Sunday, June 9, 2013

Die Boodskap van Daniël - 02 (Die Vyand se Strategie)



1.    INLEIDING:
       Verlede week het ons o.a. gekyk na die historiese en teologiese agtergrond waarteen die boek Daniël afspeel en die skrywer verplaas nou sy fokus na die effek wat die ballingskap gehad het waaraan Daniël en sy vriende onderwerp was en daarom begin hy om ’n klompie verhale te vertel van wat hy en sy vriende ervaar het.

2.    SKRIFLESING:
       Daniël 1:1-7 ~ In die derde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda het koning Nebukadnesar van Babel teen Jerusalem opgetrek en dit beleër. 2Die Here het vir koning Jojakim oorgegee in Nebukadnesar se mag, en ook ’n gedeelte van die tempelgereedskap, en hy het dit na Sinar, na die tempel van sy god toe gevat, en daar het hy dit in die voorraadkamer van die tempel van sy god gebêre. 3Die koning het vir Aspenas, sy hoofpaleisbeampte, beveel om uit die Israeliete jongmanne na die paleis toe te bring, uit die koninklike geslag en uit die geslag van vername mense. 4Die jongmanne moes sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen. Hulle moes onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal. 5Die koning het bepaal dat hulle ’n daaglikse porsie van sy kos en wyn moet ontvang en dat hulle drie jaar lank opgelei moet word. Daarna moet hulle in diens van die koning tree. 6Onder hierdie Judeërs was daar Daniël, Gananja, Misael en Asarja, 7maar die hoofpaleisbeampte het vir hulle ander name gegee: Daniël is Beltsasar genoem, Gananja Sadrag, Misael Mesag en Asarja Abednego.

3.    NOG MEER AGTERGROND:
       Wie was Daniël? Eerstens is Daniël natuurlik die skrywer van hierdie boek ~ In sy eerste regeringsjaar het ek, Daniël, uit die Skrifte vasgestel dat volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het, Jerusalem sewentig volle jare ’n puinhoop sou wees (Dan.9:2). Tweedens was Daniël ook ’n profeet van God en dit het ons verlede week  gesien toe Jesus in Matt.24:15 bevestig het dat Daniël ’n profeet was.

       Daniël was egter ook die seun van ’n edelman en heel moontlik ’n prins wat in 605 v.C. weggevoer is na Babilon en as ons na vv.3-4, wat ons so pas gelees het kyk, dan was hy hoogs waarskynlik nog ’n tiener toe hy weggevoer is, want daar is verwys na die "jongmanne" wat na Nebukadneser geneem moes word en Daniël was onder hierdie jongmanne.

       Wat uit ’n menslike oogpunt gesien kan word as tragies, is die feit dat Daniël se bediening vir die totale tydperk van die Babiloniese ballingskap geduur het, want sy laaste profesie is in 536 v.C. geskryf toe Daniël reeds in sy tagtigerjare was.

       Hierdie boek is waarskynlik dié bes georganiseerde boek in die ganse Bybel en sommige kommentators grond dit op die feit dat Daniël aan die einde van sy lewe, sy boek herskryf het en in een boek, met een tema, geherorganiseer het.

       ’n Laaste en baie belangrike opmerking wat ek wil maak, is dat die boek Openbaring waarna ons al grootliks en in groot detail gekyk het, nie na behore vertolk kan word sonder kennis en insig in die boek Daniël nie, want daar word in bykans elke hoofstuk van Openbaring, verwys na, of aangehaal uit Daniël.

4.    DIE VYAND SE STRATEGIE:
       Na Nebukadneser se oorwinning oor Jerusalem, het hy geweet dat hy nie oor ’n lang termyn heerser oor God se volk sou kon bly, as hy net op sy militêre oorwinning sou vertrou nie – hy was slim genoeg om te besef dat hy die volk onder sy beheer moes kry, deur hul denke en hul gebruike en lojaliteit te wen en dan sou hy hulle heerser kon bly – daarom dat hy groot getalle van hulle weggevoer het, nie net om slawe vir sy volk te wees nie, maar om God se volk ook bloot te kon stel aan die Babiloniese kultuur, afgodediens en alles wat daarmee gepaard gegaan het. Hy is egter nog verder slim, omdat hy besef het dat hy by die jonger geslag moes begin, want as jy die jongmense gewen het, het jy die volk gewen.

       Met dit in gedagte gee Nebukadneser opdrag aan Aspenas, sy hoofpaleisbeampte, om al die jongmense wat van koninklike en vername afkoms was, na hom te bring, want dit is by hulle wat hy met sy sondige indoktrinasie wil begin. Hy het egter nog verdere kwalifikasies waaraan hierdie manne moes voldoen – hulle moes ...sonder liggaamsgebrek wees, mooi, toegerus met kennis, verstandig, bekwaam en in staat om in die paleis diens te doen. Dit is dus duidelik dat Nebukadneser geweet het dat sulke jongmanne uiteindelik die grootste invloed op hulle volksgenote sou hê, want hulle sou die toekomstige leiers van die Judeërs wees. 

       Hy gaan egter nog ’n stap verder – een van die beste maniere om begrip en waardering te kweek vir ’n bepaalde land en kultuur en godsdiens, moet jy die taal van daardie volk aanleer en dit is presies ook wat die voorland van hierdie jongmanne sou wees ~ ... Hulle moes onderrig word in die Galdeërs se skrif en taal (v.4b).

       Uit hierdie strategie van Nebukadneser sien ons die bose self in aksie en is dit noodsaaklik dat ons behoorlik kennis hiervan sal neem ten einde ons te versterk in ons geestelike oorlogvoering teen die bose (Ef.6:10-20) – ons moet sy strategie verstaan, ten einde suksesvol weerstand te kan bied teen sy aanslae en uit hierdie gedeelte sien ons vier stappe wat die bose in sy aanslag teen ons aanlê:
·           Isolasie: Nebukadneser het die gekose jongmanne geïsoleer van hulle volksgenote – daardie positiewe invloed wat hulle karakter en geloof en kultuur gevorm het, sodat hulle nie meer in die weë van die Here sou wandel nie. Hulle sou vervreem word van hul daaglikse godsdiensonderrig en aanbiddingsgeleenthede; hulle sou nie meer blootgestel wees aan die onderrig in die Woord van God en gemeenskap met medegelowiges nie. Hulle sou nie meer blootgestel wees aan oproepe tot ’n heilige lewe nie. Die bose koning het dus gedink dat indien hy hierdie jongmanne vervreem van die Woord van God, hulle uiteindelik ontrou aan God sou word.

       Hierdie strategie word vandag nog net so toegepas deur die satan (steeds is hy die mees onoorspronklike strateeg wat daar is) – hy wil ons vervreem van God se Woord en gemeenskap met God en ook met medegelowiges en daarom moet ons uiters bedag op hierdie feit wees en ons inoefen en dwing om nie ons "stiltetyd" (of ons "gesprekstyd" as julle wil) af te skeep nie en ook om ons met erns daaraan te wy, soos Hand.2:42 dit stel, om ons... ...heelhartig toe (te lê) op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.
·           Indoktrinasie: ’n Tweede stap wat die vyand volg om ons van God te vervreem, is d.m.v. indoktrinasie. Ons het in v.4 gesien wat Nebukadneser se plan met die jongmanne was – hy wou hulle vervreem van hul kultuur, taal en godsdiens; hy wou hulle indoktrineer deur hul verstand te verduister met die Babiloniese kultuur en godsdiens. Hierdie is ’n algemene en alledaagse truuk van die bose, nl. om ons te indoktrineer; om ons verstandelik en geestelik sag te maak en af te takel, sodat die dinge van hierdie wêreld nie meer vir ons onaanvaarbaar en afstootlik is nie – neem maar net een voorbeeld: Winkels was vir baie jare in hierdie land van ons, op Sondae gesluit, maar mettertyd het die een winkel na die ander op Sondae begin oopbly vir sake, want hulle wou geldmaak en vir die "kerkloses" van ons dag is dit die inkopiedag en maatskappye het die behoefte en aanvraag begin bevredig (selfs Banke begin oopbly op Sondae). Dit is nou so ’n algemene ding en ons het so gewoond geraak daaraan – ons is al so geïndoktrineer, dat dit vir ons al makliker word om maar net deel van die tydsgees te word en niks daarvan dink om self ’n paar inkopies op ’n Sondag te gaan doen nie – die heiligheid en gewydheid van God se rusdag word op hierdie wyse net afgestomp in ons gemoedere.

       Nebukadneser het beplan om die jongmanne soos die Babiloniërs te laat begin dink en optree en dit is wat die vyand met ons ook wil doen – hy wil hê dat ons soos die wêreld moet begin dink en optree en bring dit ons by die derde stap in die vyand se strategie om ons te laat struikel op ons geestelike pad – ons maak kompromie met hierdie wêreld en sy dinge.
·           Kompromie: Die Joodse tieners wat in die koninklike paleis onderrig was, was daagliks blootgestel aan die lekkernye van die paleis (v.5). Waarin die kompromie, of die gevaar van kompromie vir Daniël en sy vriende in die kos en wyn van die paleis gelê het, is nie heeltemal seker nie en word daar baie gespekuleer. Sommige teoloë reken dat die kompromie daarin gelê het, dat Daniël-hulle nie wou afwyk van die gebruik van hul volk om kos wat aan die afgode gewy is, te eet nie, maar dit was dalk ook bloot net ’n geval dat hulle nie deel wou word van die Babiloniese leefstyl en in die gemaksug van hierdie wêreld vasgevang te raak nie – die genot van hierdie wêreld. Jesus het nie verniet in Luk.8:14 gewaarsku nie ~ Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie.
      
       Daniël het waarskynlik ook gevoel dat hierdie gemaklike en rykmans lewenstyl, hom sou weglok van dít waartoe God hom geroep het.

       Ons moet bedag daarop wees dat die vyand wil hê dat ons kompromie moet maak met hierdie wêreld en sy genietinge, sodat ons uiteindelik maar net sal word soos die wêreld en dat die wêreld nie Jesus Christus in en deur ons lewe sal kan sien nie.
·           Verwarring: In v.5 sien ons ook dat die hoofpaleisbeampte Daniël en sy vriende se name verander het – so het Daniël, Beltsasar geword. Hierdie was ’n direkte poging om die jong Judeërs nog verder te stroop van hul identiteit, want ons moet onthou dat name vir die mense van die Ou Testament, baie belangrik was – So kon ’n naam bv. iets van die persoon se geboorte weer gegee het – Moses se naam beteken letterlik "uithaal" of "uittrek" ~ Sy het hom Moses genoem, “want” het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.” (Eks.2:10). Samuel se naam het, "van die Here het ek hom afgesmeek" beteken (1 Sam.1:20). Ander name het weer iets weergegee van die ouers se reaksie of posisie in die samelewing: Isak ("lag" of "’n gelag" – Gen.21:6); Abimelek ("my pa is die koning" – Rigters 8:31). Ander name het weer ’n bepaalde boodskap wat God aan die ouers gegee het, weerspieël – bv. Jesaja se oudste seun wie se naam was Sear-Jasub en wat "oorblyfsel" of "sal terugkeer" beteken (Jes.7:3). Ander name wat weer op ’n "jah" of "el" geëindig het, het daardie kind se verbintenis tot God weerspieël en letterlik het dit gesê: "met God", of soos in Daniël se geval wat ook geëindig het met "el", "my God is ’n Regter" en hierdie naam sluit pragtig aan by die sentrale tema van hierdie boek, nl. "die soewereiniteit van God."

       Vir Daniël was sy naam dus ’n baie spesiale naam wat boekdele gespreek het van sy verbintenis tot Sy God en wat Hy van Sy God gedink het – ’n soewereine God! Nou wil die koningshuis in Babel egter sy naam verander na Beltsasar, om daardeur ’n nuwe lewe en ’n nuwe begin van hierdie jongman aan te dui en alhoewel dit nie vreemd was om name te verander nie – bv. Abram na Abraham (Gen.17:5); Sefas na Petrus (Mark.3:16); ens. was dit gewoonlik ’n nuwe naam wat Goddelik geïnspireerd was en gedui het op ’n nuwe en beter verhouding tussen God en die persoon, behalwe natuurlik in heidense situasies en dit is wat hier met Daniël besig was om te gebeur – die koning gee hom ’n nuwe naam – ’n naam wat nie meer gekoppel is aan sy God nie, maar gekoppel is aan Babel se afgode, nl. Bel, Nabu en Marduk.

       Daniël moes gestroop word van sy identiteit en dit was veronderstel om in hierdie jongman se lewe, tot geweldige verwarring in sy gemoed te lei, want wie is hy nou eintlik en nog later, namate hy gewoond raak aan sy naam en die afgode van Babel, sou hy homself sien as ’n volbloed Babiloniër en in die proses sou hy vergeet wie sy God werklik was.

       Weereens het Nebukadneser nie rekening gehou met die lewende God nie, want ons sal later in Dan.5:12-13 sien dat die mense in die paleis steeds onthou het dat Beltsassar se regte naam, Daniël was – waarom? Omdat hy deurgaans aan sy God gedink het en die knie voor Hóm gebuig het en nie voor die afgode van Babel nie.

       Hierdie beginsel dui aan ons hoe belangrik dit is dat ons op die regte manier aan God sal dink; dat ons Sy attribute sal ken en werklik glo dat dít is wie God waarlik is – ons moet weet dat God soewerein is, maar ons moet ook hierdie kennis van hierdie karaktereienskap van God in en deur ons lewe toepas – ons lewe en ons denkpatrone, moet wys dat ons leef en optree soos iemand wat waarlik glo dat God bv. soewerein is. Ons moet ongeag ons omstandighede, ons steeds waarlik in optrede en spreke, onderwerp aan hierdie faset van God se karakter en in opregtheid "onder" ons omstandighede, God steeds verheerlik – omdat Hy soewerein is. Glo ons werklik dat God almagtig is en leef ons daarvolgens?

       Glo ons regtig dat God ’n genadige God is en dat Jesus volkome versoening tussen God en ons bewerkstellig het, deurdat Hy die volmaakte offer aan die kruis gebring het, of spartel ons nog steeds van tyd tot tyd met sekere sondes wat ons lankal al bely het en waarvan ons, ons bekeer het? So asof God nie eerlik is wanneer Hy sê ~ Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh.1:9).

       Dit is presies wat die satan met ons doen – hy verwar ons en hy bring twyfel in ons gemoed – dit is wat Nebukadneser met Daniël en sy vriende wou doen deur hul name te verander. Ons as gelowiges se lewens is getransformeer deurdat ons verstand vernuwe is (Rom.12:1-2) en ons moet daarvolgens leef en nie toelaat dat die vyand ons op sleeptou neem nie.

5.    GOD SE GETROUHEID:
       1 Pet 2:11 sê ~ Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe. Ons is net soos Daniël en sy vriende, vreemdelinge in ’n vreemde en goddelose land, maar ons word ook opgeroep om getrou te bly aan die Waarheid, te midde- en ten spyte van hierdie vreemde en vyandiggesinde wêreld – net soos Daniël.

       Om egter getrou te bly aan God, moet ons ook insig hê in God se getrouheid – onthou ek het netnou gevra of ons God se karaktereienskappe regtig ken?

       Eerstens moet ons besef dat God se getrouheid nie noodwendig altyd so ’n gerusstellende en aangename waarheid is nie, want as ons net weer vlugtig terugkeer na die eerste twee verse van Daniël 1, dan sal julle onthou dat God getrou aan Sy karakter opgetree het en die volk weggevoer het uit Juda na Babel – God was getrou aan Sy belofte van oordeel, maar meer nog (soos ons Woensdagaand ook gesien het), God is ’n regverdige Regter en die Griekse woord vir "regverdig" is δίκαιος (dikaios) wat dui op die volmaakte ooreenstemming tussen God se natuur en Sy optrede, m.a.w. Hy is heilig en daarom moet Hy dienooreenkomstig optree, nl. Hy móét sonde straf, want dit is in ooreenstemming met Sy karakter.

       Juda se ballingskap in Daniël se tyd, was derhalwe nie "toevallig" nie – hulle ballingskap was in ooreenstemming met Dan.1:1-2 – God gee Sy volk oor in die hand van hul vyande. God het male sonder tal in die boek Levitikus, Sy volk gewaarsku dat daar besliste gevolge op hul sonde sal wees ~ As julle my voorskrifte nakom, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe (Lev.26:3). Dan gaan God voort en Hy belowe in vv.4-13, o.a. reën op die regte tyd; genoeg graan op die lande en vrugte en oorgenoeg kos. Hy belowe vrede en Sy teenwoordigheid in hul midde, ens., máár in v.14 sê Hy ~ As julle egter nie na My luister nie en nie alles doen wat Ek julle beveel het nie, 15as julle my voorskrifte en bepalings verwerp en met minagting behandel, sodat julle nie my bevele nakom nie en my verbond verbreek, 16sal Ek die volgende doen... en dan noem Hy aan hulle wat met hulle sal gebeur – o.a. dat hul lewens vol angs sal wees; allerlei siektes sal oor hulle kom; misoeste sal ervaar word en die ergste van alles – Hy sal Sy rug op hulle draai en indien hulle hulself nie bekeer nie, sal nóg erger dinge met hulle gebeur – hulle sal nóg erger gestraf word en Hy belowe o.a. oorloë teen hulle en hongersnood, ens.

       Ons moet kennis neem van hierdie beloftes en waarskuwings en optrede van God teen Sy volk, want Hy is nie nét ’n genadige en liefdevolle God nie, Hy is ook ’n regverdige en heilige God en as ons, ons nie bekeer van ons sonde nie, wag daar gevolge op ons sonde.

       Daniël en sy volksgenote se ballingskap was egter nie nét die vervulling van God se algemene verbondsvloek in Lev.26 nie – dit was ook ’n vervulling van die profesie van Jesaja in 2 Kon.20:18, wat nagenoeg ’n 100 voor die ballingskap gebring is ~ Van jou eie seuns wat uit jou gebore is, sal gevat word, en hulle sal diens doen in die paleis van die koning van Babel. Waarom was God so ontsteld oor die Judeërs? Omtrent ’n 100 jaar voor die ballingskap en in die tyd wat Jesaja opgetree het as profeet, het koning Hiskia sy beskerming by die Babiloniese koning Merodak-Baladan gesoek (2 Kon.20:12) – in kort, Hiskia het sy beskerming in die politiek en by die vyand gesoek en nié by God nie.

       Waarom vind die ballingskap eers nagenoeg ’n 100 jaar later plaas? God is ’n genadige God en gee kans vir belydenis en bekering, maar niks daarvan was teenwoordig nie en daarom die uiteindelike ballingskap – God was dus getrou aan Sy karakter van heiligheid en regverdigheid en Hy straf die volk.
                                                        
       Al word die Judeërs weggevoer in ballingskap, a.g.v. ’n koning en hul voorsate se sonde van nagenoeg 100 jaar vantevore, het hulle geweet dat hul toekoms nie bepaal word deur die Babiloniërs, of die Babiloniërs se gode nie, maar deur God self. Wat meer is, Daniël het dit nie alleen besef nie, maar... (luister na Dan.2:19) ~ Toe is die geheim aan Daniël geopenbaar in ’n nagtelike visioen, en Daniël het die God van die hemel geprys. Die God van Daniël het Daniël nie alleen weggestuur in ballingskap nie, maar Hy het ook belowe om met Daniël daar in Babilonië te wees en om hom en die ander wat aan God vasgehou het, uiteindelik uit ballingskap uit, terug te neem na Juda.

6.    TOEPASSING:
       Hoe kan ons staande bly tydens beproewing en versoeking?
·           Deur vas te bly hou aan God en Hom deurgaans te loof en te prys, soos wat Daniël gedoen het. Daniël het vasgehou aan die beloftes aan sy voorouers dat God hulle sou seën as Sy Verbondsvolk. Ons leef egter nie meer onder die ou verbond nie, maar Jesus het vir ons dieselfde beloftes gegee om aan vas te hou ~ Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies (Matt.10:29-31).
·           Deur vas te bly hou aan die onderlinge byeenkomste en broederskap. Hebr.10:25 leer ons dat ons nie van die onderlinge byeenkomste van die gemeente moet wegbly nie – wanneer ons beproewing ervaar is die onderlinge byeenkoms en die broederskap wat daaruit voortspruit, o.a. die ondersteuningsbasis wat ons nodig het, om deur die swaarkry te kom. Bo en behalwe dat Daniël, God geprys het, het God dit in Sy groot genade en soewereiniteit nie toegelaat dat Daniël geïsoleer word en alleen deur die beproewing gaan nie – God het sy vriende by hom gehou.
·           Deur vas te bly hou aan die Waarheid. Nebukadneser het opdrag gegee dat Daniël en sy vriende se name verander moes word – hierdie was maar deel van die indoktrinasie proses waaraan die koning hulle wou onderwerp, maar hierdie jong Judeërs het nie toegelaat dat dit met hulle gebeur nie – dit blyk o.a. duidelik uit die feit dat Daniël (soos ons netnou gesien het) steeds in die paleis bekend was as Daniël. Satan wil steeds vandag hê dat ons van die Waarhede wat ons geleer het, afsien en daarom is dit noodsaaklik ten einde staande te bly, om aan God se Waarheid vas te hou en dit nie af te skeep, of te verwaarloos nie ~ Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely (Hebr.4:14).
·           Deur vas te bly staan en nie kompromie te maak nie. Ons sal in die hoofstukke wat ons nog gaan behandel, sien dat Daniël-hulle ook geweier het om kompromie te maak met die wêreld – hy en sy vriende het o.a. geweier om die knie voor die afgode van Babilonië te buig. Geliefdes, Paulus waarsku ons in Rom.12:2 ~ Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Dit is wat Daniël gedoen het en dit is wat die Here van ons verwag.
·           Deur gereeld terug te kyk en onsself te herinner aan ons redding. Dit is waarom Petrus in 2 Pet.1:12 sê ~ Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is. Die jong manne uit Juda het nie toegelaat dat hul naamsverandering en hul onderwerping aan Nebukadneser se skool, hulle verwar het nie, want hulle het nie vergeet van waar hulle gekom het nie en wie hulle God is nie.

       Is jy dalk tans in jou eie "Babel" en sê jy dalk, "Ja, maar God wat vir Daniël gesê het dat Hy met Daniël is en dat Hy uiteindelik vir Daniël gaan herstel, het dit nie vir my gesê nie en hoe moet ek weet wat my uiteindelike lot gaan wees?" Miskien sal God dit nog vir jou sê, maar weet jy wat, God hoef dit ook nie regtig vir jou te sê nie, want Hy het vir ons die voorbeeld van Daniël gegee, sodat ons kan weet wat ons te doen staan – daar is egter ’n voorwaarde en daardie voorwaarde is dat ons Daniël se voorbeeld moet navolg ... en Daniël het die God van die hemel geprys (2:19b).


[1]Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 09 Junie 2013

Sunday, June 2, 2013

Die Boodskap van Daniël - 01 (Veilig Bewaar vir die Ewigheid)



1.    INLEIDING:
       Ek wil vanoggend begin met ’n reeks uit die boek Daniël en glo my, ek is bang om my op hierdie terrein te begeef, want nie alleen is predikers se reaksie een van "sjoe, maar jy is braaf" as ek vir hulle sê dat ek graag Daniël wil preek nie, maar ook is hierdie boek volgens baie mense) dieselfde as Openbaring – vol geheimenisse.

       Bitter min kinders wat in gelowige huise grootword, is onbekend met Daniël, want Daniël word in al wat Kinderbybel is, pragtig uitgebeeld met die kleurvolste illustrasies, maar die probleem is dat hierdie verhaal net breedweg aan kinders vertel word – net die heldeoomblikke, maar wanneer dit by die latere hoofstukke kom, skram mense, óf weg van die boek, omdat dit onbekende, vreemde en selfs ontmoedigende inligting bevat, óf mense neem hierdie laaste gedeeltes en vervorm die teks, totdat hulle die aller verskriklikste "profesieë" daaruit aflei.           

       Terwyl ek dit sê, moet ons besef dat Daniël weliswaar ’n baie pertinente invloed op ’n mens se eskatologie kan hê en behoort te hê en dit kan ’n mens baie maklik afskrik om daaruit te preek, omdat dit ’n groot uitdaging kan wees, maar Daniël is net soos Openbaring, deel van God se geïnspireerde Woord – dit is deel van die voltooide kanon en daarom kan en mag ek myself nie daarvan weerhou om Daniël te preek nie, maar ek vra julle volgehoue en ernstige voorbidding vir my terwyl ons hierdie baie interessante boek gaan bekyk en ek vertrou dat die Here ons sal seën terwyl ons op hierdie "reis" gaan (soos Hy ons geseën het, toe ons deur Openbaring "gereis" het). Ek wil darem ook net sê, dat ons nog van tyd tot tyd weer na die vorige reeks uit Openbaring sal kyk en ek het ook nie van Hebreërs vergeet nie.

       E.B. Pusey sê van Daniël die volgende: The Book of Daniel is especially fitted to be a battleground between faith and unbelief. It admits of no half-way measures. It is either divine or an imposture. En dit is presies wat ook in die moderne teologie gebeur – die postmoderne- en liberale teoloë maak Daniël ook af as ’n allegorie (’n sinnebeeldige voorstelling, of in eenvoudige Afrikaans, sommer net ’n storie – net soos wat hulle ook sê dat o.a. Jona ’n blote allegorie is).

       Sinclair Ferguson het gesê: To open the Book of Daniel is to enter a strange but brave new world. Ek nooi julle dus om saam met my hierdie "strange but brave world", te betree, maar ook met die wete dat hierdie boek ’n wonderlike en bemoedigende boek is en sentraal in al hierdie visioene wat neergepen is, is die Evangelie van Jesus Christus.

2.    AGTERGROND:
       Ons vind hierdie boek, baie mooi verpak tussen die grootse Ou Testamentiese profesieë van Jesaja, Jeremia en Esegiël aan die eenkant en die twaalf kleinprofete aan die anderkant. Daniël was ongetwyfeld ook ’n profeet van God, daarom dat Jesus in Matt.24:15 van hom sê ~ WANNEER julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet (OAV). Laat ons daarom ook oplet na wat die Here vir ons deur Daniël wil sê.

       Die inhoud van hierdie boek speel homself af teen die agtergrond van een van die belangrikste tydperke van die Israelitiese geskiedenis, nl. die Ballingskap van die volk Israel.

       Na die dood van Salomo het sy koninkryk in twee verdeel, met die noordelike stamme wat as Israel bekend gestaan het en wat Samaria as hoofstad gehad het en die suidelike stamme wat bekend gestaan het as Juda met Jerusalem as hoofstad. ’n Spoedige ongehoorsaamheid en verwerping van die Wet van Moses het hierop gevolg, waarop God toegelaat het dat die Assiriërs met hul bekende hoofstad Nineve, in 721 v.C. Israel (die noordelike stamme) binneval en baie van die Israeliete in ballingskap weggevoer het na Assirië. Die suidelike-stammeryk het hierdie binneval egter aanvanklik ontsnap.

       Babilonië val Assirië in 612 v.C. binne (die profeet Nahum het o.a. hieroor geskryf in sy profesie) en word Nebukadneser die heerser. Terselfdertyd verpletter die Babiloniërs, Egipte en word Jojakim, die koning van Juda en die hele suidelike-stammeryk, ook onderwerp aan Nebukadneser se heerskappy (Dan.1:1; 2 Kon.24:1). Ook van hier word verskeie Judeërs weggevoer na Babel, waaronder ’n man met die naam van Daniël en van sy vriende. Die geestelike verval en die ballingskap in die tyd van Daniël word baie mooi uitgebeeld in Ps.137 (die lirieke van die popliedjie "By the rivers of Babylon" is natuurlik ook gebaseer op hierdie stuk geskiedenis).

       Die boek van Daniël kan in twee gedeeltes verdeel word:
·           Hoofstukke 1 tot 6 is biografies van aard en handel hoofsaaklik oor Daniël se getuienis in die koninklike paleis van Babilon.
·           Hoofstukke 7 tot 12 handel oor Daniël se visioene van God se doel met die toekoms.

·           Hoofstukke 2 en 7 handel oor die vier wêreld moondhede van daardie tyd.
·           Hoofstukke 3 en 6 is vertellings wat handel oor magtige  verlossings.
·           Hoofstukke 4 en 5 beskryf God se oordeel oor wêreldheersers (sien u die interessante samestelling hier?).

·           Hoofstuk 1 skep vir ons die toneel in Babilon ten einde ons in te stel op dit wat gaan volg.
·           Hoofstukke 8 tot 12 verskaf aan ons insig in die wêreldgeskiedenis, maar wel deur die "bril" van God se volk.

       Net nog ’n heel laaste gedagte voor ons in detail gaan begin kyk na die boek self. Soos wat ek nou die aand in ons Midweekbyeenkoms genoem het en soos wat ons ook al in Openbaring gesien het, volg die Bybel nie altyd ’n chronologiese volgorde nie – bv. jaar een word nie noodwendig opgevolg deur jaar twee en daarna jaar drie, ens. nie. Ons gaan hier te doen kry met bepaalde perspektiewe en feite wat oor en oor herhaal gaan word, maar elke keer vanuit ’n ander hoek – hierdie is dus nie ’n tipiese Westerse manier van dink nie en dit is belangrik dat ons hierdie feit deurgaans in gedagte sal hou soos ons deur Daniël werk.

3.    SKRIFLESING:
       Daniël 1:1-2 ~ In die derde regeringsjaar van koning Jojakim van Juda het koning Nebukadnesar van Babel teen Jerusalem opgetrek en dit beleër. 2Die Here het vir koning Jojakim oorgegee in Nebukadnesar se mag, en ook n gedeelte van die tempelgereedskap, en hy het dit na Sinar, na die tempel van sy god toe gevat, en daar het hy dit in die voorraadkamer van die tempel van sy god gebêre.

4.    DIE MENS WIK, MAAR GOD BESKIK:
       In hierdie eerste twee verse van Daniël sien ons die realisering van die ou Afrikaanse spreukwoord, "die mens wik, maar God beskik". Die mens is aktief in die geskiedenis van hierdie wêreld en doen allerlei dinge – v.1 ~ ...koning Nebukadnesar van Babel (het) teen Jerusalem opgetrek en dit beleër. Tog is God terselfdertyd aktief besig met dieselfde geskiedenis – v.2:  ... Die Here het vir koning Jojakim oorgegee in Nebukadnesar se mag. Hierdie werklikheid is nou verweef, regdeur die boek van Daniël, trouens ons sien hierdie feit regdeur die Woord van God – die mens is besig, maar God ook.

       Dit het dus vir die Israeliete voorgekom, asof húlle God – die God van Israel veel swakker was as die gode van Babilon, want hulle "heilige stad" was verwoes en daarmee saam die sentrum van hulle geloof – die Tempel en al die Tempelgereedskap – die Tempelgereedskap wat later in hoofstuk 5 deur Nebukadneser ontheilig sou word. Ons sien dus hier die eerste vernietiging van die Tempel in Jerusalem en dit moes vernietigend vir die Jode gewees het, want die Tempel het sentraal gestaan in hulle ganse lewe en dit is juis hier waar hulle geestelike probleem gelê het – hulle het hulle hoop; hulle troos; hulle vergifnis; ja selfs hulle redding, gesoek in die Tempel en die rituele wat daarmee gepaard gegaan het en nou het Nebukadneser alles verwoes en weggevoer – skielik is die God van Israel vir hulle veel swakker as die gode van Babilon.

       Vir hulle het die bose oënskynlik die God van hulle vaders oorwin, maar ons weet en ’n klompie van die karakters wat ons hier in Daniël gaan ontmoet weet, dat God soewerein is en ook Nebukadneser sou dit op die harde manier in hoofstuk 4 uitvind – hy is uiteindelik uit sy koningskap onthef en uit die samelewing uitgestoot en het saam met die wilde diere geleef en gras geëet soos hulle. Dit is wat gebeur wanneer mense die heerlikheid en eer wat vir God bedoel is, vir hulleself toe-eien – hulle word soos diere en eintlik nog erger as diere.

       Nebukadneser kon die tempelgereedskap heeltemal verwoes het, maar hy neem dit saam met hom en hy bêre dit ...in die voorraadkamer van die tempel van sy god. Waarom sou hy dit gedoen het? Eerstens omdat hy waarskynlik daardeur ’n dankoffer aan een van sy gode by name Marduk bring, vir sy militêre oorwinning, maar ten diepste weet ons dat die bewaring van hierdie tempelgereedskap eintlik was, omdat God in beheer is – ook in beheer van die goddelose Nebukadneser – ons sal hierdie feit ook kort-kort in die eerste vier hoofstukke sien, nl. dat God in beheer van hierdie man, Nebukadneser se lewe was en daarom kon Nebukadneser nie maar net doen wat hy wou nie en onthou, God is stil-stil en op die agtergrond besig om Sy groot plan uit te werk, ten spyte van wat die wêreld besig is om op die voorgrond te doen – God weet dat Hy die Tempel gaan herstel en dat hierdie gewyde instrumente weer in die Tempel gebruik gaan word en daarom bewaar Hy dit. Ons sien dit reeds in Esra 1:7 ~ Koning Kores het ook die goed laat haal wat in die huis van die Here was en wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggevat en in die tempel van sy god gesit het. 8Koning Kores van Persië het dit aan Mitredat, die sekretaris van die tesourie, laat oorhandig, en dié het n lys daarvan gemaak vir Sesbassar, hoof van die stam Juda. 9Die volgende stukke was op die lys (luister net hierna!): 30 goue bakke, 1 000 silwerbakke, entoe dit weer getel is—nog 29 by, 1030 goue komme, 410 silwerkomme na hertelling, en n 1 000 ander stukke. 11Daar was altesame 5 400 stukke goud en silwer. Sesbassar het alles saamgevat toe hy die ballinge van Babel af na Jerusalem toe gebring het. God is inderdaad in beheer en Hy laat nie toe dat Nebukadneser hierdie skat verwoes nie, want die Ou Verbond is nog in plek en hierdie is geheiligde gereedskap wat in opdrag van God (reeds so ver terug as Eks.35-38) gemaak en in die Tempel gebruik is tot verheerliking van God.

       Daar hét egter ’n oomblik aangebreek wat hierdie gereedskap, tesame met die Tempel vir goed vernietig is en dit was in 70 n.C. toe Jerusalem verwoes is deur die Romeine o.l.v. generaal Vespasius en die einde van die Ou Verbond daarmee saam plaasgevind het en die Nuwe Verbond waarvan ons nou deel uitmaak, finaal gevestig is. Vir nou lyk alles egter verlore vir die Judeërs en twyfel  ontstaan in hul gemoedere!

       Daar was egter ’n groepie manne in die verre Babilon wat vasgehou het aan God en God gevrees het en al die eer wat God toegekom het aan Hom gebring het. Hulle het ten spyte van die feit dat hulle vreemdelinge in ’n vreemde en vyandige land was, vasgehou aan die Beloftes van God en ’n radikale en dramaties impak op die heidense mense van hierdie vyandige land gehad. Hulle het nie hulle verhouding met die lewende en soewereine God versaak nie. Hulle het nie geknak onder hulle onhoudbare omstandighede nie. Hulle het nie ineen gekrimp onder die aanslae van die bose nie. Hulle het nie uit vrees vir die toekoms, moed opgegee nie. Nee, hulle het God met oorgawe en in geloof gedien – ongeag hulle omstandighede.... ....want God het ’n doel met hulle gehad – ’n doel waarvan hulle hoogs waarskynlik op daardie stadium nie eens van bewus was nie. Daniël en sy vriende het onwrikbaar vasgehou aan God se beloftes aan hulle voorvader Abraham en wat telkens daarna aan die volk herhaal is, nl. dat die Tweede Dawid, gebore sou word – Hy wat die Messias van Sy volk sou wees; die Redder van die mensdom en God sou nie toelaat dat hierdie heilige lyn van Dawid waaruit die Messias gebore sou word, vernietig word nie en daarvoor sou Hy Daniël en sy vriende gebruik.

       Nebukadneser het in die oë van die volk van God, hierdie heilige lyn vernietig – die mens wik, maar God beskik, want God was steeds, stil-stil en aktief besig in die dieselfde geskiedkundige tafereel, om Sy plan ten uitvoer te bring – net soos wat Hy vandag steeds te midde van al die hedendaagse "Nebukadnesers" en "Babilons", besig is om Sy einddoel te bewerkstellig en dit sal Sy hoogtepunt bereik wanneer die Here Jesus in die woorde van Openb.22:13-17, weer terug kom ~ Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. 14“Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. 15Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen. 16“Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.” 17Die Gees en die bruid sê: “Kom!” En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!

5.    TOEPASSING:
       Wat moet ons nou maak van al hierdie inligting uit hierdie eerste twee verse van Daniël?

       Ons sien in v.1 dat koning Jojakim van Juda oorgegee is aan koning Nebukadneser van Babel. Ons moet onthou dat God se volk in ’n verbond met Hom gestaan het en ons het al male sonder tal in die verlede gesien, dat ’n verbond twee kante het – aan die eenkant, seën wat volg op gehoorsaamheid aan die voorwaardes en aan die anderkant, straf en vervloeking op die nalating van die verbondsvoorwaardes. So sien ons bv. dat Lev.26:19-25 o.a. waarsku dat hulle in geval van ongehoorsaamheid, o.a. hulle oeste sal verloor en dat hulle prooi vir wilde diere en hul vyande sal word en dit is dan presies wat in die jare rondom 600 v.C. met die Verbondsvolk gebeur het – Nebukadneser beleër Jerusalem en baie mense word weggevoer.

       Ons staan ook in ’n verbond met God en daarom moet ons besef dat daar ook gevolge is wanneer ons volhard in sonde, maar net soos wat Daniël en sy vriende bemoedig was ten spyte van hul ballingskap en swaarkry, het hulle geweet en vas geglo, dat hulle toekoms nie beheer sou word deur die afgode van Babilon nie, maar deur hul getroue en regverdige en genadige Vader – net so kan ons ook rus in die wete dat ons regverdige en genadige en getroue Hemelse Vader, ons genadig sal wees en ons sonde sál vergewe indien ons dit in opregtheid voor Hom bely en ons daarvan bekeer ~ Maar as ons ons sondes belyHy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh.1:9).
      
       Ongeag ons huidige omstandighede; ongeag misdaad en die ekonomie wat sleg lyk en diskriminasie en bandeloosheid en verwêreldliking, weet ons dat ons almagtige God in beheer is en dat ons Sy kinders is en daaraan moet ons vashou.
      
       Die vyfde element van die Gereformeerde Genadeleer, of te wel die "P" van die bekende akroniem "TULIP" wat staan vir "perserverance of the saints" (die volharding van die gelowiges) staan vir ons sentraal ook in hierdie verband - ons weet, dat al is ons in hierdie vyandige wêreld en al word ons geteister deur die "Nebukadnesers" van ons dag, sal ons nooit uit God se hand val nie ~ En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word (1 Pet.1:5).

       Wat was die implikasie van hierdie waarheid t.o.v. God se uitverkiesende genade vir die Judeërs wat in ballingskap weggevoer is en meer spesifiek vir Daniël en wat is die implikasie van hierdie wonderlike Skrifwaarheid vir ons terwyl ons in hierdie tydelike Babel moet voortswoeg? Petrus is baie duidelik daaroor in 1:5, dat ons veilig bewaar, of vasgehou sal word, net soos wat ons vorentoe sal sien hoe Daniël en sy vriende vasgehou was.
      
       Natuurlik het hulle volharding en daarom ook ons volharding, niks te doen met ons eie prestasies en inspanning en getrouheid nie, want ons word deur die krag van God en deur Sy krag alleen bewaar. Dit is waarom die Here Jesus die versekering kon gee dat niks Sy skape uit Sy hand of Sy Vader se hand kan ruk nie ~  Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een (Joh.10:28-30).

       Daniël, sal ons later sien, het voortdurend, vasgestaan in die geloof – hy het nie ’n aks gewyk van sy geloof nie en dit is ook hierdie geloof wat ons nodig het om vas te staan en in die geloof te bly tot die einde toe, want dit is geloof wat die kanaal vorm waardeur God se instandhoudingsgenade in en deur ons vloei. Volharding in die geloof en ons geloof, staan dus in direkte verband met mekaar. Tot die mate wat geloof in ’n mens "opdroog", tot daardie mate stol volharding; en as daar nie meer geloof is nie, versaak die persoon sy "wedloop."

       Waarvoor is Daniël en sy medegloofsgenote vasgehou – waarvoor word ons vasgehou? Om veilig bewaar (te word) vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Die woord "bewaar" in die Grieks is φρουρέω (phroureō) en beteken letterlik om sorgvuldig op te pas en te beskerm. Ons as gelowiges is net soos Daniël en sy vriende, vir tyd en ewigheid aan Jesus Christus toevertrou en aan hierdie verantwoordelikheid – aan hierdie rentmeesterskap, sal Hy volmaak en onfeilbaar getrou bly. En Hy kán, omdat Hy nie net mens is nie, maar ook volkome God!

       Ons "veilige bewaring" sal dus in hierdie lewe nie beëindig word nie en ook nie in die ewigheid in nie! Is dit nie genoeg rede om God te eer en te loof en voor Sy aangesig in aanbidding neer te val nie?

Hiermee saam moet ons weet, dat dit ook baie duidelik uit ons teksvers voortspruit, dat God, ongeag wie, wat ook al doen, Hy altyd Sy doel bereik ~ Die Here het vir koning Jojakim oorgegee in Nebukadnesar se mag, en ook n gedeelte van die tempelgereedskap, en hy het dit na Sinar, na die tempel van sy god toe gevat, en daar het hy dit in die voorraadkamer van die tempel van sy god gebêre (v.2). God het nie toegelaat dat die geheiligde tempelgereedskap vernietig word nie en net so sou hy Daniël in o.a. die leeukuil bewaar en net so sal Hy ons teen die bose beskerm en nie toelaat dat die bose ’n permanente houvas op ons kry nie – die satan sal ons nóóit in der ewigheid enige permanente leed kan aandoen nie.

       Ons is almal in hierdie wêreld "in-gebore", maar die van u wat nog vasgevang is in hierdie wêreld, kan hierdie wêreld ontsnap en oorgaan na die ewige stad van God, deur weer gebore te word ~ Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, n vreemdeling in n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is (Hebr.11:9-10). Deur geloof in Jesus Christus kan ons burgers van die ewige stad van God word en dié van ons wat reeds burgers van daardie stad is, sal nooit, maar nooit in der ewigheid daardie burgerskap verloor nie!


[1] Boodskap deur Kobus van der Walt – Vaaldriehoek Gereformeerde Baptistegemeente (Drie Riviere) – Sondag 02 Junie 2013