Tuesday, August 11, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (09 Augustus 2009)

“Dawid se Hantering van Beproewing”[1]


Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.


1. INLEIDING:

Ons as mense bevind ons baie dikwels in baie moeilike situasies waar ons nie herwaarts of derwaarts weet nie. Ons verloor alle visie en hoop wat daar moontlik nog oor was. Dit lyk nie of daar enige oplossing is nie en niemand kan vir ons die regte raad gee nie.

Wanneer ons onsself in so ’n situasie bevind, moet ons vasstel hoe God wil hê dat ons as gelowiges moet optree en die situasie hanteer. M.a.w. wat is God se standaard vir sulke uitsiglose of hopelose situasies?

Ons moet altyd onthou, dat God in Sy alwysheid en genade, vir ons reeds die antwoorde op ál ons probleme, in Sy onfeilbare Woord verskaf het. En ten einde vir ons ’n antwoord te verskaf, kan ons na ’n situasie in koning Dawid se lewe gaan kyk. Hy was menige keer in soortgelyke situasies, of ten minste lyk dit so.

2. SKRIFLESING:

Kom ons kyk na Ps.3 ~ ’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. 2 Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my. 3 Daar is talle wat van my sê: “Van God kom daar vir hom geen hulp nie!” Sela 4 Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. 5 As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Sela 6 As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. 7 Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie. 8 Kom tog, Here, help my, my God! U het nog altyd my vyande se mag verbreek, U het die aanval van die goddeloses afgeslaan. 9 Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk. Sela.

Dawid het waarskynlik nog nooit vantevore in sy lewe so ’n laagtepunt beleef soos toe hy hierdie Psalm geskryf het nie. Hy skryf hierdie Psalm, terwyl hy vlug vir sy eie seun Absalom. U kan gerus na die detail van hierdie vlugtog van Dawid gaan kyk in 2 Samuel, hoofstukke 15 en 16. In kort kom dit hierop neer: Terwyl Dawid besig was met die dag tot dag regering van die land, het sy seun Absalom die harte van die burgers van Israel gesteel en het Absalom uiteindelik ’n rebellie teen sy pa in die nabygeleë stad van Hebron van stapel gestuur. Hierdie rebellie het so skielik en so onverwags plaasgevind, dat Dawid in die nag, met ’n handjievol leiers uit Jerusalem, na ’n skuilplek in die woestyn vlug. Dawid se eie seun maak jag op hom en ons sien in 2 Samuel dat Dawid daaroor treur.

Wat vir my besonders is in ons gelese Psalm, is Dawid se eerlikheid. In vers 1 sê hy onbeskroomd dat hy vir sy eie seun gevlug het. Dawid se omstandighede was dus verskriklik en uitsigloos, maar hy is eerlik daaromtrent en hy steek niks weg nie, daarom dat hy verder in vers 2 sê ~ Ek het so baie vyande, Here! Baie kom in opstand teen my. Wat hy eintlik sê, is dat daar menslik gesproke, geen uitkoms uit sy haglike situasie is nie. In 2Sam.15:12 sien ons werklik hoé haglik dit was ~ Absalom het ook Dawid se adviseur Agitofel die Giloniet laat kom uit die stad Gilo waar hy besig was om offers te bring. So het die sameswering ernstige afmetings aangeneem, en die volk het al hoe meer na Absalom toe oorgeloop.

Dawid is nie besig om voor te gee nie. Hy steek nie sy gevoelens weg nie – hy is openlik en eerlik oor sy situasie. Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons mense kry (onsself?) met wie dit haglik gaan en as jy hulle vra hoe dit gaan, sal hulle sê dat dit goed gaan. Hulle gee voor dat dit goed gaan. Dalk is dit omdat hulle aan “positiewe denke” glo en glo dat as hulle positief praat, hulle situasie sal verander, of anders gestel – hoe dikwels hoor ons nie mense sê, moenie so negatief praat nie, want dit wat jy bely sal jy oor jou bring – probleem is net, dat dit “reeds oor hulle is” en dit is niks anders as ’n vorm van mistisisme nie.

Dawid weet presies in watter situasie hy homself bevind en dit moes bitter vir hom gewees het – sy eie seun maak jag op hom en dan sien hy ook, hoe hy, die “eens geliefde koning”, se onderdane teen hom in opstand kom. Hy word selfs gespot, want in vers 3 staan daar geskrywe dat sy vyande sê ~ Van God kom daar vir hom geen hulp nie! Die mense beswadder sy naam – kom ons kyk net na enkele dinge wat die mense van hom gesê het: Terwyl hy loop en vloek, het Simeï uitgeroep: “Trap, trap hier uit, jou moordenaar en jou skurk! 8 Nou straf die Here jou vir al die moorde op Saul se geslag toe jy in sy plek koning geword het. Nou het die Here die koningskap aan jou seun Absalom gegee. Nou sit jy self in die ellende omdat jy ’n moordenaar is (2Sam.16:7-8). Dit is erg genoeg om voor jou eie kind uit te vlug. Dit is erg genoeg dat bykans die hele volk teen jou draai, maar om nog te hoor dat mense sê dat hy ’n moordenaar en skurk is en dat hy nou maar net kry wat hy verdien – dít is erg!

Nog erger was egter die feit dat Dawid besef het, dat hy die volk rede gegee het om so oor hom te voel. Waarom? Omdat hy blatant gesondig het teen God en dat dit sy sonde was wat aan die wortel van sy dilemma gelê het. Een van Dawid se sondes was o.a. die moord wat hy laat pleeg het op ’n ander lojale ondersteuner van hom, nl. Urija die Hetiet – Batseba se man. En natuurlik was daar nog die sonde met Batseba self ook. Aan die eenkant kon Dawid gevoel het dat hy nie kan staatmaak op God se beskerming en hulp nie, maar aan die anderkant het hy egter ook verstaan en geweet dat God ’n genadige God is wat sonde vergewe. Wanneer jy verstaan en glo dat God ’n genadige en getroue God is, laat jy nie toe dat jou mislukkings en jou sonde jou lam lê nie.

Spyt is ’n verlammende ding en ja, Dawid sou sekerlik graag wou terug gaan op sy lewenspaadjie en sy sondige optrede met en teen o.a. Batseba en Urija wou regstel, maar hy het geweet dat hy dit nie kon doen nie – jy kan nie terug gaan in die verlede nie, jy kan net die nou en hier verander. So, wat doen jy? Die Woord sê dat jy jou sonde bely en glo dat Christus jou sonde op Hom geneem het en dan jy staan op en jy gaan aan, want jy weet dat God getrou is en dat wanneer Hy vergewe, Hy jou vergewe het en jou nie meer hanteer asof jy skuldig is nie.

Wanneer God in Christus vergewe, herstel Hy die verhouding tussen Hom en jou volkome. Die gevolge van jou sonde mag steeds daar wees, maar Hy hou niks meer teen jou nie. En dit was waar van Dawid, want vir baie jare moes hy die gevolge van sy sonde dra – gevolge wat in sy persoonlike lewe gemanifesteer het, maar ook in sy familielewe en in die lewe van die volk van Israel – maar God het Hom vergewe toe hy sy sonde bely het en wat ons dan sien, is dat Dawid hier in die openingsverse van hierdie Psalm, sy verknorsing waarin hy verkeer uitlig, maar ons sal ook sien dat hy nie op hierdie punt bly vashaak nie.

3. DRIE SLEUTELS:

As ons dan weer na verse 1 en 2 kyk, is Dawid se situasie vanuit ’n menslike oogpunt, hopeloos. My vraag vanoggend aan jou is, of jy ook voel asof jy in ’n hopelose situasie vasgevang sit? Is jou “vyande” ook baie? Word jy ook beswadder? Is jou eie kind ook in opstand teen jou? Vlug jy van ’n bepaalde probleem af? Het jy spyt oor iets uit die verlede – iets wat net bly spook by jou? Ly jy aan een of ander vorm van beproewing? Voel jy die lewe behandel jou onregverdig? Kom ons kyk of Dawid se Psalm ons nie vandag kan help nie, want ook hy was in ’n geweldige situasie vasgevang.

As ons na die res van hierdie Psalm kyk sal ons drie sleutels sien, wat ons kan help in tyd van beproewing. Hierdie was sleutels wat Dawid gehelp het, maar die Woord van God is ook vir ons in ons tyd gegee en daarom is hierdie drie sleutels ook vir ons bedoel.

· Sleutel nommer een:

Stel jou vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid. Vers 4 ~ Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. Skielik hier in vers 4 draai Dawid sy oë weg van die menigte wat hom leed wil aandoen – hy maak ’n 180 grade draai en hy keer sy rug op sy probleem en hy hef sy oë op na God. Dawid het hier ’n wilsbesluit geneem en dit is presies wat ons ook moet doen – ’n wilsbesluit om ons probleem die rug te keer. Ons kan bly tob oor ons probleme. Ons kan, soos ’n vark in die modder bly lê. En hoe langer jy tob oor die probleem, hoe groter word die probleem. Hoe langer ’n vark in die modder bly lê, hoe vuiler word hy. Nee, ons moet ’n wilsbesluit neem om, om te draai en ons oë op God te vestig.

Wat doen Dawid? Hy draai om. Van verse 1-3 draai hy om na vers 4 en wat daarop volg en plaas hy sy vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid. Wat ook al mag gebeur, dit is deel van God se voorsienigheid – dit is deel van Sy soewereiniteit, ook Sy soewereiniteit vir en in jou lewe.

Ons praat hier van God se wysheid. Hoe het God se wysheid in Dawid se geval gemanifesteer? Dit geskied op drie maniere:

w God se wysheid het Dawid se beskerming behels ~ U, Here, beskerm my aan alle kante. Die O.A.V. sê ~ Maar U, HERE, is ’n skild wat my beskut. Dawid gebruik hierdie woord “skild” baie in sy Psalms, maar hierdie is nie ’n gewone skild soos deur ’n soldaat gedra nie – die betekenis van hierdie woord “skild”, dui op beskerming en ’n skild wat reg rondom en bo-oor en onder ’n persoon strek – dit is die betekenis van die Hebreeuse woord hier. Volkome beskerm, maar indien ’n pyl wel deurkom is dit ’n pyl wat God in Sy alwysheid en soewereiniteit, toelaat om deur te kom om my seer te maak. Dit is soos wat Rom.8:28 sê ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dawid het hierdie waarheid t.o.v. God geglo.

Wat dus ook al met ons gebeur – ons moet besef dat dit deel uitmaak van God se wyse voorsienigheid. En wanneer hierdie pyl wel deur die skild kom, moet ons onsself drie vrae afvra:

- Eerste vraag – Kon God die “pyl” gekeer het? Natuurlik kon Hy, want alles is vir Hom moontlik – Hy is tog immers almagtig.

- Tweede vraag Het Hy die pyl gekeer? Wel. As jy beproewing ervaar het Hy logieserwys nié die pyl gekeer nie.

- Derde vraag Waarom het Hy nie die pyl gekeer nie? Wanneer ons hierdie vrae vra, is dit ’n manier om erkenning aan God te gee, deur te sê dat Hy my skild is, maar wanneer die pyl wel deurkom, het Hy ’n rede daarvoor en die rede daarvoor is dat Hy dít wat jy ervaar, toegelaat het, sodat jy verander kan word ten einde meer soos Hy te word.

Die probleem met ons as mense, is dat ons “beskerming” heeltemal anders definieer as wat God dit doen. Ons definieer dit met beskerming teen armoede, beskerming teen siekte; met geluk; sukses, ens. Ons as gelowiges moet egter besef dat God se beskerming – Sy beskerming wat Hy in wysheid verleen, ook beproewing kan behels, want daardeur beskerm Hy ons teen iets wat veel erger kon gewees het – dalk uiteindelike sonde. En onthou, Sy doel met ons lewe is heiligmaking.

Die vraag is dus, of ons God regtig vertrou – vertrou ons Hom dat Hy die beste weet? Ons moet dus in God se wysheid vertrou, wat Sy beskerming behels

w Ons sien God se wysheid tweedens in die tweede helfte van vers 4 (en ek lees uit die O.A.V., omdat dit vir ons beter lig op die onderwerp sal plaas) ~ Maar U, HERE, is ’n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef. M.a.w., Here, U is my eer. Wat bedoel Dawid hiermee? Ons vind die antwoord in 1Pet.5:10 ~ God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Al verkeer Dawid in groot gevaar en in die diepste dieptes van ellende, kyk hy in geloof na God as die Bron van Sy toekomstige eer en heerlikheid. En wanneer ons dit so sien, maak die N.A.V. meer sin ~ U herstel my eer en aansien. God sal Dawid uiteindelik bevry en herstel en weer bevestig as koning, maar op God se tyd en op God se manier.

Dawid het geglo in God se geregtigheid en dat God uiteindelik die verkeerde met die regte sal regstel. Dit is presies dieselfde voorbeeld wat Christus vir ons nagelaat het in 1Pet.2 – toe Christus onregverdig gely het, het Hy nie in weerwraak gereageer nie, nee Hy het Homself oorgee aan dié Een wat regverdig oordeel ~ Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel (1Pet.2:23). As iets onregverdig is, wees net geduldig, want God sál dit uiteindelik regstel. Dit is egter belangrik dat ons sal besef dat Hy dit óf in hierdie lewe sal regstel, óf dalk eers in die hiernamaals. God kies die tyd – nie ons nie. God kies die wyse – nie ons nie.

Die Skrif sê egter dat daar wel heerlikheid in ons huidige beproewing is. Die Woord sê dat as ons ly, het ons deel in Christus se lyding. Daar sit dus ’n groot stuk heiligmaking in ons lyding in hierdie lewe.

w Derdens word God se wysheid gesien deur die wyse waarop Hy ons bemoedig. Vers 4 (O.A.V.) ~ Maar U, HERE, is ’n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef. Die indruk wat ’n mens kry in die openingsverse van hierdie Psalm is van iemand wie se kop gehang het, van bekommernis; van moedeloosheid; van skaamte. Maar Dawid sê dat hy weet dat God hom sal help en sy kop weer sal optel. Hierdie beeld van iemand wat van ’n situasie beweeg van “kop-onderstebo” na “kop-omhoog”, is ’n vergestalting van iemand wat van wanhoop na vreugde en oorwinning beweeg.

God se wysheid word dus vergestalt in die wyse hóé Hy bemoedig en wánneer Hy bemoedig, daarom dat Dawid sê, al is ek nou moedeloos en magteloos, my beker van vreugde sal binnekort weer oorloop, omdat ek in God se wysheid en voorsienigheid vertrou.

Hierdie gesindheid staan in so ’n skrille kontras met die wêreld, want die wêreld kan geen oplossings bied nie; geen hoop nie; geen vrede nie; geen vreugde nie, want iemand wat sonder Christus Jesus is, ís iemand wat sonder hoop en vrede en vreugde is. Dit is waarom ons so ’n wonderlike getuienis vir die wêreld kan wees wanneer ons deur beproewing gaan – beproewing is waarskynlik die beste tyd vir getuienislewering, want wanneer dit sleg gaan met jou en jy jou vertroue in God en sy wysheid en voorsienigheid plaas, is dit waarskynlik een van die kragtigste Evangelistiese boodskappe wat jy maar kan uitdra.

Ons eerste sleutel is dan om jou vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid te plaas.

· Sleutel nommer twee:

Rus in die wete dat God vir jou omgee. Verse 5-7 ~ As ek na die Here roep, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Wanneer Dawid na die Here uitroep, het hy geweet dat God omgee en dat Hy hom hoor, inteendeel die Psalmdigter skryf die volgende in Ps.116:1 ~ Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede. 2 Hy het na my geluister toe ek Hom aangeroep het.

Dawid was ’n man van gebed en hy sou beslis in sy benarde situasie gebid het. God hoor ons gebede. Waarom? Omdat Hy omgee. Die Woord is vol daarvan – bv. 1Pet.5:7 ~ Werp al julle bekommernisse op Hom, (waarom?) want Hy sorg vir julle.

God hoor dus ons gebede en Hy verhoor ons gebede. Ons moet egter net altyd in gedagte hou, dat Hy ons gebede op een van vyf moontlike wyses verhoor – Hy sê:

w Ja;

w Nee;

w Nog nie;

w Anders as wat jy dit graag beantwoord wil hê;

w Ver bo dit wat jy ooit kon dink.

God beantwoord ons gebede, maar heel waarskynlik en baie dikwels anders as wat ons dit graag verhoor wil hê. Die punt is egter: God beantwoord ons gebede – altyd! En daarom moet ons rus in die wete dat Hy op die beste moontlike manier sál antwoord en ons moet ons daaraan onderwerp – waarom? Omdat Hy vir my omgee en Hy net die beste vir ons wil hê – al is dit nie nou nie, maar dalk eers heelwat later.

Omdat Dawid geweet het dat God vir Hom die beste sal gee, rus Hy in God en gaan hy slaap – vers 6 ~ As ek gaan lê, slaap ek goed; ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Dawid se vyande is op sy spoor; Dawid bid in vertroue, want hy weet dat God omgee en wat doen hy? Hy gaan slaap en wat meer is, hy sê dat hy goed slaap!

Die wêreld sou verwag dat hy slapelose nagte sou hê, maar sy vertroue in God se omgee-liefde laat hom toe om goed te slaap.

Daar is ’n verskil tussen stres en druk. Druk is van God, terwyl stres my onbybelse reaksie op God se druk is. Dit is wat die Bybel angs en vrees noem en die Griekse woord beteken letterlik om uit mekaar geskeur te word. As ons dus stres oor God se druk, is ons besig om onbybels op te tree en derhalwe te sondig en rus ons nie in die wete dat God vir ons omgee nie. Dawid rus in die wete dat God sy gebede hoor en verhoor en dat God vir hom omgee.

Dawid het wakker geword met die wete dat God hom gehelp het. Vers 6 ~ ...ek word ook weer wakker, want die Here sorg vir my. Wil jy weet of God in jou lewe werk en jou help? Wel, jy sit vanoggend hier in lewe en gesondheid. Hy lei jou wanneer jy leiding nodig het. Die belangrike is dat ons dit moet begin raaksien in ons lewe – in elke klein en groot gebeurtenis en ons moet sóós Dawid, eer aan God begin gee hiervoor ~ want die Here sorg vir my, sê Dawid. Dit herinner aan Fil 4:6-7 ~ Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. Let baie mooi op hier – hierdie vrede wat alle verstand te bowe gaan is ongeag die antwoord wat ons op ons gebed ontvang.

Vers 7 ~ Ek is nie bang vir tienduisende mense wat van alle kante af op my toesak nie. Let op: Dawid sê nie hier dat sy vyande verdwyn het nadat hy gebid en geslaap het nie. Nee, hulle is steeds daar, maar hy rus en vertrou in die wete dat God beter weet en dat God omgee.

Die tweede sleutel dan - Rus in die wete dat God vir jou omgee.

· Sleutel nommer drie:

Plaas jou hoop in die belofte van God se oorwinning. Vers 8 en hoor net hoe mooi stel die O.A.V. dit ~ Staan op, HERE; verlos my, my God! Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend gebreek. Dawid het van twee feite t.o.v. God se betrokkenheid in hierdie wêreld geweet en dit het hoop en sekuriteit aan hom verskaf:

w Eerstens - God se uiteindelike oorwinning is gewaarborg. Dawid is so oortuig van hierdie feit dat hy sê: Staan op, HERE en dan sal ek verlos wees. Later sou Dawid weer getuig van hierdie vaste geloof en oortuiging van hom, toe hy in Ps.68:1 die volgende geskryf het ~ As God verskyn, spat sy vyande uitmekaar, en dié wat Hom haat, vlug vir Hom.

Die wêreld dink dat alles buite beheer is en dat God niks daaromtrent kan of wil doen nie, maar dit is nie wat 2Pet.3:1-9 vir ons sê nie. Daar staan o.a. in vers 7 ~ Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word. God ís in beheer en Hy gáán uiteindelik oorwin en dit is op hierdie wete dat Dawid sy hoop plaas en daarom kan Dawid sê ~ Want U hét al my vyande op die kakebeen geslaan. Dawid sê verder: Laat hulle my maar aanval, maar hulle kan my nie seermaak nie, want “sonder ’n heel kakebeen en sonder tande, is hulle byt niks nie”, want God gaan sy vyand uiteindelik volkome oorwin en hy gaan deel in daardie oorwinning, want ons beproewing is uiteindelik net tydelik van aard, wanneer ons dit vergelyk met die ewigheid.

w Daar is ’n tweede ding wat Dawid van God geweet het en wat hom hoop gegee het – God se ewige besluite (of sy verordeninge) is onveranderlik en staan vas. Ons sien hierdie feit in vers 8 en ek lees dit uit E.S.V. ~ Salvation belongs to the Lord. Hierdeur sê Dawid dat niks, absoluut niks in God se pad sal staan om Sy besluite ten uitvoer te bring nie. Dit was een van die lesse wat Job geleer het teen die einde van sy beproewing. Job 42:2 ~ Nou weet ek dat U tot alles in staat is en dat U kan uitvoer wat U besluit. Jes.46:10-11 ~ Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek. 11 Ek roep ’n roofvoël uit die ooste, uit ’n ver land roep ek ’n man wat my besluit sal uitvoer. Ek het dit gesê, en Ek sal hom laat kom, Ek het dit beplan en Ek sal dit doen. En deur Wie behaal God hierdie oorwinning? Openb.5:5b ~ ...Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal... – Jesus die Christus het die oorwinning behaal.

4. AFSLUITING:

Dawid se moed was nie geleë in homself nie, maar in God. 1Sam.30:6 ~ Dawid was baie benoud, maar ...... hy het homself versterk in die HERE sy God.

Ons kan hierdie selfde moed hê, as ons hierdie drie sleutels wat Dawid op sy situasie toegepas het, in ons lewe en op ons beproewing toepas.

· Stel jou vertroue in die wysheid van God se voorsienigheid.

· Rus in die wete dat God vir jou omgee.

· Plaas jou hoop in die belofte van God se oorwinning.



[1]Boodskap deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondag 09 Augustus 2009