die lyding van Christus (te) deel.

Ons moet nie moedeloos raak wanneer beproewing oor ons pad kom nie, want Paulus sê dat ons bemoedig sál word deur Christus Jesus – hierdie is dus ’n belofte vanuit die Woord, waarop ons kan en moet staan wanneer ons swaar kry – hoor wat sê Paulus in 2Kor.1:5 ~ ...want net soos daar vir ons ’n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons ’n oorvloed van bemoediging deur Christus. Die woord “bemoediging” hier kan ook vertaal word met “troos”, of “vertroosting”. Miskien sê jy nou vir jouself: Dit mag alles goed en waar wees, maar ek ervaar nou al só lank beproewing en ek ervaar beslis nie Christus se vertroosting nie – wat moet ek dan nou hiervan maak? Miskien kan Paulus vir ons nog meer lig werp op hierdie vraag, wanneer hy in 2Kor.4:10 vir ons sê ~ Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Wat sê Paulus hier vir ons? Ten einde dit te verstaan moet ons net vlugtig na ander verse in Paulus se tweede brief aan die gemeente in Korinte gaan kyk. As ons na die vorige twee verse in 2Kor.4, nl. vv.8-9 kyk, sien ons vier dinge wat vir hom moeilik is ~ In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; 9 ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. In 6:3-10 en 11:23-29, verskaf hy nog twee langer lyste van dinge wat lyding aan hom verskaf – kom ons blaai na 2Kor.11:23-29 en dan kyk ons wat hy alles moes deurmaak ~ ...ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. 24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, 25 drie maal het ek lyfstraf gekry, en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ’n dag en ’n nag in die oop see deurgebring. 26 Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. 27 Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. 28 Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeente. En dan weet ons natuurlik ook dat Paulus uiteindelik as martelaar gesterf het.

Hierdie dood (en lyding) van Jesus wat Paulus in hom saam dra, is sy manier om te verwys na sy eie fisiese en emosionele lyding wat hy ervaar t.w.v. sy roeping as Apostel, maar ook t.w.v. sy roeping as gelowige. Christus het ook gely (en natuurlik – veel, veel meer as ons) t.w.v. sy roeping (Sy soendood aan die kruis), asook Sy getrouheid aan Sy Vader (Sy versoekinge in die woesterny), maar daardie lyding en dood wat Christus ervaar het, was t.w.v. ’n ewige lewe vir óns na die dood en Sy versoekinge en toets in die wildernis, was juis daar, sodat Hy met ons beproewinge kan identifiseer.

Christus se lyding en dood het gelei tot ’n ewige lewe en daarom moet ons identifiseer met Christus in en deur ons lyding en uiteindelike sterwe, want dan kan ons ook identifiseer met die hoop op ’n ewige lewe wat daar in Christus Jesus is. En daarom, wanneer ons swaar kry, moet ons identifiseer met Christus en weet dat ons lyding, omdat ons gelowiges is, sál uitloop op die ewige lewe.

Ek dink ’n pragtige voorbeeld van hierdie waarheid vind ons in Hebr.10:34b ~ ... en toe op julle besittings beslag gelê is, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n besitting het wat beter en blywend is. En dan gaan die Hebreërskrywer voort in v.35-38 deur te sê ~ Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in. 36 Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het. 37 Nog net “’n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie. 38 En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.

· Petrus verskaf aan ons ’n derde rede waarom ons beproewing ervaar in hierdie lewe. Gelowiges wat ly in Christus se naam is vervul met hoop, want ons weet dat ons vervul sal wees met onuitspreeklike vreugde met Christus se wederkoms, wanneer Sy heerlikheid openbaar gaan word en elke knie voor Hom sal buig en elke tong sal bely dat Hy God is (Rom.14:11). Hierdie heerlikheid van Christus is egter meer as hoop wat in die toekoms lê – dit is ook ’n teenswoordige hoop, want deur die Heilige Gees is Christus se heerlikheid reeds aan ons geopenbaar. Petrus sê in v.14 dat die Gees van God reeds op ons uitgestort is.

Wanneer Petrus dan sê dat ons beproewing in hierdie lewe moet verwag, motiveer hy dit, deur te sê dat ons daardeur getoets word en tweedens, dat ons daardeur in Christus se lyding deel en laastens sê hy dat ons beproewing moet verwag, sodat ons daardeur gevul kan wees met ’n lewende hoop.

5. VERHEUG JOU IN BEPROEWING:

Petrus gaan egter verder en hy sê in v.14-16, dat ons dankbaar moet wees – dat ons, ons moet verheug as ons beproewing ervaar en hy verskaf aan ons drie redes waarom ons, ons moet verheug in ons beproewing en vervolging:

· Eerstens sê hy dat ons geseën sal word wanneer ons beproewing ervaar. Letterlik staan daar, dat ons geseën sal word as ons IN Christus se Naam ly. Hierdie belofte word ondersteun deur Jesus se belofte in Matt.5:11 – blaai saam met my daarheen. Jesus sê ~ Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg....

Wat hou hierdie seën van God vir ons in? Wat beteken dit as God sê dat Hy ons gaan seën? Blaai net terug na die begin van Matt.5 en wel na v.4 – hier vind ons die “Saligsprekinge” en ek gaan net enkeles lees wat handel oor swaarky en beproewing ~ Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word. En v.10 en 11 ~ Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. 11 Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. En dan hierdie belofte in v.12 ~ Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg.”

· Petrus gaan egter voort en hy sê dat wanneer ons ly, dit juis ook ’n bewys is dat ons kinders van God is. Wanneer ons as gelowiges dan swaarkry sal ons geseën word en, sê Petrus in 1Pet.4:14b, dat ...dit ’n bewys (is) dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op (ons) bly, of letterlik, ...op ons rus.

As ons dan seën van die Here wil ontvang en daarom gewillig is om beproewing te ervaar, waarsku Petrus ons in v.15 dat ons seker moet maak dat ons motiewe suiwer is – dat ons seker sal maak dat ons bereid is om vir die regte redes te lei en dat ons nie sal dink dat indien ons swaarkry voortspruit uit sonde, ons God se seën sal ervaar nie, want God sal ons nooit d.m.v. sonde beproef nie. As ons dus sondig deur, enersyds kriminele dade te pleeg, soos moord en diefstal, of in kort, om ’n misdadiger te wees, of andersyds, as ons sondig deur bv. kwaad te spreek en in andere se sake in te meng en ons deur hierdie sondige optredes ly en swaarkry, kan ons nie seën verwag nie.

· In 1Pet.4:16 staan daar ~ Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is, moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie naam moet hy God verheerlik.

Ons het verlede week in v.11 gesien dat ons, ...God in alles (moet) verheerlik. Petrus volg daardie stelling hier op, deur vir ons hier ’n derde rede te verskaf waarom ons, ons beproewing as ’n seën moet beleef, want dit bied aan elkeen van ons ’n uitstekende geleentheid om God deur ons lyding, te verheerlik. Ons moet dit dus altyd in gedagte hou dat wanneer ons met die regte motiewe ly en ons in die Naam van Christus ly, ons deur ons lyding, God verheerlik. En om God te verheerlik is tog immers ons hoogste roeping hier op aarde en daarom, wanneer ons ly, moet ons nie skaam wees daaroor nie en moet ons ook nie kla daaroor nie, trouens ons moet dankbaar en opgewonde wees, want wanneer ons nie sondig wanneer ons beproewing ervaar nie, sál ons God verheerlik.

6. TEN SLOTTE:

Om saam te vat:

· Ons moet beproewing verwag.

· Ons moet bly wees oor ons beproewing, want beproewing bevorder karakter en my geloof en daarom is beproewing ’n seën.

· Dit is ook ’n geleentheid om in Christus se lyding te deel en daardeur ons hoop te vestig op die heerlikheid wat ons in Christus gaan ontvang. Lyding en beproewing bevestig dus ons kindskap in Christus Jesus.

· En laastens, wanneer ons lyding ervaar, moet ons weet dat ons geseën sal word en dat God deur ons lyding verheerlik word – mits ons, ons beproewing of lyding reg hanteer.

Amen.



Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 17 Oktober 2010

Monday, October 11, 2010

DIE EERSTE BRIEF VAN PETRUS ~ 14 (“Die Uitverkorenes se Roeping”)

Indien u hierdie boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkinsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING:

1Pet.4:7-11 ~ Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. 8 Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. 9 Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. 10 As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien. 11 As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.

2. INLEIDING:

Wanneer ’n mens banieropskrifte sien wat lees: “Die einde is naby”, reageer verskillende mense verskillend daarop. Sommige sal onmiddellik daaroor begin redekawel; ander sal die plek soek waar daar oor die onderwerp gepraat gaan word; sommige sal bang word; ander sal daaroor lag; sommige sal dit bloot net ignoreer en nog andere sal sê: “dit is nie Bybels nie, want niemand kan sê wanneer die einde daar is nie”. Ons hoor deesdae al meer en meer die jaartal 2012 as die einde van alles. En Petrus? Petrus voeg homself by hierdie groep mense wat sê dat die einde van alles op hande is. Of sê Petrus presies dít? Wat sê Petrus regtig as hy sê: Die einde van alles is naby?

3. DIE EINDE VAN ALLES IS NABY:

Indien ons presies wil verstaan wat Petrus hier sê, moet ons na ander soortgelyke Skrifuitsprake gaan kyk. Die Griekse woord wat Petrus hier gebruik is telos en hy gebruik hierdie selfde woord in 1Pet.1:8 wanneer hy sê ~ Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. Dieselfde woord word ook deur Jesus in Matt.24:13 gebruik ~ Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. Blaai saam met my na Rom.13:11 dan kyk ons hoe Paulus hierdie selfde woord gebruik ~ En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.

Wanneer ons na hierdie teksverse kyk, asook na die Grieks, kan die woord telos as volg vertaal word: God sal alles voltooi en afhandel. Die lewe hier op aarde hou dus vir elkeen van ons ’n baie besliste einde in en nie een van ons weet wanneer die einde van alles gaan aanbreek nie. Jesus het self gesê ~ Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit (Matt.24:36).

Wanneer Petrus sy lesers, wat gebuk gaan onder vervolging, daarop wys dat die einde naby is, wil hy hulle eintlik bemoedig. Jakobus bevestig hierdie standpunt deur in Jak.5:8 te sê ~ Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. ’n Vraag wat baie mense dikwels vra, is hoe is dit moontlik dat die Woord kan sê dat die einde naby is, want vandat Petrus hier geskryf het, het daar al nagenoeg 2 000 jaar verloop en die einde is steeds nie naby nie! As ons egter na die konteks van ons Skrifgedeelte kyk, moet ons hierdie opmerking van Petrus, nié teen die agtergrond van Christus se wederkoms sien nie, maar teen die agtergrond van v.6 waar Petrus verwys na die gelowiges wat reeds afgesterf het. Wat hy dus vir ons wil sê, is dat ons lewe hier op aarde en daarom die lyding en swaarkry en vervolging wat ons in hierdie lewe ervaar, maar ’n oogknip is in vergelyking met die ewigheid.

Dit laat my dink aan die woorde van Job, toe hy gesê het ~ Die mens is vir swaarkry gebore, en sy lewe is kortstondig soos ’n vonk wat opskiet (Job 5:7 – sien ook Ps.89:48). Maar dan gaan Job verder in 14:14 en sê hy ~ As ’n mens sterf, sal hy weer lewe? Dan sou ek al die dae van my swaarkry kon wag tot daar vir my nuwe lewe kom. En dit is presies die gedagte wat Petrus hier wil deurgee aan sy lesers, nl.: Die lewe is só kort in vergelyking met die ewigheid – hou dus moed, hierdie swaarkry is amper verby, wanneer God ook julle lewenspad gaan voltooi - telos.

4. VYF OPDRAGTE:

Hierdie verwagting van verlossing en ’n ewige lewe mag egter nie tot gevolg hê dat ons ’n traak-my-nie-agtige houding teenoor die lewe en ons roeping hier op aarde sal inneem nie, daarom dat Petrus in vv.7-11, vyf opdragte gee waaraan ons gehoor moet gee, nl.:

· Selfbeheersing en Nugterheid (v.7): Alle gelowiges is gevul met die Heilige Gees en daarom moet ons selfbeheersd wees. Ons kan nie maar net vrye teuels aan ons luste gee nie – ons kan m.a.w. nie maar net doen waarvoor ons lus nie. Ons moet onsself beheer en voor ons iets sê of doen, moet ons dit in ooreenstemming met God se wil, soos geopenbaar in Sy Woord, doen.

Petrus gaan voort en sê dat ons as gelowiges, ook nugter moet wees. Die Griekse woord wat hier gebruik word is nepho en beteken letterlik om kalm en bedaard te wees. Ons moet dus ons lewe in die algemeen in oënskou neem en toesien dat ons ’n kalm en bedaarde lewe lei – nie net t.w.v. ons gesondheid nie; of t.w.v. ons getuienis nie, maar veral t.w.v. Petrus se volgende opdrag, nl. gebed.

· Gebed (v.7): Letterlik staan hier gebede. Ons word dus geroep om gedurig in gebed te verkeer. As ons terugkeer na ons openingsvers (v.1), sien ons dat ons, ons gedagtes moet wapen en ons kan dit nie doen sonder gebed nie. En om ’n lewe te lei waar ons voortdurend bewapen moet wees, vra dit dat ons voortdurend die geleentheid sal aangryp om in gebed te verkeer. Paulus sê in Ef.5:8 dat ons waaksaam moet wees en by elke geleentheid en gedurig moet bid. Ons ganse lewe moet deurweek wees van gebed. Ons moet nie vir een oomblik dink dat ons staande kan bly teen die aanslae van die bose sonder gebed nie. Guy King het eenkeer gesê ~ No one is a firmer believer in the power of prayer than the devil; not that he practices it, but he suffers from it. Die enigste manier om die “brullende leeu” van ons weg te hou, is deur die volle wapenrusting aan te trek en ons kan dit alleen doen deur gebed.

· Onderlinge liefde (v.8): In v.8 sien ons dat ons mekaar bo alles moet lief hê. Behalwe dat dit ’n algemene opdrag van God is dat ons mekaar moet lief hê, hou liefde vir ons broers en susters ’n verdere voordeel vir ons in – Spr.10:12 sê .... liefde bedek alles wat aanstoot gee. Liefde keur nie sonde in ’n broer goed nie, trouens dit moet ons eerder bedroef as ons ’n broeder sien sondig en dit is een van die primêre redes waarom Jesus vir ons Matt.18 gegee het, nl. om sonde in broers se lewe aan te spreek, ten einde hom terug te wen vir die Koninkryk. Wat Petrus dus hier wil sê, is dat ons liefde vir ’n broer so opreg en groot moet wees, dat wanneer hy sondig, sy sonde ons nie só sal aanstoot gee dat ons hom verwerp nie, maar dat ons liefde vir hom, ons juis sal aanspoor om hom terug te wen vir Christus.

· Gasvryheid (v.9): Liefde vir medegelowiges is een seker merkteken van ’n ware gelowige in Christus en omdat gelowiges gehaat word deur die wêreld, het ware gelowiges die onderlinge liefde en bemoediging en inspraak van medegelowiges nodig. Hierdie liefde word dan o.a. op praktiese wyse uitgedruk deur ons gasvryheid teenoor mekaar – daarom dat die Hebreërskrywer ook sê dat ons nie moet nalaat om gasvry teenoor mekaar te wees nie, maar wanneer ons gasvryheid demonstreer, moet ons Paulus se woorde in Fil.2:14 in gedagte hou wanneer hy sê ~ Doen alles sonder kla of teëpraat. Ons moet dus daarop ingestel wees om gasvry teenoor mekaar te wees, maar wanneer ons gasvry is, moet ons nie daaroor kla nie, want wanneer dít die geval is, is ons besig met dooie werke en nie om Christus daardeur te verheerlik nie.

· Bediening van genadegawes (vv.10-11): Laastens sê Petrus dat elkeen (lw. ELKEEN) van ons as gelowiges, ’n spesiale gawe of, gawes van die Here ontvang het en dat ons hierdie gawe of gawes moet aanwend en gebruik in die gemeente.

Wat is hierdie gawes waarvan Petrus hier praat? Is dit die gawes waarvan Paulus in 1Kor.12:8-10 praat, nl. ’n woord van wysheid; ’n woord van kennis; geloof; genadegawe van gesondmaking; krag om wonders te doen; die gawe om te profeteer; die gawe om tussen die geeste te onderskei; die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ’n ander om dit uit te lê? Of is dit die gawes waarvan ons lees in Ef.4:11, nl. evangelisasie; pastorale versorging; apostelskap; profesie? Of praat hy hier van die Rom.12:7-9 se gawes, nl. bemoediging; onderrig; diensbaarheid; leiding; lering; hulpverdeling en uitdeling?

Sonder om nou in detail hierop in te gaan (miskien ’n volgende keer), moet ons na die onmiddellike konteks kyk waar hier gepraat word van die gawes en dan sien ons dat dit hier gaan oor onderlinge verhoudinge en die opbou van mekaar ~ Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê (v.8). Wees gasvry jeens mekaar (v.9). ... moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien (v.10). ...as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien (v.11). Die gawes wat dus hier ter sprake is, is die sg. 11 permanente gawes. En as ons praat van die permanente gawes, praat ons van daardie gawes wat nié ten einde gekom het aan die einde van die Apostoliese tydperk nie, nl.: ’n Woord van wysheid en -kennis; onderskeiding van geeste; geloof; bemoediging; onderrig; diensbaarheid; leiding ; lering; hulpverlening of uitdeling; evangelisasie en pastorale versorging.

Die ander gawes wat aan die einde van die Apostoliese tydperk ten einde gekom het, is natuurlik die “Afgehandelde gawes” (Apostelskap en profesie) en die “Buitengewone gawes” (wonderdade; gesondmaking; ongewone tale; uitleg van tale en woorde van kennis). Natuurlik moet ek net meld, ter wille daarvan om enige moontlike misverstande uit die weg te ruim, dat die “Buitengewone gawes” nóg van tyd tot tyd kán voorkom – soos; wat en waar God dit mag nodig ag, want in sy soewereine almag kan Hy steeds doen wat Hy wil en hoe Hy wil. Hier dink ek bv. aan bepaalde sending situasies waar God so ’n buitengewone gawe kan gebruik ten einde, bv. ’n deurbraak in die sending situasie te bewerkstellig – ons mag God dus nie beperk nie. Máár, hierdie is nie gawes wat algemeen in die kerk meer voorkom nie en is dit ook nie gawes wat ons moet najaag en “soek” nie, of soos sommige groepe selfs sal sê, dat ongewone tale bv. ’n waarborg en teken van die vervulling met die Heilige Gees en derhalwe wedergeboorte is nie.

Petrus is ook baie duidelik waarom ons, ons gawes moet aanwend en gebruik in diens van die Koninkryk en ons broers en susters:

- Eerstens sê Petrus, moet ons as goeie rentmeesters van al die genade wat ons van God ontvang het, ons gawes inspan om mekaar in liefde te dien en om God te verheerlik. En hoe moet ons dit doen? Deur die krag wat God aan ons gee. En waarom moet ons dit doen? Omdat ons deur ons diensbaarheid aan mekaar, God Drie-Enig daardeur verheerlik – en dit is tog immers ons hoogste roeping in hierdie lewe – om God deur ons lewe te verheerlik!

- Tweedens sê hy dat wanneer ons praat, ons woorde gevul moet wees met, soos Lukas dit in Hand.7:38 noem, lewende woorde, m.a.w. woorde wat gevul is met God se gedagtes. Ons moet ons dus, o.a. nie voortdurend ophou met ligsinnige praatjies nie (Ef.5:4).

Ons moet dus in gedagte hou, dat elke gelowige een of meer van hierdie permanente gawes ontvang het. Die probleem wat egter nou kan ontstaan, is dat ons hierdie gawes kan misbruik en wel op die volgende wyses:

- Ons kan nalaat of selfs weier om ons gawes te gebruik (1Kor.14:1, 12, 23).

- Of ons kan ons gawes nie in liefde aanwend nie (1Kor.13:1).

- En ons kan hierdie gawes misbruik, uit jaloesie vir andere wat gawes in opregtheid uitleef (1Kor.12:15-16), of ons kan ons gawes in trots uitleef – trots omdat ons mense (en selfs God) daardeur wil beïndruk en dit is dan uiteraard, dooie werke (1Kor.12:21).

Laat ons net weer vlugtig na hierdie gawes kyk en vra jouself die vraag af: Oor watter van hierdie gawes beskik ek en wend ek dit tot eer van die Here en tot opbou van die gemeente aan? ’n Woord van wysheid en kennis (insig in die Woord en leerstellige waarhede en hoe dit toegepas kan word in die lewe van die gelowiges – 1Kor.2:6); onderskeiding van geeste (die vermoë om te kan onderskei tussen die waarheid en dwaalleer); geloof (buitengewone geloof in Christus – iets wat deur bykans alle gelowiges toegepas word); bemoediging; onderrig; diensbaarheid; leiding; lering; hulpverlening of uitdeling; evangelisasie en pastorale versorging.

5. AFSLUITING:

As ons dan so na Petrus en die verklaring van hierdie perikoop geluister het, moet ons onsself afvra of ons ernstig is oor ons dissipelskap en of ons ernstig is oor hierdie sake wat Petrus sê ons moet doen – juis omdat die einde op hande is? En daarom wil ek weer vir jou vra:

- Is jy te alle tye selfbeheersd en nugter? Indien nie geliefdes, moet ons dit as sonde voor God bely en om vergifnis vra en onsself bekeer.

- Is gebed vir jou belangrik? Bid jy gereeld? Neem jy aktief en met oorgawe deel aan die gebedstyd hier in die gemeente?

- Het jy jou broers en susters onvoorwaardelik lief? Dien jy hulle en stel jy hulle belange voorop?

- Is jy gasvry teenoor medegelowiges, sonder om daaroor te kla?

- Leef jy jou gawes uit in diens van jou broers en susters en tot eer van die Here?

- Kan jy in alle eerlikheid sê dat jy ’n lewe leef wat God deur jou optrede en jou spreke en deur jou denke, verheerlik?

Amen.



Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 10 Oktober 2010

Monday, October 4, 2010

DIE EERSTE BRIEF VAN PETRUS ~ 13 (“Bemoediging en Implikasies vir Uitverkorenes”)

Indien u hierdie boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkinsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING:
1Pet.4:1-6 ~ Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het: 2 vir die res van sy aardse bestaan word sy lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God. 3 In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. 4 Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle. 5 Hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat klaar staan om oor die lewendes en die dooies te oordeel. 6 Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe.

2. INLEIDING:
Ek wil vanoggend met u gesels oor ons as gelowiges se optrede te midde van vervolging en verwerping.

Petrus skryf hierdie brief in ongeveer 65 n.C. vanuit Rome, aan die gelowiges in die westelike landstreke van Klein-Asië. In 1:1 spreek hy hulle aan as vreemdelinge in die verstrooiing. Ons het dus hier te doen met, óf Joodse gelowiges wat a.g.v. die verstrooiing soos beskryf in Hand.8:4, o.a. in Klein-Asië gebly het, óf dit was gelowiges wat só ontuis in hul eie omgewing gevoel het a.g.v. hul geloof, dat hul soos vreemdelinge gevoel het. Hierdie gelowiges het dan ook baie swaar gekry en is hulle uitgestoot uit die samelewing en het hulle vervolging en verwerping ervaar oor hul Christenskap.

Te midde van hul vervolging en beproewing, kom Petrus en hy bemoedig hulle wanneer hy hulle in v.1 ook “uitverkorenes” noem. Hierdie uitdrukking “uitverkorenes” het vir die gelowiges baie moed en sekuriteit verskaf, omdat hierdie titel (“uitverkorenes”) vir hulle die versekering gegee het, dat hulle gered was; dat God hulle geloof in stand sal hou en dat hulle dus niks te vrees het oor die ewigheid nie. Petrus was natuurlik ook baie slim (ek wil amper sê: hy was “heilig-slinks”) om hulle hier aan die begin van hierdie gedeelte van sy brief so te noem, omdat hy so bietjie later vir hulle gaan sê dat hulle te midde van swaarkry, nooit hierdie versekering van redding uit gedagte moet verloor nie.

En juis omdat hulle uitverkorenes is, hou hierdie identiteit vir hulle bepaalde implikasies in en nodeloos om te sê; omdat ons ook gelowiges is en daarom ook uitverkorenes, hou hierdie selfde identiteit ook vir ons presies dieselfde implikasies in en moet ons, ons derhalwe ook steur aan Petrus se bemoedigende woorde in ons perikoop.

Petrus hanteer hierdie gedeelte in hoofstuk vier dan ook onder die volgende twee punte, nl.:
• Bemoediging vir Uitverkorenes (vv.1-3);
• Implikasies vir Uitverkorenes (vv.4-6).

3. BEMOEDIGING VIR UITVERKORENES:
Petrus skryf in 4:1 ~ Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het. Met hierdie woorde herinner Petrus die gelowiges in Klein-Asië aan Christus se lyding op Golgota, soos wat hy reeds in 3:18 gedoen het, toe hy gesê het ~ Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

Petrus wil nie alleen sy lesers herinner aan Christus se lyding nie, maar hy wil ook dieselfde beginsels wat op Jesus van toepassing was, op sy lesers se swaarkry en lyding van toepassing maak en daarom dring hy daarop aan, dat sy lesers dieselfde gesindheid moet openbaar as hul Verlosser, en dat hulle dit voortdurend in gedagte moet hou, daarom dat hy sê ~ Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen (v.1).

Wat Petrus duidelik hier in gedagte het, is sy woorde in Ef.6:13, toe hy gesê het ~ Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil. Hierdie oproep van Petrus dat sy lesers hul gedagtes moet wapen, is dus nie maar net ’n “kopskuif” wat gemaak moet word nie. Hier is ’n aktiewe en drastiese opneem van bepaalde stukke wapenrusting by betrokke. Ons moet dus ’n daadwerklike wilsbesluit neem en ons ganse lewe – ons gedagtes, ons emosies, ons optrede, hierby aanpas.

Wat beteken dit dan om ons te beklee met dieselfde gesindheid as Christus? Primêr is dit om Christus se voorbeeld wat Hy vir ons kom stel het, onvoorwaardelik en getrou na te volg. En watter voorbeeld het Christus vir ons kom stel? Eerstens sien ons in v.1 dat Petrus vir ons sê dat Christus met die sonde kom afreken het. Jesus was intens betrokke by die mens – van die sondeval in die Tuin van Eden, totdat Hyslef kom klaar speel het met die sonde op Golgota. Maar, dit het lyding aan Sy kant gekos. Ons identifisering met Christus impliseer dus dat ons ook ’n gans ander gesindheid jeens sonde moet hê en daarom moet ons, net soos Christus klaarmaak met sonde in ons lewe, al gaan dit ook gepaard met lyding aan ons kant, trouens Petrus waarsku ons in v.4 en daarna, dat dit nie vir ons maklik gaan wees om sonde nek om te draai nie – dit sál gepaard gaan met lyding, maar indien ons ernstig is in ons navolging van Christus, sal ons hele ingesteldheid wees, om klaar te maak met sonde, ten spyte van lyding. Ons móét dus die sonde aflê (“putting off”).

Maar soos ons al in die verlede gesien het: Wanneer ons iets neerlê, moet ons altyd iets opneem (“putting on”) en ons doen dit deur gehoorsaam te wees aan Christus en dít doen ons deur Sy voorbeeld wat Hy aan ons gestel het, na te volg.

Toe Jesus in die woesteny honger geword het, het die gedagte by Hom opgekom om brood vir Homself te maak – Hy kón immers, want Hy was God, al was Hy hier op aarde in ’n mensgestalte – Hy was dus steeds almagtig, máár Hy het nié toegegee aan die versoeking om dit te doen nie – wat was Jesus se optrede en reaksie, toe die satan Hom aangemoedig het om brood uit die klippe te maak? Jesus het geweet dat dit nié die wil van Sy Vader was om brood uit klippe te maak en sodoende Sy honger te stil nie, want die doel met Sy wildernis ervaring was o.a. juis om te ervaar wat ons soms ervaar en dat Hy derhalwe met ons kon identifiseer en daarom antwoord Hy die satan uit die Ou Testament wanneer Hy vir Hom sê ~ Daar is geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie (Luk.4:1-4 – ’n aanhaling natuurlik uit Deut.8:3).

Jesus het in Matt.16 vir Sy dissipels gesê dat Hy moet ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en dat Hy dood gemaak moet word en ten spyte van die feit dat Hy óók vir hulle gesê het, dat Hy weer op die derde dag uit die dood opgewek sou word, sê Petrus nogtans vir Hom in Matt.16:22 ~ Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie. En wat was Jesus se reaksie? Hy het vir Petrus gesê ~ Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê. Jesus het Sy Vader se wil te alle tye nagevolg en in hierdie geval was Sy Vader se wil dat Jesus moes sterf, sodat Hy versoening kon bewerkstellig tussen ons en die Vader. Dit was die Vader se wil dat Hy moes sterf en dít is wat Jesus nagestreef het – God se wil. En dit is presies wat ons ook te alle tye moet doen, indien ons ernstig is oor ons dissipelskap van Jesus – indien ons, onsself wil beklee met dieselfde gesindheid as Christus. En waar vind ons God se wil wat ons moet navolg? In Sy Woord.

Wanneer ons, ons dan beklee met dieselfde gesindheid as Christus, vertroos Petrus ons, deur te sê dat, al was Christus sonder sonde (2Kor.5:21) kan Hy steeds met ons identifiseer deurdat Hy ook mens geword het en Hy ook (net soos ons), blootgestel was aan versoekings (Rom.8:3) en selfs die dood (Mark.1:12-13; Hebr.2:10; 4:15), maar in v.2 maak Petrus dit duidelik dat Christus vir die res van sy aardse bestaan nie beheers (was) deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God.

In die lig van Jesus se woorde in Joh.13:15, nl. ~ Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen, verwag Hy dus van ons om soos Hy te lewe; om Sy kruis op te neem en Hom te volg (Matt.16:24) en nie meer ons ou lewe te leef soos toe ons nog heidene was nie. En dan noem Petrus in v.3, die dinge waaraan die wêreld hulself oorgee en hy wil daardeur ons ook maan om ons nie weer aan hierdie dinge skuldig te maak nie, want dan identifiseer ons nie meer met Christus nie en doen ons dus presies dít wat Christus nié gedoen het nie, nl. om toe te gee aan die sonde nie. Wat is die implikasies vir die uitverkorenes indien hulle Jesus se voorbeeld wil navolg?:
• Eerstens sê Petrus in v.3 dat ons, onsself nie moet oorgee aan “losbandigheid” nie. Die Griekse woord wat hier gebruik word is “aselgeia”, wat dui op skaamtelose en onbeteuelde wellus en ’n losbandige toegee aan allerlei vleeslike begeertes. In Ef.4:19 beskryf Paulus hierdie soort mense wanneer hy sê ~ Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ’n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen. In Rom.13:13a waarsku Paulus ons, dat ~ Ons welvoeglik (moet) lewe soos dit in die daglig hoort. In ons huidige konteks kan ons losbandigheid dus sien as iemand wat lewe nes hy wil en dat hy hom nie steur aan die gemeenskap se norme en waardes nie – hy dink bv. niks daarvan om te vloek net soos wat hy wil nie, ongeag van wat die mensdom daarvan mag dink – dan praat ek nie eens van God nie. Ek dink baie van ons hedendaagse kunstenaars maak hulle skuldig aan hierdie losbandigheid, want kru- en vuiltaal is deesdae aan die orde van die dag en dink mense soos ’n Casper de Vries niks daarvan om te swets soos hy goed dink nie – en die tragiek van die saak is dat ons “volkie” dink dat dit baie snaaks is.

Jongmense, veral studente, dink ook niks daarvan om smoordronk op straat te verskyn nie en almal rondom hulle dink ook dat dit skreeusnaaks is.

Mense is nie meer skaam daaroor om te spog met hoeveel keer hulle buite-egtelike omgang met andere het nie en homoseksualisme is nie meer ’n skande nie en so kan ons aangaan – losbandigheid is aan die orde van die dag en Petrus waarsku ons, dat indien ons uitverkorenes is, ons nie meer losbandig mag leef nie.
• Tweedens sê Petrus dat heidene hul skuldig maak aan wellus en dit is niks anders as ’n onbeheersde begeerte na wat verbode is en dit lê spesifiek op seksuele vlak.

Hoeveel keer lees ons nie deesdae ook in koerante van vooraanstaandes wat betrokke raak in buite-egtelike verhoudings en dan is hulle nie eens skaam om daaroor te praat nie. Mense gee hulle al meer en meer oor aan wellus en kan nie genoeg kry van pornografie en bloufilms nie en ons moet bedag daarop wees dat sagte pornografie (of as jy wil – skamel geklede vrouens) voortdurend en onverhoeds op TV verskyn, wat wellus in ons kan laat ontbrand – ons moet dus versigtig wees oor wat ons op TV kyk en ons moet waak daarteen om die televisie sommer net vir ure aan te los.

Nog ’n voorbeeld is bv. masturbasie wat deur sielkundiges aanbeveel word vir eensames, terwyl Mike Cleveland sê. dat masturbasie, “the doorway to slavery” is.

As ons net na statistiek t.o.v. die Internet kyk, kan ons sien dat Petrus nie verniet alreeds nagenoeg 2 000 jaar gelede vir gelowiges gewaarsku het teen wellus nie. Kom ons kyk net na enkele statistiek (en hierdie statistiek is t.o.v. die V.S.A. in 2005 – nie dat dit veel anders hier by ons sal wees nie):
- In 2005 is bevind dat 87% van alle universiteitstudente, virtuele seks beoefen.
- 63.4 miljoen webtuiste-besoekers, besoek “adult websites” dit verteenwoordig 37,2% van alle volwasse Internet gebruikers!
- Of nog meer skokkend dalk is die feit dat meer as 28 000 Internet besoekers elke sekonde, na pornografie kyk op die Internet.
- En elke 39 minute word daar ’n nuwe pornografiese video in die V.S.A. vervaardig wat gratis op die Internet besigtig kan word!
- Die pornografie industrie genereer jaarliks nagenoeg 12 biljoen dollar uit hierdie webtuistes (en hierdie webtuistes word deur slegs nagenoeg 50 maatskappy besit!).
- Die grootste groep besoekers aan Internet pornografie is tussen die ouderdomme 12-17.
- Die woord “seks” is die nommer 1 onderwerp wat op “Google Search” ingetik word . En so kan ons aangaan.

As ons na al hierdie dinge luister, besef ons dat die wêreld waaruit God ons bevry het, toe Hy ons weergebore het, sug na wellus, maar Petrus waarsku en sê dat uitverkorenes hulle nie moet oorgee aan wellus soos die wêreld waarvan ons deel was nie.

• Vervolgens word dronkenskap genoem. Letterlik word hier verwys na die inneem van ’n oormaat wyn – soveel so dat jy sothede begin kwytraak en dwaas optree.
• In die vierde plek verwys Petrus na swelg- en drinkpartye. Die O.A.V. praat van brassery en drinkpartye, wat niks anders is as drink- en fuifpartye.
• En laastens sê Petrus, dat ons nie onsself moet oorgee aan afskuwelike afgodery nie. Soos wat ons al vantevore gesien het, is afgode nie net afbeeldings van gode nie, maar enige iets wat ons belangriker ag as God self – bv. geld; sport, ens. Ons moet ook daarop let, dat afgodery selfs net in ons gedagtes gesetel kan wees.

Van al hierdie heidense begeertes sê Petrus, moet ons, ons weerhou – losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Waarom moet ons onsself hiervan weerhou? Ons moet dit doen om daardeur met Christus te kan identifiseer. Jesus het in Matt.16:24 gesê ~ As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Ons kan nie twee here dien nie (Matt.6:24) – ons kan nie met die een voet in God se Koninkryk staan en met die ander voet in die wêreld nie – ons moet ’n keuse maak en wanneer ons die keuse gemaak het, moet ons, ons gedagtes wapen, of te wel, die volle wapenrusting aantrek.

4. IMPLIKASIES VIR UITVERKORENES:
In v.4 sien ons nou dat die heidene dit vreemd vind dat ons wat eens saam met hulle soos die wêreld geleef het, nie meer kompromie maak en saam met hulle deur hierdie wêreld met al sy plesiere voortdryf nie, trouens hulle sal vind dat ons nou, in die woorde van Ef.5:18 deur die Gees van God vervul is. En wat gaan die gevolg hiervan wees? Petrus sê ons gaan beswadder word; ons gaan beskinder word; ons gaan belaster word!

Wat moet ons reaksie wees wanneer mense ons beswadder?
• Petrus gee vir ons in 1Pet.3:14-16 hierdie bemoedigende woorde ~ Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ’n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. 15 In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. 16 Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.
• Ook Paulus het vir ons raad wanneer die wêreld ons beswadder, wanneer hy in Rom.12:19 sê ~ Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here.

Petrus sluit in v.6 by Paulus en Lukas aan, wanneer hy sê ~ Hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat klaar staan om oor die lewendes en die dooies te oordeel. Christus is die Here van die lewende en die dooies (Rom.14:9; Hand.10:42) en almal gaan eendag rekenskap gee voor God – ook hulle wat jou nou beswadder, sal moet rekenskap gee daaroor – laat die wraak daarom aan God oor, soos wat ons nou net in Rom.12 gesien het.

Vers 6 is baie moeilik vertaalbaar en daarom ook baie moeilik verstaanbaar. Kom ons kyk net vlugtig daarna:
Die vraag wat ons vir onsself moet afvra, is van wie word hier in v.6 gepraat, wanneer Petrus sê ~ Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is. Die antwoord word vir ons in die tweede gedeelte van hierdie selfde vers gegee. Hierdie dooies, is diegene aan wie die Evangelie verkondig was en wat tot die geloof gekom het. Hulle moes egter na die vlees sterf (net soos wat ons eendag na die vlees moet sterf), omdat daardie deel van die Erfsonde in Adam nié deur Christus se soendood opgehef is nie. Hulle is egter verlos van die ewige dood en van God se oordele, omdat hulle na die gees sou lewe soos God lewe. Dit is dus beter om te ly vir Christus en te sterf na die vlees en te weet dat jou gees onuitblusbaar is – eerder as om die wêreld te kies en verlore te wees.

Dit is só belangrik dat ons onsself moet bewapen met dieselfde gesindheid teenoor die wêreld en sonde en lyding as wat Jesus se gesindheid was terwyl Hy hier op aarde was, want indien ons lyding sonder ’n geestelike ingesteldheid hanteer, kan dit so maklik gebeur – trouens, ek wil so ver gaan as om te sê dat dit beslis sal gebeur, dat ons eerder verbitterd sal word, as om geheilig te word.

Indien ons dus beswadder word en vervolg word oor ons geloof in Jesus Christus en ons doelbewus gekies het om ons gedagtes te bewapen soos wat Petrus in v.1 sê, het ons niks te vrees nie en hoef ons ook nie wraak te neem op ons vervolgers nie, want Christus is die Een wat hulle sal vervolg, wanneer hulle verantwoording voor Hom gaan doen daarvoor.

5. AFSLUITING:

As ons dan so na Petrus en die verklaring van hierdie perikoop geluister het, kan ons baie maklik vanoggend moedeloos wees nog voor ons hier uitloop, maar ons moet vashou aan die Woord en dan spesifiek aan die woorde van Paulus in Ef.3:16 ~ Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word. En ook Fil.4:13 ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Met hierdie Skrifgedeeltes in gedagte wil ek weer vir jou vra:
- Is jou gedagtes gewapen?
- Het jy gebreek met hierdie wêreld en sy plesiere – met dinge soos losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery?
- Is dit jou opregte begeerte om Christus in alles na te volg?

Amen