Sunday, October 20, 2013

Die Brief aan die Hebreërs - 24 ("Ek weet dat ek weet, dat ek weet!")


1.    SKRIFLESING:
       Ons Skriflesing van vandag, is 'n gedeelte wat my oneindig klein laat voel, omdat ek enersyds net opnuut weer besef hoe ver ekself tekort skiet wat my geloof aan betref, maar andersyds ook omdat dit so 'n geweldige intense en swaar gelaaide gedeelte is. Wanneer 'n mens hierdie hoofstuk lees, put jy soveel hoop hieruit en daarom is dit vir alle gelowiges noodsaaklik om hierdie hoofstuk uit Hebreërs, gereeld te lees.

Hebr.11:1-7 ~ Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2Dit is immers vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel lof getuig is. 3Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is; die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie. 4Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy ’n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood. 5Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. 6As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. 7Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

2.    INLEIDING:
       Die lesers van hierdie brief het kennelik geloof in hul lewens nodig gehad, daarom skryf die Hebreërskrywer vir hulle hierdie gedeelte. Soos ek aan die begin gesê het, besef ek maar net opnuut weer watter nood ekself ook aan geloof het en ek glo elkeen van julle ook.

       Dit is maklik om te sê dat ek in Jesus Christus glo (of is dit?); dit is maklik om te sê dat ek van harte glo dat God die hemel en die aarde en alles wat daarop en daarin is, geskape het (of is dit?), maar daar is soveel fasette van geloof wat nie so eenvoudig is nie en dan moet ons ook nog oppas dat ons nie in die vangstrik van "positive confession" val nie. Jy sukkel dalk om werklik te glo dat die Here nog een of ander tyd jou kind gaan red – jy het dalk net op 'n plek gekom waar jy moed opgegee het. Jy is dalk op 'n plek waar jy net nie meer kan glo dat die Here jou van bepaalde slegte gewoontes/sonde of situasies kan of wil red nie. Indien dit wel die geval met jou is, is hierdie hoofstuk en die gedeelte waarna ons vanoggend gaan kyk nét vir jou (en vir my).

3.    GELOOF:
       In v.1 gee die skrywer vir ons 'n pragtige definisie van wat geloof werklik is ~ Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Hoop en geloof gaan dus hand-aan-hand vir die skrywer. Geloof is dus om vooruit te kyk na die dinge waarop ons hoop en dit natuurlik word gebaseer op ons oortuiging dat God 'n betroubare God is. Petrus som dit pragtig op in 1 Pet.1:3 wanneer hy sê ~ Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop. Hoe sterker ons geloof, hoe groter en sterker is ons hoop.

       Die skrywer gee aan sy lesers hierdie definisie van geloof en hoop deur, omdat hy weet dat daar geweldige vervolging op sy lesers wag en dat die sleutel tot oorlewing, gesetel lê in geloof en in hoop. Dit is waarom hy in 10:38, die woorde van Hab.2:4 aanhaal ~ En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie. Geloof lei derhalwe tot hoop en hoop lei weer tot geloof. Sonder geloof kan geen mens hoop hê nie en sonder hoop kan jy ook nie geloof hê nie.

       Ons moet verstaan dat hierdie hoop en geloof, nié 'n gevoel is nie en beslis ook nié positiewe belydenis nie ("positive confession" – "to speak stuff into existence"). Geloof en hoop is gebaseer op 'n absolute vaste oortuiging dat God se Woord onkreukbaar waar is en dat ek daarom 'n hoop kan koester op die positiewe uitkoms van al die beloftes in die Woord – ek weet, dat ek weet, dat ek weet, dat daar 'n ewige en heerlike lewe wag op die gelowige die oomblik as hy afsterwe – want die Woord leer dit en ware geloof is om dit te wéét en daarom het ons hoop op 'n beter en ewige lewe in die hiernamaals. Hoe kan ons weet dat hierdie geloof en hoop eg is? Rom.5:5 ~ ...en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

            Ons lees in v.1a ~ Om te glo, is om seker te wees... Die OAV sê ~ DIE geloof dan is ’n vaste vertroue. Hierdie uitdrukking "om seker te wees", of om "'n vaste vertroue" te hê, kom van die Griekse woord ὑπόστασις (hypostasis) en kan o.a. vertaal word met "fondasie". V.1a handel dan oor dié dinge wat in die toekoms lê en waarop elke gelowige se hart ingestel is en geloof het tot gevolg dat ons substansie/grond het vir ons hoop – geloof vorm die fondasie vir ons hoop – as ons nie oor geloof beskik het nie, sou ons nie enige hoop kon koester nie – nie op 'n opstanding nie (1 Pet.1:3 ~ Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word); nie op die wederkoms van die Here Jesus nie (Titus 2:13 ~ ...terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn); nie op 'n ewige lewe nie (1 Joh.3:2-3 ~ Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God. Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie, maar ons weet dat, wanneer Jesus kom, ons soos Hy sal wees. Ons sal Hom sien soos Hy werklik is. 3Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is) (verheerliking) en sonder geloof sal ons geen hoop daarop kan koester om eendag saam met Christus te kan regeer nie ~ ...as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer (2 Tim.2:12a).

       In die tweede gedeelte van v.1 skryf die skrywer oor ~ ...die dinge wat ons nie sien nie. Hier gaan hy 'n stappie verder as in die eerste helfte van die vers, want nou impliseer hy 'n reaksie en hierdie reaksie is optrede – die persoon wat glo, lééf sy geloof – sy lewe word toegewy aan dít waarvan sy verstand en gees van oortuig is. Noag is vir ons 'n uitstekende voorbeeld – hy het vas geglo dat dit wat die Here vir hom gesê het, gaan plaasvind en daarom het hy, ten spyte van mense wat hom gespot het en dalk ook ten spyte van die feit dat hy nie eens geweet het hoe om 'n boot te bou nie, sy lewe daaraan gewy het om die Ark te bou – 'n hele 120 jaar lank – "hy het geweet dat hy weet"! Noag se geloof was gebaseer op God se Woord en nie op wat hy kon sien nie. Dit wat hy innerlik geglo het, het hy uiterlik gedoen – geen mens wat buite die Here staan, kan innerlik glo en uiterlik doen nie en daarom weet ons dat God die Gewer van geloof is en dat dit nie deur die mens "opgeklits" kan word nie ~ Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God (Ef.2:8).

       In v.2 bemoedig die skrywer sy lesers, deur hulle daaraan te herinner dat daar baie gelowiges voor hulle (en voor ons) in geloof opgetree het en dat dat dit God nog altyd behaag het en Hy het erkenning daarvoor gegee. Henog (v.5) is 'n goeie voorbeeld hier, deurdat sy geloof God so behaag het, dat God hom persoonlik weggeneem het, trouens 1 Pet.1:5 leer ons ook dat geloof deur God beloon word ~ En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Sonder geloof kan die mens God dus nie behaag nie en sonder geloof kan die mens geen beloning ontvang van God nie – die beloning van 'n ewige lewe.

       Met dit alles in gedagte begin die skrywer en gee hy in vv.3-7 'n beskrywing van geloof en wel aan die hand van die skepping (v.3); geloof en die mens se redding (v.4); geloof en gelowiges se verheerliking (vv.5-6) en laastens die gebrek aan geloof en die gevolglike oordeel van God (v.7).

·           Geloof en die skepping:
       V.3 neem ons terug na die heel begin van die menslike bestaan, nl. tot by die skepping.

       Daar is baie mense, trouens die meerderheid van mense, wat nié die getuienis van die Bybel aanvaar van hoe alles totstand gekom het nie. Die probleem met die skeptici is dat geen mens teenwoordig was toe God die heelal geskep het nie – so vra God dan bv. aan Job ~ Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Praat as jy die antwoord het (Job38:4). Daar is maar net een van twee maniere om "die waarheid" t.o.v. die skepping te kan bepaal – enersyds om daaroor te bespiegel en met allerlei onwetenskaplike teorieë na vore te kom, soos die evolusieleer (hierdie leer kon nog nooit empiries bewys word nie), of om andersyds, God se Woord daarvoor te neem en dit te glo ~ In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef. 3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.... (Gen.1:1-3).

       Wat ook al die mens se oortuiging – in beide gevalle moet geloof toegepas word – óf jy aanvaar en glo wat God gesê het, óf jy glo 'n menslik-uitgedinkte teorie wat nie eens deur die wetenskap bewys kan word nie (daar is voorwaar 'n "missing link"!).

       V.3 vestig ons aandag op die dinge wat ons kan sien – die sterre; die wolke; berge; diere; die mens, ens. en wat meer is, v.3 sê vir ons dat dit alles nié uit iets geformeer is nie, maar deur God wat dit "totstand gespreek" het – Sy Woord het alles totstand gebring. Die "siende" in die natuur lei ons dus om te glo in God die Skepper.  Soos ons SOLA5 geloofsbelydenis dit baie mooi stel: In the beginning the Triune God created the heavens and the earth out of nothing, by the power of his word, in six days according to Scripture. God created everything good and perfect for the glory of his own name. God created mankind, male and female, in his own image. The whole human race is descended from Adam and Eve, the first man and woman. God also created angels as moral, personal and spiritual beings.

·           Geloof en redding:
       In v.4 begin die Hebreërskrywer om die eerste geloofsheld te vermeld uit 'n lys van geloofshelde uit die verlede wat die advent, of naderende koms van Christus, vooraf gegaan het. Hier word Abel dan heel eerste vermeld. Behalwe dat ons in Gen.4 lees van Abel  se geboorte; die feit dat hy 'n veeboer was; van sy offer wat hy aan God gebring het en wat deur God aanvaar was en dan ook van sy geweldadige dood aan die hand van sy broer Kain, weet ons nie veel meer van hom nie. Wat wel van belang is, is dat sy offer meer aanvaarbaar was vir God as Kain s'n en die vraag wat ons kan vra is: Waarom was juis sý offer meer aanvaarbaar? Wat was die verskil tussen sy en Kain se offers?  Ons antwoord lê in v.4a opgesluit ~ Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer aan God gebring as Kain. Hier is twee dinge wat uitstaan:
-       Abel het geglo.
-      Abel het 'n beter offer gebring.

       Heel eerste moet ons verstaan dat dit nie hier gaan oor 'n bloedoffer al dan nie, want eneryds word daar nêrens in Genesis vermeld dat die offer wat hulle gebring het, sondeoffers was waar bloed 'n vereiste was nie. Ook die feit dat Abel vet van sy kleinvee gebring het, dui vir ons daarop dat hierdie offer nie 'n sondeoffer was nie, maar eerder 'n dankoffer (Daarna moet hy van die dankoffer die vet as vuuroffer aan die Here bring: die hele vetstert—naby die stuitjie moet hy dit wegneem—en die vet wat oor die binnegoed lê, en al die vet wat aan die binnegoed is, en die twee niere en die vet daarop wat aan die lendene is, en die lap aan die lewer—by die niere moet hy dit wegneem – Lev.3:9-10).
      
       Die feit dat Abel 'n beter offer gebring het is die kruks van die saak. By implikasie sien ons derhalwe dat Kain by wyse van spreke 'n derderangse offer vir God gebring het en nie soos die latere Levitiese Wette, 'n offer wat die eerstevrugte vereis het nie ~ Wanneer jy vir die Here ’n graanoffer uit die eerste opbrengs van die oes aanbied, kan dit gebraaide koring of stampkoring wees. Jy bied dit aan as die graanoffer uit die eerste opbrengs van jou oes (Lev.2:14). Die feit dat Kain nie 'n diereoffer gebring het en derhalwe 'n bloedoffer nie, is dus nie die probleem nie (Abel het ook nie 'n bloedoffer gebring nie – vet), die probleem wat hier geïmpliseer word, is dat hy nie van sy beste graan gebring het nie – nie van sy eerste opbrengs nie, terwyl Abel wel van sy eersgebore vee gebring het (die heel beste!) – daarvoor word Abel geprys en word sy offer aanvaar.

       Die heel belangrikste egter en dit is wat ons teksvers ook vir ons sê, is dat Abel sy offer in geloof gebring het en daarom het God 'n behae in sy offer gehad. Daarteenoor het Kain nié sy offer in geloof gebring nie – lei ons dit af? Ja, ons kan seker sê dat 'n mens dit hier kan aflei, maar as ons na die konteks van ons Skriflesing kyk, sien ons twee verse verder dat die Hebreërskrywer vir ons sê ~ 6As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. Die implikasie dus – Kain het nie geglo nie.

       Die afwesigheid van geloof implisieer dat God met niks tevrede sal wees wat ons as mens vir Hom bied nie. So gaan baie mense bv. kerk toe op 'n Sondag en dink dat dit God tevrede sal stel, maar as so 'n persoon nie uit geloofsoortuiging kerk toe gaan nie, is sy offer nie 'n aanneemlike offer vir God nie. Ons sal dan ook mettertyd in die volgende klompie verse sien hoe belangrik geloof en die regte gesindheid is, maar later meer daaroor.

·           Geloof en uiteindelike verheerliking:
       Die tweede man in die lys van geloofshelde wat hier in Hebr.11:5 vermeld word, is Henog. Van Henog weet ons ook nie veel nie, trouens al wat ons van hom weet is wat Gen.5:18-24 vir ons leer en daar sien ons dat Henog die pa van Metusalag was en dat hy 365 jaar oud geword het. Hy het baie na aan God geleef, sê v.24 (die meeste vertalings – insluitende die OAV, vertaal dit met, Henog het met God gewandel) en dan sluit v.24 as volg af ~ ...en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na Hom toe weggeneem. Dit is interessant dat, ten spyte van die feit dat daar so min oor Henog in die Woord gesê word, hy nogtans in die Joodse geskiedskrywes en godsdiens, 'n baie belangrike rol speel – so belangrik, dat hy selfs in die Rabbynse tradisie, 'n "tussengangerrol" tussen God en die mens speel en wel op grond van die feit dat hy 'n volmaakte lewe gelei het (volgens die Joodse tradisie).

       Henog was weggeneem – hierdie "wegneem" is nie maar net 'n eufemisme ('n versagtende uitdrukking of omskrywing) vir die woord "dood" soos wat baie moderne teoloë deesdae leer nie – v.5b bevestig tog immers die feit dat hy lewend opgeneem is in die hemel ~ ...sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Indien hy gesterf het, sou dit ook van hom gesê gewees het, soos met al die ander Patriarge.

       Ons vind hierdie selfde uitdrukking, sonder dat hy gesterf het, ook in Luk.2:26 waar daar vir Simeon gesê is dat hy nie sal sterwe voor hy nie vir Jesus gesien het nie – die uitdrukking, "nie sterwe nie" is presies dieselfde as wat daar van Henog gesê is.

       Hierdie wegneem van Henog maak dan ook van hom 'n prototipe (saam met die latere Elia) van die gelowiges wat nog in die lewe sal wees wanneer Christus gaan terugkeer na die aarde – hy sal dus nooit die dood as ervaring smaak nie (1 Tes.4:15-17).

       Waarom word ons deur die Hebreërskrywer verwys na Henog? Omdat dit vir ons die algemene beginsel van v.6 beklemtoon en illustreer ~ As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. Sonder geloof is ons sonder God en sonder God is daar geen hoop vir ons nie ~ In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld (Ef.2:12). En wat is hierdie hoop? Die hoop om Christus se wederkoms positief te ervaar en 'n hoop op 'n ewige lewe te kan hê.

       Henog het oor geloof beskik; Henog het na aan die Here gewandel en daarom het hy oor hoop beskik – sy geloof het dus uitgeloop op verheerliking en daarom het die skrywer van Hebreërs, sy lesers wat vervolging in die nabye toekoms in die gesig sou staar, bemoedig met Henog se voorbeeld – wandel na aan God en julle sal uiteindelik die wenstreep en die gepaardgaande prys behaal ~ Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. 8Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms (2 Tim.4:7-8).

·           Geloof en oordeel:
       Ons sluit ons gedeelte vanoggend af met die derde geloofsheld, nl. Noag in v.7. Noag het net soos Henog, ...met God gewandel (OAV), of soos die NAV dit stel ~ ...naby God geleef. Noag se verhaal vind ons in Gen.5:28-9:29.

       Noag het tussen sy tydgenote uitgestaan as dié een wat geluister het toe hy gewaarsku is; wat vertrou het op die onsienlike en wat opgetree het in heilige vrees – hy het die Ark gebou ten spyte daarvan dat hy die spot en hoon van die mense van sy dag op die hals gehaal het. Hy was m.a.w. 'n man van ware geloof en op grond van sy geloof is sy familie almal gered, maar hy het ook geweet dat dit ...verskriklik (is) om in die hande van die lewende God te val (Hebr.10:31).

       V.7b is 'n interessante vers ~ Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom. Wat die eerste opmerking betref, nl. dat sy geloof 'n veroordeling vir die wêreld was, impliseer nié dat hy self die mensdom veroordeel het nie, want dit is alleen God wat in Sy soewereiniteit en heilige optrede, die mensdom uitgewis het vir hul ongeregtigheid, maar Noag se optrede – sy geloof en gehoorsaamheid, het hulle so aangekla, dat hulle hulself in die proses veroordeel het. Net so kan ons ook kragtige getuies wees en kan ons geloof en gehoorsaamheid tot veroordeling van mense rondom ons dien!

       Vir ons wat die gawe van geloof ontvang het, wag daar 'n onbeskryflike ewigheid ~ God is tog regverdig: die mense onder wie julle nou so ly, sal Hy as straf ook laat ly; 7en aan julle lyding, en ons s’n, sal Hy ’n einde maak wanneer die Here Jesus met sy magtige engele 8in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Dan sal Hy die mense straf wat nie vir God ken nie en dié wat die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 9Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag. 10Dit sal gebeur op die dag wanneer Hy kom om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort, om eer te ontvang van almal wat glo. Julle sal ook daar wees, want julle het ons getuienis aan julle geglo (2 Tes.1:6-10).

       Die dag van Christus se wederkoms sal nie alleen die dag van redding en verheerliking vir gelowiges wees nie, maar dit sal terselfdertyd die dag van ewige oordeel wees vir hulle wie nie in Jesus Christus geglo het nie. Die wêreld gaan ook geen verskoning op daardie verskiklike dag hê nie, want die Here het die wêreld reeds vooruit gewaarksu deur die Sondvloed – Jesus het dieselfde boodskap aan die wêreld gebring toe Hy gesê het ~ Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie (Matt.24:37-42).

4.    AFSLUITING:
       Alle mense wat in Christus Jesus glo is regverdig verklaar – ja welsiwaar is ons dit nie altyd in die praktyk nie, maar in posisie voor God is ons reeds regverdig verklaar. Ons het Christus se geregtigheid deelagtig geword, die dag toe ons uit genade verlos is en ons, ons geloof in Hom geplaas het (natuurlik ook 'n genade werking) ~ Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, 22maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. 23Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, 24maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus (Rom.3:21-24).

       God die Vader sien ons vandag en tot in ewigheid soos wat Hy Sy Seun, Jesus Christus sien – heilig en regverdig, want deur geloof is ons ín die Seun!



[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 20 Oktober2013.

Sunday, October 13, 2013

Die Boodskap van Daniël - 07 (Van Koning tot Grasvreter)


1.     SKRIFLESING:
       Hierdie hoofstuk waarna ons vanoggend gaan kyk, handel oor die tweede droom wat Nebukadneser gedroom het.

Daniël 4:1-37 ~  “Koning Nebukadnesar aan al die volke, nasies en taalgroepe wat oor die hele wêreld woon: Voorspoed! 2“Ek betuig met blydskap dat ek die tekens en wonders wat die allerhoogste God gedoen het, kon belewe. 3“Hoe groot is sy tekens, hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk, sy heerskappy duur van geslag tot geslag. 4“Ek, Nebukadnesar, het rustig en voorspoedig in my paleis gewoon, 5maar toe het ek ’n droom gehad wat my ontstel het, visioene in my slaap, wat deur my kop gemaal en my laat bang word het. 6Daarom het ek ’n bevel uitgevaardig dat al die koninklike raadgewers voor my gebring moes word om vir my die droom uit te lê. 7Toe het die towenaars, die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders gekom, en ek het hulle die droom vertel, maar hulle kon dit nie vir my uitlê nie. 8Uiteindelik het Daniël, genoem Beltsasar na die naam van my god en in wie die gees van die heilige gode is, ingekom en ek het hom die droom vertel. 9“Ek het vir hom gesê: Beltsasar, hoof van die towenaars, ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en dat geen geheim vir jou onverklaarbaar is nie. Hier is nou my droom, lê dit vir my uit. 10“Ek het hierdie visioen in my slaap gehad: Toe ek kyk, sien ek ’n boom in die middel van die aarde, en dit was baie hoog. 11Die boom het so groot en sterk geword dat sy top aan die hemel geraak het, en dit was oral op die aarde sigbaar. 12Sy blare was mooi en sy vrugte was groot, daar was genoeg kos aan hom vir die hele wêreld. Onder hom het die wilde diere skaduwee gesoek, en in sy takke het die voëls nes gemaak. Alles wat leef, het van hom hulle kos gekry. 13“Toe ek nog so kyk, terwyl ek in my slaap die visioen sien, kom daar ’n wag, ’n engel, uit die hemel uit af. 14Hy het hard geroep: ‘Kap af die boom, kap af sy takke, stroop af sy blare en gooi weg sy vrugte. Die wilde diere moet onder hom uit wegvlug en die voëls uit sy takke uit. 15Maar bind ’n yster- en ’n bronsband om sy stomp en laat dit in die grond bly saam met die gras in die veld. Nebukadnesar moet snags deur die dou natgemaak word en van plante leef saam met die wilde diere. 16Sy verstand moet anders word as dié van ’n mens, hy moet die verstand van ’n dier kry. Dit moet sewe tydperke lank oor hom kom. 17Hierdie aankondiging berus op ’n besluit van dié wat wag hou, die engele, en hulle maak hierdie beslissings bekend. So sal alle mense weet dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dat Hy dit gee aan wie Hy wil; Hy stel selfs die onbelangrikste mens daaroor aan.’ 18“Dit is die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. Lê dit nou vir my uit, Beltsasar, want geen raadgewer in my koninkryk is in staat om dit vir my uit te lê nie. Jy is daartoe in staat, want die gees van die heilige gode is in jou.” 19Toe het Daniël, ook genoem Beltsasar, ’n oomblik verstom gestaan, verbyster deur sy gedagtes. Die koning het vir hom gesê: “Moenie dat die droom en sy uitleg jou ontstel nie, Beltsasar.” Beltsasar het geantwoord: “U Majesteit, het die droom maar eerder op u vyande geslaan, die uitleg op u teëstanders! 20Die boom wat u gesien het, wat so groot en sterk geword het dat sy top aan die hemel geraak het, en wat oral op die aarde sigbaar was, 21waarvan die blare mooi en die vrugte groot was en waaraan daar genoeg kos was vir die hele wêreld, waaronder die wilde diere gebly en in wie se takke die voëls nes gemaak het, 22die boom is u, U Majesteit. U het groot en sterk geword, u grootheid raak selfs aan die hemel, u mag strek oor die hele aarde. 23U Majesteit het ’n wag, ’n engel, uit die hemel uit sien afkom, en hy het gesê: ‘Kap af die boom en verwoes dit, maar bind ’n yster- en ’n bronsband om sy stomp en laat dit in die grond bly saam met die gras in die veld. Nebukadnesar moet snags deur die dou natgemaak word en van plante leef saam met die wilde diere. Dit moet sewe tydperke lank oor hom kom.’ 24“Dit is die uitleg, U Majesteit, dit is die besluit van die Allerhoogste oor u: 25U sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef. U sal moet gras eet soos beeste en u sal snags deur die dou natgemaak word. Dit sal sewe tydperke lank oor u kom. Dan sal u moet erken dat die Allerhoogste mag het oor al die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil. 26Die bevel dat die boom se stomp in die grond moet bly, beteken dat u koningskap herstel sal word sodra u erken dat die Hemel regeer. 27Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou.” 28Maar alles het oor koning Nebukadnesar gekom. 29Na twaalf maande, terwyl hy op die dak van die paleis geloop het, 30het hy gesê: “Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan ’n koningstad gemaak, tot my eer en roem.” 31Sy woorde was nog nie koud nie toe kom daar ’n stem uit die hemel: “Daar is besluit, koning Nebukadnesar, dat jy uit jou koningskap onthef gaan word. 32Jy sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef en gras moet eet soos beeste. Dit sal sewe tydperke lank oor jou kom. Dan sal jy moet erken dat die Allerhoogste mag het oor die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil.” 33Op dieselfde oomblik het oor Nebukadnesar gekom wat oor hom gesê is. Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en moes gras eet soos beeste. Hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak, en sy hare het so lank geword soos die vere van ’n arend en sy naels soos dié van ’n voël. 34“Toe die vasgestelde tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, na die hemel opgekyk om hulp en het ek my verstand teruggekry. Ek het die Allerhoogste geprys, ek het Hom wat ewig leef, geloof en geëer. Aan sy heerskappy is daar geen einde nie, sy koninkryk bestaan oor al die geslagte heen. 35Teenoor Hom is al die bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte en met die mense op aarde. Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir Hom kan sê: ‘Wat doen U?’ nie. 36“Ek het in dié tyd my verstand teruggekry, en my koninklike waardigheid, my eer en majesteit is aan my teruggegee. My raadgewers en hoofamptenare het my opgesoek, my koningskap is herstel en ek het selfs meer mag gekry as tevore. 37Ek, Nebukadnesar, prys en eer en loof die Koning van die hemel. Alles wat Hy doen, is reg, sy optrede is regverdig. Hy het die mag om hoogmoediges te verneder.”    

2.    VOORAF:
       In die eerste paar verse van Dan.4 word ons voorgestel aan 'n man met baie mag, wat die volke onder sy beheer toespreek – 'n man wat trosts is in sy eie oë, maar 'n magtige man wat kort voor lank vernedering gaan ervaar, soos min mense nog ervaar het – van "koning tot grasvreter"!

·           Voorspoed: Die man aan die woord in ons openingsverse, is die magtige en skatryk koning Nebukadneser – 'n selfvoldane man, wat in v.1 sy onderdane voorspoed toewens – voorspoed wat hy kort voor lank self nie meer gaan ervaar nie.

·           Lofprysing: Wat egter in vv.2-3 volg, is verbysterend, want hierdie selfvoldane en magtige man, gee eer aan die Allerhoogste God. Hierdie is leë praatjies, want hy het nog altyd geweier om die knie te buig voor die lewende God en selfs ook voor Marduk die Babiloniese god.

       Wat het Nebukadneser dan met so 'n uitspraak bedoel? Daar is baie moontlike verklarings hiervoor. So verduidelik Rodney Stortz bv. dat die Nebukadneser van die eerste drie hoofstukke, nie dieselfde een is as dié van hoofstuk vier nie en hy bewys dit vanuit Babiloniese geskiedskrywes en dan gaan hy voort en verduidelik waarom Nebukadneser III hierdie uitspraak t.o.v. God gemaak het. Ek voel egter ongemaklik met hierdie ingewikkelde verklaring en sal dus net volstaan met J.G. Baldwin se kort verklaring (waarmee die meeste ander kommentators saamstem), nl. dat ons enersyds nie Daniël se invloed op Nebukadneser se denke en taalgebruik moet onderskat nie, maar andersyds sê Baldwin ook dat Marduk se aanbidders, hulle Babiloniese god in dieselfde lig as Daniël se God gesien het en daarom Nebukadneser se woorde – woorde waar hy eintlik eer aan Marduk bring en nie aan die lewende God nie. Laastens kan dit ook wees dat Daniël as eerste  minister die toespraak geskryf het en het daardie woorde weliswaar na Daniël se God verwys, maar dat Nebukadneser se hart hoegenaamd nie in die woorde was nie. Hoe dit ook al sy, wat belangrik is, is om te onthou dat Nebukadneser steeds nie God Drie-Enig in waarheid aanbid nie en ons sien dit duidelik in v.8 waar Nebukadneser self bely wanneer hy sê ~ Daniël... ...wie se naam Béltsasar is, na die naam van my god, en in wie die gees van die heilige gode is.       
                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                 
3.    DIE DROOM EN GEVOLGE:
       In die tweede gedeelte van ons Skriflesing (vv.4-37), vind ons dat Nebukadneser geteister word deur 'n tweede droom – nog 'n droom wat hom vreesbevange laat en in vv.4-5 kla hy dat hy rustig en in voorspoed geleef het, maar nou word hy weer geteister deur 'n droom – 'n droom wat hom ontstel het (die OAV sê dit het hom "verskrik en verontrus").

·           Die Koning se Verwaandheid
       Die een oomblik het Nebukadneser eer aan die lewende God gebring, net om die volgende oomblik homself in verwaandheid weer te wend tot sy waarsêers (vv.6-7), maar soos die geval met sy eerste droom, kon hulle ook nie hond-haar-afmaak nie, waarop hy hom maar weer einde ten laaste tot Daniël wend (v.8). Ook hier blyk dit duidelik dat die koning steeds nie weet waaroor dit gaan, as hy in v.9, Daniël die hoof van die towenaars noem nie. Hoe skokkend om te sien dat hy steeds na die eerste wonderwerk en ingrepe deur God, homself nie wend tot Hom wat die enigste Alwyse is nie. Vir hierdie sonde en onkunde en insigloosheid en verwaandheid, gaan hy nog baie duur betaal.
-        Nebukadneser se droom:
       In vv.9-17 vertel die koning vir Daniël wat hy gedroom het – 'n ontstellende droom wat die koning nie verstaan nie. Hy het 'n reuse boom gesien wat in die middel van die aarde staan en wat regoor die wêreld gesien kon word; 'n pragtige boom wat baie vrugte gedra het, maar 'n boom wat uiteindelik deur 'n heilige uit die hemel (v.13, OAV) afgekap is. Dit was duidelik dat hierdie boom 'n mens verteenwoordig het, want die mees onstellende deel van die droom volg direk nadat die boom afgekap word – die koning droom dat hy deur die dou natgemaak moet word en van plante sal moet leef en seker die ergste – hy sal die verstand van 'n dier kry! Dan sê Nebukadneser hierdie verstommende woorde – woorde wat hy in sy droom gehoor het (v.17, OAV) ~ Op ’n besluit van die bodes (die NAV vertaal dit met "enegele" wat die korrekte vertaling is – קַדִּישׁ [qaddiysh /kad·deesh/] = engele) berus die bevel, en ’n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel. Hoe duideliker moet hy nog hoor dat daar maar net een ware God is – dié God wat heerskappy aan mense gee en dit van hulle wegneem.

       Die probleem met Nebukadneser was dat hy steeds trots was en in sy eie oë dié god en daarom sál en gaan God hom wat Nebukadneser is, verneder ~ God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade (1 Pet.5:5) en dit, sal ons sien, is presies wat met hierdie magtige en ryk koning gaan gebeur.

       Dit is baie interessant om te sien dat daar ook na ander vorste in die Ou Testament verwys word as "bome" – ons het dus hier te doen met 'n algemene simbool – Eseg.31:6 ~ Al die voëls het kom nes maak in sy takke, onder hom het al die wilde diere hulle kleintjies in die wêreld gebring
en in sy skaduwee het al die baie nasies kom woon. Hier word natuurlik gepraat van die Farao van Egipte.

-        Daniël se uitleg:
       Verstommend genoeg reageer Daniël nie onmiddellik op die koning se droom, soos wat 'n mens dalk sou verwag nie – nee, hy het vir ’n oomblik verstom gestaan, verbyster deur sy gedagtes (v.19). Ons weet dat Daniël gereeld in gebed verkeer het (Dan.6:10) en sekerlik sou hy ook vir die koning gebid het, soos wat dit van alle gelowiges verwag word en daarom was Daniël nie bang oor die gevolge vir homself wanneer hy die droom gaan uitle nie. Nee, hy was eerder ontsteld oor die uiteinde van die koning.

       Daniël is 'n pragtige voorbeeld vir ons in v.19 wanneer hy die owerste wat oor hom aangestel is, met respek behandel en hom aanspreek as "u majesteit". Hierdie is so 'n pragtige voorbeeld van wat daar bestaan tussen die gelowige en die ongelowige as dit kom by opregtheid en sensitiwiteit. In v.20 sê die koning vir Daniël ~ Moenie dat die droom en sy uitleg jou ontstel nie, maar Nebukadneser was vals in sy aanmoediging, want hy was baie ontsteld (v.4 ) en nou maak hy soos die ou wat skindernuus uit 'n ander ou wil trek en dan sê hy, "ek sal vir niemand anders vertel nie". Daniël daarenteen is opreg in sy respek en sensitiwiteit en hy spreek Nebukadneser nie alleen aan as "u Majesteit" nie, maar hy sê ook in v.19b ~ U Majesteit, het die droom maar eerder op u vyande geslaan, die uitleg op u teëstanders! Hy is opreg jammer vir hierdie man wat kranksinnigheid in die gesig staar! Die probleem met Nebukadneser was dit wat Paulus van Timoteus in Fil.2:20-21 gesê het ~ Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. 21Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. Nebukadneser gaan leer dat die uiteindelike mag en besluitneming by die Allerhoogste gesetel is en in geen mens se hande nie.

       God het hierdie droom – 'n droom van profetiese aard – aan Nebukadneser gegee en God gee self ook die uitleg daarvan deur sy dienskneg Daniël aan Nebukadneser. Net so tussen hakies – heirdie is 'n klassieke voorbeeld daarvan dat bepaalde fenomene (in hierdie geval 'n droom), gewerk deur die Heilige Gees wel deur ongelowiges ervaar kan word, maar dat dit steeds nie noodwendig daarop dui dat so 'n persoon, Gees vervuld is, of gered is nie.

       In kort is die uitleg van die droom as volg:
(i)   Die sentrale element in die droom is 'n "kosmiese boom" (vv.10-12 en 20-22) en dit reflekteer Nebukadneser se persoonlikheid en selfbeeld – sy eie voortreflikheid (Dan.3) is onder die vergrootglas, want hy sien homself as die heerser van die heelal en die uiteinde van hierdie droom sal wees om hom te stroop van sy grootheidswaan en dit sou vinnig en intens gebeur.
(ii)  Tweedens (vv.13-16; 23 en 25-26) Hierdie boom (Nebukadneser) gaan afgekap en verwoes word en tot niks gemaak word. Nebukadneser sou nie alleen sy heerskappy verloor nie, maar ook die wese van sy mensheid, deurdat hy soos die diere van die veld sou word (sy kos, leefwyse en verstand).

       Hier is egter alreeds 'n glinstering van hoop wat vir de koning deurgegee word – daar moet 'n yster- en bronsband om die stam gebind word – waarom? Die boom kan uiteindelik weer herrys indien die stam behoue bly en dit is die kans wat die Here God aan Nebukadneser gee, maar daar is 'n voorwaarde aan verbonde – v.27 ~ Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou. Vv.28-29 is vir ons 'n aanduiding dat die Here vir Nebukadneser 'n geleentheid gegee het om hom daar en dan te bekeer indien hy gehoor gegee het aan die woorde van Daniël in v.27, want na Daniël se uitleg het dit nog 12 maande geduur voor die koning gestroop is van sy menswaardigheid – v.28 ~ Maar alles het oor koning Nebukadnesar gekom - hy het hom nie aan die waarskuwing gesteur nie en die vonnis is gevel – die eens magtige Nebukadneser val van "koning tot grasvreter" en hierdie lydingstyd sal vir sewe tydperke duur (sewe – die Hebreeuse syfer wat volmaaktheid, of voltalligeheid aandui) en dan daarna – na hierdie sewe tydperke? Gaan hy sterf as hy hom nie bekeer nie? God is Nebukadneser so oneindig genadig, want Hy vonnis hom nie net nie – Hy gee hom hoop; God gee hom 'n glimpsie van Sy genade wat op hom wag, omdat Hy wat die Here is, in Sy Alwysheid weet dat Nebukadneser hom gaan bekeer ~ Die bevel dat die boom se stomp in die grond moet bly, beteken dat u koningskap herstel sal word sodra u erken dat die Hemel regeer (v.26). Ons sien ook hier 'n duidelike verband tussen Goddelike oordeel aan die eenkant en die mens se verantwoordelikheid aan die anderkant.

(iii)   Laastens (vv.17 en 24) was daar 'n Engel wat opdrag gegee het dat die boom afgekap moes word. Daniël verduidelik aan Nebukadneser dat sy lot bepaal word deur die Allerhoogste – deur Hom by wie alle en finale gesag berus en al dink Nebukadneser dat hy hierdie wonderlike en reuse boom is wat aan almal voedsel en rus en skadu voorsien – al is hy hoe magtig en invloedryk en 'n gevreesde en ryk heerser, sal hy op die harde manier uitvind dat hy maar nogsteeds onderworpe is aan God die Almagtige en dat sy krag en mag en rykdom deur 'n genadige God aan hom gegee is en dat dit in 'n oogwink van hom weggeneem kan word.

-        Daar is hoop:
            Daniël gee egter 'n sprankie hoop vir Nebukadneser in v.27 ~ Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou.” Daar is altyd hoop by die Here – dit is nooit te laat nie. Al is die vonnis bykans gevel teen Nebukadneser en hy binnekort soos die diere sou word, is daar hoop en daarom is die woorde van Ps.8:4-9 so in die kol ~ As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, 5wat is die mens dan
dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? 6U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, 7U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: 8skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, 9die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis. Nebukadneser het geheers oor dit wat God aan hom gegee het. Nebukaneser gaan vir 'n rukkie net so laag soos die diere wees, maar dan gaan God hom verhoog, want Nebukadneser gaan die knie voor die Almagtige buig.

·           Tugtiging deur Kranksinnigheid:
       Soos vroeër reeds gesê, het Nebukadneser die geleentheid ontvang om sy verantwoordelikheid na te kom t.o.v. God se oordeel en seën, maar vir twaalf maande lank bekeer hy hom nie.

-        Sy trots:
       In v.30 spog Nebukadneser steeds  ~ Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan ’n koningstad gemaak, tot my eer en roem. Hy is trots op "sy handewerk" – so asof dit hy is wat alles totstand gebring het. Steeds verneder hy hom nie voor God nie; steeds buig hy nie die knie voor die Allerhoogste nie!

       Trots is waarskynlik een van die mees destruktiewe sondes wat daar is – dink maar aan die val van die satan; van Adam; ens. Trots veroorsaak dat jy van God vergeet, trouens deur trots verhef jy jouself bo God. Trots is gevaarlik. Trots is subtiel – ons moet ons gedurig self ondersoek om vas te stel of daar nie dalk trots in ons lewe is nie. Om myself hoër te ag as andere (ja, ook ander rasse – om ander rasse as benede jou te sien) is bv. niks anders as trots nie. Om staat te maak op jou eie vermoëns; jou eie geld ens., is niks anders as trots nie. Hoor wat sê Johannes in 1 Joh.2:15-16 ~ Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 16Die wêreldse dinge—alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit—kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld.

       Ek kan ook nie anders as om C.S. Lewis in hierdie verband aan te haal nie: In God you come up against something which is in every aspect superior to yourself. Unless you know God as that – and, therefore, know yourself as nothing in comparison – you do not know God at all. As long as you are proud you cannot know God. A proud man is always looking down on things and people: and, of course, as long as you are looking down, you cannot see something that is above you (en weereens – dit sluit ander rasse in!).

-        Sy straf:
       Nebukadneser was trots – hy was baie trots en as daar so 'n uitdrukking bestaan het – arrogant trots - en sy straf daarvoor? Vv.31-32 ~ Daar is besluit, koning Nebukadnesar, dat jy uit jou koningskap onthef gaan word. 32Jy sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef en gras moet eet soos beeste. Dit sal sewe tydperke lank oor jou kom. Dan sal jy moet erken dat die Allerhoogste mag het oor die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil. Die eens trotse Nebukadneser word verneder – laer as wat enige mens verneder kan word – hy word soos 'n dier – dit terwyl Ps.8:4-9 uitdruklik sê dat die mens, ...net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak is, maar méér as die beeste van die veld, want God het die mens ...laat heers oor die werk van (Sy) hande.

       Het hierdie vernedering; hierdie straf, net met Nebukadneser gebeur? O nee, Paulus waarsku almal van ons dat dit ook met ons kan gebeur. Paulus sê in Rom.1:24, dat God diesulkes oorgee aan ...die drange van hulle hart en aan sedelike onreinheid. God gee hulle oor aan ...skandelike drifte (v.26) en in v.28 sien ons dat Hy hulle  oorgee aan ...hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is.

-        Sy herstel:
       Daar is egter weer 'n glimpsie hoop; weer 'n blik op God se onuitspreeklike genade vir ons – v.32b ~ Dan sal jy moet erken dat die Allerhoogste mag het oor die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil. Na sewe jaar wat Nebukadneser soos 'n dier en saam met die diere geleef het, kom hy tot sy sinne – nee, God bring hom tot sy sinne (v.34) en die koning het sy les geleer en alles wat van hom weggeneem was, word herstel – sy sinne; sy eer; sy koningskap en selfs meer mag as vantevore en hy kan nie anders as om in lofprysing uit te bars nie – hierdie keer opreg! Hy gee vir die eerste keer erkenning aan die lewende God en hy besing Sy lof (vv.34-35).

4.    Afsluiting:
       Nebukadneser was hoogmoedig en God het hom vir sewe jaar deur 'n harde en vernederedne leerskool geneem ten einde vir hom nederigheid aan te leer. Hieruit moet ons as gelowiges dan ook 'n les leer, nl. om nie onsself hoër te ag as ander en selfs in ons hoogmoed op doelbewuste of meestal op subtiele en soms selfs onbewuste wyse, God se eer te steel nie. Ja, ons moet alles na die beste van ons vermoë doen, maar asof vir die Here en wanneer ons sukses behaal, nogsteeds die eer aan God te bring, deur in opregtheid te sê ~ ...dit is God wat (my) gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer (Fil.2:13).
      
       Die Here het Nebukadneser egter na sy opregte belydenis weer verhoog en onmiddellik kan ons onsself afvra, waarom verhoog God Nebukadneser nou dat hy eintlik op die regte plek is – 'n nederige man? Waarom ontvang hy en enige iemand wat huleself verneder, dan soveel genade deur weer verhoog te word? Die antwoord lê vir ons in die feitelike geskiedenis van 'n ander Koning. Hierdie Koning waarvan ek praat kon en kan met reg uitkyk oor die ganse wêreld en die woorde van Nebukadneser uiter ~ Deur my groot mag het ek daarvan ’n koningstad gemaak, tot my eer en roem (v.30). Hy het nie alleen een van die sewe wonders van die antieke wêreld soos Nebukadneser geskep nie (die hangende tuine van Babel). Nee, Hy het die ganse heelal uit niks geskep, deur slegs 'n woord te spreek (Gen.1), maar in plaas daarvan dat Hy Homself verhoog het, het Hy, wat God en self Koning is, Homself verneder en in gehoorsaamheid, die heerlikheid van Sy Koninkryk verlaat en na die aarde gekom as mens. Hy het egter Sy vernedering nog 'n stap verder geneem en Hy het 'n dienskneg geword en uiteindelik, al was Hy onskuldig, bereid gewees om aan 'n kruis te sterf – wat kan meer vernederend wees as juis dit en dit terwyl Hy geen rede gehad het om hoegenaamd verneder te word nie, maar Hy het dit gedoen, sodat ons verlos kan word van ons trots – Hy wat alle reg het om Homself te verhoog, het Hom self verneder en minder as die engele geword ten einde Sy kinders uiteindelik te verhoog! En Sy naam is Jesus Christus ons Verlosser!




[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 13 Oktober 2013

Sunday, October 6, 2013

Die Openbaring aan Johannes – 49 (Die Koms van die Koninkryk - 02)


1.     INLEIDING:
       Ons het die vorige keer gesien dat die gebeure waarna ons tans kyk in Openb.19, onmiskenbaar verwys na die komende Messias. Die vraag waarmee ons egter die vorige keer afgesluit het, was of die koms van Christus in ons gedeelte onder bespreking, ’n finale terugkeer na die aarde is en of dit ’n geestelike "wederkoms" is? ’n Verdere vraag wat ons gevra het, is of die beeldspraak wat in ons teks gebruik word, pas by ’n finale wederkoms-beeld al dan nie? Ek het ook gesê dat ek nie glo dat die beeldspraak strook met ’n finale wederkoms van Christus nie.

       Kom ons kyk na die bekende Hand.1:9-11 ~ Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.” Hierdie is ’n baie duidelike verwysing na ’n liggaamlike en sigbare terugkeer van Christus na die aarde. Ons weet én bely dat Jesus fisies (teenoor "geestelik"), histories (teenoor "mities") en letterlik (teenoor "geestelik") liggaamlik uit die dood opgestaan het, want Hy het o.a. kort na Sy opstanding saam met Sy dissipels geëet (Joh.21:1-14) en Thomas het selfs aan Hom geraak (Joh.20:26-29).

       Die dissipels het Jesus dus SIEN opvaar, terwyl ’n wolk Hom WEGGENEEM het, totdat hulle Hom nie meer kon SIEN nie. Christus se hemelvaart was dus fisies en sigbaar. Let egter ook op wat die die twee mans in wit klere vir hulle gesê het ~ Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het (Hand.1:11). Het Jesus opgevaar na die hemel op ’n wit perd? Nee, Hy het nie! Het ’n menigte soldate wat geklee was in wit klere, Hom die hemel in gevolg? Verseker nie! Wolke word baie pertinent genoem in Handelinge, terwyl daar nie sprake is van wolke in Openb.19 nie. Met dit in gedagte kan ons dus nie sê dat Christus se tweede koms, of dan liewer, Sy finale koms, dieselfde is as die koms waarvan Openb.19 praat nie.

       Ons het dan nou gesien wat hierdie koms NIE is nie, maar ons het nog nie gesê wat hierdie koms wel is nie. Van watter of wat se koms word hier geprofeteer? Ek is oortuig daarvan dat dit hier gaan oor God se oordeel oor Jerusalem in 70 n.C., ten einde Sy Koninkryk ten volle in te lyf, of van stapel te stuur en te vestig en wat oor die wêreld heen sou versprei – dit was dus ’n geestelike koms.

       In Dan.2 het Daniël al geprofeteer oor hierdie geestelike koms van Christus en die vestiging van Sy Koninkryk (ons het al vroeër daaroor gepraat), asook oor die gelyktydige val van die Romeinse Ryk. Ons leef vandag in God se Koninkryk en hierdie Koninkryk het in al sy heerlikheid gekom, toe Christus in 70 n.C. Sy vyande in die eens "heilige stad" uitgewis het.

       Nog ’n rede waarom hierdie "Openb.19-koms" gesien kan word as Christus se oordeel wat gekom en ontvlam het teen die Israel van die Ou Verbond en daarom Jerusalem en die Tempel as simbool van die Ou Verbond, is die woorde van Jesus in Matt.24:29-31 ~ “Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word. 30Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. 31Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.” Die onmiddellik voorafgaande verse gee ’n weerspieëling van die vernietiging van Jerusalem en die tempel in 70 n.C.  

Kort na die verdrukking van daardie tyd... (v.29) sal ...die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn (v.30). Let op, hier word nié gesê dat Christus fisies na die aarde gaan kom nie – hier word gepraat van die teken van die Seun van die mens. Die verwoesting van Jerusalem was dus die teken dat Christus Sy Koninkryk in die hemel in ontvangs geneem het en sal elkeen erken dat die Seun van die Mens na die Vader gegaan het in wolke van heerlikheid ~ Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd (Dan.17:13-14). Dit is eers hierna dat Sy boodskappers – Sy "engele" of "boodskappers" met die Evangelieboodskap sou uitgaan, ten einde Sy uitverkorenes vanuit al die windrigtings van die aarde bymekaar te maak.

Openb.19 praat verseker van die triomf of segetog van die Woord van God – die oorwinning van die Evangelie van Jesus Christus. Die vraag is of hierdie triomf eers plaasvind ná Christus se tweede koms? Verseker nie! Dit gaan ...kort na die verdrukking van daardie tyd begin (Matt.24:29). Die Joodse tempel was die laaste bastion tussen die Christendom en wêreld evangelisasie, maar toe die tempel eers vernietig is, kon Christus se Koninkryk met rasse skrede en met brute krag vooruitgaan. Dit is hierdie beeld wat verder in Openb.19 verklaar en uiteengesit word.

Ook moet ons net kennis neem daarvan (weereens) dat Openbaring in tydsgleuwe saamgevat word, wat gebeure beskryf ...wat binnekort moet gebeur (Openb.1:1). Daar is geen bewyse of enige rede dat Openb.19 uitgesluit is van hierdie opmerking wat Jesus aan Johannes gemaak het nie.
                                  
Dit wil ook voorkom asof Openbaring ’n uitgebreide weergawe van Jesus se Olyfberggesprek was (Matt.24:1-25:46; Mark.13:1-37; Luk.21:5-36) en daar bestaan geen twyfel daaroor dat die Olyfberggesprek juis gaan oor die vernietiging van Jerusalem en die tempel.

Laastens, kan vermeld word dat hierdie "koms" van Jesus soos weergegee in Openb.19, en wat na 70 n.C. verwys, ook in Mark.9:1 gesien word ~ Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sal sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie. Jesus het hier met Sy dissipels en ’n groep mense gepraat (Mark.8:34). Die parallelle vers in Matt.16:28 is selfs nog duideliker ~ Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie. Ek dink hierdie gedeeltes spreek vanself!

Daar is mense wat beweer dat Jesus hier oor Sy eie verheerliking gepraat het. Die probleem met so ‘n standpunt lê presies by dit wat Jesus gesê het ~ Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat... Ons sien dat Jesus se verheerliking presies ses dae na hierdie gesprek plaasgevind het. Die implikasie van Jesus se woorde dat sommige nog sal lewe om Sy koms te ervaar, impliseer dat sommige nie meer sal lewe nie. Die vraag is of Hy so ’n uitspraak sal lewer, slegs ses dae voor die vervulling van Sy woorde? Dit is dan asof Hy gesê het ~ "Oor ses dae sal Ek my Koninkryk betree – en so tussen hakies, sommige van julle sal dan nog leef!"  Hierdie uitspraak dui tog daarop dat die "koms" waarvan Jesus hier praat eers oor ’n paar dekades sou plaasvind en nie oor net ses dae nie. MAAR, dit impliseer ook nie dat hierdie "koms" eers oor eeue van daar af sou plaasvind nie – Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat....

Om op te som: Openb.19 is ’n wonderlike profesie van die oorwinnende Evangelie onder die Heerskappy en Leierskap van Jesus Christus. Die nasies sal oorweldig word deur die Evangelie! Die wêreld sal deur die Evangelie bereik word! Natuurlik, negeer en verkleineer Openb.19, nie Jesus se toekomstige fisiese terugkeer nie – dit gáán plaasvind soos geprofeteer in teksverse soos Hand.1:9-11; 1Tes.4:13-18; 1Kor.15:51-58; ens. Die Woord van God beklemtoon egter nie die wederkoms van Christus nie, want Sy tweede koms hoef nie plaas te vind om Christus daardeur te bewys as die Oorwinnaar nie – Hy het rééds oorwin en die Evangelie oorwin vandag en elke dag en sal aanhou oorwin, totdat Christus weer op die wolke verskyn! Wanneer Hy eendag terugkeer sal Hy Sy Koninkryk aan die Vader oorhandig (1Kor.15:24-28), maar die oorwinningsmars van die Evangelie vind elke dag plaas!

Die tweede koms van Christus is ’n heerlike waarheid, maar word nie in Openbaring geleer nie. Dit wat Openbaring leer handel eerder oor onse God en Vader wat regeer en dat ons Hom daarom met vertroue en in blydskap kan volg in die geestelike oorlog wat rondom ons woed.

       Ons het hier te doen met ’n visioen oor wat gaan gebeur nadat die vyand verslaan is. Vir ’n hele geslag lank het die Judaïste die Christene erg vervolg, maar nou is dit verby. Die tempel was vernietig en die vervolging het tot ’n einde gekom. Daar gaan egter nieteenstaande, ’n grusame toneel hom steeds afspeel.

·           Openb.19:17-21 ~ Toe het ek ’n engel by die son sien staan. Hy het met ’n harde stem uitgeroep en vir al die roofvoëls, wat hoog in die lug vlieg, gesê: “Kom, kom bymekaar vir die groot feesmaal wat God gereed maak! 18Kom eet die vleis van die konings, die vleis van die opperbevelhebbers, die vleis van die magtiges en die vleis van die perde en hulle ruiters, ja, die vleis van allerhande mense: vryes en slawe, klein en groot.” 19Toe het ek gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs by-mekaargekom het om oorlog te maak teen die Ruiter op die wit perd en teen sy leër. 20Die dier is toe gevange geneem en saam met hom ook die vals profeet wat die wondertekens vir die dier gedoen en daarmee die mense mislei het wat die merk van die dier aanvaar en sy beeld aanbid het. Hulle twee is lewend in die vuurpoel gegooi wat met swael brand. 21Die ander mense is doodgemaak met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van die Ruiter op die wit perd. Al die roofvoëls het hulle dik geëet aan die vleis.

       Hierdie is die tweede feesmaal wat in hierdie hoofstuk beskryf word. Die eerste was die huweliksmaal van die Lam in Openb.19:1-10. Hier het ons egter nou die groot feesmaal wat God gereed maak. Kom ons kyk na hierdie gedeelte onder die volgende 4 opskrifte:
Ø  Die Uitnodiging na die maaltyd
Ø  Die Voorbereiding van die maaltyd
Ø  Die Voltoïïng van die Maaltyd
Ø  Die Toepassing van die Maaltyd.

Ø  Die Uitnodiging na die maaltyd:
Christus se vyande is verslaan en nou word die voëls van die hemel (die lug) genooi om die vleis van beide mens en dier te kom geniet – hulle wat tydens die slag "geval" het (gesneuwel). Vir daardie tyd was die mees vernederende ding wat met ’n mens kon gebeur, om onbegrawe gelaat te word. Dit is wat so betekenisvol was van Isebel se dood (2 Konings 9:30-37). Die feit dat sy nie dadelik begrawe is nie, was simbolies van die Jode se haat vir haar.

       Die liggame van diegene wat in die slag van Jerusalem geval het, is ook nie begrawe nie en is daar weereens oneer gebring aan hulle wat gesterf het – die vyande van God. Josefus skryf dat die mense binne die stadsmure van Jerusalem, teen die einde van die slag, die dooies oor die stadsmure begin gooi het en was dit so erg, dat die dooie liggame begin ophoop het buite die stadsmure. Josefus vertel verder dat die aasvoëls aan die lyke begin vreet het. Die beeld wat dus hier geskets word, is dié van die Evangelie se vyande wat oorwin is en aan wie geen eer betoon is nie. Weereens stem hierdie beeld ooreen met dié van die heilige stad wat onder die hand van die Babiloniërs geval het ~ “Mens, so sê die Here jou God, sê vir al die voëls en vir al die roofdiere: Kom bymekaar, kom, versamel van alle kante af rondom die offermaaltyd wat Ek vir julle aanbied, die groot slagting op die berge van Israel; kom eet vleis en drink bloed. 18Julle sal vooraanstaande mense se vleis eet en die bloed drink
van regeerders van die aarde, almal in so ’n goeie kondisie soos die vet ramme en bulle van Basan. 19Julle sal vet vleis eet tot versadigens toe en bloed drink tot julle dronk is, dié van my offermaaltyd wat Ek vir julle aanbied. 20Julle kan julle aan my tafel versadig eet aan perde en strydwabemannings, aan dapper vegters en allerlei soldate,” sê die Here my God (Eseg.39:17-20).

       Die uitnodiging word nou weer uitgereik. Vantevore het sonde só erg geraak, dat God dit verwoes het en het die voëls van die hemel vrylik gevreet aan die lyke – 'n herhaling van hierdie gebeure rondom Jerusalem is weer op hande.

Ø  Die Voorbereiding van die maaltyd: Verse 19-20 toon vir ons aan waar die karkasse vandaan gekom het ~ Toe het ek gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs by-mekaargekom het om oorlog te maak teen die Ruiter op die wit perd en teen sy leër. 20Die dier is toe gevange geneem en saam met hom ook die vals profeet wat die wondertekens vir die dier gedoen en daarmee die mense mislei het wat die merk van die dier aanvaar en sy beeld aanbid het. Hulle twee is lewend in die vuurpoel gegooi wat met swael brand. Eerstens sien ons hier ’n beskrywing van die geveg: Die Romeine ("die dier") en Judaïsme ("die vals profeet") wat saam span om oorlog teen die Lam te voer. Soos reeds voorheen aangetoon, het die Romeine geglo dat indien hulle die tempel verwoes, hulle beide Judaïsme én die Christendom sou vernietig – hulle het geglo dat hierdie twee, vertakkings was van dieselfde geloof. Die doel van die Romeine was dus om beide Judaïsme, sowel as die Christendom te vernietig.

       Tweedens het ons hier te doen met die oorwinning wat behaal is. Waar die Romeine geglo het dat hulle "twee voëls met een klip" kon doodmaak, het God daarenteen, "twee voëls met een klip gedood" in hierdie veldslag:
1.    Hy het toegelaat dat die gelowiges se vyande, die Jode uitgewis word, en
2.    Hy het die Christene bevry van Joodse vervolging.

       Wat egter ook merkwaardig is, is dat Nero nie lank voor die val van Jerusalem, gesterf het en het die vervolging van gelowiges daarmee saam tot ’n einde gekom – wel, ten minste vir ’n tyd lank.

       Die ...vuurpoel ...wat met swael brand... is ’n afbeelding van die hel. Daar bestaan geen twyfel daaroor dat Nero in die hel gewerp is met sy dood en so ook die Joodse leiers. Hierdie einste leiers is deur Jesus, kinders van die duiwel genoem  (Joh.8:44). Die huidige vervolging het tot ’n einde gekom. Die vervolgers het die maal vir die aasvoëls geword.

Ø  Die Voltooiing van die maaltyd: Die slotvers van hierdie gedeelte kan verwarrend wees ~ Die ander mense is doodgemaak met die swaard wat uitgegaan het uit die mond van die Ruiter op die wit perd. Al die roofvoëls het hulle dik geëet aan die vleis (v.21). Wat presies word hier uitgebeeld? Ons het nou al gesien dat die swaard nie ’n fisiese swaard is nie, maar wel tekenend is van God se Woord. Matt.24:32-35 verskaf meer lig hierop ~ “Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. 33So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur. 34Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 35Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”

       Die profesie van v.21 is nie dié van ’n fisiese terugkeer van Christus ten einde Sy vyande te vernietig nie, maar eerder dat Sy vyande sal omkom d.m.v. Sy Woord. Hulle is uitgewis, omdat daar geskryf staan dat hulle uitgewis sou word. Hulle het gesterf a.g.v. Sy Woord. As ons kyk na Deut.28:26 sien ons dat God die Israel van die Ou Verbond, gewaarsku het dat indien hulle Hom nie gaan gehoorsaam nie, Hy hulle gaan vernietig en dit is presies wat gebeur het ~ Al die voëls en die wilde diere sal aan jou lyke vreet, en niemand sal hulle verjaag nie.  

Ø  Die Toepassing van die maaltyd: Behalwe dat Openb.19 handel oor die vestiging van Christus se Koninkryk, moet hier tog immers ’n boodskap opgesluit lê in hierdie gebeure wat 1 943 jaar gelede plaasgevind het. Ons moet besef dat hierdie gedeelte net soveel vir ons te sê het, as wat dit vir die Jode van 2000 jaar gelede gesê het. Luister na wat David S. Clark in sy kommentaar oor Openbaring skryf: But does the conquest of this rider on his white horse pertain only to the Roman Empire? Must we be ever dealing with things that are dead and buried centuries ago? Is there nothing in all this that touches and vitalizes the church of the present day? Or are we never to get beyond the dry dust of the catacombs?... Let the church remember that this rider on the white horse is the living Jesus, that He is in the forefront of every battle, that just as he conquered the beast and the false prophet, so He will conquer every enemy... The rider on the white horse is still riding on. Let the church follow, clothed in linen, white and fine.

       Laat ons as gelowiges weet en seker weet dat Christus reeds die oorwinning behaal het en laat ons derhalwe ook in hierdie wêreld ingaan met die vaste vertroue en wete dat elke geveg wat ons in Sy Naam gaan veg, reeds gewen is!




[1] Boodskap deur Kobus van der Walt te Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente.  Vereeniging – 06 Oktober 2013