Indien u hierdie preek wil uitdruk – Verlig die
teks in hierdie venster en kopieer en plak dit daarna in enige
Woordverwerkingsprogram (bv. MS Word of Word Perfect) – druk daarna gewoon uit.
1. SKRIFLESING:
Ps.91:1-16
~ Hy wat by die Allerhoogste
skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, 2hy sê
vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek
vertrou.” 3Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou en jou
bewaar van dodelike siekte. 4Hy beskut jou onder sy vleuels en is
vir jou ’n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. 5Jy
hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, 6vir
pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting
saai nie. 7Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou,
vir jou sal niks tref nie. 8Met jou eie oë sal jy sien hoe die
goddelose gestraf word. 9Omdat jy die Here as skuilplek geneem
het, die Allerhoogste as jou beskermer, 10sal geen onheil jou tref
en geen plaag naby jou woonplek kom nie. 11Hy sal sy engele
opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. 12Op hulle hande
sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ’n klip sal stamp nie. 13Jy
sal oor leeus en adders loop, leeus en slange sal jy dood trap. 14“Omdat
hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom
beskerm. 15Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy
nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel. 16’n
Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly.”
2. INLEIDEND:
Wanneer die man op straat hierdie Psalm deur
Moses sou lees, kan ’n mens verwag dat hy vrae sou vra en opmerkings sou maak
soos: Hoe kan julle Christene sê dat God
se trou jou van alle kante kan beskerm (n.a.v. – v.4) en as ek so na julle
Christene kyk, word julle ook maar siek en gaan julle ook maar dood – leef
julle in ’n gekkeparadys om te glo dat die Allerhoogste julle bewaar van
dodelike siekte (n.a.v.
– v.3)?
’n Mens kan ook verstaan dat ongelowiges sulke opmerkings kan maak, want ons
gaan immers almal dood, ens., maar ons weet terselfdertyd dat hierdie Psalm,
net soos al die ander Psalms en die res van die Bybel, God se Woord is en
daarom moet dit tog immers waar wees, trouens vir ons as gelowiges is hierdie
woorde en die res van Ps.91 (net soos die res van die Woord), vir ons as gelowiges geweldig bemoedigend
en vertroostend – indien ons dit reg verstaan.
Hierdie spesifieke Psalm is dan ook ’n
Psalm wat alombekend is en wat voortdurend deur duisende gelowiges aangehaal of
in herinnering geroep word, veral wanneer dit moeilik gaan met hulle. Ps.91 kan
vergelyk word met Ps.46 waarin God in v.2, ’n God genoem word wat ...vir ons ’n toevlug en ’n beskerming is; Hy was nog altyd bereid om te
help in nood. Die
vorige Psalm (Ps.90)
is ’n soortgelyke Psalm en beide verwys na God as ’n "toevlug" ("a
dwelling place").
Waar ons aan die begin van 2013 staan is
hierdie Psalm ook ’n baie gepaste Psalm vir ons om aan vas te hou deur die loop
van die jaar.