Sunday, November 3, 2013

Openbaring Ontsluit – 51 (Jesus Christus Heers - 02)


1.     SKRIFLESING:
       Openb.20:1-6 ~ Toe het ek ’n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met ’n groot ketting in sy han. 2Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind. 3Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word. 4Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer. 5Dit is die eerste opstanding. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. 6Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer.

2.    INLEIDING:
       Ons het die vorige keer gesien dat die tydperk "1000 jaar", ’n vaste tydperk is, maar nie letterlik eenduisend jaar nie – eerder ’n vasgestelde tydperk waartydens God Sy wil laat geskied. Die getal tien in die Bybel en selfs in die alledaagse lewe, verteenwoordig ’n volheidsgetal.

       Ons kan op dieselfde wyse na die getal tien in die Bybel kyk. Daar is bv. die Tien Gebooie: Dit impliseer nie dat hierdie die enigste wette is wat God aan die Israeliete gegee het nie, maar die Tien Gebooie verteenwoordig die hele wet.

       Daar was tien plae in Egipte: Dit beteken natuurlik nie dat dit die enigste strawwe was wat God oor die Farao kon bring nie, maar dit was verteenwoordigend van God se volkome oordeel ten einde Sy volmaakte wil ten uitvoer te bring wat betref die Farao.

       Indien ons die getal tien neem en dit met tien vermenigvuldig en weer ’n keer met tien, kom ons by ’n totaal van 1000 uit, wat verteenwoordigend is van die Woord se maksimale volheid. Bv. wanneer die Woord sê dat God al die vee op 'n duisend berge besit (Ps.50:10) beteken dit nie dat Hy net oor 'n duisend heuwels se vee beskik nie. Nee, dit beteken dat God ál die vee op ál die berge besit.

       Op dieselfde wyse kan ons na Deut.1:11 kyk ~ Mag die Here die God van julle voorvaders julle nog duisend maal meer maak en vir julle ’n groot nageslag gee soos Hy julle beloof het. Hierdie belofte kan teruggevoer word na God se belofte aan Abraham waar Hy gesê het dat Abraham se geslag, soveel as die sterre aan die hemel sal wees (Deut.1:10). Teen die tyd dat Moses hierdie woorde geskryf, of geuiter het, het God reeds Abraham se nageslag grootliks vermeerder. Moses se gebed is dat God sal voortgaan ten einde hierdie belofte aan Abraham te vervul. Ons kan egter nie sê dat Moses, God versoek het dat God, Abraham se nageslag 1000-voudig sal vermeerder en dan sal ophou om dit verder te doen nie; trouens sy gebed is juis dat God nooit sal ophou om die volk te vermeerder nie.

       God belowe ook om genade teenoor Sy volk te betoon, tot aan die duisendste geslag (Deut.7:9). Beteken dit dan nou dat God die volk sal bly seën tot en met die 999ste plus 1 geslag (presies ’n 1000 geslagte) en dan eensklaps ophou? Tog sekerlik nie, want Hy belowe om tot aan die einde van die dae, genade te betoon teenoor almal wat Sý eiendom is!

       Nog ’n verwysing na die getal "1000" vind ons in Jos.23:10 ~ Een van julle jaag ’n duisend op loop, want dit is die Here julle God wat die oorlog vir julle voer soos Hy julle beloof het. Ook hier kan ons nie die getal "1000", letterlik neem nie – wat God hier belowe, is dat die Israeliete, al is hulle ver in die minderheid, nogtans die oorwinning sal behaal.

       Net so is dit nie moontlik om Openb.20 se "1000", letterlik te vertolk nie. Hierdie standpunt
word verder versterk as ons in gedagte hou dat geen van die ander syfers of getalle in Openbaring, letterlik vertolk word nie.

       Net so "tussen hakies": Indien ons hierdie "1000" letterlik moet vertolk, moet ons tog die res van Openb.20 ook letterlik vertolk. Indien dit so is, moet ons dan o.a. mos ook verwag dat (in groot piëteit gesê) Christus eendag met ’n letterlike ketting sal afdaal na die aarde ten einde Satan te bind – Satan wat ’n geestelike wese is, met ’n letterlike yster ketting? As ons "ketting" nie letterlik vertolk nie, waarom nie ook die "1000" nie?

3.    SATAN GEBIND:
       Terug dan na vv.1-3. Die tydperk wat die satan gebind gaan word, sal ’n simboliese tydperk wees, wat ons dan ook "die millennium" noem. Die implikasies van Satan se binding, het geweldige implikasies vir ons – om maar net een te noem en dit is wat my betref die belangrikste en ook gaan dit hier in Openb.20 juis hieroor: Voor Christus se koms na die aarde, was alle nasies met die uitsondering van Israel, onder Satan se volle beheer. Israel was die enigste land wat die waarheid aangaande God geken het en hulle was die enigstes wat ook God se redding kon ervaar (met enkele individuele uitsonderings – Rut bv.). Met Christus se koms en die verspreiding van die Evangelieboodskap, het alles egter verander en het die satan se oorheersing oor die heidennasies in duie gestort (Deut.7:6 ~ Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. Sien ook Ps.147:19-20 ~ Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy voorskrifte en bepalings aan Israel. 20Dit het Hy vir geeneen van die ander nasies gedoen nie; hulle ken sy bepalings nie. Prys die Here! Sien ook: Luk.4:6; Hand.14:16; 17:30; 26:17-18).

4.    DIE MILLENNIUM:
       Die vraag is dan nou: Wanneer het hierdie millennium begin en wanneer gaan dit eindig – kan ons dit beantwoord?

       Soos reeds gesê, was die doel met die binding van Satan, om hom te verhoed om die nasies verder te mislei, sodat die Evangelie vrylik kon versprei. Hierdie binding het begin tydens Jesus se aardse bediening en is ten volle uitgevoer by die kruis (1Kor.15:45 en sien veral Kol.2:13-15) en weer bekragtig met die val van Jerusalem. Ons kan dus aanvaar dat die amptelike begin van die "millennium", op enige tydstip tussen Golgota en 70 n.C. was.

       Tot wanneer hierdie millennium-tydperk gaan aanhou, of anders gestel: Indien hierdie tydperk rondom 70 n.C. begin het, wanneer gaan dit tot ’n einde kom?  Vers 3 ~ Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word.

       Aan die einde van die "millennium-tydperk" sal Satan vir ’n kort tydjie losgelaat word, waarna hy vir ewig oorgegee sal word aan die verderf. Natuurlik kan ons nie presies sê wanneer hierdie "kort tydjie" gaan aanbreek nie, omdat ons nie weet wanneer die "millennium" tot ’n einde gaan kom nie. Wat ons wel weet is dat die Evangelie tydens hierdie tyd sal versprei – ons sal dus ’n tyd van "Evangelie-seën" beleef, waartydens die satan se mag om die volke te mislei, ingeperk sal wees. Ons kan dus sê, dat die "millennium-tydperk" tot ’n einde gaan kom wanneer die laaste uitverkore kind van God tot bekering gaan kom en Christus Jesus as Sy Verlosser ontvang.

       Ons leef in die era van die "millennium" en moet derhalwe positief en optimisties wees oor die Evangelie en die Kerk van die Here Jesus. Die Satan mag rondloop ...soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind (1Pet.5:8), máár hy is steeds op hierdie stadium gebind! Daar is weliswaar verskeie profesieë wat nog nie vervul is nie en wat nog eendag vervul sal word – profesieë soos: Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg (Jes.11:6) en... Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie (Jes.2:4). Hoe hierdie dinge gaan gebeur en wanneer, weet ons nie, maar wat ons wel weet, is dat ons steeds midde in die "millennium" staan met al sy voordele en positiewe voortgang van die Evangelie en die Kerk.

       Wat gaan gebeur wanneer Satan vir ’n kort tydjie losgelaat word? Waarop ons steeds moet fokus en dit is die belangrike, is dat Satan vir ’n baie lang tydperk gebind is en net vir ’n kort tydjie losgelaat sal word. Wat egter ook duidelik uit hierdie vers na vore tree en dit bevestig die feit dat die satan huidiglik gebind is, is die feit dat Satan vir ’n kort tydjie losgelaat gaan word – hoe kan hy losgelaat word, as hy nie gebind is nie? Wat die ware betekenis van hierdie kort tydperk van vrylating beteken en wat dit gaan inhou, weet ons nie werklik nie – behalwe die Pre-millennialiste wat reken hulle weet en dan kom hulle met die aller verskriklikste en skrikwekkendste stories en bewerings na vore – geen regsinnige teoloog van formaat (A-Mil., of Post-Mil.) het regtig ’n Bybelse verklaring hiervoor nie. Al wat ek wel en kan sê hieroor, is dat géén gelowige (onthou, ons het gesê dat hierdie millennium waarskynlik tot ’n einde sal kom met die wedergeboorte van die laaste uitverkorene) tydens hierdie tydperk sy geloof in Jesus Christus sal verloor nie (weereens Joh.10:28 ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie).  

5.    DIE GELOWIGES HEERS:
       Johannes verskuif nou sy fokus van die Satan wat gebind is in vv.1-3, na die gelowiges se situasie gedurende hierdie "millennium- tydperk" in vv.4-6. Wat in hierdie gedeelte uitstaan, is die uitdrukkings, "die eerste opstanding" en "die tweede dood".

       Voor ons egter na hierdie uitdrukkings kyk en vv.4-6 verder verklaar, moet ons net eers een baie belangrike gedagte vasvat en dit die heeltyd in gedagte hou wanneer ons na Openb.20 kyk. Hierdie hoofstuk is ’n unieke hoofstuk en wel so omdat bykans die hele Openbaringbrief oor kort gebeure handel, of gebeure wat oor kort tydperke afspeel ("binnekort", "70 jaar"; "eerste eeu"; ens.), maar hoofstuk 20 gaan verder as kort tydsgleuwe en kyk na langtermyn gebeure en –gevolge.

       Die twee uitdrukkings, nl. "die eerste opstanding" en "die tweede dood" hou bepaalde implikasies vir ons in, want indien daar ’n "eerste opstanding" is, moet daar mos ook ’n "tweede opstanding" wees; en as daar ’n "tweede dood" is, moet daar mos ook ’n "eerste dood" wees. Hier is dus vier uitdrukkings wat verduidelik moet word, nl.:
·         "Tweede dood"
·         "Eerste dood"
·         "Eerste opstanding"
·         "Tweede opstanding".

       Daar behoort geen twyfel by ons te bestaan oor die betekenis van die "tweede dood" nie ~ Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel (Openb.20:13-14). Hieruit blyk dit baie duidelik, dat die "tweede dood", daardie gebeurtenis gaan wees wat nog in die toekoms lê en waartydens die ongelowiges in die put van vuur gewerp gaan word. Hierdie is ’n letterlike, fisiese dood en fisiese oordeel, want die hel is tog ’n letterlike plek – lees maar net gedeeltes soos o.a. Matt.23:33 waar Jesus vir die Fariseërs en Skrifgeleerdes gesê het ~ Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel? (sien ook: Matt.5:29-30; 10:28; 18:9; 23:15, 33; Mark.9:45, 47; Luk.12:5; Jak.3:6 en 2Pet.2:4).

       Waarom is ’n tweede dood nodig? Omdat elke mens op aarde deur al die eeue heen in die "eerste dood" "ingebore" is [Adam se sonde, of te wel die erfsonde ~ Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf... (1Kor.15:22a)]. Adam het die ganse menseras in die "eerste dood" ingedompel deur sy ongehoorsaamheid, toe hy van die "verbode vrug" (Gen.3:22) geëet het – Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het (Rom.5:12). In kort, die "eerste dood" is ’n geestelike dood (skeiding tussen God en die mens a.g.v. die sonde), terwyl die "tweede dood" ’n ewige, fisiese dood is (ewig geskei van gemeenskap met God en wel in die vuurpoel van die hel – hierdie is dus ’n geestelike sowel as ’n fisiese dood).

       Die "eerste opstanding" en die "tweede opstanding" volg presies dieselfde patroon. Die mens word in sonde ontvang en gebore, maar wanneer hy God se reddingsgenade in sy lewe ervaar, ervaar hy die "eerste geestelike opstanding". Weer eenvoudig gestel, die "eerste opstanding" is die  wedergeboorte. Diegene wat hierdie "eerste opstanding" ervaar het, sien egter ook uit na ’n "tweede, fisiese opstanding". Eendag, sal al die liggame van gelowiges uit die dood opgewek word en sal ons vir ewig in ’n fisies, verheerlikte liggaam saam met God deurbring (1Kor.15:51-54; 1Tes.4:13-18)! Hierdie gedeelte is van toepassing op alle gelowiges deur die eeue heen tot vandag en totdat die Here Jesus weer gaan terugkeer – dit geld derhalwe vir alle gelowiges in die "millennium-tydperk".

       Daardie gelowiges wat vir hul geloof gesterf het gedurende die eerste eeu na Christus, asook diegene wat oorleef het, maar wat nie "die Dier" aanbid het nie, het reeds die "eerste opstanding" ervaar en regeer reeds saam met Christus in Sy Koninkryk. Hulle het volhard deur hul vervolging en swaarkry en ontvang nou reeds hulle beloning. Hulle is egter nie die enigstes wat volhard nie: Alle ware gelowiges sál volhard tot die einde toe ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie (Joh.10:28). Alle ware gelowiges het die "eerste opstanding" beleef en daarom sal alle ware gelowiges van hul dag van wedergeboorte af, saam met Jesus Christus regeer. Ja, daar kom ’n tyd wanneer ons (wat nog in die lewe hier op aarde is) die seën van die "tweede opstanding" sal ervaar, maar vir eers ervaar ons die seën van ons "eerste opstanding".

       Jesus die Christus het die oorwinning oor die satan vir ons aan die kruis behaal – Hebr.2:14-15 is baie duidelik daaroor ~ Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. Jesus het dit self ook bevestig toe Hy in Joh.12:31-32 die volgende gesê het ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek. Die satan heers nie meer nie – Jesus Christus regeer en Sy Koninkryk is aan die opmars – Sy Koninkryk is aan die uitbrei hier op aarde! Hierdie binding (of oorwinning) oor die satan is ’n juridiese feit - Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (Kol.2:15 - sien ook: Matt.12:24-29; Luk.10:17; Joh.12:31-32).

       God het op dieselfde wyse as wat Satan gebind is, ook die gevalle engele (demone) gebind ~ Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag (Judas 6 - sien ook: 2Pet.2:4; Luk.8:31).

5.    DIE WESENS OP DIE TRONE:
       Kom ons kyk net ten slotte na wie die mense (of wesens?) is wat in vv.4-6 op die trone gaan sit:
·           Eerstens is daar ...die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het (v.4). As ons die teks toelaat om "self te praat", sien ons dat diegene op die trone, die martelare is – hulle wat die versoeking om "die Dier" na te volg en te aanbid, weerstaan het. Ons het reeds in ons studie van Openb.13, "die Dier" as die Romeinse Ryk (o.l.v. Nero) geïdentifiseer. Ons kan dus met redelike sekerheid sê dat hierdie martelare in v.4, dié gelowiges is wat onder Nero se hand gesterf het en is dit o.a. die antwoord op die pleitrede van die martelare in Openb.6:9-11 ~ Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. 10Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?” 11Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ’n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is. Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. 10Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?” 11Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ’n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is.

       Wat van die ander gelowiges wat nie as martelare gesterf het nie? Natuurlik is die afgestorwenes sedert 70 n.C. ook geseën ~ Toe het ek ’n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.” “Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle” (Openb.14:13). Die fokus is egter hier in v.4, op die afgestorwe martelare gedurende die eerste eeu, want sekerlik kan die siele van die mense wat onthoof is, tog nie verwys na gelowiges wat bv. die afgelope klompie jare aan kanker of hul harte, ens. gesterf het nie.

·           Wie is die ...ander dooies (wat) nie lewend geword (het) voordat die duisend jaar om was nie? Hierdie dooies, is al daardie dooies wat nie in Christus was nie (vanaf die skepping tot en met Christus se wederkoms) en wat tydens die tweede opstanding, voor die Groot Wit Troon gaan verskyn om geoordeel te word. Hierdie finale oordeel word in detail vir ons in Openb.20:11-15 beskryf. Johannes verwys in Joh.5:28-29 na hierdie opstanding as ...die opstanding van die veroordeling. (O.A.V.). Die liggame van alle afgestorwenes (gelowig én ongelowiges – ook die martelare) sal op hierdie laaste uur, opstaan uit die dood, maar daar is ’n baie duidelike verskil in die aard van die opstanding van die gelowiges en die ongelowiges. Ongelowiges het nooit in enige vorm van Christus se opstanding deel gehad nie. Hulle het dus sedert hulle afsterwe in ’n staat van geestelike dood verkeer totdat hulle opgewek gaan word uit hul grafte, ten einde die tweede dood in die gesig te staar. Die liggaamlike opstanding van die gelowiges (én die martelare) daarenteen, staan bekend as ... die opstanding van die lewe (Joh.5:29 - O.A.V.).

6.    AFSLUITING:
       Met hierdie goeie nuus en vooruitsig dat ons as gelowiges 'n "tweede opstanding" gaan ervaar, kom ons egter te staan voor teksverse soos bv. Ps.88:12 en dan praat ek nie eens van Job 10:21-22 nie en hiermee wil ek afsluit. Ps.88:12 ~ Word daar in die graf vertel van u troue liefde? Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel? Word daar in die graf vertel van u troue liefde? Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel? Of nog erger – Jes.38:18 ~ In die doderyk kan niemand U loof nie, geeneen wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie!

       In hierdie twee verse word daar baie duidelik gesê dat alle mense in die graf sal ingaan (behalwe natuurlik diegene wat nog in die lewe sal wees wanneer Christus terug kom) en dit weet ons, maar die indruk wat ons hier kry, is dat almal na dieselfde plek gaan – gelowig en ongelowig – 'n plek ver weg van God. Hierdie woord "doderyk" kom van die Hebreeuse woord שְׁאֹול, of te wel "sheol" wat o.a. 'n plek van duisternis is; waar mense aan permanente aftakeling en verrotting bloot gestel word; waar God se lofprysinge nooit gehoor word nie; 'n plek waarvan die hekke gesluit is, maar erger nog – 'n plek waar God van mense vergeet en 'n plek waar daar 'n permanente  versugting/verlange na God bestaan, maar waaruit die dooies nie kan ontsnap nie.

       Daar word baie in die Ou Testament gepraat van die doderyk, maar in die Nuwe Testament word hierdie woord se Griekse sinoniem, slegs 35 keer gebruik. In Matt.16:18-19 sien ons dan ook word daar verwys na die hekke van die hel, MAAR – en hier is die goeie nuus ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.” Wie het hierdie woorde aan Petrus gerig? Jesus Christus! Hoor wat Johannes in Openb.1:17-18 gesê het ~ Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, 18die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. Hierdie verskiklike plek genaamd die doderyk ("Sheol") gaan ons as God se kinders dus nooit inhok nie – want Christus dra die sleutels van die doderyk en Hy onset ons van die doderyk, trouens – Hy het dit reeds gedoen, die dag toe Hy aan die kruis gesterf het.

       Geliefdes, ons leef nou in 'n era waar die vyand gebonde is; ons leef in 'n era waar die Evangelie voortstu en volke en nasies van alle tale, kulture en rasse gekonfronteer word met die Evangelie van Jesus Christus en duisende uitverkorenes kom tot wedergebore in hierdie tyd en ons as gelowiges hoef die dood nie meer te vrees nie en kan ons met reikhalsende vertroue uitsien na die dag waarop Jesus Christus op die wolke gaan verskyn om al Sy kinders – lewend en dood, te kom haal!   



[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente.  Vereeniging – 03 November 2013

Sunday, October 27, 2013

Die Openbaring aan Johannes – 50 (Jesus Christus Heers - 01)


1.     INLEIDING:
       Ons kom nou by waarskynlik die mees kontroversiële hoofstuk in die ganse Bybel. Openbaring 20 is waarskynlik dié hoofstuk in die Bybel waaroor die meeste debatte oor die afgelope 18 eeue gevoer is; waaroor die meeste boeke waarskynlik geskryf is en waaroor gelowiges die meeste verskil. Waarom is dit so moeilik om Openb.20 te verklaar? Die hoofrede hiervoor is waarskynlik wat ek reeds aangesny het, nl. die feit dat daar sóveel uitgangspunte in eksegese of uitleg van hierdie hoofstuk is en selfs onder mense wat dieselfde uitgangspunt huldig, bestaan daar verskille. Kom ek verduidelik verder: Daar bestaan hoofsaaklik vier basiese ortodokse benaderings: Ortodoks, omdat elkeen van hierdie basiese benaderings ingesluit is in een of meer van die historiese belydenisskrifte van die kerk.

       Die vier hoof benaderings is die volgende: Daar is eerstens, die Idealistiese benadering (of geestelike benadering); die Historiese benadering; die Futuristiese benadering; en die Preteristiese benadering. Wat alles nog meer verwarrend maak, is die feit dat daar nog letterlik dosyne interpretasies binne elk van hierdie vier hoofstroom-verklarings aangetref word!

       ’n Hoofstuk in die Woord met soveel interpretasie verskille onder vooraanstaande en Godvresende manne, laat my uiters nederig en onbekwaam voel om ’n mening en verklaring hieroor te waag, maar ek kan nie en mag nie sê dat ’n gedeelte te moeilik is en daarom vermy ek dit nie, want die Woord is vir ons "eenvoudige" mense ook gegee om te verstaan en daarom gaan ek in nederigheid en in afhanklikheid van die Gees hierdie stuk aandurf en ek nooi u uit om in dieselfde gesindheid die studie van hierdie hoofstuk aan te durf.

       Let net op, dat ons nooit, maar nooit mag toelaat dat hierdie hoofstuk ons by ’n punt uitbring waar ons as gelowiges se paaie uiteen loop nie, omdat die opgestane Jesus Christus, steeds ons gemeenskaplike fokus is en moet wees.

2.    DIE KONTEKS VAN DIE HOOFSTUK:
       Voor ons na ’n verklaring of verklarings kan gaan kyk, moet ons net eers kyk na die voorafgaande gedeeltes in Openbaring.
-        Eerstens moet ons daarop let, dat die gebeure wat hier in hoofstuk 20 beskryf word, ’n chronologiese opvolg van gebeure in die voorafgaande gedeeltes is. Alles wat dus in hoofstuk 20 geprofeteer word, moet in die lig van die gebeure in hoofstuk 19 oorweeg word.
-        Tweedens moet ons aanvaar dat wat ook al hier in hoofstuk 20 geprofeteer word, iets te doen het met die eerste eeu se gelowiges ~ Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien (Openb.1:1). Ook in Openb.22:6-7 en vers 20 lees ons ~ Toe sê die engel vir my: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee, het sy engel gestuur om vir sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.” 7Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.” ... ... 20Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus!

       Ons sien tog immers in Openb.20:4 dat dit diegene is wat die versoeking weerstaan het om die Dier te aanbid, wat saam met Christus regeer. Soos reeds vantevore aangedui, sien die Futuriste gladnie dat hierdie hoofstuk iets te doen het met die eerste eeu nie. Daarenteen, aangesien ons Openb.19 en ander voorafgaande gedeeltes reeds verklaar het met die eerste eeu se gelowiges in gedagte, moet ons tog immers ook hierdie twintigste hoofstuk van Openbaring in daardie lig interpreteer (anders het ons, ons tyd nou reeds vir weke al lank gemors!).   
-        Natuurlik is dit ook so dat hier sprake is van ’n 1000 jaar –tydperk, maar gesien in die lig van ons uitgangspunt en die eerste eeu se gelowiges, kan ons sê dat hierdie hoofstuk steeds fokus op die eerste eeu se gelowiges en dat die profesie in hoofstuk 20 daar begin, maar dat dit terselfdertyd ook dui op ’n langer tydperk as bloot net die eerste eeu.

       Kontekstueel is die fokus van hierdie hoofstuk dus gerig op die eerste eeu, maar dit is terselfdertyd ’n fokus op gebeure wat nog vir ’n lang tydperk ná die eerste eeu sal voortduur.  

3.    DIE INHOUD VAN DIE HOOFSTUK:
       Ons kan hierdie hoofstuk onder die volgende hoofpunte indeel:
-        Satan gebind (20:1-6)
-        Oorwinning oor die satan (20:7-10)
-        Die finale oordeel (20:11-15)

       Ons kan egter ’n oorkoepelende tema koppel aan hierdie hoofstuk, nl.: Jesus Christus heers!  Ons sal reg deur hierdie hoofstuk sien dat Christus in beheer is en dat Hy heers en Hy sal heers tot en met die wederkoms, waarna Hy Sy Koninkryk aan die Vader sal oorhandig ~ Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. 21Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. 22Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 23Maar daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. 24Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. 25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. 28Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles (1Kor.15:20-28). Wat meer is, jy en ek wat in die Here Jesus Christus ingeplant en wederbaar is, sal hierdie onbeskryflike en hemelse feestelikheid beleef wanneer die Koninkryk aan God die Vader oorhandig word!

4.    SKRIFLESING:
·           Openb.20:1-6 ~ Toe het ek ’n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met ’n groot ketting in sy hand. 2Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind. 3Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word. 4Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer. 5Dit is die eerste opstanding. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. 6Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer. Ons sien in hierdie gedeelte hoe dat die satan vir ’n "duisend jaar" gebind sal wees en hy sal spesifiek gebind wees t.o.v. die misleiding van die volkere.

5.    SATAN GEBIND:
       Gedurende die Ou Verbond het Satan oor die vermoë beskik om die nasies te mislei, maar hierdie mag sou binnekort ingeperk word – nie ten volle nie, maar weliswaar tot ’n groot mate – hy sou dus oor veel minder mag beskik as gedurende die Ou Verbond. Die vraag is egter, presies wanneer is Satan se magte ingeperk? Jesus het hierdie proses van inperking van die satan se magte reeds in Joh.12:31-32 begin ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek. In Kol.2:15 lees ons die volgende ~ Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. In Hebr.2:14-15 staan daar ~ Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.

       Satan is gebind ten tye van Jesus se kruisiging en ons sien dit in die "Groot Opdrag" soos opgeteken in Matt.28:18-20 ~ Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” Vantevore kon die satan die nasies mislei, maar na Jesus se kruisiging is die dissipels uitgestuur na al die nasies toe met die belofte van oorwinning.

       Vir ’n geslag lank, na die kruisiging en hemelvaart, het die satan alles in sy mag gedoen om o.a. die "nuwe" kerk van Jesus te vernietig deur die jong gelowiges bloot stel aan o.a. die ergste vervolging denkbaar, maar Christus se belofte in Matt.16:18 dat gelowiges nooit deur die satan oorweldig sal word nie, is gestand gedoen ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.  

       In ons dae wil ons maar al te dikwels dink dat die kerk (die ware Kerk) tog besig is om onder te gaan, want kyk net na die geestelike verval rondom ons – veral as ons kyk na hoe die Afrikaner by name, kerklos raak en selfs meer as dit – selfs ateïsties en totaal liberaal word. Ons vergeet egter dat daar ander plekke op aarde is waar die teenoorgestelde tans aan die gang is. In China is daar geweldige vooruitgang en uitbreiding aan die gang wat die Christendom en die kerk van die Here Jesus betref. Ongekende hoeveelhede mense kom tans in China tot bekering en dieselfde geld vir Iran – soveel so dat die Islamitiese regering nou onlangs, openlik hul kommer  in die media daaroor uitgespeek het – ons moet nie teen ons eie klein wêreldjie vaskyk wanneer ons vir onsself die vraag afvra, of die kerk van die Here Jesus Christus werklik nog vooruitstu nie – ja dit is so dat die satan van tyd tot tyd "sy houe inkry", maar dit is nie ’n globale tendens nie en in die geheel gesien, groei die Christendom met rasse skrede oor die wêreld heen. Ek het bv. baie nou kontak met verskeie voorgangers van gemeentes in Zambië en dit is verstommend om te sien hoe die kerk in Zambië groei en onder hulle leiding weer in ander Afrikalande – en wat meer is, as ek praat van die kerk in Zambië praat ek van kerke wat suiwer is in hulle teologie – gereformeerd in hulle teologie (gaan besoek gerus die Blog van ’n baie goeie vriend van my, by name Conrad Mbewe – wat waarskynlik Afrika se mees gewilde internasionale prediker in regsinnige kringe op die oomblik is en oordeel self – in die VSA word hy die "Spurgeon van Afrika" genoem: http://www.conradmbewe.com/). Of gaan luister gerus na Ronald Kalifungwa (nog ’n baie goeie vriend van my en ook van Lusaka is) se preke –
(http://www.lusaka-baptist-church.org/index.php?option=com_biblestudy&view=studieslist&Itemid=53). En talle ander (Choolwe Mwetwa; Grave Singogo; Emmanuel Sakala; Kennedy Sunkutu; Victor Kanyense; Michael Bewembya om maar 'n paar te noem).

       Hoe dit ook al sy, dit was net na die val van Jerusalem dat die Satan finaal gebind is en die Evangelie tot aan die uiteindes van die aarde begin versprei het – Satan het nie beheer gehad oor die volke van die wêreld nie, want die Evangelie het die wêreld begin verower – die aanklaer van die broeders was ingeperk t.o.v. sy misleiding en kon die kerk van die Here Jesus Christus, die wêreld vanuit die duisternis na die lig begin lei. Weereens net weer ’n terloopse opmerking: Ons moet onthou dat nie alle mense gered is nie – waarskynlik die meerderheid nie (sien o.a. Matt.7:14 ~ Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min) en daarom sal daar steeds duisternis rondom ons wees en sal die duisternis wat reeds bestaan net nog donkerder word – MAAR, God is in beheer en die kerk brei uit op aarde – die Evangelie stu voort én die satan het nie meer die hef in die hand om die nasies te verlei nie – in elke land op aarde vind ons vandag al gelowiges (interessantheidshalwe: Die top 3 lande met die minste gelowiges – maar daar is gelowiges – is Somalië met ’n 0,013% gelowiges van die totale bevolking. Jemen is die tweede "slegste" daaraan toe met 0.014% en Afghanistan met 0,02%. Weliswaar is van hierdie "Christene" o.a. Rooms Katolieke, maar nie almal nie).

       Ons moet egter nog na die "1000 jaar" kyk. Daar staan tog onteenseglik dat Satan vir ’n duisend jaar gebind sal wees (20:2-3), maar dan lees ons ook in v.3 dat hy ná hierdie tydperk van duisend jaar, vir ’n kort rukkie losgelaat sal word. Die vraag is of hierdie 1000 jaar, letterlike jare is en of dit ’n simboliese getal is? Is hierdie ’n tydperk wat in die verlede lê, of in die huidige, of nog in die toekoms? Daar bestaan heelwat teorieë en moontlike verklarings hiervoor.
o    Daar is mense (die Hiperpreteriste) wat sê dat hierdie 1000 jaar, simbolies was van die tydperk tussen 30 n.C. en 70 n.C. (die tydperk tussen Christus se hemelvaart en die val van Jerusalem). Hierdie opsie is beslis nie ’n moontlikheid wat ons kan oorweeg nie. Die blote noem van die tydperk, 'n 1000 jaar suggereer tog immers ’n langer tydperk as bloot die nagenoeg 40 jaar soos deur hierdie groep voorgestel. Wat meer is, die voorstanders van hierdie standpunt leer ook dat Jesus se wederkoms (Sy tweede koms), asook die algemene opstanding en die finale oordeel gedurende 70 n.C. plaasgevind het – hulle sê dat al hierdie dinge in ’n geestelike sin geskied het en dat ons tans in ’n ewigheidstoestand voortbestaan – uiteraard ’n standpunt wat ons kategories moet en kan verwerp – die groep mense wat hierdie standpunt huldig staan bekend as die Hiperpreteriste, of die Panteliste.
o    Dan is daar diegene (die Klassieke A-Millennialiste) wat glo dat hierdie tydperk bloot die tussentoestand van die afgestorwe gelowiges verteenwoordig. Hierdie is ook nie ’n vasgestelde tydperk nie en verskil van gelowige tot gelowige. Dit is m.a.w. bloot net die tydperk tussen die afgestorwene se dood en Christus se wederkoms. Gedurende hierdie tyd regeer die afgestorwene saam met Christus vanuit die hemel. Hierdie standpunt is dié van die Klassieke A-Millennialiste.
o    Derdens is daar dié groep (die Postmillennialiste) wat hierdie 1000 jaar tydperk sien as die era van die kerk, totdat Christus terugkeer. Hierdie tydperk word gesien as ’n vaste tydperk, m.a.w. ’n tydperk met ’n vaste begin en ’n definitiewe eindpunt, maar die 1000 jaar is nie ’n letterlike tydperk nie, maar wel ’n simboliese tydperk. Hierdie is die standpunt van dié groep wat hulself Postmillennialiste, of Optimistiese A-Millennialiste noem.
o    Dan is daar dié groep (die Klassieke Postmillennialsite) wat glo dat die 1000 jaar ’n goue tydperk verteenwoordig wat nog in die toekoms lê en waartydens sendingwerk en evangelisasie geweldig suksesvol sal wees en massa bekerings gedurende hierdie tydperk sal voorkom, wat tot gevolg sal hê dat die wêreld oorwegend moreel Christelik sal wees en derhalwe die wêreld ’n veel-veel beter plek sal maak as wat dit huidiglik is. Let daarop dat hulle nie sê dat die mense noodwendig almal Christene gaan word nie, maar dat die wêreld ’n beter plek gaan word a.g.v. die invloed van die steeds toenemende Christendom. Hierdie groep staan bekend as die Klassieke Postmillennialiste. Hulle glo ook nie noodwendig dat hierdie tydperk ’n letterlike 1000 jaar sal wees nie, maar daar is wel van hulle wat vashou aan die gedagte van ’n vaste of letterlike tydperk van 1000 jaar.
o    In die vyfde plek is daar diegene (die Pre-Millennialiste) wat glo dat die 1000 jaar tydperk in die toekoms lê en dat dit ’n letterlike tydperk van 1000 jaar van fenomenale seën vir die wêreld impliseer. Hulle glo voorts dat Christus se wederkoms net voor die millennium (’n letterlike 1000 jaar) tydperk van seën sal plaasvind. Die aanhangers van hierdie standpunt staan bekend as Pre-Millennialiste (die meeste Charismatiese- en Pinkstergroepe is Pre-millennialiste). Die Pre-Millennialiste verskil van die res van bg. groepe in twee opsigte:
-       Pre-Millennialiste staan en val daarop dat die 1000 jaar ’n vaste tydperk is; en
-       Hulle verwag dat die wederkoms van Christus sal plaasvind voor die millennium (en dan praat ons nie eers oor hul standpunt/oortuigings t.o.v. die "wegraping" nie!).

       Dit is baie duidelik dat elke gelowige tot ’n mindere of meerdere mate in een van bg. kategorieë geplaas kan word. Dit is egter nie altyd so maklik om te sê dat hierdie of daardie standpunt my absolute oortuiging is nie, omdat, soos aan die begin reeds gesê, daar soveel variasies op die tema is. Ekself kan my dus self ook nie heeltemal kategoriseer nie, alhoewel ek my die meeste tuis voel by die Post-Millennialiste en selfs tot 'n mindere mate by die Optimistiese A-Millennialiste.

6.    AFSLUITING:
       Ten slotte wil ek net noem wat ek ook aan die begin gesê het, nl. dat Openb.20 dié hoofstuk in die Bybel is wat die denke en redenasies van baie van die eskatologiese standpunte vorm. Die probleem is egter dat mense en dan spesifiek die Pre-Millennialiste, met Openb.20 begin wanneer hulle hul eskatologie wil definieer, in plaas daarvan om te eindig by Openb.20, want Openb. 20 is die enigste plek in die Woord waar daar gepraat word van 'n duisend jaar en om 'n hele teologie te baseer op enkele verse (vv.1-7), is om die minste te sê, uiters onverantwoordelik.

       'n Verdere vraag wat 'n mens kan vra, is dat indien hierdie duisendjarige vrederyk waarvan die "Dispensasionaliste" praat, dan so 'n prominente tydperk is, waarom praat die Bybel nie méér daaroor nie, trouens ons kan tereg ook aan diesulkes vra, hoe dit moontlik is dat hulle hul teologie kan baseer op ses verse en dít in 'n boek wat die mees beeldryke en waarskynlik ook moeilikste boek in die Bybel is? Wanneer jy iets aan die hand van die Woord wil bewys, moet 'n mens altyd by die voor-die-handliggende begin en vandaar na die  onduidelike en moeilike beweeg – wat hulle nié doen nie.
      
       Openb.20:1 stel dit baie duidelik dat hierdie gedeelte 'n visoen is – daarom dat Johannes in v.1a sê ~ Toe het ek ’n engel uit die hemel uit sien kom... – "sien". Daarom kan die duisend jaar ook nie 'n letterlike 365000 dae wees nie, net soos wat die satan se binding met 'n ketting (20:1), nie letterlik geïnterpreteer kan word nie, net so ook nie die duisend jaar nie.
 
       Volgende keer sal ek dan probeer aantoon hoe ek persoonlik, Openb.20:1-6 interpreteer, wat dan o.a. die verklaring van die 1000 jaar tydperk sal insluit, maar ook waaroor ons gedeelte eintlik gaan, nl. oor die "binding" van die satan en wat dit beteken. Dit is egter belangrik dat ons eers bg. agtergrond moes verklaar en verduidelik.

       Vir nou moet ons besef dat die Koninkryk van Christus, nié iets is wat in die toekoms lê nie en nog minder is dit 'n tydperk wat voorafgegaan sal word met die bloedige en vernietigende slag van Armageddon, waarna Christus in vlees 'n politieke Ryk hier op aarde gaan skep nie. So 'n persepsie en verwagting is presies dieselfde fout wat die Jode van die eerste eeu gemaak het – hulle het 'n politieke koninkryk en koning verlang wat die Romeinse Ryk van daardie tyd kon omvergooi (Joh.6:15; Luk.17:20, 24:21), maar toe Jesus weier om dit te doen, het hulle Hom verwerp.

       Die fundamentele krag van die Koninkryk, is die "Evangelie van die Koninkryk" (Matt.4:23; 9:35) ~ Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie” (Mark.1:14-15). Die primêre funksie dus van die Koninkryk, is die verkondiging van die Waarheid ~ Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê” (Joh.18:37).

       Die Koninkryk van Christus is dus in essensie 'n geestelike Koninkryk wat in die hart van die gelowiges teenwoordig is ~ Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee (Rom.14:17)... ... maar nou het ek myself heeltemal te ver vooruit geloop.



[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gerefprmeerde Baptistegemeente.  Vereeniging – 27 Oktober 2013

Sunday, October 20, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 24 ("Ek weet dat ek weet, dat ek weet!")


1.    SKRIFLESING:
       Ons Skriflesing van vandag, is 'n gedeelte wat my oneindig klein laat voel, omdat ek enersyds net opnuut weer besef hoe ver ekself tekort skiet wat my geloof aan betref, maar andersyds ook omdat dit so 'n geweldige intense en swaar gelaaide gedeelte is. Wanneer 'n mens hierdie hoofstuk lees, put jy soveel hoop hieruit en daarom is dit vir alle gelowiges noodsaaklik om hierdie hoofstuk uit Hebreërs, gereeld te lees.

Hebr.11:1-7 ~ Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is. 3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie. 4Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ’n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood. 5Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. 6As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. 7Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

2.    INLEIDING:
       Die lesers van hierdie brief het kennelik geloof in hul lewens nodig gehad, daarom skryf die Hebreërskrywer vir hulle hierdie gedeelte. Soos ek aan die begin gesê het, besef ek maar net opnuut weer watter nood ekself ook aan geloof het en ek glo elkeen van julle ook.

       Dit is maklik om te sê dat ek in Jesus Christus glo (of is dit?); dit is maklik om te sê dat ek van harte glo dat God die hemel en die aarde en alles wat daarop en daarin is, geskape het (of is dit?), maar daar is soveel fasette van geloof wat nie so eenvoudig is nie en dan moet ons ook nog oppas dat ons nie in die vangstrik van "positive confession" val nie. Jy sukkel dalk om werklik te glo dat die Here nog een of ander tyd jou kind gaan red – jy het dalk net op 'n plek gekom waar jy moed opgegee het. Jy is dalk op 'n plek waar jy net nie meer kan glo dat die Here jou van bepaalde slegte gewoontes/sonde of situasies kan of wil red nie. Indien dit wel die geval met jou is, is hierdie hoofstuk en die gedeelte waarna ons vanoggend gaan kyk nét vir jou (en vir my).

3.    GELOOF:
       In v.1 gee die skrywer vir ons 'n pragtige definisie van wat geloof werklik is ~ Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Hoop en geloof gaan dus hand-aan-hand vir die skrywer. Geloof is dus om vooruit te kyk na die dinge waarop ons hoop en dit natuurlik word gebaseer op ons oortuiging dat God 'n betroubare God is. Petrus som dit pragtig op in 1 Pet.1:3 wanneer hy sê ~ Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop. Hoe sterker ons geloof, hoe groter en sterker is ons hoop.

       Die skrywer gee aan sy lesers hierdie definisie van geloof en hoop deur, omdat hy weet dat daar geweldige vervolging op sy lesers wag en dat die sleutel tot oorlewing, gesetel lê in geloof en in hoop. Dit is waarom hy in 10:38, die woorde van Hab.2:4 aanhaal ~ En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie. Geloof lei derhalwe tot hoop en hoop lei weer tot geloof. Sonder geloof kan geen mens hoop hê nie en sonder hoop kan jy ook nie geloof hê nie.

       Ons moet verstaan dat hierdie hoop en geloof, nié 'n gevoel is nie en beslis ook nié positiewe belydenis nie ("positive confession" – "to speak stuff into existence"). Geloof en hoop is gebaseer op 'n absolute vaste oortuiging dat God se Woord onkreukbaar waar is en dat ek daarom 'n hoop kan koester op die positiewe uitkoms van al die beloftes in die Woord – ek weet, dat ek weet, dat ek weet, dat daar 'n ewige en heerlike lewe wag op die gelowige die oomblik as hy afsterwe – want die Woord leer dit en ware geloof is om dit te wéét en daarom het ons hoop op 'n beter en ewige lewe in die hiernamaals. Hoe kan ons weet dat hierdie geloof en hoop eg is? Rom.5:5 ~ ...en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

            Ons lees in v.1a ~ Om te glo, is om seker te wees... Die OAV sê ~ DIE geloof dan is ’n vaste vertroue. Hierdie uitdrukking "om seker te wees", of om "'n vaste vertroue" te hê, kom van die Griekse woord ὑπόστασις (hypostasis) en kan o.a. vertaal word met "fondasie". V.1a handel dan oor dié dinge wat in die toekoms lê en waarop elke gelowige se hart ingestel is en geloof het tot gevolg dat ons substansie/grond het vir ons hoop – geloof vorm die fondasie vir ons hoop – as ons nie oor geloof beskik het nie, sou ons nie enige hoop kon koester nie – nie op 'n opstanding nie (1 Pet.1:3 ~ Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word); nie op die wederkoms van die Here Jesus nie (Titus 2:13 ~ ...terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn); nie op 'n ewige lewe nie (1 Joh.3:2-3 ~ Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is) (verheerliking) en sonder geloof sal ons geen hoop daarop kan koester om eendag saam met Christus te kan regeer nie ~ ...as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer (2 Tim.2:12a).

       In die tweede gedeelte van v.1 skryf die skrywer oor ~ ...die dinge wat ons nie sien nie. Hier gaan hy 'n stappie verder as in die eerste helfte van die vers, want nou impliseer hy 'n reaksie en hierdie reaksie is optrede – die persoon wat glo, lééf sy geloof – sy lewe word toegewy aan dít waarvan sy verstand en gees van oortuig is. Noag is vir ons 'n uitstekende voorbeeld – hy het vas geglo dat dit wat die Here vir hom gesê het, gaan plaasvind en daarom het hy, ten spyte van mense wat hom gespot het en dalk ook ten spyte van die feit dat hy nie eens geweet het hoe om 'n boot te bou nie, sy lewe daaraan gewy het om die Ark te bou – 'n hele 120 jaar lank – "hy het geweet dat hy weet"! Noag se geloof was gebaseer op God se Woord en nie op wat hy kon sien nie. Dit wat hy innerlik geglo het, het hy uiterlik gedoen – geen mens wat buite die Here staan, kan innerlik glo en uiterlik doen nie en daarom weet ons dat God die Gewer van geloof is en dat dit nie deur die mens "opgeklits" kan word nie ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God (Ef.2:8).

       In v.2 bemoedig die skrywer sy lesers, deur hulle daaraan te herinner dat daar baie gelowiges voor hulle (en voor ons) in geloof opgetree het en dat dat dit God nog altyd behaag het en Hy het erkenning daarvoor gegee. Henog (v.5) is 'n goeie voorbeeld hier, deurdat sy geloof God so behaag het, dat God hom persoonlik weggeneem het, trouens 1 Pet.1:5 leer ons ook dat geloof deur God beloon word ~ En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Sonder geloof kan die mens God dus nie behaag nie en sonder geloof kan die mens geen beloning ontvang van God nie – die beloning van 'n ewige lewe.

       Met dit alles in gedagte begin die skrywer en gee hy in vv.3-7 'n beskrywing van geloof en wel aan die hand van die skepping (v.3); geloof en die mens se redding (v.4); geloof en gelowiges se verheerliking (vv.5-6) en laastens die gebrek aan geloof en die gevolglike oordeel van God (v.7).

·           Geloof en die skepping:
       V.3 neem ons terug na die heel begin van die menslike bestaan, nl. tot by die skepping.

       Daar is baie mense, trouens die meerderheid van mense, wat nié die getuienis van die Bybel aanvaar van hoe alles totstand gekom het nie. Die probleem met die skeptici is dat geen mens teenwoordig was toe God die heelal geskep het nie – so vra God dan bv. aan Job ~ Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het (Job38:4). Daar is maar net een van twee maniere om "die waarheid" t.o.v. die skepping te kan bepaal – enersyds om daaroor te bespiegel en met allerlei onwetenskaplike teorieë na vore te kom, soos die evolusieleer (hierdie leer kon nog nooit empiries bewys word nie), of om andersyds, God se Woord daarvoor te neem en dit te glo ~ In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. 3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.... (Gen.1:1-3).

       Wat ook al die mens se oortuiging – in beide gevalle moet geloof toegepas word – óf jy aanvaar en glo wat God gesê het, óf jy glo 'n menslik-uitgedinkte teorie wat nie eens deur die wetenskap bewys kan word nie (daar is voorwaar 'n "missing link"!).

       V.3 vestig ons aandag op die dinge wat ons kan sien – die sterre; die wolke; berge; diere; die mens, ens. en wat meer is, v.3 sê vir ons dat dit alles nié uit iets geformeer is nie, maar deur God wat dit "totstand gespreek" het – Sy Woord het alles totstand gebring. Die "siende" in die natuur lei ons dus om te glo in God die Skepper.  Soos ons SOLA5 geloofsbelydenis dit baie mooi stel: In the beginning the Triune God created the heavens and the earth out of nothing, by the power of his word, in six days according to Scripture. God created everything good and perfect for the glory of his own name. God created mankind, male and female, in his own image. The whole human race is descended from Adam and Eve, the first man and woman. God also created angels as moral, personal and spiritual beings.

·           Geloof en redding:
       In v.4 begin die Hebreërskrywer om die eerste geloofsheld te vermeld uit 'n lys van geloofshelde uit die verlede wat die advent, of naderende koms van Christus, vooraf gegaan het. Hier word Abel dan heel eerste vermeld. Behalwe dat ons in Gen.4 lees van Abel  se geboorte; die feit dat hy 'n veeboer was; van sy offer wat hy aan God gebring het en wat deur God aanvaar was en dan ook van sy geweldadige dood aan die hand van sy broer Kain, weet ons nie veel meer van hom nie. Wat wel van belang is, is dat sy offer meer aanvaarbaar was vir God as Kain s'n en die vraag wat ons kan vra is: Waarom was juis sý offer meer aanvaarbaar? Wat was die verskil tussen sy en Kain se offers?  Ons antwoord lê in v.4a opgesluit ~ Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer aan God gebring as Kain. Hier is twee dinge wat uitstaan:
-       Abel het geglo.
-      Abel het 'n beter offer gebring.

       Heel eerste moet ons verstaan dat dit nie hier gaan oor 'n bloedoffer al dan nie, want eneryds word daar nêrens in Genesis vermeld dat die offer wat hulle gebring het, sondeoffers was waar bloed 'n vereiste was nie. Ook die feit dat Abel vet van sy kleinvee gebring het, dui vir ons daarop dat hierdie offer nie 'n sondeoffer was nie, maar eerder 'n dankoffer (Daarna moet hy van die dankoffer die vet as vuuroffer aan die Here bring: die hele vetstert—naby die stuitjie moet hy dit wegneem—en die vet wat oor die binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is, en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die lewer—by die niere moet hy dit wegneem – Lev.3:9-10).
      
       Die feit dat Abel 'n beter offer gebring het is die kruks van die saak. By implikasie sien ons derhalwe dat Kain by wyse van spreke 'n derderangse offer vir God gebring het en nie soos die latere Levitiese Wette, 'n offer wat die eerstevrugte vereis het nie ~ Wanneer jy vir die Here ’n graanoffer uit die eerste opbrengs van die oes aanbied, kan dit gebraaide koring of stampkoring wees. Jy bied dit aan as die graanoffer uit die eerste opbrengs van jou oes (Lev.2:14). Die feit dat Kain nie 'n diereoffer gebring het en derhalwe 'n bloedoffer nie, is dus nie die probleem nie (Abel het ook nie 'n bloedoffer gebring nie – vet), die probleem wat hier geïmpliseer word, is dat hy nie van sy beste graan gebring het nie – nie van sy eerste opbrengs nie, terwyl Abel wel van sy eersgebore vee gebring het (die heel beste!) – daarvoor word Abel geprys en word sy offer aanvaar.

       Die heel belangrikste egter en dit is wat ons teksvers ook vir ons sê, is dat Abel sy offer in geloof gebring het en daarom het God 'n behae in sy offer gehad. Daarteenoor het Kain nié sy offer in geloof gebring nie – lei ons dit af? Ja, ons kan seker sê dat 'n mens dit hier kan aflei, maar as ons na die konteks van ons Skriflesing kyk, sien ons twee verse verder dat die Hebreërskrywer vir ons sê ~ 6As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. Die implikasie dus – Kain het nie geglo nie.

       Die afwesigheid van geloof implisieer dat God met niks tevrede sal wees wat ons as mens vir Hom bied nie. So gaan baie mense bv. kerk toe op 'n Sondag en dink dat dit God tevrede sal stel, maar as so 'n persoon nie uit geloofsoortuiging kerk toe gaan nie, is sy offer nie 'n aanneemlike offer vir God nie. Ons sal dan ook mettertyd in die volgende klompie verse sien hoe belangrik geloof en die regte gesindheid is, maar later meer daaroor.

·           Geloof en uiteindelike verheerliking:
       Die tweede man in die lys van geloofshelde wat hier in Hebr.11:5 vermeld word, is Henog. Van Henog weet ons ook nie veel nie, trouens al wat ons van hom weet is wat Gen.5:18-24 vir ons leer en daar sien ons dat Henog die pa van Metusalag was en dat hy 365 jaar oud geword het. Hy het baie na aan God geleef, sê v.24 (die meeste vertalings – insluitende die OAV, vertaal dit met, Henog het met God gewandel) en dan sluit v.24 as volg af ~ ...en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na Hom toe weggeneem. Dit is interessant dat, ten spyte van die feit dat daar so min oor Henog in die Woord gesê word, hy nogtans in die Joodse geskiedskrywes en godsdiens, 'n baie belangrike rol speel – so belangrik, dat hy selfs in die Rabbynse tradisie, 'n "tussengangerrol" tussen God en die mens speel en wel op grond van die feit dat hy 'n volmaakte lewe gelei het (volgens die Joodse tradisie).

       Henog was weggeneem – hierdie "wegneem" is nie maar net 'n eufemisme ('n versagtende uitdrukking of omskrywing) vir die woord "dood" soos wat baie moderne teoloë deesdae leer nie – v.5b bevestig tog immers die feit dat hy lewend opgeneem is in die hemel ~ ...sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Indien hy gesterf het, sou dit ook van hom gesê gewees het, soos met al die ander Patriarge.

       Ons vind hierdie selfde uitdrukking, sonder dat hy gesterf het, ook in Luk.2:26 waar daar vir Simeon gesê is dat hy nie sal sterwe voor hy nie vir Jesus gesien het nie – die uitdrukking, "nie sterwe nie" is presies dieselfde as wat daar van Henog gesê is.

       Hierdie wegneem van Henog maak dan ook van hom 'n prototipe (saam met die latere Elia) van die gelowiges wat nog in die lewe sal wees wanneer Christus gaan terugkeer na die aarde – hy sal dus nooit die dood as ervaring smaak nie (1 Tes.4:15-17).

       Waarom word ons deur die Hebreërskrywer verwys na Henog? Omdat dit vir ons die algemene beginsel van v.6 beklemtoon en illustreer ~ As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. Sonder geloof is ons sonder God en sonder God is daar geen hoop vir ons nie ~ In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld (Ef.2:12). En wat is hierdie hoop? Die hoop om Christus se wederkoms positief te ervaar en 'n hoop op 'n ewige lewe te kan hê.

       Henog het oor geloof beskik; Henog het na aan die Here gewandel en daarom het hy oor hoop beskik – sy geloof het dus uitgeloop op verheerliking en daarom het die skrywer van Hebreërs, sy lesers wat vervolging in die nabye toekoms in die gesig sou staar, bemoedig met Henog se voorbeeld – wandel na aan God en julle sal uiteindelik die wenstreep en die gepaardgaande prys behaal ~ Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. 8Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms (2 Tim.4:7-8).

·           Geloof en oordeel:
       Ons sluit ons gedeelte vanoggend af met die derde geloofsheld, nl. Noag in v.7. Noag het net soos Henog, ...met God gewandel (OAV), of soos die NAV dit stel ~ ...naby God geleef. Noag se verhaal vind ons in Gen.5:28-9:29.

       Noag het tussen sy tydgenote uitgestaan as dié een wat geluister het toe hy gewaarsku is; wat vertrou het op die onsienlike en wat opgetree het in heilige vrees – hy het die Ark gebou ten spyte daarvan dat hy die spot en hoon van die mense van sy dag op die hals gehaal het. Hy was m.a.w. 'n man van ware geloof en op grond van sy geloof is sy familie almal gered, maar hy het ook geweet dat dit ...verskriklik (is) om in die hande van die lewende God te val (Hebr.10:31).

       V.7b is 'n interessante vers ~ Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom. Wat die eerste opmerking betref, nl. dat sy geloof 'n veroordeling vir die wêreld was, impliseer nié dat hy self die mensdom veroordeel het nie, want dit is alleen God wat in Sy soewereiniteit en heilige optrede, die mensdom uitgewis het vir hul ongeregtigheid, maar Noag se optrede – sy geloof en gehoorsaamheid, het hulle so aangekla, dat hulle hulself in die proses veroordeel het. Net so kan ons ook kragtige getuies wees en kan ons geloof en gehoorsaamheid tot veroordeling van mense rondom ons dien!

       Vir ons wat die gawe van geloof ontvang het, wag daar 'n onbeskryflike ewigheid ~ God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. 10Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo (2 Tes.1:6-10).

       Die dag van Christus se wederkoms sal nie alleen die dag van redding en verheerliking vir gelowiges wees nie, maar dit sal terselfdertyd die dag van ewige oordeel wees vir hulle wie nie in Jesus Christus geglo het nie. Die wêreld gaan ook geen verskoning op daardie verskiklike dag hê nie, want die Here het die wêreld reeds vooruit gewaarksu deur die Sondvloed – Jesus het dieselfde boodskap aan die wêreld gebring toe Hy gesê het ~ Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie (Matt.24:37-42).

4.    AFSLUITING:
       Alle mense wat in Christus Jesus glo is regverdig verklaar – ja welsiwaar is ons dit nie altyd in die praktyk nie, maar in posisie voor God is ons reeds regverdig verklaar. Ons het Christus se geregtigheid deelagtig geword, die dag toe ons uit genade verlos is en ons, ons geloof in Hom geplaas het (natuurlik ook 'n genade werking) ~ Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus (Rom.3:21-24).

       God die Vader sien ons vandag en tot in ewigheid soos wat Hy Sy Seun, Jesus Christus sien – heilig en regverdig, want deur geloof is ons ín die Seun!



[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 20 Oktober2013.