1. INLEIDING:
In
die vorige gedeelte waarna ons in Sagaria gekyk het (9:1-17) het ons te
doen gekry met ’n inleiding tot die tweede deel van Sagaria
se boodskap wat handel oor die toekoms van God se volk - van ’n volk wat
terugkeer uit ballingsakp na ’n volk wat vol
verwagting is vir die koms van die Lydende Messiaanse Koning - Hy wat nie net
die volk Israel met Hom sal verenig nie, maar ook Sy finale Koninkryk sal
vestig - dán sal Christus erken word as die Koning, nie net in Jerusalem deur Sy
volk nie, maar ook deur die nasies - die sentrale boodskap dus van die Nuwe
Testament.
2. SKRIFLESING:
Sag.10:1-12
~ 1) Vra vir die Here reën
in die tyd wanneer die laat reëns
moet kom. Hy maak die reënwolke
en laat die stortreëns
val, Hy gee vir die mense die groen plante in die veld. 2) Wat die afgodsbeelde sê,
is bedrog; wat die waarsêers
sien, is leuens; die drome wat hulle vertel, het nie plaasgevind nie; hulle
probeer troos met wat nie bestaan nie. Daarom moes die volk weg, moes hulle in
ellende beland soos skape wat nie 'n wagter het nie. 3) Maar nou het my toorn ontvlam
teen die herders, Ek gaan rekenskap eis van die voorbokke, sê die
Here. Ja, die Here die Almagtige het Hom die lot van sy kudde Juda aangetrek,
Hy gaan hulle sy trotse oorlogsperd maak. 4)
Uit Juda sal die hoekklip kom, uit hom sal die tentpen,
uit hom die pyl en boog vir die oorlog kom, en uit hom sal elke onderdrukker
padgee. 5) Soos sterk vegsmanne sal die
mense van Juda die vyand soos modder in die strate vertrap. Hulle sal veg, want
die Here is by hulle; hulle sal die perderuiters op die vlug jaag. 6) Ek sal Juda sterk maak, Ek sal
Josef red. Ek laat hulle terugkom, want Ek is jammer vir hulle. Dit sal wees
asof Ek hulle nie verwerp het nie. Ek is die Here hulle God en Ek het hulle
gebede verhoor. 7) Die
mense van Efraim sal soos sterk vegsmanne wees, hulle sal vrolik wees asof
hulle wyn gedrink het. Hulle kinders sal dit sien en bly wees, hulle sal juig
oor My, die Here. 8) Ek
sal vir hulle fluit en hulle bymekaarmaak. Ja, Ek gaan hulle red, en hulle sal
net so baie wees as tevore. 9) Al
verstrooi Ek hulle weer onder die volke, sal hulle My daar in die ver plekke
onthou, en hulle en hulle kinders sal bly lewe en terugkom. 10) Ek sal hulle laat terugkom uit
Egipte, Ek sal hulle uit Assirië uit
bymekaarmaak en hulle na Gilead en die Libanon toe bring, en dié
sal nie genoeg plek vir hulle hê nie. 11) Die
volk sal deur die gevaarlike see trek, die golwe in die see sal oorwin word en
al die Nyldieptes sal opdroog. Die hoogmoed van Assirië sal
tot' n val kom, die heerskappy van Egipte sal die wyk moet neem. 12) Ek, die Here, sal by my volk wees
en hulle sterk maak. Hulle sal in my Naam voortgaan. Die Here het dit gesê.
Ons
gaan in hierdie gedeelte vandag kyk na die Here se voorsiening t.o.v. Sy volk…
•
…se fisiese behoeftes (vv.1-2);
•
…se suiwering (vv.3-5);
•
…se bemagtiging (vv.6-12).
3. DIE VOLK SE FISIESE BEHOEFTES (vv.1-2):
Die
volk het pas uit ballingskap terug gekeer en die land lê braak en onbewerk. Ten einde
die landbou weer aan die gang te kry, het hulle reën
nodig en daarom roep Sagaria die volk op om te bid vir reën
- reën op die regte tyd en hy
herinner hulle daaraan dat slegs God instaat is om reën
op die regte tyd te verksaf, omdat Hy die Almagtige Skepper van wolke en reën
is en hy beklemtoon hierdie feit, omdat die volk vantevore hulle tot afgode
gewend het in tye van o.a. droogte - dit in teenstelling met God se belofte in
Deut.11:13-14 ~ As julle al die gebooie wat ek
julle vandag gee, stiptelik gehoorsaam en die Here julle God liefhet en dien
met hart en siel, sal Hy vir julle land sy reën
gee op die regte tyd, lente- en somerreëns, en julle sal
koring, wyn en olie oes.
Sagaria
gaan dan verder en sê in geen onduidelike taal, waarom die afgode nie kan
help nie, want sê hy, dit is nie die waarheid nie - dit is bedrog; wat
die afgodedienaars sê wat gaan gebeur, gebeur nooit nie; die waarsêers
is vol leuens en drome wat gedroom word, realiseer nooit nie, wat meer is,
hulle is ook nie instaat om die volk te vertroos nie en omdat die volk in die
verlede hulle tot hierdie nuttelose gode gewend het, is hul gestraf en
weggevoer in ballingskap - daarom is dit tyd dat die volk terugkeer na die Here
en Hom vra om uitkoms te gee en Sy reën
te laat val op die regte tyd, want net Hy en Hy alleen kan dit laat gebeur,
omdat Hy die Skepper God is - Skepper van die wolke en die reën.
4. DIE VOLK SE SUIWERING (vv.3-5):
Vers
3 begin met die woorde, “…maar nou…”
Met hierdie uitdrukking wil Sagaria sê,
dat as gevolg van die afvalligheid en sonde van die volk - die feit dat die
volk hulle gewend het tot afgode en derhalwe hul rug gedraai het op God, gaan
Hy nou die situasie verander. In die lig van die afwesigheid van ware herders
in Israel, gaan die Here ’n
reinigingsproses van stapel stuur en gaan hy alle vals- en dwaalleraars
verwyder en rekenskap eis van die voorbokke - letterlik, die leiers - hulle wat
die voortou geneem het in die vals leer wat versprei is en wat die volk
aangemoedig het om vals gode te raadpleeg vir reën
en ander behoeftes. Let op: hierdie woord “herders” verwys nie net na die
geestelike leiers nie, maar ook na die politieke leiers - almal in
gesagsposiesies.
God
se voorneme in Eseg.34 om die geestelike en politieke leiers onder die volk te straf oor die
pastorale verwaarlosing en dwaalleer, gaan nou ’n
realiteit word hier in Sagaria 10 - hoor wat het Esegiël
geprofeteer ~ My kleinvee het rondgedwaal oor al die berge en oor al
die hoë heuwels,
hulle het verstrooi geraak oor die hele aarde en niemand het hulle gesoek of na
hulle gevra nie. " Daarom, herders, hoor die woord van die Here:" My
kleinvee is uitgelewer en het die prooi van enige wilde dier geword; hulle is
sonder herder, sonder iemand wat na hulle soek; die herders het vir hulleself
gesorg en nie vir my kleinvee nie. So seker as Ek leef, "sê die
Here my God," Ek sal die herders straf
(Eseg.34:6-8).
Die
Here gaan egter nie net die volk se leiers straf vir hul dwaaleer nie, maar Hy
gaan ook voosien in die volk se geestelike behoeftes - daarom dat Hy in v.3b sê ~ Ja,
die Here die Almagtige het Hom die lot van sy kudde Juda aangetrek, Hy gaan
hulle sy trotse oorlogsperd maak. Hierdie is ook ’n
vervulling van die belofte wat in Eseg.34:9-11 (en
verder) gegee is ~ Hoor die
woord van die Here, herders! So sê die
Here my God:"Ek gaan optree teen die herders:Ek eis my kleinvee van hulle
terug, Ek maak 'n end daaraan dat hulle die kleinvee se herders is, hulle sal
nie herders bly net om vir hulleself te sorg nie. Ek sal my kleinvee red en
hulle nie deur die herders laat opeet nie." So sê die
Here my God:"Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien.
Uiteindelik
sal God afreken met alle heidense leiers en Sy volk geestelik restoureer en een
ware Leier aan hulle gee en hierdie Leier sal oor drie leierskapseienskappe
beskik:
• ’n
Hoekklip: Daar is maar net een ware leier, nl. “die
Hoekklip
wat
uit Juda kom” -
Jesus Christus (v.4).
Met hierdie uitdrukking en verwysing na die Hoekklip, het ons te doen met
waarskynlik die mees belangrike Messiaanse beeld in die ganse Bybel. DIe
oorspronklike idee van hierdie beeld kan terug gevoer word na Jes.28:16 ~ So
sê die
Here my God: Ek
gaan in Sion 'n klip neersit,' n uitgesoekte klip, 'n hoekklip wat fondament
aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie.
Ook Ps.118:22-23 ~ Die klip wat deur die bouers
afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur
die Here gedoen en is 'n wonder in ons oë.
Jesus het ook na Homself verwys as die Klip, toe Hy hierdie selfde Ps.118 in
Matt.21:42 aangehaal het.
In
Hand.4:11-12 het Petrus ook verwys na Jesus as die steen, toe hy gesê het ~ Hy
is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die
belangrikste klip in die gebou geword. Hy bring die verlossing en niemand
anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur
God wil dat ons verlos moet word nie.
Petrus
gaan nou in 1 Pet.2:4-5 voort en sê ~ Kom
na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God
vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot 'n
geestelike huis, om' n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te
bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.
In
Ef.2:19-22 sê Paulus
~ Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners
nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.
Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die
profete,' n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit
die hele gebou saam en verrys dit tot 'n heilige tempel vir die Here, in wie
julle ook saam opgebou word as' n geestelike huis waarin God woon.
Sagaria
sê dus
vir die volk dat God hulle geestelik sal herstel en stabilitiet en sekuriteit
sal gee en dít sal Hy doen deur die Messias
(Jesus Christus)
wat Hom en die volk sal saamsnoer, net soos wat ’n
hoeksteen in ’n gebou, die mure saamvoeg en
stabiltiet daaraan verleen. Die vorige herders het die volk weggelei van die
Here af; die volk kon nie op hulle staamaak nie, maar die “Hoeksteen” wat God gaan stuur, sal ’n
vaste vesting vir hulle wees.
• ’n
Tentpen: Daar word ook melding gemaak van ’n
tentpen in
v.4.
Daar was destyds twee soorte penne waarna hierdie tentpen verwys het. Eerstes
was daar die pen wat die tent m.b.v. ’n
spantou aan die buitekant geanker het teen stormwinde (spesifiek
in Bedoïne tente).
Dit was hierdie selfde tipe pen waarmee Jael die vrou van Geber, Sisera vermoor
het toe sy die pen deur sy slaap geslaan het (Rigters
4:21-22).
Daar
was egter ook ’n pen wat aan die binnekant
van ’n tent of huis gebruik was,
waaraan mense hul gereedskap, eetgerei of ander kosbare besittings gehang het (Eseg.15:3).
Hier het Sagaria dalk Jes.22 in gedagte gehad toe die Here vir Jesaja gesê het om na die bose hoë amptenaar Sebna te gaan en vir
hom te sê dat
hy vervang gaan word met Eljakim en dan gaan Hy voort in v.23 en sê ~ …Ek
sal hom in sy amp bevestig, hy sal wees soos 'n spyker wat goed ingeslaan is,
in sy amp sal hy die trots van sy hele familie word.
Watter
pen Sagaria hier in gedagte het is nie duidelik nie en dit maak ook nie regtig
saak nie, want in beide gevalle verwys die pen enersyds na God se oordeel en
vernietiging en net so sê Sagaria, gaan Jesus Christus al die bose leiers straf
en vernietig, asook die boosheid wat hul omring het en Sy kinders sal in
totaliteit herstel word. DIe Messias is andersyds, Almagtige God in wie die
volk kan skuil; op wie hulle kan vertrou, omdat Hy onwankelbaar is - …’n pen wat in ’n vaste plek ingeslaan is
(OAV).
• ’n
Pyl en Boog: Die
pyl en boog in v.4 verwys ook na die “Groot
Vernietiger”, die Messias Jesus Christus,
wat die bose uiteindelik finaal gaan oorwin ~ Ek
het gesien: daar
was 'n wit perd. Sy ruiter het' n pyl en boog gehad. 'n Oorwinnaarskroon is aan
hom gegee, en hy het as oorwinnaar uitgegaan om nog verder te oorwin
(Openb.6:2).
Uit
hierdie gedeelte is dit dus duidelik dat die Here omgee vir Sy kinders - Hy ís
in hulle midde en Hy suiwer hulle van bose leiers en herstel hulle geestelik en
uiteindelik sal hulle ook oorwinning in en deur Hom ervaar - Hy die Ware en
volmaakte Leier - Hy wie die volmaakte Hoekklip is; die onwankelbare Tentpen
wat in ’n vasteplek ingeslaan is; die
magtige Pyl-en-Boog.
5. DIE VOLK SE BEMAGTIGING (vv.6-12):
Die
tema van ons laaste paar verse (vv.6-12)
handel oor die volk se bemagtiging - God gaan hulle versterk en Hy gaan dit
doen deur die twee koninkryke te herenig.
Met
die dood van Salomo in 931 v.C. het 9 Israeliese stamme hulle in die noorde
gevestig en het bekend gestaan as Samaria, terwyl die stamme van Juda en
Benjamin in die suide hulle gevestig het as Juda (die
stam van Simeon het in die verre suide gebly).
Die
grootste en invloedrykste Noorder-stamme was dié van Manasse en Efraim en hulle
was beide afstammelinge van Josef. Die Here sê nou in v.6 dat Hy Juda wat
terugkeer uit ballingskap, na hul straf op hul sonde, weer sterk gaan maak deur
Josef terug te bring en saam te voeg met Juda - bedoelende dat die Here die
noordelike stamme weer sal herenig met die suidelike stamme - ‘n
belofte wat reeds in Eseg.37:15-28 gemaak is ~ So
sê die
Here my God: Ek
vat die Josefhout wat staan
vir Efraim en die Israelitiese stamme wat sy bondgenote is, en Ek sit dit teen
die Judahout en Ek maak van die twee een stuk hout, sodat hulle in my hand een
stuk is (v.19).
Juda se redding lê dus opgesluit in die stam van Josef.
God
vergeet nie Sy kinders nie en Hy belowe om hulle genadig te wees, daarom dat Hy
in v.6 sê ~
…Ek laat hulle terugkom, want Ek
is jammer vir hulle. Dit sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie.
Die Amplified Bible stel dit baie mooi ~ I
will bring them back and cause them to dwell securely, for I have mercy,
loving- kindness, and compassion for them.
Dit is hoe die Here voel oor hulle wie aan Hom behoort - vol genade en liefde
en besorgdheid.
Verse
8-12 verskaf aan ons meer detail oor hoe die Here hulle gaan herstel en bemagtig en dit begin
met ’n pragtige beeld, nl. ~ Ek sal vir hulle fluit.
Skaapherders het gewoonlik hulle veë gelei en geroep deur ’n
deuntjie te fluit, of om op ’n
fluit te speel en Sagaria wil met hierdie beeld sê dat die Here, die Groot Herder
besig is om Sy kudde bymekaar te maak soos ’n
skaapherder sy skape - Hy roep hulle byeen vanuit al die windstreke en al die
skape wat sy stem ken, reageer positeif ip sy fluit-geroep.
Dit
is dus duidelik dat die Here Sy verbondskinders nie alleen onthou nie, maar húlle
sal ook Sy stem herken wanneer Hy hulle roep.
In
v.10 verwys die profeet na ander nasies (Egipte
en Assirië wat
al die nasies verteenwoordig) en sê dat die Here Sy kinders uit al
die nasies waarheen hulle weggevoer is, sal terugbring en hulle sal soveel wees
dat daar nie eers plek vir hulle sal wees in die grondgebied van Gilead en die
Libanon nie.
Die
opmerking in v.11 dat die volk deur die gevaarlike see sal trek en dat die
golwe oorwin sal word en die Nyldieptes sal opdroog, verwys na die Israeliete
se uittog uit Egipte en hul tog deur die Rooi See. Wat wil Sagaria hierdeur sê?
Dat die Almagtige God wat die uittog uit Egipte kon orkestreer en wel op so ’n
wyse dat selfs die natuur Hom nie kon stuit nie, dat Hy met dieselfde “kragtige
hand” die
heidennasies sal oorwin en hulle sal hul heerskappy verloor en daar sal dus
niks in die pad staan van God om Sy kinders byeen te bring en vir Sy kinders om
na Hom te kom nie.
Geen
nasie en geen natuurkrag sal dus oorweldigend genoeg wees om God daarvan te
weerhou om Sy kinders bymekaar te maak en te herstel nie, daarom dat Sagaria in v.12 afsluit
met die woorde ~ Ek, die Here, sal by my volk wees
en hulle sterk maak. Hulle sal in my Naam voortgaan. Die Here het dit gesê.
6. AFSLUITING:
In
hierdie profesie van Sagaria het ons te doen met kosbare beloftes aan God se
kinders, wat Hy deur die Israeliete in Sagaria se tyd maak, maar ook wanneer
ons die lyn deurtrek na die Kerk van ons Here Jesus, want net soos wat die Here
Sy volk destyds byeen gebring het, net so bring Hy vandag nog al Sy
uitverkorenes bymekaar, ongeag die moeilikhede en aanslae van hierdie wêreld
- net soos wat Hy Sy volk uit Egipte en uit ballingsakp gebring en verenig het,
net so bring Hy ons uit die duisternis en verenig Hy ons in Sy kerk,
Dit
blyk baie duidelik uit hierdie gedeelte waarna ons vanoggend gekyk het, dat
Sagaria homself
nie net blindstaar teen die feit dat God sy volksgenote met mekaar, maar ook
met God gaan verenig nie, maar hy versit ook die
horison van sy verwagting van die
Lydende Messiaanse Koning
wat sal kom, want dán
sal God erken word as dié Koning,
nie net in Jerusalem deur sy volk nie, maar ook deur die nasies, ‘n
boodskap wat ook in die Nuwe
Testament
weerklank vind.
Net
soos wat die Here Sy volk se lot vernader het, net so gaan Hy ons lot ook
verander wanneer ons, ons tot Hom wend.
Ons
is as gelowiges saamgesnoer in Jesus Christus. Hy wat ’n
vaste vesting vir ons is - net soos ’n
tent in stormwind stewig geanker is, net so kan ons in Christus rus en ons
vertroue in Hom stel. In Hom is ons stewig geanker teen die aanslae van die
bose en die vlees - die voorwaarde is net dat ons met alles aan Hom moet hang soos die volk van die Here destyds
hul kosbaarhede aan die pen in die huis gehang het.
Ons
“Pyl-en-boog, die “Groot
Vernietiger”, Jesus Christus sal
uiteindelik ook ons vyand, die satan, asook die sonde, finaal vernietig en ons
volkome, geestelik suiwer en sal ons die finale oorwinning in Hom ervaar.
Hy
is voorwaar ons genadige en liefdevolle Vader en ons dank Hom dat Hy, Sy “fluit” ook tot ons gerig het en dat
Hy ons instaat gestel het om daardie unieke uitverkiesende “fluit” te kon hoor, daarom eer ons Sy
heilige Naam.
(Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente op 26 April 2015)