1. INLEIDING:
Die afgelope week of wat is daar geweldig gepraat oor Madiba
se lewe en wat se wonderlike voorbeeld hy vir ons as Suid-Afrikaners is en dit
is tot ’n gekwalifiseerde mate waar en ons kan baie neem uit wat hy gesê en
voorgeleef het. Ons het ook gesien hoe dat mense (selfs Afrikaanssprekendes wat bely dat hulle
gelowiges is) Mandela as geredde en uitverkorene sien en dan grond hulle
hul stellings juis op hierdie wonderlike eienskappe, uitsprake en optredes van
Mandela (gaan lees
gerus die volgende uitstekende artikel oor Mandela en die verafgoding rondom
hom, deur Tyrell Haag, op ons nuwe SOLA 5 webtuiste: http://sola5.org/nelson-mandela-responding-rightly/).
Ons lees egter in Rom.4:5 dat Paulus sê ~ Maar die mens wat nie op wetsonderhouding
staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die
vryspraak deur sy geloof . Wie het Paulus in gedagte gehad
toe hierdie woorde geskryf het? Ons lees die volgende in Gen.15:6 ~ Abram
het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens
die wil van die Here gehandel het. Paulus het Abraham in gedagte
gehad toe hy Rom.4:5 neergepen het en beide hierdie verse van Paulus en Moses,
is ’n pragtige samevatting van daardie een pragtige Sola waarop die
Gereformeerde teologie ook berus, nl. “Sola Fide”, of te wel “Geloof
Alleen” en wat beteken dit presies? In kort kom dit daarop neer, dat
God verklaar dat elke sondaar, regverdig verklaar word wanneer hy of sy vanuit
sy morele bankrotskap, volledig op die Middelaarskap van Jesus Christus
staatmaak en dan alleen is hy vir God aanvaarbaar. Daar is geen ander manier om
met God versoen te word nie. Geen menslike verdienste van watter aard ook al,
kan Christus se verdienste aanvul of selfs verplaas nie; trouens, die Woord
waarsku uitdruklik dat enige poging daartoe diskwalifiserend is.
Dit is presies wat Paulus en Moses van Abraham gesê het – hy
het vooruit in sy Messias se vrysprekende genade geglo – en hy het daarvolgens
geleef! Geen wonder dat Abraham in die annale van die geskiedenis bekendstaan
as “die
Vader van Geregtigheid” nie en in Rom.4:11f &16 word hy “die
Vader van almal wat sou glo” genoem. Hoor net wat sê Paulus in Gal.3:29
~ En
as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en
erfgename kragtens die belofte van God.
2. SKIRFLESING:
Hebr.11:8-19 ~ Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor
gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel
sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat
hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n
vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met
hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na
die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer
is. 11Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en
hy al te oud, krag ontvang om ’n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof
het, getrou geag het. 12Die gevolg was dat daar van een man, ’n man
wat nie meer ’n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die
sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see. 13Terwyl
hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat
beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle
het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. 14Mense
wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ’n
vaderland. 15As hulle terug verlang het na daardie land waaruit
hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te
gaan. 16Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse,
verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy
het vir hulle ’n stad gereed gemaak. 17–18Omdat Abraham geglo het,
het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die
belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore
word,” het gereed gestaan om sy enigste
seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit
die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug
ontvang het.
3. ABRAHAM
– VOORBEELD VAN GELOOF:
Sonder
enige twyfel kan Abraham beskou word as die grootste en beste voorbeeld van
geloof in die ganse Bybel. Natuurlik was daar andere – selfs voor Abraham, wat
wonderlike geloof aan die dag gelê het – dink maar net aan Abel en Henog en
Noag, maar van nie een van hierdie ander geloofshelde word soveel detail
weergegee oor hulle geloof as juis dié van Abraham nie – ons sien hier in
Hebreërs 11 reeds ’n klomp eienskappe van sy geloof en dit in ’n kort
gedeeltetjie en natuurlik is Gen.12-25 deurspek van elemente van sy geloof,
waar die aanvang van sy geloof vir ons beskryf word; die voortgang en
ontwikkeling en die vrug daarvan – en dit van ’n man wat uit ’n ongelowige,
heidense huis gekom het (Jos. 24:2 ~ Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel:
Lank gelede het julle voorvaders—onder hulle was Tera, vader van Abraham en
Nahor—anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien).
Abraham
se geloof was so hoog geag in die Ou Testament, dat een van die belangrikste
Levitiese gebede van lofprysing, verwys na Abraham se geloof ~ U is die Here, die
God wat vir Abram gekies het, hom uit Ur van die Galdeërs gebring het en sy
naam Abraham gemaak het. 8U het hom getrou teenoor U bevind, met hom
’n verbond gesluit dat U die land van die Kanaäniete, die Hetiete en Amoriete, die
Feresiete, Jebusiete en Girgasiete, aan sy nageslag sou gee, en U het u belofte
nagekom; U is betroubaar (Neh.9:7-8). Abraham se geloof het so ’n indruk
op Jakobus gemaak dat hy in Jak.2:23 sê ~ ...en hy (Abraham) is ’n vriend van God genoem.
Behalwe
vir die getuienis wat ons in Genesis het dat God aan Abraham verskyn het, lees
ons dit ook, in Stefanus se toespraak voor die Sanhedrin, kort voor sy
steniging ~ Broers en vaders,
luister na my! God, aan wie al die eer toekom, het aan ons voorvader Abraham
verskyn toe hy nog in Mesopotamië was, voordat hy in Haran gaan woon het. 3God
het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan
na die land toe wat Ek vir jou sal wys’
(Hand.7:2-3).
Abraham
het God so intiem leer ken, dat die toekoms vir hom soos die hede gevoel het –
hy was oortuig van dit wat hy nog nie kon sien nie – net soos Moses ~ Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat
sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand
wat die onsienlike God sien (Hebr.11:27). Alles wat Abraham gedoen en gesê
het, was gegrond op sy geloof in Hom, die onsienlike God wat hom geroep het.
·
Geloof en die Beloofde Land:
Baie mense dink dat geloof net ’n kwessie is om oortuig te
wees van sekere dinge t.o.v. God en/of die Bybel – bv. om onwrikbaar te glo dat
die Bybel waar is; dat Christus waarlik opgestaan het uit die dood, ens. en
daar bestaan geen twyfel daaroor dat hierdie dinge van uiterste belang is vir
ons geloofslewe, trouens dit is van kardinale belang, maar dit is egter nie
waar geloof eindig nie – geloof behels ook dat jy jou ganse lewe sal baseer op
hierdie oortuigings, anders is dit nie geloof nie – geloof is dus lewend en
hiervan is Abraham vir ons ’n uitstekende voorbeeld.
Ons vind Abraham se roeping reeds in Gen.12:1-4 opgeteken,
waar God opdrag aan Abraham gee om uit
sy land te trek na die land wat God aan hom sal aanwys (“die Beloofde Land”) en terselfdertyd
maak God ’n paar beloftes aan Abraham indien hy gehoorsaam sou wees en dan volg
Abraham se reaksie in v.4 ~ Abram het toe weggetrek,
gehoorsaam aan die woord van die Here....
·
Geloof en Gehoorsaamheid:
Ons sien dus hier, dat Abraham se geloofslewe begin het, die
oomblik toe hy God gehoorsaam het en weggetrek het na die “Beloofde Land”.
Geloof en gehoorsaamheid is onafskeidbaar van mekaar wanneer dit kom by ’n
verhouding met God. Abraham sou God nooit gehoorsaam het, as hy God nie op Sy
Woord geneem het nie.
Abraham se gehoorsaamheid was dus ’n uiterlike teken en – bewys
van sy inherente geloof. In die Griekse vertaling van die Ou Testament word
hierdie woord “gehoorsaam” op so ’n wyse vertaal dat dit letterlik lees, Abraham het al begin trek toe God se woorde
nog in sy ore weerklink het en van daardie oomblik af het Abraham se ganse
lewe gedraai om sy gehoorsaamheid aan God.
Wanneer enige persoon na Christus Jesus kom, vereis God van
hom of haar om “oor te beweeg” van sy ou mens na die nuwe mens wie hy nou in
Christus is – hy moet oorbeweeg van sy ou gebruike en gewoontes, na ’n nuwe
leefwyse – net soos wat Abraham vanuit ’n heidense omgewing, oombliklik na ’n
nuwe geloofslewe in gehoorsaamheid en afhanklikheid van God beweeg het ~ Iemand
wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom
(2 Kor.5:17).
Om die oue mens neer te lê is een van die grootste hindernisse
denkbaar in die lewe van ’n gelowige. Net soos in die lewe van Abraham, kan ons
ook nie die seën letterlik sien wat daar in Jesus Christus is nie, maar net
soos Abraham, moet ons ook in geloof “uittrek” en eers wanneer ons Jesus
Christus ten volle vertrou en Hom gehoorsaam, sal ons die “Beloofde Land” kan
binnegaan soos Abraham – ons moet eers glo en gehoorsaam; dan sal ons ervaar.
Gedurende hierdie pelgrimstog, moet ons egter gedurig gehoorsaam wees aan
Rom.12:2 ~ Julle moenie
aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur
julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is,
wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
Dit is belangrik dat ons ook daarvan kennis sal neem dat, om
aan hierdie wêreld gelyk te word, of te wel, wêreld gelykvormigheid, primêr ’n
gesindheid is, eerder as optrede – dit is ’n begeerte na sonde – dít is waar
dit begin en dít is waar dit met wortel en tak uitgeroei moet word – in die
hart. ’n Uiters betroubare aanwyser om te bepaal óf ons wêreld gelykvormig geraak
het (of is) en
tot watter mate toe, is om ons hart te ondersoek en vas te stel waar ons hart
lê – waar ons voorliefdes lê ~ Moenie die sondige wêreld en die
dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se
liefde nie in hom nie (1 Joh.2:15).
Aan die anderkant, hoe meer ons liefde en toewyding aan Jesus
Christus groei, dermate sal ons voorkeure en voorliefdes vir hierdie wêreld en
sy dinge verdwyn.
·
Geloof en Geduld:
Vers 9 is vir ons ’n verdere aanduiding van hoe ons as
gelowiges, ons geloof in hierdie wêreld moet uitleef ~ Omdat hy geglo het, het hy in die
beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy
daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde
belofte was – hy het in die beloofde land gaan woon as ’n
vreemdeling. Die Grieks praat hier van ’n ἀλλότριος (allotrios) – iemand
wat van ’n ander land kom en nou in ’n vreemde land woon - hy was m.a.w. soos
iemand wat uit ’n ander land na ’n vreemde land geëmigreer het. Ek kan my net
indink hoe ek as ’n nuwe immigrant sal
optree as ek nou bv. Argentinië toe moet emigreer – ek sal my mond hou en ek
sal nie uitgesproke wees oor allerlei binnelandse en politiese sake nie; ek sal
baie seker maak dat ek nie bots met die gereg nie, ens. – in kort, al probeer
ek hoe hard, dit sal nie voel soos my land nie en ek sal presies optree soos ’n
vreemdeling in ’n vreemde land.
Waarom het Abraham as “immigrant”; as vreemdeling in tente in
die Beloofde Land, Kanaän gewoon? Ons lees in Hand.7:5 ~ God het hom geen
eiendom in hierdie land gegee nie, selfs nie ’n handbreedte daarvan nie. Maar
Hy het wel belowe om dit as besitting vir hom te gee, en ná hom vir sy
nageslag, alhoewel hy nog nie ’n kind gehad het nie.
Abraham kom in die land aan wat aan hom belowe is, deur die God in wie hy onwrikbaar en onmiddellik
geglo het, maar tog besit hy nie ’n handbreedte daarvan nie en nog minder het
hy ’n nageslag wat dalk iets daarvan kon besit. Die enigste stukkie grond wat
hy besit het, was Sara se graf in Makpele, oos van Mamre, wat hy van Efron die
Hetiet gekoop het.
Arme Abraham – hy was alleen en vreemd en besit geen eiendom
nie en wat meer is, sy vreemde godsdiens is onbekend vir die inwoners van sy
nuwe land – hy was monoteïsties (glo in een God), terwyl die res van die bevolking almal
politeïste was (veelgodery).
Sy morele standaarde was gebaseer op die karakter van God, terwyl hulle geleef
het soos die gode wat hulself geskep het.
Wat hierdie faset van Abraham se lewe betref, leer ons dus dat
geloof, geduldig moet wees – geduld sonder murmurering. Geloof impliseer nie
noodwendig, trouens baie selde, kitsoplossings of –gebeurtenisse. Abraham het
nooit die Beloofde Land in besit geneem nie, maar hy het geduldig gewag en
gewag en gewag en ten spyte van al hierdie negatiewe realiteite in sy lewe, lê
die geheim vir Abraham se geduld en tevredenheid, opgesluit in v.10 ~ ...hy het
uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die
ontwerper en bouer is. Abraham het oor ’n ewigheidsperspektief
beskik – sy oë was dus op God gevestig en nie op sy omstandighede nie.
·
Geloof en die Beloofde Seun:
As
ons kyk na v.11, sien ons dat Sara einde ten laaste tog vrugbaar geraak het en
sou Abraham tog op die ou einde ’n erfgenaam kry, sodat die tweede verbondsbelofte
wat God aan Abraham gemaak het, in vervulling sou kom, nl. dat hy ’n groot
nageslag sou hê.
In
die meeste vertalings wil dit voorkom asof Sara die een was wat oor die geloof
beskik het om vrugbaar te raak, maar hier is die NAV heeltemal korrek wanneer
dit sê dat Abraham die een is wat die geloof gehad het (dit
gaan hier oor ’n aksentteken wat in die oorskryfproses verkeerd geplaas is en
die betekenis verander het, want die Hebreeuse woorde wat hier gebruik word is “katabolēn
spermatos”, wat letterlik beteken om saad neer te lê en ’n vrou kan dit tog nie
doen nie en daarom verwys hierdie frase eerder na Abraham en as ons na die
konteks hier kyk, gaan dit tog ook oor Abraham se geloof en daarom glo ek,
vertaal die NAV hierdie gedeelte korrek en die meeste ander vertalings –
insluitende die OAV dit nié korrek nie).
Beide
Abraham en Sara was al ver verby die ouderdom waar daar nog hoop kon wees op
die geboorte van ’n kind, maar steeds het Abraham geglo en vertrou in God se
verbondsbelofte van ’n groot nageslag – al het hy, net soos Sara op ’n stadium
gelag oor die moontlikheid van ’n kind op hulle ouderdom (Gen.17:17;
18:12). Abraham het bly
glo en daarom was die uiteindelike geboorte van sy eersteling, dus die vrug van
sy geloof, trouens Abraham se eersteling was maar net die begin van nog
duisende der duisende wat na hom gebore sou word – die een klein Joodjie na die
ander – en hulle word vandag nog gebore en almal se grootvader is Abraham!
Die
bekende Fil.4:13 was dus hier van toepassing ~ Ek is tot alles in
staat deur Hom wat my krag gee,
asook Mark.9:23 ~ ...alle dinge is moontlik vir die een wat glo (OAV). En Matt.19:26 sê o.a. ~ ...vir God is alles moontlik.
God het belowe en Abraham het onwrikbaar geglo in God se Woord en daarom word
Isak gebore!
Ons
kan nou maklik vra, maar wat van die grondgebied? Wel, God het dit vir Abraham
se nageslag gegee – het Hy nie? Ons sal nie altyd die vrug van ons geloof en
gebede sien nie – dieselfde met Abraham – hierin was hy dus ’n uitnemende
voorbeeld vir ons.
·
Geloof en die Ewigheid:
Vv.13-16 is net nog ’n verdere beklemtoning van die feit dat
Abraham en sy onmiddellike nageslag, God op Sy Woord geneem het. Hulle het nie
al God se beloftes in hulle lewe sien realiseer nie, maar v.13b stel dit
pragtig ~ ...maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en
hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.
Dit wat die onsigbare God belowe het, het hulle daar doer ver voor hulle gesien
– en hulle het daaroor gejubel! Hulle het selfs vir die mense rondom hulle gesê
dat hulle nie daar hoort nie – dat hulle slegs vreemdelinge en bywoners is.
Hulle primêre mikpunt en doel in die lewe word vir ons in v.14b saamgevat ~ ... dat hulle
op soek is na ’n vaderland en daardie vaderland was nie ’n
“Republiek van Kanaän” nie – o nee, hulle het hulle hemelse woning in gedagte
gehad en daarom het hulle ook geen begeerte gehad om terug te keer na hulle
aardse tuisland nie – hulle was op pad – op pad na hulle ewige tuiste in die
hemel!
Dit is mense soos hierdie, wie God seën en daarom ... is God nie
skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed
gemaak. God sê in 1 Sam.2:30 ~ ...die een wat My eer, sal Ek eer.
Niks verheerlik God meer as gelowiges wat in geloof lewe nie.
·
Geloof en Beproewing :
Abraham se geloofslewe was egter nie altyd net een van voorspoed
en geluk en seën nie – sy geloof, sien ons in vv.17-19, was egter ook op die
proef gestel – God toets hom en gee opdrag dat hy sy eniggebore seun; sy
nageslag; die vervulling van God se belofte aan hom, moet gaan offer!
Steeds het Abraham, God op Sy Woord geneem en geweet dat God
nie ontrou aan Homself is nie – Hy sál Sy beloftes nakom – al neem Hy ook vir
Isak weg! Hy was so seker van God se belofte aan hom dat hy onwrikbaar geglo het, dat God Isak selfs uit die dood sou opwek – iets wat tot op daardie stadium
nog nooit in die geskiednis van die mensdom gebeur het nie. Maar ’n nageslag
sal hy ’n nageslag hê, soos wat God belowe het – dit het hy met sy hele hart
geglo.
V.18 is ’n baie interessante vers in die Grieks, want aan die
begin word die Griekse perfektum, of te wel die voltooide teenwoordige tyd
gebruik, wanneer daar staan ~ Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef
gestel is, Isak as offer afgestaan – “...hét hy Isak afgestaan”. Hierdie gedeelte wys dus na ’n reeds
afgehandelde aksie in die verlede tyd – Abraham hét dit gedoen – hy hét vir
Isak geoffer so ver dit Abraham se gemoed aangegaan het – hy het homself
heeltemal oorgegee aan God en daar was geen twyfel meer in sy gemoed om sy
enigste seun te offer nie – wat sy besluit en sy gehoorsaamheid aan betref, was
dit dus ’n reeds afgehandelde saak – niks sou hom meer keer nie (so het hy in elk geval
gedink!). Maar, onmiddellik daarna in dieselfde vers nog, word dieselfde
werkwoord weer gebruik, maar dié keer in die imperfektum, of te wel die
onvoltooide verlede tyd ~ ... Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan
wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het
gereed gestaan om sy enigste seun te offer – “het gereed gestaan” en dit dui daarop
dat die offerande nie fisies plaasgevind het nie. Abraham was tot die dood toe
gehoorsaam. Hierdie is sekerlik een van die mooiste en beste heenwysings in die
ganse Bybel na die offer en kruisiging van ons Here Jesus Christus.
Ons moet egter nie ontmoedig raak wanneer ons so lees van
hierdie wonderlike geloofsheld en dink dat ons dit tog nooit sal kan maak nie.
Abraham was nie volmaak nie, want as hy was, sou hy in die hemel gewees het (waar hy beslis nou is)
– hy het ook gestoei met sonde in sy lewe:
·
Hy het gelieg oor Sara, deur te sê dat sy, sy
suster is (Gen.12:13;
20:11-13);
·
Hy (en Sara) het op ’n stadium ongeduldig geraak oor hul situasie
en het hul eie planne gesmee om ’n nageslag wat God belowe het, in die lewe te
bring, deurdat Sara haar slavin aan hom gegee het om ’n nageslag te verwek (Gen.16:1-15).
Abraham se geloof het oor ’n lang tydperk gegroei tot waar dit
aan die einde van sy lewe was. As gelowiges val ons ook van tyd tot tyd in
sonde, maar ons word geroep om te groei in ons geloof – ja, ons sál verseker
getoets word, maar as ons vashou aan Hom, sál ons groei in ons geloof ervaar.
4. AFSLUITING:
Daar
is vyf dinge waarop die ou aartsvaders hulle geloof gebou het:
·
Hulle is op ’n pelgrimstog deur ’n vreemde land;
·
Hulle is nie deel van hierdie wêreld nie;
·
Hulle was geduldig in hul geloof;
·
Hulle het in die krag van geloof geglo;
·
Hulle het op God se ewige beloftes gefokus en
daarop gestaan.
Geliefdes, beskik jy oor hierdie tipe geloof? Is jy op hoogte
van die opdragte en beloftes wat die Here aan jou gee? Is die onsigbare God ’n
realiteit vir jou? Beskou jy die Woord van God regtig as die Waarheid? Beskik
jy oor ’n ewigheidsperspektief en hou jy die onsienlike heerlikheid voor oë? Is
dit jou grootste doel en strewe in hierdie lewe om Hom te gehoorsaam? Hoe
hanteer jy situasies waar jou geloof beproef word? Sentreer jou ganse lewe en
werk om God en Sy beloftes van ’n ewige “Beloofde Land”? Glo jy onwrikbaar in
die gekruisigde en ook verrese Jesus Christus?
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 08 Desember 2013
Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 08 Desember 2013