Tuesday, August 11, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (09 Augustus 2009)

“Dawid se Hantering van Beproewing”[1]


Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.


1. INLEIDING:

Ons as mense bevind ons baie dikwels in baie moeilike situasies waar ons nie herwaarts of derwaarts weet nie. Ons verloor alle visie en hoop wat daar moontlik nog oor was. Dit lyk nie of daar enige oplossing is nie en niemand kan vir ons die regte raad gee nie.

Wanneer ons onsself in so ’n situasie bevind, moet ons vasstel hoe God wil hê dat ons as gelowiges moet optree en die situasie hanteer. M.a.w. wat is God se standaard vir sulke uitsiglose of hopelose situasies?

Ons moet altyd onthou, dat God in Sy alwysheid en genade, vir ons reeds die antwoorde op ál ons probleme, in Sy onfeilbare Woord verskaf het. En ten einde vir ons ’n antwoord te verskaf, kan ons na ’n situasie in koning Dawid se lewe gaan kyk. Hy was menige keer in soortgelyke situasies, of ten minste lyk dit so.

2. SKRIFLESING:

Kom ons kyk na Ps.3 ~ ’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. 2 Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my. 3 Daar is talle wat van my sê: “Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela 4 Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. 5 As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela 6 As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. 7 Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie. 8 Kom tog, Here, help my, my God! U het nog altyd my vyande se mag verbreek, U het die aanval van die goddeloses afgeslaan. 9 Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk. Sela.

Dawid het waarskynlik nog nooit vantevore in sy lewe so ’n laagtepunt beleef soos toe hy hierdie Psalm geskryf het nie. Hy skryf hierdie Psalm, terwyl hy vlug vir sy eie seun Absalom. U kan gerus na die detail van hierdie vlugtog van Dawid gaan kyk in 2 Samuel, hoofstukke 15 en 16. In kort kom dit hierop neer: Terwyl Dawid besig was met die dag tot dag regering van die land, het sy seun Absalom die harte van die burgers van Israel gesteel en het Absalom uiteindelik ’n rebellie teen sy pa in die nabygeleë stad van Hebron van stapel gestuur. Hierdie rebellie het so skielik en so onverwags plaasgevind, dat Dawid in die nag, met ’n handjievol leiers uit Jerusalem, na ’n skuilplek in die woestyn vlug. Dawid se eie seun maak jag op hom en ons sien in 2 Samuel dat Dawid daaroor treur.

Wat vir my besonders is in ons gelese Psalm, is Dawid se eerlikheid. In vers 1 sê hy onbeskroomd dat hy vir sy eie seun gevlug het. Dawid se omstandighede was dus verskriklik en uitsigloos, maar hy is eerlik daaromtrent en hy steek niks weg nie, daarom dat hy verder in vers 2 sê ~ Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my. Wat hy eintlik sê, is dat daar menslik gesproke, geen uitkoms uit sy haglike situasie is nie. In 2Sam.15:12 sien ons werklik hoé haglik dit was ~ Absalom het ook Dawid se adviseur Agitofel die Giloniet laat kom uit die stad Gilo waar hy besig was om offers te bring. So het die sameswering ernstige afmetings aangeneem, en die volk het al hoe meer na Absalom toe oorgeloop.

Dawid is nie besig om voor te gee nie. Hy steek nie sy gevoelens weg nie – hy is openlik en eerlik oor sy situasie. Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons mense kry (onsself?) met wie dit haglik gaan en as jy hulle vra hoe dit gaan, sal hulle sê dat dit goed gaan. Hulle gee voor dat dit goed gaan. Dalk is dit omdat hulle aan “positiewe denke” glo en glo dat as hulle positief praat, hulle situasie sal verander, of anders gestel – hoe dikwels hoor ons nie mense sê, moenie so negatief praat nie, want dit wat jy bely sal jy oor jou bring – probleem is net, dat dit “reeds oor hulle is” en dit is niks anders as ’n vorm van mistisisme nie.

Dawid weet presies in watter situasie hy homself bevind en dit moes bitter vir hom gewees het – sy eie seun maak jag op hom en dan sien hy ook, hoe hy, die “eens geliefde koning”, se onderdane teen hom in opstand kom. Hy word selfs gespot, want in vers 3 staan daar geskrywe dat sy vyande sê ~ Van God kom daar vir hom geen hulp nie! Die mense beswadder sy naam – kom ons kyk net na enkele dinge wat die mense van hom gesê het: Terwyl hy loop en vloek, het Simeï uitgeroep: “Trap, trap hier uit, jou moordenaar en jou skurk! 8 Nou straf die Here jou vir al die moorde op Saul se geslag toe jy in sy plek koning geword het. Nou het die Here die koningskap aan jou seun Absalom gegee. Nou sit jy self in die ellende omdat jy ’n moordenaar is (2Sam.16:7-8). Dit is erg genoeg om voor jou eie kind uit te vlug. Dit is erg genoeg dat bykans die hele volk teen jou draai, maar om nog te hoor dat mense sê dat hy ’n moordenaar en skurk is en dat hy nou maar net kry wat hy verdien – dít is erg!

Nog erger was egter die feit dat Dawid besef het, dat hy die volk rede gegee het om so oor hom te voel. Waarom? Omdat hy blatant gesondig het teen God en dat dit sy sonde was wat aan die wortel van sy dilemma gelê het. Een van Dawid se sondes was o.a. die moord wat hy laat pleeg het op ’n ander lojale ondersteuner van hom, nl. Urija die Hetiet – Batseba se man. En natuurlik was daar nog die sonde met Batseba self ook. Aan die eenkant kon Dawid gevoel het dat hy nie kan staatmaak op God se beskerming en hulp nie, maar aan die anderkant het hy egter ook verstaan en geweet dat God ’n genadige God is wat sonde vergewe. Wanneer jy verstaan en glo dat God ’n genadige en getroue God is, laat jy nie toe dat jou mislukkings en jou sonde jou lam lê nie.

Spyt is ’n verlammende ding en ja, Dawid sou sekerlik graag wou terug gaan op sy lewenspaadjie en sy sondige optrede met en teen o.a. Batseba en Urija wou regstel, maar hy het geweet dat hy dit nie kon doen nie – jy kan nie terug gaan in die verlede nie, jy kan net die nou en hier verander. So, wat doen jy? Die Woord sê dat jy jou sonde bely en glo dat Christus jou sonde op Hom geneem het en dan jy staan op en jy gaan aan, want jy weet dat God getrou is en dat wanneer Hy vergewe, Hy jou vergewe het en jou nie meer hanteer asof jy skuldig is nie.

Wanneer God in Christus vergewe, herstel Hy die verhouding tussen Hom en jou volkome. Die gevolge van jou sonde mag steeds daar wees, maar Hy hou niks meer teen jou nie. En dit was waar van Dawid, want vir baie jare moes hy die gevolge van sy sonde dra – gevolge wat in sy persoonlike lewe gemanifesteer het, maar ook in sy familielewe en in die lewe van die volk van Israel – maar God het Hom vergewe toe hy sy sonde bely het en wat ons dan sien, is dat Dawid hier in die openingsverse van hierdie Psalm, sy verknorsing waarin hy verkeer uitlig, maar ons sal ook sien dat hy nie op hierdie punt bly vashaak nie.

3. DRIE SLEUTELS:

As ons dan weer na verse 1 en 2 kyk, is Dawid se situasie vanuit ’n menslike oogpunt, hopeloos. My vraag vanoggend aan jou is, of jy ook voel asof jy in ’n hopelose situasie vasgevang sit? Is jou “vyande” ook baie? Word jy ook beswadder? Is jou eie kind ook in opstand teen jou? Vlug jy van ’n bepaalde probleem af? Het jy spyt oor iets uit die verlede – iets wat net bly spook by jou? Ly jy aan een of ander vorm van beproewing? Voel jy die lewe behandel jou onregverdig? Kom ons kyk of Dawid se Psalm ons nie vandag kan help nie, want ook hy was in ’n geweldige situasie vasgevang.

As ons na die res van hierdie Psalm kyk sal ons drie sleutels sien, wat ons kan help in tyd van beproewing. Hierdie was sleutels wat Dawid gehelp het, maar die Woord van God is ook vir ons in ons tyd gegee en daarom is hierdie drie sleutels ook vir ons bedoel.

· Sleutel nommer een:

Stel jou vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid. Vers 4 ~ Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. Skielik hier in vers 4 draai Dawid sy oë weg van die menigte wat hom leed wil aandoen – hy maak ’n 180 grade draai en hy keer sy rug op sy probleem en hy hef sy oë op na God. Dawid het hier ’n wilsbesluit geneem en dit is presies wat ons ook moet doen – ’n wilsbesluit om ons probleem die rug te keer. Ons kan bly tob oor ons probleme. Ons kan, soos ’n vark in die modder bly lê. En hoe langer jy tob oor die probleem, hoe groter word die probleem. Hoe langer ’n vark in die modder bly lê, hoe vuiler word hy. Nee, ons moet ’n wilsbesluit neem om, om te draai en ons oë op God te vestig.

Wat doen Dawid? Hy draai om. Van verse 1-3 draai hy om na vers 4 en wat daarop volg en plaas hy sy vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid. Wat ook al mag gebeur, dit is deel van God se voorsienigheid – dit is deel van Sy soewereiniteit, ook Sy soewereiniteit vir en in jou lewe.

Ons praat hier van God se wysheid. Hoe het God se wysheid in Dawid se geval gemanifesteer? Dit geskied op drie maniere:

w God se wysheid het Dawid se beskerming behels ~ U, Here, beskerm my aan alle kante. Die O.A.V. sê ~ Maar U, HERE, is ’n skild wat my beskut. Dawid gebruik hierdie woord “skild” baie in sy Psalms, maar hierdie is nie ’n gewone skild soos deur ’n soldaat gedra nie – die betekenis van hierdie woord “skild”, dui op beskerming en ’n skild wat reg rondom en bo-oor en onder ’n persoon strek – dit is die betekenis van die Hebreeuse woord hier. Volkome beskerm, maar indien ’n pyl wel deurkom is dit ’n pyl wat God in Sy alwysheid en soewereiniteit, toelaat om deur te kom om my seer te maak. Dit is soos wat Rom.8:28 sê ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dawid het hierdie waarheid t.o.v. God geglo.

Wat dus ook al met ons gebeur – ons moet besef dat dit deel uitmaak van God se wyse voorsienigheid. En wanneer hierdie pyl wel deur die skild kom, moet ons onsself drie vrae afvra:

- Eerste vraag – Kon God die “pyl” gekeer het? Natuurlik kon Hy, want alles is vir Hom moontlik – Hy is tog immers almagtig.

- Tweede vraag Het Hy die pyl gekeer? Wel. As jy beproewing ervaar het Hy logieserwys nié die pyl gekeer nie.

- Derde vraag Waarom het Hy nie die pyl gekeer nie? Wanneer ons hierdie vrae vra, is dit ’n manier om erkenning aan God te gee, deur te sê dat Hy my skild is, maar wanneer die pyl wel deurkom, het Hy ’n rede daarvoor en die rede daarvoor is dat Hy dít wat jy ervaar, toegelaat het, sodat jy verander kan word ten einde meer soos Hy te word.

Die probleem met ons as mense, is dat ons “beskerming” heeltemal anders definieer as wat God dit doen. Ons definieer dit met beskerming teen armoede, beskerming teen siekte; met geluk; sukses, ens. Ons as gelowiges moet egter besef dat God se beskerming – Sy beskerming wat Hy in wysheid verleen, ook beproewing kan behels, want daardeur beskerm Hy ons teen iets wat veel erger kon gewees het – dalk uiteindelike sonde. En onthou, Sy doel met ons lewe is heiligmaking.

Die vraag is dus, of ons God regtig vertrou – vertrou ons Hom dat Hy die beste weet? Ons moet dus in God se wysheid vertrou, wat Sy beskerming behels

w Ons sien God se wysheid tweedens in die tweede helfte van vers 4 (en ek lees uit die O.A.V., omdat dit vir ons beter lig op die onderwerp sal plaas) ~ Maar U, HERE, is ’n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef. M.a.w., Here, U is my eer. Wat bedoel Dawid hiermee? Ons vind die antwoord in 1Pet.5:10 ~ God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Al verkeer Dawid in groot gevaar en in die diepste dieptes van ellende, kyk hy in geloof na God as die Bron van Sy toekomstige eer en heerlikheid. En wanneer ons dit so sien, maak die N.A.V. meer sin ~ U herstel my eer en aansien. God sal Dawid uiteindelik bevry en herstel en weer bevestig as koning, maar op God se tyd en op God se manier.

Dawid het geglo in God se geregtigheid en dat God uiteindelik die verkeerde met die regte sal regstel. Dit is presies dieselfde voorbeeld wat Christus vir ons nagelaat het in 1Pet.2 – toe Christus onregverdig gely het, het Hy nie in weerwraak gereageer nie, nee Hy het Homself oorgee aan dié Een wat regverdig oordeel ~ Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel (1Pet.2:23). As iets onregverdig is, wees net geduldig, want God sál dit uiteindelik regstel. Dit is egter belangrik dat ons sal besef dat Hy dit óf in hierdie lewe sal regstel, óf dalk eers in die hiernamaals. God kies die tyd – nie ons nie. God kies die wyse – nie ons nie.

Die Skrif sê egter dat daar wel heerlikheid in ons huidige beproewing is. Die Woord sê dat as ons ly, het ons deel in Christus se lyding. Daar sit dus ’n groot stuk heiligmaking in ons lyding in hierdie lewe.

w Derdens word God se wysheid gesien deur die wyse waarop Hy ons bemoedig. Vers 4 (O.A.V.) ~ Maar U, HERE, is ’n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef. Die indruk wat ’n mens kry in die openingsverse van hierdie Psalm is van iemand wie se kop gehang het, van bekommernis; van moedeloosheid; van skaamte. Maar Dawid sê dat hy weet dat God hom sal help en sy kop weer sal optel. Hierdie beeld van iemand wat van ’n situasie beweeg van “kop-onderstebo” na “kop-omhoog”, is ’n vergestalting van iemand wat van wanhoop na vreugde en oorwinning beweeg.

God se wysheid word dus vergestalt in die wyse hóé Hy bemoedig en wánneer Hy bemoedig, daarom dat Dawid sê, al is ek nou moedeloos en magteloos, my beker van vreugde sal binnekort weer oorloop, omdat ek in God se wysheid en voorsienigheid vertrou.

Hierdie gesindheid staan in so ’n skrille kontras met die wêreld, want die wêreld kan geen oplossings bied nie; geen hoop nie; geen vrede nie; geen vreugde nie, want iemand wat sonder Christus Jesus is, ís iemand wat sonder hoop en vrede en vreugde is. Dit is waarom ons so ’n wonderlike getuienis vir die wêreld kan wees wanneer ons deur beproewing gaan – beproewing is waarskynlik die beste tyd vir getuienislewering, want wanneer dit sleg gaan met jou en jy jou vertroue in God en sy wysheid en voorsienigheid plaas, is dit waarskynlik een van die kragtigste Evangelistiese boodskappe wat jy maar kan uitdra.

Ons eerste sleutel is dan om jou vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid te plaas.

· Sleutel nommer twee:

Rus in die wete dat God vir jou omgee. Verse 5-7 ~ As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Wanneer Dawid na die Here uitroep, het hy geweet dat God omgee en dat Hy hom hoor, inteendeel die Psalmdigter skryf die volgende in Ps.116:1 ~ Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede. 2 Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.

Dawid was ’n man van gebed en hy sou beslis in sy benarde situasie gebid het. God hoor ons gebede. Waarom? Omdat Hy omgee. Die Woord is vol daarvan – bv. 1Pet.5:7 ~ Werp al julle bekommernisse op Hom, (waarom?) want Hy sorg vir julle.

God hoor dus ons gebede en Hy verhoor ons gebede. Ons moet egter net altyd in gedagte hou, dat Hy ons gebede op een van vyf moontlike wyses verhoor – Hy sê:

w Ja;

w Nee;

w Nog nie;

w Anders as wat jy dit graag beantwoord wil hê;

w Ver bo dit wat jy ooit kon dink.

God beantwoord ons gebede, maar heel waarskynlik en baie dikwels anders as wat ons dit graag verhoor wil hê. Die punt is egter: God beantwoord ons gebede – altyd! En daarom moet ons rus in die wete dat Hy op die beste moontlike manier sál antwoord en ons moet ons daaraan onderwerp – waarom? Omdat Hy vir my omgee en Hy net die beste vir ons wil hê – al is dit nie nou nie, maar dalk eers heelwat later.

Omdat Dawid geweet het dat God vir Hom die beste sal gee, rus Hy in God en gaan hy slaap – vers 6 ~ As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Dawid se vyande is op sy spoor; Dawid bid in vertroue, want hy weet dat God omgee en wat doen hy? Hy gaan slaap en wat meer is, hy sê dat hy goed slaap!

Die wêreld sou verwag dat hy slapelose nagte sou hê, maar sy vertroue in God se omgee-liefde laat hom toe om goed te slaap.

Daar is ’n verskil tussen stres en druk. Druk is van God, terwyl stres my onbybelse reaksie op God se druk is. Dit is wat die Bybel angs en vrees noem en die Griekse woord beteken letterlik om uit mekaar geskeur te word. As ons dus stres oor God se druk, is ons besig om onbybels op te tree en derhalwe te sondig en rus ons nie in die wete dat God vir ons omgee nie. Dawid rus in die wete dat God sy gebede hoor en verhoor en dat God vir hom omgee.

Dawid het wakker geword met die wete dat God hom gehelp het. Vers 6 ~ ...ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Wil jy weet of God in jou lewe werk en jou help? Wel, jy sit vanoggend hier in lewe en gesondheid. Hy lei jou wanneer jy leiding nodig het. Die belangrike is dat ons dit moet begin raaksien in ons lewe – in elke klein en groot gebeurtenis en ons moet sóós Dawid, eer aan God begin gee hiervoor ~ want die Here sorg vir my, sê Dawid. Dit herinner aan Fil 4:6-7 ~ Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Let baie mooi op hier – hierdie vrede wat alle verstand te bowe gaan is ongeag die antwoord wat ons op ons gebed ontvang.

Vers 7 ~ Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie. Let op: Dawid sê nie hier dat sy vyande verdwyn het nadat hy gebid en geslaap het nie. Nee, hulle is steeds daar, maar hy rus en vertrou in die wete dat God beter weet en dat God omgee.

Die tweede sleutel dan - Rus in die wete dat God vir jou omgee.

· Sleutel nommer drie:

Plaas jou hoop in die belofte van God se oorwinning. Vers 8 en hoor net hoe mooi stel die O.A.V. dit ~ Staan op, HERE; verlos my, my God! Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend gebreek. Dawid het van twee feite t.o.v. God se betrokkenheid in hierdie wêreld geweet en dit het hoop en sekuriteit aan hom verskaf:

w Eerstens - God se uiteindelike oorwinning is gewaarborg. Dawid is so oortuig van hierdie feit dat hy sê: Staan op, HERE en dan sal ek verlos wees. Later sou Dawid weer getuig van hierdie vaste geloof en oortuiging van hom, toe hy in Ps.68:1 die volgende geskryf het ~ As God verskyn, spat sy vyande uitmekaar, en dié wat Hom haat, vlug vir Hom.

Die wêreld dink dat alles buite beheer is en dat God niks daaromtrent kan of wil doen nie, maar dit is nie wat 2Pet.3:1-9 vir ons sê nie. Daar staan o.a. in vers 7 ~ Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word. God ís in beheer en Hy gáán uiteindelik oorwin en dit is op hierdie wete dat Dawid sy hoop plaas en daarom kan Dawid sê ~ Want U hét al my vyande op die kakebeen geslaan. Dawid sê verder: Laat hulle my maar aanval, maar hulle kan my nie seermaak nie, want “sonder ’n heel kakebeen en sonder tande, is hulle byt niks nie”, want God gaan sy vyand uiteindelik volkome oorwin en hy gaan deel in daardie oorwinning, want ons beproewing is uiteindelik net tydelik van aard, wanneer ons dit vergelyk met die ewigheid.

w Daar is ’n tweede ding wat Dawid van God geweet het en wat hom hoop gegee het – God se ewige besluite (of sy verordeninge) is onveranderlik en staan vas. Ons sien hierdie feit in vers 8 en ek lees dit uit E.S.V. ~ Salvation belongs to the Lord. Hierdeur sê Dawid dat niks, absoluut niks in God se pad sal staan om Sy besluite ten uitvoer te bring nie. Dit was een van die lesse wat Job geleer het teen die einde van sy beproewing. Job 42:2 ~ Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. Jes.46:10-11 ~ Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek. 11 Ek roep ’n roofvoël uit die ooste, uit ’n ver land roep ek ’n man wat my besluit sal uitvoer. Ek het dit gesê, en Ek sal hom laat kom, Ek het dit beplan en Ek sal dit doen. En deur Wie behaal God hierdie oorwinning? Openb.5:5b ~ ...Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal... – Jesus die Christus het die oorwinning behaal.

4. AFSLUITING:

Dawid se moed was nie geleë in homself nie, maar in God. 1Sam.30:6 ~ Dawid was baie benoud, maar ...... hy het homself versterk in die HERE sy God.

Ons kan hierdie selfde moed hê, as ons hierdie drie sleutels wat Dawid op sy situasie toegepas het, in ons lewe en op ons beproewing toepas.

· Stel jou vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid.

· Rus in die wete dat God vir jou omgee.

· Plaas jou hoop in die belofte van God se oorwinning.



[1]Boodskap deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondag 09 Augustus 2009

Monday, August 3, 2009

“Openbaring Ontsluit - 09 (Briewe aan Sewe Gemeentes ~ Filadelfia)” [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons het reeds gesien dat die pos uit Patmos baie verrassings ingehou het vir die gemeentes wat briewe ontvang het. Ons het gemeentes gesien wat baie hard teen dwaalleer gestry het, net om die klag van die Here te hoor dat hulle, hul eerste liefde verlaat het. Ander weer is deur van die ander gemeentes geëer vir hulle onvermoeide ywer en bedrywighede, net om van die Here te hoor dat hulle dood is. Die possak wat ons briewebesteller gedra het was dus vol verassings en skokke.

Daar is nog net twee briewe oor in die possak en die volgende gemeente wat besoek word, is dié in Filadelfia. Ons beskik nie oor baie inligting t.o.v. hierdie gemeente nie, maar wat ons wel weet is dat dit ’n klein en swak gemeentetjie was, want die Christus sê in Openb.3:8 o.a. dat hulle min krag het en daarom kan ons onsself indink dat hierdie gemeente gespanne gewag het om te hoor wat Christus van hulle sê, want as ’n groot en gevestigde gemeente soos dié in Efese só ’n skerp aanklag van Christus moes ontvang; as ’n ’n lewende en gesonde gemeente soos dié in Sardis moes verneem dat hulle ’n dooie gemeente is, wat kon hierdie klein en swak gemeentetjie in Filadelfia te wagte wees? Daarom het hierdie groepie gelowiges waarskynlik in groot angs gesit en wag dat hulle leraar die brief moes ooprol en voorlees. En wat ’n groot verrassing het nie op hulle gewag nie! Maar kom ons begin by de begin

2. DIE GEMEENTE IN SARDIS (3:7-13):
· Die Geadresseerde Gemeente:
Openb.3:7a ~ Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia. Die wortelbetekenis van die stad Filadelfia se naam is “broederliefde”. Hierdie stad was sowat 48 km. vanaf Sardis langs ’n besige handelsroete en in die pragtige Hermusriviervallei geleë. Hierdie vallei was in ’n vulkaniese gebied geleë en die grond was derhalwe baie vrugbaar en ideaal vir die groei van wingerde. Die stad was geoormerk deur die Grieke as ’n Kultuurstad vanwaar hulle die Griekse taal en kultuur na ander dele van Klein-Asië wou versprei. Daar het baie Jode in die stad gewoon.

Gedurende 17 n.C. het dieselfde aardbewing wat Sardis swaar getref het ook Filadelfia bykans verwoes. Uit dankbaarheid teenoor keiser Tiberius se finansiële hulp om die stad weer te herbou, word ’n monument ter ere van die keiser opgerig en word die naam van die stad vir ’n ruk lank verander na Neocaesarea (“caesar” = keiser), maar ’n hele klompie dekades later word dit verander na Flavia, ter ere van die regerende Romeinse keiserlike familie.

Hierdie gemeente was die jongste van die sewe gemeentes en ons sal weldra sien dat Christus geen woord van kritiek teen hierdie gemeente gehad het nie en dit opsigself behoort vir ons as geweldige bemoediging te dien, omdat ons daardeur kan weet dat óns gemeente ook potensieel ’n gemeente kan wees teen wie Christus niks hou nie.

· Die Beeld van Christus:
Openb.3:7b ~ So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie. Vir die gemeente in Filadelfia stel Christus Homself voor met veral vier van Sy karaktereienskappe. Eerstens sê, is Hy die Heilige, omdat Hy vir ewig en geheel sonder sonde is en Sy regverdige oordeel oor sondaars is dan juis ook ’n duidelike uitdrukking van Sy heiligheid. – Hy ís tog immers God.

Tweedens is Hy die Ware God. Dit is Hy en Hy alleen wat die ware en lewende God is en dit is so omdat Hy Waarheid is. In Hom is daar geen valsheid nie en voor Hom sidder almal wat vals is.

Derdens is Hy die Besitter van die Sleutel van Dawid. Hierdie is ’n sinspeling op Jes.22:22 ~ Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat hy oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hy toesluit, sal niemand oopsluit nie. ’n Sleutel is simbool van gesag en verantwoordelikheid om besluite te neem en hierdie sleutel van geweldige verantwoordelikheid is destyds in Jes.22, aan Eljakim gegee – ons lees daarvan in verse 19-22 ~ Die Here sal jou (dit is Sebna) uit jou amp ontslaan, Hy sal jou wegvat uit die plek waar jy in diens is. 20 Dan sal Ek my dienaar Eljakim seun van Gilkija roep, sê die Here, 21 Ek sal jou ampskleed vir hom aantrek, jou serp vir hom omhang en die gesag wat jy nou het, vir hom gee. Hy sal vir die mense van Jerusalem en vir die inwoners van Juda ’n vader wees. 22 Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat hy oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hy toesluit, sal niemand oopsluit nie.

Die persoon wat die verantwoordelikheid gedra het om die paleis oop en toe te sluit en om te sien na die paleis se algemene huishouding, moes uiteraard ’n uiters betroubare persoon gewees het en hy het dan ook ’n kleed gekry met ’n serp wat oor sy skouer gehang het, met die paleis se sleutel daaraan. Hierdie is dieselfde idee van gesag en verantwoordelikheid wat van Jesus Christus in Jes.9:6 gesê word ~ Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.

Ons kan dus sê, en dit is dan ook wat met hierdie hele gedagte gekommunikeer word, dat Jesus die draer van die Koninkryk se sleutels is en dat Hy alleen beklee is met die verantwoordelikheid en gesag om toegang tot die Hemelse Koninkryk te beheer en dat Hy die huishoudelike sake van die Hemelse Koninkryk beheer – daardie posisie beklee Hy dan ook vir ewig, daarom dat Jes.22:23a sê ~ Ek sal hom in sy amp bevestig, hy sal wees soos ’n spyker wat goed ingeslaan is. Christus se Koninkryk is dus onveranderlik en ewig en Hy is die voorsiener van lewe en alles wat Sy kinders nodig het.

Vierdens is Christus die Een wat die deur oopsluit en toesluit. Hierdie benaming hang baie nou saam en is ’n uitvloeisel van die vorige benaming, nl. die Besitter van die Sleutel van Dawid. Christus is die Enigste Een wat oor soewereine krag beskik om toegang te verleen of te weier tot tydelike of ewige seën hier op aarde, of in die hemel.

· Christus se Aanprysing:
Openb.3:8 ~ Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie. Wanneer Christus verwys na hierdie gemeente as ’n gemeente met min krag, moet ons nie negatief daaroor dink nie – dit was m.a.w. nie ’n negatiewe opmerking t.o.v. hul hulpeloosheid ens. nie, maar in die konteks gesien, is dit juis ’n verwysing na hul krag, want hulle was min, of klein in getal, maar kragtig in optrede en getuienis. Die oorgrote meerderheid van die lidmate was waarskynlik arm en het deel uitgemaak van die laer vlakke van die samelewing – dink maar aan Paulus se beskrywing van die gelowiges in 1Kor.1:26 ~ Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. Maar saam met Paulus kon die lidmate van die Filadelfiagemeente gesê het ~ My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk (2Kor.12:9-10).

Ten spyte dus van hulle getalle wat min was, het geestelike krag van hierdie gemeente uitgevloei en is mense na Christus gelei en is lewens verander en is die Evangelie van Jesus Christus verkondig.

Christus prys hierdie gemeente vir ’n tweede ding en dit is dat hulle aan (Sy) boodskap vasgehou (het). Hulle het dus getrou gebly en vasgehou aan Sy Woord en die waarhede daarin en hulle het dienooreenkomstig ook in gehoorsaamheid gelewe. Saam met Job kon hulle sê ~ Sy bevel verontagsaam ek nie, ek heg meer waarde aan sy woorde as aan my eie begeertes (Job 23:12).

Verder prys Christus die gemeente vir die feit dat hulle (Hom) nie verloën (het) nie. Hierdie gemeentetjie het getrou aan God gebly ten spyte van vervolging en swaarkry. Dit was dieselfde onwrikbare “uithou en vasbyt” wat Jesus se aardse lewe gekenmerk het (Hebr.12:2-4) en dit is ’n voorbeeld wat alle gelowiges moet navolg – net so moet ons ook volhard tot die einde toe (2Tes.3:5) – inteendeel, volharding is ’n integrale deel van reddende geloof – Matt.10:22 ~ ...julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word.

Op grond van hierdie gemeente se volgehou getrouheid, maak Christus ’n verstommende belofte aan hulle, nl. ~ Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Christus sê dus aan hulle, dat hulle redding verseker is en dat niemand hulle ooit uit Sy hand sal ruk nie. Hy sê egter ook aan hulle dat Hy aan hulle ’n wawyd oop deur van geleenthede gee – geleenthede om die evangelie te verkondig. Dit laat ’n mens terug dink aan die woorde van Paulus in 1Kor.16:8-9 ~ Ek sal egter tot pinkster in Efese bly, 9 want hier staan ’n groot en belangrike deur vir my oop, maar hier is ook baie teenstanders. Ook in 2Kor.2:12 praat Paulus van hierdie “oop deur/e” wanneer hy sê ~ Toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus daar te verkondig, het die Here die deure vir my wyd oopgemaak. In Kol.4:2-3 skryf Paulus aan die Kolossense ~ Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar 3 en bid tegelykertyd ook vir ons. Bid dat God vir ons ’n deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig waarvoor ek hier gevange sit. Dit is baie duidelik dat Paulus hier verwys na geopende deure om die Evangelieboodskap te verkondig.

Christus sê dus hier vir die gelowiges van Filadelfia dat hulle stad ideaal geleë is vir die verkondiging van die Evangelie.

· Christus se Bestraffing:
Soos reeds gemeld, het hierdie gemeente geen bestraffing van Christus ontvang nie.

· Christus se Raad:
Christus gee ook geen raad aan hulle nie – net beloftes.

· Christus se Belofte:
Openb.3:9-13 ~ Kyk, Ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg-kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet. 10 Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. 11 Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie. 12 Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe. 13 Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Van die sewe gemeentes ontvang die gemeente in Filadelfia die meeste beloftes – beloftes waaraan Christus Hom verbind.

Net soos in die geval van Smirna, is die gelowiges in Filadelfia onderwerp aan vervolging deur ongelowige Jode en omdat hulle (die Jode) Christus Jesus, nie as Messias erken het nie, was hulle nie deel van die Sinagoge van God nie, maar wel van die Sinagoge van die Satan. Al het hulle beweer dat hulle Jode was, was hulle dit nie. Hulle was wel kultureel en seremonieel Jode en volgens ras was hulle ook Jode, maar hulle was nie régtig Jode nie – Dit klink na ’n teenstrydigheid, maar Paulus gee vir ons die verklaring hiervoor wanneer hy ’n rasegte Jood in Rom.2:28-29 vir ons beskryf ~ Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. 29 Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.

Christus belowe die gelowiges in hierdie klein gemeentetjie, dat hierdie selfde Jode wat die gelowiges vervolg, nog eendag sal kom en op hul knieë sal staan en erken dat Christus hierdie gelowiges baie lief het. Hulle sal waarskynlik terselfdertyd doen wat in Hand.2:37 beskryf word ~ By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” En as ons Hand.2:38 hiermee saam lees, nl. ~ Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang, dan is dit duidelik dat Christus nog verder vir die groepie in Filadelfia sê, dat wanneer dit gebeur daar nog ’n verdere deur vir hulle sal oopgaan om die Evangelie te verkondig.

Hierdie belofte dat die Jode sal erken dat Jesus hierdie groepie gelowiges lief het, is natuurlik ook ’n vervulling en verwysing na Jes.60:14 waar daar verwys word na die ongelowige heidene wat voor die gelowige oorblyfsel van Israel sal kom kniel ~ ...dié wat jou verdruk het, sal na jou toe kom en buig, almal wat jou met minagting behandel het, sal by jou voete kniel. Hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel (sien ook Jes.45:14; 49:23). Wat wil Christus dan deur hierdie belofte sê? Die getrouheid van hierdie klein groepie gelowiges sal beloon word met die redding van sommige van hierdie selfde Jode wat hulle nou vervolg.

Hier is dus ’n tweede belofte wat aan die gemeente gemaak word – die eerste was dié van ’n oop deur wat vir hulle gegee word.

’n Derde belofte vind ons in vers 10 ~ Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Volgens die Futuriste (diegene wat glo in ’n voorverdrukkings wegraping – mense soos Hal Lindsay en John MacArthur – ook genoem Pre-Millennialiste) is hier ’n belofte dat die gelowiges voor die Groot Verdrukking weggeraap sal word, want hulle sê dat die verwysing, die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom, juis verwys na die toekomstige verdrukking. Hierdie is egter nie moontlik nie, want nêrens in die Skrif is daar beloftes dat Christus se volgelinge, gespaar gaan word van al die peste en ellendes wat die wêreld gaan tref nie – hier is Joh.17:15 ’n goeie vers om in gedagte te hou ~ Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. Die Pre-Millennialiste glo dan ook dat Christus na die wegraping weer gaan kom om ’n duisendjarige Vrederyk hier op aarde te vestig. En die gelowiges gaan saam met Hom hier regeer. Net so terloops: Die Futuriste of Pre-Millennialiste, grond hul standpunt van die Voor-verdrukkingswegraping, op o.a. Joh.14:1-4; 1Kor.15:51-54 en 1Tes.4:13-17.

Aan die anderkant vind ons die Preteriste wat redeneer dat hierdie tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom, waarna vers 10 verwys, na die Romeinse Koninkryk verwys en hulle grond dit op Luk.2:1 ~ In daardie tyd het keiser Augustus ’n bevel uitgevaardig dat ’n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. Dit is so dat die Romeinse wêreld na Nero se dood in 68n.C., gebuk gegaan het onder burgeroorlog, totdat Vespasianus keiser geword het in 70n.C. Gedurende hierdie selfde tyd van burgeroorlog, was die Jode gewikkel in ’n geweldige oorlog teen die Romeine – wat hulle uiteindelik verloor het – dit is dan ook in 70n.C. met die val van Jerusalem, dat die Tempel in Jerusalem verwoes is. Dit is hierdie gebeurtenis en oordeel wat Jerusalem getref het, wat die Preteriste sê waarna daar in vers 11 verwys word, nl. wanneer daar gesê word, Ek kom gou. Die Preteristiese standpunt word aangehang deur die Post-Millennialiste wat glo dat die duisendjarige vrederyk nog in die toekoms lê en dat Christus die kerk gaan gebruik om hierdie vrederyk te vestig en eers daarna vind die wegraping plaas. Hulle glo verder dat alles in Openb.1 tot en met 19 reeds tot vervulling gekom het, maar dat Openb.20 tot en met 22, nog in die toekoms lê. Die Preteriste sê dus dat die belofte in vers 10 daarop dui dat Christus die gelowiges in Filadelfia sal dra deur die beproewing.

Diegene wat ’n Historiese benadering volg, sluit die A-Millennialiste in en hulle glo dat die vrederyk reeds na die hemelvaart van Christus aangebreek het en dat hierdie vrede in die harte van gelowiges leef en daarom, te midde van vervolging en swaarkry (soos die geval met die gemeente in Filadelfia), ervaar gelowiges vrede, want die vrede leef in hulle harte, want hulle het die vaste sekuriteit dat Christus in aantog is om hulle te verlos. Christus se wederkoms kan dus enige tyd plaasvind, omdat daar nie eers ’n millennium moet aanbreek nie. Die duisendjarige vrederyk gaan vir die A-Millennialiste dus nie uiterlik manifesteer nie en daarom kan Christus enige tyd kom. Die Historiese benadering sê dus ook dat die beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom, verwys na swaarkry en vervolging wat oor die pad van gelowiges gaan kom en reeds aan die gang was teen die gelowiges in Filadelfia. Net soos die Preteriste glo hulle dat Christus die vervolgde gelowiges en gelowiges wat swaarkry, deur hulle beproewing sal dra en nie daaruit gaan “wegraap” nie.

Die vrede wat in die harte van gelowiges leef oor die wederkoms van Christus, sal help dat gelowiges deur beproewing kan gaan – dit is o.a. waarom dit so belangrik is dat ons ’n ewigheidsperspektief sal hê.

Ons vind ’n vierde belofte in vers 11, nl. dié van ’n kroon en natuurlik verwys hierdie kroon na die ewige lewe in die hemel, wat wag op die getroue gelowiges. Omdat Christus se koms egter enige oomblik kan plaasvind, word daar aan die gelowiges in Filadelfia gesê dat hulle moet volhard tot die einde toe, want dan sal hulle die Kroon van die Lewe ontvang. Dit herinner ons aan die woorde in Openb.2:10 ~ Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.

Ons vind ’n vyfde belofte in vers 12, nl. dat diegene wat oorwin, of te wel volhard tot die einde toe, ’n pilaar in die tempel van God (ge)maak (sal word), en hy sal vir altyd daar bly. ’n Pilaar simboliseer stabiliteit en permanensie. Pilare kan egter ook eer verteenwoordig. Ons sien ook in Gal.2:9 dat daar na die leiers van die kerk in Jerusalem verwys word as pilare. Hierdie metafoor word dan ook oorgedra na die hemelse koninkryk, en impliseer dus dat die gelowiges in die hiernamaals nie meer vervolging sal ervaar nie en dat hulle verseker word van ’n ewige lewe in die hemel – hulle sal dus nooit daar kan “uitval” nie.

Ons lees in ander dele van Openbaring dat daar ook ’n Tempel in die hemel gaan wees (sien Openb.7:15; 11:19 en 15:6-8) en dat hierdie Tempel se dak omhoog gehou sal word deur Pilare en die eer om deel uit te maak van hierdie groep gelowiges wat pilare in God se Tempel gaan wees, sal o.a. die “Filadelfiërs” toekom.

Om nog verder luister en heerlikheid te verleen aan die ererol wat die “Pilare van Filadelfia” gaan speel, sal Christus ’n sesde belofte nakom en dit is dat Hy aan hulle drie name sal gee:
· Eerstens sal die Naam van die Vader aan hulle gegee word, wat daarop dui dat hulle, die Vader se besitting is – nog verdere sekuriteit dat hulle nooit uit die hemel gewerp sal word nie.
· Die Naam van die Nuwe Jerusalem sal aan hulle gegee word, wat weereens dui op hulle ewige burgerskap in die hemel waarvan die hoofstad die nuwe Jerusalem sal wees (sien Openb.21).
· Laastens word Christus se nuwe Naam aan hulle belowe. Hierdie Naam verteenwoordig die volheid van Sy Persoon. Volgens 1Joh.3:2 sal alle gelowiges Christus sien soos Hy is – in al Sy heerlikheid en ons sal toegelaat word om Hom op Sy nuwe Naam te noem – inteendeel, ons sal dieselfde naam dra.

Hierdie brief aan Filadelfia word op dieselfde wyse afgesluit as al die ander briewe, nl.: Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Gelowiges (van alle tye) moet dus luister na hierdie briewe en ag slaan daarop, omdat hierdie boodskappe vir alle gelowiges is.

[1] Bybelstudiereeks deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 02 Augustus 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (02 Augustus 2009)

“Die Brief aan die Efesiërs - 03 (Verlossing, Vergifnis & Onderskeiding)” [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Die vorige keer het ons na Ef.1:3-6 gekyk en daaruit het dit duidelik geblyk dat diegene van ons wat in Christus ingeplant is, bepaalde seëninge van God ontvang – juis omdat ons in Christus ingeplant is. Ons het ook in daardie perikoop gekyk na die eerste seën wat ons as gelowiges ontvang, nl. dat ons reeds lank voor die grondlegging van die aarde, in Christus uitverkies is. Die eerste seën waarvan Paulus dus praat, is ’n enorme stuk seën wat in die verlede lê. Hy kom egter nou met nog seën wat die gelowige te beurt val, maar dit is seën wat oor die gelowige uitgestort word tydens en na sy wedergeboorte en daarvoor moet ons na die volgende perikoop gaan kyk.

2. SKRIFLESING:
Ef.1:7-10 ~ Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8 wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. 9 Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10 en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.

Wat bedoel Paulus met die uitdrukking, Deur die bloed van sy Seun is ons verlos...? Ons sien dat Paulus hier vyf elemente beklemtoon, nl. verlossing, vergifnis, oorvloedige genade, geestelike onderskeiding en laastens, “die vereniging van alles onder een hoof, nl. Christus Jesus”. Kom ons kyk dan eerstens na die begrip verlossing (In die Grieks - apolutrosis).

3. VERLOSSING:
Hierdie is ’n geweldige ryk woord en word afgelei van nie minder nie as ses begrippe wat ontleen word aan die regswêreld. O.a. word hierdie woord verlossing, afgelei van die woord (Grieks = dikaioo) wat dui op die wettige kwytskelding van ’n aanklag en die gepaardgaande vrylating van die aangeklaagde. Dít is dus die geval met ’n sondaar wat skuldig staan voor God, maar dan uiteindelik regverdig verklaar word en dan sonder blaam of skuld voor God staan. Hierdie vryskelding is deur Jesus Christus bewerkstellig aan die kruis – bv. Rom.5:18 ~ Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal. (sien ook Rom.3:4; 4:15; 1Tim.3:16).

’n Tweede woord wat gebruik word om die gedagte van verlossing te illustreer, is (Grieks = aphiemi), wat basies beteken om weg te stuur en dui op die terugbetaling of kwytskelding van skuld en dit word in die Woord gebruik om God se vergifnis van sonde te illustreer, bv. Matt.9:2 ~ Daar het hulle ’n verlamde man wat bedlêend was, na Hom toe gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe (sien o.a. ook Rom.4:7; Ef.1:7; 4:32).

’n Derde woord (Grieks = huiothesia) wat gebruik word, dui op die regsproses wat gevolg word om ’n kind wettig aan te neem en Paulus gebruik hierdie woord om die gelowige se aanneming en inplanting in Christus se gesin te illustreer, bv. Gal.4:5 ~ ...om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word (sien ook Rom.8:15; Ef.1:5).

Nog ’n woord wat gebruik word, is (Grieks = katallasso) en word gebruik om twee strydende partye met mekaar te versoen en in die Bybelse sin word dit dus gebruik om die sondaar met God, deur Jesus Christus te versoen (bv. Rom.5:10; 2Kor.5:18-20).

Ook word die woord (Grieks = exagorazo) gebruik en dui dit op die koop en verkoop van goedere. In die Grieks word daar na die markplein verwys as die “Agora” en dit is waar hierdie woord vandaan kom. Bybels dui dit dus op die geestelike kooptransaksie wat plaasvind wanneer Christus ons loskoop (sien o.a. Gal.3:13; Openb.5:9; 14:3-4).

’n Ander woord wat verlossing omskryf, is ’n woord (Grieks = lutroo) wat dui op die bevryding van iets of iemand uit gevangenisskap (bv.Luk.24:21).

U mag dalk vra waarom daar soveel Griekse woorde was wat in die alledaagse regspleging gebruik was en wat uiteindelik maar net “verlossing” beteken. Ons moet in gedagte hou dat daar in die tyd van Paulus, nagenoeg ses miljoen slawe in die Romeinse Ryk was en dat daar dus baie deeglike en gedetailleerde wetgewing nodig was om die slawehandel te reguleer. En al hierdie woorde word nou tot ons voordeel ingespan, om die begrip “verlossing” beter te verduidelik, veral ook as ons in gedagte hou dat alle mense sedert die sondeval, slawe van die sonde geword het en daarom is geen mens vry van sonde en die sonde se gevolge nie en volgens Rom.6:23a is, die loon wat die sonde gee, die dood.

Dit is dus baie duidelik uit al hierdie Griekse woorde, dat “verlossing” beteken, dat ’n prys betaal is vir sondaars, sodat hulle sondeskuld, kwyt geskeld kan word; hulle bevry kan word van hul sonde; dat daar versoening plaasvind tussen God en sondaar en dat die kwytgeskelde sondaar, aangeneem word as kind en in die huisgesin van God ingeplant word. Die klem val dus op ’n prys wat betaal is en daardie prys is betaal deur Christus en die “betaalmiddel” was Sy bloed wat Hy aan die kruis gestort het.

Ons bevryding het dus die lewe van Christus gekos! Ons kan maar net verstom staan oor God se genade en liefde dat Hy hierdie verlossingsaksie lank reeds voor die skepping beplan het – iets wat Hy nie nodig gehad het om te doen nie, maar nogtans het Hy dit gedoen – ’n raaisel dus waarom Hy dit gedoen het – ’n raaisel waaroor selfs die Engele wonder – 1Pet.1:10-12 ~ Dit is dinge waarin selfs engele begerig is om insig te kry. Is dit nie nog meer rede vir ons om God te loof en te prys en te dank vir soveel genade wat Hy onverdiend oor ons uitgestort het nie! Geen wonder dat Openb.5:9-12 sê dat ons as gelowiges, eendag in die hiernamaals, ’n nuwe lied sal sing, met die woorde, ...U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. 10 U het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.” 11 Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge ’n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor 12 uitroep: “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.

4. VERGIFNIS:
Soos ons reeds gesien het, gaan vergifnis hand aan hand met verlossing – daar kan dus geen verlossing wees as daar nie vergifnis van sonde is nie.

Paulus was pynlik bewus van sy sondige toestand, daarom dat hy aan Timoteus sê, dat hy die grootste sondaar van almal is (1Tim.1:15).

Die enigste Nazi van die 24 oorlogmisdadigers wat tydens die Nurembergverhoor sy skuld en aandeel aan die slagting op die Jode erken het, was ene Albert Speer. Hy het uiteindelik twintig jaar tronkstraf in die Spandau gevangenis uitgedien en nogtans het hy enkele dae voor sy dood tydens ’n TV onderhoud in Amerika gesê dat daar geen vergifnis vir sy dade kon wees nie. Ongelukkig het Speer nie die Woord van God geken nie, want die Woord is vol daarvan, dat ons wat in en deur Christus verlos is, vergifnis vir al ons sonde ontvang, bv.: Ps.103:12 ~ So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Of Jes.44:22a ~ Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke.... Of Matt.26:28 ~ ... want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Paulus sê ook in Hand.13;38-39 ~ Daarom, broers, moet julle goed weet dat wat aan julle verkondig word, die vergewing van sondes deur Hóm is, en dat elkeen wat glo, deur Hom vrygespreek word van alle sondes. Die wet van Moses kon julle nie vryspreek nie.

Vergifnis is een van die sentrale temas van beide die Ou- en Nuwe Testament. Vergifnis is dan ook afgelei van die Griekse woord (Grieks = aphiemi) wat “om weg te stuur” beteken, maar in regsterme het dit ook beteken om skuld te betaal. In die Ou Testament het die Jode jaarliks die “Yom Kippurdag”, of te wel die Groot Versoendag gevier, waartydnes die Hoë Priester twee onbevlekte of gebreklose bokke gekies het vir die offerande. Die een bok is dood gemaak en sy bloed is op die offeraltaar gesprinkel as ’n offer. Daarna het die Hoë Priester sy hande op die kop van die ander bok geplaas en sodoende die sonde van die volk, simbolies op die bok se kop geplaas. Daarna is die bok so diep die woestyn ingeneem, dat dit nooit kon terugkeer nie en het dit daar in die woesteny gevrek. Die sonde van die volk is dus simbolies, saam met die bok weggeneem – so ver dat dit nooit weer sou terugkeer na hulle nie (Lev.16:7-10).

Hierdie seremonie, al was dit ook hoe betekenisvol, het egter nooit die volk se sonde werklik weggeneem nie – en hulle het dit geweet. Hierdie hele seremonie was maar net ’n heenwysing na dít wat slegs Christus as Offerlam kon kom doen, nl. om Sy eie bloed te stort ten einde die sonde van diegene wat in Christus uitverkies is, weg te neem.

Wanneer ons al hierdie dinge in gedagte hou, is dit só tragies dat so baie gelowiges nog steeds depressief is oor hulle huidige en toekomstige omstandighede en tekortkominge – dít terwyl Christus ons Hoof, reeds in beheer is en alle dinge aan Hom onderwerp is – ook ons lewens en omstandighede.

So baie van ons dink en tree steeds op, asof die Vader steeds ons sonde van die verlede teen ons hou – ten spyte van die feit dat die Woord ons leer dat ons sonde vergewe is – soos wat Ps.103:12 dit ook tereg uitdruk ~ So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Ons vergeet van God se belofte soos deur Jesaja aan ons gegee ~ Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos (Jes.44:22).

5. GENADE:
Paulus spreek ’n derde element in verse 7 en 8 aan, nl. oorvloedige genade. Hy sê m.a.w. dat hierdie verlossing en vergifnis wat ons ontvang het, uit genade alleen aan ons geskenk is ~ ...kragtens die ryke genade van God 8 wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het (v.7b-8). Hierdie uitdrukking, kragtens die ryke genade van God, of soos die O.A.V. dit stel, na die rykdom van sy genade, het veel dieper betekenis as wat dit sommer so op die oog af mag lyk. Dit kan vergelyk word met 1Tim.1:14 waar daar staan ~ Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus, of soos die O.A.V. dit sel, ...en die genade van onse Here was baie oorvloedig. Die N.K.J.V. stel dit nog mooier en duideliker, nl. And the grace of our Lord was exceedingly abundant. Dit is dus nie sommer net ’n “vyfsent stukkie genade” nie, nee, dit was ’n “meer-oorvloedige-maat-genade” as wat ons, onsself kan indink.

God skenk dus nie vanuit Sy ryke genade nie, want dan kan dit maar net ’n bietjie genade wees – net genoeg genade om ons vry te koop dus (“vyfsent genade”). Nee, Hy skenk genade aan ons, volgens (of kragtens) Sy ryke genade en dit is onmeetbaar meer as bloot net vanuit Sy genade – omdat Hy onmeetbaar baie het, gee Hy ook onmeetbaar (kragtens). En wat meer is, Hy skenk dit aan ons sonder ’n greintjie verdienste van ons kant.

Maar veel meer as net dit – Noudat ons Sy genade ontvang het, en kinders van Hom geword het, bly ons genade op genade van Hom ontvang. Ons is dus ryker as wat ons onsself kan indink en ons gaan hierdie genadige rykdom en seën tot in ewigheid ontvang.

6. GEESTELIKE ONDERSKEIDING:
Laastens sê Paulus dat ons verlossing geestelike onderskeiding tot gevolg het vir ons, daarom dat hy in vers 8 sê ~ wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. Wanneer ’n mens hierdie vers lees, lyk dit asof God aan ons verlossing, vergifnis en genade skenk, omdat Hy hierdie geskenk in Sy wysheid en vanuit Sy insig aan ons skenk. Dit is egter nié wat hier geskryf staan nie. Wat Paulus hier vir ons wil sê, is dat God, tesame met die verlossing, vergifnis en genade, ons nog óók seën met wysheid en insig, of te wel onderskeiding.

Hierdie wysheid en insig waarvan Paulus praat, is die wysheid en insig waarna hy in 1Kor.2:6-7, 12 verwys ~ Tog is wat ons verkondig wysheid, maar net vir dié wat daarvoor ryp is, en dan ’n wysheid wat nie van hierdie wêreld is of van die heersers van hierdie wêreld nie. Hulle is buitendien aan die ondergaan. 7 Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid. .... 12 Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het. Maar wat nog meer verstommend is, is dat Paulus hierdie wysheid as volg omskryf in die laaste vers van 1Kor.2, nl. ~ Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus (v.16). Paulus sê dus dat ons soveel insig en wysheid ontvang het, dat ons o.l.v. die Heilige Gees die diep waarhede t.o.v. van ons redding uit genade, kan verstaan. Dit is waarom Christus in Matt.11:25 die volgende gesê het ~ Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26 Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

7. ALLES ONDER CHRISTUS SE BEHEER:

Ons het tot nou gekyk na die seën uit die verlede, nl. die uitverkiesing en dan ook na die huidige seën wat ons ontvang op ons verlossing, nl. vergifnis, genade en geestelike onderskeiding. Paulus kom egter nou in verse 9 en 10 en hy skets vir ons nog ’n element van seën wat voortspruit uit ons verlossing, nl. ’n nuwe bestel. Paulus sê dat dit in die verlede ’n geheimenis was, maar God het hierdie geheimenis aan ons as Nuwe Testamentiese gelowiges geopenbaar. En wat is hierdie geheimenis? Ons vind die antwoord in vers 10b ~ Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus (sien ook Ef.1:19-23; Kol.1:20). Hierdie feit word ook beklemtoon in Fil.2:9-11 ~ Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, 10 sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, 11 en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. En wanneer het dit gebeur? Ef.1:20 ~ ...toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21 hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. Dit beteken dus dat alle dinge op aarde, sowel as in die hemel, alles bo ons en alles onder ons, alles om ons en alles binne in ons – alle geestelike en alle materiële dinge, nou onder een Hoof, nl. Christus Jesus se beheer geplaas word.

Wat is die implikasies hiervan vir ons wat verlos is?
· Rom.8:34 ~ Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Christus weet dat ons voortdurend in ’n geestelike stryd verkeer en daarom pleit Hy by die Vader vir ons.
· Hebr.7:25 ~ Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree. Christus doen ook voorspraak vir ons en tree voortdurend vir ons in by die Vader en daarom, wanneer ons in Christus se Naam bid, kan ons weet dat die Vader ons hoor.
· Joh.14:2 ~ In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. Hy is nou reeds besig om vir ons ’n plek voor te berei in die Hemel.
· Ef.4:8 ~ Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee. Hy skenk allerlei gawes aan ons as gelowiges.
· Hand.3:6,16 ~ Maar Petrus sê: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”... 16 Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal. Hy skenk geloof aan ons; Hybeskerm ons; Hy genees ons; Hy seën ons, volgens Sy wil.
· Openb.1:13 ~ ...en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het ’n lang kleed aangehad en ’n goue band om sy bors gedra. Hy is deur Sy Gees teenwoordig in ons midde.
· Ef.3:17-19 ~ ...dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Hy skenk aan ons kennis en insig en wysheid en begelei ons op ons pad van heiligmaking.
· Openb.17:14 ~ Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is. Hy is tans reeds besig om oorlog te voer teen ons gemeenskaplike vyand, die satan en sy demone.
· Ef.1:22 ~ Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Hy is in beheer van die ganse skepping en reël en regeer daaroor en hierdie selfde Heerser oor die ganse skepping is ons as Kerk se Hoof – wat ’n sekuriteit!

8. AFSLUITING:
Waarom doen God al hierdie dinge vir ons? Waarom het Hy ons uitverkies? Waarom seën Hy ons met verlossing, met vergifnis, met genade, met onderskeiding en met die feit dat alles onder Christus se beheer geplaas is? God doen dit ten einde eer aan Homself te gee. Ons moet onsself die vraag afvra of ons medewerkers is in hierdie proses waar God eer aan Homself bring. Glo ons hierdie beloftes van seën waarvan Paulus praat? Leef ons reeds nou met die ewigheid in gedagte – ’n ewigheid wat voorlê waar Christus die Heerser gaan wees en ons saam met Hom gaan regeer, of is ons vasgevang in ons aardse omstandighede en is ons uitsigloos, moedeloos en depressief? Paulus was, terwyl hy hierdie brief aan die Efesiërs geskryf het, vasgeboei in ’n tronksel en nogtans sien Hy die ewigheid en lééf hy daarvolgens in sy omstandighede – vol dankbaarheid en lof aan die Here!

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 02 Augustus 2009