Monday, October 11, 2010

DIE EERSTE BRIEF VAN PETRUS ~ 14 (“Die Uitverkorenes se Roeping”)

Indien u hierdie boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige Woordverwerkinsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit

1. SKRIFLESING:

1Pet.4:7-11 ~ Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. 8 Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. 9 Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. 10 As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien. 11 As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.

2. INLEIDING:

Wanneer ’n mens banieropskrifte sien wat lees: “Die einde is naby”, reageer verskillende mense verskillend daarop. Sommige sal onmiddellik daaroor begin redekawel; ander sal die plek soek waar daar oor die onderwerp gepraat gaan word; sommige sal bang word; ander sal daaroor lag; sommige sal dit bloot net ignoreer en nog andere sal sê: “dit is nie Bybels nie, want niemand kan sê wanneer die einde daar is nie”. Ons hoor deesdae al meer en meer die jaartal 2012 as die einde van alles. En Petrus? Petrus voeg homself by hierdie groep mense wat sê dat die einde van alles op hande is. Of sê Petrus presies dít? Wat sê Petrus regtig as hy sê: Die einde van alles is naby?

3. DIE EINDE VAN ALLES IS NABY:

Indien ons presies wil verstaan wat Petrus hier sê, moet ons na ander soortgelyke Skrifuitsprake gaan kyk. Die Griekse woord wat Petrus hier gebruik is telos en hy gebruik hierdie selfde woord in 1Pet.1:8 wanneer hy sê ~ Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. Dieselfde woord word ook deur Jesus in Matt.24:13 gebruik ~ Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. Blaai saam met my na Rom.13:11 dan kyk ons hoe Paulus hierdie selfde woord gebruik ~ En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het.

Wanneer ons na hierdie teksverse kyk, asook na die Grieks, kan die woord telos as volg vertaal word: God sal alles voltooi en afhandel. Die lewe hier op aarde hou dus vir elkeen van ons ’n baie besliste einde in en nie een van ons weet wanneer die einde van alles gaan aanbreek nie. Jesus het self gesê ~ Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit (Matt.24:36).

Wanneer Petrus sy lesers, wat gebuk gaan onder vervolging, daarop wys dat die einde naby is, wil hy hulle eintlik bemoedig. Jakobus bevestig hierdie standpunt deur in Jak.5:8 te sê ~ Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. ’n Vraag wat baie mense dikwels vra, is hoe is dit moontlik dat die Woord kan sê dat die einde naby is, want vandat Petrus hier geskryf het, het daar al nagenoeg 2 000 jaar verloop en die einde is steeds nie naby nie! As ons egter na die konteks van ons Skrifgedeelte kyk, moet ons hierdie opmerking van Petrus, nié teen die agtergrond van Christus se wederkoms sien nie, maar teen die agtergrond van v.6 waar Petrus verwys na die gelowiges wat reeds afgesterf het. Wat hy dus vir ons wil sê, is dat ons lewe hier op aarde en daarom die lyding en swaarkry en vervolging wat ons in hierdie lewe ervaar, maar ’n oogknip is in vergelyking met die ewigheid.

Dit laat my dink aan die woorde van Job, toe hy gesê het ~ Die mens is vir swaarkry gebore, en sy lewe is kortstondig soos ’n vonk wat opskiet (Job 5:7 – sien ook Ps.89:48). Maar dan gaan Job verder in 14:14 en sê hy ~ As ’n mens sterf, sal hy weer lewe? Dan sou ek al die dae van my swaarkry kon wag tot daar vir my nuwe lewe kom. En dit is presies die gedagte wat Petrus hier wil deurgee aan sy lesers, nl.: Die lewe is só kort in vergelyking met die ewigheid – hou dus moed, hierdie swaarkry is amper verby, wanneer God ook julle lewenspad gaan voltooi - telos.

4. VYF OPDRAGTE:

Hierdie verwagting van verlossing en ’n ewige lewe mag egter nie tot gevolg hê dat ons ’n traak-my-nie-agtige houding teenoor die lewe en ons roeping hier op aarde sal inneem nie, daarom dat Petrus in vv.7-11, vyf opdragte gee waaraan ons gehoor moet gee, nl.:

· Selfbeheersing en Nugterheid (v.7): Alle gelowiges is gevul met die Heilige Gees en daarom moet ons selfbeheersd wees. Ons kan nie maar net vrye teuels aan ons luste gee nie – ons kan m.a.w. nie maar net doen waarvoor ons lus nie. Ons moet onsself beheer en voor ons iets sê of doen, moet ons dit in ooreenstemming met God se wil, soos geopenbaar in Sy Woord, doen.

Petrus gaan voort en sê dat ons as gelowiges, ook nugter moet wees. Die Griekse woord wat hier gebruik word is nepho en beteken letterlik om kalm en bedaard te wees. Ons moet dus ons lewe in die algemeen in oënskou neem en toesien dat ons ’n kalm en bedaarde lewe lei – nie net t.w.v. ons gesondheid nie; of t.w.v. ons getuienis nie, maar veral t.w.v. Petrus se volgende opdrag, nl. gebed.

· Gebed (v.7): Letterlik staan hier gebede. Ons word dus geroep om gedurig in gebed te verkeer. As ons terugkeer na ons openingsvers (v.1), sien ons dat ons, ons gedagtes moet wapen en ons kan dit nie doen sonder gebed nie. En om ’n lewe te lei waar ons voortdurend bewapen moet wees, vra dit dat ons voortdurend die geleentheid sal aangryp om in gebed te verkeer. Paulus sê in Ef.5:8 dat ons waaksaam moet wees en by elke geleentheid en gedurig moet bid. Ons ganse lewe moet deurweek wees van gebed. Ons moet nie vir een oomblik dink dat ons staande kan bly teen die aanslae van die bose sonder gebed nie. Guy King het eenkeer gesê ~ No one is a firmer believer in the power of prayer than the devil; not that he practices it, but he suffers from it. Die enigste manier om die “brullende leeu” van ons weg te hou, is deur die volle wapenrusting aan te trek en ons kan dit alleen doen deur gebed.

· Onderlinge liefde (v.8): In v.8 sien ons dat ons mekaar bo alles moet lief hê. Behalwe dat dit ’n algemene opdrag van God is dat ons mekaar moet lief hê, hou liefde vir ons broers en susters ’n verdere voordeel vir ons in – Spr.10:12 sê .... liefde bedek alles wat aanstoot gee. Liefde keur nie sonde in ’n broer goed nie, trouens dit moet ons eerder bedroef as ons ’n broeder sien sondig en dit is een van die primêre redes waarom Jesus vir ons Matt.18 gegee het, nl. om sonde in broers se lewe aan te spreek, ten einde hom terug te wen vir die Koninkryk. Wat Petrus dus hier wil sê, is dat ons liefde vir ’n broer so opreg en groot moet wees, dat wanneer hy sondig, sy sonde ons nie só sal aanstoot gee dat ons hom verwerp nie, maar dat ons liefde vir hom, ons juis sal aanspoor om hom terug te wen vir Christus.

· Gasvryheid (v.9): Liefde vir medegelowiges is een seker merkteken van ’n ware gelowige in Christus en omdat gelowiges gehaat word deur die wêreld, het ware gelowiges die onderlinge liefde en bemoediging en inspraak van medegelowiges nodig. Hierdie liefde word dan o.a. op praktiese wyse uitgedruk deur ons gasvryheid teenoor mekaar – daarom dat die Hebreërskrywer ook sê dat ons nie moet nalaat om gasvry teenoor mekaar te wees nie, maar wanneer ons gasvryheid demonstreer, moet ons Paulus se woorde in Fil.2:14 in gedagte hou wanneer hy sê ~ Doen alles sonder kla of teëpraat. Ons moet dus daarop ingestel wees om gasvry teenoor mekaar te wees, maar wanneer ons gasvry is, moet ons nie daaroor kla nie, want wanneer dít die geval is, is ons besig met dooie werke en nie om Christus daardeur te verheerlik nie.

· Bediening van genadegawes (vv.10-11): Laastens sê Petrus dat elkeen (lw. ELKEEN) van ons as gelowiges, ’n spesiale gawe of, gawes van die Here ontvang het en dat ons hierdie gawe of gawes moet aanwend en gebruik in die gemeente.

Wat is hierdie gawes waarvan Petrus hier praat? Is dit die gawes waarvan Paulus in 1Kor.12:8-10 praat, nl. ’n woord van wysheid; ’n woord van kennis; geloof; genadegawe van gesondmaking; krag om wonders te doen; die gawe om te profeteer; die gawe om tussen die geeste te onderskei; die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan ’n ander om dit uit te lê? Of is dit die gawes waarvan ons lees in Ef.4:11, nl. evangelisasie; pastorale versorging; apostelskap; profesie? Of praat hy hier van die Rom.12:7-9 se gawes, nl. bemoediging; onderrig; diensbaarheid; leiding; lering; hulpverdeling en uitdeling?

Sonder om nou in detail hierop in te gaan (miskien ’n volgende keer), moet ons na die onmiddellike konteks kyk waar hier gepraat word van die gawes en dan sien ons dat dit hier gaan oor onderlinge verhoudinge en die opbou van mekaar ~ Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê (v.8). Wees gasvry jeens mekaar (v.9). ... moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien (v.10). ...as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien (v.11). Die gawes wat dus hier ter sprake is, is die sg. 11 permanente gawes. En as ons praat van die permanente gawes, praat ons van daardie gawes wat nié ten einde gekom het aan die einde van die Apostoliese tydperk nie, nl.: ’n Woord van wysheid en -kennis; onderskeiding van geeste; geloof; bemoediging; onderrig; diensbaarheid; leiding ; lering; hulpverlening of uitdeling; evangelisasie en pastorale versorging.

Die ander gawes wat aan die einde van die Apostoliese tydperk ten einde gekom het, is natuurlik die “Afgehandelde gawes” (Apostelskap en profesie) en die “Buitengewone gawes” (wonderdade; gesondmaking; ongewone tale; uitleg van tale en woorde van kennis). Natuurlik moet ek net meld, ter wille daarvan om enige moontlike misverstande uit die weg te ruim, dat die “Buitengewone gawes” nóg van tyd tot tyd kán voorkom – soos; wat en waar God dit mag nodig ag, want in sy soewereine almag kan Hy steeds doen wat Hy wil en hoe Hy wil. Hier dink ek bv. aan bepaalde sending situasies waar God so ’n buitengewone gawe kan gebruik ten einde, bv. ’n deurbraak in die sending situasie te bewerkstellig – ons mag God dus nie beperk nie. Máár, hierdie is nie gawes wat algemeen in die kerk meer voorkom nie en is dit ook nie gawes wat ons moet najaag en “soek” nie, of soos sommige groepe selfs sal sê, dat ongewone tale bv. ’n waarborg en teken van die vervulling met die Heilige Gees en derhalwe wedergeboorte is nie.

Petrus is ook baie duidelik waarom ons, ons gawes moet aanwend en gebruik in diens van die Koninkryk en ons broers en susters:

- Eerstens sê Petrus, moet ons as goeie rentmeesters van al die genade wat ons van God ontvang het, ons gawes inspan om mekaar in liefde te dien en om God te verheerlik. En hoe moet ons dit doen? Deur die krag wat God aan ons gee. En waarom moet ons dit doen? Omdat ons deur ons diensbaarheid aan mekaar, God Drie-Enig daardeur verheerlik – en dit is tog immers ons hoogste roeping in hierdie lewe – om God deur ons lewe te verheerlik!

- Tweedens sê hy dat wanneer ons praat, ons woorde gevul moet wees met, soos Lukas dit in Hand.7:38 noem, lewende woorde, m.a.w. woorde wat gevul is met God se gedagtes. Ons moet ons dus, o.a. nie voortdurend ophou met ligsinnige praatjies nie (Ef.5:4).

Ons moet dus in gedagte hou, dat elke gelowige een of meer van hierdie permanente gawes ontvang het. Die probleem wat egter nou kan ontstaan, is dat ons hierdie gawes kan misbruik en wel op die volgende wyses:

- Ons kan nalaat of selfs weier om ons gawes te gebruik (1Kor.14:1, 12, 23).

- Of ons kan ons gawes nie in liefde aanwend nie (1Kor.13:1).

- En ons kan hierdie gawes misbruik, uit jaloesie vir andere wat gawes in opregtheid uitleef (1Kor.12:15-16), of ons kan ons gawes in trots uitleef – trots omdat ons mense (en selfs God) daardeur wil beïndruk en dit is dan uiteraard, dooie werke (1Kor.12:21).

Laat ons net weer vlugtig na hierdie gawes kyk en vra jouself die vraag af: Oor watter van hierdie gawes beskik ek en wend ek dit tot eer van die Here en tot opbou van die gemeente aan? ’n Woord van wysheid en kennis (insig in die Woord en leerstellige waarhede en hoe dit toegepas kan word in die lewe van die gelowiges – 1Kor.2:6); onderskeiding van geeste (die vermoë om te kan onderskei tussen die waarheid en dwaalleer); geloof (buitengewone geloof in Christus – iets wat deur bykans alle gelowiges toegepas word); bemoediging; onderrig; diensbaarheid; leiding; lering; hulpverlening of uitdeling; evangelisasie en pastorale versorging.

5. AFSLUITING:

As ons dan so na Petrus en die verklaring van hierdie perikoop geluister het, moet ons onsself afvra of ons ernstig is oor ons dissipelskap en of ons ernstig is oor hierdie sake wat Petrus sê ons moet doen – juis omdat die einde op hande is? En daarom wil ek weer vir jou vra:

- Is jy te alle tye selfbeheersd en nugter? Indien nie geliefdes, moet ons dit as sonde voor God bely en om vergifnis vra en onsself bekeer.

- Is gebed vir jou belangrik? Bid jy gereeld? Neem jy aktief en met oorgawe deel aan die gebedstyd hier in die gemeente?

- Het jy jou broers en susters onvoorwaardelik lief? Dien jy hulle en stel jy hulle belange voorop?

- Is jy gasvry teenoor medegelowiges, sonder om daaroor te kla?

- Leef jy jou gawes uit in diens van jou broers en susters en tot eer van die Here?

- Kan jy in alle eerlikheid sê dat jy ’n lewe leef wat God deur jou optrede en jou spreke en deur jou denke, verheerlik?

Amen.



Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Antipas Gereformeerde Baptiste Gemeente (Vereeniging) op 10 Oktober 2010