Sunday, May 13, 2012

Die Doring in My Vlees - 02 (My Verlede – My Goeie Vriend)


1.    INLEIDING:
Ons het verlede Sondag gekyk na vier voorbeelde uit die Skrif van mense wat op verskillende wyses, terug verwys het na hul verlede en dat ons ook die vrymoedigheid kan neem om ons harte oop te maak teenoor die Here oor ons verlede – ons mag ook vrae vra aan die Here; ons mag ook ons lot teenoor Hom bekla.

Ons verlede kan baie maklik ons grootste vyand in hierdie lewe wees – ’n vyand wat ons lewensloop verander; wat ons persoonlikheid baie keer radikaal beïnvloed en selfs rig; wat sonde in ons lewe laat wortel skiet; wat ons bitter kan maak. Ons het egter ook gesien dat ons verlede nie noodwendig ons grootste vyand in hierdie lewe hoef te wees nie.

Die vier persone na wie ons gekyk het, was Paulus wat met ’n doring in sy vlees geswoeg het, maar daardie doring het hom nie gepootjie nie, trouens daardie doring het hom juis nader aan die Here laat lewe. Paulus was waarskynlik nie self die oorsaak van die doring in sy vlees nie – hy was dus onskuldig, maar hy het ook nie a.g.v. daarvan gesondig nie – sy reaksie was welgevallig voor God.  

Dan was daar Naomi wat nie regtig self verantwoordelik was haar omstandighede, nie, maar sy het dit heeltemal verkeerd hanteer deurdat sy bitter teenoor die Here geraak het daaroor.

Derdens het ons gekyk na Saggeus wat verantwoordelik was vir sy eie sondige optrede, deurdat hy o.a. geld wat vir andere bedoel was, vir homself gehou het, maar Saggeus het korrek opgetree, deurdat hy die helfte van sy goed vir die armes gegee het, en waar hy iets van iemand afgepers het, het hy dit vierdubbel terug gegee (Luk.19:8).

Laastens het ons gekyk na Jona wat ook self verantwoordelik was vir sy situasie, deurdat hy gesondig het,  maar hy het dit nie reggestel nie. Nee, hy het voortgegaan en net nog verder gesondig.

Laastens het ons gekyk na hoe ons verlede, ons grootste vyand kan wees en ons het na ses verskillende fasette van die verlede gekyk wat ons kan kniehalter in ons lewe vandag en in die toekoms – hulle was:
·           Onbeantwoorde Vrae uit my verlede.
·           Onafgehandelde Pyn uit my verlede.
·           Onopgeloste Probleme uit my verlede.
·           Onwyse Keuses uit my verlede.
·           Onbelyde Sondes uit my verlede.
·           Lesse nog nie Geleer uit my verlede nie.

       Wanneer ons, ons verlede in oënskou neem en spesifiek aan die hand van bg. lys, dan is dit baie maklik om te vra of dit nie makliker en baie beter sou gewees het, as ons net in staat kon wees om ons verlede net geheel en al uit te wis uit ons gedagtes nie? Die probleem is egter dat dit nie so eenvoudig is nie – ons kan nie maar net die verlede begrawe, asof dit nooit bestaan het nie, trouens dit hét gebeur en daarom is dit deel van ons lewe, máár die Woord van God verskaf aan ons verskeie maniere waarop ons verlede, ’n "goeie vriend" van ons kan word. Die sleutel hier is egter in kort, dat ons nie op die verlede sal fokus nie, maar dat ons op God sal fokus en op wat Hy vir ons gedoen het. Anders gestel, ons moet vir onsself afvra of ons gaan toelaat dat ons slawe van ons verlede gaan wees, of gaan ons toesien dat ons verlede ons dienskneg gaan word en ons dit op só ’n wyse sal doen, dat ons dié mens sal wees wat God wil hê ons moet wees.

2.    SKRIFLESING:           
       1Sam.17:1-33 ~ Ek gaan nie vanoggend hierdie hele gedeelte lees nie, maar wel net na enkele verse in hierdie gedeelte verwys.

       Julle is waarskynlik almal goed bekend met die verhaal van Dawid en Goliat. In hierdie geskiedkundige gebeurtenis in die lewe van Israel, het God se volk te staan gekom voor hulle aartsvyande, nl. die Filistyne. Elke oggend en aand het ’n reuse soldaat, genaamd Goliat van die Filistyne gekom en die Israeliete gespot, deur hulle uit te daag om enige soldaat te stuur om teen hom persoonlik te kom veg en dan sê hy in v.9 ~ As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees en vir ons werk. Vers 11 vertel egter vir ons dat die Israeliete geskrik het en baie bang geword het. Is hierdie situasie nie presies dieselfde as wat so dikwels met ons ook maar gebeur nie? Ons kom baie dikwels voor situasies te staan wat net eenvoudig ’n "Goliat" vir ons is – dit lyk vir ons onhanteerbaar en ons skrik en raak ook bang daarvoor, of daar is situasies wat in ons verlede gebeur het (pyn, sonde, verkeerde keuses, ens.) wat vandag nog vir ons ’n Goliat is.

       Die situasie in die Israelse kamp verander egter skielik toe ’n jong seun met die naam van Dawid op die toneel verskyn. Dawid se pa stuur hom na sy broers (vv.17-19) met kos en in v.23 sien ons dat Dawid, met God se perfekte voorsienigheid, presies op die tyd dat Goliat weer ’n uitdaging rig tot die Israeliete, by sy broers aankom en hy hoor hierdie gekoggel van die reus. Ons sien in v.24 dat die manskappe weer bang geword het en gevlug het, waarop Dawid vir hulle in v.26 vra ~ Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer? Die soldate sê toe vir Dawid, wat een van die manskappe net vantevore gesê het (v.25), nl. dat die koning die man wat die reus doodmaak, baie ryk sal maak en dat hy op die koop toe nog met die koning se dogter ook kan trou!

       Dawid se oudste broer, Eliab was waarskynlik verleë dat sy klein broertjie so "rammetjie uitnek" optree en hy trap Dawid uit deur vir hom te sê ~ Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk? (v.28), waarop Dawid vir hom in vv.29-30 sê ~ “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie ’n belangrike saak nie?” 30Dawid het van hom af weggedraai na ’n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste. Selfs koning Saul het in vv.33-36 vir Dawid gesê ~ Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk en hy ’n vegter van kindsbeen af.” Dink vir julleself in hoe Dawid op hierdie stadium kon gevoel het. Hy hoor wat die reus sê en almal rondom hom sidder en beef vir die reus; sy broer verneder hom en jaag hom terug huis toe en selfs die koning sê vir hom dat hy te jonk is, maar Dawid laat hom nie van stryk bring nie en hy antwoord koning Saul soos volg (vv.34-37) ~ As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom ’n leeu of ’n beer en dra ’n lam weg uit die kudde, 35gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. 36Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.” 37Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.

3.    DAWID EN JOB:
       Dawid het doelbewus en met ’n bepaalde doel voor oë, God se seën uit die verlede, opgehaal. Dawid het krag en moed geput uit sy herinneringe van vroeëre oorwinnings wat God aan hom geskenk het. Dawid het dus geleer om in die regte verhouding met sy verlede te staan! Hoe het Dawid dit reg gekry? Wanneer ’n mens sy Psalms lees dan besef jy dat deel van die geheim is, om gereeld terug te dink aan God se seën in jou lewe, veral in situasies wat traumaties of skadelik was – hy het derhalwe eerder na die positiewe in daardie situasies gesoek en daarop gefokus, eerder as op die negatiewe. Vir Dawid was sy verlede, sy goeie vriend.

       ’n Ander Bybelfiguur wat voordeel geput het uit sy verlede, was Job. Job wat op ’n stadium ’n baie ryk man was en geseën was met sewe seuns en drie dogters en 11 000 stuks vee, kleinvee en kamele en baie slawe – hy verloor op ’n stadium alles, insluitende al sy kinders; hy word getref met pynlike swere; sy vriende ontmoedig hom – en tog; tog staan Job se geloof vas en stewig – geloof wat God aan hom geskenk het – hoor wat sê Job in Job1:21-22 ~ Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here... en dan v.22 ~ ...Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie.  

       Net soos die geval met Dawid, het ook Job op God se seën in die verlede gefokus, daarom dat hy in 2:10 vir sy vrou sê ~ Jy praat nou soos ’n vroumens sonder verstand (sy het hom aangemoedig om God te vervloek en te sterf, sodat sy swaarkry iets van die verlede kan wees). As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie? En dan lees ons hierdie laaste woorde in v.10 ~ ...Onder alles het Job met geen woord gesondig nie.

       Deur na die verlede te kyk, het dit Job gehelp om sy huidige omstandighede vierkant in die gesig te staar en sy kop omhoog te hou. Trouens, hy was nog in staat om ook sy vrou met bemoediging te bedien en te seën toe sy, sy geestelike leierskap en krag en liefde, nodig gehad het.

       Beide Dawid en Job het ’n gedissiplineerde gewoonte ontwikkel om gereeld erkenning te gee aan God vir Sy seën en goedheid en hulle het dit by die naam genoem en sodoende ’n reservoir van herinneringe en lesse, opgebou waaruit hulle gereeld kon put. Dit is waarom Paulus ook in Fil.4:4 sê ~ Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! (O.A.V.) en dan gaan hy voort in v.6b en hy sê dat ons op hierdie wyse kán leef (in blydskap), indien ons al ons ...begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend maak. Danksegging waarvoor? Danksegging vir God se seën en goedheid in die verlede.

4.    VERGIFNIS:
       Die wyse waarop ons, ons verlede hanteer, sal ook ’n direkte effek hê op die wyse waarop ons vergewe. Behalwe dat ons verplig is om ander gelowiges wat teen ons sondig, te vergewe, het Jesus dit in Matt.18 vir ons baie mooi en duidelik gestel hoe ons dit moet hanteer wanneer ’n medegelowige sondig en die doel daarmee is om die ander persoon wat gesondig het te restoureer en die verhouding tussen jou en hom reg te stel.
      
       Ons gewilligheid om medegelowiges te vergewe hang ook af van hoe ons die verlede hanteer en in hierdie geval hoe ons God se vergifnis in en deur Jesus Christus se kruisdood, in herinnering roep en wat ons daarmee maak. Moontlik was dit een van die redes waarom Jesus Sy volgelinge aangemoedig het om die Nagmaal gereeld te vier, want elke keer dat ons bymekaar is om die Nagmaal te vier, word ons herinner aan dít wat Jesus vir ons gedoen het en dit lei weer na ’n behoorlike waardering en herinnering en viering van die opstanding van Christus ten einde ons kindskap vas te maak. Die onbeskryflike liefde van die Vader en die betekenis en implikasie van Jesus se kruisdood en opstanding vervaag egter wanneer ons dit nie gereeld in herinnering roep nie.

       Wanneer ons gereeld terug dink aan wat Jesus vir ons gedoen het, vervaag die pyn en selfverwyte van die verlede en verkry ons nuwe vrymakende perspektiewe op ons sonde uit die verlede. As ons nie gereeld aan Jesus se soenoffer dink nie en dit gedenk nie, is ons geneig om meer en meer oor ons foute en ons sonde van die verlede te dink en dit is dan dat ons begin "wakker lê in die nag."

       Wat ons egter in gedagte moet hou, is die feit dat ons nie sonder God enige vordering kan maak ten einde ons verlede "op sy plek te sit nie" – die Hebreërskrywer bevestig hierdie feit wanneer hy in Hebr.11:6 sê ~ As ’n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

       Rom.3:23 is baie duidelik daaroor dat alle mense in sonde ontvang en gebore word ~ Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie. Jesaja sê ~ Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie (Jes.59:2 – sien ook Rom.6:23; 1 Tim.2:5).

       Die goeie nuus is egter dat God gekies het om Sy uitverkore kinders lief te hê, ten spyte van ons sondige toestand; ten spyte van die feit dat daar (soos Jesaja sê) skeiding tussen ons en God gekom het en om dit te demonstreer, het God Sy Seun gestuur om in ons te plek te sterf (Joh.3:16; Ef.5:8; 2 Kor.5:21). God het die prys ten volle aanvaar, wat Jesus namens ons betaal het en om dit te bewys, het die Vader, Jesus uit die dood opgewek (1 Kor.15:3-4). Dit beteken dat enige persoon, ongeag sy verlede; ongeag sy sonde van die verlede; ongeag sy verkeerde keuses in die verlede; ens., ’n kind van God kan word, deur sy sonde te bely en hom te bekeer en Sy vertroue in Jesus Christus as Redder en Here te plaas (Rom.10:9-10, 13). Dit beteken egter ook dat enige kind van God verlos kan raak van sy verlede, op grond van Jesus se soendood.

       ’n Deel van die wonder van redding en wedergeboorte, is dat ons sekerheid van geloof kan hê – ons kan verseker weet dat ons gered en vergewe is – en hoe kan ons dit weet?  Johannes skryf in 1 Joh.5:13 ~ Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

       ’n Ander voordeel daarvan om Christus te ken, is die feit dat ons die Heilige Gees ontvang het – Hy wat in die hart van elke gelowige woon (1 Kor.6:19-20). Die Heilige Gees is gereed om elkeen van ons te leer en te lei en ons lewe te beheer en Sy vrug in ons lewe te laat groei.
      
       Daar is dus niks van my verlede wat ek nie kan oorkom nie; daar is geen sonde of enige gebeurtenis wat nie "op sy plek gesit kan word" en wat nie finaal afgesluit kan word nie – alles in my verlede wat my daarvan weerhou om in oorwinning te leef kán dus uitgesorteer en opgelos word!

       Ons het nie "self-help boeke" of kursusse nodig om dit te doen nie – ons het ’n Redder nodig. Ons het nie allerlei truuks en foefies nodig nie – ons het dood en opstanding en die lewensveranderende waarheid van die Evangelie nodig – en ons het dit nie net aan die begin van ons geestelike lewe, of te wel eenkeer nodig nie; ons het dit elke dag en elke oomblik van elke dag nodig.

       Om in Christus Jesus te wees, impliseer dat ons tot ’n simpatieke Hoë Priester kan nader – hoor wat sê Hebr.4:15 ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Ons kan dus soos v.16 sê ~ ...met vrymoedigheid na die genadetroon (gaan), sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. Namate Jesus Christus ’n groter realiteit in jou lewe raak, dermate sal jou verlede al minder en minder intimiderend wees, m.a.w. niks uit ons verlede hoef dus meer gevrees, of geïgnoreer; of verskoon te word nie, want as jy ín Christus is, is die verlede iets van die verlede.

5.    DIE EERSTE STAP:
       Jy sê egter vir my dat dit nie so eenvoudig is nie. Ja, ek hoor en dit is gedeeltelik waar, maar wat belangrik is voor ons prakties na ’n Bybelse oplossing vir jou probleem gaan kyk, is dat ons aan hierdie waarhede wat ek vanoggend met jou gedeel het, sal vashou; dat jy solank met ons Hoë Priester sal praat hieroor en dat jy jou vertroue in die Here God sal plaas om jou verlede "op sy plek te sit – om jou doring in jou vlees te verwyder.

       Dit is nou hier waar ons prakties gaan raak. Kom ons kyk na die eerste stap wat ons kan volg om hierdie saak te hanteer en een van die eerste stappe is om die verskillende gebeurtenisse of sonde wat "my nie wil laat los nie", Bybels te kategoriseer. Ten einde dit te doen, moet jy jouself twee baie belangrike vrae vra t.o.v. hierdie gebeurtenisse:
1.    Was dit (en doen dit met elkeen van die gebeurtenisse/sonde uit jou verlede wat jy wil hanteer) ’n gebeurtenis waar iemand direk teen jou gesondig het (bv. jy is deur iemand verkrag; of iemand het jou in die rug gesteek, ens.), m.a.w. was jy onskuldig?
2.    Was dit ’n situasie waar jy gesondig het (jy het bv. iemand in die rug gesteek, of jy het van iemand gesteel), m.a.w. jy is die skuldige party voor God?

       Kom ons noem die eerste geval, jou "onskuldige verlede" – jy was dus nie die inisieerder van jou "doring" nie. Ons noem die tweede geval, jou "skuldige verlede". Wat jy dus moet doen, is om al daardie gebeurtenisse uit die verlede, biddend en met absolute eerlikheid in die regte kolom neer te skryf.

       Voor jy egter begin skryf, moet jy ook biddend en o.l.v. die Gees duidelikheid daaroor kry, hoe jy hierdie situasies hanteer het, of steeds hanteer – m.a.w., hoe het jy gereageer? Wat jou "onskuldige verlede betref, moet jy vir jouself die vraag afvra, of jy reg opgetree het? Het jy op ’n Godwelgevallige wyse opgetree (soos Paulus bv.)? Of het jy verkeerd op daardie "onskuldige" gebeurtenis gereageer? Het jy m.a.w. op ’n God-onterende wyse opgetree (soos Naomi bv.)?

       Jy moet nou dieselfde doen t.o.v. jou "skuldige" verlede. Skryf die dinge neer wat jy verkeerd gedoen het – daardie dinge waaroor jy skuldig voor God staan, maar onderverdeeldit ook. Skryf in kolom 3 daardie dinge neer waar jy gesondig het, maar wat jy reggestel het, of wat jy reg hanteer het (soos Saggeus bv.). Skryf daardie verkeerde dinge in kolom 4, neer waaroor jy skuldig staan voor God én wat jy, óf verkeerd hanteer het, óf nog glad nie hanteer het nie (soos Jona bv.). Jou kolomme gaan dus as volg daaruit sien:

Reg
Onskuldig
Skuldig
Jou  Reaksie….

Œ       


(Jou reaksie was welgevallig voor God)
Ž     


(Jy sondig, maar jy het dit reg hanteer)

Verkeerd
     

(Jy het jou omstandighede nie oor jourself gebring nie, maar jy het nogtans verkeerd reageer )
        


(Jy sondig, maar jy hanteer dit  ook swak – en selfs met bykomende sonde)

6.    AFSLUITING:
       Dit is weliswaar so dat die Bybel nie vir ons die hantering van ons verlede op hierdie wyse leer nie, of hierdie vier kategorieë so rigied en absoluut uitstippel, soos wat hier gedoen is nie, maar hierdie tabel sal ons help om dít wat met my in die verlede gebeur het, of daardie dinge wat ek verkeerd gedoen het, neer te pen en daarop te reageer.

       As ons erns maak met ons geestelike wandel en ons verhouding met Jesus Christus, sal ons hierdie week biddend en met die nodige erns, aandag skenk aan hierdie tabel, trouens ek wil julle ernstig aanmoedig om dit te gaan doen, indien jy nog nie heeltemal vry is van jou verlede nie.

       As die Here wil, sal ons volgende Sondag dan verder na hierdie saak kyk en sal ons kyk hoe dat die Woord van God, ons kan help om vry te kom van ons verlede.
      
7.    SEËNGROET:
Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God (Ef.3:18-19).


[1] Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondagoggend  29 April 2012

Sunday, May 6, 2012

Die Doring in My Vlees - 03 (My Verlede My Hoop)

1.    INLEIDING:
Ons het almal huiswerk gehad om te doen en ek vertrou van harte dat julle elkeen die huiswerk biddend en ernstig benader het én dat julle dit gedoen het. Ek glo ook dat indien julle dit met die nodige erns benader het, julle (soos ek) sou besef dat daar van die "dorings" uit julle verlede, dalk meer kompleks is as wat julle gedink het. So het ek bv. besef dat ek ’n bepaalde "doring" uit my verlede het, wat maar nog steeds my aandag van tyd tot tyd vra en wat meer is, ek kon dit in elkeen van die vier blokke skryf, want daar was fasette van die situasie waar ek onskuldig was en wat ek reg hanteer het, maar terselfdertyd was daar fasette in die gebeurtenis waar ek onskuldig was, maar wat ek nie reg hanteer het nie, trouens waar ek selfs gesondig het. Daar het dit egter nie geëindig nie, want ek het ook besef dat daar fasette was waar ek die skuldige party was – waar bepaalde optredes van my ongevraagd en verkeerd was – ek was dus skuldig, maar het met die genade van die Here dit kon uitsorteer en vergifnis daarvoor vra en ontvang, maar helaas was daar ook situasies rondom hierdie een "groot doring" uit my verlede waar ek nie alleen skuldig was nie, maar waar ek dit ook nie reggestel het nie.



Onskuldig
Skuldig
Jou  Reaksie….
Reg
Œ       

(Jou reaksie was welgevallig voor God)
Ž     

(Jy sondig, maar jy het dit reg hanteer)

Verkeerd
     
(Jy het jou omstandighede nie oor jourself gebring nie, maar jy het nogtans verkeerd reageer )
        

(Jy sondig, maar jy hanteer dit  ook swak – en selfs met bykomende sonde)

       In die proses van selfondersoek het ek ook aan situasies gedink wat ek eintlik al van vergeet het, maar wat steeds ’n negatiewe invloed op my lewe uitoefen en wat ek nou skielik weer onthou het en ek eer die Here dat Hy dit vir my uitgewys het, sodat ek dit nou kan hanteer en dat dit reg gestel kan word.

       Ons sien dus dat sommige van ons "dorings" baie meer kompleks is as wat ons dalk aanvanklik besef het, maar genadiglik is die woorde van Ef.3:18-19, só waar, nl. dat dit vir ons bykans onmoontlik is om te besef hoe ~ ... wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek... en dat ons wel Christus se liefde kán ervaar ~ ... liefde wat ons verstand te bowe gaan... én dat ons vervul kán word met die volheid van God!

       Paulus skryf in Rom.15:13 hierdie pragtige woorde ~ Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! Is dit nie wonderlik om te weet dat God na Homself verwys as, die Bron van hoop nie? Dit is hierdie God van hoop wat jou en my wil en kan verlos van ons verlede – ons kán dus oor hoop op verlossing en bevryding beskik!

       Wat ons verlede betref, waar ons "nie die oorsaak" was vir ons omstandighede nie en waar ons welgevallig opgetree het in die oë van die Here, is daar verskeie Skrifgedeeltes wat as bemoediging en as raad dien en waaruit ons hulp kan put om verlos te kom van daardie situasies wat ons maar net nie alleen wil laat nie en waaraan ons gedurig terug dink en wat ons dalk nog steeds pla ook. Een so ’n Skrifgedeelte is Ps.73 en ’n ander is 2 Kor.1. Hierdie Skrifgedeeltes help ons om te hoor hoe werklike lyding klink en hoe dit werklik voel en daaruitsien.

2.    SKRIFLESING:
       Psalm 73:1-28 ~ ’n Psalm van Asaf. God is vir Israel baie goed, vir dié wat rein van hart is. 2Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, 3want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien. 4Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond, 5hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie
6Daarom hang die trots aan hulle soos ’n halssnoer en kleef geweld aan hulle soos ’n kleed. 7In die weelde van hulle voorspoed matig hulle hulle enigiets aan; 8smalend stook hulle kwaad, hooghartig dreig hulle met geweld. 9Hulle laster teen die hemel en beledig links en regs op die aarde. 10Tog hang die volk hulle aan en drink gretig hulle woorde in. 11Hulle vra: “Hoe sal God dit uitvind? Hoe sal die Allerhoogste dit weet?” 12Dit is hoe die goddelose mense is! So gaan hulle ongehinderd voor om rykdom op te hoop! 13Dat ek die kwaad vermy het en met ’n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, 14want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf. 15Maar as ek so sou aanhou praat, sou ek dié verloën wat aan U behoort. 16Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik 17totdat ek in die heiligdom van God Ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is. 18U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei. 19In ’n oogwink word hulle iets afgrysliks, gaan hulle te gronde, tref ’n verskriklike einde hulle. 20Net soos ’n droom wat ophou as ’n mens wakker word, so verdwyn hulle, Here, as U ingryp. 21Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, 22was ek dom en sonder insig; soos ’n redelose dier het ek my teenoor U gedra. 23Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand. 24U lei my met u raad en aan die einde sal U my in ere by U opneem. 25Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. 26Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd. 27Dié wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig dié wat aan U ontrou is. 28Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel.
      
3.    WEES OPENLIK EN EERLIK:
       ’n Vraag wat moontlik by jou kon opkom t.o.v. ons eerste blokkie, is waarom gebeurtenisse wat daar hoort, jou steeds pla. Daar is verskeie redes waarom dit die geval kan wees.
      


Onskuldig


Jou  Reaksie.
Reg
Œ    
(Jou reaksie was welgevallig voor God)








       Een van die hoofredes is dat ons in ons kultuur geleer
word dat ’n mens die verlede moet begrawe en dit moet  ignoreer en selfs ontken, wanneer ons daaraan herinner word. Veral ons ouer geslag is van kleinsaf geleer dat "manne nie huil nie".

       Nog ’n rede kan wees dat ons net eenvoudig nie kan glo dat die Here ons kan en wil verlos van ons verlede nie; of ons gee die Here net eenvoudig nie die kans om dit te doen nie – dit is amper asof ons maar eerder self daarmee wil stoei en dit self probeer oplos en in die proses word baie mense "smartvrate" en is dit asof hulle dit geniet om swaar te kry oor die swaar verlede!

       Ons as gelowiges moet egter weet en besef dat die Woord van God vir ons ’n dramaties teenoorgestelde benadering verskaf en ons moet maar net kyk na die lewe en optrede van baie van die Bybelfigure – mans en vrouens wat openlik en eerlik was oor wat met en in en rondom hulle gebeur het.

       Asaf, die skrywer van die Psalm wat ons saam gelees het, is uiters deursigtig en eerlik oor hoe moeilik en kompleks die lewe kan wees. Hy sê bv. in v.2 ~ Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor. In 2 Kor.1:4 praat Paulus op dieselfde wyse wanneer hy aan sy broers en susters skryf oor ...elke moeilikheid, of soos die O.A.V. dit uitdruk, ...al ons verdrukking en Paulus gaan in v.5 voort en hy praat van ons (gelowiges) se oorvloed van  lyding. In v.8 sê Paulus vir die gemeente in Korinte ~ Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.

       Hierdie benadering van beide Asaf en Paulus is só anders as waaraan ons gewoond geraak het oor die jare heen in ons bepaalde kultuur. Ek moet egter onmiddellik hiermee saam sê dat hierdie benadering nie impliseer dat ons nou maar onophoudelik moet en kan begin kla teenoor almal wat wil luister en selfs ook teenoor diegene wat nie wil hoor nie. Wat Asaf en Paulus vir ons hier demonstreer is dat ons in tye van swaarkry openlik en in eerlikheid ons swaarkry en selfs vertwyfeling en verwarring moet erken en uitspreek.

       Asaf maak geen geheim daarvan waarom hy amper gestruikel het nie. Hy erken dat hy die hooghartige goddeloses met afguns bejeën (het) toe (hy) hulle voorspoed sien (v.3). Asaf het egter nie net volhard in afguns en bitterheid nie – nee, hy het volgens v.16 ~ ...diep nagedink om dit te verstaan.  

       Paulus het die doring in sy vlees op dieselfde wyse hanteer toe hy in 2 Kor.12:8 gesê het ~ Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Paulus was ’n geharde man wat swaarkry kon hanteer – hy was bv. volgens 2 Kor.6:5 ~ ...geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely, maar hy was ook mans genoeg om te huil en tot God te roep as hy dinge wat in sy lewe gebeur het, nie verstaan het nie.

       Dawid is nog ’n voorbeeld van ’n man wat sy probleme en die vrae in sy gemoed openlik en eerlik in die gesig gestaar het ~ Hoor tog my hulpgeroep, o God, slaan tog ag op my gebed. 3Ver uit die vreemde uit, in wanhoop, roep ek na U. Bring my op ’n rots waar ek veilig sal wees. 4U is vir my ’n toevlug, ’n sterk vesting buite bereik van die vyand. 5Laat my by U ’n blywende tuiste vind. Laat my skuil onder u vleuels.     Sela 6U, o God, hoor my geloftes, U vervul die wens van hulle wat u Naam eer (Ps.61:1-4).

       As gelowiges word ons aangemoedig en selfs verplig om ons pyn uit die verlede na Christus Jesus te bring, want Hy is ons Hoë Priester wat kan en wil simpatiseer met ons swakhede en seerkry. Hebr.4:15 stel dit pragtig ~ Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Die Hebreërskrywer gaan voort in v.16 en sê ~ Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

       Ons kan slegs in en deur God volkome bevryding ontvang van ons sorge; ons probleme; ons worstelinge – waarom sal ons dan nie gebruik maak daarvan nie?

4.    "TREK JOU EERSTE DORING UIT":
       Vir Asaf het die deurbraak en bevryding in v.17 gekom, toe hy ~ ...in die heiligdom van God ingegaan... het. Ten einde vry te kom van ons verlede en dan spesifiek van daardie dinge wat met ons gebeur het en waaraan ons geen aandeel gehad het nie, moet ons ook ~ ... in die heiligdom van God ingaan.... Ons moet ons verlede Bybels hanteer – dit is die enigste wyse waarop ons vry kan kom van ons verlede en ons hoop kan vestig op die toekoms en dit is waarom Paulus in Rom.15:4 skryf ~ Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees en Dawid sê in Ps119:71 ~ Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer.

       Daar is ’n paar dinge wat ons in gedagte moet hou wanneer ons "in God se heiligdom ingaan", ten einde bevry te raak van ons verlede en ons toekomstige "dorings" te hanteer:
·           Erken en besef dat pyn en lyding, of te wel "dorings", onontkombaar (inescapable) deel is van die lewe. God se Woord is baie duidelik daaroor dat beproewing deel van hierdie lewe is. Petrus waarsku ons in 1 Pet.4:12-13, wanneer hy sê ~ Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. 13Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid.
·           Besef dat daar nie altyd ’n direkte verband tussen lyding en sonde is nie. Een ding wat gereeld by baie gelowiges opkom is dat wanneer hy deur beproewing gaan, dit as gevolg is van sonde in sy lewe. Dit is presies wat Job se eerste drie vriende veronderstel het, maar God antwoord hulle in Job 42:7 ~ Nadat Hy met Job gepraat het, het die Here vir Elifas die Temaniet gesê: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie. Dieselfde het gebeur toe sommige van Jesus se volgelinge vir Hom gevra het wie se sonde die oorsaak was van die man wat van geboorte af blind was – die blinde man of die ouers s’n, waarop Jesus in Joh.9:3 hulle antwoord ~ Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.

       Ja, dit is so dat sonde gevolge in ons lewe het en ons kan "met blindheid geslaan word" a.g.v. sonde (Spr.28:13; Gal.6:7; Hebr.12:7-11), maar dit wat met jou gebeur is nie noodwendig, of altyd die gevolg van sonde in jou lewe nie en as jy jou hart in alle eerlikheid en opregtheid voor die Here ondersoek het en jy kan geen verband sien met sonde nie, dan moet jy aanvaar dat jou "doring" nie is as gevolg van sonde nie (daarom dat ons hier na ons eerste kolom kyk).
·           God voorsien iets veel beter as blote regverdigheid. Ons hoor baie dikwels dat mense sê dat God onregverdig is – veral wanneer iets onaangenaams hulle tref; wanneer hulle gepla word met ’n "doring in die vlees". Tot ’n sekere mate is hulle natuurlik reg, want indien God regverdig was, sou ons dood gebore gewees het, omdat nie een van ons verdien om te lewe nie a.g.v. die erfsonde (Ps.51:5; Rom.5:12-21) – omdat, soos Rom.6:23a dit stel ~ Die loon wat die sonde gee, is die dood.... Ons moet dus elke keer dat ons dink dat God nie regverdig is nie, vir onsself sê: Ek is so bly en dankbaar dat God nie regtig regverdig is nie, want ek het ’n genadige; geduldige en liefdevolle God nodig om te kan lewe.

       Wat God egter in ruil vir regverdigheid aan ons bied, is Sy goedgunstige soewereiniteit. Hy belowe om elke liewe omstandigheid en gebeurtenis in jou lewe, te gebruik tot ons eie geestelike voordeel, ten einde ons na die beeld van Christus te vorm – Rom.8:28-29 sê ~ Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. As dit dus swaar gaan met jou, weet dat God besig is om dit te gebruik om jou meer en meer na Christus se beeld te vorm.
·           Sien toe dat jou "doring" ’n veel nouer verhouding met God tot gevolg het. Die ou Puritein, Richard Baxter het gesê: Suffering so unbolts the door of the heart, that the Word has easier entrance. Een van die wyses waarop ons ontslae kan raak van die doring(s) uit ons verlede, wat ons nie oor onsself gebring het nie, is om toe te laat dat elkeen daarvan ons nader aan God sal bring. Oordink ’n bietjie die volgende verse wanneer beproewing jou teister:
~  Die doderyk is die bestemming van die skuldiges, van al die nasies wat aan God nie dink nie (Ps.9:18);
~  My loflied in die volle vergadering kom van Hom af, my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien (Ps.22:26);
Dit is my troos in my ellende: dat u belofte my in die lewe hou (Ps.119:50);
Laat daar geen skindertong in die land wees nie, laat onheil dié wat geweld pleeg, elke keer weer tref! (Ps.140:12);
Die Here is goed vir sy volk, Hy kroon die hulpeloses met oorwinning (Ps.149:4);
·           Staar jou "doring" hoopvol in die gesig. Baie van ons probeer eerder ons "dorings" uit die verlede te ignoreer, of selfs die bestaan daarvan te ontken, omdat ons baie keer die gevolge daarvan vrees. Die probleem met so ’n gesindheid is dat ons God nie vertrou nie, of selfs nie glo dat Hy ons in ’n beter posisie in ons verhouding met Hom wil bring nie. Ons moet dus op ’n plek in ons lewe kom dat ons God sal vertrou en sal weet dat Hy ons wil laat groei in heiligmaking – ons moet dus hoopvol wees en weet dat God alles ten goede laat meewerk in ons lewe (Rom.8:28).
·           Jou beproewing sal nooit so erg wees dat jy dit nie sal kan verduur nie. Ons kan Paulus maar glo wanneer hy sê dat ons nooit bo ons kragte versoek sal word nie (1 Kor.10:13 – O.A.V.), want hy het waarskynlik baie erger dinge gedurende sy lewe ervaar as wat enige een van ons ooit sal ervaar (dink bv. weer aan 2 Kor.6:5 ~ Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely).
·           In die sewende plek moet jy weet dat jou Redder gereed staan om jou te vertroos en te versterk. Paulus gee hierdie versekering vir ons in 2 Kor.1:4 ~ In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig. Die Griekse woord vir bemoedig, is παρακαλέω (parakaleō) en beteken letterlik om langs iemand te staan ten einde hom te ondersteun en te bemoedig wanneer hy geweldige beproewing ervaar. Dit is presies wat ons hemelse Vader gereed is om te doen – Hy wil ons bystaan, vertroos en versterk.
·           Wanneer ons deur beproewing gaan, ontvang ons die geleentheid om ons harte te ondersoek en vas te stel wat ons diepste motiewe en begeertes is – is ons in sulke tye, selfgerig of Godgesentreerd? Ons moet in sulke situasies, daarop fokus dat God se eer ons primêre fokus sal wees.  Ons fokus moet wees om in die proses nader aan Christus te kom. Ons moet daarop ingestel wees om ons vervolgers te seën in die proses. Ons moet dus die geleentheid van beproewing gebruik, om ons harte te reinig.
·           Sien jou beproewing deur die lens van die ewigheid. Waarskynlik die grootste hoop wat ons kan hê t.o.v. die "doring(s)" in ons vlees, is die feit dat dit nie vir altyd sal aanhou nie. 1 Pet.1:6-9 ~ Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8–9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.  
·           Beide Asaf en Paulus het uitgesien na die dag dat hulle beproewing kon dien as kanaal vir troos en bemoediging vir andere. Hoor wat sê Asaf in Ps.73:28 ~ Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel (sien ook 2 Kor.1:6-7).

5.    AFSLUITING:
Ons het tot nou gesien hoe ons situasies van beproewing wat oor ons lewenspad kom en waar ons nie die oorsaak daarvan is nie, moet hanteer en indien ons dit nie so hanteer het in die verlede nie, moet ons nou tyd maak om elkeen van hierdie situasies wat ons in ons eerste kolom neergeskryf het, biddend te benader en elkeen van daardie gevalle aan die hand van gemelde tien punte te beskou; daaroor te bid en dit af te handel. Die Hebreërskrywer gee in Hebr.9:14 vir ons hierdie wonderlike belofte (en hierop moet ons staan!) ~ ...die bloed van Christus (sal) ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer.


[1]Boodskap gelewer deur Kobus van der Walt te VAALDRIEHOEK Gereformeerde Baptistegemeente (Meyerton) - Sondagoggend  06 Mei 2012