Sunday, November 17, 2013

Die Boodskap van Daniël - 08 (Die Skrif is teen die Muur)

1.     SKRIFLESING:
       Daniël 5:1-30 ~ Koning Belsasar het ’n groot ete gegee vir sy duisend hoofamptenare en saam met hulle wyn gedrink. 2Toe hy onder die invloed van die wyn was, het hy die goue en die silwerbekers wat deur sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem weggevoer is, laat haal sodat hy en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens daaruit kon drink. 3Toe is die goue en die silwerbekers gebring wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem, en die koning en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens het daaruit gedrink. 4Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip geprys. 5Meteens verskyn daar toe ’n mensehand wat op die gepleisterde muur van die paleis skryf, reg teenoor die kandelaar. Die koning het die hand gesien terwyl dit skryf. 6Toe het die koning bleek geword, hy was baie bang, sy bene het gebewe en hy was lam van die skrik. 7Hy het hard geroep dat die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders ingebring moes word en hy sê toe vir hulle, sy raadgewers: “Enigiemand wat kan lees wat hier geskrywe is en dit vir my kan uitlê, sal ’n koninklike kleed aangetrek word en ’n goue halsketting omgehang word, en hy sal as derde in rang regeer.” 8Al die koninklike raadgewers het ingekom, maar hulle was nie in staat om wat geskryf is, te lees en dit vir die koning uit te lê nie. 9Toe het koning Belsasar nog banger en bleker geword. Ook sy hoofamptenare het verslae gestaan. 10Onderwyl die koning en sy hoofamptenare aan die praat was, het die koningin die eetsaal binnegekom. “Mag die koning baie lank lewe!” het sy gesê. “U moenie so bang en bleek wees nie. 11Daar is ’n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is. In die dae van u voorganger is daar gevind dat hy skranderheid, insig en wysheid het soos dié van die gode. U voorganger, koning Nebukadnesar self, het hom aangestel as hoof van die towenaars, die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders. 12Hierdie man Daniël vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, het buitengewone bekwaamheid en kennis en insig om drome uit te lê, probleme op te los en moeilike dinge te ontrafel. Laat haal nou vir Daniël, en hy sal vir u die uitleg gee.” 13Daniël is toe na die koning toe gebring, en die koning het vir hom gevra: “Is jy die Daniël uit die Judese ballinge wat deur my voorganger die koning hierheen gebring is uit Juda? 14Ek het gehoor dat die gees van die gode in jou is en dat jy oor skranderheid, insig en buitengewone wysheid beskik. 15Die raadgewers, die voorspellers, is na my toe gebring sodat hulle kan lees wat geskryf is, en dit vir my kan uitlê, maar hulle is nie in staat om ’n uitleg te gee nie. 16“Ek het gehoor jy kan dinge uitlê en probleme ontrafel. As jy dan nou vir my kan lees wat geskryf is, en dit kan uitlê, sal daar vir jou ’n koninklike kleed aangetrek word en ’n goue halsketting omgehang word, en sal jy as derde in rang regeer.” 17Toe het Daniël die koning geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke en gee u beloning maar aan iemand anders. Ek sal in elk geval vir u lees wat geskryf is en dit vir u uitlê. 18“Die allerhoogste God het aan u voorganger Nebukadnesar koningskap en mag, roem en eer gegee. 19Vanweë hierdie mag wat God hom gegee het, het al die volke, nasies en taalgroepe vir hom gesidder en gebeef. Hy het doodgemaak wie hy wou en hy het laat lewe wie hy wou; hy het verhoog wie hy wou en hy het verneder wie hy wou. 20Maar toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy uit die koningskap afgesit en het hy sy roem verloor. 21Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en het soos die wilde diere geword; hy het saam met die wildedonkies gebly en moes gras eet soos beeste; hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak. Hy moes erken dat die allerhoogste God mag het oor die koninkryke op aarde en daaroor aanstel wie Hy wil. 22Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. 23U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie. 24Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe. 25“Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’26En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en ’n einde daaraan gemaak. 27‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. 28‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.” 29Daniël is toe op bevel van Belsasar ’n koninklike kleed aangetrek en ’n goue halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang in die koninkryk. 30Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor..

2.     INLEIDING:
       Belsasar verskyn hier in hoofstuk 5 sonder enige aankondiging, of enige agtergrond en die rede hiervoor is omdat die boek Daniël nie bloot net 'n verslag van geskiedkundige gebeurtenisse rondom God se volk is nie, trouens wanneer 'n mens na Daniël kyk en dit vergelyk met geskiedskrywes, besef 'n mens dat Daniël nie veel aandag skenk aan historiese chronologie nie, daarvoor sal 'n mens na ander geskrifte moet gaan kyk.
       Die profeet Daniël is egter meer geïnteresseerd in die geestelike konflik wat onderliggend is aan die geskiedkundige gebeurtenisse in die wêreld en wat op dramatiese wyse na vore kom in bepaalde gebeurtenisse soos weergegee in die boodskap van Daniël. In kort gaan dit dus oor die konflik wat daar heers tussen die koninkryk van hierdie wêreld en die koninkryk van God.
       Hierdie onaangekondigde verskyning van Belsasar laat 'n mens egter met 'n vraag, nl.: Wie is hierdie man, want nêrens in die geskiedskrywes verskyn die naam Belsasar in die lys van konings van Babilon nie.
       In v.2 word na Belsasar verwys as die opvolger van Nebukadneser. Hierdie is egter nie die korrekte vertaling nie en is die OAV en die meeste Engelse vertalings nader aan die waarheid, wanneer dit hierdie verwysing vertaal met dat Nebukadneser die vader van Belsasar was – en tog is dit ook nie heeltemal korrek nie, want Belsasar was die seun van Nabonidus, die laaste koning van Babilonië. Twee verdere vrae ontstaan dan: Indien Nabonidus die laaste koning was, hoe kan daar van Belsasar as koning gepraat word? Tweedens, indien Nebukadneser nie die vader van Belsasar was nie, waarom verwys die Bybel dan op hierdie wyse na Belsasar?
       Sonder om in detail hieroor te verval, net die volgende – en hieroor bestaan daar ook nie heeltemal klarigheid nie:
·           Belsasar was waarskynlik tydelik in bevel van die koninkryk geplaas terwyl sy pa Nabonidus besig was met 'n veldslag gedurende sy 7de tot 11de regeringsjaar.
·           Ons moet egter ook verstaan dat die uitdrukking "vader van..." vele betekenisse kan hê – o.a. verwys dit nie noodwendig na die biologiese Pa van 'n bepaalde persoon nie, maar eerder op 'n verskeidenheid van verhoudinge waarin die twee persone tot mekaar kan staan. So kon die uitdrukking "Pa van...." verwys na iemand se grootvader iewers terug in sy voorgeslag. 'n Voorbeeld hiervan is Abraham, wat die vader van die Jode is. Ons sien bv. in Joh.8:39 dat die Fariseërs en Skrifgeleerdes vir Jesus gesê het ~ Ons vader is Abraham.
       Net 'n laaste opmerking en dit is dat Nabonidus nie in die Bybel vermeld word nie en kry mens die indruk in Daniël, dat Nebukadneser die heel laaste koning was, maar volgens geskiedskrywes en opgrawings, was Nebukadneser se opvolger, Nabonidus die laaste koning – onthou Daniël is nie 'n geskiednisboek nie.

3.     DIE BANKET (vv.1-4):
       In vv.1-4 sien ons dan dat Belsasar 'n banket of partytjie vir 'n duisend van sy hoofamptenare, vrouens en byvrouens gehou het en hierdie partytjie het gepaard gegaan met 'n wyndrinkery en soos gewoonlik, is daar te veel gedrink en het menige van die partytjiegangers beskonke geraak. Ander voorbeelde van sulke partytjie is bv. dié waarvan 'n mens in Ester lees, waartydens Ahasveros sy vrou Vasti verwerp het en uiteindelik met Ester getrou het. Nog ’n voorbeeld is die bekende fees van Herodes in Mark.6, waartydens die onthoofding van Johannes die Doper geëis is.
       Ons lees in v.3 van ...die goue en die silwerbekers wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem en dit is dieselfde ...voorwerpe van die huis van God, (wat deur Jojakim) na die land Sínear gebring (en) in die huis van sy god (geplaas is). Die feit dat hier in hoofstuk 5 weer verwys word na hierdie voorwerpe, vestig weer vir ons die aandag op die stryd tussen lig en duisternis, want hierdie voorwerpe was van silwer en goud en was gebruik in die Tabernakel in opdrag van God (Eks.30:1-10) en was dus heilige voorwerpe omdat dit gewy was aan God, trouens dit was so heilig dat dit met draaghoute gedra moes word.
      Belsasar kom nou tydens hierdie fees en hy onteer hierdie heilige voorwerpe en laster derhalwe direk teen God, deur wyn uit hierdie voorwerpe te drink en in die proses hierdie heilige voorwerpe te misbruik om eer aan sy afgode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip te bring (v.4). Hoe ernstig het God die verkeerde hantering van Sy heilige voorwerpe beskou? 2 Sam.6:6-7 ~ En toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel. Daarop het die toorn van die Here teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor dié vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf het. Baie mense vind dit moeilik om te verstaan waarom God so ingrypend optree teen die wangebruik van Sy heilige voorwerpe, trouens selfs Dawid het dit nie verstaan nie – v.8 ~ Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het. Wat ons moet verstaan, is dat God heilig is en ons vol sonde is – as God vir Ussa, wat maar net wou help, so gestraf het, hoeveel te meer nie vir Belsasar nie!
            Nie alleen het Belsasar God se heilige voorwerpe onteer nie, maar hy het hom ook openlik geskaar by die afgode en daarom teen God, deur wyn te drink ter ere van sy afgode. In Ps.46:11 sê God ~ Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. In Ps.96:4-5 lees ons die volgende ~ Die Here is groot, al die lof kom Hom toe, ontsagwekkend is Hy bo alle gode. 5Al die gode van die volke is niks: dit is die Here wat die hemele gemaak het. Belsasar het God nie erken nie en hy het nie lof aan God gebring deur sy misbruik van die heilige tempelvoorwerpe nie. God deel nie Sy eer met iets of iemand anders nie en daarom tree Hy op teen enige iemand wat nie eer aan Hom en Hom alleen bring nie.

4.     DIE TEKEN (vv.5-9):
       Soos baie kere is God baie geduldig met sondaars (dink maar net aan onsself), maar met Belsasar se gefuif en laster het God geen geduld gehad nie en Hy tree onmiddellik op – 'n geheimsinnige vinger skryf teen die muur in die banketsaal (NAV = hand; אֶצְבַּע [ʾetsbaʿ /ets·bah/] = vinger – OAV e.a. – korrek = vinger). Hierdie vinger, is dieselfde vinger waarvan die Farao se towenaars in Eks.8:19 gesê het ~ Dit is die vinger van God. Die vinger van God skryf verdoemende woorde op die muur in Belsasar se banketsaal.
       Toe Belsasar die woorde sien het hy doodsbleek geword; sy knieë het gebewe en sy heupe het "losgeraak", wat daarop dui dat hy waarskynlik neergeslaan het op die grond.
            In hierdie vreesbevange toestand roep hy na sy waarsêers en voorspellers, maar nie een van hulle kon hierdie woorde wat teen die muur geskryf gestaan het, verklaar nie en Belsasar het nog bleker geword. Die feit dat niemand hierdie oënskynlik eenvoudige boodskap kon verklaar nie, herinner 'n mens aan die woorde 1 Kor.1:18-19 ~ Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 19Daar staan tog geskrywe: “Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig, en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.” Hierdie is natuurlik 'n aanhaling uit Jes.29:14 ~ Daarom gaan Ek nog ongehoorder dinge doen met hierdie volk: die een ongehoorde ding na die ander, sodat die wysheid van sy wyse manne sal verdwyn, die verstand van sy verstandige mense tot niet sal gaan.     

5.     DIE PROFEET GENADER (vv.10-16):
       'n Vrou kom die vreesbevange Belsasar te hulp. Hierdie vrou word in die teks genoem as Belsasar se vrou – die koningin. Daar is baie Bybelverklaarders wat reken dat dit eerder Belsasar se moeder was, want Belsasar se vrouens was reeds in die saal (v.2) en slegs die koningin (die vrou van Nabonidus) sou die reg hê om onaangekondig by die banketsaal in te loop – dit is egter nie belangrik om regtig te weet wie dit nou werklik was nie, wat saak maak, is dat 'n vrou die oplossing tot 'n verklaring aanbied, wanneer se in v.11a sê ~ Daar is ’n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is en dan gaan sy in v.12 voort en sê ~ Hierdie man Daniël vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, het buitengewone bekwaamheid en kennis en insig om drome uit te lê, probleme op te los en moeilike dinge te ontrafel. Laat haal nou vir
 Daniël, en hy sal vir u die uitleg gee, waarop Daniël dadelik na Belsasar geneem is.
       In vv.13-16 het Belsasar allerlei vleitaal gebruik en ook 'n wonderlike belofte aan Daniël gemaak dat indien hy die skrif teen die muur kan verklaar, hy hom derde in beval van die koninkryk sou maak.

6.     DIE PROFEET SE VEROORDELING (vv.17-24):
       Nadat Daniël geduldig gewag het vir Belsasar om klaar te praat, laat blyk hy duidelik dat hy nie beïndruk is met Belsasar se mooi praatjies en beloftes nie en begin hy in vv.17-24 vir Belsasar so bietjie agtergrond gee oor sy voorvader (Nebukadneser) en wat alles met hom gebeur het en hoe God hom gestroop het van sý arrogansie.
       Hy sê ook vir Belsasar dat dit tragies is dat hy nie uit Nebukadneser se situasie geleer en homself voor God verootmoedig het nie en omdat hy dit nie gedoen het nie, het God se geduld met hom opgeraak. Paulus skryf in Rom.2:4-5 ~ God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? 5Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek. Presies dit wat Paulus hier sê, was Belsasar se voorland – God het reeds Sy regverdige oordeel oor Belsasar uitgespreek deurdat Hy dit teen die muur met Sy vinger geskryf het en nou gee Daniël vir die koning die uitleg van dit wat geskryf is.

7.     DIE UITLEG (vv.25-28):
       ...Getel, getel, geweeg en verdeel  26En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en ’n einde daaraan gemaak (v.25-26), of anders gestel: God het jou jare getel en jou regeringstyd is verstreke; jy is geweeg en te lig bevind en jou koninkryk gaan verdeel word en aan die Mede en Perse gegee word.

8.     DIE GEVOLGE (vv.29-31):
       Na hierdie uitleg reageer Belsasar op ’n eienaardige wyse – al het Daniël die koning se aanbod tot bevordering, ens. (v.16) van die hand gewys, hou Belsasar tog by sy belofte en bevorder hy Daniël (v.29), maar ’n mens kry amper die indruk dat hy dit doen om net vir oulaas dalk Daniël en Daniël se God se guns te wen, maar alles is puur verniet, want in v.30 lees ons ~ Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor en daarmee saam het die eens magtige Babiloniese Ryk verdwyn. Belsasar het op die hardste moontlike manier geleer dat God alleen die Almagtige is; dat Hy soewerein is en dat Hy en Hy alleen regeer.

9.     AFSLUITING EN TOEPASSING:
       Wanneer ons na v.22 kyk, sien ons dat Belsasar se sonde ’n keuse was wat hy uitgeoefen het ~ Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. Die voorbeeld van wat van hom verwag was, het nie ver in die verlede gelê nie, maar hy het gekies om te sondig; hy het gekies om in duisternis te leef. Paulus noem hierdie keuse in Rom.8:7, ...vyandskap teen God. Johannes weer, noem dit in 1 Joh.3:4 ~ wetteloosheid (OAV). In Joh.3:19 sê Jesus ~ ...en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. In Joh.5:40 sê Hy ~ Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.

       Daar is ’n paar belangrike lesse te leer uit hierdie verhaal van Belsasar:
·           Sonde is nie passief nie en het altyd gevolge – die een sonde lei tot ’n volgende, of wanneer jy sondig, raak daardie sonde baie maklik ’n gewoonte. Nebukadneser het gesondig deur homself te vereer en daarvoor het God hom ’n tyd lank gestraf met o.a. kranksinnigheid – Eks.20:5 ~ Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Belsasar het nog verder gegaan – hy het God belaster en daarvoor is hy gedood.
       Hierdie is die patroon wat sonde volg – dink aan Jona, sy aanvanklike ongehoorsaamheid het tot uiteindelike rampspoed gelei en so is daar nog vele ander voorbeelde in die Woord
       Paulus som hierdie agteruitgang van sonde in die mens se lewe baie mooi op in Rom.1:21-28 (ek som op) ~ ...omdat, al weet hulle van God, (maar) hulle Hom nie as God eer en dank nie... (v.21); ...gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid... (v.24); ...gee God hulle oor aan skandelike drifte... (v.26); ... (en) brand (hulle) van begeerte... (v.27); ...en omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is. (v.28). Die een sonde lei tot ’n ander en dit raak net erger en erger.
       Met hierdie feit in gedagte moet ons baie versigtig wees hoe ons omgaan met sonde en baie seker maak dat ons nie sonde in ons harte vertroetel nie – voor ons, ons oë uitvee, neem dit hand oor hand toe.
       Ons het ook geen verskoning as ons hierdie dinge weet, maar volhard steeds in ons sonde nie – dit is waarom Daniël vir Belsasar gesê het ~ Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet (v.22).
·           Sonde stel ons bloot aan gevaar. Rom.6:23a sê ~ Want die loon van die sonde is die dood. Belsasar se sonde het hom al nader aan hierdie realiteit gebring, want toe sy sonde die toppunt bereik het, het hy letterlik ’n paar uur later gesterf (v.30). Ons weet dat ’n permissiewe lewe baie dikwels lei tot bv. HIV Vigs en uiteindelike die dood, ens. Ons moet dus versigtig wees om nie onverskillig om te gaan met sonde nie.
·           God is nie onbetrokke en passief nie. Net soos wat sonde nie passief is nie, is God ook nie passief en onbetrokke by die mens se sonde nie. Belsasar se sonde en God se vinger teen die muur het letterlik die boodskap vir Belsasar uitgespel, nl.: die skrif is aan die muur vir jou Belsasar.
       Daar is baie kere dat dit vir ons voorkom asof God glad nie sonde raaksien en/of daarop reageer nie, maar ons moet nie dink dat God nie daardeur geraak word nie, of dat Hy dit vir altyd sal ignoreer nie. John MacArthur het nou onlangs tydens die "Strange Fire- konferensie" gesê, dat dit verstommend is dat God nie die misleiers en meelopers in die ekstreem Charismatiese groepe, oombliklik van die aarde af wegvee nie, maar toe antwoord hy homself deur te sê dat hy aan die anderkant oortuig is daarvan dat God geduldig wag, omdat daar nog mense in hierdie groepe is wat tot bekering gaan kom – dat daar nog uitverkorenes is wat verlos gaan word vanuit daardie groepe en dit is waarom God oënskynlik niks aan daardie sonde doen nie – dit is waarom Hy geduldig is met hul sonde en wat die ander betref wat nie tot bekering gaan kom nie – God se wraak word net meer en meer opgepot teen hulle.
       Ons moet egter ook onthou dat ons primêre roeping as gelowiges is om God in en deur ons lewe te verheerlik en sonde verhoed ons om dit te doen, omdat sonde in ons lewe tot God se oneer strek. Bykomend hierby is natuurlik ook die feit dat ons sonde die Heilige Gees bedroef en dit verbreed net die kloof wat deur sonde veroorsaak word.
       Nebukadneser en Belsasar is nie die enigste twee kontrasterende Bybelfigure nie – dink maar net aan die kontras tussen Kain en Abel – Kain wat God gehaat het en Abel wat God liefgehad het. Dink aan Jakob en Esau – die een word begenadig en gered; die ander verlore. Daar was Dawid en Saul; die elf dissipels en Judas en dan in ons verhaal Nebukadneser en Belsasar.
       Wat is dit wat die verskil tussen twee kontrasterende figure veroorsaak? Wat bepaal dat die twee nie dieselfde is nie? Hoe verklaar ons die geheimenis van iemand wat uitverkies is en gered word en ’n ander wat verwerp word; wie nie uitverkies is nie en derhalwe verdoem word?
       As ons so deur die Woord van God lees, dan kan ons
nie anders as om te besef dat God kies wie Hy wil en verwerp wie Hy wil nie. Die wie God se guns geniet kan Hom maar net dank vir genade onverdiend ontvang!   
       Babilon het twee trotse konings gehad – die een was verneder en God het aan hom ’n berouvolle hart geskenk en sodoende is sy lewe en sy koninkryk vir ’n tyd lank gespaar. Die ander was verneder voor sy vrouens en hoofamptenare, maar hy het homself nie bekeer nie en hy het die hoogste prys daarvoor betaal – Matt.16:26a ~ Wat sal dit ’n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor...? Daarteenoor, as Jesus Christus jou Verlosser en Saligmaker is, mag jy dalk alles in hierdie lewe verloor, maar jy sál die ewige lewe as wins verkry.





[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 17 November 2013

Sunday, November 10, 2013

Openbaring Ontsluit – 52 (Satan Gebind - 03)

1.     INLEIDING:
       Ons het reeds aangetoon dat ons nou midde in die "millennium" leef; die millennium wat rondom 70 n.C. begin het en eers afgesluit sal word wanneer die laaste uitverkorene tot redding kom. Regdeur hierdie tydperk sal Satan gebind wees; ingeperk en beperk wees t.o.v. sy optrede soos voor die koms van Christus, toe hy die nasies van die aarde mislei het. Daar kom egter ’n tyd dat hy vir ’n kort tydjie vrygelaat sal word (20:3), maar sy finale nederlaag sal kort daarna volg.   

2.    SKRIFLESING:
       Openb.20:7-15 ~ Wanneer die duisend jaar om is, sal die Satan uit sy gevangenskap losgelaat word. 8Dan sal hy gaan om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, die Gog en Magog, te verlei, en om hulle byeen te bring vir die oorlog. Hulle is so baie soos die sand van die see. 9Hulle het oor die hele oppervlakte van die aarde aangekom en die laer van die gelowiges en die geliefde stad omsingel. Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer. 10Die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swael gegooi, daar waar die dier en die vals profeet ook is. Hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. 11Toe het ek ’n groot wit troon gesien en die Een wat daarop sit. Die aarde en die hemel het voor Hom padgegee, en daar was nie meer plek vir hulle nie. 12Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. 13Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

3.     SATAN WORD OORWIN:
       Ons sien hier in v.7 dat die satan na die millennium weer vrygelaat sal word en dit vind plaas aan die einde van die era van die kerk en wanneer dit gebeur, sal hy weer gesag ontvang om die nasies te mislei. Ons weet egter dat hierdie loslating van die satan en sy misleiding nie ’n effek op die gelowiges sal hê nie, want almal wat God geroep het om kinders van Hom te wees, sal gered word. Die satan sal spesifiek "Gog en Magog" mislei. "Gog en Magog" is verteenwoordigende uitdrukkings of name in die Ou Testament, van wat téén God was (Eseg.38-39). Ons sien dus hier dat Satan vir oulaas diegene wie hy mislei het, byeen maak en oorlog voer teen die "geliefde stad" (Jerusalem).

       In Openbaring word daar telkens van die "geliefde stad" gepraat, of te wel van Jerusalem en elke keer verwys dit na die Kerk van die Here Jesus. Wat dus hier geskryf staan, is dat die satan op een of ander wyse diegene wie hy verlei het, bymekaar bring om teen die Kerk oorlog te voer. Hier word dus van ’n geestelike oorlog gepraat, eerder as ’n fisiese oorlog. Weereens moet ons onthou dat dit nie ’n oorlog is wat lank gaan duur nie. Daar gaan dus heel aan die einde van die menslike geskiedenis ’n geweldige opstand vir ’n tydjie teen die Kerk van Christus kom.

       Wanneer Satan egter dink dat hy die oorwinning gaan behaal oor die Kerk, volg sy vernietiging en word hy finaal oorwin ~ Toe het daar vuur van die hemel af gekom en hulle verteer (v.9b). Is hierdie ’n letterlike vuur? Hierdie is waarskynlik ’n verwysing na Paulus se lering oor die Tweede Koms van Christus ~ God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. 10Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo (2Tes.1:6-10).

       Daar is mense wat hierdie gedeelte sal interpreteer met die val van Jerusalem in gedagte en dit kan waarskynlik ’n geldige interpretasie wees, maar ek dink as ’n mens na die hele gedeelte, asook die res van Openb.20 kyk, sou hierdie gedeelte beter inpas by ’n verklaring wat handel oor Jesus se wederkoms aan die einde van die menslike geskiedenis. Let op dat ...wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn.Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie (2Tes.1:7b, 8), bevestig tog hierdie interpretasie, nie waar nie? Christus gaan dus met vuur vanuit die hemel terug keer na die aarde ten einde wraak te neem op Gog en Magog – hulle wie deur die satan mislei is en ingespan is teen die kerk.

       Dit is o.a. hier waar ons teologiese paaie met dié van die Pre-Millennialiste skei. Volgens die Pre-Millennialiste vind die wederkoms van Christus in Openb.19:11-21 plaas en dit word dan gevolg deur ’n "1000-jarige vrederyk", soos beskryf (volgens hulle) in Openb.20. Die Skrif toon egter ondubbelsinnig aan dat Christus se wederkoms eers aan die einde van die millennium sal plaasvind, want dan eers gaan die satan in die poel van vuur gewerp word.

       Die millennium (of te wel "die era van die kerk") waarin ons onsself nou bevind, is ’n tyd van wonderlike Evangelie-seën regoor die wêreld (Openb.20:1-6) en eers aan die einde van hierdie tydperk (ons weet nie hoe lank hierdie millennium gaan duur nie), sal Jesus liggaamlik en sigbaar terugkeer na die aarde (20:7-10) en sal Satan finaal geoordeel word.

4.    GOG EN MAGOG:
       Kom ons keer egter terug na vv.7-10 en ons sien dat die millennium beëindig word en daar word ook melding gemaak word van Gog en Magog – nou wie is Gog en Magog en wat doen hulle of gaan hulle doen?

       Net t.w.v. agtergond: Daar word dikwels in die Nuwe Testament en uiteraard ook in Openbaring na Ou Testamentiese teksverse; gebeurtenisse; of mense verwys ten einde iets te illustreer wat reeds gebeur het, of nog gaan gebeur, maar dit is nie noodwendig 'n profetiese woord wat vanuit die Ou Testament, vooruit wys na gebeurtenisse in die Nuwe Testament, of selfs nog verder nie – dit dien dus net as voorbeeld. So kan ons bv. kyk na Isebel waarvan Openb.2:20 praat. Ons kry met haar te doen in o.a. 1 Konings en sien ons dat sy die bose vrou van koning Agab was.  Wanneer ons in Openbaring 2 van haar lees, wil Johannes nie vir sy lesers laat verstaan dat sy steeds leef nie, maar bloot net dat daar 'n individu in die gemeente van Tiatira was, wat net so boos soos Isebel is.

       Op dieselfde wyse is die verwysing na Egipte, Sodom en Babilon bv., 'n sinspeling op Israel van Openbaring se boosheid – Israel is m.a.w. nie nou skielik Egipte nie, maar wanneer dit kom by boosheid, is Jerusalem nét soos Egipte. Wanneer ons in Openbaring lees van Gog en Magog, moet ons hierdie selfde beginsel in gedagte hou en kyk of dit nie dalk ook net 'n vergelyking is nie.

       In Eseg.38-39 word daar ook melding gemaak van Gog en Magog, maar ook hier is dit nie noodwendig 'n direkte profesie t.o.v. die toekoms, of die einde van tye nie. Wat Johannes hier sê deur die gebruik van hierdie vergelyking, is dat die gebeure aan die einde van die tye, baie sal ooreenstem met die gebeurtenisse waaroor Esegiël geprofeteer het en as ons hierdie gedeelte in Openb.20 wil verstaan, moet ons iets van Eseg.38-39  verstaan en het dit niks te doen met Rusland ('n dekade of wat terug was dit die "Rooi Gevaar"), of deesdae met Irak, ens. nie. Net om aan te toon hoe ver sommige mense gaan en hoe onverantwoordelik hulle omgaan met die Woord, kan ek net die volgende vinnig noem, hoe van diesulkes by Rusland uitkom wanneer hulle praat oor o.a. Openb.20 se Gog en Magog en die "Slag van Armageddon", ens.  

       Esgiël se profesie t.o.v. Gog en Magog begin in Eseg.38:1-2 ~ Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mens, draai jou gesig na Magog se land toe, na Gog toe, die hoofregeerder van Mesek en Tubal, tree op as profeet teen hom. Drie woorde wat hier van belang is, is "hoofregeerder"; "Mesek" en "Tubal". Die NAV gebruik die woord "hoofregeerder" i.p.v. "die vors van Ros" (OAV). "Ros" is egter nader aan die oorspronklike Hebreeus - רֹאשׁ, רֹאשׁ [roʾsh /roshe/] (sien ook die ASV en meeste ander goeie Engelse vertalings). En natuurlik is "Mesek" in die OAV "Meseg" (מֶשֶׁךְ [Meshek /meh·shek/]).

       Mense wat Rusland en allerlei ander bloeddorstige beelde in hierdie gedeelte inlees, grond hul verklarings bloot net op die fonetiek, i.p.v. behoorlike eksegese, ens. en wanneer hulle na die fonetiek luister, klink die woord "Ros" vir hulle soos "Rusland" en die woord "Meseg", soos Moskou en die woord "Tubal" klink soos Tobolsk, 'n stad in die suid-weste van Rusland, vanwaar aanvalle geloods kan word op Israel!

       Behalwe dat 'n mens nié so met die Woord kan omgaan nie, kan hierdie name onmoontlik in Esegiël ingelees word, want die name "Rusland" (terugspoorbaar slegs tot 1538 n.C.); "Moskou" (1147) en Tobolsk (1586), het nog nie eens in Esegiël se tyd bestaan nie en daarom sou die skrywer nie eens hierdie name gebruik het nie.

       Nog iets opvallend is dat die wapens wat in hierdie stryd gebruik was, van hout gemaak was en sommige "dIspensasie-teoloë" beweer dat hierdie ook dui op Rusland, omdat Rusland skynbaar op 'n stadium beweer het dat hulle houtgewere met hout koeëls ontwerp het – hoe belaglik om dan te sê dat Rusland in hierdie slag, met houtgewere gaan veg en dit in 'n moderne era van kernwapens en projektiele!

       Net nog een laaste opmerking: Dit is verstommend om te sien hoe dat Israel ook deur baie in Openabring 20 ingelees word en dan spesifiek in vv.8-9 en tog wanneer ons bloot net hierdie verse lees, is daar hoegenaamd geen sprake van Israel, of 'n verwysing of skimp in die rigting van Israel nie – dit gaan hier oor God se kinders (v.9 – konteks!) en die wêreld – hier is dus geen (soos in die res van Openbaring) enige verwysing na Israel nie – trouens, Rom.10:12 sê uitdruklik dat daar geen verskil tussen Jood en heidin is nie ~ “Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik...

       Hoe dit ookal sy – Ons sien in hierdie verse in Esegiël, dat Esegiël profeteer oor 'n persoon of mag met die naam van Magog, afkomstig van die land Gog. Hierdie Gog was 'n prins van 'n land noord van Israel. In Eseg.38:5 sien ons dat Magog 'n geweldige groot en sterk multinasionale mag (Eseg.38:15; 39:11-12) byeen gebring het om Israel aan te val – 'n verswakte Israel wat pas uit ballingskap uit terug gekeer het. Die uiteinde was – en nie baie lank na die profesie nie - dat God hierdie magtige vyand verwoes het.

       Johannes se profesie in v.8 verwys dus bloot net na 'n gebeurtenis soortgelyk aan dié in Esegiël se tyd wat aan die einde van die millennium gaan plaasvind, nl. dat die vyande van God en wel o.l.v. die satan wat op daardie stadium vir 'n kort tydjie vrygelaat gaan word, 'n aanslag op gelowiges sal maak, maar net soos in die geval van die verswakte Israel in Esegiël se tyd – en kan ek byvoeg die handjievol gelowiges in 70 n.C. in Jerusalem (weggelei na Pela), sal die oorweldigende massas niks teen God se kinders kan uitrig nie. Hierdie  – in plaas dus van die allerverskriklkste "wins-genererende-fiksie boeke" van bloed en perdehoewe en moord en doodslag, is hierdie boodskap 'n bemoedigende boodskap van beskerming en oorwinning vir al gelowiges in daardie kort tydjie wat die satan losgelaat sal word aan die einde van die millennium!

5.     DIE LAASTE OORDEEL:
       In vv.11-15 van ons Skriflesing, vind ons die finale "geskiedenis-beëindigende" oordeel, uitgebeeld en dit vind plaas nadat alle dooies deur die eeue heen, opgestaan het. Soos ons binnekort sal sien, fokus hierdie spesifieke gedeelte oor die oordeel wat oor die ongelowiges gevel gaan word – die fokus van die gelowiges se oordeel was Golgota!

·           Wie is die Regter? Dit is duidelik uit ons verse onder bespreking, dat Jesus Christus self die Regter is. Ons het alreeds die Seun van die Mens op ’n "wit wolk" gesien (14:14); die Woord van God op ’n "wit perd" (19:11); nou sien ons Hom op die "groot wit troon". Dit pas dan ook pragtig in by die Bybelse prentjie wat vir ons in Joh.5:22-29 geskilder word ~ Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. 23Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie. 24“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan. 25Ek verseker julle: Daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe. 26Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook aan die Seun gegee om dit in Homself te hê. 27Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is. 28Moenie hieroor verbaas wees nie: daar kom ’n tyd wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29en sal uitgaan. Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word.” V.22 toon dus baie duidelik vir ons aan dat Jesus Christus die Regter gaan wees.

·           Wie is die Veroordeeldes? In v.12 (van Openb.20) sien ons dat die veroordeeldes, al die dooies (groot en klein) is. Waar kom hulle oral vandaan? V.13 ~ Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was. Alle dooies van alle plekke af, sal opgewek word aan die einde van tye, ten einde geoordeel te word.

·           Die Oordeel: Daar gaan twee boeke direk na die opstanding geopen word – vers12 ~ ... en die boeke is oopgemaak. Daar is ook ’n ander boek oopgemaak, dit is die boek van die lewe. Die dooies is toe geoordeel volgens wat daar in die boeke geskrywe staan oor alles wat hulle gedoen het. Daar is dus eerstens, ’n "boek van werke" (vv.12-13). Diegene wat aan die hand van hierdie boek veroordeel gaan word, word op grond van hul eie werke veroordeel. Wat is die uiteinde van hierdie oordeel? Vers 15 ~ As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi. Diegene wie se name opgeteken is in die "boek van werke", word op grond van hul werke geoordeel – dit impliseer dus ook dat al hul sonde in hierdie boek opgeteken is en dat hulle dus ook in die lig van hulle sonde geoordeel gaan word.

       Die "boek van werke" is egter nie die enigste een wat geopen gaan word nie – daar is ook die "boek van die lewe" (v.12). Wat is hierdie boek? Dit is ’n lys met al die name van diegene wat vergewe is en vir wie geregtigheid deur die kosbare bloed van Jesus bewerkstellig is – en hulle name was alreeds voor die grondlegging van die aarde in die "boek van die lewe" geskryf. Diegene wie deur Christus se kruisdood met God versoen is, se name is nêrens te vinde in die "boek van werke" nie. Hierdie optrede van God is regverdig, want die verloregaandes het, op grond van God se uitverkiesinde wil, gekies om God die rug te keer, of hoogstens om Hom deur werke te probeer beïndruk, wat ons natuurlik weet, nie goed genoeg is nie. Diegene wie geregverdig is, ontvang God se seën, omdat Christus alles gedoen het wat nodig was om God tevrede te stel.

       Wat ’n wonderlike wete – as jou naam in die "boek van die lewe" is, is dit nié in die "boek van werke" nie, want Jesus Christus se geregtigheid; Sy offer wat Hy aan die kruis gebring het; Sy Kruisdood; het jou en my oortredings uit die "boek van werke" gevee en terselfdertyd ons name in die "boek van die lewe" geskryf, want Christus het die Wet namens ons, volkome vervul. As dit nie goeie nuus is nie, weet ek nie wat is goeie nuus nie!

       Diegene wie se name egter nie in die "boek van die lewe" geskryf is nie, sal gevonnis word ~ Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. 15As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel gegooi (vv.14-15) – ewige skeiding van God en ewige foltering – dit is die vonnis wat voltrek word op almal wie nie deur Christus se bloed gereinig is nie. Volgens Mark.9:42-50 sal die vuurpoel ’n plek wees waar ...die wurm nie dood(gaan) nie en word die vuur nie geblus nie.”

       Wat word dan regtig vir ons hier in Openb.20 geleer? Tussen Christus se kruisiging en die verwoesting van Jerusalem, is die satan gebind vir ’n lang tydperk ("millennium") en gedurende hierdie tydperk sal die kerk van die Here Jesus Christus uitbrei en sal die Evangelie oral oor die wêreld heen verkondig word – op hierdie wyse regeer die kerk (die gelowiges) saam met Christus. Aan die einde van die millennium (soos ons reeds gesien het), sal die satan vir ’n kort tydjie losgelaat word, maar na hierdie kort tydjie, sal Christus fisies terugkeer na die wêreld. Satan sal in die poel van vuur gewerp word. Die algemene opstanding sa plaasvind en Christus se finale oordeel sal daarop volg. Nadat die oordeel afgehandel is, sal Christus die Koninkryk aan Sy Vader oorhandig (1Kor.15:24-28). Dit sal die einde van die mens se geskiedenis op aarde wees.

6.     AFSLUITING:
       Openb.20 handel dan gedeeltelik oor die millennium, maar dit is veel, veel meer as net dit! Dit toon ook aan ons dat die satan tans gebind is en dat Christus se Koninkryk stadig maar seker vooruit beur hier op aarde en dat die Evangelie na al die uithoeke van die aarde uitgedra word en dat gelowiges selfs tydens die kort tydperk aan die einde van die millennium, wanneer die satan vrygelaat sal word, nie hoef te vrees nie en dat Christus dan uiteindelik na daardie kort tydperk sal terugkom en diegene wie se name in die "boek van die lewe" geskrywe staan, sal ’n ewigheid saam met die Vader in die hemel deurbring – Dit is voorwaar goeie nuus!



[1] Boodskap gebring deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente.  Vereeniging – 10 November 2013

Sunday, November 3, 2013

Openbaring Ontsluit – 51 (Jesus Christus Heers - 02)


1.     SKRIFLESING:
       Openb.20:1-6 ~ Toe het ek ’n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met ’n groot ketting in sy han. 2Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind. 3Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word. 4Toe het ek trone gesien en die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het. Hulle het op die trone gaan sit, en aan hulle is die bevoegdheid gegee om as regters op te tree. Dit is hulle wat nie die dier en sy beeld aanbid het nie en nie die merk op die voorkop en op die hand aanvaar het nie. Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank geregeer. 5Dit is die eerste opstanding. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. 6Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer.

2.    INLEIDING:
       Ons het die vorige keer gesien dat die tydperk "1000 jaar", ’n vaste tydperk is, maar nie letterlik eenduisend jaar nie – eerder ’n vasgestelde tydperk waartydens God Sy wil laat geskied. Die getal tien in die Bybel en selfs in die alledaagse lewe, verteenwoordig ’n volheidsgetal.

       Ons kan op dieselfde wyse na die getal tien in die Bybel kyk. Daar is bv. die Tien Gebooie: Dit impliseer nie dat hierdie die enigste wette is wat God aan die Israeliete gegee het nie, maar die Tien Gebooie verteenwoordig die hele wet.

       Daar was tien plae in Egipte: Dit beteken natuurlik nie dat dit die enigste strawwe was wat God oor die Farao kon bring nie, maar dit was verteenwoordigend van God se volkome oordeel ten einde Sy volmaakte wil ten uitvoer te bring wat betref die Farao.

       Indien ons die getal tien neem en dit met tien vermenigvuldig en weer ’n keer met tien, kom ons by ’n totaal van 1000 uit, wat verteenwoordigend is van die Woord se maksimale volheid. Bv. wanneer die Woord sê dat God al die vee op 'n duisend berge besit (Ps.50:10) beteken dit nie dat Hy net oor 'n duisend heuwels se vee beskik nie. Nee, dit beteken dat God ál die vee op ál die berge besit.

       Op dieselfde wyse kan ons na Deut.1:11 kyk ~ Mag die Here die God van julle voorvaders julle nog duisend maal meer maak en vir julle ’n groot nageslag gee soos Hy julle beloof het. Hierdie belofte kan teruggevoer word na God se belofte aan Abraham waar Hy gesê het dat Abraham se geslag, soveel as die sterre aan die hemel sal wees (Deut.1:10). Teen die tyd dat Moses hierdie woorde geskryf, of geuiter het, het God reeds Abraham se nageslag grootliks vermeerder. Moses se gebed is dat God sal voortgaan ten einde hierdie belofte aan Abraham te vervul. Ons kan egter nie sê dat Moses, God versoek het dat God, Abraham se nageslag 1000-voudig sal vermeerder en dan sal ophou om dit verder te doen nie; trouens sy gebed is juis dat God nooit sal ophou om die volk te vermeerder nie.

       God belowe ook om genade teenoor Sy volk te betoon, tot aan die duisendste geslag (Deut.7:9). Beteken dit dan nou dat God die volk sal bly seën tot en met die 999ste plus 1 geslag (presies ’n 1000 geslagte) en dan eensklaps ophou? Tog sekerlik nie, want Hy belowe om tot aan die einde van die dae, genade te betoon teenoor almal wat Sý eiendom is!

       Nog ’n verwysing na die getal "1000" vind ons in Jos.23:10 ~ Een van julle jaag ’n duisend op loop, want dit is die Here julle God wat die oorlog vir julle voer soos Hy julle beloof het. Ook hier kan ons nie die getal "1000", letterlik neem nie – wat God hier belowe, is dat die Israeliete, al is hulle ver in die minderheid, nogtans die oorwinning sal behaal.

       Net so is dit nie moontlik om Openb.20 se "1000", letterlik te vertolk nie. Hierdie standpunt
word verder versterk as ons in gedagte hou dat geen van die ander syfers of getalle in Openbaring, letterlik vertolk word nie.

       Net so "tussen hakies": Indien ons hierdie "1000" letterlik moet vertolk, moet ons tog die res van Openb.20 ook letterlik vertolk. Indien dit so is, moet ons dan o.a. mos ook verwag dat (in groot piëteit gesê) Christus eendag met ’n letterlike ketting sal afdaal na die aarde ten einde Satan te bind – Satan wat ’n geestelike wese is, met ’n letterlike yster ketting? As ons "ketting" nie letterlik vertolk nie, waarom nie ook die "1000" nie?

3.    SATAN GEBIND:
       Terug dan na vv.1-3. Die tydperk wat die satan gebind gaan word, sal ’n simboliese tydperk wees, wat ons dan ook "die millennium" noem. Die implikasies van Satan se binding, het geweldige implikasies vir ons – om maar net een te noem en dit is wat my betref die belangrikste en ook gaan dit hier in Openb.20 juis hieroor: Voor Christus se koms na die aarde, was alle nasies met die uitsondering van Israel, onder Satan se volle beheer. Israel was die enigste land wat die waarheid aangaande God geken het en hulle was die enigstes wat ook God se redding kon ervaar (met enkele individuele uitsonderings – Rut bv.). Met Christus se koms en die verspreiding van die Evangelieboodskap, het alles egter verander en het die satan se oorheersing oor die heidennasies in duie gestort (Deut.7:6 ~ Jy is ’n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. Sien ook Ps.147:19-20 ~ Hy maak sy woord aan Jakob bekend, sy voorskrifte en bepalings aan Israel. 20Dit het Hy vir geeneen van die ander nasies gedoen nie; hulle ken sy bepalings nie. Prys die Here! Sien ook: Luk.4:6; Hand.14:16; 17:30; 26:17-18).

4.    DIE MILLENNIUM:
       Die vraag is dan nou: Wanneer het hierdie millennium begin en wanneer gaan dit eindig – kan ons dit beantwoord?

       Soos reeds gesê, was die doel met die binding van Satan, om hom te verhoed om die nasies verder te mislei, sodat die Evangelie vrylik kon versprei. Hierdie binding het begin tydens Jesus se aardse bediening en is ten volle uitgevoer by die kruis (1Kor.15:45 en sien veral Kol.2:13-15) en weer bekragtig met die val van Jerusalem. Ons kan dus aanvaar dat die amptelike begin van die "millennium", op enige tydstip tussen Golgota en 70 n.C. was.

       Tot wanneer hierdie millennium-tydperk gaan aanhou, of anders gestel: Indien hierdie tydperk rondom 70 n.C. begin het, wanneer gaan dit tot ’n einde kom?  Vers 3 ~ Hy het hom in die onderaardse diepte gegooi, dit toegesluit en dit bokant hom verseël sodat hy nie meer die nasies kan verlei voordat die duisend jaar om is nie. Daarna moet hy ’n klein rukkie losgelaat word.

       Aan die einde van die "millennium-tydperk" sal Satan vir ’n kort tydjie losgelaat word, waarna hy vir ewig oorgegee sal word aan die verderf. Natuurlik kan ons nie presies sê wanneer hierdie "kort tydjie" gaan aanbreek nie, omdat ons nie weet wanneer die "millennium" tot ’n einde gaan kom nie. Wat ons wel weet is dat die Evangelie tydens hierdie tyd sal versprei – ons sal dus ’n tyd van "Evangelie-seën" beleef, waartydens die satan se mag om die volke te mislei, ingeperk sal wees. Ons kan dus sê, dat die "millennium-tydperk" tot ’n einde gaan kom wanneer die laaste uitverkore kind van God tot bekering gaan kom en Christus Jesus as Sy Verlosser ontvang.

       Ons leef in die era van die "millennium" en moet derhalwe positief en optimisties wees oor die Evangelie en die Kerk van die Here Jesus. Die Satan mag rondloop ...soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind (1Pet.5:8), máár hy is steeds op hierdie stadium gebind! Daar is weliswaar verskeie profesieë wat nog nie vervul is nie en wat nog eendag vervul sal word – profesieë soos: Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg (Jes.11:6) en... Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie (Jes.2:4). Hoe hierdie dinge gaan gebeur en wanneer, weet ons nie, maar wat ons wel weet, is dat ons steeds midde in die "millennium" staan met al sy voordele en positiewe voortgang van die Evangelie en die Kerk.

       Wat gaan gebeur wanneer Satan vir ’n kort tydjie losgelaat word? Waarop ons steeds moet fokus en dit is die belangrike, is dat Satan vir ’n baie lang tydperk gebind is en net vir ’n kort tydjie losgelaat sal word. Wat egter ook duidelik uit hierdie vers na vore tree en dit bevestig die feit dat die satan huidiglik gebind is, is die feit dat Satan vir ’n kort tydjie losgelaat gaan word – hoe kan hy losgelaat word, as hy nie gebind is nie? Wat die ware betekenis van hierdie kort tydperk van vrylating beteken en wat dit gaan inhou, weet ons nie werklik nie – behalwe die Pre-millennialiste wat reken hulle weet en dan kom hulle met die aller verskriklikste en skrikwekkendste stories en bewerings na vore – geen regsinnige teoloog van formaat (A-Mil., of Post-Mil.) het regtig ’n Bybelse verklaring hiervoor nie. Al wat ek wel en kan sê hieroor, is dat géén gelowige (onthou, ons het gesê dat hierdie millennium waarskynlik tot ’n einde sal kom met die wedergeboorte van die laaste uitverkorene) tydens hierdie tydperk sy geloof in Jesus Christus sal verloor nie (weereens Joh.10:28 ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie).  

5.    DIE GELOWIGES HEERS:
       Johannes verskuif nou sy fokus van die Satan wat gebind is in vv.1-3, na die gelowiges se situasie gedurende hierdie "millennium- tydperk" in vv.4-6. Wat in hierdie gedeelte uitstaan, is die uitdrukkings, "die eerste opstanding" en "die tweede dood".

       Voor ons egter na hierdie uitdrukkings kyk en vv.4-6 verder verklaar, moet ons net eers een baie belangrike gedagte vasvat en dit die heeltyd in gedagte hou wanneer ons na Openb.20 kyk. Hierdie hoofstuk is ’n unieke hoofstuk en wel so omdat bykans die hele Openbaringbrief oor kort gebeure handel, of gebeure wat oor kort tydperke afspeel ("binnekort", "70 jaar"; "eerste eeu"; ens.), maar hoofstuk 20 gaan verder as kort tydsgleuwe en kyk na langtermyn gebeure en –gevolge.

       Die twee uitdrukkings, nl. "die eerste opstanding" en "die tweede dood" hou bepaalde implikasies vir ons in, want indien daar ’n "eerste opstanding" is, moet daar mos ook ’n "tweede opstanding" wees; en as daar ’n "tweede dood" is, moet daar mos ook ’n "eerste dood" wees. Hier is dus vier uitdrukkings wat verduidelik moet word, nl.:
·         "Tweede dood"
·         "Eerste dood"
·         "Eerste opstanding"
·         "Tweede opstanding".

       Daar behoort geen twyfel by ons te bestaan oor die betekenis van die "tweede dood" nie ~ Die see het die dooies teruggegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dooies teruggegee wat in hulle was, en oor elkeen is geoordeel volgens wat hy gedoen het. 14Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel (Openb.20:13-14). Hieruit blyk dit baie duidelik, dat die "tweede dood", daardie gebeurtenis gaan wees wat nog in die toekoms lê en waartydens die ongelowiges in die put van vuur gewerp gaan word. Hierdie is ’n letterlike, fisiese dood en fisiese oordeel, want die hel is tog ’n letterlike plek – lees maar net gedeeltes soos o.a. Matt.23:33 waar Jesus vir die Fariseërs en Skrifgeleerdes gesê het ~ Julle slange, addergeslag! Hoe sal julle ontkom aan die straf in die hel? (sien ook: Matt.5:29-30; 10:28; 18:9; 23:15, 33; Mark.9:45, 47; Luk.12:5; Jak.3:6 en 2Pet.2:4).

       Waarom is ’n tweede dood nodig? Omdat elke mens op aarde deur al die eeue heen in die "eerste dood" "ingebore" is [Adam se sonde, of te wel die erfsonde ~ Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf... (1Kor.15:22a)]. Adam het die ganse menseras in die "eerste dood" ingedompel deur sy ongehoorsaamheid, toe hy van die "verbode vrug" (Gen.3:22) geëet het – Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het (Rom.5:12). In kort, die "eerste dood" is ’n geestelike dood (skeiding tussen God en die mens a.g.v. die sonde), terwyl die "tweede dood" ’n ewige, fisiese dood is (ewig geskei van gemeenskap met God en wel in die vuurpoel van die hel – hierdie is dus ’n geestelike sowel as ’n fisiese dood).

       Die "eerste opstanding" en die "tweede opstanding" volg presies dieselfde patroon. Die mens word in sonde ontvang en gebore, maar wanneer hy God se reddingsgenade in sy lewe ervaar, ervaar hy die "eerste geestelike opstanding". Weer eenvoudig gestel, die "eerste opstanding" is die  wedergeboorte. Diegene wat hierdie "eerste opstanding" ervaar het, sien egter ook uit na ’n "tweede, fisiese opstanding". Eendag, sal al die liggame van gelowiges uit die dood opgewek word en sal ons vir ewig in ’n fisies, verheerlikte liggaam saam met God deurbring (1Kor.15:51-54; 1Tes.4:13-18)! Hierdie gedeelte is van toepassing op alle gelowiges deur die eeue heen tot vandag en totdat die Here Jesus weer gaan terugkeer – dit geld derhalwe vir alle gelowiges in die "millennium-tydperk".

       Daardie gelowiges wat vir hul geloof gesterf het gedurende die eerste eeu na Christus, asook diegene wat oorleef het, maar wat nie "die Dier" aanbid het nie, het reeds die "eerste opstanding" ervaar en regeer reeds saam met Christus in Sy Koninkryk. Hulle het volhard deur hul vervolging en swaarkry en ontvang nou reeds hulle beloning. Hulle is egter nie die enigstes wat volhard nie: Alle ware gelowiges sál volhard tot die einde toe ~ Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie (Joh.10:28). Alle ware gelowiges het die "eerste opstanding" beleef en daarom sal alle ware gelowiges van hul dag van wedergeboorte af, saam met Jesus Christus regeer. Ja, daar kom ’n tyd wanneer ons (wat nog in die lewe hier op aarde is) die seën van die "tweede opstanding" sal ervaar, maar vir eers ervaar ons die seën van ons "eerste opstanding".

       Jesus die Christus het die oorwinning oor die satan vir ons aan die kruis behaal – Hebr.2:14-15 is baie duidelik daaroor ~ Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry. Jesus het dit self ook bevestig toe Hy in Joh.12:31-32 die volgende gesê het ~ Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek. Die satan heers nie meer nie – Jesus Christus regeer en Sy Koninkryk is aan die opmars – Sy Koninkryk is aan die uitbrei hier op aarde! Hierdie binding (of oorwinning) oor die satan is ’n juridiese feit - Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer (Kol.2:15 - sien ook: Matt.12:24-29; Luk.10:17; Joh.12:31-32).

       God het op dieselfde wyse as wat Satan gebind is, ook die gevalle engele (demone) gebind ~ Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag (Judas 6 - sien ook: 2Pet.2:4; Luk.8:31).

5.    DIE WESENS OP DIE TRONE:
       Kom ons kyk net ten slotte na wie die mense (of wesens?) is wat in vv.4-6 op die trone gaan sit:
·           Eerstens is daar ...die siele van die mense wat onthoof is omdat hulle aan die getuienis van Jesus en die woord van God vasgehou het (v.4). As ons die teks toelaat om "self te praat", sien ons dat diegene op die trone, die martelare is – hulle wat die versoeking om "die Dier" na te volg en te aanbid, weerstaan het. Ons het reeds in ons studie van Openb.13, "die Dier" as die Romeinse Ryk (o.l.v. Nero) geïdentifiseer. Ons kan dus met redelike sekerheid sê dat hierdie martelare in v.4, dié gelowiges is wat onder Nero se hand gesterf het en is dit o.a. die antwoord op die pleitrede van die martelare in Openb.6:9-11 ~ Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. 10Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?” 11Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ’n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is. Toe die Lam die vyfde seël oopmaak, het ek onder die altaar die siele gesien van die mense wat doodgemaak is omdat hulle aan die woord van God en aan die getuienis van Jesus vasgehou het. 10Hulle het hard geroep: “Hoe lank nog, heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?” 11Aan elkeen van hulle is daar lang wit klere gegee, en daar is vir hulle gesê om nog ’n klein rukkie te wag, totdat hulle mededienaars, hulle medegelowiges, wat net soos hulle ook doodgemaak gaan word, almal daar is.

       Wat van die ander gelowiges wat nie as martelare gesterf het nie? Natuurlik is die afgestorwenes sedert 70 n.C. ook geseën ~ Toe het ek ’n stem uit die hemel hoor sê: “Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.” “Ja,” sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle” (Openb.14:13). Die fokus is egter hier in v.4, op die afgestorwe martelare gedurende die eerste eeu, want sekerlik kan die siele van die mense wat onthoof is, tog nie verwys na gelowiges wat bv. die afgelope klompie jare aan kanker of hul harte, ens. gesterf het nie.

·           Wie is die ...ander dooies (wat) nie lewend geword (het) voordat die duisend jaar om was nie? Hierdie dooies, is al daardie dooies wat nie in Christus was nie (vanaf die skepping tot en met Christus se wederkoms) en wat tydens die tweede opstanding, voor die Groot Wit Troon gaan verskyn om geoordeel te word. Hierdie finale oordeel word in detail vir ons in Openb.20:11-15 beskryf. Johannes verwys in Joh.5:28-29 na hierdie opstanding as ...die opstanding van die veroordeling. (O.A.V.). Die liggame van alle afgestorwenes (gelowig én ongelowiges – ook die martelare) sal op hierdie laaste uur, opstaan uit die dood, maar daar is ’n baie duidelike verskil in die aard van die opstanding van die gelowiges en die ongelowiges. Ongelowiges het nooit in enige vorm van Christus se opstanding deel gehad nie. Hulle het dus sedert hulle afsterwe in ’n staat van geestelike dood verkeer totdat hulle opgewek gaan word uit hul grafte, ten einde die tweede dood in die gesig te staar. Die liggaamlike opstanding van die gelowiges (én die martelare) daarenteen, staan bekend as ... die opstanding van die lewe (Joh.5:29 - O.A.V.).

6.    AFSLUITING:
       Met hierdie goeie nuus en vooruitsig dat ons as gelowiges 'n "tweede opstanding" gaan ervaar, kom ons egter te staan voor teksverse soos bv. Ps.88:12 en dan praat ek nie eens van Job 10:21-22 nie en hiermee wil ek afsluit. Ps.88:12 ~ Word daar in die graf vertel van u troue liefde? Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel? Word daar in die graf vertel van u troue liefde? Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel? Of nog erger – Jes.38:18 ~ In die doderyk kan niemand U loof nie, geeneen wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie!

       In hierdie twee verse word daar baie duidelik gesê dat alle mense in die graf sal ingaan (behalwe natuurlik diegene wat nog in die lewe sal wees wanneer Christus terug kom) en dit weet ons, maar die indruk wat ons hier kry, is dat almal na dieselfde plek gaan – gelowig en ongelowig – 'n plek ver weg van God. Hierdie woord "doderyk" kom van die Hebreeuse woord שְׁאֹול, of te wel "sheol" wat o.a. 'n plek van duisternis is; waar mense aan permanente aftakeling en verrotting bloot gestel word; waar God se lofprysinge nooit gehoor word nie; 'n plek waarvan die hekke gesluit is, maar erger nog – 'n plek waar God van mense vergeet en 'n plek waar daar 'n permanente  versugting/verlange na God bestaan, maar waaruit die dooies nie kan ontsnap nie.

       Daar word baie in die Ou Testament gepraat van die doderyk, maar in die Nuwe Testament word hierdie woord se Griekse sinoniem, slegs 35 keer gebruik. In Matt.16:18-19 sien ons dan ook word daar verwys na die hekke van die hel, MAAR – en hier is die goeie nuus ~ En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. 19Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.” Wie het hierdie woorde aan Petrus gerig? Jesus Christus! Hoor wat Johannes in Openb.1:17-18 gesê het ~ Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, 18die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. Hierdie verskiklike plek genaamd die doderyk ("Sheol") gaan ons as God se kinders dus nooit inhok nie – want Christus dra die sleutels van die doderyk en Hy onset ons van die doderyk, trouens – Hy het dit reeds gedoen, die dag toe Hy aan die kruis gesterf het.

       Geliefdes, ons leef nou in 'n era waar die vyand gebonde is; ons leef in 'n era waar die Evangelie voortstu en volke en nasies van alle tale, kulture en rasse gekonfronteer word met die Evangelie van Jesus Christus en duisende uitverkorenes kom tot wedergebore in hierdie tyd en ons as gelowiges hoef die dood nie meer te vrees nie en kan ons met reikhalsende vertroue uitsien na die dag waarop Jesus Christus op die wolke gaan verskyn om al Sy kinders – lewend en dood, te kom haal!   



[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente.  Vereeniging – 03 November 2013