Monday, November 30, 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (22 November 2009)

Goeie Werke of Werke van die Vlees - 01 [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Jak. 2:14-26 ~ 14 Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15 Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16 en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17 So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. 18 Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. 19 Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook-en hulle sidder van angs. 20 Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? 21 Ons voorvader Abraham het sy seun Isak op die altaar gelê. Is dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God hom vrygespreek het nie? 22 Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaard gegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het. 23 So is die Skrif vervul wat sê: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek,” en hy is ’n vriend van God genoem. 24 Julle sien dus dat ’n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie. 25 Is Ragab die prostituut nie ook vrygespreek op grond van wat sy gedoen het toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat ontkom het nie? 26 ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

2. TEKSVERS:
Jak. 2:14-17 ~ 14 Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15 Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16 en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17 So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

3. INLEIDING:
Baie gelowiges voel baie ongemaklik met die brief van Jakobus, omdat hulle voel dat dit lynreg teen Paulus se lering staan.

Jakobus beklemtoon die feit dat geloof dood is sonder werke, so sê hy in vers 17 - So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood; in vers 20 herhaal hy weer dieselfde boodskap, deur te sê: Jou dwaas, wil jy ’n bewys hê dat geloof sonder dade nutteloos is? en in vers 26 sê hy, ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

Die kern van Paulus se prediking in veral Galasiërs en Romeine, maar ook in sy ander briewe, was altyd die feit dat ons uit genade gered word, deur geloof en hierdie redding kom nie uit onsself nie, want dit is ’n gawe van God.

Paulus sê in Ef. 2:8: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Paulus beklemtoon dus die feit dat ons op grond van genade en van geloof en net hierdie twee dinge alleen, gered word. Ons regverdiging en die ontvangs van die Heilige Gees het dus niks te doen met ons eie werke óf gehoorsaamheid aan die wet nie.

Paulus het terselfdertyd enige persoon wat geleer het dat jy geregverdig word deur werke, met al sy krag en mag geopponeer.

Wie is dan nou eintlik reg en wie is verkeerd en hoe is dit moontlik dat een moontlik verkeerd kan wees en nogtans word hy aangehaal in die Woord van God? Het ons hier
te doen met twee strome in die teologie wat in konflik staan teenoor mekaar?

4. JAKOBUS vs. PAULUS:
Wanneer ons kyk na die briewe in die Nuwe Testament, moet ons verstaan dat nie een van hierdie briewe aan óf dieselfde mense geskryf is nie; óf op dieselfde tyd geskryf is nie; óf onder dieselfde omstandighede geskryf is nie; óf met dieselfde motief geskryf is nie.

As ons dít in gedagte hou, begin ons beter verstaan dat hier tog dalk nie konflik in opinie bestaan nie.

’n Verdere feit wat ons in gedagte moet hou, is dat Paulus en Jakobus, onder die woorde “geloof” en “werke” nie dieselfde ding verstaan nie.

Wat “geloof” aan betref, stel Paulus primêr belang in geloof wat die grondslag vorm vir die Christelike lewe. En dit is waarskynlik hierdie selfde “geloof” waarna Jakobus verwys in 2:19, wanneer hy sê: Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Jakobus verklaar dus dat dit goed is, wanneer jy in God glo. Daar bestaan dus geen behoefte by hom om geloof, af te maak as minder belangrik, of selfs onbelangrik nie, inteendeel, in Jak. 2:5 sê hy juis dat diegene wat ryk is in die geloof, die Koninkryk van God sal beërwe.

Jakobus ontken dus nêrens die noodsaak aan geloof vir redding nie. Jakobus laat val sy soeklig op die kwaliteit van geloof van sg. volwasse gelowiges en die ontwikkeling of groei van die jong gelowige.

Wanneer Paulus van “werke” praat, praat hy van “werke van die wet”, terwyl Jakobus dit nooit in daardie sin gebruik nie, maar eerder in die sin van barmhartigheidsdiens, of liefdesdiens.

Die tipe werke waarvan Jakobus dan praat, is presies dieselfde as dié wat Paulus aanprys, wanneer hy praat van “geloof wat tot uiting kom in liefde.”

Ene Douglas Moo beskryf dit as volg: “Die verskil tussen Jakobus en Paulus bestaan in die opeenvolging van werke en bekering: Paulus ontken die invloed van ‘voor-bekerings’ werke, terwyl Jakobus pleit vir die absolute noodsaaklikheid van na- bekeringswerke”.

Vir baie jare moes “arme Jakobus” homself altyd teen Paulus verdedig. Een van die redes was dat baie mense – Paulus altyd gesien het as meer geestelik volwasse, of verder gevorder op die teologiese leer. Dit alles was uiters onregverdig teenoor Jakobus, omdat Paulus en Jakobus se teologie, of standpunte teen die agtergrond van hul eie konteks gelees moet word en nie teen ’n agtergrond van sg. “geestelikheid” nie.

Ene Richard Bauckham sê dat, indien Jakobus, Paulus se standpunt oor geloof, probeer ondermyn, hy nié baie goed daarin slaag nie. Die hoofsaak waaroor dit vir Paulus gaan, soos bv. die besnydenis; die saam eet met heidene en ander voedselwette, ens., word nie eens aangeraak deur Jakobus nie. Indien Jakobus dan besig is om te verskil van Paulus, dan sou hy tog sekerlik hierdie aspekte aangesny het. Inteendeel, wanneer ons Jakobus se brief teen die agtergrond van verskeie ander Joodse geskrifte lees wat oor dieselfde sake handel, dan maak Jakobus se brief baie meer sin. Ons het dus nie nodig om ’n debat te voer oor wie nou eintlik reg is nie – Jakobus, of Paulus nie. Nee - Jakobus se fokus lê net op ’n heel ander plek.

Die verskille wat daar moontlik tussen Jakobus en Paulus mag bestaan, word ongelukkig te dikwels uitgelig, in plaas daarvan dat daar eerder gekyk word na die hordes ooreenstemmings tussen die twee Bybelskrywers. Die “verskille” tussen die twee lê absoluut net op die oppervlak en eintlik vul die twee mekaar pragtig aan.

Ons het dan gesien dat Jakobus sy soeklig laat val op die kwaliteit van geloof onder gelowiges, terwyl Paulus weer na “werke van die wet” verwys. Paulus se “werke- uitdrukking” kom dus vóór wedergeboorte, m.a.w. dat géén mens gered kan word deur werke nie, terwyl Jakobus weer die noodsaak van werke ná wedergeboorte beklemtoon en wel in terme van o.a. barmhartigheidsdiens, of liefdesdiens ens.

5. DIE AARD VAN OPREGTE GELOOF:
Kom ons kyk nou na die aard van ware geloof. In vers 14 vra Jakobus die vraag: Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? Eintlik het Jakobus hierdie vraag al in die vorige gedeeltes van sy brief reeds beantwoord, deurdat hy dit aanmekaar beklemtoon dat ware en opregte geloof tot uitdrukking kom in aktiewe, God-verheerlikende werke.

In die lig van wat Jakobus tot nou toe geskryf het, is die logiese antwoord op sy vraag, of iemand gered kan word sonder werke, ’n baie besliste “NEE”.

Belangrik om daarop te let, is die feit dat Jakobus in sy redenasie, nié die klem laat val op geloof wat aanvanklik nodig is vir redding, en/of die volgehoue geloof wat nodig is om die “wedloop te voltooi nie”, néé, hy laat val die soeklig op die kontras tussen vergeefse -, of vrugtelose geloof en aan die anderkant, effektiewe -, of doeltreffende geloof.

Die werke of dade wat Jakobus in gedagte het, is soos reeds gesê, dade wat verband hou met dade van welwillendheid en vrygewigheid, soos liefdesgawes, om gasvry te wees ens., maar die feit dat hy na Abraham en Ragab verwys, dui tog ook aan dat hy iets meer in gedagte het, as bloot net vrygewigheid.

Jakobus sê dus vir ons, dat geloof wat bloot net ’n openbare en mondelingse getuienis is, of ’n verstandelike en teologiese toe-eiening van ’n “suiwere” leer, onvoldoende is vir opregte en ware geloof. Indien daar nie getuienis is van ’n geloofslewe van opregte dade nie, is dit ’n futiele geloof wat nié kan uitloop op redding nie.

Om hierdie feit te illustreer, kom Jakobus soos ’n ware en goeie leraar en hy illustreer dít wat hy sê, aan die hand van die voorbeeld in vers 15-16: Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16 en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan?

Jakobus sê dus dat sulke geloof soos wat hierdie hardvogtige mense in verse 15-16 openbaar, niks anders as dood is nie.

Dit laat my dink aan die verhaal van ’n man wie se perd gevrek het en terwyl daar ’n klomp mense rondom hom en die perd staan en simpatiseer met hom, kom daar ’n predikant aan – hy het sy hoed van sy kop gehaal en na die man wat die hardste en meeste gesimpatiseer het, uitgehou en vir hom gesê: “Ek is ’n R 100 jammer, hoeveel is jy jammer?” Daarna het hy die hoed in die rondte gestuur. ’n Belydenis vereis optrede, anders is dit nie opreg nie.

Wanneer ons geneig is om te praat oor ons geloof in Christus en die waarheid van Sy Woord, maar ons doen nie veel nie, is ons in geestelike moeilikheid.

Wanneer ons nie veel oor het vir andere nie; wanneer ons nie bereid is om ons hande vuil te maak vir andere nie; wanneer ons nie bereid is om ons geld met andere te deel nie; wanneer ons nie simpatie met andere het nie; wanneer ons nie tyd maak vir andere nie; wanneer ons nie gasvry is nie ens. ens., moet ons voorraadopname maak van ons geestelike lewe – moet ons kyk wat in ons siele aan die gang is.

Jakobus sê: ...as (geloof) nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (vers 17).

Dit is so ironies as Jakobus in vers 18b sê: ...wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade. Luister mooi wat hy sê: As ons twee mense hier langs mekaar sit en die een praat net die heeltyd oor sy geloof en die ander een doen bv. goed aan andere – wie sal jy glo is die gelowige?

Dit is verder interessant om te sien dat Jakobus se broer, die Here Jesus self, saam met Jakobus stem, wanneer Hy Sy gelykenis van die Saaier in Matt. 13 vertel. Die eerste drie tipes grond, het geen vrug opgelewer nie, maar hoor wat sê Hy in Matt 13:23 - Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ’n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig.” Ware, opregte geloof bring vrugte voort en hierdie vrugte is optrede; dit is aksie! Aan die einde van die Bergpredikasie waarsku Jesus ons, as Hy sê: Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ’n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? 17 Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. 18 ’n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom nie goeie vrugte nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. 20 So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.” 21 “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.

U sal met my saamstem, dat geen voël kan vlieg met net een vlerk nie. Geloof en werke is soos die vlerke van ’n voël. Daar kan geen lewe wees as daar net een van die twee teenwoordig is nie.

Jakobus sluit sy betoog af met amper ’n absurde vergelyking. Hy sê in vers 19 ~ Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook-en hulle sidder van angs.

Daar is nie ’n enkele demoon in die ganse heelal wat nie glo dat God die enigste ware, lewende en heilige God is nie. Daar is nie ’n enkele demoon wat nie glo en weet dat God ’n Drie- enige God is nie – hulle glo in God die Vader, God die Seun, Jesus Christus en God die Heilige Gees. Daar is waarskynlik talle demone, indien nie almal nie, wat jou en my persoonlik ken. Ja, daar is waarskynlik selfs demone wat die “1689 belydenis” uit hul koppe ken.

Sommige demone is briljante teoloë – inteendeel, sommige demone beskik oor beter teologie as waaroor ons saam mag beskik, MAAR, Jakobus sê: Die bose geeste glo dit ook-en hulle sidder van angs.

Hoor ’n bietjie wat sê Lukas in Hand. 8:13 ~ Selfs Simon het gelowig geword. Hy is gedoop en het Filippus oral vergesel. Hy was verstom oor die groot tekens en kragte wat hy sien gebeur het. ’n Entjie verder lees ons in verse 18-23: Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang as die apostels hulle die hande oplê, het hy hulle geld aangebied 19 en gesê: “Gee my ook hierdie bevoegdheid sodat elkeen wat ek die hande oplê, die Heilige Gees kan ontvang.” 20 Maar Petrus antwoord hom: “Gaan na die verderf met jou geld en al! Dink jy jy kan die gawe van God met geld koop? 21 In hierdie werk is daar vir jou geen plek nie, want jou gesindheid teenoor God is nie reg nie. 22 Bekeer jou van hierdie dwaling en bid tot die Here: miskien sal Hy jou hierdie gesindheid van jou hart vergewe. 23Ek sien jy is deur afguns vergiftig en deur die sonde verstrik.

Simon se geloof het vir hom net so min beteken as wat die demone se geloof vir hulle beteken, inteendeel, vir hulle beteken dit dalk selfs ’n bietjie meer as wat dit vir Simon beteken het, want ten minste sidder die demone van angs.

6. SLOT:
Het jy “twee vlerke”? Waarom “twee vlerke”? Besef jy waaruit jy en ek gered is? Besef jy hoe groot God se genade is om ons te red? Beskik jy oor ’n ewigheidsperspektief? Dan sal jy uit dankbaarheid goed wíl doen, ten einde lof aan jou Koning te bring en Hom te behaag deur jou optrede en te getuig van wie jy aanbid!

Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 22 November 2009

Monday, November 16, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 15 November 2009

Openbaring Ontsluit - 18 (Die 5de & 6de Trompette van God se Oordeel) [1]

Indien u hierdie Bybdelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons gaan nou kyk na die vyfde en sesde trompette van God se oordeel. Reeds in Luk.10:17-20 praat Jesus van hierdie vyfde trompet en sê wie of wat hierdie trompet verteenwoordig ~ Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.” 18 Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val. 19 Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. 20 En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” Johannes sien dus met die vyfde trompet, ’n ster uit die hemel val en hierdie ster is Satan. In Openb.12:9 word hy as die groot draak beskryf wat uit die hemel op die aarde neergewerp is.

2. VERS VIR VERS ONTLEDING:
Die Vyfde Trompet (Openb.9:1-12):

· Openb.9:1-3 ~ Die vyfde engel het toe op sy trompet geblaas. Ek het ’n ster gesien wat van die hemel af op die aarde geval het, en die sleutel van die skag na die onderaardse diepte is aan hom gegee. 2 Hy het toe die skag na die onderaardse diepte oopgemaak, en daar het rook uit die skag uit opgestyg soos die rook van ’n groot oond. Deur die skag se rook is die son verduister en het die lug donker geword. 3 Toe het daar uit die rook sprinkane oor die aarde uitgeswerm. Aan hulle is dieselfde vermoë gegee as wat skerpioene op aarde het. Johannes sien hier, hoe dat die sleutel van die put van die afgrond aan Satan gegee word (dit hou verband met die poel van vuur waarvan ons later in Openb. 20 sal lees). Hier kry ons nou drek te doen met die hel self. Wat interessant is, is put gesetel (Luk.8:31). Wanneer hierdie demone “uit die put op ’n sending uit is”, beskik hulle oor ’n dodelike mag tot geestelike en morele besoedeling, skade en selfs vernietiging. Hierdie feit word beklemtoon en geïllustreer in vers 2 ~ Deur die skag se rook is die son verduister en het die lug donker geword.

Ons sien dan dat twee dinge gebeur met die blaas van die vyfde trompet:
o V.2 – Die skag na die onderaardse, of die bodemlose put word oopgemaak en daar kom rook uit – so dig, dat dit die son verduister en die lug donker gemaak het.
o V.3 – Toe het daar uit die rook sprinkane oor die aarde uitgeswerm. Aan hulle is dieselfde vermoë gegee as wat skerpioene op aarde het. Hierdie sprinkane word vir ons in verse 7-10 simbolies beskryf en volgens vers 11 het hulle ’n koning wie se naam beide in die Hebreeus (“Abaddon”) en die Grieks (“Apollion”), “Verwoester”, “Verdelger”, of die “Verderfengel” beteken.

In die lig van verse 4 tot 6 word hier dus vir ons ’n onrusbarende prentjie geskilder, want hulle missie is om diegene wie nie die seël van God op hul voorhoofde het nie, te verwoes – dit mag selfs vervolging en marteling vir ’n tydperk insluit.

Sprinkane saai geweldige verwoesting (ek het dikwels in my kinderdae in die Karoo gesien hoe ’n swerm sprinkane, letterlik die son verdof wanneer hulle in die lug vlieg, oppad na bv. ’n lusernland en nadat hulle op so ’n land geland het, sal daar na ’n paar uur, letterlik niks oor wees van daardie lusern nie) – dink maar aan die sprinkane in Eks.10:4-15 ook, asook Joël 2:2-11 ~ ...as hy (die swerm sprinkane) verby is, is dit ’n onbewoonbare woestyn. Hy laat niks oorbly nie (sien ook: Nah.3:15; Deut.8 en 1Kon.8).

Hierdie sprinkane van Openb.9, is egter nie die sprinkane wat ons ken nie – hierdie sprinkane is die gevalle bose en demoniese engele waarvan o.a. 2Pet.2:4 praat ~ God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel. Toe Satan uit die hemel geval het, het ’n baie groot hoeveelheid engele saam met die satan geval en hulle wag nog hul oordeel saam met die satan af – hierdie oordele sal op die Dag van die Here geskied (soos reeds gesien). Maar tot tyd en wyl is hulle alles behalwe passief, want 1Pet.5:8 sê vir ons dat die satan soos ’n brullende leeu rondloop.

Vers 3 en 10 sê vir ons dat die foltering wat hierdie demone toepas, soos dié van skerpioene is. Ons weet dat ’n skerpioensteek gewoonlik nie dodelik is nie, maar dat dit onbeskryflike pyn en lyding veroorsaak. Dit veroorsaak kroniese swaarkry en ruïnering, maar nie totale vernietiging nie. Siekte wat mens kreupel laat, maar nie dood nie. Dit kan vergelyk word met bv. standpunte en filosofieë wat plesier en voorspoed belowe, maar wat uiteindelik lei tot spyt en leegheid en ontnugtering. Hierdie foltering is so erg dat mense graag selfmoord sal wil pleeg, maar hulle moed en durf laat hulle in die steek.

· Openb.9:4-6 ~ Hulle is aangesê om nie die gras van die aarde, die plante en die bome kwaad aan te doen nie, maar net die mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie. 5 Hulle is nie toegelaat om die mense dood te maak nie, maar wel om hulle vyf maande lank te pynig. Die pyn wat hulle veroorsaak, is soos die pyn as ’n skerpioen ’n mens steek. 6 In daardie tyd sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; hulle sal verlang om te sterwe, maar die dood sal hulle ontwyk. Ons sien God se genadige teenwoordigheid weereens hier “in aksie”. Die helsemagte het nie onbeperkte vryheid en mag nie en ons vind hier ’n viervoudige beperking op hul aktiwiteite:
o Vers 4. Dit was die Engel wat die eerste trompet geblaas het, se taak om die gras en plante en bome op aarde te tref en nié Satan of sy demone nie (8:6). Satan se “bediening” is dus gerig teen die mens en hy sal hoogstens die natuur misbruik om die mens “by te kom”.

o Vers 4 is ook baie duidelik daaroor, nl. dat die demone nié die gelowiges skade kan berokken nie – hulle is dus ook op hierdie vlak beperk. Watter plae, of beproewing, of pyn, of wat ook al, dit is nié oordele wat op die gelowige losbars nie, maar is situasies en omstandighede wat as instrumente tot ons reiniging en heiligmaking dien ~ Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop (Rom.5:3-4). Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7 sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus (1Pet:1:6-7 - sien ook Jak.1:2-4). Dieselfde swaarkry vernietig die trots en hoop van die sondaar, maar aan die anderkant wag die ewige heerlikheid op God se kinders wat hierdie selfde swaarkry ervaar – 2Kor.4:16-18 ~ Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17 Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. Is dit nie wonderlik nie!
o Die derde beperking wat op die demone gelê is, is dat hulle nie kan dood nie, maar hulle kan wel lyding veroorsaak – lyding soos wat skerpioene veroorsaak, maar so erg dat diegene wat onder die demone se lyding gebuk gaan, wens dat hulle eerder kan sterf. Hierdie lyding en beproewing word gemik teen die harte of siele van die sondaars, bv. kwellinge wat ervaar word; terneergedruktheid; depressie en selfs besetting deur demone.
o Laastens word die mag tot lyding en vervolging net vir “vyf maande” aan hulle verleen. Hierdie tydperk van vyf maande, is die helfte van tien wat volledigheid impliseer. Hierdie “vyf maande” is dus ’n tydperk wat dui op ’n tydperk of “seisoen” wat nie vir altyd sal duur nie, maar wat net lank genoeg is om alle hoop op ’n ewige lewe, by diegene wat buite Christus staan, te verydel (v.5, 10). Weereens sien ons ook hier dat God in Sy oordele, genade beskikbaar het vir diegene wat Sy seël op hul voorhoofde het.

Hoor net wat sê John Piper in sy preek met die titel, Satan, World, Providence, Christ: Not until recently had I ever felt the weight of the fact that those outside Christ have no defense against the devil. God can restrain the devil from doing his maximum worst. But the world cannot. They are helpless before Satan’s supernatural power. They are utterly in his sway, except for God’s restraining providence. This should make us tremble for the hopelessness of the world and marvel at the magnitude of God’s power and grace to keep the world from being ten thousand times more violent and miserable than it is. (sien 1Joh.5:19; 2Kor.4:4; Ef.2:1-2). En dan, heelwat later sluit Piper af met hierdie woorde: The reason that union with Christ makes a great difference for the believer is that Christ achieved a decisive triumph over the devil at Calvary. He did not remove Satan from the world, but he disarmed him to the extent that the weapon of damnation was stripped from his hand. He cannot accuse believers of unforgiven sin. And therefore, he cannot bring them to utter ruin. He can hurt them physically and emotionally, even kill them. He can tempt them and incite others against them. But he cannot destroy them. Here is what happened at the cross.... En dan haal hy Kol.2:13-15 aan ~ Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. 14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. 15 Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.

· Openb.9:7-12 ~ Die sprinkane het gelyk soos perde wat regstaan vir oorlog. Op hulle koppe was daar iets soos krone wat gelyk het asof dit van goud is. Hulle gesigte was soos die gesigte van mense. 8 Hulle het lang hare gehad soos vrouens se hare, en hulle tande was soos dié van leeus. 9 Hulle borskaste was soos ysterharnasse. Die gedreun van hulle vlerke was soos die gedreun van baie strydwaens met perde wat opruk vir oorlog. 10 Hulle het sterte met angels soos dié van skerpioene; en in hulle sterte is hulle vermoë om die mense vyf maande lank kwaad aan te doen. 11 Hulle het die engel van die onderaardse diepte as koning oor hulle. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks het hy die naam Apollion. 12 Die eerste “Wee!” is verby. Kyk, daar kom nog twee hierna. Ons kom nou hier by ’n beskrywing van die handlangers van Satan. Net soos wat perde in die Woord beskou word as geweldadige, woeste en wrede krygers (soldate), net so word dieselfde betekenis geheg aan sprinkane.

Hierdie sprinkane word vir ons beskryf as verskriklike monsters: hulle lyk soos oorlogsperde ja, maar hulle het daarby gesigte wat soos mensgesigte lyk en hulle hare lyk soos dié van ’n vrou en hulle tande soos die van leeus. Hulle dra borsharnasse en die gedruis van hul vlerke klink soos dié van oorlogwaens en hulle het sterte met angels soos skerpioene. Soos wat ons vroeër gesien het, word hul koning, “die engel van die afgrond” genoem – in die Hebreeus is dit “Abaddon” en beteken “hel” of “verderf” en in die Grieks is dit “Apollion” wat “verderwer” beteken. Hierdie sprinkane se koning was dus die Engel van die Afgrond wat ’n verderwer reg uit die helse verderf is! Sekerlik is hierdie sprinkane nie letterlike sprinkane nie, want in die natuur het sprinkane tog ook nie ’n koning nie ~ ...sprinkane het nie ’n koning nie en tog trek die hele swerm in formasie (Spr.30:27). Hierdie beskrywing word egter vir ons gegee om te verduidelik wat se komplekse wesens hierdie demone is – hulle is dus presies soos wat Ef.6:12 hulle vir ons beskryf ~ Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

Ons geveg is dus duidelik nie teen letterlike sprinkane of mense nie, maar teen bose geeste in die lug. Dit is hartverskeurend om te besef dat die ongelowiges nie oor die borsharnas van geregtigheid en die helm van verlossing beskik nie en daarom “sitting ducks” vir die satan en sy bose magte is.

Die Sesde Trompet (Openb.9:13-21):
· Openb.9:13-16 ~ Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ’n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. 14 Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.” 15 Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat om ’n derde van die mensdom dood te maak. 16 Die aantal perderuiters van hulle leërs was miljoene der miljoene en nog ’n keer soveel. Ek het hulle getal gehoor. Nadat allerlei ellende die mensdom deur die toedoen van die demone, getref het (ellende wat gerig was op die siel van die ongelowiges), sien ons dat die doodsengel nou losgelaat word om ’n derde van die wêreld se bevolking te dood, a.g.v. hul eie bose lewens en hul optrede teen die kerk van die Here Jesus Christus.

Hierdie trompet ontketen menslike konflik in sy ergste graad. Nie alleen dui die stem wat vanuit die wierrookbak kom en voor die goue altaar gebring word, Goddelike ingrepe hier nie, maar ook dui dit op reaksie van God op die gebede van die gelowiges (6:9, 10; 8:3-5). Ons moet daarom nooit die krag van gebed onderskat nie.

Die blaas van die sesde trompet plaas die fokus op twee groepe wesens en mense. Eerstens is daar vier engele wat vasgebind was by die Eufraatrivier en hulle moes ontbind word ten einde uitgestuur te word om ’n universele opdrag uit te voer. Hierdie engele was voorberei vir hierdie oomblik (dag en datum) om ’n derde van die wêreldbevolking uit te wis.

Die woord “vasgemaak” of te wel “bind” hier in v.14 is in die Grieks "deo", wat nooit in die Openbaring boek in ’n positiewe sin gebruik word nie (20:2 ~ Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind) en derhalwe dui dit op ’n onwillige binding, wat teenstrydig is met die status van heilige engele. Hierdie engele moet dus “engele van die duisternis” wees (demone) – ’n afdeling dus van die sprinkane van verse 7-12 en hul opdrag was om oorlog aan te blaas. Let ook op van wie kom hierdie demone se opdrag – ... Ek het ’n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. 14 Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele....

Hierdie demone was vasgemaak by die Eufraatrivier en hulle moes hul vernietigingswerk van daar af doen. Die Eufraatrivier vorm die oostelike grens van Israel en dit was die plek vanwaar Israel se vyande in die verlede gewoonlik die land aangeval het (Jer.2:18; 13:4; 51:63; Openb.16:12). Johannes maak dus hier gebruik van historiese Bybelse aardrykskunde om die vreesaanjaende karakter van die naderende oordeel van God op ’n rebelse wêreld, te beskryf. God se optrede teen die wêreld vind dus nie per ongeluk plaas nie, maar is presies (dag en datum) beplan en bepaal – vers 15 ~ Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat.

Die tweede groep wat in hierdie verse ter sprake is, is die mensdom. Die satan misbruik mense en manipuleer hulle op uiters subtiele en slinkse wyse om mekaar te vernietig.

Vers 16 stel ons voor aan hierdie magte wat vernietigend te werk gaan, nl. Die aantal perderuiters van hulle leërs was miljoene der miljoene en nog ’n keer soveel. Hierdie geweldige getal dui vir ons op ’n skrikwekkende weermag van demone, wat uiters wreed en doelgerig was en wat geen genade betoon teenoor hul slagoffers nie. Hierdie demoniese magte veg saam met die menslike soldate wat verwoesting saai. Hierdie demoniese magte kan, benewens oorloë, ook betrokke wees in die saai van peste en allerlei ander ellendes (vergelyk v.20-21).

· Openb.9:17-19 ~ En in hierdie gesig het die perde en hulle ruiters só gelyk: hulle het vuurrooi, donkerblou en swaelgeel harnasse aangehad. Die perde se koppe was soos die koppe van leeus, en uit hulle bekke het daar vuur, rook en swael uitgekom. 18 Deur hierdie drie plae, die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgekom het, is ’n derde van die mensdom doodgemaak. 19 Die perde se vermoë om skade te doen, is in hulle bekke en ook in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee pynig hulle die mense. Hierdie kleurryke beskrywing van die ruiters en die perde dui vir ons enersyds daarop dat dit nie mense is wat op die perde ry nie, maar demone en dit dui verder op die verskeidenheid van wapentuig wat die demone gebruik. En die beskrywing van die perde weet ons nou al, is dié van oorlog en verwoesting, maar hier in vers 17-19, is hierdie buitengewone perde, wat dui op die grusaamheid van die verwoesting wat hulle gaan saai. Dit is te betwyfel of hier enige spesifieke oorlog in gedagte gehou moet word.

Die doel met die verwoesting wat ons in die voorafgaande verse gesien het, is om God se oordeel oor ’n sondige mensdom te illustreer.

· Openb.9:20-21 ~ Die ander mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het hulle egter nie bekeer nie. Hulle het aangehou met die aanbidding van bose geeste en van afgode wat hulle self gemaak het van goud, silwer, koper, klip en hout, en wat nie kan sien of hoor of loop nie. 21 Hulle het hulle ook nie daarvan bekeer om moord, towery, onsedelikheid en diefstal te pleeg nie. Johannes het vroeër in Openbaring ’n oproep gedoen op van die gemeentes in Klein-Asië om hulle te bekeer, anders sal hulle te doen kry met God se oordele (2:5, 16, 21-22; 3:19). In hierdie verse (20-21) sien ons wat die eindresultaat daarvan is om te weier om na God te draai in verootmoediging. Hulle hardkoppigheid lei tot die aanbidding van demone, asook die aanbidding van allerlei kultiese voorwerpe wat deur mense gemaak is (van goud, silwer, koper, klip en hout – Ps.115:4-7; 135:17; Jer.10:1-16; Dan.5:23). Hierdie afgodery lei dan ook na selfvernietigende optrede van die mens in die vorm van allerlei soorte misdade en sondige optrede.

3. TEN SLOTTE:
Te midde van hierdie verskriklike dinge wat vir ons hier in Openb.9 geskilder word, moet ons altyd onthou dat alles steeds onder God se beheer is en dat Sy doel met hierdie dinge is, om die onbekeerde mensdom wat in hul goddeloosheid volhard, te straf.

Na Sy opstanding verklaar Christus in Matt.28:18, dat alle mag in die hemel en op die aarde aan Hom gegee is. Die gelowiges wat egter die seël van God op hul voorhoofde het, kan nooit deur die hel of sy helsemagte vernietig word nie! Ja, as gelowiges moet ons saam met die ongelowiges onder die verwoesting van hierdie aarde deurloop en gebuk gaan onder die magte van die duisternis (in Hirosjima, W.O. II, ens. het duisende Christene ook omgekom), maar in Jesus Christus sal ons egter ewig voortleef in die teenwoordigheid van God.

Die sesde trompet rig ’n ernstige waarskuwing tot die mensdom en daarom, as jy jou knie nog nie voor Christus as Verlosser gebuig het nie, is die tyd nou daar!

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 15 November 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (15 November 2009)

ONS IS DOOD VIR DIE SONDE ! [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Hoe dikwels hoor ons nie dat gelowiges met oortuiging sê dat hulle glo dat Christus opgestaan het uit die dood. Ons bid dit; ons sê dit; ons bely dit, maar ek wil vandag die vraag vra:
§ Glo ek dit régtig? Het Christus régtig opgestaan?
§ Indien ek dit régtig glo – wat beteken dit vir my vandag? Is dit maar net ′n feit dat Christus opgestaan het en dit daarom nodig is dat ek dit glo omdat dit die basis is vir my geloof is, asook omdat dit een van dié groot verskilpunte tussen die Christendom en alle ander gelowe is? Het dit vandag nog praktiese implikasies vir my geloofslewe?
§ En indien lg. die geval is, wat se implikasies het dit vir my geloofslewe? M.a.w.: Lééf ek hierdie geloof in sy volste sin van die woord? Indien ek dit glo en ek lééf dit nie – glo ek dit dan wérklik?

Ek is oortuig daarvan dat vir elke persoon wat sê dat hy van harte glo dat Christus uit die dood opgestaan het, daar “tien ander” is wat dit ook glo, maar vir wie dit geen praktiese implikasies het nie! Dit is vir hulle niks anders as om te weet dat die Eifeltoring bestaan en dat dit in Parys is, of dat daar pragtige gekleurde vissies onder die see is nie – dit is feite wat bestaan, maar dit verander nie hul lewens nie. Dit het bykans 2000 jaar gelede plaasgevind en wat het dit vandag met my te doen – behalwe dat ek dit maar net moet glo? En dit is belangrik dat ek dit moet glo, anders is my geloof futiel!

So baie mense – nee gelowiges, glo dat hulle nog steeds onder die mag van sonde staan. Hulle glo dat Christus vir die sonde aan die kruis gesterf het. En as ons nou teologies hieroor moet raak – ja, Christus hét vir ons erfsonde gesterf – maar wat van die mag van sonde? Staan ons nog onder die mag van sonde – daardie daaglikse sonde (die erfsmet)? Indien u “nee” sê, waarom sê u so? Indien u “ja” sê”, wil ek vir u sê, dat dit nié is wat die Woord van God vir ons leer nie.

U sien, baie van ons ken allerlei mooi teologiese sinsnedes en ons kan mekaar vinnig verwys na al die geloofsbelydenisse – van die “Twaalf Artikels” tot die “Die Baptiste Geloofsbelydenis van 1689”. Ons leer hierdie Belydenisskrifte; ons bespreek dit; ons sal Bybelstudies daaroor hou – máár, weet ons régtig waaroor dit gaan? Kan ons al hierdie wonderlike “kennis” by die praktyk uitbring? Of streel dit ons ego’s en gewetens as ons baie geleerd hieroor klink?

Ek wil vandag vir u kategories sê, dat ons te veel maak van die blote teologiese kennis van wat bv. Calvyn of Spurgeon e.a. geleer het en wat in al die Belydenisskrifte van die Christelike godsdiens staan, maar ongelukkig is dit waar dit bly in baie van ons se lewens – nl. bloot net dít wat op papier staan en niks meer nie (en ongelukkig is dit ook hoe baie van ons met die Woord self omgaan – Ek lees dit, maar dit verander nie my lewe nie!).

Ek skiet nie vir Calvyn of Spurgeon, af nie – inteendeel, en ek skiet nie die Belydenisskrifte van die kerk af nie, maar ons moet besef dat dit nie opsig self, God se Woord is nie – dit is slegs gegrond op die Woord van God en ek moet volgens die Woord van God lewe. As ek nie volgens Sy Woord leef nie, help dit nie dat ek ure en ure oor al hierdie Belydenisskrifte en Spurgeon se geskrifte ens. praat nie – dit help niks!

Waarom is daar so baie onder ons wat baie vinnig sal sê ek onderskryf bv. die Baptiste Geloofsbelydenis van 1689, maar as jy na sy/haar lewe kyk, dan sien jy dit glad nie raak nie. Of hy sê dat hy ′n Calvinis is, maar hy leef nie wat Calvyn bv. in sy “Institusie van die Christelike Geloof”, sê nie. En onthou, dit wat Calvyn sê, is alles op die Woord gegrond. Ons moet begin LEEF wat God se Woord sê, anders beteken dit ′n bloue duit.

Dieselfde geld t.o.v. van Christus se kruisiging en opstanding! Ons moet daarvolgens begin leef, as ons dit bely. Maar wat beteken dit dan regtig?

Kom ons kyk na Rom. 6:1-14 ten einde vas te stel wat die Woord hieroor te sê het.

2. SKRIFLESING:
Rom. 6:1-14 ~ Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie. Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. Ons weet dat Christus wat uit die dood opgewek is, nie weer kan sterwe nie; die dood het nie meer mag oor Hom nie. Hy het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood. Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God. Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade.

3. TEKSVERS:
Rom. 6:11 ~ Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus.

4. DIE OU EN DIE NUWE KONINKRYKE:
Paulus roep ons hier op om vir God te lewe, omdat ons een is met Christus Jesus, maar hy sê terselfdertyd ook, dat ons vir die sonde dood is.

Ons, dood vir die sonde? Hoe is dit moontlik? Kyk dan hoe sondig my broers en susters rondom my – om nie eens te praat van hoe sondig ek is nie! Maar dit is presies wat Paulus hier sê – nee, wat die Woord van God vir ons hier leer, nl: Ons is dood vir die sonde!

Hoe kan ek ′n lewe lei waar ek dood is vir die sonde?

Ten einde dit prakties te illustreer, wil ek na ′n slaaf verwys wat verkoop is aan ′n nuwe eienaar - ′n eienaar wat hom grootliks sy vryheid gegee het. Eendag loop hierdie slaaf weer sy eerste eienaar raak en lg. wil hom weer hiet en gebied. Hy dreig hom en sê vir hom dat indien hy ongehoorsaam is, hy hom sal slaan. Wat staan die slaaf te doen?
§ Eerstens moet hy homself daaraan herinner, dat hy nié meer aan die vorige baas behoort nie – sy vorige eienaar het geen gesag en geen mag meer oor hom nie. Om dit op ons van toepassing te maak: Sonde is dus nie meer my baas nie. Die duiwel het geen gesag meer oor my nie. Soos die slaaf net een wettige baas het – sy nuwe baas, net so het ons net een nuwe koning, nl. Jesus Christus – Hý is ons Eienaar (as ons wederbaar is). Vir elke opdrag van die vorige “baas”, moet en kan ek dus sê, “Nee, jy het geen reg en aanspraak op en oor my nie. Jy gee opdragte aan my, waaraan ek my nie meer mag en sal onderwerp nie, want ek mag en sal net na my nuwe Eienaar luister.”

§ Om egter te weier om na die vorige “eienaar” te luister, is nie genoeg nie. Die slaaf moet aktief besig wees om sy nuwe Eienaar heeltyds te dien en te gehoorsaam. Al ons energie en al ons gawes moet ingespan word om God te dien, en sodoende sal ons verseker daarvan wees, dat ons nie die liste van die vlees voed en versadig nie – dit word bevestig deur Paulus in Gal. 5:16 ~ Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

Om dus net “nee” te sê vir die sonde, is nie genoeg nie, nee, ons moet in alles wat ons is, ons toewy aan die Here ~ Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil (Rom. 6:13).

Kan ons weer slawe van die sonde word? Paulus sê: “Nooit, want ons ....(is) saam met Christus gekruisig, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie” (Rom. 6:6).

Is dit moontlik? Ons sondig dan nog steeds! Wel, God se Woord sê so en as ek dit verwerp, verwerp ek God se Woord. Maar as ek Sy Woord glo, dan móét ek hierdie woorde ook mos glo! Vers 1 en 2 sê: Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Paulus sê dus, “nee” ons kan nie en mag nie aanhou sonde doen nie, want ons wat sê ons is wedergebore is dood vir die sonde.

Wat beteken dit? Ons moet verstaan dat daar twee koninkryke is, nl. die koninkryk van sonde of duisternis en dood en die satan regeer daar. Ons wat wedergebore is, leef egter nie meer in daardie wêreld nie en daarom is dit nie meer die wêreld van ons gedagtes nie; van ons voorkeure en wil, of die wêreld van ons optrede nie ~ Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is (1 Joh. 5:19).

Hierdie stuk lering van Paulus is dus uiters prakties en eenvoudig. Ons moet net eenvoudig deur die lewe gaan, deur die ou lewe en sy meester te vermy. Dit is die waarheid t.o.v. selfkruisiging – dit is waar die uitdrukking vandaan kom, nl. dat ons, ons kruis moet opneem. Indien ′n bepaalde program op TV my na sonde lei, of ′n nuwe Volvo, dan moet ek dit net eenvoudig uit my lewe sny en dit ten alle koste vermy. Indien ek my humeur maklik verloor, moet ek daaroor bid en ernstig daaraan werk en iets prakties uitwerk om my te help om dit te vermy. Enige iets wat my dus lei in konfrontasie met my vorige “eienaar”, moet ek ten alle koste vermy. Ek moet my bekeer daarvan. En indien ek oor en oor in dieselfde strik trap, moet ek my self baie ernstig afvra, hoe opreg en ernstig voel ek daaroor om God te aanbid en Hom na te volg.

Ons moet die satan vermy soos wat ons pes, of in huidige konteks: Erg Weerstandige TB of HIV Vigs, sal vermy – ten alle koste en ten alle tye.

Toe ek saam met Christus gekruisig is, het Hy my oorgebring na Sy Koninkryk en is ek verlos van die koninkryk van sonde en daarom moet sonde nie meer in my lewe bestaan nie.

Ons moet daarom elke dag en in elke omstandigheid, saam met Paulus bid: Wat moet ek doen, Here? (Hand. 22:10). Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God (1 Kor. 10:31). Ons moet dus elke oomblik van elke dag sien as ′n geleentheid om God te dien en alles tot Sy eer te doen. Wanneer dit ons uitgangspunt en ons lewenswyse word, sal dit al makliker raak om nie meer die satan ten prooi te val nie.

Maar waar kry ons die krag om dit te kan doen? Ons vind ons krag, in die krag van Christus Jesus se opstanding.

Ons moet baie mooi let daarop, dat die kruisiging nie net plaas gevind het ter wille daarvan dat ons verlos kon word van die erfsonde in Adam nie – nee, die kruis is ook daargestel om die mag van sonde oor ons (die erfsmet), te verbreek. Ons moet dít altyd in gedagte hou. En veral wanneer ons gekonfronteer word met allerlei versoekings in hierdie lewe.

Ons moet hierdie feit ook elke keer in gedagte hou wanneer ons die Nagmaal gedenk ~ Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld (Gal. 6:14).

Nou mag u die volgende opmerking maak: “Dit klink alles baie mooi en dit moet waar wees, want dit staan so in die Woord, maar die probleem is: Almal van ons sondig dan nog steeds – hoe moet ek dit verklaar en verstaan?”

Die feit dat ons sê dat Christus gesterf het aan die kruis en opgestaan het uit die dood, vrywaar ons egter nie van sonde nie – ons is m.a.w. nie immuun teen sonde nie. Paulus sê NIE dat sonde dood is vir ons as gelowiges nie, maar dat ons as gelowiges onsself as dood vir sonde moet beskou. (M.a.w.: Sonde is nie dood vir gelowiges nie, maar gelowiges is dood vir sonde).

Sonde is ′n natuurlike uitvloeisel vir die ongelowige omdat hy deel is van die koninkryk van die duisternis – sonde is dus deel van die ongelowige se karakter en totale menswees, maar sonde is níé deel van die gelowige se karakter nie, daarom dat Paulus sê dat ons dood is vir die sonde – sonde moet dus nie in die gelowige se lewe bestaan nie, omdat sonde nie in die koninkryk van God, waarin die gelowige nou woon, bestaan nie. Wanneer die gelowige dus sondig laat hy toe dat die vyand, God se koninkryk infiltreer. Ons as Christus se soldate moet Sy Koninkryk ten alle koste verdedig teen die aanslae van die bose.

Ons kan dit as volg illustreer:
Ons het aan die eenkant, die koninkryk van duisternis, waar Satan heers en die algemene kenmerk van hierdie koninkryk, is die bestaan van sonde.

Aan die anderkant het ons die Koninkryk van Lig waar Christus Jesus regeer en waar daar geen plek vir sonde is nie. Die bewoners van hierdie koninkryk is dus dood vir die sonde.

Maar dit gebeur egter van tyd tot tyd, dat die gelowige toelaat dat sonde die Koninkryk van Christus infiltreer en dan verdof die heerlikheid van Christus in die lewe van die gelowige en word die Gees dus bedroef.

Dit is egter belangrik dat die gelowige sal onthou, dat hy dood is vir die sonde en daarom nie mag toelaat dat sonde sy lewe beheer nie – hy moet die koninkryk van Lig wat hy in hom dra, met alles wat in hom is, verdedig, t.w.v. die eer van die Here en sy eie heiligmakingsproses.

Die lewe van die gelowige is dus ′n lewe van dienslewering aan Sy Vader. Hy moet homself beskou as dood vir die sonde en lewend in Christus Jesus. In die Grieks begin vers 12 met “daarom”. As hy dan in vers 11 sê: Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus, dan volg hy dit op deur te sê, “daarom...” Daarom wat? Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie.

Wanneer Paulus dit dan sê, impliseer hy tog immers dat sonde nog steeds bestaan en ′n bedreiging is vir die gelowige. Ons as gelowiges is nog deel van hierdie wêreld met sy sonde, maar sonde is en mag nie meer die opperhand in die lewe van ′n gelowige voer nie en hy moet besef dat die Heilige Gees elke keer dat hy sondig, bedroef word. Ek moet weet dat ek duur gekoop is – Jesus het met Sy lewe betaal, sodat ek en u vry kan wees vry van die sonde – nou en in ewigheid!

Ons moet dus nie ons vryheid prysgee, deur toe te laat dat die sonde in ons heers nie.

Om terug te keer na ons voorbeeld in die begin, van die slaaf: Wanneer ′n slaaf vrygekoop word van sy onderdrukkende “baas” en hy nou in vryheid beweeg, sal hy uiteraard aan die begin en nog vir ′n tyd lank van sy ou slawe-gebruike beoefen, omdat dit oor ′n lang tyd vasgelê is, maar daardeur ontneem hy homself van sy vryheid en plaas hy homself onder die juk van sy vorige eienaar en daarom moet hy so gou moontlik, waardig aan sy nuwe vryheid, begin optree.

Die opstanding van Jesus Christus uit die dood, het my vry gemaak en daarom moet en mag ons nie meer soos slawe optree nie, maar soos verlostes in Jesus Christus – Ons is DOOD vir die sonde!

Mag die Here dan in die woorde van Sefanja 3:17, ook dieselfde van ons sê: Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.

[1] (Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt tydens ’n erediens te Antipas Gemeente, Vereeniging op 15 Nov. 2009)

Monday, November 9, 2009

Bybelstudie oor Openbaring deur Kobus van der Walt - 08 November 2009

Openbaring Ontsluit - 17 (Die Eerste Vier Trompette) [1]

Indien u hierdie Bybdelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons kom nou by die derde “wentelbaan” van die Gesig wat Johannes gesien het en dit sluit hoofstukke 8 tot en met 11 in (Eerste “wentelbaan” = hoofstukke 1-3; Tweede “wentelbaan” = hoofstukke 4-7).

Hoofstuk 7, het ons gesien, was ’n “tussenvisioen” – ’n visioen van troos en dit was nodig sodat elke gelowige wat die eerste 6 hoofstukke gelees het, eers weer opgebeur en bemoedig kon word – só asof die gelowiges eers ’n sug van verligting kon slaak, voor die volgende seël gebreek word. Maar nou, hier in hoofstuk 8, breek die Lam van God (Jesus Christus) die laaste seël van God se raadsbesluite oop. Die ongelowiges wat nog in die bevoorregte posisie is om hoofstuk 7 te kan lees, behoort ook moed te skep, want “waar daar nog lewe is, is daar nog hoop!”

Met hierdie sewende seël word die oordele vanuit die hemel op die aarde voortgesit (vanaf hoofstuk 6 dus).

Wanneer ons nou die openingsverse van hoofstuk 8 gaan lees, sal u die sentraliteit van die gelowiges se gebede opmerk. Ons sal hier sien dat die vervolgers van Christus se kerk nie ongestraf sal bly nie – God se geregtigheid sal dus geskied en wat meer is, hierdie straf word voltrek op grond van en in direkte reaksie op God se kinders se gebede.

Ons sal ook sien dat daar ’n nou verband bestaan tussen die sewe seëls en die sewe trompette of -basuine. Wat ook interessant is, is die feit dat hierdie twee “tonele” hulle gelyktydig afspeel – ter gelykertyd, terwyl die vyande van God, Christus se kerk hier op aarde vervolg (in hoofstuk 6), is God terselfdertyd besig om die sondige wêreld te oordeel (hoofstukke 8-11) – ’n fenomenale samehang van gebeure.

2. VERS VIR VERS ONTLEDING:
Met die oopmaak van die sewende seël, sien ons dat gewone engele ’n belangrike rol speel, maar wat veral belangrik is, is dat verskeie gebeure nou een na die ander plaasvind.

Die Sewende Seël (Openb.8:1-5):
· Openb.8:1 ~ Toe die Lam die sewende seël oopmaak, het daar stilte in die hemel gekom, omtrent ’n halfuur lank. Die oomblik toe die Lam van God die sewende seël oopmaak was daar ’n oomblik van verbasing en verwondering. Dit laat ’n mens dink aan die woorde in Hab.2:20 ~ Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! En Sef.1:7 ~ Wag in stilte op die Here God! Die dag van die Here is naby! Hy het ’n maaltyd voorberei, en dié wat Hy genooi het, gewy. Die verbasing en verwondering was só groot, dat daar vir ’n oomblik, doodse stilte in die hemel geheers het en dan, met die breek van die sewende seël, breek God se oordeel los en dit geskied in reaksie op die gelowiges se uitroep in Openb.6:10~ Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?”
· Openb.8:2 ~ En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en daar is aan hulle sewe trompette gegee. Hier verskyn nou ’n baie spesiale groep engele op die toneel, wat oënskynlik ’n baie groot voorreg geniet en in ’n baie nouer verhouding tot God staan. Aan hierdie sewe bevoorregte engele word ’n baie spesiale taak gegee om in opdrag van God uit te voer en daar word terselfdertyd sewe trompette aan hul gegee. Die simboliek van ’n trompet is om enersyds uit te roep en aan te kondig en andersyds, ’n waarskuwing te laat hoor – en dit is presies wat hierdie engele dan ook doen. Die feit dat daar sewe engele met sewe trompette is, dui vir ons daarop dat (in hierdie geval) die waarskuwings en oordele, volkome is.

Dit moet ook net vermeld word, dat selfs die bevoorregte en verhewe hemelwesens, steeds onderworpe is aan Hom wie hulle opdragte gee, nl. God – hulle is dus niks meer as blote diensknegte nie. Hulle het hulle bestaan te danke aan die feit dat hulle God heeltyds en tot in ewigheid moet dien en verheerlik (Terloops: Wie is die mens dan dat hy homself aanmatig om God NIE te dien en te verheerlik in en deur sy lewe nie!).

· Openb.8:3-4 ~ ’n Ander engel het toe gekom en by die altaar gaan staan met ’n goue wierookbak. Daar is baie wierook aan hom gegee om dit saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar voor die troon te offer. 4 Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God. Die taal en simboliek wat ons hier kry, word ontleen aan die Ou Testamentiese Tabernakel of Tempel en die Allerheiligste in die Tempel. Daar was ’n goue bak waarin wierook geplaas was om te brand en dit was simbool van Christus se voorspraak en middelaarswerk. Die altaar is die plek waar God en die mens ontmoet. Die feit dat hierdie altaar van goud gemaak is, is teken van die volmaaktheid van hierdie ontmoeting.

Die engel hier in vers 3, is niemand anders as Christus nie, en die wierook is die gebede van die gelowiges wat “opgaan” na die Vader. Die feit dat gelowiges se gebede hier opgestyg het, dui daarop dat hulle gebede op die punt staan om beantwoord te word.

Let daarop dat die wierookbak, drie verskillende dinge bevat het, nl. vuur (vermeld in v.5), wierook en gebede. Let verder daarop dat daar nie in v.3 staan, AL die gebede van die gelowiges nie, maar daar staan, die gebede van AL die gelowiges. Dit beteken dus dat dit nie sondermeer elke gebed is wat op die punt gestaan het om beantwoord te word nie. Hierdie gebede wat dus opgaan na die Vader, is baie spesifieke gebede wat deur die eeue opgegaan het na die Vader – dit is daardie gebede wat gegaan het oor die eer en verheerliking van God – oor Sy heerlikheid; Sy eer en Sy majesteit. Dit gaan egter ook oor ons gebede wat nie volledig God se eer in die oog het nie en wat eers deur Christus gereinig word (in die wierookbak) voor dit voor die troon van God kom (Rom.8:34). Hierdie behoort vir ons ’n geweldige bemoediging te wees om te volhard in gebed, want ons swak, sondige gebede wat hier van onder uit die aarde opstyg, word eers deur die versoeningswerk van Christus in die wierookbak by die altaar gelouter. En daar word al ons gebede met die heerlike reukwerk van die wierook vermeng om as ’n aangename geur voor die aangesig van God op te styg. Maar oomblikke nadat ons gebede in die wierookbak voorberei is, gebeur daar ’n verskriklike ding – vers 5!

· Openb.8:5 ~ Toe het die engel die wierookbak geneem, dit met die vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde uitgegooi. Daar het donderslae, dreunings, weerligstrale en ’n aardbewing gekom. Die wierookbak word omgekeer op die aarde – God se oordele breek los op die aarde! Verskriklike dinge gebeur – donderslae, dreunings, weerligstrale en aardbewings – die begin van die verwoesting van die natuur op aarde en hierdie is in antwoord op die gebede van die gelowiges soos ons reeds gesien het. Hierdie is egter maar net die voorloper van nóg verskrikliker dinge wat gaan plaasvind.

Die Eerste Vier Trompette (Openb.8:6-13):
· Openb.8:6-7 ~ Die sewe engele met die sewe trompette het hulle toe gereed gemaak om daarop te blaas. 7 Die eerste engel het op sy trompet geblaas. Daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. ’n Derde van die aarde is verbrand, ’n derde van die bome is verbrand, en al die groen gras is verbrand. Nadat die wierookbak op die aarde omgekeer is, is die trompette gereed om geblaas te word. Met die blaas van elk van hierdie trompette word ’n gedeelte van die natuur vernietig – die natuur waarop die mensdom so sterk steun vir oorlewing. In God se groot genade word slegs ’n derde van die aarde verwoes. Hierdie rampe word herhaal deur die loop van die mens se geskiedenis, maar met groter intensiteit gedurende die tydperk na Christus se hemelvaart en hierdie intensiteit word nog meer intens hoe nader Christus se wederkoms is (ervaar ons dit nie in ons dae nie!). Ons sien dat hierdie natuurrampe vanuit die hemel gereguleer word en ons sê dit op grond van die feit dat hierdie rampe volg, direk nadat die eerste engel sy trompet blaas. Hierdie rampe is ’n baie direkte waarskuwing deur God aan die mensdom, dat die goddeloses gestraf gaan word, daarom dat ons hier lees dat die hael en die vuur gemeng is met bloed.

Net so terloops – ons kan die verwoesting van die reënwoude en die gevolglike “aardverwarming”, sien as deel van hierdie proses wat deur God se soewereine wil toegelaat word en daarom is dit dus deel van sy voorsiene oordeel. Die vraag is egter of die mensdom hieruit leer – leer dat hierdie verwoesting van die natuur verantwoording teenoor God gaan verg? Indien wel, gaan dit baie groter verantwoordelikheid en bestuur van die natuur, deur die mensdom verg. Probleem is egter dat die natuurkundiges en almal wat oplossings aan die hand doen, nooit hierdie faset (DIÉ faset) eers in gedagte het wanneer hulle seminare hou en oplossings vir die probleem soek nie – daar is steeds geen verootmoediging nie en God word steeds nie verheerlik nie.

Die eerste vier trompette verwys na die sigbare heelal en elke trompet in Johannes se visioen word deur een van die engele geblaas.

Trompette, of “Sjofar-trompette” (wat gewoonlik van ramshorings gemaak was) is algemeen in die Joodse geskiedenis gebruik om bepaalde boodskappe of tekens aan die volk deur te gee. So het die ramshorings bv. oorlog aangekondig of wanneer gevaar gedreig het; of dit het vrede aangekondig; of die koms van die nuwe maan. Dit is ook gebruik om die aanbreek van die Sabbat of die dood van ’n belangrike persoon aan te kondig. Trompette is ook gebruik om die vyand die skrik op die lyf te jaag – bv. Rigters 7:19-20 ~ Gideon en die honderd man by hom het tot by die onderpunt van die kamp gegaan. Dit was in die nag, aan die begin van die middelste wagaflos, en die wagte was net klaar omgeruil. Toe blaas Gideon-hulle die ramshorings en breek die erdekruike. 20 Al drie afdelings het dit gedoen: hulle het die fakkels in die linkerhand gehou en die ramshorings met die regterhand om dit te blaas. Toe roep hulle: “Die swaard van die Here en Gideon!” Die gebruik van die trompet as eskatologiese teken om bv. die Dag van die Here aan te kondig, of die wederkoms van Christus, ens., is ook welbekend in die Woord, bv. Jes.27:13 ~ Daardie dag sal die groot ramshoring geblaas word. Dan sal almal aankom wat in Assirië verstrooi was, ook dié wat na Egipte toe verjaag is. Hulle sal die Here aanbid op die heilige berg in Jerusalem. Joël 2:1 ~ Blaas die ramshoring in Sion, roep hard op my heilige berg. Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby. Of Matt.24:31 ~ Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af (sien ook: Sef.1:16; 1Kor.15:52; 1Tes.4:16).

· Openb.8:8-9 ~ Die tweede engel het toe op sy trompet geblaas. Iets soos ’n groot berg wat brand, is in die see gegooi. ’n Derde van die see het bloed geword, 9 ’n derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan, en ’n derde van die skepe het vergaan. Die tweede trompet kondig die vernietiging aan van ’n derde van die oseane se dierelewe en die vernietiging van ’n derde van die seevervoerstelsel deur iets wat vir Johannes soos ’n groot, brandende berg lyk. Hierdie berg (of vulkaan, of wat dit ook al mag wees) spreek van intensiteit en van verskrikking – dit herinner ’n mens nogal aan Ps.46:2-3 ~ God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. 3 Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see.

Hierdie maritieme ramp het geweldige vrees by seevaarders ingeboesem, maar dit is nie alleen hulle wat geraak word nie. Om in huidige konteks te dink, tref hierdie ramp of rampe ook die mense op vaste grond – dink maar aan die Tsunami van 24 Des.2004, om maar een voorbeeld te noem. Ook raak hierdie rampe die seelewe en dit kom in allerlei vorme voor – dink maar net aan kernbomtoetse in die see, of oliebesoedeling, wat gelei het en steeds lei tot duisende vrektes onder die seelewe en dink maar net aan die oorontginning van die vissery bronne (visvangkwotas en hengelpermitte), ens.

God maak die mensdom van tyd tot tyd nederig en dwing hulle tot verootmoediging en uiteindelik gaan ’n nog groter ramp die oseane van die aarde tref – maar steeds buig die mensdom nie hul knieë voor die lewende God nie.

· Openb.8:10-11 ~ Toe het die derde engel op sy trompet geblaas. ’n Groot ster wat soos ’n fakkel brand, het van die hemel af geval. Hy het op ’n derde van die riviere en op die waterbronne geval. 11 Die ster se naam is Bitterals. ’n Derde van die water het bitter geword, en baie mense het van die water doodgegaan omdat dit besmet was. Met die derde trompet val daar ’n bandende ster soos ’n fakkel uit die hemel op ’n derde van die aarde se varswater bronne geval – die riviere en fonteine word bitter en baie mense sterf. Meteens is ons weer terug by die Ou Testamentiese Mara tydens die Israeliete se omswerwinge in die woestyn op pad na die Beloofde Land (Eks.15:25). Die volk het gemurmureer en eers toe hulle hulself verootmoedig, het die Here weer die bitter water soet gemaak. Hierdie bitter water neem ons ook na die kruis van die Here Jesus Christus. Dáár het hulle vir Hom asyn en bittergal gemeng en vir Hom gegee om te drink (Matt.27:34). Die wilde-als; die bitter gal; die Mara in die woestyn en die bitter water van die ster van Alsem, is alles deel van God se toorn. Ons verstaan iets daarvan as ons bv. lees van die radio-aktiewe water nadat die atoombom op Hirosjima in Japan in 1945 geval het – duisende mense het daarvan gesterf. Dink aan die kernreaktorontploffing by Chernobyl (26 Apr. 1986) – en dit is so ironies: Die betekenis vir die Russiese naam “Chrnobyl” is “Bitterals”! (“Toeval”? Beslis nie!) – Klaagliedere 3:19 ~ Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my.

· Openb.8:12-13 ~ Die vierde engel het toe op sy trompet geblaas. ’n Derde van die son en ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is getref, sodat ’n derde van hulle donker geword het. ’n Derde deel van die dag het nie lig gehad nie, en die nag ook nie. 13 Toe het ek ’n arend hoog in die lug sien vlieg, en ek het hom met ’n harde stem hoor skreeu: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde wanneer die ander drie engele op hulle trompette gaan blaas.” Hierdie “trompet” is so ’n bietjie moeiliker om te interpreteer, maar dit wil voorkom asof hier sprake is van ’n wanfunksionaliteit van hemelliggame en natuurverskynsels – minder sonskyn; tye van vreemde donkerheid en sterre wat minder helder skyn en dit het bepaalde klimaatsveranderinge op aarde tot gevolg – alles dinge waaroor mense behoort te wonder en mense selfs vreesbevange sal maak, maar meer belangrik nog – dinge wat mense daartoe behoort te dryf om die Here se aangesig te soek.

3. TER AFSLUITING:

En dan? Dan kom ’n arend en hy waarsku dat nog erger rampe oppad is.

Iets wat so duidelik uitstaan in hierdie gedeelte wat handel oor die eerste vier trompette, is die genade van God wat Hy telkens oor die aarde uitstort – let op: elke keer word net een derde van die see, of die hemelliggame ens. verwoes – nie een keer alles nie – wat ’n genadige God aanbid ons nie!

Ons moet ook net besef, dat daar soveel dinge is, wat in Openbaring geskryf staan wat ons nie regtig kan verklaar nie, maar dit moet ons nie moedeloos maak nie – ons moet eerder sorg dat ons al hierdie tekens ken, sodat wanneer dit gebeur, ons dit kan herken en verstaan en God se aangesig eerder soek en lof en eer aan Hom bring.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 08 November 2009

Boodskap deur Kobus van der Walt (08 November 2009)

Die Brief aan die Efesiërs - 09 (Paulus se Gebed) [1]

Indien u hierdie Boodskap wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. SKRIFLESING:
Ef.3:14-21 ~ Daarom kniel ek in gebed voor die Vader 15 aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16 Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17 dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. 20 Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21 aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

2. INLEIDING:
Vers 14 begin weer met die woord “daarom” en weer moet ons vra waarom Paulus “daarom” sê. Natuurlik verwys Paulus terug na die voorafgaande 13 verse, waar hy o.a. die geheimenis van die heidene se redding bespreek en verder ook noem dat alle gelowiges deel uitmaak van een familie en dat alle gelowiges deel in God se belofte van redding.

Net soos verlede Sondagaand tydens ons studie van Openb.7:9-17, wil Paulus ook nie hier in vers 14, wanneer hy sê: Daarom kniel ek in gebed voor die Vader, ’n spesifieke liggaamshouding vir ons voorskryf, wanneer ons bid nie. Inteendeel, die Woord verwys na verskeie liggaamshoudings van gelowiges wanneer hulle in gebed verkeer het. Bv.: Gen.18:22 ~ ...maar Abraham het nog bly staan voor die aangesig van die HERE. Toe Dawid oor die bou van die Tempel gebid het, het hy volgens 1Kron.17:16, voor die Here gaan sit en bid. Jesus het weer gekniel en op Sy aangesig teen die grond gebid (Matt.26:39).

Om die knie te buig in aanbidding het tog ’n paar betekenisse in die Woord en is dit die moeite werd dat ons net kortliks daarna sal kyk.
· Eerstens dui dit op ’n gesindheid van onderwerping – van erkentenis dat jy in die teenwoordigheid van iemand veel-veel belangriker as jy is. Dit is dan ook, nadat die Psalmdigter in Ps.95:1-6, God verheerlik het en o.a. verklaar het dat God die Rots is by wie ons redding vind, dat hy sê ~ Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!
· Ons sien tweedens dat mense hulle knieë gebuig het voor God ten tye van intense lyding en emosies. So het Esra bv. op sy knieë neergeval in gebed, nadat hy gehoor het van die Joodse kinders wat met heidene getrou het (Esra 9:5-6). Ook het Daniël drie keer op ’n dag op sy knieë gegaan om te bid, nadat hy gehoor het dat koning Darius ’n edik onderteken het wat enige ander vorm van aanbidding verbied het, behalwe die aanbidding van die koning self (Dan.6:10). Behalwe hier in Ef.3, sien ons ook dat Paulus neergekniel het toe hy die laaste keer saam met die ouderlinge in Efese gebid het (Hand.20:36).

Soos wat Paulus hier in vers 14 vir die Efesiërs bid, voel hy gelei om te kniel voor die Vader in gebed – nie omdat hierdie knielende posisie meer heilig is as ’n ander posisie nie, maar omdat dit ’n spontane reaksie is wat spruit uit sy eerbied vir God.

3. PAULUS SE GEBED:
Net voor ons in meer besonderheid na Paulus se gebed vir die Efesiërs kyk, net ’n opmerking of wat oor vers 15. Die Ou Vertaling vertaal vers 15 met ~ ...van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang. Die E.S.V. vertaal dit met ~ ...from whom every family in heaven and on earth is named. In hierdie geval is die N.A.V. ’n goeie vertaling ~ ...aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. Hierdie vers kan baie maklik, indien dit in die O.A.V., of heelparty Engelse vertalings gelees word, verstaan word dat God die geestelike vader van alle wesens in die heelal is – dit is dan ook wat die moderne liberaliste vir ons wil leer.

Die Woord leer ons egter baie duidelik, dat daar twee geestelike vaders is, nl. God en Satan. God is die hemelse Vader vir diegene wat hul vertroue in Hom plaas en Satan is die geestelike vader vir diegene wat God die hemelse Vader nie aanbid nie. Nêrens in die Woord word hierdie feit beter belig as in Joh.8:39-42 en 44, toe Jesus vir die ongelowige Jode gesê het dat God nie hulle Vader is nie, maar dat hulle kinders van die duiwel is.

In die geval van vers 15 dan, praat Paulus van al die gelowiges deur die eeue heen en is die N.A.V. hier die beter vertaling.

Maar terug dan by Paulus se gebed. Paulus bid dat die Vader aan die lesers van hierdie brief, bepaalde gawes sal gee en hy bid dat die Vader dit deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan hulle sal skenk.

Paulus se gebed gee aan ons ’n baie duidelike riglyn wáárom ons moet bid en vir wié ons moet bid, nl. alle gelowiges, maar dit gee ook aan ons ’n baie duidelike riglyn en raamwerk vir hoe ons behoort te bid.

John Stott noem hierdie gebed van Paulus ’n “gebedsleer”, of ’n “stel trappe” waarmee hy al hoër en hoër klim en hierdie “gebedsleer” of “gebedstrappe” beskik oor vier trappe wat genoem kan word, “krag”, “diepte”, “begrip” en “volheid” – daar is dus progressie.

· Die eerste trap dan: Paulus bid hier in vers 16, ...dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word. Paulus het vroeër gepraat oor beproewing en swaarky en dit is waarskynlik wat hy hier in gedagte het wanneer hy sy gebed vir die Efesiërs met hierdie woorde begin. Hy bid dan ook dat Christus waarlik deur geloof in elke gelowige sal leef en dat die gelowiges derhalwe Christus meer lief sal hê en meer op Hom sal vertrou, sodat die woorde van Gal.2:20 waar sal wees in hul lewens, nl. ~ ...en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Dit is juis wanneer Christus ons lewe meer en meer beheer en Hy sentraal in ons lewens staan, dat ons ook Sy krag sal ervaar en ons op ’n stewige fondasie geplant sal hou – veral ten tye van beproewing en vervolging, sodat Kol.1:11 ook waar sal wees in ons lewe, nl. ~ Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard (Fil.4:12; 2Kor.11:21b-12:10).

Ons as gelowiges moet verder, altyd ’n sensitiwiteit jeens ander gelowiges se geestelike behoeftes hê – vir die redding van die ongelowiges en die geestelike beskerming en groei van die wedergeborenes. Terselfdertyd moet ons sensitief wees vir die geestelike behoeftes van ons mans en vrouens; ons kinders; ons herders en leraars; ons medelidmate, ens. Ons behoort vir almal met wie ons in aanraking kom, te bid, maar ook vir talle ander, soos die regering, sendelinge ander kerkleiers, ens.

Gebed behoort dus ’n daaglikse aktiwiteit vir elkeen van ons te wees, daarom dat Jesus in Luk.21:36 gesê het ~ Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang.... Ten minste twee van Jesus se gelykenisse verwys ook na onophoudelike gebed, wanneer hy in Luk.11:5-10 praat oor die man wat om middernag aan sy buurman se deur klop om kos te vra vir ’n onverwagse gas. Ook in Luk.18:1-8 sinspeel Hy hierop, wanneer Hy vertel van die weduwee wat in ’n regsgeding betrokke was en wat die regter herhaaldelik gevra het om aan haar reg te doen in haar saak en hoe hy uiteindelik ingestem het om haar te help en dan lees ons in verse 4-8 die volgende woorde van Jesus ~ ’n Tyd lank wou hy (die regter) nie, maar later het hy vir homself gesê: Vir God het ek wel geen eerbied nie, en aan ’n mens steur ek my nie, 5 maar aangesien hierdie weduwee so aanhou om my lastig te val, sal ek haar in haar regsaak help, anders kom klap sy my op die ou end ook nog.” 6 Toe sê die Here: “Hoor wat sê die onregverdige regter. 7 Sal God dan nie aan sy uitverkorenes, wat dag en nag tot Hom roep, reg doen nie? Sal Hy hulle lank laat wag? 8 Ek sê vir julle: Hy sal hulle help, en gou ook!

Paulus self het dikwels gesê dat hy in voortdurende gebed vir andere verkeer ~ ...vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16 hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie (Ef.1:15-16).

· Die tweede sport van Paulus se “gebedsleer”, is “diepte” – vers 17 ~ ...dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Paulus gebruik drie beelde in hierdie tweede petisie van sy gebed, nl.: woon; gewortel en gegrondves, vandaar dan die uitdrukking “diepte”.

Die werkwoord wat vir “woon” gebruik word, beteken letterlik om jou op ’n plek te vestig en tuis daar te voel. Paulus se gebed is dus dat Christus tuis sal voel in ons harte. Daar is m.a.w. ’n verskil tussen woon en tuis voel en dit is presies wat Paulus bid, dat Christus nie net in ons harte sal woon nie, maar dat Hy ook tuis sal voel daar – dus nie ’n oppervlakkige verhouding nie en dat hierdie verhouding, steeds ’n dieperwordende verhouding sal wees.

Abraham se lewe was ’n illustrasie van hierdie waarheid. Toe God met Abraham in Gen.18 & 19 gepraat het oor o.a. die sonde in Sodom en Gomorra en dat Hy die stede gaan uitdelg. God het twee engele by Hom gehad en hierdie twee engele het so tuis gevoel by Abraham, dat hulle saam met hom geëet het. God het nie op dieselfde wyse tuis gevoel in Lot se huis nie. Is ons lewens van so aard dat God tuis sal voel by ons?

Die tweede werkwoord wat Paulus hier in vers 17 gebruik is “gewortel”. ’n Boom moet sy wortels behoorlik in die grond afstuur ten einde voldoende voedsel te kan inneem en dit is presies wat hierdie werkwoord aan ons wil kommunikeer. Ps.1:1-3 is ’n uitstekende beskrywing van hierdie werkwoord ~ Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, 2 maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. 3 Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. En Jer.17:5-8 is ’n baie goeie verduideliking hiervan ~ So sê die Here: Daar rus ’n vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai; 6 hy is soos ’n kaal bossie in droë wêreld wat nooit water kry nie; ’n bossie wat in ’n klipwoestyn staan, in ’n brak wêreld waar niemand woon nie. 7 Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ’n veilige vesting is; 8 so iemand is soos ’n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ’n droë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.

Een van die belangrikste vrae wat ons as gelowiges vir onsself kan vra, is: Waaruit put ek my voeding en standvastigheid – waarin is ek gewortel en hoe diep strek my wortels? Ons wortels moet dus al dieper en dieper in Christus se liefde wortelskiet.

Die derde werkwoord wat Paulus hier gebruik is “gegrondves”. Hierdie woord verwys na die fondasie waarop ’n gebou, gebou word. Ons weet dat die fondasie die heel belangrikste komponent van enige gebou is – in Engels is daar ’n uitdrukking wat sê: If you don’t go deep, you can’t go high. As ons nie stewig gegrondves is in Christus Jesus nie, kan ons nie die storms van hierdie lewe deurstaan en oorleef nie – dink maar net aan Jesus se gelykenis oor die twee huise in Matt.7:24-29, waarvan die een op sand gebou was en die ander op rots.

Paulus se tweede versoek wat hy rig tot die Here, is dan dat die Efesiërs só sal lewe, dat Christus tuis sal voel in hul harte en dat hulle meer en meer sal groei in Christus se liefde. En laastens, dat hulle stewig in Christus ingeplant sal wees, sodat hulle die aanslae van hierdie lewe die hoof sal kan bied.

· Die derde sport van Paulus se “gebedsleer”, is “begrip” – vers 18-19a ~ Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan.... Hierdie beskrywing van Paulus t.o.v. van Christus se liefde, is nie ’n volledige beskrywing nie, maar sy motief was egter ook nie om ’n omvattende beskrywing van Christus se liefde te gee nie. Wat hy eintlik hier doen, is om vir ons te sê dat Christus se liefde oneindig omvangryk is. Paulus se gebed hier is ’n versugting dat ons waarlik die liefde van Christus sal ken en ervaar en wanneer ons Christus se liefde waarlik verstaan, sal ons ook nooit twyfel oor Christus se voorsiening en beskerming en vergifnis en genade, in ons lewe nie en sal Fil.4:13 ’n realiteit in ons lewe wees ~ Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. En wat is die gevolg hiervan? Paulus se vierde sport in sy “Gebedsleer”, nl. “volheid”.

· Vers 19b ~ ... en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Die gedagte wat hier deurgegee word is soos iets uit die natuur uit (’n natuurwet), nl. dat lug of water bv., altyd na ’n vakuum sal vloei en dit is wat Paulus hier bid – hy vra dat ons gevul sal word met die Heilige Gees – Ef.5:18 ~ Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul. Ons moet dus vol van die Heilige Gees wees en hoe kan ons vasstel tot watter mate ons gevul is met die volheid van God? Ons moet onsself toets aan Ef.4:11-16 ~ En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12 Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13 So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. 14 Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. 15 Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16 en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde. Hierdie “volheid van God” kom dus tot volle uitdrukking en vervulling in en deur die Liggaam van Christus – die plaaslike gemeente.

T.w.v. volledigheid moet ons besef dat ons posisioneel reeds ten volle gevul is met God deur Christus – Kol.2:9-10 ~ In Hom is die volle wese van God beliggaam, 10 en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Hy is die hoof oor elke mag en gesag. Ons moet egter prakties, steeds meer en meer gevul word met die Gees – Ef.5:18 ~ Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul.

4. AFSLUITING VAN DIE GEBED:
Paulus kom nou in verse 20 en 21 by die einde van sy gebed, wanneer hy bid en sê ~ Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21 aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

Wanneer die Heilige Gees ons gevul en bekragtig het en Christus waarlik in ons harte woon en God ons gevul het met Sy volheid, dan kan God oneindig meer doen as wat ons bid of dink. Voor hierdie vereistes nie tot vervulling gekom het nie, is God se werk in ons, menslik gesproke, beperk, maar indien ons aan hierdie vereistes voldoen, is God se werk in ons onmeetbaar. Joh.14:12-14 ~ Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13 Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14 As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen. Dit is so hartseer dat ons glo en bely dat God tot alles in staat is, omdat Hy almagtig is, maar waarom ervaar so min van ons die werklikheid wat in hierdie verse vermeld word?

Daar is geen situasie waar die Here ons nie kan gebruik nie, op voorwaarde dat ons, ons onderwerp aan Hom. Hierdie almag van Hom is dieselfde mag en krag wat Christus uit die dood opgewek het en laat opvaar het na die hemel.

Paulus bid dat ons hierdie liefde en hierdie krag van God in ons lewe sal ervaar. En hierdie liefde en krag wat God beskikbaar stel vir ons, moet deur ons aangewend word om deur en in ons aanbidding; ons lewe; ons gedagtes, ens. eer aan God te bring – anders is dit alles te vergeefs.

[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) op 08 November 2009

Monday, November 2, 2009

Openbaring Ontsluit - 16 ('n Kosmopolitiese Groep) [1]

Indien u hierdie Bybdelstudie wil uitdruk – Verlig die teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige woordverwerkingsprogram (bv. MS Word) – druk daarna gewoon uit.

1. INLEIDING:
Ons kry die eerste duidelike uiteensetting in Openbaring van wie gered gaan word in 7:1-17, nl. 144 000 (7:4-8). Ons het dan ook die vorige keer gekyk na hierdie getal, wat eintlik op ’n groot menigte dui – soos die sterre aan die hemel leer Gen.15:5 ons ~ Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.” Die 144 000 het ons dan ook gesien, moet simbolies verstaan word, maar dit is tog ook ’n spesifieke getal soos dit deur God bepaal is – Hy het dus al voor die grondlegging van die aarde, presies geweet wie Hy uitverkies het – by die naam!

Alle gelowiges het dus ’n vaste sekerheid t.o.v. hul redding, omdat hul name opgeskryf staan in die Boek van die Lewe (3:5; 13:8; 17:8; 20:12; 15; 21:27). Hierdie Boek bevat die name van die mense wie die genade van die ewige lewe ontvang het en wat meer is, hulle name sal nooit uit hierdie Boek verwyder word nie!

Dit is ook belangrik om te besef dat hierdie redding vir alle gelowiges gegee word – en nie net vir die martelare soos baie teoloë beweer nie. Al die gelowiges staan voor die Lam (7:9), almal se klere word in die bloed van Christus gewas (7:14) en die Lam laat hulle almal wei (7:17). Die hele skare gelowiges staan dus voor die Lam en volgens 14:4 volg almal die Lam omdat hulle uit die mensdom losgekoop is vir God en die Lam ~ Dit is hulle wat hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam.

Ons het ook gesien dat diegene wie die seël van God ontvang het, staande sal bly te midde van al die verskriklike dinge wat aan die einde van die dae, of te wel op die Dag van die Here, gaan gebeur.

2. VERS VIR VERS ONTLEDING:
· Openb.7:9 ~ Hierna het ek ’n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande.

Hier vind ons bevestiging dat die 144 000 van 7:4-8 dui op ’n groot menigte. Ons vind verder hier, die gevolg van Jesus se opdrag in Matt.28:19 ~ Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20 leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld, asook Mark.16:15 ~ Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.

Johannes sien God se menigte uitverkorenes wat, versamel is vanuit al die volke en tale van die wêreld – voorwaar ’n kosmopolitiese groep – en hy sien hulle, volgens vers 9b, in die teenwoordigheid van God, want God het hulle aanvaar op grond van Christus se soendood aan die kruis en daarom beskik al die gelowiges oor die ewige lewe.

Die feit dat hierdie gelowiges almal wit klere aan het is ’n baie belangrike punt, want dit simboliseer oorwinning en redding en elkeen het sy of haar wit kledingstuk ontvang nadat dit in die bloed van Christus gewas is (v.14). Hierdie wit kledingstukke dui verder daarop dat hulle die ware ontvangers van Christus se verlossing is, in teenstelling met ander wat, al het hulle Christus bely, nie ware oorwinnaars is nie – Openb.3:5 ~ Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. En Openb.3:18 ~ Daarom raai Ek julle aan om by My goud te koop wat deur vuur gelouter is, sodat julle ryk kan word; en koop wit klere, sodat julle julle kan aantrek en julle skande, julle naaktheid, nie gesien word nie; en koop oogsalf om aan julle oë te smeer, sodat julle kan sien.

Die feit dat hierdie Oorwinnaars, palmtakke in hul hande gehad het, is teken van hul oorwinning. Daar word net op een ander plek in die Nuwe testament verwys na palmtakke en dit is Joh.12:13 ~ Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep: “Prys Hom! Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!” en: “Die Koning van Israel!” Moses het reeds in Lev.23:40 opdrag gegee dat palmtakke gebruik moet word tydens die Fees van die Tabernakels. Palmtakke is egter ook later by ander feesgeleenthede gebruik. Joodse muntstukke wat dateer uit 140 v.C. tot 70 n.C. het afbeeldings van palmtakke bevat, met die inskripsie “Vryheid vir Sion” daarop. In Joh.12 is die palmtakke simbool van Christus se triomf en hier in Openb.7 is dit simbool vir alle gelowiges se oorwinning. Die palmtakke word egter ook gebruik om eer aan Christus te bring en ook as teken van God se finale oorwinning oor die bose en die sonde.

· Openb.7:10 ~ Hulle (die 144 000) het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”. Die uitverkorenes wat voor die troon en in die teenwoordigheid van Christus staan, het pas deur die Dag van die Here gekom en met God se reddende genade wat hulle van daardie verskriklike dag gered het, bars hulle uit in lofprysing en die kern van hul lofprysing, is aanbidding. Hulle gee erkenning aan God vir redding aan hulle geskenk.

· Openb.7:11-12 ~ Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid 12 en gesê: “Amen! Die lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid. Amen!”

Die gelowiges is nie alleen wanneer hulle eer aan God bring nie, want saam met hulle kniel ook die engele en die ouderlinge en die vier lewende wesens. Net so terloops: Let daarop dat wanneer al die verskillende dele van die kerk in een sin vermeld word, word die getal “24” nie saam met die ouderlinge (of te wel die universele kerk) gebruik nie. In sulke gevalle word net die ongekwalifiseerde uitdrukking “ouderlinge” gebruik (bv. ook 14:3). Die rede hiervoor is dat ons moet besef dat die kerk vanuit verskillende perspektiewe beskou kan word.

Die hemelwesens wat saam met die gelowiges, God aanbid, betoon geweldige eerbied teenoor God, wanneer hulle op hul aangesigte voor Hom val in aanbidding. Hierdie liggaamshouding tydens aanbidding, is ’n tipiese eienskap van die aanbidding van die Gerubs en die verheerlikte heiliges – bv. Openb.7:11 ~ Al die engele het rondom die troon, die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan. Hulle het toe voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid (sien ook 5:8, 14; 11:16).

Terwyl die hemelwesens hulle dan op hulle aangesigte voor God bevind, ego hulle die lofprysing en aanbidding van die uitverkorenes, deur “Amen” uit te roep.

Hulle roep egter meer uit as net “Amen”. Hulle gee ook erkenning aan God en sê daardeur, dat Hy die enigste Een is aan wie lof en heerlikheid (God se verhewe majesteit) en dank en eer toekom – Hy die ewige, Almagtige en Alwyse God!

Daar is heelwat mense wat dan ook n.a.v. hierdie teksgedeeltes voel dat dit die wyse is waarop ons as gelowiges in gebed voor God moet kom, maar dit is te betwyfel of so ’n posisie (op ons aangesigte) regtig van ons verwag word, want dan sou die Woord homself baie eksplisiet daaroor uitgespreek het en sou Jesus dit hoogs waarskynlik ook in Matt.6:5-13 (“Die Onse Vader”) dit vir ons voorgeskryf het – en Hy het nie. Wat wel belangrik is wanneer ons in gebed verkeer, is die inhoud van ons gebed – dit moet in gees en in waarheid geskied. Verder is ons gesindheid belangrik; ons fokus (God se verheerliking dus); dat ons ontsag sal hê vir God en bewus sal wees van Sy heiligheid. “Lyftaal” is slegs belangrik in so verre dit ons opregtheid van hart en ons ontsag vir God demonstreer.

· Openb.7:13-14 ~ Een van die ouderlinge vra toe vir my: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?” 14 “Ek weet nie, Meneer,” sê ek vir hom, “maar ú weet.” Hy sê toe vir my: “Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam.

Iets baie interessants vind nou hier in vers 13 plaas. Dit is slegs hier en ook in Openb.5:5 waar dit gebeur dat slegs een ouderling praat. Hierdie ouderling vestig Johannes se aandag op die mense in die wit klere, deur vir hom te vra wie hulle is. Natuurlik weet hierdie ouderling wie hulle is, maar hy wil deur hierdie vraag Johannes bewus maak van wie hierdie mense is wat heel laaste toegetree het tot die hemel. In reaksie hierop sê Johannes dan dat hy nie weet nie, waarop die ouderling vir Johannes sê dat hierdie uitverkorenes, die laastes is wat die laaste stryd op aarde deurstaan het en dat hulle, ... sonder vlek of rimpel en heilig en onberispelik is (n.a.v. Ef.5:27). Hierdie laaste uitverkorenes om die hemel te betree, het nie hul heiligheid en vlekloosheid eers in die hemel ontvang nie – nee, hulle het dit reeds, soos al die ander uitverkorenes wat hulle vooruit gegaan het, hier op aarde ontvang, deur die reiniging van Christus se bloed.

Die “verdrukking” waarvan die ouderling hier praat, moet nie gesien word as een enkele verdrukking, of “Groot Verdrukking” nie, maar eerder as die eindpunt of klimaks van die Nuwe Testamentiese era se verdrukking – dit is die era, of dispensasie van die Heilige Gees dus – tussen die eerste en die tweede koms van die Here Jesus. Gedurende hierdie tydperk gaan die Kerk van Christus voortdurend gebuk onder die aanslae van die satan en moet ons as gelowiges voortdurend waaksaam wees en ons gevegsmondering voortdurend aanhou – Ef.6:11-13 ~ Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. 12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. 13 Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.

Ek het gesê dat die geveg waaruit hierdie laaste gelowiges gekom het, die eindpunt of klimaks was van die Nuwe Testamentiese era, maar dit beteken allermins dat hierdie laaste geveg makliker, of dalk net so moeilik was as die waarin ons, onsself tans bevind – alle aanduidings is daar dat hierdie laaste “hekkie” voor die Groot Dag van die Here, uiters moeilik en fel sal wees, omdat die satan die Antichris in hierdie tyd sal vrystel teen God se kinders en hierdie laaste wilde en wrede aanslag, sal waarskynlik die grootste hoeveelheid martelare van alle tye oplewer.

Dit is dan ook waarom dit nodig is dat die diensknegte van God n.a.v. 7:3 ’n merkteken, of te wel seël op hul voorhoofde moet ontvang, want met daardie seël op hul voorhoofde sal nie een van hulle verlore gaan nie, maar volhard tot die einde toe.

Die voorafgaande klompie verse van hoofstuk 7 (1-8) is dus vir ons ’n aanduiding van hoe noodsaaklik dit is om hierdie seël te ontvang en vanaf vers 9 sien ons dan die eindresultaat van hierdie seël.

· Openb.7:15-17 ~ Daarom is hulle voor die troon van God en dien hulle Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal by hulle bly. 16 Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ’n hittegloed ook nie, 17 want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog.”

Johannes sien dat hierdie gelowiges wat voor die troon en in die teenwoordigheid van Christus is, oorspoel word met allerlei voorregte en seëninge.

Eerstens ervaar hulle die onuitspreeklike voorreg om voortdurend in die teenwoordigheid van God te wees en mag en kan hulle Hom dag en nag dien. Daar sal nooit verveeldheid wees nie; daar sal nooit eensaamheid wees nie – nooit, ooit nie, want hulle sal gemeenskap met God hê – Hy sal altyd by hulle wees! Die woorde “dag en nag” dui op die permanensie; die ewigheid waarin die gelowiges hulle sal bevind. En die gebruik van die woord “tempel” dui vir ons daarop, dat die ganse hemel; die ganse nuwe skepping, God se “woonplek” is en dit is waar alle gelowiges by Hom sal wees – in Sy woonplek – in Sy tempel.

Alle fisiese behoeftes wat hier op aarde bestaan het, sal daar nooit weer wees nie – die uitverkorenes sal nooit weer honger of dors hê nie. Hulle nuwe liggame wat hulle ontvang het sal nooit weer blootgestel wees aan allerlei beproewing of swaarkry nie, want Christus die Lam van God sal vir hulle ’n Herder wees en in hul behoeftes voorsien. God sal hulle so oorweldig met Sy blote teenwoordigheid, maar ook met Sy volmaakte liefde, dat daar geen trane in die hemel sal wees nie.

Dit is interessant om hier te sien dat Christus beide Lam en Herder sal wees. As Lam van God was Hy geslag ten einde ons met Sy bloed te koop, sodat ons saam met Hom in die hiernamaals kan wees (waar Hy nou reeds besig is om vir ons ’n plek voor te berei). As Herder voorsien Hy in al ons behoeftes en versorg en beskerm Hy ons.

As Herder lei Christus ons na fonteine met die water van lewe – in die Woord dui “water” meestal op die ewige lewe en redding. Die feit dat ons hier herinner word daaraan dat Christus ons na hierdie fontein van lewende water lei, dui vir ons daarop dat die fokus van ons teenwoordigheid in die hemel, op ’n ewige geestelike lewe en -seën gevestig word.

God sal dus altyd by ons wees en ons sal God altyd dien en loof en prys; sonder om moeg te word; sonder om honger te word; sonder om dors te word. In kort: Ons sal nooit gelukkiger kan wees as wat dit daar gaan wees nie en ons sal nooit gelukkiger in ons “werk” kan wees as in God se teenwoordigheid en in Sy tempel nie. Dit laat ’n mens dink aan die woorde in Hooglied 2:4 ~ Hy vat my na ’n feesplek toe; hy straal van liefde vir my.

3. TEN SLOTTE:
Wanneer hierdie pragtige prent vir ons geskilder word, wil ons nie eers dink aan wat met diegene gaan gebeur wat nié deur die bloed van die Lam van God vrygekoop is en wat met Christus se tweede koms, getref gaan word deur Sy verterende vuur nie. Genadiglik gaan ons as gelowiges hierdie voorsmaak van die hel vryspring, omdat ons God se seël ontvang het.

Openbaring 7 is dus vir ons ’n groot troos, voordat die ontsettende gebeurtenis van die sewende seël gaan losbreek. Dit is die innige, sterk versekering van ons veiligheid, voordat die gordyne vir die laaste bedryf van die slotdrama oopgetrek word.

[1] Bybelstudiereeks aangebied deur Kobus van der Walt te ANTIPAS Gemeente (Vereeniging) Sondagaand 01 November 2009