Thursday, August 12, 2010

Boodskap deur Kobus van der Walt (08 Augustus 2010)

Geduld en God se Doel met ons Lewe [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit

1. INLEIDING:

Ons het verlede Sondagaand gepraat oor die feit dat baie gelowiges getrou en in geloof vir hul kinders se bekering bid en dat baie van hulle nooit die vrug van daardie gebede ervaar nie, omdat van hierdie kinders eers ná hulle dood tot bekering kom.

Daar is baie soortgelyke voorbeelde waarvan ons al gehoor het – voorbeelde van gelowiges wat allerlei vorme van toetse en beproewing in hul lewe ervaar het en omdat hulle getrou op die Here gewag het, het hulle dan ook uiteindelik God se vrug op hul geloof en geduld ervaar.

Een so ’n verhaal is dié van ’n man met die naam Samba. Op ’n dag in 1939 het Samba tot bekering gekom onder die bediening van ’n Ierse sendeling genaamd Charles Bennington, wat in Bo-Volta onder die Birifor-stam gewerk het. Samba was die enigste bekeerling onder die stamlede en het geweldige vervolging ervaar. Hy het egter een brandende passie gehad en dit was dat die Here vir Hom iemand sou stuur om hom te leer, sodat hy eerstens meer van die Evangelie kon leer, maar ook kon leer hoe om die Evangelie onder sy stamlede te verkondig. Sestien jaar later het ’n ander sendeling by name Ian Rees op antwoord van Samba se gebed in die stat opgedaag waar Samba gebly het. Later sou Rees uitvind, dat hy sy roeping na Bo-Volta gedurende dieselfde tyd gekry het, toe Samba vir die Here begin vra het vir iemand om hom te kom leer. Vir sestien jaar het Samba geduldig gebid en gewag op die Here!

Ons vind ook talle soortgelyke verhale van gebed en geduld, in die Woord van God. Een so ’n verhaal is bv. dié van Josef in Gen.37-50 – kom ons lees daarvan en ons gaan na verskeie Skrifgedeeltes kyk.

2. SKRIFLESING:

Gen.37:1-28 ~ Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het. 2 Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob. Josef was nog jonk, sewentien, toe hy kleinvee opgepas het saam met sy broers, die seuns van Bilha en Silpa, sy pa se vrouens. Josef het slegte stories oor sy broers by hulle pa aangedra. 3 Van al sy seuns was Israel die liefste vir Josef, die seun wat in sy ouderdom gebore is, en daarom het hy vir Josef lang klere met moue gemaak. 4 Toe sy broers sien dat hulle pa vir Josef liewer het as vir enige van hulle, het hulle ’n afkeer van Josef gekry en het hulle niks goeds oor hom gesê nie. 5 Op ’n keer het Josef gedroom en dit vir sy broers vertel. Daarna was hulle afkeer van hom nog groter. 6 Hy het vir hulle gesê: “Luister na die droom wat ek gehad het. Ons was op die land besig om gerwe te bind 7 en skielik gaan staan my gerf regop en julle gerwe gaan staan daar rondom en hulle buig voor myne.” 8 Toe sê sy broers vir hom: “Jy verbeel jou jy sal oor ons koning word. Dink jy dalk jy sal oor ons regeer?” Oor sy drome en sy praatjies het hulle ’n nog groter afkeer van hom gekry. 9 Hy het ook nog ’n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.” 10 Toe hy dit vir sy pa en sy broers vertel, het sy pa hom berispe en vir hom gesê: “Wat vir ’n soort droom is dit wat jy gehad het? Verbeel jy jou ek en jou ma en jou broers moet voor jou kom buig?” 11 Sy broers was afgunstig op hom, en sy pa het aan die droom bly dink. 12 Josef se broers het hulle pa se kleinvee gaan oppas in Sigem. 13 Toe sê Israel vir Josef: “Kyk, jou broers pas die kleinvee op in Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.” Josef het geantwoord: “Goed, Pa!” 14 Toe sê Israel vir hom: “Gaan kyk of alles nog reg is by jou broers en met die kleinvee en kom vertel my alles.” Israel het hom van die laagte by Hebron af gestuur na Sigem toe. 15 Hy het daar in die veld rondgesoek, en toe kom ’n man by hom en dié vra vir hom: “Wat soek jy?” 16 Josef antwoord hom: “Ek soek my broers. Kan jy my dalk sê waar hulle die kleinvee oppas?” 17 Toe sê die man: “Hulle het van hier af versit. Ek het gehoor hulle sê hulle wil na Dotan toe gaan.” Josef is toe agter sy broers aan en hy het hulle by Dotan gekry. 18 Hulle het hom al van ver af gesien en voor hy by hulle gekom het, het hulle ooreengekom om hom dood te maak. 19 Hulle het naamlik vir mekaar gesê: “Kyk, daar kom die ou dromer aan. 20 Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n put. Ons kan sê ’n roofdier het hom opgevreet. Dan sal ons sien wat word van sy drome.” 21 Ruben het hulle hoor praat en omdat hy vir Josef wou red, het Ruben gesê: “Nee, ons moet hom nie doodmaak nie. 22 Moenie moord pleeg nie. Gooi hom liewer in hierdie put hier in die veld. Moenie sy lewe neem nie.” Ruben het dit gesê sodat hy vir Josef kon red en hom na sy pa toe kon terugstuur. 23 Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, 24 en vat hom en gooi hom in die put. Dit was ’n droë put, sonder water. 25 Daarna het hulle gaan sit en eet, en toe hulle weer sien, kom daar ’n klomp Ismaelitiese handelaars uit Gilead aan. Hulle was op pad na Egipte toe en op hulle kamele was daar gom, balsem en hars gelaai. 26 Toe sê Juda vir sy broers: “Watter nut het dit vir ons om ons broer dood te maak en dit dig te hou? 27 Kom ons verkoop hom aan die Ismaeliete. Ons moenie sy lewe neem nie, hy is ons broer, hy is bloedfamilie.” Juda se broers het na hom geluister, 28 en toe daar van die Midianitiese handelaars verbykom, het die broers vir Josef uit die put uit opgetrek en vir twintig stukke silwer aan die Ismaeliete verkoop en dié het hom Egipte toe gevat.

Gen.39:1-4 ~ Josef is na Egipte toe gebring. Potifar, ’n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, ’n Egiptenaar van geboorte, het vir Josef by die Ismaeliete gekoop wat hom Egipte toe gevat het. 2 Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom. Hy het in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar, gebly. 3 Toe Potifar, Josef se eienaar, sien dat die Here by Josef is en dat die Here alles wat Josef aanpak, laat slaag, 4 was Potifar hom goedgesind. Hy het Potifar se persoonlike slaaf geword en Potifar het hom aangestel oor sy hele huishouding, en al sy besittings is onder Josef se sorg geplaas.

Gen.42:1-3 ~ Toe Jakob verneem dat daar graan in Egipte is, sê hy vir sy seuns: “Waarom sit julle vir mekaar en kyk?” 2 Hy het verder vir hulle gesê: “Ek het gehoor daar is graan in Egipte. Gaan soontoe en koop daar vir ons koring dat ons aan die lewe kan bly, anders sterf ons.” 3 Tien broers van Josef is toe weg na Egipte toe om koring te gaan koop.

Gen.42:6 ~ Josef was in beheer van Egipte en hy het self die graan aan die mense verkoop. Sy broers het dus na hom toe gegaan en diep voor hom gebuig.

Jak.5:7-11 ~ Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. 8 Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. 9 Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur. 10 Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld. 11 Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.

3. GEDULD:

Ek wil graag vanoggend met julle deel oor geduld en God se doel en wil in ons lewe. Om ongeduldig te wees is ’n vorm van ongeloof. Dit is wat ons begin ervaar wanneer ons twyfel oor die wysheid van God se tydsberekening of God se leiding wanneer ons daarom vra en Hy anders lei as wat ons dit graag sou wou hê. Die teenoorgestelde van ongeduld is egter ’n volwasse gewilligheid om geduldig op God te wag en Sy tydsberekening en uitkoms een honderd persent te aanvaar en jou daaraan te onderwerp. Die sleutel is dus geloof in die genade wat God iewers in die toekoms en wel op Sy tyd, oor ons gaan uitstort – al is dit ook eers ná ons dood.

Geduld is dus die vermoë om geduldig te wag sonder om te murmureer en ontnugter te raak. Sulke geduld is geloof – of sal ons sê: Geloof is gelykstaande aan geduld. John Piper praat van “our hope in future grace”. Hierdie geduld is ook niks anders as ’n innerlike krag waaroor ons moet beskik. Dit is dan ook presies hierdie innerlike krag en hoop op toekomstige genade wat die Apostels gedra het in tye van vervolging en swaarkry – dink aan Paulus se woorde in 2Kor.4:16-18 ~ Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17 Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. Die apostels het oor ’n innerlike krag van geduld beskik.

Ons moet egter in gedagte hou, dat hierdie geduld en geloof en innerlike krag net van God kom – ons kan dit nie in onsself opklits nie. Dit is presies ook waarvoor Paulus gevra het, toe hy vir die gemeente in Kolosse gebid en gesê het ~ Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard (Kol.1:11). As ons dit in gedagte hou kan ons ook die een vrug van die Gees nl. geduld, beter verstaan (Gal.5:22). Ek het vir baie jare gedink dat hierdie geduld wat ’n vrug van die Gees is, verwys na geduld wat ek aan die dag moet lê in troebel verhoudings met ander mense – dit sekerlik ook ja, maar dit gaan eerder oor hierdie geduld waarvoor Paulus vra wanneer hy vir die gemeente in Kolosse bid – geduld om op God te wag in die uitwerking van Sy doel met ons lewe.

Ons moet leer om geloof in God se krag en wysheid te hê en dat Hy ons as Sy kinders wil seën. Hierdie beloftes van seën vir God se kinders, vind ons op verskeie plekke in Sy Woord. So kan ons bv. na 2Kron.16:9 kyk ~ Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Jes.64:4 ~ Van ouds af het niemand so iets gehoor nie, het niemand so iets verneem nie, het geen oog ’n god gesien wat vir dié wat op hom vertrou, doen wat U doen nie. Ons moet leer om God te vertrou hiervoor en dat ons geduldig moet wag op die vervulling van hierdie beloftes en enige ander versoek wat ons volgens God se wil van Hom gevra het.

Ons het netnou gelees van Josef en een van die belangrikste lesse wat ons moet leer uit die verhaal van Josef, is dat ons geloof in die soewereine God moet hê. Wanneer ons Josef se verhaal lees kan ons maklik dink dat sy lewe buite beheer was. Hy word in ’n put gegooi en vir dood agtergelaat. Hy word as slaaf verkoop en word weggevoer na Egipte. Hy beland in die tronk nadat die Farao se vrou (Potifar) hom valslik beskuldig van teistering en so kan ons aangaan. Maar, aan die begin van Gen.37 (nog voor hy weggevoer word as slaaf) openbaar God Homself aan Josef in ’n paar drome en sien Josef o.a. dat sy broers nog voor hom gaan kniel. Josef het hierdie drome aan sy familie vertel en waarskynlik het hierdie drome sy broers se haat teenoor hom aangeblaas.

Hierdie drome het egter van God gekom en alhoewel God nie detail aan Josef gegee het oor hoe alles gaan verloop nie, het hierdie beloftes vir Josef uitgestaan soos bakenligte vir ’n vliegtuig wat inkom om te land. En Josef het hieraan vasgehou regdeur sy lewe – van die oomblik dat hy in die put gegooi is en regdeur sy beproewing in Egipte.

Aan die einde van die verhaal kyk Josef terug en gee hy eer aan God, omdat hy toe kon sien dat die soewereine God al die tyd met hom was en alles ten goede laat meewerk het ~ Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het (Gen.50:20). Trouens, Josef het nie net gesien dat sy broers voor hom sou kniel nie, maar dat God selfs nog ’n groter plan gehad het met sy lewe in Egipte, nl. dat hy lewe (in die vorm van kos) aan sy familie kon skenk, wat gebuk gegaan het onder hongersnood en ’n naderende hongerdood.

Daar was egter nog ’n doel met Josef se beproewing waarvan hy waarskynlik eers ná sy dood van kennis geneem het en dit is dat hy as losser vir sy familie opgetree het en dit het van hom ’n tipe van Christus gemaak, want dit was ’n heerlike en duidelike heenwysing na Jesus die Christus wat eeue later sou kom om as Verlosser aan die kruis op Golgota te sterf ten einde “sy broers” (elkeen wat deur God uitverkies is) te verlos van ’n ewige, geestelike dood.

Josef het vasgehou aan God se beloftes en nou na al sy beproewing en swaarkry kan hy sien dat God hom nooit alleen gelaat het nie, maar dat God die heeltyd, wonderlik in beheer was en selfs die swaarste en slegste momente van Josef se lewe gebruik het, sodat God hom op die ou einde kon seën en dat alles ten goede en tot eer van God, kon uitwerk.

Josef se lewenspad het alles behalwe ’n reguit en sorgvrye roete geneem (sy lewenspad kon nie met ’n tolpad vergelyk word nie, maar eerder met die Sanipas), maar dit maak nie saak hoe sleg dit met ons gaan, of hoe graag ons ook al bepaalde omstandighede dalk anders wil hê nie (die bekering van ’n verlore seun dalk?). Die les wat ons uit Josef se lewe moet neem, is dat ons deurentyd moet vashou aan God se beloftes in Sy Woord en glo dat God Sy soewereine wil ten uitvoer sál bring, ten spyte van oponthoude, of oënskynlike doodloopstrate, of teenstand, of geleenthede waar ons planne in die wiele gery word,. Die sleutel is geduld.

Ons kyk so dikwels net vas teen die eindpunt, of einddoel van ons gebed en vergeet ons van Josef se verhaal – Voor ons “eerste minister van Egipte kan word”, of voor God se beloftes vir en Sy doel met ons lewe in vervulling kan kom, moet of kan ons ook eers deur ’n “put en ’n Egipte en vals beskuldigings en die tronk” gaan. Ons moet eerder in geloof en met blymoedigheid deur hierdie ander “putte en tronke” in ons lewe gaan en sodoende “saamwerk” met God, ten einde in oorwinning en in blymoedigheid aan die einde te kom en God se wil in vervulling sien kom. So dikwels sien ons die einddoel en vergeet ons baie gou daarvan en staar ons, ons blind teen die “putte en tronke in ons lewe.”

Ons het voorverlede week gesien hoe dat God in Sy soewereine genade en op ’n tyd wat die Israeliete dit glad nie verwag het nie, hulle terug geneem het na hul Beloofde Land, nadat God, menslik gesproke, uit die bloute vir koning Peres, deur Sy Gees aangevuur het om ’n Tempel vir God in Juda te laat bou. Die belofte hieroor is reeds vroeër deur die profeet Jeremia gemaak (Jer.25). Die einddoel was dus die terugkeer na Juda en die herbou van die Tempel, maar tussen Jeremia se profesie en die realisering van hierdie profesie het die volk swaar gekry terwyl hulle in ballingskap verkeer het en in die tussentyd het hulle glad nie in geloof en met blymoedigheid hul lot aanvaar en “saam met God gewerk” terwyl hulle die einddoel (die profesie van Jeremia) in gedagte gehou het nie.

U ken die verhaal van Charles Simeon wat predikant was in die Church of Engeland in Cambridge tussen 1782 en 1836. Hy was teen die wil van die lidmate deur ’n biskop as predikant in hierdie gemeente aangestel – nie omdat Simeon ’n swak prediker was nie, maar omdat hy ’n Evangeliese prediker was – hy het in die Woord geglo en het mense opgeroep tot bekering en heilige lewens en ook wêreld evangelisasie. Vir twaalf jaar het lidmate hul sitplekke toegesluit en nie kerk toe gekom nie (destyds het mense hul sitplekke gekoop en daar was deurtjies voor die ry sitplekke wat aan hulle behoort het). Simeon het die eerste twaalf jaar van sy bediening dus gebuk gegaan onder fel vervolging en teenstand. Simeon het egter voortgegaan en getrou en met groot geduld die Woord Sondag na Sondag verkondig aan ’n handjie vol mense wat in die rye gestaan en luister het. Dit word ook vertel dat van die lidmate wat sy dienste geboikot het, hom met eiers gegooi het as hy na die erediens uit die kerk gestap het! Hoe het hy dit reggekry om te volhard en soveel geduld aan die dag te lê? Simeon het die einddoel in gedagte gehou en “saam met God gewerk”, deurdat hy gedurende hierdie twaalf jaar die Woord getrou verkondig het aan dié wat wou hoor. Hoor wat sê hy van daardie tyd in sy lewe: “In this state of things I saw no remedy but faith and patience (let op hoe dat hy geloof en geduld hier met mekaar verbind). The passage of Scripture that subdued and controlled my mind was this, ‘The servant of the Lord must not strive.’ It was painful indeed to see the church, with the exception of the aisles, almost forsaken; but I thought that if God would only give a double blessing to the congregation that did attend, there would on the whole be as much good done as if the congregation were doubled and the blessing limited to only half the amount. This comforted me many, many times, when without such reflection, I should have sunk under my burden”.

Waar het Simeon die versekering gekry dat indien hy die weg van geduld navolg, daar ’n seën op sy werk vir hom wag en dat dit sou vergoed vir al die frustrasie wat hy op daardie stadium (vir 12 jaar) ervaar het? Hy het dit uit die Woord van God gekry – uit gedeeltes soos bv. Jes.30:18 wat sê ~ Welgeluksalig (of geseënd) (is) almal wat op Hom wag! (O.A.V.). Die rede waarom Simeon so kon optree, was omdat hy homself daarin geskool het om die beloftes in die Woord sy eie te maak en daarvolgens te lewe. Hy het geleer om die Swaard van die Gees te gebruik om ook ongeloof en ongeduld en pyn en frustrasie te beveg, maar hy het sy werk gedoen soos wat die Here dit van hom verwag het en vir 12 jaar geduldig gewag op die Here om Sy doel met die gemeente en sy persoonlike bediening aan die Here te bereik – hy het nie moed opgegee nie. Saam met die Psalmis het hy gesê ~ Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord (Ps.130:5). En Klaag.3:25-26 ~ Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; 26 dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.

4. GOD SE TYD EN SY WERKSWYSE:

Ons moet altyd in gedagte hou dat God se tyd, nie ons tyd is nie. Wanneer die uitkoms van ons gebede en visie nie gou genoeg vervul word nie, dink ons dat God ons óf nie gehoor het nie, óf dat hy nie betrokke is nie, óf die wyse waarop Hy te werk gaan is nie vir ons die regte manier nie. Ons moet egter moed hou en nie alleen voel nie, want keer op keer hoor ons in die Woord, uitroepe soos dié in Ps.13:2 ~ Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk?, of Ps.79:5 nl. ~ Hoe lank sal dit nog aanhou, Here?

Iemand het eenkeer gesê dat ons baie dikwels wil hê dat God volgens ’n horlosie moet werk, terwyl Hy besluit het om volgens ’n kalender te werk. Vir Simeon het dit 12 jaar geneem. Abraham het in Gen.15 ’n belofte van ’n nageslag ontvang en dit het nagenoeg 25 jaar geneem voor Isak uiteindelik vir hom en Sara gebore is. Abraham het al moed opgegee, want tussen die belofte en die geboorte was daar baie “stil-jare” aan God se kant.

Ons moet rekening hou met God se tydsberekening, maar ons moet egter nog iets in gedagte hou en dit is dat God op Sý manier werk en nié volgens ons vooropgestelde idees en werkwyses nie. Josef het geweet dat sy broers in die toekoms erkenning aan hom sou gee en voor sou hom buig, maar hy het nie in sy wildste drome kon dink dat dit so lank sou neem voor dit gebeur nie en nog minder sou hy kon dink dat hy die pad só sou moes loop soos dié waarop die Here God hom gelei het – deur ’n put en ’n tronk na Egipte toe. God se tyd en God se werkswyse is nie ons tyd en ons werkswyse nie.

5. AFSLUITING:

Ons moet besef en ook altyd in gedagte hou, dat God geen verduideliking aan ons verskuldig is t.o.v. hoe lank Hy neem om Sy doel met ons lewens te bereik nie en ook is Hy geen verduideliking aan ons verskuldig oor hoe Hy te werk gaan om hierdie doel of doelwitte te bereik nie.

Mag ons die Hebreërskrywer se woorde in Hebr.6:12 en 15 ons eie maak en daaraan vashou ~ Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.  15 En so het Abraham dan, nadat hy geduldig gewag het, gekry wat aan hom beloof is.

God die Vader het Sy Seun Jesus Christus geroep om, in die oë van die mensdom, ’n oënskynlike rampspoedige sending na die wêreld te onderneem. Jesus het Sy dissipels geroep net om Hom ’n paar jaar later aan ’n kruis te sien sterf. Jesus se ganse sending en aardse lewe het vanuit die mens se oogpunt na ’n mislukking gelyk, maar God se doel met Jesus se sending was nié die mens se doel nie. Die Jode wou ’n aardse koning gehad het om hulle te verlos van die Romeinse onderdrukking, maar God het ’n gans ander doel in gedagte gehad – Hy wou Sy verlore, maar uitverkore kinders kom red deur Sy Seun as volmaakte offerande te stuur en sodoende versoening vir ons te bewerkstellig.

Die toets wat vir ons as gelowiges aangelê word, is om te glo dat God presies weet wat Sy doel met ons lewens is en dat ons derhalwe geduldig sal wag op die uitkoms van hierdie betrokkenheid van Hom by ons lewens – al vind die vervulling hiervan ook eers na ons dood plaas. Ons moet egter net onthou dat geduld nie ’n passiewe “agteroor sit” is nie, maar volgehoue en geduldige vertroue, gebed, “samewerking met God” en om te doen waartoe ons geroep is.

Afsluitingseën:

Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is ’n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou. 19 Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor (Jes.30:18-19).



[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 08 Augustus 2010