Sunday, December 15, 2013

Die Brief aan die Hebreërs – 25 (“Sola Fide”)

1.     INLEIDING:
       Die afgelope week of wat is daar geweldig gepraat oor Madiba se lewe en wat se wonderlike voorbeeld hy vir ons as Suid-Afrikaners is en dit is tot ’n gekwalifiseerde mate waar en ons kan baie neem uit wat hy gesê en voorgeleef het. Ons het ook gesien hoe dat mense (selfs Afrikaanssprekendes wat bely dat hulle gelowiges is) Mandela as geredde en uitverkorene sien en dan grond hulle hul stellings juis op hierdie wonderlike eienskappe, uitsprake en optredes van Mandela (gaan lees gerus die volgende uitstekende artikel oor Mandela en die verafgoding rondom hom, deur Tyrell Haag, op ons nuwe SOLA 5 webtuiste: http://sola5.org/nelson-mandela-responding-rightly/).

       Ons lees egter in Rom.4:5 dat Paulus sê ~ Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof . Wie het Paulus in gedagte gehad toe hierdie woorde geskryf het? Ons lees die volgende in Gen.15:6 ~ Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het. Paulus het Abraham in gedagte gehad toe hy Rom.4:5 neergepen het en beide hierdie verse van Paulus en Moses, is ’n pragtige samevatting van daardie een pragtige Sola waarop die Gereformeerde teologie ook berus, nl. “Sola Fide”, of te wel “Geloof Alleen” en wat beteken dit presies? In kort kom dit daarop neer, dat God verklaar dat elke sondaar, regverdig verklaar word wanneer hy of sy vanuit sy morele bankrotskap, volledig op die Middelaarskap van Jesus Christus staatmaak en dan alleen is hy vir God aanvaarbaar. Daar is geen ander manier om met God versoen te word nie. Geen menslike verdienste van watter aard ook al, kan Christus se verdienste aanvul of selfs verplaas nie; trouens, die Woord waarsku uitdruklik dat enige poging daartoe diskwalifiserend is.

       Dit is presies wat Paulus en Moses van Abraham gesê het – hy het vooruit in sy Messias se vrysprekende genade geglo – en hy het daarvolgens geleef! Geen wonder dat Abraham in die annale van die geskiedenis bekendstaan as “die Vader van Geregtigheid” nie en in Rom.4:11f &16 word hy “die Vader van almal wat sou glo” genoem. Hoor net wat sê Paulus in Gal.3:29 ~ En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

2.     SKIRFLESING:
       Hebr.11:8-19 ~ Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. 11Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om ’n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12Die gevolg was dat daar van een man, ’n man wat nie meer ’n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see. 13Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. 14Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na ’n vaderland. 15As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. 16Maar hulle het na ’n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak. 17–18Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,”  het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

3.     ABRAHAM – VOORBEELD VAN GELOOF:
       Sonder enige twyfel kan Abraham beskou word as die grootste en beste voorbeeld van geloof in die ganse Bybel. Natuurlik was daar andere – selfs voor Abraham, wat wonderlike geloof aan die dag gelê het – dink maar net aan Abel en Henog en Noag, maar van nie een van hierdie ander geloofshelde word soveel detail weergegee oor hulle geloof as juis dié van Abraham nie – ons sien hier in Hebreërs 11 reeds ’n klomp eienskappe van sy geloof en dit in ’n kort gedeeltetjie en natuurlik is Gen.12-25 deurspek van elemente van sy geloof, waar die aanvang van sy geloof vir ons beskryf word; die voortgang en ontwikkeling en die vrug daarvan – en dit van ’n man wat uit ’n ongelowige, heidense huis gekom het (Jos. 24:2 ~ Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders—onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor—anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien).

       Abraham se geloof was so hoog geag in die Ou Testament, dat een van die belangrikste Levitiese gebede van lofprysing, verwys na Abraham se geloof ~ U is die Here, die God wat vir Abram gekies het, hom uit Ur van die Galdeërs gebring het en sy naam Abraham gemaak het. 8U het hom getrou teenoor U bevind, met hom ’n verbond gesluit dat U die land van die Kanaäniete, die Hetiete en Amoriete, die Feresiete, Jebusiete en Girgasiete, aan sy nageslag sou gee, en U het u belofte nagekom; U is betroubaar (Neh.9:7-8). Abraham se geloof het so ’n indruk op Jakobus gemaak dat hy in Jak.2:23 sê ~ ...en hy (Abraham) is ’n vriend van God genoem.

       Behalwe vir die getuienis wat ons in Genesis het dat God aan Abraham verskyn het, lees ons dit ook, in Stefanus se toespraak voor die Sanhedrin, kort voor sy steniging ~ Broers en vaders, luister na my! God, aan wie al die eer toekom, het aan ons voorvader Abraham verskyn toe hy nog in Mesopotamië was, voordat hy in Haran gaan woon het. 3God het vir hom gesê: ‘Trek uit jou vaderland uit, weg van jou familie af, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys’ (Hand.7:2-3).

       Abraham het God so intiem leer ken, dat die toekoms vir hom soos die hede gevoel het – hy was oortuig van dit wat hy nog nie kon sien nie – net soos Moses ~ Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien (Hebr.11:27). Alles wat Abraham gedoen en gesê het, was gegrond op sy geloof in Hom, die onsienlike God wat hom geroep het.

·           Geloof en die Beloofde Land:
       Baie mense dink dat geloof net ’n kwessie is om oortuig te wees van sekere dinge t.o.v. God en/of die Bybel – bv. om onwrikbaar te glo dat die Bybel waar is; dat Christus waarlik opgestaan het uit die dood, ens. en daar bestaan geen twyfel daaroor dat hierdie dinge van uiterste belang is vir ons geloofslewe, trouens dit is van kardinale belang, maar dit is egter nie waar geloof eindig nie – geloof behels ook dat jy jou ganse lewe sal baseer op hierdie oortuigings, anders is dit nie geloof nie – geloof is dus lewend en hiervan is Abraham vir ons ’n uitstekende voorbeeld.

       Ons vind Abraham se roeping reeds in Gen.12:1-4 opgeteken, waar  God opdrag aan Abraham gee om uit sy land te trek na die land wat God aan hom sal aanwys (“die Beloofde Land”) en terselfdertyd maak God ’n paar beloftes aan Abraham indien hy gehoorsaam sou wees en dan volg Abraham se reaksie in v.4 ~ Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here....

·           Geloof en Gehoorsaamheid:
       Ons sien dus hier, dat Abraham se geloofslewe begin het, die oomblik toe hy God gehoorsaam het en weggetrek het na die “Beloofde Land”. Geloof en gehoorsaamheid is onafskeidbaar van mekaar wanneer dit kom by ’n verhouding met God. Abraham sou God nooit gehoorsaam het, as hy God nie op Sy Woord geneem het nie.

       Abraham se gehoorsaamheid was dus ’n uiterlike teken en – bewys van sy inherente geloof. In die Griekse vertaling van die Ou Testament word hierdie woord “gehoorsaam” op so ’n wyse vertaal dat dit letterlik lees, Abraham het al begin trek toe God se woorde nog in sy ore weerklink het en van daardie oomblik af het Abraham se ganse lewe gedraai om sy gehoorsaamheid aan God.

       Wanneer enige persoon na Christus Jesus kom, vereis God van hom of haar om “oor te beweeg” van sy ou mens na die nuwe mens wie hy nou in Christus is – hy moet oorbeweeg van sy ou gebruike en gewoontes, na ’n nuwe leefwyse – net soos wat Abraham vanuit ’n heidense omgewing, oombliklik na ’n nuwe geloofslewe in gehoorsaamheid en afhanklikheid van God beweeg het ~ Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Kor.5:17).

       Om die oue mens neer te lê is een van die grootste hindernisse denkbaar in die lewe van ’n gelowige. Net soos in die lewe van Abraham, kan ons ook nie die seën letterlik sien wat daar in Jesus Christus is nie, maar net soos Abraham, moet ons ook in geloof “uittrek” en eers wanneer ons Jesus Christus ten volle vertrou en Hom gehoorsaam, sal ons die “Beloofde Land” kan binnegaan soos Abraham – ons moet eers glo en gehoorsaam; dan sal ons ervaar. Gedurende hierdie pelgrimstog, moet ons egter gedurig gehoorsaam wees aan Rom.12:2 ~ Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is

       Dit is belangrik dat ons ook daarvan kennis sal neem dat, om aan hierdie wêreld gelyk te word, of te wel, wêreld gelykvormigheid, primêr ’n gesindheid is, eerder as optrede – dit is ’n begeerte na sonde – dít is waar dit begin en dít is waar dit met wortel en tak uitgeroei moet word – in die hart. ’n Uiters betroubare aanwyser om te bepaal óf ons wêreld gelykvormig geraak het (of is) en tot watter mate toe, is om ons hart te ondersoek en vas te stel waar ons hart lê – waar ons voorliefdes lê ~ Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie (1 Joh.2:15).

       Aan die anderkant, hoe meer ons liefde en toewyding aan Jesus Christus groei, dermate sal ons voorkeure en voorliefdes vir hierdie wêreld en sy dinge verdwyn.

·           Geloof en Geduld:   
       Vers 9 is vir ons ’n verdere aanduiding van hoe ons as gelowiges, ons geloof in hierdie wêreld moet uitleef ~ Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was – hy het in die beloofde land gaan woon as ’n vreemdeling. Die Grieks praat hier van ’n ἀλλότριος (allotrios) – iemand wat van ’n ander land kom en nou in ’n vreemde land woon - hy was m.a.w. soos iemand wat uit ’n ander land na ’n vreemde land geëmigreer het. Ek kan my net indink hoe ek as ’n nuwe immigrant  sal optree as ek nou bv. Argentinië toe moet emigreer – ek sal my mond hou en ek sal nie uitgesproke wees oor allerlei binnelandse en politiese sake nie; ek sal baie seker maak dat ek nie bots met die gereg nie, ens. – in kort, al probeer ek hoe hard, dit sal nie voel soos my land nie en ek sal presies optree soos ’n vreemdeling in ’n vreemde land.

       Waarom het Abraham as “immigrant”; as vreemdeling in tente in die Beloofde Land, Kanaän gewoon? Ons lees in Hand.7:5 ~ God het hom geen eiendom in hierdie land gegee nie, selfs nie ’n handbreedte daarvan nie. Maar Hy het wel belowe om dit as besitting vir hom te gee, en ná hom vir sy nageslag, alhoewel hy nog nie ’n kind gehad het nie.

       Abraham kom in die land aan wat aan hom belowe is, deur  die God in wie hy onwrikbaar en onmiddellik geglo het, maar tog besit hy nie ’n handbreedte daarvan nie en nog minder het hy ’n nageslag wat dalk iets daarvan kon besit. Die enigste stukkie grond wat hy besit het, was Sara se graf in Makpele, oos van Mamre, wat hy van Efron die Hetiet gekoop het.

       Arme Abraham – hy was alleen en vreemd en besit geen eiendom nie en wat meer is, sy vreemde godsdiens is onbekend vir die inwoners van sy nuwe land – hy was monoteïsties (glo in een God), terwyl die res van die bevolking almal politeïste was (veelgodery). Sy morele standaarde was gebaseer op die karakter van God, terwyl hulle geleef het soos die gode wat hulself geskep het.

       Wat hierdie faset van Abraham se lewe betref, leer ons dus dat geloof, geduldig moet wees – geduld sonder murmurering. Geloof impliseer nie noodwendig, trouens baie selde, kitsoplossings of –gebeurtenisse. Abraham het nooit die Beloofde Land in besit geneem nie, maar hy het geduldig gewag en gewag en gewag en ten spyte van al hierdie negatiewe realiteite in sy lewe, lê die geheim vir Abraham se geduld en tevredenheid, opgesluit in v.10 ~ ...hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. Abraham het oor ’n ewigheidsperspektief beskik – sy oë was dus op God gevestig en nie op sy omstandighede nie.

·           Geloof en die Beloofde Seun:
       As ons kyk na v.11, sien ons dat Sara einde ten laaste tog vrugbaar geraak het en sou Abraham tog op die ou einde ’n erfgenaam kry, sodat die tweede verbondsbelofte wat God aan Abraham gemaak het, in vervulling sou kom, nl. dat hy ’n groot nageslag sou hê.

       In die meeste vertalings wil dit voorkom asof Sara die een was wat oor die geloof beskik het om vrugbaar te raak, maar hier is die NAV heeltemal korrek wanneer dit sê dat Abraham die een is wat die geloof gehad het (dit gaan hier oor ’n aksentteken wat in die oorskryfproses verkeerd geplaas is en die betekenis verander het, want die Hebreeuse woorde wat hier gebruik word is “katabolēn spermatos”, wat letterlik beteken om saad neer te lê en ’n vrou kan dit tog nie doen nie en daarom verwys hierdie frase eerder na Abraham en as ons na die konteks hier kyk, gaan dit tog ook oor Abraham se geloof en daarom glo ek, vertaal die NAV hierdie gedeelte korrek en die meeste ander vertalings – insluitende die OAV dit nié korrek nie).

       Beide Abraham en Sara was al ver verby die ouderdom waar daar nog hoop kon wees op die geboorte van ’n kind, maar steeds het Abraham geglo en vertrou in God se verbondsbelofte van ’n groot nageslag – al het hy, net soos Sara op ’n stadium gelag oor die moontlikheid van ’n kind op hulle ouderdom (Gen.17:17; 18:12). Abraham het bly glo en daarom was die uiteindelike geboorte van sy eersteling, dus die vrug van sy geloof, trouens Abraham se eersteling was maar net die begin van nog duisende der duisende wat na hom gebore sou word – die een klein Joodjie na die ander – en hulle word vandag nog gebore en almal se grootvader is Abraham!

       Die bekende Fil.4:13 was dus hier van toepassing ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee, asook Mark.9:23 ~ ...alle dinge is moontlik vir die een wat glo (OAV). En Matt.19:26 sê o.a. ~ ...vir God is alles moontlik. God het belowe en Abraham het onwrikbaar geglo in God se Woord en daarom word Isak gebore!

       Ons kan nou maklik vra, maar wat van die grondgebied? Wel, God het dit vir Abraham se nageslag gegee – het Hy nie? Ons sal nie altyd die vrug van ons geloof en gebede sien nie – dieselfde met Abraham – hierin was hy dus ’n uitnemende voorbeeld vir ons.

·           Geloof en die Ewigheid:
       Vv.13-16 is net nog ’n verdere beklemtoning van die feit dat Abraham en sy onmiddellike nageslag, God op Sy Woord geneem het. Hulle het nie al God se beloftes in hulle lewe sien realiseer nie, maar v.13b stel dit pragtig ~ ...maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Dit wat die onsigbare God belowe het, het hulle daar doer ver voor hulle gesien – en hulle het daaroor gejubel! Hulle het selfs vir die mense rondom hulle gesê dat hulle nie daar hoort nie – dat hulle slegs vreemdelinge en bywoners is. Hulle primêre mikpunt en doel in die lewe word vir ons in v.14b saamgevat ~ ... dat hulle op soek is na ’n vaderland en daardie vaderland was nie ’n “Republiek van Kanaän” nie – o nee, hulle het hulle hemelse woning in gedagte gehad en daarom het hulle ook geen begeerte gehad om terug te keer na hulle aardse tuisland nie – hulle was op pad – op pad na hulle ewige tuiste in die hemel!

       Dit is mense soos hierdie, wie God seën en daarom ... is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak. God sê in 1 Sam.2:30 ~ ...die een wat My eer, sal Ek eer. Niks verheerlik God meer as gelowiges wat in geloof lewe nie.

·           Geloof en Beproewing :
       Abraham se geloofslewe was egter nie altyd net een van voorspoed en geluk en seën nie – sy geloof, sien ons in vv.17-19, was egter ook op die proef gestel – God toets hom en gee opdrag dat hy sy eniggebore seun; sy nageslag; die vervulling van God se belofte aan hom, moet gaan offer!

       Steeds het Abraham, God op Sy Woord geneem en geweet dat God nie ontrou aan Homself is nie – Hy sál Sy beloftes nakom – al neem Hy ook vir Isak weg! Hy was so seker van God se belofte aan hom dat hy onwrikbaar geglo het, dat God Isak selfs uit die dood sou opwek – iets wat tot op daardie stadium nog nooit in die geskiednis van die mensdom gebeur het nie. Maar ’n nageslag sal hy ’n nageslag hê, soos wat God belowe het – dit het hy met sy hele hart geglo.

       V.18 is ’n baie interessante vers in die Grieks, want aan die begin word die Griekse perfektum, of te wel die voltooide teenwoordige tyd gebruik, wanneer daar staan ~ Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan“...hét hy Isak afgestaan”. Hierdie gedeelte wys dus na ’n reeds afgehandelde aksie in die verlede tyd – Abraham hét dit gedoen – hy hét vir Isak geoffer so ver dit Abraham se gemoed aangegaan het – hy het homself heeltemal oorgegee aan God en daar was geen twyfel meer in sy gemoed om sy enigste seun te offer nie – wat sy besluit en sy gehoorsaamheid aan betref, was dit dus ’n reeds afgehandelde saak – niks sou hom meer keer nie (so het hy in elk geval gedink!). Maar, onmiddellik daarna in dieselfde vers nog, word dieselfde werkwoord weer gebruik, maar dié keer in die imperfektum, of te wel die onvoltooide verlede tyd ~ ... Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,”  het gereed gestaan om sy enigste seun te offer“het gereed gestaan” en dit dui daarop dat die offerande nie fisies plaasgevind het nie. Abraham was tot die dood toe gehoorsaam. Hierdie is sekerlik een van die mooiste en beste heenwysings in die ganse Bybel na die offer en kruisiging van ons Here Jesus Christus.

       Ons moet egter nie ontmoedig raak wanneer ons so lees van hierdie wonderlike geloofsheld en dink dat ons dit tog nooit sal kan maak nie. Abraham was nie volmaak nie, want as hy was, sou hy in die hemel gewees het (waar hy beslis nou is) – hy het ook gestoei met sonde in sy lewe:
·           Hy het gelieg oor Sara, deur te sê dat sy, sy suster is (Gen.12:13; 20:11-13);
·           Hy (en Sara) het op ’n stadium ongeduldig geraak oor hul situasie en het hul eie planne gesmee om ’n nageslag wat God belowe het, in die lewe te bring, deurdat Sara haar slavin aan hom gegee het om ’n nageslag te verwek (Gen.16:1-15).

       Abraham se geloof het oor ’n lang tydperk gegroei tot waar dit aan die einde van sy lewe was. As gelowiges val ons ook van tyd tot tyd in sonde, maar ons word geroep om te groei in ons geloof – ja, ons sál verseker getoets word, maar as ons vashou aan Hom, sál ons groei in ons geloof ervaar.

4.     AFSLUITING:
       Daar is vyf dinge waarop die ou aartsvaders hulle geloof gebou het:
·         Hulle is op ’n pelgrimstog deur ’n vreemde land;
·         Hulle is nie deel van hierdie wêreld nie;
·         Hulle was geduldig in hul geloof;
·         Hulle het in die krag van geloof geglo;
·         Hulle het op God se ewige beloftes gefokus en daarop gestaan.


       Geliefdes, beskik jy oor hierdie tipe geloof? Is jy op hoogte van die opdragte en beloftes wat die Here aan jou gee? Is die onsigbare God ’n realiteit vir jou? Beskou jy die Woord van God regtig as die Waarheid? Beskik jy oor ’n ewigheidsperspektief en hou jy die onsienlike heerlikheid voor oë? Is dit jou grootste doel en strewe in hierdie lewe om Hom te gehoorsaam? Hoe hanteer jy situasies waar jou geloof beproef word? Sentreer jou ganse lewe en werk om God en Sy beloftes van ’n ewige “Beloofde Land”? Glo jy onwrikbaar in die gekruisigde en ook verrese Jesus Christus?

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 08 Desember 2013

Sunday, December 8, 2013

Die Boodskap van Daniël – 11 (“Die Ewige Heerser en Koning”)

Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 08 Desember 2013

1.     INLEIDING:
       Ons kom vanoggend by die tweede gedeelte van Daniël 7 – – ’n gedeelte wat deel vorm van die visioen wat Daniël van God ontvang het en waarna ons verlede week begin kyk het, nl. vv..1-8 waar dit gegaan het oor die vier verskriklike diere wat die verskillende koninkryke verteenwoordig het, nl. die Babiloniese Ryk (die leeu met arendsvlerke – v.4); die Mede-Persiese Ryk (’n beer met ribbebene in sy bek – v.5); die Griekse Ryk (’n luiperd met vier vlerke en –koppe – v.6) en dan natuurlik laastens die Romeinse Ryk net voor en net na Jesus.

2.     SKRIFLESING:
Dan.7:9-28 ~ Terwyl ek kyk, is daar trone reggesit, en Hy wat ewig lewe, het op sy troon gaan sit. Sy klere was so wit soos sneeu, sy hare soos skoon wol. Sy troon was van vuurvlamme met wiele van vuur. 10Vuur het uit die troon gestroom en verder gevloei. Duisende der duisende het Hom gedien, miljoene het daar voor Hom kom staan. Die hofsitting het begin, en die boeke met die aanklagte is oopgemaak. 11“Terwyl ek kyk, is die een dier oor die verwaande gepraat van die horinkie doodgemaak en is sy liggaam vernietig deur dit in die vuur te gooi. 12Ook die ander diere se heerskappy is van hulle weggeneem, maar hulle lewens is nog ’n tyd lank gespaar. 13“My nagtelike visioen het voortgeduur: daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 14Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie. 15“Ek, Daniël, het beangs geraak hieroor; die visioen wat ek gesien het, het my laat skrik. 16Ek het na een van dié wat daar gestaan het, gegaan en hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe vir my soos volg uitgelê: 17Die vier groot diere staan vir vier koninkryke wat op die aarde sal ontstaan. 18Maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koninklike heerskappy ontvang en dit vir altyd besit. 19“Toe wou ek weet waarvoor die vierde dier staan, wat anders was as al die ander, buitengewoon skrikwekkend, met ystertande en bronskloue, wat al wat voorkom, verslind en vermorsel het en wat met sy pote vertrap het wat oorgebly het. 20Ek wou ook weet wat die tien horings op sy kop beteken, en waarvoor die ander een staan wat uitgekom het nadat daar drie uitgeruk is, die horing wat groter geword het as die ander en wat oë gehad het en ’n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het. 21Terwyl ek kyk, het daardie horing begin oorlog maak teen dié wat aan God behoort het, die horing het hulle oorweldig. 22Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang. 23“Dit is vir my soos volg verklaar: Die vierde dier is ’n vierde koninkryk wat op die aarde sal ontstaan en wat anders sal wees as al die ander koninkryke. Hy sal die hele wêreld insluk, dit verwoes en vertrap. 24Wat die tien horings betref: in daardie koninkryk sal tien konings een na die ander regeer, en ná hulle sal daar een kom wat heeltemal anders sal wees as die voriges, en hy sal drie konings onderwerp. 25Hy sal teen die Allerhoogste laster en die heiliges van die Allerhoogste vervolg. Hy sal probeer om die godsdienstige feeste en wette te verander, en die heiliges van die Allerhoogste sal in sy mag oorgegee word vir die hele vasgestelde tyd. 26Dan sal die hof sit en sal daardie koning se heerskappy van hom af weggevat en vir goed vernietig en beëindig word. 27Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste. Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees. 28“Hier eindig my vertelling. Ek, Daniël, het baie geskrik toe ek hieroor dink, en dit het my baie ontstel. Maar ek het alles vir myself gehou.”  

3.      “HY WAT EWIG LEWE”:
       In teenstelling met die groot onstuimige see met die vier verskriklike gediertes, vind daar nou skielik ’n wending in Daniël se visioen plaas. In Dan.7:9 verwys die Engelse vertalings na “the Ancient of days” en die OAV van “die Oue van Dae” – die NAV verwys hier na “Hy wat ewig lewe”. Ek verkies eerder die NAV se vertaling van hierdie woord (vir ’n verandering!), omdat die OAV se vertaling vir my heeltemal te familiêr klink en God Almagtig aftrek na ons vlak (dis maar net my persoonlike voorkeur en gevoel) – dit is waarom mense sommer praat van die “Oubaas daarbo”, of as hy/sy oor God praat, sal hulle sommer sê: Ek het vir God gesê, JY moet sommer dit of dat..., of JY moet my nou help...” God is net eenvoudig té heilig om Hom af te trek op ons persoonlike “pêllie-pêllie” vlak en so met Hom en van Hom te praat!

       In v.9 dan, verrys “Hy wat ewig lewe” en hierdie is ’n duidelike omskrywing van God die Vader wat op Sy hemelse troon sit en Hy is gereed om te oordeel.

       Eerstens het Hy op die middelste troon gesit (onthou v.9 dui vir ons aan dat daar meer as een troon in Daniël se visioen was). Sy klere was so wit soos sneeu (v.9), ’n toonbeeld van ongekende en volmaakte reinheid – om te dink, ’n vergelyking van hoe ons eendag in verheerlikte toestand, ook daar gaan uitsien ~ Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol (Jes.1:18).

       Die troon waarop God sit, het uit vuurvlamme bestaan, met wiele van vuur en vuur het, amper soos ’n rivier, uit die troon gevloei (v.9-10). Terwyl Hy op Sy troon sit, het miljoene voor Hom kom staan en is Hy deur duisende der duisende gedien – wat ’n gesig! Hierdie vuurvlamme is teken van God se teenwoordigheid terwyl Hy oordeel – die Engels druk dit vir my mooi uit – Fire is the symbol of God’s presence in judgement and in mercy. Ons vind voorbeelde hiervan in verskeie dele van die Woord, bv. Gen.3:24 ~ Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook ’n vlammende swaard wat heen en weer beweeg. Moses se eerste ontmoeting met God in Eks.3:2 ~ Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ’n vlam binne-in ’n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. Die bekende woorde van Johannes die Doper in Matt.3:11 ~ Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

            Waarom sou daar wiele van vuur by die troon wees? Dit spreek van beweging en van dinamika – ons kry dieselfde gedagte in Ps.97:3 ~ ’n Vuur trek voor Hom uit en verteer sy vyande aan alle kante.

       Daniël sien ook dat God se hare so skoon soos wol is – ook ’n simbool van reinheid en dalk ook wysheid. Dit laat ’n mens egter ook dink aan die woorde in Ps.20:29 ~ Die trots van jongmanne lê in hulle krag; (en dan hierdie woorde) die versiering van oumense is hulle grysheid.

       Ons sien dus hier ’n Regter wat oor die reinheid en wysheid beskik om te onderskei tussen reg en verkeerd, tussen heilig en boos; om die regte te kies, maar terselfdertyd ook oor die mag beskik om Sy oordele uit te spreek en uit te voer!

       Hierdie visioen is iets besonders, veral as ons in gedagte hou hoe min daar oor God (behalwe sy attribute/karaktereienskappe) se voorkoms in die Woord aan ons gegee word. In Eksodus bv. het Moses in die teenwoordigheid van God verskyn, maar hy het bykans niks gesien nie en eerder ’n beskrywing van homself gehoor ~ Die Here het in ’n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam “die Here” uitgeroep. 6Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. 7Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag” (Eks.34:5-7).

       In Jesaja weer, het die profeet God in die Tempel sien sit, maar weer word bitter min van God se onbeskryflike grootsheid beskryf – Jes.6:1-2 ~ In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. 2By Hom was daar serafs om Hom te dien. En dan gaan hy voort om die aandag op die serafs te vestig en o.a. hoe hulle sy mond aangeraak het met ’n gloeiende kool.

       Waarom gee Daniël meer inligting oor God se voorkoms aan ons deur? Ons sal nie regtig weet nie, maar moontlik juis om enersyds die kontras tussen redding uit genade en verdoemenis aan die anderkant te beklemtoon – om aan ons wat gered is, die heerlike en pragtige ewigheid te beklemtoon, maar andersyds ook die verskriklike en intensiteit van die verlorenes te skilder. Beslis word dit ook gegee om o.a. God se oorwinning oor die bose en Sy heerlikheid en heerskappy te beklemtoon – om Hom as aanbiddenswaardige God aan ons voor te hou, want gelowiges wat hierdie beeld van God voor oë hou, sal nooit alleen en geïsoleerd voel nie – ongeag ons omstandighede – Hy is die Almagtige; Hy is die Verheerlikte en ons kan met vertroue en afwagting te alle tye by Hom skuil, maar ook met verwagting uitsien na die “Nuwe Lewe” in Sy teenwoordigheid ~ Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees (Fil.3:20-21).

       Ek glo dit word egter ook aan ons gegee om ons toewyding aan God te versterk ~ Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel (Kol.3:1-5).

4.     DIE HEMELSE HOFSITTING:
Daniël het in hierdie visioen van hom heel eerste ’n kykie gekry in die werklikheid van die duiwelse mag waaroor die mensdom beskik, maar God gee nou aan hom ’n blik op die teenoorgestelde werklikheid van die Goddelike mag en heerskappy en oorwinning – een van rustigheid, wysheid, lig en Sy algehele soewereiniteit.

God sit op Sy troon in die hoogste hemele – hierdie is nie ’n vreemde gedagte aan die Bybel nie, ongeveer 200 jaar voor Daniël se visioen het Miga die volgende in 1 Kon.22:19 gesê ~ En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan. Met die roeping van Jesaja as profeet sien ons ook in Jes.6 hoe dat God op Sy hemelse troon sit terwyl die serafs o.a. uitroep ~ ...Heilig, heilig, is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (v.3) en God dan in v.8 vra ~  Wie kan Ek stuur?

Wat Daniël egter nou sien, nadat God aan hom die aardse magte o.l.v. die satan gewys het, is dat daar ’n hemelse hofsitting begin en in hierdie hemelse “hofsaal”, is daar nie net die een troon waarop God die Vader sit nie, maar daar is trone (meervoud) wat beset word deur die lede van die hemelsehof. Om presies te wees – daar was vier-en-twintig ander trone – hoe weet ons dit? Omdat hierdie gedeelte, in ooreenstemming met Openb.4:4 is ~ Reg rondom die troon was daar vier en twintig ander trone, en op die trone het daar vier en twintig ouderlinge gesit. Hulle het wit klere aangehad, en op hulle koppe was daar goue krone

Tydens hierdie hofsitting sit daar benewens God, vier-en-twintig ouderlinge wat deelneem aan hierdie hofsitting. Die fokus in Daniël se visioen is egter op Hom wat op die sentrale troon sit – Hy wat ewig lewe.

In v.10 van ons Skriflesing sien ons hoe dat die hofsitting begin, terwyl daar miljoene voor God kom staan. Daniël moes geweldig bemoedig gewees het deur hierdie gesig van duisende wat by God staan – hy wat Daniël is, wat sovele kere stoksielalleen gestaan het – daar is andere en nie net twee of drie nie – duisende, wat ook die Here God aanbid en dien saam met hom! Hy moes besef het dat die woorde van Paulus in Kolossense 3 nie ’n leë aanmoediging is nie, maar dat dit waar is en dat sy “alleen staan” dae op die ou einde die moeite werd gaan wees en daarom moet ons vanoggend saam met Daniël bemoedig word, om die stryd te stry tot die einde toe – Paulus sê in Kol.3:1-4 ~ Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel. Daarmee saam, Paulus se bemoediging in 2 Kor.4:17 ~ Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. En wanneer dit vir ons voel asof ons, soos Daniël, alleen staan, moet ons ook vashou aan die belofte van die Here aan Jesaja in Jes.26:5 ~ ...Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ’n veilige toevlug.

          Wanneer ons as gelowiges hierdie visioen van Daniël vir onsself toe-eien en besef wat op ons wag, nl. dat ons saam met duisendee, hard gaan uitroep ~ Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid, en dat ons saam met hulle die deure gaan laat rammel en die tempel vol rook gaan laat word, sal ons nie meer eensaam en alleen voel nie – ongeag... en maak nie saak wat nie!

Die hofgebeure begin met die oopmaak van die boeke met die aanklagte en Daniël sien hoe dat die diere van die eerste gedeelte van Dan.7 waarna ons verlede week gekyk het, verhoor en veroordeel gaan word. Nie net het hierdie eertydse koninkryke van destyds al tot ’n val gekom as deel van God se oordeel oor hulle nie, maar almal wat deel gehad het aan die ongeregtighede van daardie aardse Ryke, sal eendag finaal veroordeel word tydens die finale groot Hofsitting van God. Johannes beskryf hierdie laaste hofsitting vir ons in Openb.20:12-15 ~ Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. 13Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

            Soos ons reeds gesien het, is ”Hy wat ewig lewe”  (God die Vader) egter nie die enigste Een wat op die trone sit nie en benewens Openbaring se vier-en-twintig ouderlinge, sien Daniël nog Iemand – vv.13-15 ~ ...daar het in die wolke iemand aangekom, iemand soos ’n menslike wese. Hy het na Hom toe gegaan wat ewig lewe en is voor Hom gebring. 14Aan dié menslike wese is die heerskappy en eer en koningskap gegee sodat al die volke, nasies en taalgroepe hom sou dien. Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie. Hierdie beeld moes waarskynlik verwarrend vir Daniël gewees het, want die Een wat hy hier sien beskik oor beide menslike, sowel as Goddelike eienskappe – iets wat hy nog nooit van gehoor óf gesien het nie. Tog aan die anderkant was dit dalk ook nie so vreemd vir Daniël nie, want hierdie antropomorfiese of menslike beskrywing van God is nie heeltemal vreemd aan die Ou Testament nie, want self hier in Daniël se visioen is daar menslike elemente rondom God (Hy sit bv.; Hy het klere en hare) en op ander plekke sien ons ook sulke menslike elemente wat aan God gekoppel word – bv. Eseg.2:8-9 ~ En jy, mens, luister na wat Ek vir jou sê. Moenie weerbarstig wees soos hierdie weerbarstige volk nie, maak oop jou mond en eet wat Ek jou gee.” 9Toe sien ek daar is ’n hand na my toe uitgesteek, en in die hand was ’n boekrol... en net ’n bietjie vroeër in dieselfde hoofstuk (v.1) word daar verwys na God se stem. Tog, is dit belangrik om daarop te let dat hier in Daniël (v.13) nou gepraat word van ...die Seun van ’n mens, (OAV) – Die NAV vertaal dit hopeloos om die minste daarvan te sê ~ ...iemand soos ’n menslike wese. Die meeste Engelse vertalings, vertaal dit met, ... One like a Son of Man”.  

Hierdie beskrywing van hierdie tweede Persoon in Daniël se profesie, laat ’n mens besef dat hier iets meer is omtrent hierdie Persoon, want Hy word beskryf as Iemand soos die Seun van die Mens, wat suggereer dat daar iets t.o.v. Sy menslike voorkoms is, wat meer is as bloot net ’n mens wat God se verskyning, aan ’n mens beskryf.

Verder lees ons in v.13 dat hierdie “Iemand soos die Seun van die Mens”, in die wolke aan gekom het en dit is ’n baie duidelike Ou Testamentiese simbool van Goddelike krag en teenwoordigheid. So lees ons bv. in Ps.68:4 dat God op die wolke ry en in Jes.19:1 lewer God uitspraak teen Egipte en dan lees v.1 verder as volg ~ Die Here ry op ’n vinnige wolk, Hy gaan na Egipte toe. En die baie bekende gedeelte in Eks.24 lees ons ~ Terwyl Moses die berg uitklim, het ’n wolk dit omhul. 16Die magtige teenwoordigheid van die Here het op Sinaiberg gebly, en ses dae het die wolk die berg omhul. Op die sewende dag het die Here uit die wolk uit na Moses geroep (Eks.24:15-16).

Terwyl hierdie Persoon in die wolke aangekom het, gebeur daar nog iets meer merkwaardig – v.14 ~ En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie (OAV). Hierdie heerskappy en eer en Koningskap en koninkryk is nie maar net dieselfde as wat menslike konings ontvang nie – bv. soos in Dan.5:18 van Nebukadneser beskryf nie – nee, hierdie mag en eer en Koningskap behels veel meer as dit, want hierdie “Iemand soos die Seun van die Mens”, sal deur ~ ...al die volke, nasies en taalgroepe (ge)dien (word) en die OAV sê dat hulle Hom almal sal vereer. Hierdie “Iemand” kan dus nie bloot net ’n engel wees nie, want hierdie “Iemand soos die Seun van die Mens” ontvang ewige en onvernietigbare heerskappy – soewereiniteit dus, wat net aan God behoort en daarom is die beskrywing van hierdie tweede Persoon, die “Seun van die Mens”, so ’n raak beskrywing, want nie net alleen sou Hy mens geword het nie, maar Hy is terselfdertyd ook die Ewige, God Almagtig, daarom kon Hy toe Hy op aarde was, terselfdertyd o.a. saam met ’n prostituut eet, maar ook sondeloos bly soos God, omdat Hy self God is!

Natuurlik is dit vir ons veel makliker om hierdie benaming van Christus Jesus die Verlosser hier in Daniël te verstaan, want Jesus het alreeds in vlees na die aarde gekom, maar dit sou eers ’n paar eeue na Daniël gebeur en geen wonder daarom dat Daniël in v.15, beangs geraak het oor dít wat hy gesien het nie – die OAV stel dit vir my mooi ~ Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel (in sy totaliteit dus) verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik. 

Daniël ontvang nou van v.16 af ’n beskrywing van die gediertes wat hy gesien het en wat met hulle gaan gebeur en dan kom hierdie wonderlike woorde in v.22 ~ Toe het Hy wat ewig lewe, gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die heiliges van die Allerhoogste. Die tyd het aangebreek dat die heiliges van God die koninklike heerskappy sou ontvang. Die tydelik mag en heerskappy van hierdie wêreldheersers sou van hulle gestroop word (v.26) en eendag sal hulle ook in die parskuip van Openb.14:14-20 gegooi word en dan veral v.20 ~ Die parskuip, buitekant die stad, is getrap. Uit die parskuip het daar bloed uitgekom wat tot aan die tooms van die perde geraak en sestien honderd kilometer ver gestrek het hulle gaan geoordeel word vir hulle bose brutaliteit en Godloosheid.

Hoor egter wat staan in v.27 ~ Die heerskappy en mag en grootheid van al die koninkryke op aarde sal gegee word aan die heilige volk van die Allerhoogste. Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die regeerders sal Hom dien en Hom gehoorsaam wees.

5.     DIE BETEKENIS VAN HIERDIE VISIOEN:
       Watter boodskap hou hierdie visioen van Daniël vir ons vandag in? Soos verlede week reeds gesê, leef ons steeds in die era van “wilde gediertes” soos o.a. die eerste eeuse gelowiges – nou net in ’n ander gedaante. Daar is steeds “gediertes” wat getroue gelowiges o.a. in Sudan; China; Saudi Arabië en in Noord-Korea, vervolg en doodmaak. Ons weet nie hoe ver ons “bees” in die verskiet lê nie (indien enige ooit), maar tog ervaar elkeen van ons ook ons eie unieke swaarkry en vervolging en gaan ons almal gebuk onder siektes en hierdie wêreld se sondegevalle gebrokenheid, wat ook maar ’n “dier” is, net in ’n ander gedaante as die “Daniël-gediertes”.

       Ons moet egter vashou daaraan dat ons nie vir altyd in hierdie wêreld sal woon nie en dat Christus se Koninkryk ’n ewige Koninkryk is en almal (ons inkluis) sál eendag, die knie voor Hom, die Seun van die mens, buig. Op daardie dag sal alles wat onaangenaam en lelik en skrikwekkend is; alles wat verkeerd en gebroke is, vir ewig verplaas word met die teenwoordigheid en heerlikheid van God Almagtig en die satan en sy meelopers sal op daardie dag gevonnis word in die Raadsale van die hemel en vir ewig verdoem word en in die ewige poel van vuur gewerp word (Openb.20:10).

       Op daardie dag van oordeel, sal en is ons enigste hoop, Hy wat op Golgota gesterf het en die dood en ewige oordeel vir ons oorwin het – Hy die ewige Koning en Heerser, Jesus Christus.

Sunday, December 1, 2013

Die Boodskap van Daniël – 10a (“Die Diere in Daniël”)

1.     INLEIDING:
       Ons kom vanoggend by ’n aangrypende hoofstuk in Daniël – ’n hoofstuk waarin ons gaan lees en leer van konings en koninkryke, maar ook gaan ons ’n profetiese rede hoor wat heenwys na gebeure in Openbaring en dan spesifiek na Christus se tweede koms.

       Daniël 7 kan hoofsaaklik ingedeel word in drie dele en ek wil dat ons t.w.v. ’n inleiding kyk na die eerste gedeelte wat strek van v.1 tot en met v.8 en daarvoor sal ek hoofsaaklik vanoggend kyk  na gedeeltes uit Openbaring 13 waarna ons ook in Februarie 2011 gekyk het.

2.     SKRIFLESING:
Daniël 7:1-8 ~ In die eerste regeringsjaar van koning Belsasar van Babel het Daniël ’n droom gehad en visioene gesien in sy slaap. Hy het die droom opgeskryf en die inhoud daarvan soos volg weergegee. 2Hy het gesê: “In my nagtelike visioen het die wind uit al vier windstreke die groot see onstuimig laat word. 3Vier groot diere het uit die see uit opgekom, en elkeen was anders as die ander. 4Die eerste het soos ’n leeu gelyk en hy het arendsvlerke gehad. Terwyl ek kyk, is sy vlerke afgeruk en is hy opgelig, sodat hy op twee voete gestaan het soos ’n mens, en ’n mens se verstand is aan hom gegee. 5Die tweede dier het soos ’n beer gelyk. Hy het op sy agterpote gestaan en het drie ribbebene in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: ‘Vreet maar! Vreet soveel vleis as jy wil!’6En toe ek weer sien, was daar nog ’n dier, een soos ’n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos dié van ’n voël. Hy het vier koppe gehad en aan hom is heerskappy gegee. 7My nagtelike visioen het voortgeduur en toe ek weer sien, was daar ’n vierde dier, skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk. Hy het groot ystertande gehad en alles wat voorkom, verslind en vermorsel en wat
oorgebly het met sy pote vertrap. Hy was anders as die vorige diere en het horings gehad. 8Terwyl ek stip na die horings kyk, het daar ’n klein horinkie tussen hulle uitgekom, en drie van die ander is uitgeruk om vir hom plek te maak. Hierdie horing het mensoë gehad en ’n mond wat allerlei verwaande dinge kwytgeraak het.

3.     DIE DIERE:
       Ons sien hier dat die “Dier” of “Diere” uit die see kom.  Ons het destyds, regdeur ons studie van Openbaring gesien dat die see, die heidennasies verteenwoordig (Openb.17:5 ~ Verder het hy vir my gesê: Die waters wat jy gesien het waar die sedelose vrou bly, is volke en stamme, nasies en tale).  Hierdie "Dier" of "Diere" kom dus vanuit die heidendom en in hierdie geval verteenwoordig dit ’n heidennasie of -nasies.  Die vraag is, watter nasie(s)? 

       Openb.17 (wat ook gesien kan word as iets van ’n kommentaar oor Openb.13) kan ons baie help ten einde ’n antwoord te vind op hierdie vraag.  Terwyl ’n Engel later in Openb.17, hierdie Dier aan Johannes beskryf, sien ons dat hy in v.9 sê ~ ...Die sewe koppe is sewe berge....  Die Dier kan derhalwe “die Dier met die sewe koppe”, genoem word.  Wanneer die Dier so genoem word, gee dit onmiddellik sy identiteit weg.  Onthou, ons het gesê dat die Dier verwys in hierdie geval na ’n heidennasie en hierdie beskrywing in 17:9 sê vir ons wie hierdie heidennasie is, nl. Rome, want Rome staan ook bekend as die “stad op sewe heuwels” (die Palatyn, Kapitolyn, Quirinaal, Esquilyn, Viminaal, Caelianus en Aventyn heuwels - wat later die hoof-stedelike gebied van dié stad gevorm het, maar wat vroeër klein dorpies en plasies was. Hierdie afsonderlike gemeenskappe het geleidelik
tot een gemeenskap saamgegroei, wat die laerliggende gebied langs die Tiber-rivier ingesluit het. Dit is seker dat daar teen 600 v.C. 'n aansienlike dorp bestaan het wat in die Antieke Tyd as Roma bekend was – sien kaart hiernaas[2]).  Daar word egter ook na Rome verwys as Die Dier en is dus verteenwoordigend van die Romeinse owerheid.  Rome was die grootste en sterkste wêreldmag in die tyd wat Johannes hierdie brief geskryf het.  Die koppe verwys na die kollektiewe Rome en individuele konings as verteenwoordigers van politieke Rome.  Ter verduideliking (in kort):  Elke heuwel was op ’n tyd sy eie koninkrykie en het sy eie koning gehad en saam het hulle die groter Rome regeer (uiteraard is dit baie meer ingewikkeld as wat ek hier baie kortliks probeer aandui, maar ons is nie nou besig met ’n politieke- of geskiedenis kursus nie – nie waar nie?).  Ons sal so bietjie later weer kyk na hierdie “koppe”.

       Ons sien dat die eerste Bees, nie net “sewe koppe” gehad het nie, maar ook “tien horings”.  Indien die “sewe koppe”, die sewe konings verteenwoordig het, dan moet die “tien horings” verwys na ander heersers wat ondergeskik was aan die konings (Openb.17:12-13 ~ Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap gekry nie, maar hulle kry saam met die dier een uur lank gesag as konings. 13 Hulle het een en dieselfde doel voor oë, en hulle stel hulle mag en gesag tot die dier se beskikking).  Hoogs waarskynlik verwys hierdie “ondergeskiktes” na die goewerneurs van die tien Romeinse provinsies wat tydens Johannes se skrywe, regeer het (die tien provinsies het heel moontlik uit die volgende lande bestaan: Italië, Egeïese, Asië, Sirië, Egipte, Afrika, Spanje, Brittanje en Duitsland).

       Ons lees verder dat daar op hierdie koppe van die Dier, godslasterlike name geskryf was.  Die “name” was op die koppe en nie die horings geskryf nie, omdat dit die konings was wat as goddelik verklaar was en nie die goewerneurs nie.  En hierdie “name” was waarskynlik die “goddelike” titels wat hierdie konings aan hulleself toegedig het.

       Die Bees wat Johannes dus gesien het, was ’n bose en veragtelike wese, wat ’n bose en veragtelike nasie verteenwoordig het, nl. antieke Rome, wat daarop uit was om God se plek op onregmatige wyse in te neem.

       Johannes gaan in Openb.13:2 voort deur te sê dat hierdie Dier, ...soos ’n luiperd gelyk (het). Sy pote was soos dié van ’n beer en sy bek soos dié van ’n leeu.  Hierdie beskrywing herinner ons dan ook aan die politieke profesie in ons Skriflesing vanoggend (Dan.7:1-8).

       Dit is opmerklik dat “Johannes se Dier”, ’n samestelling is van “Daniël se eerste drie Diere”.  Die eerste Dier wat Daniël dan gesien het, was soos ’n leeu.  Die tweede soos ’n beer en die derde soos ’n luiperd, terwyl die vierde beskryf word as skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk met ystertande (v.7).

       Daniël se visioen kan maklik geïnterpreteer word, wanneer dit vergelyk word met Nebukadneser se droom in Dan.2, asook met wêreldgeskiedenis. U sal onthou dat Nebukadneser gedroom het van ’n groot beeld met ’n kop van goud; ’n bors en arms van silwer; ’n maag en heupe van brons; bene van yster en voete van yster en klei (Dan.2:25-35).  Die interpretasie van die goue kop, was dat dit Babilon verteenwoordig het (Dan.2:36-38) en die res van die beeld word geïnterpreteer as die Mede-en-Perse (silwer), die Grieke (brons) en die Romeine (yster en klei).  Die vier Diere van Dan.7 is net ’n verskillende weergawe van dieselfde koninkryke:  die leeu het die Babiloniërs verteenwoordig; die beer die Mede-en-Perse; die luiperd was die Grieke en die skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk Bees was die Romeine.

       Johannes borduur voort op hierdie visioene wanneer hy hierdie skrikwekkend, vreesaanjaend en baie sterk Bees (wat in sy dag bestaan het) beskryf en hy gaan voort, deur te sê dat hierdie Bees, ’n samestalling en kulminasie (hoogtepunt) van die vorige drie politiek Beeste was wat hierdie huidige een voorafgegaan het. Johannes sien dus hierdie visioen van hom in Openb.13, as ’n vervulling van Daniël se visioen in Dan.7, nl. die finale heidense wêreldmag wat deur die Groot Rooi Draak geïnspireer was, daarom dat hy in Openb.13:2c sê ~ Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee.  Hierdie is dan ook die eenparige slotsom waartoe al wat kommentator is kom (synde Pre-, A-, of Post-millennialis).  Die verskil is dat die Pre-millennialiste (Futuriste) glo dat Johannes hier praat van ’n herrese Romeinse Ryk wat iewers in die verre toekoms gaan herleef (baie glo dat dit nog in ons tyd sal wees), terwyl die res (ons) glo dat Johannes hier praat van die Romeinse Ryk wat in sy tyd bestaan het.  Dit is moeilik om te verstaan hoe die Futuriste kan glo dat daar nog ’n herrese Romeinse Ryk in die toekoms gaan ontstaan, terwyl daar nêrens in die Woord sprake van so ’n toekomstige gebeurtenis gaan wees nie.  Jay E. Adams skryf in p.76-77 van sy boekie “The Time is at Hand” [3], Why, then, speculate that “revived” Rome and Jerusalem will be revived and restored to exactly what they once were, only to fall again precisely as they once did?  Is it not apparent that this is an artificial interpretation invented to circumvent the clear intent of the passage?  That Jerusalem and Rome should fall again exactly as they did in the past is not only improbable, but virtually impossible.  That such a wooden interpretation must be forced upon the book in order to explain away the obvious meaning of the revelation, is by itself a very strong argument for the contemporary view.  Dit is dus duidelik dat Johannes, die Romeinse Ryk in gedagte gehad het toe hy Openbaring geskryf het en daar is geen (en dit is belangrik) aanduiding in die ganse Daniël óf Openbaring wat daarop dui dat die vierde Dier sou sterf en weer op ’n stadium lewend sou word en ’n millennium later sou terugkeer nie, trouens n.a.v. Nebukadneser se droom in Dan.2, sou die vierde koninkryk (die yster-en-klei koninkryk) in die tyd van Christus geregeer het. Jesus Christus (die “klip” wat later ’n “rots” sou word – Dan.2:34) sou daardie koninkryk verwoes en Sy eie vestig (die “klip” wat ’n “groot rots sou word wat die hele aarde sou bedek - Dan.2:35)!

       In kort, die vierde Dier verteenwoordig dus die Romeinse Ryk wat aan bewind was in Johannes se tyd.  Hierdie feit word ondersteun deur ’n boek van Publius Cornelius Tacitus (55n.C. – 120 n.C.) wat oor die geskiedenis van die Romeinse Ryk verslag gelewer het.  Hy noem o.a. in hierdie geskrif dat die Romeinse Ryk vanaf die derde eeu voor Christus, sy invloed laat geld het in Europa, Asië en Afrika.  Wat egter veral van belang is, is dat die verdere datums wat hy noem en spesifiek die beëindiging van die Romeinse Ryk, die tydperk insluit waartydens Johannes, Openbaring geskryf het, asook die feit dat dit die laaste keer was, dat een land, heerskappy sou voer oor die ganse Middellandse See gebied.

       Ons lees in Rom.13:1 ~ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.  Ons weet dat dit God is wat regerings oprig, maar ook tot ’n val bring.  Dit is egter ook God wat “die Dier” toegelaat het om Sy wil ten uitvoer te bring en sodoende word die Dier ’n instrument in God se hand om God se wil uit te voer.  Dit is presies wat dan gebeur het met die eerste eeuse Romeinse Ryk – nie net omdat ons daarvan lees in die Woord nie (v.2 ~ ... Die draak het sy mag, sy troon en groot gesag aan hom gegee), maar ook die geskiedenisboeke oor die Romeinse Ryk dui onteenseglik daarop. 

       As ons dink dat die wêreld vandag pervers is, moet ons die geskiedskrywings oor die destydse Romeinse Ryk gaan lees en dan sal ons sien hoe pervers die Romeinse Ryk werklik was, veral gedurende Nero se tyd, wat natuurlik ook die tyd was waartydens Openbaring geskryf is.  Kindermoord was bv. aan die orde van die dag.  ’n Pa het letterlik oor die mag beskik om sy kind te laat dood maak indien hy bv. ’n seun wou hê en daar ’n dogter gebore is – al het die moeder ook hoe geprotesteer.  Aborsie was aan die orde van die dag.  Immoraliteit en homoseksualisme was alledaags.  Bykans alles en nog meer waaraan ons kan dink, was teenwoordig of gepraktiseer in Nero se tyd.  Hulle kultuur laat ons hedendaagse kultuur soos die “Amish” lyk (’n godsdienstige sekte in die V.S.A. – sien http://en.wikipedia.org/wiki/Amish - ook: http://www.800padutch.com/amish.shtml).  En tog was die Romeinse Ryk uitermate magtig, trouens dié magtigste heidense Ryk tot op datum.  Hierdie beskrywing van die verskriklike Dier met sy sewe koppe en tien horings is dus ’n getroue beskrywing van Rome.

       Johannes het egter iets gesien wat met die Dier gebeur ~ Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was, maar die dodelike wond het genees, en die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan geloop (v.3).  Ons moet daarop let dat dit nie die Dier was wat gewond was nie, maar een van sy koppe.  Die Dier het sewe koppe waarvan een nou dodelik gewond is.  Hierdie verwonde kop sou egter hoegenaamd nie die Dier beïnvloed nie, daarom dat ons sien dat v.3 sê dat die dodelike wond genees het.  Hierdie mag, kan miskien voorkom as nietige detail, maar dit is belangrike inligting ten einde ons in staat te stel om hierdie gedeelte na behore te interpreteer.

       Ons lees in Hebr.7:8 dat drie van die horings van die vierde dier ontwortel is en dat daar ’n ander horinkie uitgekom het. Dit is in ooreenstemming met Openb.13:3 dat ...dit gelyk (het) asof hy (die dier) aan een van sy koppe dodelik gewond wasHierdie beeld pas pragtig in by ons interpretasie tot dusver, nl. dat die Dier, beide Rome en die keiser verteenwoordig.  Nero – een van die sewe koppe – is dood.  Nero is ook gedood met ’n noodlottige wond teen die kop (sy swaard is deur sy keel opgedruk tot in sy brein).  Die profesie het dus beide daaroor gegaan dat die keiser sou sterf met ’n noodlottige wond teen die kop en dat die Romeinse Ryk sou wankel.  Weereens toon die geskiedenis aan dat hierdie profesie en ook ons interpretasie korrek is.

       Net na Nero se selfmoord en tydens die heerskappy van Galba, Otho en Vittellius se heerskappy, het daar chaos geheers in die Ryk – hoofsaaklik a.g.v. die voortdurende wedywering om die leierskap van die Ryk.  Eers toe Vespasianus ingehuldig is as keiser (21 Des. 69 n.C.) is stabiliteit in die Ryk bewerkstellig.  Dit het dus gelyk asof die Dier dodelik gewond is toe Nero selfmoord gepleeg het en die dodelike keiserlikelyn (familielid volg familielid op – ook genoem die Julio-Claudian dinastie) is vir goed afgesny met die dood van Nero. 

       Nadat Vespasianus terug gekeer het na Rome, het genl. Titus bevel oor die magte in Jerusalem geneem en is Jerusalem is 70 n.C. beset en is die stad en die Tempel verwoes. Openb.13:3 sê ook ~ ... maar die dodelike wond het geneesHierdie genesing dui dus onteenseglik op die amperse val van die Romeinse Ryk, met Nero as leier (v.3a ~ Dit het gelyk asof hy aan een van sy koppe dodelik gewond was) en die daaropvolgende herstel van die Ryk o.l.v. Vespasianus.  Die Romeinse Ryk het ’n verdere 350 jaar voortbestaan (tot 410 n.C.)

       Die Romeinse Ryk van Johannes se tyd was dus die politieke Dier van Openbaring.  En die hoof van daardie politieke Dier was ’n “dierlike keiser” met die naam van Nero.  Die Dier is dus nie ’n leier wat nog geïdentifiseer moet word, of wat nog moet kom nie – nee, as ons na die Woord kyk, was dit die Romeinse Ryk o.l.v. keiser Nero en hierdie is dan ook die vervulling van Daniël se se profesie in Daniël 7.

       Nou wie het die drie ander diere in Daniël 7 dan verteenwoordig? Sonder om in dieselfde detail te verval as wat ons so pas gedoen het om Nero en die Romeinse Ryk te identifiseer (en nog in meer detail vantevore in ons reeks oor Openbaring) en soos wat ek netnou reeds genoem het, verwys hierdie drie ander diere na die drie ander groot Ryke van die voor-Babiloniese tydperk waaroor Daniël ook in Dan.2 geprofeteer het, nl. die Babiloniese Ryk (die leeu met arendsvlerke – v.4); die Mede-Persiese Ryk (’n beer met ribbebene in sy bekv.5); die Griekse Ryk (’n luiperd met vier vlerke en –koppe v.6) en dan natuurlik laastens die Romeinse Ryk net voor en net na Jesus se tyd hier op aarde (’n skrikwekkende dier met ystertandev.7).

       Wie of wat is die klein horinkie waarna Daniël in v.8 verwys? Dit is ’n duidelike verwysing na Nero – die drie wat uitgepluk is, was Tiberius, Gaius en Claudius wat vermoor is, sodat plek gemaak kon word vir Nero wat nie in die keiserlike lyn ingesluit was nie – Nero was dan die sesde horinkie die “ander een tussen die ander”.

       In v.11 lees ons hierdie woorde ~ Terwyl ek kyk, is die een dier oor die verwaande gepraat van die horinkie doodgemaak en is sy liggaam vernietig deur dit in die vuur te gooi. Hierdie is ’n verwysing na die omverwerping van die Romeinse Ryk en die selfmoord van Nero.

       Alles in Dan.7:1-8 is dus ’n profesie van dinge wat rondom die tyd van Jesus sou gebeur en Jesus bevestig dan die vervulling van hierdie profesie van Daniël in Luk.21:20-24 wanneer Hy sê ~ Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug, en dié wat in die stad is, daaruit padgee, en dié wat op die plase is, nie na die stad toe gaan nie, want in daardie dae voltrek God sy straf. Alles wat geskrywe staan, word dan bewaarheid. " Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het, want daar sal groot nood in die land heers, en God sal hierdie volk straf. "Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat ook hulle tyd verby is – ’n duidelike verwysing na die val van Jerusalem en die Tempel in 70 n.C.

4.     DIE OORWONNE DIER:
       Ons moet besef dat die eerste eeuse Dier vandag nog net so met ons is – net in ’n ander gedaante en hy is steeds met dieselfde krag en gesag beklee as destyds – alhoewel die oorwinning reeds in Christus oor hom behaal is!  Ons het in v.2 gesien dat die Dier oor krag en gesag beskik het en hierdie krag en gesag het Nero en Rome van Satan ontvang.  Hierdie selfde kragte werk vandag nog mee om die kerk van ons dag te vervolg en in die proses te probeer vernietig.  Gelukkig, soos reeds gesê, het Christus reeds die oorwinning op Golgota behaal.  Ook die geskiedenis wys vir ons dat hierdie magte wat teen die kerk ingespan word, mettertyd verdwyn.  Dink eerstens aan Rome – eens magtige Ryk, toe niks;  dink aan die kommunisme en die “Rooi Bedreiging” van die destydse Rusland (U.S.S.R.) – op ’n tyd het almal gevrees en nou....?  Rome moes egter baie meer bewondering (en vrees) afgedwing het as Rusland en daarom is dit geen wonder dat almal agter Rome aan geloop het nie.  Daar was waarskynlik selfs Christene wat dit gedoen het en daarom was die profesie van Daniël en die boodskap van Openbaring so dringend noodsaaklik vir die kerk om van kennis te neem.

       Hoe kan ’n mens in verwondering staan oor ’n land en agter ’n land aanloop soos v.3 vir ons sê?  Om “agter iets of iemand (of ’n land) aan te loop”, beteken dat jy gehoorsaam is aan daardie land se opdragte.  Die boodskap wat ons hieruit moet neem, is dat die kerk nooit mag ingee aan bose vereistes wat ’n land (se regering) van die kerk verwag nie.  Wanneer ’n regering wegbeweeg van sy Godgegewe mandaat, kan aanvaar word dat so ’n regering in die hand van die Satan speel.  Ons moet altyd onthou dat alle gesag en derhalwe regeringsgesag ook, ’n mandaat is wat God aan so ’n persoon of party verleen en daarom kan politiek goed en sleg wees – dit hang net af van die een wat regeer, of hy dit binne God se mandaat doen of daarbuite.  Salomo stel dit baie raak in Spr.29:2 ~ ’n Volk juig as regverdige mense die mag kry; ’n volk sug as ’n goddelose mens regeer.  Lg. gebeur wanneer ’n regering sy Godgegewe mandaat verwerp en hy ’n despoot of diktator raak (dink aan Gadaffi, Mugabe, e.a.).  Rom.13:1 sê nie verniet ~ Elke mens moet hom onderwerp aan die owerhede wat oor hom gestel is. Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.  Owerhede is daar, deur die beskikking van God.  (Hierdie teksvers impliseer natuurlik nié dat ons, ons ten alle koste en te alle tye aan die regering van die dag moet onderwerp nie.  Wat is die uitsonderings?  Wanneer hul opdragte, wette, ens. lynreg bots met God se opdragte soos opgeteken in Sy Woord.  Ons moet bv. te alle tye by die spoedbeperkings hou, of dit ons pas of nie, maar indien die regering van ons sou verwag om enige kind wat verwek word te laat aborteer as ons bv. reeds twee kinders het, mag ons nie toegee aan so ’n opdrag nie – aborsie = moord.  Iets van lg. is/was waar in Cjina). ’n Goeie Bybelse voorbeeld hiervan is dié van koning Darius in Dan.6, wat opdrag gegee het dat net hy aanbid mag word, waarop Daniël toe ~ ...na sy huis gegaan (het). Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniël voortgegaan om drie maal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank.  Wat was die gevolg van Daniël se weiering om die knie te buig op die koning se “satan geïnspireerde wetgewing”?  Hy is in die leeukuil gegooi – MAAR, en dit is belangrik, God het Daniël se gehoorsaamheid geëer en sy lewe selfs in die leeukuil gespaar!  Hand.5:29 is baie duidelik hieroor ~ ’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense! 

       Die rede waarom daar so dikwels (miskien nog glad nie, of in elk geval tot ’n mindere mate in Suid-Afrika) konflik tussen kerk en staat is, is juis omdat die kerk en die staat, beide wettige sfere van gesag besit, maar konflik vind plaas wanneer die staat die gesagsfeer van die kerk (wat gebaseer is op die Woord van God) binnedring. Die kerk in Johannes se tyd het nodig gehad om hierdie beginsel te verstaan en daarom o.a. die skrywe van Johannes.

       Hoe het die eerste eeuse kerk die Dier oorkom?  Hoe kan ons die hedendaagse Dier(e) oorkom?
ü  Openb.12:11 ~ Hulle het self die oorwinning oor hom behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie.  Die eerste eeuse kerk het die bose deur die Evangelie oorwin.
ü    Tweedens word die bose oorwin deur geregtigheid.  Ons is die sout wat in die vleis ingevryf moet word.   Ons is die lig wat in ’n duister wêreld moet brand.  Slegs as ons, ons verantwoordelikheid nakom om die waarheid uit te dra én daarvolgens te leef, sal ons oorwinning verkry.
ü    In derde plek word die Dier oorkom, deur uit te reik na ’n verloregaande wêreld en dissipels van alle nasies te maak.
ü  Laastens kan ons die oorwinning behaal deur kinders op te voed wat God eer en dien.  En namate ons kinders voortgaan om te doen wat ons gedoen het, sal die geslagte wat kom ook in oorwinning leef.

       In kort:  In plaas daarvan dat die kerk (ons) vir bevryding soek, moet ons in oorwinning leef en dit dryf die gelowige uiteraard na sy knieë in gebed.

5.     AFSLUITING:
       Ons as gelowiges moet bemoedig wees, want God sál die onreg wreek wat teen Sy kinders gepleeg word.  Ons hoef nie wraak te neem nie, want God sal dit vir ons doen.  Ons moet verder ook moed hou en verseker weet dat God ons huidige (en toekomstige) “Diere” uiteindelik op hul knieë sál dwing en vernietig, tewens Hy het reeds die oorwinning deur Jesus Christus se kruisiging en opstanding behaal en dit sal uiteindelik ook vir ons in volle vervulling kom.

       Wanneer dinge in ons wêreld heeltemal buite beheer lyk (dink jou in die posisie van die Europeërs gedurende W.O.II, met Hitler wat elke land op aarde wou inpalm), moet ons besef dat ons soewereine God in volkome beheer is.  As God in beheer was tydens Nero die Tiran se oorheersing, is hy vandag net so in beheer – Hy is steeds besig om alles haarfyn uit te werk tot Sy eer!  Die kerk het die “Dier” oorleef en daarom kan ons verseker daarvan wees, dat die kerk, met God se genade, vandag en môre ook sal oorleef.  Ja, ons weet dat die satan soos ’n brullende leeu rondloop om ons te verskeur (1Pet.5:8) en ons sal en word in ons dag steeds vervolg deur allerlei “beeste”, maar ons moet altyd die woorde van Jesus in gedagte hou ~ ...Ek (sal) my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matt.16:18).


[1]Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 01 Desember 2013
[3]ADAMS, Jay E. 2000.  The Time is at Hand.  Woodruff, SC : Timeless Texts.  132p. (ISBN: 1-889032-24-7)