1. INLEIDING:
Voor ons na vanoggend se
Skrifgedeelte kyk, wil ek eers die vraag wat Liesl vier Sondae terug gevra het,
aanspreek, nl. wat is die verksil tussen ’n dissipel en ’n apostel? Die
vraag spruit voort uit die feit dat die Nuwe Testament op die oog af, nie baie
duidelik hieroor is nie, want in die Evangelies word daar na manne soos
Johannes en Petrus en Jakobus, ens. verwys as deel van Jesus se twaalf
dissipels en later word daar skielik van hulle gepraat as apostels en om die “verwaring” nog verder te voer
word daar ook na dosyne ander mense verwys as dissipels.
Wanneer ons kyk na die
voorwaardes vir apostelskap (soos reeds twee weke gelede
aangespreek)
wat o.a. vereis dat ’n apostel, saam met
Jesus moes beweeg het en ook getuie moes wees van Sy opstanding, dan kan ’n mens nog verder
verward raak as jy lees van die APOSTEL Paulus, wat nié aan al hierdie
vereistes voldoen het nie - hoe moet ons dit alles verstaan?
• Dissipels: Eerstens moet ons
kyk na wat die woord “dissipel” beteken. Hierdie
woord is in die Grieks, μαθητής (mathētēs), wat letterlik ’n leerder beteken.
Wanneer ons egter na die Woord kyk, sien ons dat hierdie woord ook impliseer
dat die leerder saamstem met wat die leermeester vir hom leer en hy aanvaar die
leermeester as die leier in die situasie - hy onderwerp en aanvaar dus die
onderwyser as die een met die meerdere kennis en as gesagsfiguur.
Die Nuwe Testament verwys
hoofsaaklik na Jesus se dissipels, maar
ons moet ook kennis neem van ander dissipels in die Woord. So het Johannes die
Doper bv. dissipels gehad wat hom gevolg het (Matt.9:14). Ook die Fariseërs het dissipels
gehad (Matt.22:16). Verder was die
volgelinge van Jesus aanvanklik ook dissipels genoem en het hulle eers vanaf
Hand.11:26 bekend gestaan as Chirstene ~ Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en
hulle twee het 'n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense
onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem [Grieks: Χριστιανός (Christianos)].
Wat belangrik is om hier in
gedagte te hou, is dat die apostels “begin het” as dissipels (Matt.10:1). Ons kan dus sê dat alle apostels,
dissipels was, maar dat alle dissipels nie apostels was nie.
•
Apostels: Die woord vir apostel in die
Grieks is ἀπόστολος(apostolos) wat letterlik
vertaal kan word met, ’n spesiale boodskapper en ambassadeur
vir die Evangelie van Jesus Christus, wie met bonatuurlike magte begenadig was.
Die twaalf apostels, ingesluit Mattias wat die verraaier Judas vervang het, het
die simboliese sleutels tot die Koninkryk ontvang (Matt.16:19 ~ Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy
op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde
oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly). Wat was hierdie
sleutels? Die apostels sou die leiers wees van die Nuwe Testamentiese Kerk
waarvan Christus die fondasie gelê het en met die oorhandiging van die
simboliese sleutels, gee Jesus aan die apostels die gesag om die deure van die
hemel oop te sluit en mense te nooi om deur die deur te gaan en dit geskied
natuurlik, net deur wedergeboorte.
Ons sal later in Handelinge 1
sien wat die voorwaardes vir apostelskap was, maar wanneer ons daarna gaan kyk,
sal ons onmiddelik vra, maar hoe kon o.a. Paulus dan ’n apostel genoem
word? Ons moet verstaan dat Jesus aanvanklik twaalf dissipels “opgelei” het om die eerste
apostels te wees (met die uitsondering van Judas natuurlik) en hulle
aanvanklike primêre roeping was om
die Evangelie aan die Jode te verkondig, maar later was o.a. Paulus aangewys om
die Evangelie aan die heidene te verkondig ~ Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as 'n leraar om
die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek
praat die waarheid, ek lieg nie (1 Tim.2:7). Paulus het nooit
gesê dat hy deel was van
die aanvanklike “twaalf” nie (en ons weet ook
dat hy nie was nie), maar hy maak dit baie duidelik dat hy wel deur die Here
Jesus aangestel is as apostel - so sê hy bv. in Gal.1:1 ~
Van
Paulus, 'n apostel, en van al die
broers wat by my is. Dat ek' n apostel is, dank ek nie aan mense nie. Ek is ook
nie deur 'n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader
wat Hom uit die dood opgewek het. In 1 Kor.9:1a spreek hy ook die
kwalifikasie aan, nl. dat ’n apostel die Here Jesus moes gesien
het ~ Is ek nie vry nie? Is ek nie 'n apostel nie? Het ek nie
vir Jesus, ons Here, gesien nie? Hier sê Paulus
o,a, dat hy nie net deur Christus aangestel is as. So ook Hand.26:16
~ Maar staan op, staan regop. Ek het aan jou verskyn om jou
as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en
van wat Ek jou nog sal laat sien.
Ons weet ook dat daar enkele
ander apostels was, alhoewel ons nie veel van hulle weet nie, behalwe dat hulle
aangestel, bemagtig en utgestuur was deur gemeentes met ’n spesifieke missie
- bv. Barbabas (Hand.14:14); Andronikus en Junias (Rom.16:7).
Laastens moet ons besef dat
ons nêrens in die Woord
lees (en
daarom kan ons nie die aanname maak dat dit wel die geval was nie) - nêrens lees ons in
die Woord dat die apostels ná hul dood, vervang is deur ander
apostels nie. Jesus het die apostels aangestel om die Kerk van stapel te stuur
en stewige fondasies vir Sy Bruid te lê - dit was nie nodig
om die fondasies oor en oor te lê nie en, in teenstelling met sovele wat
in ons dag op die titel van “apostel”, aanspraak maak en
dit dan gepaard gaan met “wonderwerke”, was die apostels
se primêre taak ook nie om
wonderwerke te verrig nie, maar om die Evangelie te verkondig en ja, dit hét gepaard gegaan
met…tekens en wonders en kragtige dade (2 Kor.12:12), maar soos gesê, hulle primêre roeping was om
die fondaseis vir die Kerk te lê - daarom dat ons dan ook regdeur die
Nuwe Testament lees van hoe die Kerk moet funksioneer en daaruit sien - een
maal die fondasies gelê - klaar gelê; eemaal die “handleiding” geskryf - klaar
geskryf.
Net ’n laaste opmerking:
Dit was net Apostels wat die Nuwe Testament geskryf het, maar nie al die
Apostels was Nuwe Testamentiese Bybelboekskrywers nie. Eenmaal Apostels; nie
weer Apostels nie.
2. SKRIFLESING:
Hand.1:12-14 ~ 12)
Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die
berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, 'n sabbatsreis ver.
13)
In die stad aangekom, is hulle na die bovertrek toe waar hulle gewoonlik
vertoef het. Dit was Petrus en Johannes, Jakobus en Andreas, Filippus en Tomas,
Bartolomeus en Matteus, Jakobus seun van Alfeus, Simon die Seloot en Judas seun
van Jakobus. 14) Hulle het almal
eensgesind volhard in die gebed saam met 'n aantal vroue, onder wie ook Maria
die moeder van Jesus. Sy broers was ook by.
3. DIE DISSIPELS WAG IN JERUSALEM:
In opdrag en in
gehoorsaamheid aan Jesus, keer die dissipels na die hemelvaart, terug
na Jerusalem. V.12
sê spesifiek dat hulle
van die Olyfberg af terug gekeer het na Jerusalem. Die stad was slegs ’n Sabbatsreis ver
van die plek vanwaar Jesus opgevaar het na die hemel (Sabbatsreis - net
onder ’n kilometer -
Jos.3:4).
Dit is hier in Jerusalem waar
hulle vir die volgende tien dae sou wag op die belofte van die Here (die Gawe van die
Heilige Gees). Hulle het in die bovertrek gewag. Bykans al
die huise het destyds ’n bovertrek gehad en dit was bloot
maar net die vertrek waar die inwoners gebly het. Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar dit was
moontlik deselfde huis se bovetrek waar Jesus aan Sy dissipels verskyn het na
Sy opstanding en waar Hy ook die Nagmaal ingestel het. Hierdie huis moes ook ná aan die oostelike
hek van die stad gewees het, want ons weet dat die Olyfberg oos van die stad
geleë is en as die
dissipels nie verder as ’n Sabbatsreis terug geloop het na
Jesus se hemelvaart nie, moes die huis aan die kant van die Olyfberg gewees
het.
Dit is in hierdie huis waar
die dissipels gaan wag het op die belofte waarvan Jesus gepraat het. Was die dissipels alleen hier byeen, of
was daar ook ander mense by hulle? Ons sien in v.15 dat daar nagenoeg
honderd-en-twintig mense in die huis byeen was (v.15). DIt was dus ’n groot vertrek in ’n groot huis. Dit
versterk die vermoede dat dit die huis was van Maria die Ma van Johannes Markus
waar groot getalle gelowiges later byeen sou kom om te bid (Hand.12:12).
Onder die nagenoeg
honderd-en-twintig mense wat daar byeen was (v.15), was die elf
dissipels (v.13) wat oor was na
Judas, die verloëner, se selfmoord (hy het homself
gehang - Matt.27:5). Met die vermelding van die elf dissipels se name wil
Lukas die toneel voorberei vir die verkiesing van ’n twaalfde
dissipel. Wat egter ook baie interessant is van Lukas se vermelding van die
dissipels se name, is die volgorde waarin hy hulle noem. Hier in v.13 groepeer
hy die dissipels anders as wat hy in Luk.6:14-16 gedoen het, toe Jesus die
twaalf dissipels aangewys het - die volgorde was toe eerste die pare broers,
nl. Simon en Andreas, gevolg deur Jakobus en Johannes ens. Nou verander Lukas
die volgorde, deur die apostels wat ’n leidende rol gaan
speel in die verstiging van die Kerk en die Evangelie, eerste te noem. Hy
verbreek ook die afparing van broers, deur hulle deurmekaar te noem, ten einde
daardeur ’n nuwe band van
broederskap aan te dui. Hy begn dus met Petrus,
dan Johannes, dan Jakobus en dan Andreas. Die res van die apostels word in pare
genoem, maar geen verduideliking word gegee vir hierdie “afparing” nie.
Ons sien in v.14 dat daar ook
’n klompie vroue,
waaronder Jesus se moeder Maria, saam met die dissipels byeen was, asook Jesus
se broers. Die res van die mense waaruit die honderd-en-twintig bestaan het,
word nie gespesifiseer nie.
Ons moet besef dat hierdie
mense nie hier in die huis vir tien dae ledig rond gesit het nie, hulle was
aktief besig en hulle het o.a. baie tyd spandeer aan gebed. Lukas beskryf
hierdie gebede van die dissipels as gebede wat uit twee hoofelemente bestaan
het en Calvyn het gesê dat hierdie twee elemente,
noodsaaklike elemente vir ware en opregte korporatiewe gebed is:
• Hul was eensgesind
in gebed (v.14.): Wat die eerste
element aan betref, sien ons in v.14 dat die mense wat in die huis byeen was,
eensgesind was in gebed. Hierdie uitdrukking “eensgesind” [ὁμοθυμαδόν (homothymadon)] is ’n gunsteling
uitdrukking wat Lukas nie minder nie as tien keer in Handelinge gebruik, terwyl
dieselfde woord net eenkeer in die res van die Nuwe Testament gebruik word. As
die uitdrukking vertaal word, kan dit óf beteken dat die
dissipels by dieselfde plek byeen was, wat ons weet die geval was, óf dit kan beteken
dat die dissipels dieselfde ding gedoen het, nl. om saam te bid (wat ons weet, ook
gebeur het).
Later sal ons sien dat die
woord in Hand.4:24 gebruik word om eensgesindheid van gebed te beskryf en nog
later, om ’n eenparige besluit
te neem (Hand.15:25). Wanneer ons
hierdie twee betekenisse en beide gebruike in ag neem, is dit derhalwe duidelk
dat Lukas met die gebruik van hierdie uitdrukking in v.14, vir ons wil sê dat die dissipels
nie bloot maar net bymekaar was in dieselfde plek en/of dat hulle saam gestem
het oor wat hulle bid nie, máár dat die dissipels een van hart was
en met een verstand gebid het en met een doel voor oë (hulle was dus
eensgesind, sonder enige verskille onderling).
Net so terloops: Daar is
mense wat reken dat die 120 gebid het vir die uitstorting van, of die
vervulling met die Heilige Gees en wat sommige teologiese strominge dan ook
ongegrond navolg, nl. om te bid vir die doping met die Heilige Gees en dan
baseer hulle dit op hierdie Skrifgedeelte. Daar is egter nooit gesê dat die dissipels,
of enige iemand anders moet bid vir die vervulling met die Heilige Gees nie -
die vervulling met die Gees is ’n belofte wat die Here Jesus gegee het
en ons hoef dus nie daarom te vra nie en Sy koms is ook nie afhanklik van ons
gebede, of selfs eendragtige gebede nie.
Wat die doel presies met die “120-gelowiges” se gebede was, word
nie vir ons gesê nie, maar wat ons
hieruit moet neem, is dat hulle eensgesind was - daar was nie onderlinge
tweespalt nie; daar was nie onderlinge wedywering nie; daar was nie onderlinge “verhoudingskrake”, of - probleme
nie; niemand was uitgeskuif, of het uitgeskuif gevoel nie; daar was op niemand
neergesien nie; niemand het minderwaardig gevoel nie. As ons as gemeente daarna
verlang dat ons gebede verhoor sal word, moet ons dieselfde gesindheid hê - moet ons op
dieselfde wyse bid - in eensgesindheid - hartseenheid.
Daar het ’n wonderlike
eenheid tussen die broers en susters bestaan en dít was ’n uitstaande
kenmerk van die vroeë Kerk - ’n hegte eenheid -
dit is die enigste manier waarop die Kerk van Chirstus kan oorwin - deur
eensgesind te wees; deur ’n gesamentlike front te vorm teen die
vyand en die aanslae wat die vyand deur sy pionne in hierdie wêreld loods - ons
het gesien wat die afgelope week of wat in die VSA gebeur het met die wettiging
van “Gay-huwelike”. Derduisende gays
en simpatiseerders met die Gay-agenda, verander hul Facebook Profielfotos,
sodat die gayvlag ’n watermerk vorm
oor hul foto’s. Optogte word wêreldwyd gehou waar
gays openlik die spot dryf met Chirstus en die Christelike godsdiens (ek wil natuurlik onmiddellik sê dat alle Gays nie hierdie ekstreme optrede en uitsprake ondersteun nie) - een plakaat het
bv. gelees: “I bet hell is fabulous.” En wat gebeur hier
in Suid-Afrika, kort op die hakke na die Amerikaanse besluit? Die hoofopskrifte
in die Afrikaanse pers die afgelope week lees as volg: “Nelus Niemandt (NGK Moderator) se pleidooi: ‘Gooi NG Kerk óóp vir gays’”. Niemandt het o.a.
gesê: “Dit het tyd geword
dat gay NG predikante nie meer gedwing word om selibaat te wees nie en dat gay
paartjies se huwelike met die volle seën van die kerk
voltrek word: My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele (oriëntasie) genormaliseer sal
word (binne
die kerk).” En die kersie op die koek: Stefan
Joubert “befaamde” skrywer van
godsdienstige boeke loof Nelus Niemandt vir sy waagmoed!
Wat is volgende? ’n Akademiese
konferensie by die Universiteit van Cambridge het onlangs verklaar dat
pedofelie ’n aanvaarbaar en
natuurlike optrede in baie mans is en dat seksoortreders op hierdie gebied nie
vervolg moet word nie, omdat dit natuurlik is. Waarom nie? Omdat dit natuurlik
is!
Die aanslag teen die Kerk van
die Here Jesus - teen ons, word al hoe feller en ons moet nie verbaas
wees as erge vervolging vir ons om die draai lê nie en as ons wil
staande bly, sal ons te alle tye
eensgesind moet wees. Hoe het die vroeë Kerk dit regkry om
eensgesind te wees? Hulle was Christus-gefokus en nie “Sannie-gefokus” en “myself-gefokus” en “Andries-gefokus” nie. Dit is waar
ons fokus moet wees in gemeente-verband; in ons persoonlike lewe en in ons
gebedslewe - Christus-gefokus!
•
Volhard in Gebed: Die tweede element
t.o.v. die “120-gelowiges” se gebedstyd en dan
uiteraard van die apostels, was dat hulle volhard het in gebed. Hulle het tien
dae geduldig gewag vir Jesus se belofte om in vervulling te gaan, maar hulle
het deurentyd volhard in gebed - hulle het die woorde van Dawid in Ps.27:14 in
praktyk uitgeleef ~ Vertrou op die Here! Wees sterk en hou
goeie moed! Ja, vertrou op die Here.
Ons moet van die apostels
leer in hierdie verband en dit is dat ons nie maar net ’n gebed kan
aframmel en verwag dat die Here ons gebed altyd, of dadelik moet beantwoord
nie.
James Montgomery Boice stel
dit baie eenvoudig en mooi wanneer hy sê dat ons baie
dikwels volgens die akroniem “ACTS” bid, nl. “Adoration;
Confession; Thanksgiving en Supplication” en dan gaan hy
voort en sê dat hy homself maar
net kan indink in die dissipels se “10-dae wagtyd” en dat hulle in
wese moontlik ook volgens hierdie akroniem gebid het. Hy sê dat hulle beslis
baie sou gebid het - onder die “A” van die akroniem (“Adoration”) - hoe kon dit ook
anders gewees het, want hulle het so pas die onbesryflike en wonderlike
ervaring gehad waar Jesus opgeneem is in die hemel; hulle het nie net die
teenwoordigheid van die Here “gevoel” nie, maar hulle het
dit gesien en saam met dit en net voor dit, ontvang hulle twee Goddelike
beloftes: In Hand.1:4-5 ontvang hulle die belofte van “die gawe wat die
Vader belowe het” en dit is in
ooreenstemming met die belofte wat hulle in v.8 ontvang het ~ Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en
julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria
en tot in die uithoeke van die wêreld
(Hand.1:8). Hiermee saam het
hulle ’n tweede belofte in
v.11 ontvang ~ Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos
julle Hom na die hemel toe sien opgaan het. Hierdie twee
beloftes het genoeg rede aan hulle veskaf om God te verheerlik en te loof en te
prys. En raai wat? Hierdie twee beloftes is ook vir ons gegee en is steeds van
krag vir ons - genoeg rede vir ons dus om ook die Here te loof en te prys.
In die lig van die opdrag wat
Jesus aan die dissipels gegee het om die
Blye Boodskap met die wêreld te gaan deel, moes hulle ook pynlik bewus gewees het van hul
tekortkominge en sonde alvorens hulle gehoor kon gee aan Jesus se oproep en
daarom sou hulle onder die “C” van die akroniem (“confession”) baie gebid het oor
hul sonde. As ons maar net ons eie lewe in oënskou neem, sal ons
ook besef hoe skuldig ons voor die Here staan en behoort ons baie tyd in ons
gebedstyd aan sondebelydenis te spandeer.
Terselfdertyd moes die
dissipels vol dankbaarheid gewees het (die “T” in die akroniem) oor God se genade
en oorvloedige liefde in hul lewens. Dink maar net aan hoe hulle aan Jesus se
voete gesit en leer het - wat ’n voorreg! Bowe al
moes hulle onuitspruiklike dankbaarheid gehad het oor die feit dat Jesus ’n soenoffer vir
hulle (en
elke gelowige daarna) gebring het. Ons het ook die voorreg
om daagliks “aan Jesus se voete
te sit en te leer”, want Hy het Sy
Woord vir ons gegee en almal van ons besit Sy Woord en daarom kan ons elke dag
ook van Hom leer - wat ’n voorreg!
Laastens sou die dissipels
waarskynlik ook bang en minderwaardig gevoel het om die
“Groot Opdrag” ten uitvoer te
bring en daarom sou hulle baie tyd spandeer het aan smeking (“S - “supplication”) - smeking om
behoorlik toegerus te word vir hierdie grootse taak en so moet ons ook bid vir
die nodige toerusting om die Evangelie met ’n verloregaande wêreld te deel.
Ons sal egter ook D.V. ’n volgende keer
sien dat daar ook iets anders was waaroor hulle daar in die bovertrek gebid het
4. Afsluiting:
Ons moet net soos die
dissipels gehoorsaam wees aan die Here - aan Sy Woord; eensgesind volhard in
gebed en wag op Sy leiding en mag Joh.16:23-24 steeds ’n realiteit wees
wanneer ons bid ~ Dít verseker Ek julle:Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy
vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en
julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente - Sondagoggend 05 Julie 2015