Die Brief aan die Efesiërs - 11 (Christus se geskenk aan Sy Bruid) [1]
Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.
1. SKRIFLESING:
Ef.4:7-13 ~ Aan elkeen van ons is ’n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. 8 Daarom sê die Skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.” 9 Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. 10 Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. 11 En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12 Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus.
2. INLEIDING:
Die hart van die Evangelie is nié wat die mens moet dóén vir God nie, maar wat Hý vir die mens gedoen het. Net soos die Ou Testament, bevat die Nuwe Testament baie opdragte en vereistes wat ons as mense moet nakom en waaraan ons moet voldoen. Maar so belangrik as wat hierdie opdragte en vereistes ook al mag wees, is dít nie die hart van die Evangelie nie. Dit is slegs dinge wat ons geroep word om te doen, ten einde eer aan God te bring in ruil vir wat Hy vir ons, deur Sy Seun, Jesus Christus gedoen het. ’n Ieder en elk van die Nuwe Testamentiese boeke leer vir ons wat Christus vir ons gedoen het en elke Nuwe Testamentiese opdrag, of verwagting of waarskuwing, is op hierdie fondasie gebou, nl. wat Christus Jesus vir ons gedoen het.
Die mees uitnemende geskenk wat God vir ons gegee het, is Sy genade en ons reaksie daarop moet wees, dat ons uit dankbaarheid Hom wíl gehoorsaam – daarom dat Ef.2:10 sê ~ God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.
Ons reaksie op hierdie genadegeskenk is, soos wat ons dan verlede week ook gesien het, ’n waardige lewenswandel en hierdie waardige lewenswandel word vir ons moontlik gemaak deur die genadegawes wat elke gelowige ontvang het – vers 7 ~ Aan elkeen van ons is ’n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het.
Ons sien dan in ons gelese gedeelte dat Paulus drie sake hier aansny:
· Paulus verseker ons dat elke gelowige bepaalde gawes ontvang het.
· Hy beskryf vir ons sommige van die spesiaal geseënde persone deur wie die kerk geseën word.
· En Paulus verduidelik ook aan ons hoe Christus die reg bekom het om hierdie gawes aan Sy Bruid uit te deel.
3. CHRISTUS SE GAWES AAN INDIVIDUE:
Baie teoloë beskou hierdie gedeelte as die hart van die Efesiërbrief, omdat dit vir ons verduidelik hoe die kerk van die Here Jesus moet funksioneer. Ons sien dan in vers 7 (en dit staan in geen onduidelike taal daar), dat ’n ieder en elke gelowige ’n genadegawe van Christus ontvang het – m.a.w. nie nét vir die ouderlinge van die gemeente nie. En let daarop – dit is nie ’n gawe wat ons ontwikkel nie; dit is nie ’n gawe wat ons gevra het nie. Nee, dit is ’n gawe wat aan ons uit genade geskenk word – Christus gee dit vir ons.
Dit is verder ook belangrik om daarop te let dat hierdie woord “genadegawe” in die enkelvoud geskryf is – elkeen het dus ’n baie spesifieke gawe ontvang om die gemeente mee te dien. Dit is so jammer dat die kerk oor die algemeen, hierdie roeping versaak het en dat die kerk oor die jare heen, ontwikkel het in ’n gemeenskap waar daar baie duidelike skeiding tussen die leierskap van ’n gemeente en die “gewone” lidmaat aan die anderkant, ontwikkel het. Die gedagte wat Paulus vir ons hier deurgee, is juis die teenoorgestelde, nl. dat beide die leierskap van die gemeente, sowel as elke gemeentelid besondere gawes ontvang het om die gemeente mee te dien en op te bou, sodat elkeen oor ’n waardige lewenswandel mag beskik.
As ons dan sê dat dit Christus is wat hierdie genadegawes aan ons skenk, dan impliseer dit tog ook dat ons hierdie gawe moet aanwend vir die doel waarvoor dit gegee is, naamlik in diens van die gemeente en die opbou van die kerk. Hierdie genadegawe word dus nie gegee om vir persoonlike gewin aangewend te word nie.
4. CHRISTUS SE REG OM GAWES UIT TE DEEL:
Paulus sê dan vir ons in verse 8-10, dat al die gawes wat aan die Kerk en derhalwe aan gelowiges gegee word, een en dieselfde oorsprong het. Paulus gaan leen ’n gedeelte uit Ps.68 en spesifiek vers 18, as ’n vergelykende teksvers om aan ons te toon hoe en op grond waarvan Christus die reg bekom het om die gawes aan die Kerk uit te deel ~ Die skitterende strydwaens van God was duisende, duisende der duisende, toe die Here van Sinai af die heiligdom betree het. Ps.68 is ’n oorwinningslied wat deur Dawid geskryf is ten einde God te verheerlik na Sy oorwinning oor die Jebusiete en hy die gevange soldate in die strate laat paradeer en hy geskenke van die mense ontvang het. Met Paulus se toepassing van hierdie gedeelte, verander hy die “ontvang” na “gee”. Die triomfantlike en verrese Christus, wat teruggekeer het van die aarde af na ’n geveg hier op aarde, skenk dan op dieselfde wyse, Sy Geskenk aan die Kerk, nl. die Heilige Gees en al Sy gawes (Hand.1:4).
5. ’N VERSKEIDENHEID VAN GAWES:
Paulus voorsien in vers 11 aan ons ’n lys van gawes wat aan die Kerk gegee word. Hierdie lys wat ons hier in Ef.4 sien, is maar net ’n deel van die gawes wat deur Christus aan Sy Bruid geskenk word (ook genoem – “gawes van die Gees”). Hierdie gawes word in vier verskillende gedeeltes van die Nuwe Testament vermeld en in een van daardie hoofstukke, op twee plekke – daar bestaan dus in geheel, vyf lyste, nl. 1Kor.12:8-10; 28-30; Rom.12:6-8; Ef.4:11 en 1Pet.4:11. Verskillende gawes word in hierdie lyste beklemtoon. 1Pet.4:11 bevat bv. net twee gawes, nl. prediking en diensbaarheid. Die twee lyste in 1Kor.12 is weer die langste en elkeen bevat 9 gawes. Wanneer ons na al vyf hierdie lyste kyk, sien ons dat daar ongeveer 19 tot 20 gawes aan die kerk geskenk is.
Hier in Efesiërs meld Paulus 5 van hierdie gawes, nl.: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars (v.11b).
· Die eerste dan is dié van apostels en profete. Hierdie twee gawes bestaan nie meer in ons dae nie, omdat die definisie vir ’n apostel vir ons daarop dui, dat dit iemand moet wees wat ’n ooggetuie van Jesus was en wat opdrag van Jesus ontvang het om gemeentes te plant en ook wat d.m.v. baie spesiale openbaring, die Woord van God ontvang het, met die opdrag om dit neer te skryf en wat dan uiteindelik ons Nuwe Testament geword het (soos die geval met die Ou Testamentiese profete). Daar is wel uitsonderings (bv. dié van Agabus in Hand.21:10-11), maar dit was enkelinge wat opgetree het, terwyl die Nuwe Testament geskryf is.
In die lig hiervan, bestaan en funksioneer nie een van hierdie gawes meer vandag nie, alhoewel die kerk van ons dag, steeds geseën word deur hierdie gawes in die vorm van die Woord van God.
· Tweedens word Evangeliste genoem. Anders as Profete en Apostels, het hierdie gawe nie ophou bestaan nie. ’n Evangelis is iemand wat ’n besonderse gawe ontvang het om die Evangelie van verlossing van sonde deur Jesus Christus, aan mense te verkondig. Hierdie gawe impliseer nié dat mense wat nie oor hierdie gawe beskik, vrygestel word daarvan om die Evangelie te verkondig nie. Ons het almal die opdrag ontvang, toe Jesus in Matt.28 aan ons die Groot Opdrag gegee het.
Dit is interessant om te sien dat daar in die ganse Bybel slegs van een persoon gepraat word as ’n Evangelis en dit was Filippus (Hand.21:8) en volgens Hand.6:5 was hy ’n diaken – die implikasie daarvan is dat Evangeliste dus nie buitengewone mense is nie, maar alledaagse gelowiges wat besonderlik geseën is met hierdie gawe. Ek sou reken dat die gawe wat ’n Evangelis ontvang, die vermoë is om die Evangelieboodskap op ’n eenvoudige, konfronterende en verstaanbare wyse aan mense oor te dra, sonder vrees of selfbewustheid.
· In die derde plek word hier in ons Skrifgedeelte gepraat
van die gawe van Herders en Leraars. As ons hier na die Griekse frasering kyk, sien ons dat herderskap, of pastorskap en dié van leraar, in een groep of as een gawe geplaas word en dat ’n mens dus eintlik van Herder/Leraar moet praat.
Die woord Pastor verwys na iemand wat pastorale oorsig oor iemand het en dít weer, is gebaseer op die hele gedagte van Joh.10:11 waar Jesus na Homself verwys as die Goeie Herder en Heb.13:20 praat van Jesus as die Groot Herder en 1Pet.5:4 verwys na Jesus as die Opperherder.
Soos in die geval van Evangeliste is daar baie gelowiges, wat nie “geordende predikante” is nie, wat hierdie gawe van Herder/leraar ontvang het. So sien ons bv. dat Herderskap die gawe is waaroor Ouderlinge, sowel as Diakens behoort te beskik, indien lg. se pligte, herderskap of geestelike oorsig, insluit. Die gawe van herderskap is egter ook ’n uitnemende gawe waaroor, bv. iemand wat met kinders werk, moet beskik.
Die woord “Leraar” is selfverklarend. Hierdie gawe is ’n baie belangrike gawe en ’n gawe wat waarskynlik in ons dag, die noodsaaklikste in die gemeente is. Ons sien ook die belangrikheid van hierdie gawe in die Groot Opdrag in Matt.28:19-20a gesê het ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Dit is dus duidelik dat diegene wat tot geloof in Jesus Christus gebring word, primêr d.m.v. lering die pad van dissipelskap geleer moet word.
Ons moet ook verstaan dat ’n duisend gelowiges met die gawe van lering, nie almal die selfde mate of graad of ontwikkeling van hierdie gawe het nie. Die een kan ’n uitsonderlike eksegetiese prediker wees wat die Woord in die fynste besonderheid kan uitlê en verklaar, ens. ’n Ander weer kan dit op ’n baie eenvoudiger wyse doen, maar bv. baie meer prakties wees in die toepassing van die boodskap. Andere weer se “leringsgawe” is weer meer geskik vir die leer van kinders, of vrouens, of jongmense. Ons kan nie hierdie gawe, en daarom ook al die ander gawes in “boksies” plaas en mense met dieselfde maatstok meet nie – God roep iemand met die gawe van lering vir ’n bepaalde taak, op ’n bepaalde plek, vir bepaalde mense en ook vir ’n spesifieke tyd of seisoen in die lewe van bv. ’n gemeente.
Elke gelowige wat hierdie gawe (en die ander) ontvang het, ontvang daarmee saam die nodige genade en geloof om hierdie gawe uit te leef en toe te pas volgens God se wil en plan. Hiermee saam gebruik God ook nog die begenadigde se persoonlikheid en ervaring en agtergrond en akademiese geskooldheid en ervaringe wat hy in sy lewe deurgemaak het, ens. en daarom is elke gelowige wat begenadig is met die gawe van Herder/Leraar, ’n unieke persoon wat geroep is deur God vir ’n baie spesifieke taak en tyd.
Ook is dit belangrik om daarop te let, dat iemand met ’n uitsonderlike gawe van bv. administrasie, ook ’n mindere gawe van lering kan hê, of andersom. John MacArthur het op ’n keer gesê ~ Believers’ gifts are like snowflakes and fingerprints – each one is completely distinct from all others. Some teachers may emphasize knowledge, some instruction, some mercy, and others exhortation. From the palette of gift colours the Holy Spirit uses the brush of His sovereign design to paint the mixture of each believer so that no two are like. Gelowiges is nie identiese artikels wat in ’n fabriek vervaardig word nie. Daarom kan en sal nie een gelowige dieselfde wees nie en kan en sal ook nie een gelowige se gawe dieselfde wees nie – dit sluit Herder/Leraars in. Dit het egter ook tot gevolg dat geen gelowige ’n ander gelowige in God se plan vir ’n individu, of vir ’n gemeente, kan vervang nie. God het ’n unieke plan vir elkeen van ons en vir elke individuele gemeente. Ons is dus nie uitruilbare onderdele in Christus se Liggaam nie, maar ons is individuele lede van mekaar – dit is dan ook waarom Paulus in Rom.12:5 sê ~ Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.
Ons kan daarom nie sê dat ’n Herder/Leraar sus of so moet wees nie en derhalwe allerlei etikette van vereistes of gawes volgens mý behoefte of oortuiging, om ’n Herder/Leraar se nek hang nie – wie is ons om God se plan te bepaal vir Hom en vir Hom voor te skryf? Paulus sê nie verniet in 1Kor.12:11 ~ Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ’n gawe uitdeel soos Hy wil. Dit het egter ook 1Pet.4:10-11 as implikasie ~ As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien. 11 As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid!
Petrus sê in 1Pet.5:2 ~ Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hierdie sagte en simpatieke en versorgende titel vir ’n Herder/Leraar, impliseer dus ’n sagte aanraking hier en ’n opbeurende woord daar en ’n liefdevolle teregwysing wanneer nodig. Maar, om die kudde op te pas impliseer egter ook onverskrokke krag en beskerming van die kudde. ’n Herder/Leraar moet dus die voeding van sy kudde, sy prioriteit maak – soos wat Jesus dan ook drie keer vir Petrus in Joh.21:15-17 gesê het ~ Laat my lammers wei. Dit is geen wonder dan ook dat Paulus in Hand.20:28 die volgende sê ~ Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun. Baie dikwels lees ons hierdie gedeelte net tot hier en dan dink ons dat die primêre taak van die Herder/Leraar is om die skape te vertroetel, maar Paulus gaan voort in vers 29, deur te sê ~ Ek weet dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Die primêre taak dus van die Herder/Leraar, is om toe te sien dat dwaalleer nie die gemeente verskeur nie en dat dwaalleraars nie die gemeente binnedring en verwoes nie.
John Stott en Kent Hughes sê beide dat prediking en lering die “sine qua non” van die pastorale bediening is, m.a.w. dit is die kruks en die grootste behoefte in die kerk van ons dag. Dieselfde Kent Hughes het een keer gesê: I would get on my knees and crawl across America to find someone who will teach my students to preach the text of the Bible.
Tyd laat ons nie toe om in detail in te gaan op al die pligte en verantwoordelikhede van die Herder/Leraar nie, maar ek noem dit vir u net opsommenderwys:
- Die ouderlinge moet regeer en algemene oorsig oor die gemeente uitoefen (1Tim.5:17; 3:4, 5, 12; 5:17; 1Tes.5:12; Rom.12:8);
- Soos reeds beklemtoon – Prediking en lering (1Kor.1:10; Ef.4:3; Fil.1:27; 2:2; 1Tim.3:2-7);
- Gebed en voorbidding (Jak.5:14);
- Geestelike beskerming wat ook herderskap genoem word (Hand.20:28-30);
- Besluitnemingsfunksie (Hand.15:22);
- Handoplegging/inseëning van bv. ouderlinge (1Tim.4:14);
- Weerlegging en vermaning (Titus 1:9);
- Tree as herders op deur ’n voorbeeld te stel aan die gemeente (1Pet5:1-3).
6. TEN SLOTTE:
Ons kry baie dikwels tydens huwelike, of verjaarsdae of Kersfees, geskenke wat ons nie eintlik nodig het, of kan gebruik nie, maar God gee nooit sulke geskenke of gawes aan ons nie. Elke gawe is presies die regte een vir ons om Hom en die gemeente te dien. Ons kry nooit die verkeerde gawe nie en ook nooit te min of te veel daarvan nie. Wanneer die Heilige Gees aan ons die gawes skenk, gee Hy presies die regte samestelling en intensiteit van gawes wat ons nodig het om Hom te dien. Hierdie gawes is ook vir elkeen van ons ’n teken van God se unieke en besondere seën aan ons.
Ons moet egter ook besef dat wanneer ons nie ons gawe(s) gebruik nie, dit ’n belediging vir God is en ons eintlik vir Hom sê dat ons Sy wysheid in twyfel trek. Ons bepaal nooit ons gawe(s) nie en ons verdien dit ook nie. Elkeen van ons ontvang egter ’n gawe(s) van die Here en indien ons dit nie gebruik nie, staan ons in Sy pad om Sy Meesterplan met ons of andere, of die gemeente ten uitvoer te bring en dit bedroef die Heilige Gees. Ons moet dus biddend omgaan met ons gawes en in gehoorsaamheid doen wat die Here van ons verwag.
Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 13 Desember 2009