Tuesday, July 7, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (05 Julie 2009)

“Die Boodskapvan die Kruis en van Redding - 07” (Gered uit die Slawehuis) [1]

Indien u hierdie Bybelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Eks.15:1-21 ~ Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing: “Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger. 2 Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek. 3 Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’! 4 Die strydwaens van die farao en ook sy leër het Hy in die see geslinger. Die keur van Egipte se offisiere is in die Rietsee gedompel. 5 Watermassas het hulle oordek, soos ’n klip het hulle in die dieptes afgesak. 6 U regterhand, Here, gedug in sy krag, u regterhand, Here, verpletter die vyand. 7 U is hoog verhewe, U vernietig wie teen U opstaan, U laat u toorn woed, dit verteer hulle soos kaf. 8 U wind het gewaai: die water dam op, strome staan regop soos ’n muur, watermassas stol in die hart van die see. 9 Die vyand sê: ‘Ek sal hulle agtervolg en inhaal, ek sal die buit verdeel, ek sal my sin kry, ek sal my swaard trek, my hand sal hulle verslaan.’ 10 “U laat u wind waai: die see oordek hulle, hulle sink soos lood in die magtige waters. 11 Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade! 12 U het u regterhand uitgesteek; die aarde het die vyand ingesluk. 13 Deur u trou het U die volk gelei wat deur U verlos is, hulle deur u krag gebring na u gewyde land toe. 14 Die volke het dit gehoor en hulle het gesidder, angs het die bewoners van Filistea beetgepak, 15 die stamhoofde van Edom was verskrik, die magtiges van Moab vreesbevange, al die bewoners van Kanaän was lam geskrik. 16 Vrees en angs het hulle oorval, u magtige dade het hulle laat versteen toe u volk deurtrek, Here, toe die volk wat U u eie gemaak het, deurtrek. 17 U het hulle ingebring, U het hulle geplant op die berg wat aan U behoort. Here, U het ’n plek vir u troon voorberei, u hande, Here, het ’n gewyde plek gereed gemaak. 18 Die Here regeer tot in ewigheid!” 19 Waarlik, toe die perde van die farao met strydwaens en bemanning die see ingegaan het, het die Here die water van die see oor hulle laat terugvloei, maar die Israeliete het op droë grond daardeur gegaan. 20 Mirjam die profetes, suster van Aäron, het ’n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans. 21 Mirjam het vir hulle voorgesing: “Sing tot eer van die Here omdat Hy hoog verhewe is. Perd en ruiter het Hy in die see geslinger.”

2. INLEIDING:
Twee weke gelede het ons gekyk na God se uitverkiesingsgenade en waarskynlik een van die mees aangrypendste voorbeelde van God se uitverkiesing is die besluit van God om Israel onder die slawediens van die Egiptenare uit te red. Toe die Israeliete gered is uit Egipte, was hulle ’n onbeduidende Midde-oosterse volk wat bykans sonder identiteit was. Hulle was afstammelinge van skaapherders en nomade, nl. Abraham, Isak en Jakob – manne wat nie in die wêreld uitgestaan het as groot leiers of manne wat oorloë gewen het nie. Hulle het nie groot stede gebou nie. Hulle was maar net gewone arbeiders en veewagters wat ’n lewe in die woestyn probeer maak het.

Daar was egter een uitstaande kenmerk t.o.v. die Israeliete en dit was dat hulle deur God uitverkies was. God het gekies om hulle lief te hê en hulle te red t.w.v. Sy eer. Die rede waarom God dit gedoen het, het niks te doen gehad met enige iets wat die Israeliete gedoen het nie. Toe Moses later terug gekyk het na die verlossing van die Israelitiese volk, het hy die volgende in Deut.7:7-9 gesê ~ Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. 8 Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ’n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte. 9Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam.

God het nie die Israeliete lief gehad, omdat hulle lieftallig was nie, maar omdat Hy liefde is. Hy het die volk Israel gered om geen ander rede as omdat Hy gekies het om
aan hulle die verbondsbelofte van redding te skenk.

3. EGIPTE – DIE SLAWEHUIS:
Die redding uit Egipte was waarskynlik dié merkwaardigste reddingsgebeurtenis in die ganse Ou Testament en dit is nie om dowe neute in die Woord van God opgeneem nie, want enersyds is dit een van die uitstaande merkers in die geskiedenis van die volk van God, maar andersyds het hierdie gebeure ook verrykende teologiese gevolge ingehou vir die Israeliete, maar ook vir die ganse mensdom.

Die Israeliete het na Egipte gegaan in die tyd van Josef. U sal onthou dat daar ’n hongersnood in die land van Jakob was. U onthou ook hoe Josef se broers hom verkoop het aan slawehandelaars wat hom na Egipte geneem het en hoe Josef uiteindelik Eersteminister van Egipte geword het. En toe die hongersnood in “Vader Jakob” se land te erg geword het, stuur hy sy seuns na Egipte om kos te gaan soek. Uiteindelik openbaar Josef homself aan sy broers en die uiteinde was dat sy broers hul bejaarde ou vader, Jakob gaan haal het en vestig hulle, hulself in Egipte. Ons lees Eks.1:7 dat die Israeliete oor die volgende klompie eeu, ...vrugbaar (was) en (hulle) het vermeerder. Hulle het baie geword, so baie dat die land vol was van hulle. Hulle het so baie geword, dat hulle die Farao van Egipte begin bedreig het en daarom het hy hulle onderwerp aan slawearbeid. Hy het hulle met swepe laat slaan en in boeie vasgeketting. Hulle moes kleistene maak en het geweldig hard gewerk, maar hoe harder hulle gewerk het, des te sterker het hulle geword.

Die Farao het egter begin besef dat slawe arbeid nie alleen genoegsaam was om die Israeliete in bedwang te hou nie en daarom gee hy opdrag dat al die pasgebore seuntjies in die Nyl gegooi moes word (Eks.1:22). Egipte was ’n verskriklike plek om in te bly – vir die Israeliete in elk geval. Die Israeliete sou onmiddellik “ex-pats” (emigreer) geword het as hulle maar net kon, maar hulle kon nie. Hulle enigste uitweg was dus om tot die Here, die God van hulle voorvaders Abraham, Isak en Jakob, uit te roep. Eks.2:23b-25 ~ ...die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. 24 God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. 25 Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem. In God se genade het Hy die volk se hulpgeroep gehoor en roep Hy vir Moses om die volk uit Egipte te lei.

Ons ken ook die geskiedenis van die plae en die Farao se aanvanklik hardnekkige weiering om die volk te laat gaan. Geen wonder dat Eks.20:2 praat van Egipte as die plek van slawerny, of die slawehuis (O.A.V.), of dalk nog ’n beter vertaling is dié van die N.K.J.V., nl. ~ …the house of bondage. Daarom word die woorde “slawehuis” en “Egipte” nog steeds as Bybelse simbool beskou vir slawerny aan sonde.

Net soos die Israeliete van destyds, verkeer die mensdom nog steeds in slawerny, a.g.v. hul sonde, daarom dat Rom.8:7-8 sê ~ Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8 Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie. En 1Joh.5:19 leer ons ook ~ ... dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is. Die uiteinde van hierdie slawerny is volgens Rom.5:21 die dood.

Net soos die Israeliete van ouds wat in slawerny verkeer het en uiteindelik tot God geroep het vir redding, net so is die slawerny van sonde waarin die mens verkeer, wat ons na redding en bevryding laat uitroep.

4. VERLOSSING:
Wat enige mens nodig het wat in slawerny vasgevang is, is natuurlik bevryding. En dit is presies wat die betekenis van die Bybelse begrip vir redding is. Die Hebreeuse werkwoord vir redding is evy (yasha) en om dit eenvoudig te stel, beteken dit “om te red” of “om te bevry”. Hierdie woord word dosyne kere in die Ou Testament gebruik, maar ook as selfst.nw., pers.vnw., ens. bv. Ps.116:6 ~ Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered, of Ps.71:2 ~ Red my en bevry my, want U is getrou. Luister tog na my en help my!, of Ps.27:1 ~ Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?

Daar is talle verhale in die Bybel waar hierdie woord gebruik word – bv.: Noag en sy gesin wat gered is van die vloed; Debora en Simson wat die volk Israel menige keer gered het van hul vyande; Jona wat gered is uit die maag van die groot vis. Daniël wat gered is uit die leeukuil. Die grootste en mees omvattende voorbeeld van redding was egter die bevryding van die Israeliete uit slawerny in Egipte. En regdeur die res van die Ou Testament, word hierdie geskiedenis van die Israelitiese volk se bevryding uit Egipte, gesien as die uitnemendste voorbeeld van God se reddingsgenade.

Ons moet nie vir een oomblik dink dat die Israeliete se bevryding uit Egipte ’n eenvoudige en maklike saak was nie.

Hulle was skaars uit Egipte, toe sit die Egiptiese weermag hulle agterna, want die Egiptenare het besef dat hulle voortaan self hulle handearbeid sal moet verrig (Eks.14:5). Maar, nog erger was egter die feit dat die Israeliete, by die aanhoor van die naderende Egiptiese strydwaens, hul vertroue in God verloor. Aan die eenkant is die geluid van die naderende Egiptiese weermag en aan die anderkant is die Rooisee – volgens hulle staar ’n gewisse dood hulle dus in die gesig en daarom sê hulle in Eks.14:11-12 aan Moses ~ Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het? 12 Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir die Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom. Die Israeliete het dus nie op God se reddingskrag vertrou nie. Maar daar was niemand of niks anders wat hulle kon red nie, behalwe die Here God. En wat was die uiteinde van hierdie situasie? God verlos die Israeliete en hulle trek droogvoets deur die Rooisee en Hy laat die Egiptiese weermag in dieselfde see verdrink.

Hierdie situasie speel homself vandag nog steeds af in die lewe van die mensdom – Ons is vasgekeer tussen sonde en die dood en omdat ons nie self uit hierdie uitsiglose en hopelose situasie kan ontsnap nie, het ons Jesus Christus nodig om ons te hulp te kom en ons te verlos.

Al was die Israeliete ook hoé desperaat en bevrees, was daar nooit twyfel oor die realiteit van hul uiteindelike redding nie, want God het hulle uitgekies om gered te word! Redding en verlossing was die eerste ding wat God aan Moses belowe het toe Hy hom geroep het ~ Daarna sê die Here (aan Moses): “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8 Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry... (Eks.3:7-8a).

Waarom red God die Israeliete uit die mag van die Egiptenare? Ja, dit is omdat Hy hulle hulpgeroep gehoor het, maar die primêre rede vind ons in Eks.14:18 ~ Wanneer Ek my mag laat geld teenoor die farao, sy strydwaens en hulle bemanning, sal Egipte besef dat Ek die Here is. God kies uit en verlos, ten einde uiteindelik al die eer en heerlikheid aan Homself te verleen.

Ook die Israeliete het eer aan God gebring – hoor net hoe bring Moses eer aan God na die vernietiging van die Egiptiese weermag by die Rooisee – Eks.15:8-11 ~ U wind het gewaai: die water dam op, strome staan regop soos ’n muur, watermassas stol in die hart van die see. 9 Die vyand sê: ‘Ek sal hulle agtervolg en inhaal, ek sal die buit verdeel, ek sal my sin kry, ek sal my swaard trek, my hand sal hulle verslaan.’ 10 “U laat u wind waai: die see oordek hulle, hulle sink soos lood in die magtige waters. 11 Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade! Moses gaan voort in hierdie gedeelte en hy sê in verse 17 en 18 ~ U het hulle ingebring, U het hulle geplant op die berg wat aan U behoort. Here, U het ’n plek vir u troon voorberei, u hande, Here, het ’n gewydwe plek gereed gemaak. 18 Die Here regeer tot in ewigheid! In hierdie twee verse gee Moses eer aan die Here vir die feit dat Hy die volk uiteindelik veilig in die Beloofde land Kanaän gaan besorg, waar Hy Sy Koninkryk gaan vestig en in Sy Tempel gaan woon. En uiteindelik gaan hierdie belofte van God se uitverkiesende redding vervul raak, wanneer Hy tot in ewigheid gaan regeer.

Ons kan dus duidelik sien dat redding of verlossing altyd ’n beweging ván iets ná iets toe is. In die geval van Israel: ’n God wat die volk uit Egipte verlos en veilig na die Beloofde land lei. En in die geval van redding in Christus, is dit ’n verlossing ván sonde en ’n begeleiding ná heerlikheid.

5. DIE HERE IS MY REDDING:
Ons moet ook besef dat dit nie die Israeliete se geloof of bepaalde optrede was, wat hulle uiteindelik na die Beloofde land gelei het nie – nee, dit was God se uitverkiesende genade wat hulle uitgered het. Dit is Hy wat die geloof aan hulle geskenk het om voort te kon gaan en deur die woestyn te kon trek, daarom dat ons in Eks.14:31 die volgende lees ~ Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar. Op dieselfde wyse skenk God in Sy uitverkiesende genade, ook aan ons die krag en die geloof om volhardend deur hierdie woestynland van die lewe te gaan, totdat ons ook ons Beloofde land – die ewige heerlikheid sal binnegaan.

Vir Israel en vir Moses in die besonder, het die Here hul verlossing geword, daarom dat hy in Eks.15:2 sê ~ Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek.

6. DIE HERE IS MY STERKTE:

Ons sien ook deur hierdie geskiedenis van Israel, dat God ’n God van sterkte is. Moses beskryf hierdie gebeure in detail in Eks.15:4-5 ~ Die strydwaens van die farao en ook sy leër het Hy in die see geslinger. Die keur van Egipte se offisiere is in die Rietsee gedompel. 5 Watermassas het hulle oordek, soos ’n klip het hulle in die dieptes afgesak. En uiteindelik sien ons dat daar nie ’n enkele oorlewende was nie (14:28) en die Israeliete het toegekyk terwyl die liggame van die Egiptenare op die oewer van die Rooisee uitspoel (14:30). Hierdie gebeure was ’n indrukwekkende vertoning van God se sterkte en krag. Ook hiervoor loof en prys Moses vir God ~ Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger (Eks.15:1). Moses loof die Here, omdat die Farao en sy soldate, wrede en bose mense was, maar oorwin en uitgedelg is.

Hierdie konflik tussen Israel en Egipte was derhalwe eintlik niks anders as ’n geestelike geveg nie – ’n geveg tussen lig en duisternis.

In vele opsigte is die redding wat Jesus Christus aan Sy uitverkorenes bied, presies dieselfde as wat die Israeliete ervaar het. Die Griekse woord vir redding is swzw (sozo) het presies dieselfde betekenis as die Ou Testamentiese woord waarna ons netnou gekyk het en daarom, net soos in die geval van die Israeliete, is dit nodig dat Jesus ook ons vyande moet oorwin en vernietig. Redding is dus nooit afgehandel indien die vyand nie oorwin is nie.

Toe Christus aan die Kruis gesterf het, was Sy oorwinning oor die vyand (die satan) volkome en hoef ons geen vrese meer te hê nie, want wie of wat ook al hom voordoen as vyand van ons – Christus Jesus is ons sterkte en ons redding – Hy red ons van ons sonde!

7. DIE HERE IS MY LIED:
Nie alleen is die Here my redding en my sterkte nie, Hy is ook my lied.

Nadat Israel gesien het hoe die Here die Egiptenare verswelg het deur die waters van die Rooi See, het hulle ’n lied gesing – Eks.15:1-2a ~ Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing: “Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger. 2 Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom.

Die Israeliete het gesing omdat hulle gered is – Verlossing plaas ’n lied in ’n mens se hart. Geen byeenkoms van gelowiges is sonder sang nie, omdat verlossing nie anders kan as om gepaard te gaan met sang nie. Ons, tesame met alle gelowiges van alle tye sal ook in die hemel voortdurend besig wees met lofgesange terwyl ons in aanbidding is voor Christus die ewige Koning. Hoor wat sê Openb.5:9 ~ Toe sing hulle ’n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. En Openb.14:3 ~ Hierdie mense sing ’n nuwe lied daar voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge. Niemand anders as net hierdie honderd vier en veertig duisend mense, wat van die aarde af losgekoop is, kon hierdie lied leer nie.

8. AFSLUITING:
Die uittog uit Egipte was ’n teken wat die grootste verlossingdaad van alle tye belowe het, nl. Jesus Christus Wie deur die dood se diep waters gegaan het en weer opgestaan het uit die dood, ten einde ons te red en Hy het ons nie net van sonde alleen gered nie, maar ook van die ewige gevolge van en straf op die sonde.

Jesus die opgestane Christus is voorwaar ons redding en ons sterkte en ons lied – van nou tot in ewigheid!

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 05 Julie 2009